Die kwart-voor-sewe-lelie
SKOOLUITGAWE MET LEESGIDS
Eleanor Baker
Human & Rousseau
Vir Theunise
Angels can fly because they take themselves lightly – G.K. Chesterton
Inleiding tot Die kwart-voor-sewe-lelie as roman
LEESGIDS
Terwyl poësie en drama al van die tyd van die antieke Grieke af in skriftelike vorm gedy het, het die verhalende prosa eers heelwat later ontwikkel. Die woord “roman” is in die twaalfde eeu gebruik om ’n onderskeid te tref tussen werke in die volkstaal (Romaans) en dié in Latyn (die formele taal vir opgevoede mense in die Middeleeue) – by implikasie dus ’n werk wat meer “populêr” is. Vanaf die dertiende eeu word die term gebruik vir avontuurlike vertellings, totdat dit later algemeen gebruik word vir enige lang fiktiewe prosawerk. Die roman, as die belangrikste eksponent van die verhalende prosa, het in werklikheid maar eers in die afgelope paar eeue ontwikkel. Cervantes se Don Quijote (1605) word gewoonlik beskou as die eerste roman in die moderne sin van die woord (Smuts 1998). Die roman as genre se gewildheid het toegeneem in die agtiende eeu, met die werke van Engelse skrywers soos Daniel Defoe, Samuel Richardson en Henry Fielding. Die kernelemente van ’n roman is karakters, tyd, ruimte en gebeure. In elke roman figureer karakters wat aan tyd en ruimte gebonde is. Binne ’n bepaalde tyd en ruimte is daar iemand wat besig is om iets te doen of aan wie iets gedoen word. ’n Organisasie van die gebeure lei tot ’n verhaalplan of intrige.
In Die kwart-voor-sewe-lelie herken die leser elemente van die ou familieroman, die negentiende-eeuse Engelse roman en die liefdesverhaal, maar Eleanor Baker speel eintlik met hierdie konvensies. Charles Dickens se Great Expectations en Leo Tolstoi se Anna Karenina is
voorbeelde van die familieroman uit die wêreldletterkunde. ’n Familieroman bevraagteken die betekenis van familie, dit kyk na verhoudinge binne gesinsverband en dan breër na die familie as deel van die sosiale wêreld. Die kwart-voor-sewe-lelie gaan oor die wel en wee van ’n stadsgesin wat bestaan uit ’n vergeetagtige ma, ’n gemoedelike pa, die hoofkarakter, Iris, en haar twee susters, Elsa en Kara, hul “Hollandse” hond, ’n huishulp wat presies weet wat sy wil hê en ’n buiteaardse beskermengel met ’n aardse humorsin. In hierdie roman word daar op fyn ironiese wyse gespot met die stereotiepe gesin. Ma is die vergeetagtige, niestereotiepe huisvrou/moeder wat as ’t ware in ’n wêreld van haar eie woon (wat hoofsaaklik die tuin insluit). Sy is nie soos die meeste ma’s die bewaker van haar dogters se sedes nie en sy laat haar man toe om alleen te gaan boer en sluit eers jare later by hom aan. Iris se oudste suster, Elsa, kies aanvanklik ’n konvensionele lewe: ’n man, huis, kinders, maar dinge verloop ook anders as wat sy verwag het. Hul suster Kara wil aanvanklik ’n non word, maar wanneer sy die aantreklike donker Claude in die vreemde ontmoet, verloop ook haar lewe anders as verwag. Die Suid-Afrikaanse situasie tydens die apartheidsjare beïnvloed nie een van die familielede negatief teenoor Claude nie. Johanna, die inwonende huishulp wat nooit haar eie kinders gehad het nie, vervul die rol van die moeder in die gesin. Sy maak die kinders groot, voed hulle, onderskraag hulle emosioneel en help ook later om Elsa se kind groot te maak. Jane Austen, Baker se gunstelingskrywer, is seker die bekendste eksponent van die negentiende-eeuse Engelse roman. Alhoewel essensieel komies en satiries, onderstreep Austen se storielyn dikwels die vrou se afhanklikheid van die huwelik ter wille van sosiale status en ekonomiese sekuriteit. In Die kwart-voorsewe-lelie aanvaar die hoofkarakter, Iris, egter ’n “minderwaardige” werk omdat ekonomiese sekuriteit en sosiale status nie vir haar belangrik is nie.
Menige leser sal Die kwart-voor-sewe-lelie bloot as ’n liefdesverhaal lees, maar die roman is op twee vlakke gekonstrueer: die konvensies van die liefdesverhaal versus ’n ironiese blik daarop. Blomme in ’n populêre liefdesverhaal dui gewoonlik op liefde of ’n dramatiese lewensinsig of karakterinkeer. In Die kwart-voor-sewe-lelie ironiseer die skrywer hierdie simbool. Die blom gaan “oombliklik” oop, so vinnig dat, sou
Iris haar oë knip, sy dit sou gemis het. Baker is goed bekend met die resep vir populêre liefdesverhale, want sy het onder die skuilnaam Christine le Roux haar pen aan ’n hele paar gewaag. Sy het egter in ’n stadium besluit om dit vir eers opsy te skuif omdat “dit ’n resepmatige genre (is) wat weinig uitdaging bied” (Lategan 2001). Dit is interessant om Die kwart-voor-sewe-lelie te meet aan die algemene vereistes van die liefdesverhaalgenre (die vereiste is elke keer kursief gedruk) en na te gaan hoe sy dit op ’n geestige, ironiserende manier hanteer: * Die leser wil identifiseer met ’n vurige en sterk heldin. Alhoewel sy ’n gesonde sin van ironie het wat sy gebruik om haarself as vrou te laat geld, kan die hoofkarakter, Iris, beswaarlik as die tradisionele vurige en sterk heldin beskou word. Van vroeg af het haar lewe die smaak van mosterd na die maal (Pakendorf 1989): niemand luister regtig na haar nie en haar susters se lewens lyk opwindender en interessanter as hare.
•Die heldin se beroep is belangrik omdat die lesers wil lees oor die heldin wat haar roeping in die lewe gevind het. Alhoewel Iris ’n universiteitskwalifikasie het, het sy geen beroepsambisie nie. Tot almal se skok aanvaar sy die “nederige” werk as stoelassistente by ’n tandarts. Sy soek nie ’n uitdagende werk waarvan die konsentrasie inmeng met haar romantiese fantasieë nie. Sy sou ook ’n posbode of buskondukteur kon wees. •Alhoewel die held ’n sterk persoonlikheid het, verstaan hy die heldin se diepste behoeftes en menswees. Peter het geen benul hiervan nie. “Omdat ek geen idee het hoe jou kop werk nie.” •Die held en heldin moet voortdurend kontak hê. Iris en Peter sien mekaar bitter min: hulle ontmoet by ’n partytjie, hy kom drie weke daarna vir haar kuier en die volgende jaar besoek hy haar tydens ’n drie weke vakansie terwyl hy in Amerika studeer. Tussenin is daar geen kontak nie en sy is elke keer verbaas as sy hom sien, asof hy toevallig in die omgewing is. •Die romanse is karakter- en emosioneel gedrewe en seks speel eers teen die einde ’n rol. Die “uitgestelde begeerte” is ’n belangrike konsep by die skryf van ’n populêre liefdesverhaal. Met Iris en Peter se eerste ontmoeting gaan hulle tot
die seksuele daad oor, so ook die tweede en derde keer dat hulle mekaar sien. Dit is duidelik dat emosie glad nie ’n rol speel nie, veral nie by Iris nie. •Die held en heldin moet botsende idees oor bepaalde kwessies hê, bykomend tot die emosionele konflik. Omdat daar so min kontak is, is daar min geleentheid vir botsende idees. Die enigste voorbeeld is wanneer Peter nie saamstem oor haar toekomstige modelloopbaan nie en sy dan sommer goedsmoeds toegee (heeltemal teenstrydig met die konvensies van populêre liefdesverhale). •’n Gelukkige einde. Alhoewel Iris en Peter trou, ervaar die leser nooit ’n “and they lived happily ever after”-einde nie. Iris vra nog op haar troudag vir die Engel of sy die regte ding doen. Sy leer ook dat die lewe nie ’n storieboek is nie. •Lesers hou van eksotiese bestemmings. In plaas van ’n romantiese wittebroodsbestemming moes Iris die volgende dag assisteer by ’n moeilike stukkie kaakchirurgie. Ook New York en die sneeubedekte Vermont wat sy saam met Peter besoek, word as onromanties uitgebeeld. Peter was nie daar om haar met ope arms in New York te verwelkom nie en die hotelkamer was leeg en gemeubileer in hotelkleure met twee enkelbeddens. •Populêre liefdesverhale het dikwels ’n derdepersoonsverteller waar die hoofkarakter die fokalisator is (dinge word vanuit haar perspektief beskou). In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar ’n eerstepersoonsverteller aan die woord en die komplekse hantering van die vertelinstansie behoort die leser reeds te waarsku dat hier meer op die spel is as in ’n populêre verhaal. Die verteller het ’n ligte, satiriese aanslag.
Dit is duidelik dat Baker ’n dieper dimensie aan die klassieke grondpatroon van die populêre liefdesverhaal gee en juis hierin lê die werklike leesavontuur vir die leser opgesluit. Hambidge noem dit “’n ironiese sousie wat die kenmerkende romantiek van die damesroman opstuur” en meen dat Baker goël met konvensies van die ontspanningsverhaal (Hambidge 1999). Brink sê dat sy die liefdesverhaal slegs as ’n voorwendsel en as ’n uitgangspunt gebruik. Hierdie vernuftige omgang met die konvensies van ander genres is natuurlik ’n tendens van die postmodernisme. Baker se speelse omgang met populêre genre-, styl-, karakteriserings- en ander
tegnieke kom ook in haar ander werk voor. In Weerkaatsings omskep sy die vorm van die Mills & Boone-sprokie vernuftig. In Dossier van ’n gyseling omvorm sy die uiterlike eienskappe van die spanningsverhaal so dat die allerfynste menslike interaksies nagespeur kan word. Die toeganklikheid sowel as veelvlakkigheid van haar tekste maak dat dit geniet kan word deur sowel die leser wat soek na ’n lekker storie as die fynproewer. Baker het sterk gevoel oor letterkunde wat té eksklusief is (Lombaard 2002). Haar standpunt was dat die Sestigers die Afrikaanse letterkunde té elitisties gemaak het. Met Die kwart-voor-sewe-lelie en Weerkaatsings wou sy dan ook die liefdesverhaal legitimiseer en die stigma verwyder dat liefdesromans nie noodwendig goeie letterkunde is nie. “Miskien omdat ek so ’n verterende leser self is en alles lees van kinderboeke tot geskiedenis tot pure ontspanning en dus hou van ’n boek wat nie net literêr gesproke ‘goed’ is nie, maar wat met sy storie en inhoud kan boei” (Prinsloo 1993).
Die kwart-voor-sewe-lelie
HOOFSTUK EEN
Niemand het nog ooit regtig na my geluister nie. Met my geboorte, toe ek my eerste skree gegee het om my bestaan aan te kondig, was die dokter reeds buite in die gang en op pad na die volgende bevalling. Dit was volmaan en elke kamer op daardie verdieping was vol vroue in kraam. Miskien het my ma my skree gehoor alhoewel sy later vertel het sy was gedaan en het op die plek aan die slaap geraak toe ek uit was en die dokter sê: “’n Dogter. Welgeskape.” Die kraamsuster het bygevoeg: “Nog ’n dogter,” want sy en Ma was bevriend. Maar ook sy was haastig om my gewas en toegedraai te kry sodat sy kon gaan help by die volgende bevalling. Pa was nie by nie. In daardie dae was dit nog nie mode nie. ’n Man het sy vrou by die hospitaal afgelaai en aangery na sy werk. Omdat Pa nie gerook het nie, kon hy nie soos ’n karakter in ’n strokiesprent in die wagkamer op en af loop en die asbak stadig maar seker met stompies vul nie. Buitendien was ek die derde kind. Ma het reeds bewys gelewer dat sy die proses kon behartig sonder teëspoed of drama. Pa het sy telefoonnommer by die ontvangsdame gelaat en kantoor toe gery. ’n Paar uur later het ’n verpleegster hom gebel om hom van my koms te verwittig en daardie aand het hy Ma besoek en ’n bos blomme gebring. “Dié keer is dit ’n donker enetjie,” het hy vir Ma gesê toe sy die kombersies van my gesig terugvou dat hy kan sien hoe ek lyk. “Heeltemal anders,” het Ma saamgestem. Ek is spyt dat ek toe nog nie my verstand gehad het nie, want ek sou daarvan gehou het om op daardie punt ’n paar aanmerkings te maak. Soos dat die lig my oë seermaak of dat ek moeg was ná so ’n wurgende ondervinding. Miskien sou ek selfs kon besin het oor die doeltreffendheid van die geboorte – was daar nie ’n beter manier om die eerste lewenslig te aanskou nie? ’n Meer omgewingsvriendelike metode nie? My susters het die volgende middag na my kom kyk. Hulle was nie beïndruk nie
en het eintlik net gekom om Ma te sien en hulle leeslesse hardop vir haar te lees soos hulle gewoond was.
Waarom my ma my Iris wou noem, het ek nooit uitgevind nie. My twee mooi susters was toe reeds na sowel vaders- as moederskant vernoem. My pa het somtyds gespot en gesê die Iris was van pas omdat ek perserig was by geboorte en my arms en bene oor die verpleegster se hande geflap het toe sy my vir hom kom wys. Toe ek klein was, het ek saamgelag, maar in my diepsinnige puberteit het ek geswyg en my gesit en verwonder oor hulle domheid. Die iris was tog ook deel van die oog, en in daardie stadium het ek myself nie slegs as diepsinnig beskou nie, maar as ook besonder skerpsinnig. En die oog is die ding waarmee gesien word, is dit nie? Skerp gesien word. In die klaskamer moes ek op ’n dag naslaan wat ipso facto beteken en uit verveling het my oog laer af met die bladsy gedraal en daar leer ek toe iets nuuts. ’n Iris was nie slegs ’n bolplant nie, maar sy was ook ’n Griekse mitologiese godin, in diens van meer belangrike gode. “Hoëre gode” het die woordeboek gesê. Net so, handomkeer het die dag verander. Waarom het niemand dit nog vir my vertel nie? Waarom het niemand verby die moeë ou grappe oor flappe en “iets knaag weer vandag aan Iris se bol”, gekyk nie? Ek was vernoem na ’n godin, en ’n martelaar daarby. Iemand wat altyd moes regstaan vir ander, belangriker gode. Ouers, susters, onderwysers. Ek het nie een van hulle regtig as ’n god beskou nie, maar dan, in my skooluniform en vlegsels was ek self kwalik ’n godin. Alles is relatief, het ek myself getroos. Dis die skuld van die tyd waarin ons leef. ’n Paar duisend jaar gelede sou ek maklik in ’n wasige tuniek teen Olimpus uitgeklim het om nektar aan te dra na die belangriker gode wat lus was vir ’n soetigheid. Die een god in die besonder het die gesig gehad van André Visser, die hoof van die debatspan, maar in plaas van sy maer wit lyf en knopperige knieë was hy effe meer gespierd en het ’n beduidenis van donker borshare gehad. “Ipso facto, Iris!” het die onderwyser gebulder. “Uit die aard van die saak, meneer.” “Dankie,” het hy sugtend gesê. “Waarom moes ons tien minute daarop wag?” “Ek het iets anders raakgesien, meneer.”
“Waar?” Hy het deur die venster na buite gekyk. “In die woordeboek.” “Ek is bly jy vind die woordeboek leesbaar, maar probeer konsentreer op die werk.” Die seuns het met meer belangstelling na die woordeboek gekyk, maar ek het hulle geken. Hulle het net die vloekwoorde nageslaan en snorkend en proestend vir meneer Schutte gevra waarom hulle hierdie woorde nie mag gebruik as dit wettiglik in die woordeboek staan nie? Die ou storie. Meneer Schutte het hulle nooit eens geantwoord nie. Tuis daardie middag het ek my studie van die woordeboek voortgesit. My oudste suster, Elsa, se naam was glad nie daarin nie en my tweede oudste suster, Kara (vernoem na ouma Katarine), s’n ook nie. Ek het meerderwaardig gevoel en na my ma in die kombuis gaan soek. Voor haar op die werkblad het ’n skaapboud gelê en sy was verstrooid besig om deur die speseryrak te soek na die soutsubstituut. (My pa was op ’n laesodiumdieet.) “Weet Ma wat my naam beteken?” het ek gevra. “Nee, darling. Dis maar vir my ’n mooi blom.” “Iris beteken iets anders,” het ek vertel. “Dis mooi.” Sy het die skerp mes uit die laai gehaal, sy lem al hol van die slyp sodat hy na ’n sekel gelyk het. Stadig, asof sy skuldig voel daaroor, het sy die harde wit vet van die vleis weggesny. (My pa was op ’n laecholesteroldieet.) “Dit was die naam van ’n Griekse godin. Sy het die hoëre gode gedien.” “Dis vriendelik van haar, darling.” Sy het met die agterkant van haar hand oor haar neus gevee. “Gee vir my die blou skotteltjie aan dat ons die vet in die yskas kan bêre.” “Wat wil Ma daarmee maak?”
Sy het die sekelmes deur die lug geswaai. “Uitbraai of so.” “Hoekom?” “Dan kan ek dit weer gebruik.” Ek het gesug. Ek en my susters moes versigtig grootmaak aan ons ma. “Ma mag nie. Pa mag nie diervet inkry nie. Uitgekook of andersins.” (Ek was in daardie stadium benieud met korrekte taalgebruik. ’n Jaar vroeër sou ek gesê het: Uitgekook of te not.) “Dit is so,” het my ma gesê en die boud in ’n baksakkie gestoot. “Dis net dat dit voel na mors. Ek kan dit tog nie weggooi nie en Polder sal ’n vreeslik ontstelde maag kry as ek dit vir hom gee.” Polder was ons hond. Jare gelede, toe ons nog klein was, het ons ’n klein hondjie by ons oom Andries present gekry. Ons was ekstaties, maar ons ma het by die dag agteruitgegaan soos sy moes plassies opvee, gekoude kussings weggooi, deurgeknaagde stoepstoele probeer regmaak. Die hond was ook net ordentlik volwasse en geleer toe word hy doodgery toe my pa in die park gaan draf en die hond agter hom aanhol. Daarna het my ma gesê nooit weer nie. Vir babahondjies grootmaak sien sy nie kans nie. Kara het ’n ruk lank ’n hamster aangehou, maar toe ’n seuntjie in haar klas die begeerte uitspreek om ’n hamster te besit, het Ma haar oorreed om die dier weg te gee. Polder was ’n geskenk, ’n nalating van ons Hollandse bure. Hy was ’n jaar of twee oud toe ons hom gekry het omdat ome Wim en tante Aleid terugverplaas is na hulle land van geboorte. Ek het nooit gehoor waarom Polder nie ook saam is nie; feit bly: ons het Polder gekry, klaar geleer, sindelik en slegs Nederlands magtig. Die dier het hom ook nooit laat wysmaak dat die twee tale nou verwant is nie. As ons met hom Afrikaans gepraat het, het hy sy kop skeef gedraai, sy ore gespits en intelligent gelyk, maar gereageer het hy nie. “Opscheppen!” moes Ma roep as sy sy kos in sy bak gooi en “Eve sitten,” moes Pa sê as Polder hom deurmekaar lek wanneer hy sy koerant wou lees. (My ouers se kennis van Nederlands was ook maar skraps.) “Daar’s hy,” het my ma gesê toe sy die boud in die oond steek. Sy was verlig, soos sy altyd gelyk het as die aand se kos aan die gaar word was. Haar skouers het agtertoe beweeg, sy het regopper gestaan asof die voer van drie opgeskote kinders en een man haar afgebuig het na die aarde.
“Het Ma gehoor wat ek gesê het?” “Ja, darling.” Sy het die bakkie vet vinnig in die yskas gesit asof die verwerking daarvan nou die yskas se verantwoordelikheid is. “Ek weet Pa is op ’n dieet.” “Nie dit nie. Van my naam.” Sy het haar hande gewas en die hardevet onder haar naels uitgekrap. “Natuurlik het ek gehoor.” “Dis mooi, nè?” “Pragtig,” het sy saamgestem en haar tong geklik toe sy agterkom die boud is wel in die oond, maar die oond is nog nie aangeskakel nie. “So ’n mooi blom. Ek vind dit so jammer dat hulle net in die lente blom.” Dis wat ek bedoel. Sy het my nie gehoor nie. Ek het haar maar gehelp aartappels skil. “Dis so,” het ek gesê. “Net een keer per jaar.”
My ma, wie se naam ook Elsa was, maar wat deur almal Els genoem is, het nooit daarin geslaag om die wêreld in haar hand vas te vat nie. Sy was soos iemand wat ’n bus verpas het en nie daarby kon berus nie. Haar hele lewe lank al hardloop sy agter die bus aan in die hoop dat sy hom gaan inhaal nes hy stadiger om ’n draai ry. Sy was nie die soort mens wat by die volgende halte sou gaan sit en wag op die volgende bus nie. Nog minder was sy die soort wat voluit gehardloop het. Nee, sy het op ’n ligte drafstappie beweeg, net effe uitasem, een en al stralende optimisme dat sy die bus wel gaan inhaal. Sy het leer motor bestuur op ’n relatief laat ouderdom en het haarself net bevoeg beskou om tussen die huis en die skool of die huis en ons naaste winkelsentrum te ry. Snelweë of die middestad het sy vermy. “Dieselfde reëls geld tog oral,” het my pa met haar probeer redeneer. “En jy ken die padreëls.” “Daar is te veel van hulle,” het sy gesê. “Te veel motors.” “Voor die skool ook,” het Kara gesê. “En erger as op ander plekke. Het Ma al
gesien as Jakkie se pa in sy trokkie daar inswaai? Jy sien net graspolle spat.” “En ons mag nie eens op die gras loop nie,” het Elsa gesê. My ma het die huishouding met ’n soortgelyke mengsel van vrees en selfversekering bedryf. Al die masjiene, al die elektriese toebehore, was na haar mening lewend. Toe ek in later jare in die metafisika begin belangstel en haar vertel dat die molekule opgebreek kan word in sy kleinste onderdeel, die foton, en dat daar gevind is die foton het ’n geheue en is dus lewend, was sy ekstaties. Dit was een van die min kere dat sy met groot aandag na my geluister het. So aan my lippe hangend dat ek ongemaklik gevoel het en skielik nie meer seker dat wat ek aan die vertel was, wel die hele waarheid was nie. Maar vir haar was dit voldoende. Meer as voldoende. My stamelende uiteensetting van ’n baie ingewikkelde konsep was presies wat sy wou hoor. “En julle het altyd vir my gelag,” het sy gelukkig gesê. “Julle het altyd gedink ek is getik as ek met die stofsuier gesels. Nou vertel jy my sy molekules was al die tyd lewend en kon my hoor.” Ek het benoud geword, my pa het ongelowig gelag toe sy dit die aand vir hom vertel en my susters het net hulle koppe geskud. Ek het dikwels soos Aspoestertjie gevoel behalwe dat my susters nóg stief nóg lelik was.
Elsa en Kara het net twee jaar verskil, maar voor ek gebore is, het ses leë jare verbygegaan. Uit die aard van die saak was ek dus ’n alleenloper en, soos Polder, iemand wat op oorskietkos geleef het. In Polder se geval was dit sy eie keuse: hy het geweier om geblikte hondekos te eet. In my geval kon dit nie anders nie, ek het die speelgoed en dikwels die klere gekry waarvoor my susters moeg was. Hulle het my as ’n aardigheid beskou, ’n tweede kans. Deur my het hulle hul eie kinderdae herleef en kon dit as objektiewe buitestanders kritiseer. “Het Ma ons ook toegelaat om dit te doen?” wou hulle geskok weet toe ek een aand my tande staan en borsel met die uitgekrapte as uit die kaggel. “Julle wou nie,” het Ma kalm gesê. “Maar sy mors verskriklik! Kyk hoe lyk die wasbak!”
“Dit kan gewas word.” Die twee het vir mekaar gestaan en kyk. “Sy’s mal, dis wat Ma bedoel,” het Elsa gesê. Sy was aangetrek om uit te gaan, want sy was in die middel van haar eerste ernstige romanse en sy het weggestaan van my asof sy bang was die grys water spat op haar. “En Ma is nie streng genoeg met haar nie.” “Ek was nie strenger op julle nie,” het Ma gesê. Dit was ongetwyfeld waar. Ek kon nie sien dat sy meteens verander het nie. Soos sy begin het, het sy voortgegaan. “Sy gaan haarself vergiftig,” het Kara gereken. “Dis nie kampvuuras waarmee sy daar borsel nie.” Ek was geneig om saam te stem. Ek wou eksperimenteer, maar plesierig was dit nie. Terselfdertyd het ek dit waardeer dat Ma my die eksperiment toegelaat het. Ek was natuurlik nog klein; later het ek saam met my susters gelag oor die stommiteite van my jeug.
Elsa was die ernstigste van ons drie, Kara die diepsinnigste en ek êrens in die middel. Geneties gesien, was ons ’n boeiende verskynsel. Elsa het rooi hare gehad, kompleet met ligte vel en sproete; Kara was blond en blou van oog en ek het donkerbruin hare en groenerige oë gehad. Ons ouers moes baie grappe aanhoor oor omgeruilde babas in die kraaminrigting en Ma se sedes was dikwels in die gedrang aangesien sy en Pa al twee bruin hare en respektiewelik blou en bruin oë gehad het. Toe ons klein was, het ons Elsa gespot oor haar sproete, maar toe sy begin kêrels kry, het ons dit gestaak omdat die mans, tot die laaste een, gedink het dis verskriklik mooi. Haar een kêrel, Hannes, het dit getel. “Tweehonderd en sewe,” het sy aan tafel aangekondig. Ma het belangstellend ophou eet en Pa het gefrons.
“Waar het hy hulle getel?” het Pa gevra. Elsa het gebloos. “Op my gesig.” “Julle sit dan altyd in die donker kar,” het Kara prakties opgemerk. “Die lig is nie goed genoeg om te sien nie. Het hy ’n flits gebruik?” “Natuurlik nie. Ons het in die kafee gesit.” “Het julle dan niks om oor te praat nie?” wou Pa weet. “Jy het die sproete op mý neus getel,” het Ma besadig gesê. “Onthou jy nog? Ek het my gesig by die see verbrand toe dop dit af en jy het gesê . . .” “Els,” het Pa gewaarsku. “Moenie die kinders in die verderf inhelp nie.” Hy het deur die kos op sy bord geskoffel. “Hannes moet liewer sy punte tel en sorg dat hy al sy lesings bywoon. Sy pa vertel my hy’s bevrees Hannes gaan sy tweede jaar druip.” Elsa het rooi geword, en kwaad. As dit nie boontjiebredie was nie, het sy opgestaan en kamer toe gegaan. Ma se boontjiebredie – as sy onthou het om die bone eers behoorlik te week – was nie iets om te versmaai nie. Veral nie ter wille van Hannes nie. Min het ons in daardie stadium geweet wat nog voorlê. Hannes en sy beheptheid met sproete was maar die aanloop tot veel groter konflik. Ek self het laat ontwikkel en laat eers belangstelling gekry in mans. Ek was in matriek en die jong man was ’n vriend van Hannes, soos dit maar gebeur. Hy het dikwels genoeg by ons aan huis gekom om die susters goed deur te kyk, en ek vermoed hy sou Kara verkies het, behalwe dat sy toe midde-in haar nonstadium was. Sy het kuns studeer, elke vakansie gewerk en elke blou duit gespaar sodat sy oorsee kon gaan. Toe sy ná drie maande terugkom, kon sy nie ophou praat oor die katedrale van Europa nie en onder haar arm was ’n dik pak perkamente, natreksels van Middeleeuse ridders en heiliges. Sy het blykbaar die drie maande op haar knieë op koue klipvloere deurgebring en die mistiek van die Heilige Mis, die wierook en die gesnede beelde was ten spyte van haar Calvinistiese opvoeding nou in haar bloed. Sy het mans en aardse genot afgesweer en begin navraag doen oor die vereistes van die Katolieke Kerk. Sy wou ’n non word.
My ouers het hulle oë opgeslaan, die dominee ingeroep om met haar te kom praat en hom bedees uitgelei ná Kara hom smalend aangehoor en verwerp het. Ek was siek van jaloesie. Dit was presies wat ek sou wou gedoen het. In daardie stadium van my lewe was ek reeds ontevrede met myself en vasbeslote om te verander, om iets anders te wees en te word. Hannes se vriend Riekie, doodverskrik deur Kara se piëteit, het my begin uitneem, maar dit was nie lank voor ek uitgekuier was vir sy sweterige hande, sy onbeteuelde aanvalle nes ons alleen in sy motor was en geparkeer onder ’n gebreekte straatlig, of sy benoude asem nie. Ek het hom oorgeskryf tot iets meer na my sin. Voor ek die aand moes uitgaan, het ek sy naam verander na Richard, uitgespreek Rigardt, om ’n rede wat nou nie meer vir my duidelik is nie. Ek het sy bruin borselkop omgetower in golwende donker hare wat amper in sy nek gehang het en waardeur ek my vingers getrek het in ons oomblikke van vervoerde ie. Sy praktiese, stomp hande het sensitief en lank van vinger geword, sy oë intens en versiende. Vanaf die oomblik dat hy op die voorstoep gestaan en jolig “Haai,” gesê het, het my beeld begin wankel, maar ek het vasgebyt. “Waarom sit jy hier met jou toe oë?” het hy eenkeer gevra toe ons ná ’n opvoering sit en koeldrank drink. “Dis nodig, Riekie, dis nodig,” het ek gefluister en geweier om die werklikheid in die gesig te staar. Dit was ’n warm aand en die werklikheid se gesig was bepêrel van die sweet, iets wat nooit met Richard sou gebeur het nie. Richard was vry van alle menslike swakhede en veral liggaamlike manifestasies. Ons het selde gaan fliek omdat ek die reuk van springmielies steurend gevind het. Ek het Riekie self steurend begin vind en gewens my ouers wil my verbied om hom te sien. ’n Paar van my vriendinne het ook met studente uitgegaan en hulle ouers het ’n stokkie daarvoor gesteek met die verskoning dat hulle dogters eers matriek moes deurkom. My eie ouers het nie ’n woord gesê nie. “Ma,” het ek haar eenkeer trompop geloop waar sy in die sitkamer gestaan en staar het na ’n verlepte rangskikking rose. “Ek dink nie dis ’n goeie ding om so dikwels uit te gaan nie.” “Ja, darling,” het sy afgetrokke gesê en die doodste rose begin uitlig. Slymerige water het op die tafelblad gedrup en sy het dit met die agterkant van haar hand
afgevee. “Matriek is baie belangrik. Julle het dit nog altyd gesê.” “H’m,” het sy saamgestem. “Paula en Rinda se ma’s het hulle verbied om uit te gaan tot ná die eindeksamen.” Sy het verby my gekyk. “Gee my Pa se snippermandjie aan, asseblief.” Ek het die rottangmandjie aangegee. “Ma kan nie die nat rose hierin gooi nie. Ek sal ’n plastieksak gaan haal.” “Dankie, darling.” Ek het die sak vir haar gehou terwyl sy die rose uitsoek, en my aanslag hernu. “Buitendien is Riekie te oud vir my.” “Ek dag hy’s net twee jaar ouer as jy?” “Nee, vier. Hy was mos eers in die leër.” “Nou toe nou.” Dit was baie duidelik dat sy my weer eens nie gehoor het nie. Ek het tot die punt gekom. “Ek wil hê julle moet my verbied om hom weer te sien.” Sy het vir die eerste keer na my gekyk. “Nee, my ding, waarom sou ons dit doen? Riekie is ’n gawe seun.” “Ja, maar ek moet leer vir matriek.” “Sukkel jy?” Sy het angstig gefrons. Ek was besig om moed te verloor. “Nee, Ma.” Sy het weer verby my gekyk na die geplunderde rangskikking. “Sou dit help as ons haar vertel dat sy haar mooi hare sal moet afknip?” “Wie se hare?”
“Kara. Hulle skeer dit mos stomp af voor hulle daardie kappie en sluier opsit.” Ek het geril omdat ek toe nog in die stadium was waar my lang, dik hare vir my so belangrik soos Simson s’n was. Soms het ek natgesweet wakker geskrik ná ’n droom waarin iemand my vasgepen en kaal geskeer het. “Ug,” het ek gesê. “Ma kan dit maar probeer . . .” “Ja,” het sy gesê en die plastieksak by my gevat. “Gaan doen jy nou jou huiswerk. Ek sal die sak weggooi.” Daar was geen ander raad nie. Ek sou Riekie self moes verbied. “Waarom?” het hy seergemaak gevra toe ons die aand by die huis kom en soos ons gewoonte was eers ’n ruk in die motor bly sit. “Ek dink nie ons pas bymekaar nie,” het ek waardig gesê. Hy het my probeer soen, iets wat Richard se aansien altyd kwaai skade aangedoen het. Richard het teer maar intens opgetree, sy soene het my ruggraat vermurwe. Riekie, aan die ander kant, het net te menslik na my sin opgetree. Ek kon sy harde asemhaling hoor, sy mond was te nat, te groot en te werklik. Dit was byna onmoontlik om sy mond weg te skryf terwyl hy my teen die voorste sitplek vasgedruk het. “Dis verby,” het ek gesê, losgeruk en uit die motor geklim. “Kry vir jou iemand anders. Ek is te jonk.” Wat ek eintlik wou sê, was dat ek my krag moes spaar vir die dag as die regte Richard opdaag. Ek het die huis ingeloop en op my bed gaan lê om die volgende hoofstuk te skryf in my epistel oor Richard. Uit die sitkamer het ek my ma se stem gehoor, hoog en desperaat. “Hulle gaan jou hare afskeer, darling!” Natuurlik het Kara nie ’n non geword nie en nog minder het Riekie van my af weggebly. Ek het hom maar laat begaan op voorwaarde dat hy my nie soen nie. (As VIGS toe al bekend was, het ek ’n goeie verskoning gehad, maar my geslag was uitgelewer aan ons eie ordentlikheid en moes soek na redes vir ons kuisheid.) Buitendien moes ek ’n maat hê vir die matriekafskeid en Riekie was op sy ongekunstelde manier aantreklik. Aanvaarbaar. Waarom Kara van haar plan afgesien het, het ek nooit uitgevind nie. Ek onthou sy het die Moeder Owerste van ons naaste klooster gaan spreek en die wyse vrou het vermoedelik met groot geduld geluister na my suster se stamelende verklaring. Dit moet vir haar gou duidelik geword het dat Kara nie veel meer
weet as dat katedrale besonder mooi loodglasvensters, beelde en individuele kapelle het nie. Van dogma het die kind min geweet. Ek vermoed dat die Moeder Owerste baie taktvol was in haar verwerping, want Kara het nog ’n begeesterde lig in haar oë gehad toe sy die aand aan tafel die mededeling doen dat sy afgesien het van haar plan. My ouers se verligting was tasbaar. My ma het vleissous oor haar slaaiblare gegooi en gelyk asof sy wil huil. “Hoog tyd dat jy tot jou sinne gekom het,” het my pa gesê en daarmee was die saak afgehandel. Kara het nooit weer daarna verwys nie en stil voortgegaan met haar werk as assistente by die kunsmuseum. Elsa, suur omdat die aandag soveel maande lank op Kara gevestig was, het aangekondig dat sy en Hannes wil trou. “Hy’s te jonk vir jou,” het Ma geprewel. Die gebrek aan logika in hierdie ontplooiende argument het my gefassineer. Riekie was jonger as sy vriend Hannes, maar Hannes was omtrent vier jaar jonger as Elsa, wat teen daardie tyd reeds ’n paar jaar lank skoolgehou het. Ek, en veral my ouers, het al die jare geweet dit is die geval en tog was daar nooit ’n woord van teenkanting nie. Dit was nie asof Hannes skielik jonger geword het nie, hy was dit van die begin af. Ek het dit vir hulle genoem. “Ek dink jy moet Hannes eers kans gee om sy voete te vind,” het Pa gesê asof ek nooit eens gepraat het nie. “Sy voete?” het ek gegiggel. “Hy kan hulle nie mis nie. Ek het in my lewe nog nooit sulke groot voete gesien nie, die man lyk asof hy . . .” “Stil, Iris,” het Pa kwaad gesê. “Jou susters veroorsaak meer as genoeg moeilikheid. Aan jou stuiwer het ons nie nou ’n behoefte nie.” “Moeilikheid?” het Elsa gevra en dit was asof haar kosmeties verskuilde sproete deurslaan, rooier as ooit vantevore. “Ek dag julle hou van Hannes?” “Natuurlik, darling,” het Ma gepaai. “Maar trou?” “Die man studeer nog,” het Pa gesê. “Dis buite die kwessie.” “Hy wil aanhou studeer,” het Elsa gesê. “Ons sal leef op my inkomste.”
Dit het vir my romanties geklink, maar ek het geweet romanse het ’n klein, indien enige, rol gespeel in Elsa se besluit. Sy was ’n nugter soort van mens, meer geïnteresseerd in haar bankbalans as in die Richards van die wêreld. Voor ek haar as voorbeeld gesien het, het ek geglo dat jong meisies, soos opgeskote voëltjies, die nes verlaat nes hulle afgestudeer of volwasse is. Elsa het nooit enige teken van so ’n behoefte getoon nie. Of sy vir Ma-hulle huur of onderhoud betaal het, sal ek nie weet nie, sulke dinge was nog nie deel van my ervaringsveld nie. Ek was wel van tyd tot tyd toegelaat om die kis in haar kamer uit te pak en glo my vry, sy was reg vir trou. Vandat sy haar eerste salaristjek ontvang het, het sy op uitverkopings verby die rokke en skoene geloop en lakens en handdoeke teen weggooipryse aangeskaf. Ek het gedag net meisies in die ou boereromans wat ons in standerd agt moes lees, het nog uitset bymekaargemaak, maar Elsa het my verkeerd bewys. Sy was soos iemand wat bang was vir ’n beleg. Later, toe ek self op universiteit was, het ek gelees dis ’n verskynsel wat dikwels onder weeskinders voorkom wat nooit hulle eie goed gehad het nie. Die eekhoringsindroom, het my lektor dit genoem. Ongelukkig was Elsa teen daardie tyd klaar getroud en het nie belanggestel in my ontleding van haar gebrek nie. “Ek het genoeg lakens, het ek nie?” het sy kortaf gevra. “En nog teen die ou pryse daarby.” Ek sou dit so aanvaar het, was dit nie dat sy nog steeds huisgoed versamel het nie. Vir elke rasper in gebruik was daar ’n ekstra een in die kas, vir elke laken op ’n bed, twee nuwes in die linnekas.
As iemand my ooit van trou laat afsien het, was dit Elsa en Hannes. Selfs op die troue, toe sy ten minste na ’n wasige bruid gelyk het, was sy prakties en onemosioneel. “Het jy die motor parkeer waar ek gesê het?” het sy in die konsistorie gevra. “Ek wil nie dat dit gekrap en bemors word deur jou verspotte studentemaats nie.” Ek, as blosende strooimeisie, het gewens sy wil stilbly. ’n Bruid moes haar mond hou en verlief lyk, het ek gevoel. En moes ook nie ’n horlosie dra en uitreken hoe lank die onthaal behoort te duur nie omdat die hotelbesprekings gemaak was en sy nie wou hê hulle planne moet verkeerd loop nie. Die dae toe sy gebloos het
omdat Hannes haar tweehonderd en sewe sproete getel het, was verby. Sy was broodwinner en baas van die plaas. Riekie was vanselfsprekend strooijonker, iets wat my koud gelaat het. Ek het hom te goed geken om opgewonde te raak. Terwyl die dominee se stem oor ons koppe gedreun het en later tydens die toesprake op die onthaal, het ek sit en borduur aan die storie in my kop. Daarvolgens was die strooijonker totaal onbekend, ’n peetoom of so iets van Hannes. ’n Ouer man (maar nie te oud nie) wat oorsee, verkieslik in Frankryk, gewoon en afgevlieg het vir die troue omdat hy Hannes as kind laas gesien het. Nie Hannes of Elsa het daaraan gedink om ons vooraf aan mekaar voor te stel nie; ek het hom die eerste keer gesien toe ek uit die motor klim voor die kerk en hy op die trappies vir my staan en wag. Hy het nie “Haai,” gesê nie; hy het diep oor my hand gebuig en dit gesoen. Sy oë was donker en intens, hy het Engels gepraat met ’n bekoorlike aksent. Sy naam moes iets wees soos Eduard of St. John. Ek het die grootste gedeelte van die diens bestee aan sy naam en was so weggevoer dat Elsa moes sis toe ek die ruiker by haar moes vat sodat Hannes die trouring aan haar vinger kon glip. Tydens die toesprake – en veral ’n ellelange een deur Hannes se regte peetpa, wat vertel het hoe Hannes hom natgemaak het toe hy hom die eerste keer op sy skoot hou – het ek ons verhouding uitgebrei. Eduard (St. John is geskrap omdat dit te Engels is vir ’n Fransman) was van plan om dadelik terug te vlieg omdat sy sakebelange dit vereis het, maar hy het aangekondig dat hy ’n paar dae gaan bly om ons mooi land te sien. Ek het natuurlik geweet sy besluit het niks met die land uit te waai nie, hy wou my beter leer ken. “Hoekom eet jy nie?” het Riekie my gedagtes onderbreek. “Senuwees,” het ek gesê. “Nonsens, kyk na Elsa, en sy’s die bruid.” Dit was pynlik om Elsa te sien. Sy het weggelê aan haar bord kos asof sy ’n nuwe beleg verwag. Sy het nie sjampanje gedrink nie maar sodawater. (“Ek sal seker moet bestuur,” het sy vir my gesê. “Hannes het al twee glase sjampanje en drie glase wyn gedrink. Dis meer as die voorgeskrewe minimum vir veilige bestuur.”) Ek het my blik weggedwing van die vraatsige bruid en na die blomme voor my op die tafel getuur terwyl ek Eduard herroep en ons verhouding laat ontwikkel. Omdat ons net ’n paar dae tot ons beskikking gehad het, was hy
haastig. Hy wou my liefhê. Hierdie deel van my droom was uit die aard van die saak vaag omdat ek toe nog ’n maagd was en moes staatmaak op wat ek gehoor, gelees of in die bioskoop gesien het. Ek moes maar konsentreer op sy sensitiwiteit en die pragtige goed wat hy vir my gefluister het tydens ons paar kosbare nagte van ie. Teen daardie tyd was die onthaal verby en Elsa het my saamgejaag na die kamer waar ek haar moes help ontklee. Ek was geskok toe ek die trourok oor haar kop trek en op die bed neersit en sy voor my staan in die mees voorstedelike stel onderklere wat ek nog gesien het. “Jy gaan tog nie so by die hotel aankom nie?” het ek gevra. “Wat bedoel jy met so?” het sy gevra en in ’n linnelangbroek geklim. Sy het die rits met mening toegetrek asof sy ’n deur sluit en haar hand uitgehou na die sybloese wat langs my oor die stoel gehang het. “So ordinêr,” het ek gekla. “Kon jy nie iets meer kanterigs gekry het nie? Dink aan Hannes, hoe gaan hy nie voel as hy moet vaskyk teen daardie ordentlike spul katoen nie?” “Jy’s laf,” het sy gesê en haar kop afgebuig terwyl sy haar hare van kant tot kant skud dat ek dog sy kry een of ander aanval. “Is daar nog konfetti in my hare?” “’n Paar.” Ek het die bont vlekkies uitgepik. “Maar hulle gaan julle weer gooi wanneer julle ry.” Sy het regop gestaan en haar hare hard geborsel. Ten spyte van haar onromantiese houding was sy baie, baie mooi. Ek het in verwondering gestaan en kyk hoe haar rooi hare knetter en glans asof elke haar deur ’n elektriese transformator opgewek word. “Hoe voel jy oor vanaand?” het ek skamerig gevra. Sy het na my gekyk asof sy nie weet waarvan ek praat nie. “Soos oor enige ander aand, natuurlik. Moeg. Ek is van plan om vroeg te gaan slaap.” “Is jy nie effens skrikkerig nie?” Sy het gelag en haar wit satynskoene uitgeskop. “Haai, sussie, ek sien swarigheid vir jou as jy nie gou van jou romantiese drogbeelde ontslae raak nie.”
“Drogbeelde?” Ek kon stik. “Jy noem dit drogbeelde?” Ek is in die rede geval deur ’n klop aan die deur. Dit was nie my ma nie maar Johanna ons huishulp, wat ’n smaakvoller uitrusting aangehad het as baie van my tantes. “Elsa,” het sy streng gesê. “Wat draai julle so? Jou ma het my gestuur om te kom kyk waar julle bly.” (Lank voor dit die aanbevole ding was om te doen, het sy ons op ons name genoem. Toe ek haar eenkeer gevra het waarom my maats se huishoudsters hulle “kleinmies” noem, het sy gesnork en gesê: “’n Snotkind soos jy ‘kleinmies’ noem?” Ek kon nie stry nie, sy het ’n punt gehad.) “Ons kom,” het Elsa gesê en haar handsak gegryp. “Wat van ’n kraletjie om die nek?” het Johanna gevra. “Of ’n ou serpie?” “Dis te warm.” Johanna het gesnuif en die string nagemaakte pêrels om haar eie nek losgemaak en om Elsa se nek gehang. “Something borrowed, something blue . . .” “Vergeet dit,” het ek gesê. “Dis soliede wit katoen daaronder.” “Julle’s almal laf,” het Elsa gesê en lipstiffie aangesmeer. “Daardie ou rympie geld net vir die bruid. Vir die trouery self, bedoel ek.” Maar sy het die pêrels aangehou en die deur oopgemaak. “Sorg net lat jy dit terugbring,” het Johanna gesê. “Dis my enigste blinkding.” Natuurlik het ek die ruiker gevang al het Kara, wat ’n beter netbalspeelster was as ek, my byna onderstebo gespring. Almal het die verwagte opmerkings gemaak al kon ek sien Kara reken ek staan nie ’n kat se kans om voor haar te trou nie. Ek was geneig om met haar saam te stem; sy was ouer en mooier en tot ek ’n Eduard, St. John of Richard raakloop, was ek nie van plan dat enige Riekie of Hannes my in katoenonderklere kansel toe sleep nie.
Dit klink miskien in hierdie stadium asof ek deur my susters geleef het, of in reaksie teen hulle, maar dit was nie die geval nie. Ek het hulle fyn dopgehou, hulle lewens geëvalueer en dit as ’n teoretiese oefening gesien om vas te stel hoe
ek in ’n soortgelyke situasie sou optree. En ongesiens, sonder dat ek dit regtig agtergekom het – en vir seker sonder dat hulle dit besef het – het ek grootgeword, klaargemaak met skool, universiteit toe gegaan. My dramas was onbenullig teen hulle s’n en selfs as daar ooreenkomste was, het almal teruggesit met ’n gevoel van déjà-vu. Hulle was al een keer daardeur en het nie krag gehad vir ’n herhaling nie. En die ergste: elke keer dat ek deur ’n krisis of interessante stadium gegaan het, was my susters my voor, het hulle die kalklig gesteel deur iets meer dramaties te doen. Soos die keer toe ek Riekie wou afsê en Kara ’n non wou word. In my finale jaar het ek deur ’n eksistensiële periode gegaan. Ek het my lang hare stomp afgesny, los jurke gedra, ’n swaar donkerraambril aangeskaf en plat toerygskoene aangetrek. Ek het nooit gelag nie en smiddae laat deur die tuin geloop en tob oor die sin van die wêreld en my plek in die groter bestel. Niemand het eens opgekyk nie, want Elsa was swanger. Onbeplan en onvoorsien. “Hoe kon dit gebeur het?” het sy gehyg en soos ’n tierwyfie deur ons sitkamer gewoed. Ma het op die bank gesit en werk aan ’n stuk borduursel, ek het gesit en brei aan ’n swart trui vir myself. Nie een van ons het geweet wat om te sê nie. “Seker maar op die gewone manier,” het Ma dit gewaag. “Ma! Ek het mos voorsorg getref.” Ma het geglimlag soos iemand wat van beter weet. “Glipsies gebeur, darling. Iris was ’n glips.” Ek het wakker geskrik. Dis vernietigend om te hoor jy was ’n glips terwyl jy midde-in jou eksistensiële krisis is. “Wat het Ma gesê?” het ek uitgeroep. “Wag eers, Iris,” het Elsa kortaf gemaan. “Ons praat nie nou oor jou nie.” “’n Glips?” het ek gefluister. “’n Fout? Ek was nooit veronderstel om te leef nie?” Ma het vir my geglimlag en ’n roosblaar in donkerbruin wol begin borduur. “Natuurlik was jy,” het sy my verseker. “’n Glips is nie noodwendig onwelkom
nie. Ons was baie plesierig oor die nuus.” “Tog,” het ek gesê, onwennig om vertroos te word. “Iris!” het Elsa geknor. “Gee jy om as ek klaar praat?” “Ons sal jou help brei,” het Ma haar probeer troos en op haar vingers begin tel. “Hoe ver is jy nou – April, Mei, Junie – o aarde, dit gaan ’n winterbaba wees. Julle sal ’n verwarmer moet kry vir die babakamer.” “Ons het nie ’n babakamer nie en Ma weet ek glo nie aan verwarmers nie; dis ongesond.” “Julle sal ’n groter woonstel moet kry.” “Wat van Hannes?” “Hannes sal moet gaan werk.” Ma was beslis. “En sy studie los?” “Sy studie los, ja. Hy is tog amper klaar. Sy verhandeling kan hy maar saans skryf, ná werk.” “O, o, o!” het Elsa gekreun en haar hande teen haar bors geslaan. Sy moes dit blykbaar nie gedoen het nie, want sy het gegil van pyn. “Wat makeer, darling?” Ma het haar naaldwerk laat val. “My boesems is so seer!” Ma het verlig geknik. “Ja, dis gewoonlik die eerste teken. Dit word mettertyd beter.” “Maar ek wil nie nou verwag nie,” het sy gesê en in ’n stoel neergesink. “Jy het geen keuse nie,” het ek haar ingelig. “As denkende mens, as lid van ’n spesie wat die verband tussen oorsaak en gevolg kan bepaal en in ’n mate beheer, is jy verantwoordelik vir jou dade en moet jy dus . . .” Elsa het verward na Ma gekyk. “Waarvan praat die kind?”
“Sy sê jy moet begin brei.” “En ek is nie ’n kind nie,” het ek vinnig gesê, my breiwerk bymekaargemaak en die vertrek verlaat. Hoe Elsa mettertyd berus het, weet ek nie, maar sy het. Hannes het ’n assistentskap by die universiteit gekry en hulle het na ’n groter woonstel getrek. Ma het een aand aan tafel vir Pa gevra of hy nie vir hulle ’n huis wil koop nie en hy het onomwonde nee gesê. “Ek het drie dogters,” het hy gemor. “Die idee is dat hulle moet trou sodat ander mans na hulle kan kyk. Ek het genoeg rokke en kouse en haarlinte gekoop om ’n strik om die aardbol te bind en ek gaan wragtig nie vir hulle huise ook koop nie.” “Ek het net gedink . . .” het Ma gemymer. “As die kleintjie eers begin loop, is ’n tuin tog handig.” “Dan moet sy pa vir hom ’n tuin koop.”
“Elsa lyk grotesk,” het Kara vir my gesê toe ek een aand by haar en haar woonstelmaat gaan eet het. Kara kon nie kook of naaldwerk doen nie en haar woonstelmaat ook nie eintlik nie, maar ek was tevrede met die bak slaai, bestaande uit boontjiespruite, sampioene, tamaties en bokmelkkaas. Die woonstelmaat het ’n growwemeelbruinbrood gebak wat heerlik was, maar gevaarlik vir mens se tande en stopsels. “Glad nie soos ’n Madonna nie. Ek help tans met die restourasie van ’n Middeleeuse triptiek en die Madonna daarop het ’n engelagtige uitdrukking op haar gesig en ’n kwalik geswelde ronde magie.” “Kuns is interpretatief,” het haar woonstelmaat haar herinner. “En subjektief. Dit hang alles af van hoe die kunstenaar voel oor sy onderwerp. Jy vind swangerskap grotesk en sal dit dus anders weergee.” “Jy’s reg,” het Kara gesê. “As iemand my vra om Elsa te teken, sal ek ’n groot sirkel trek met ’n klein koppie boaan en twee stokarmpies en -beentjies. Dis al wat ’n mens sien: maag.” “Wil jy nie eendag kinders hê nie?” het ek gevra.
“Nee.” “En gestel jou man wil?” “Dan kry ons ’n surrogaatmoeder om die drawerk te doen. Maklik. Ek is nie ’n broeikas nie. My lyf behoort aan my.” Ons het die ete afgesluit met ’n ongesonde sjokolademousse, gemaak en geskenk deur een van Kara se bewonderaars. Blomme was blykbaar ontoereikend om te sê wat hy wou sê, en wat die mousse moes sê, kon geeneen van ons drie besluit nie. Was hy soet, ryk en romerig of was dit sy? Of was dit wat hy van die verhouding verwag (of vereis) het? Op pad terug huis toe in Pa se kar het ek weer aan Elsa gedink en so is ’n nuwe storie gebore. Die oues, met Richard in die hoofrol, was uitgewas en prikkelloos. Met die eerste oogopslag het swangerskap my nie eintlik getref as iets romanties nie, maar ek het darem geglo dat ’n mens niks durf verwerp tot jy dit nie self probeer het nie. Ek was nie van plan om “in die moeilikheid” te beland nie, daarvoor was ek te nugter, maar in my verhaal sou ek verwagtings, babas en geboorte omskep tot ’n fantasie. Dit het een van my meer uitgebreide verbeeldingsvlugte geword en het my maande lank besig gehou. Deur vervelige lesings, tydens motor- of busritte, terwyl ek my onderklere gewas het of as ek Polder na die park geneem het, het ek daaraan gewerk. Tussen bevele soos “Nee, Polder, niet bijten!” en “Kom, Polder, wij moeten naar huis,” het my storie en sy karakters vorm aangeneem. Die hoofkarakter was natuurlik ek self al het ek altyd na haar in die derde persoon verwys. Die haakplek was die feit dat ’n swangerskap nege maande duur. Hoe behou jy jou romantiese spanning? Ná ’n week of twee van tob, het ek die storie begin aan die einde van die swangerskap. Daar was hierdie man, sien, ’n oujongkêrel, ryk genoeg en aantreklik, ’n Eduard eintlik. Hy het nie vreeslik in meisies belanggestel nie, maar sy jonger broer het. Sy naam was Peter. (My karakters het altyd Engelse of buitelandse name gehad en die verhaal het ook êrens anders afgespeel. Selfs my vrugbare verbeelding kon nie romanties raak onder Suid-Afrika se bakkende son en interne probleme nie.) Ek, of liewers: sy, was nie een van Peter se meisies nie, sy was bloot ’n goeie vriendin. Die meisie by wie hy sy hart kon kom uitpraat. ’n Maat. Maar op ’n gegewe aand kom hy by haar aan, baie laat. Hy het te veel
gedrink, kan sy dadelik sien toe sy eers wakker is. (Sy het al geslaap.) “Wat makeer?” vra sy en begin koffie maak. Hy trek sy das los en val op haar bed neer. Terwyl hy haar vertel hoe sy meisie hom teleurgestel het en hoe alles die afgelope weke met hom verkeerd gaan, moet ek miskien ’n bietjie agtergrond inskets. Sy bly alleen in ’n ateljee-tipe woonstel. Basies net een baie groot vertrek met ’n badkamer êrens op die agtergrond. Wat sy doen, weet ek nie. Iets vaags soos ’n proefleser, in elk geval iets wat sy by die huis kan doen. Miskien was sy selfs ’n skryfster. (Sy was my alter ego en ek was altyd besig om stories te versin.) Ek wou nie tyd mors met wonder waar haar geld vandaan kom en hoe sy dit regkry om brood en melk te koop nie. Feit bly, sy het geld gehad, miskien van ’n ryk oom geërf. Aangesien ek nie te veel tyd wou mors met hierdie deel van die verhaal nie, het ek ook nooit Peter se treurmare in besonderhede uitgewerk nie. Greta (dit was haar naam, ver verwyder van Iris) het hom koffie gegee en later langs hom gaan lê om hom te troos. Sy was per slot van rekening sy beste vriendin, die een op wie se skouer hy altyd kom huil het. Daarby was sy deur die slaap en dus nie so helderdenkend soos sy moes gewees het nie. Hoe dit ook al sy, hulle bring die nag in mekaar se arms deur en toe sy die volgende oggend wakker word, is hy weg. Hy stuur vir haar ’n bos rose met ’n kaartjie by waarin hy om verskoning vra vir sy swak gedrag van die vorige nag. Hy hoop nie hy het haar in die verleentheid gestel of hulle vriendskap bederf nie. Sy voel verleë oor haar eie swakheid, maar aan die ander kant is sy ’n moderne, geëmansipeerde jong vrou en mors nie te veel tyd met verwyte oor iets wat nie meer verhelp kan word nie. Peter kom loer nog van tyd tot tyd in en hulle is albei bly om te sien hulle vriendskap is so sterk soos altyd. Hy vertel haar ook dat hy ’n paar maande Amerika toe gaan, op aandrang van sy broer, sodat hy een of ander kursus kan bywoon. (Hy moes van die toneel verdwyn sodat ek die ellelange nege maande kon verbykry.) Hy is ’n vennoot in sy broer se sakeonderneming, maar sy broer is nie gelukkig met sy bydrae nie. Hy is te veel van ’n losbol en rokjagter. Maar op ’n dag klop hy weer aan haar deur, die ene vrolikheid en baie bly om terug te wees. En hy skrik toe hy haar sien, want sy is onteenseglik swanger.
“Greta!” sê hy. “Hoe het dit . . . wie het . . .?” “Dis wat gebeur as ’n mens jou vriende probeer troos,” sê sy kalm. Hy word bleek. “Jy bedoel dis ek?” Sy lag. “Ek gaan jou nie lawe nie, Peter. Sit. Dis net soveel my skuld as joune, die enigste verskil is dat ek dit nou al gewoond is. Moenie so verskrik lyk nie, ek gee regtig nie om nie. Jy weet ek stel nie daarin belang om te trou nie, maar ek het nog altyd gedink dit sal lekker wees om ’n baba te hê.” (Die dialoog het met elke borduurslag verander, maar dit was by benadering wat sy gesê het.) Sy was nie ontsteld nie en het hom verseker sy gaan nie ’n geweerloop in sy nek druk en hom preekstoel toe sleep nie. Alles was onder beheer, sy was gesond en voorbereid. Haar kalmte het geen effek op hom gehad nie. Hy was baie ontsteld. Sy het gewens sy vyande kon hom sien, al die mense wat altyd gesê het hy het geen gewete nie. Hy was eerbaar, konvensioneel en vasbeslote om die “regte ding” te doen. (Ek kon hom nie ’n onsimpatieke karakter maak nie. Al was hy nie die held nie, het dit nie beteken hy is ’n skobbejak nie. Ek – en by implikasie Greta – heul nie met slegte karakters nie.) “Laat my toe om iets te doen,” het hy gesmeek. Sy moes hom omtrent by die deur uitstoot. “Ek het niks nodig nie, Peter. Dis nie nodig om skuldig te voel nie. Wat gebeur het, het gebeur. Ek het dit aanvaar, jy sal ook maar moet.” Of hy dit ooit aanvaar het, sou sy nooit weet nie. Hy is ’n paar dae later in ’n motorongeluk dood. (Wel, ek moes hom van die toneel af kry, moes ek nie? En ’n motorongeluk is ’n truuk wat al deur baie skrywers of vertellers gebruik is.) Dus, exit Peter en die aksie verskuif na die kantoor van sy broer Eduard. Dis ’n paar weke later; die nege maande is amper verby. Eduard se regsman en goeie vriend, Paul, het ’n afspraak gemaak om hom te kom spreek en in sy hand het hy ’n brief. Dit het saam met al Peter se papiere by Paul beland, wat as eksekuteur van die boedel sou optree. “Waarmee kan ek jou help?” vra Eduard. “Lees hierdie brief.”
Die greep uit die verhaal, wat ek nou so vinnig vertel, het in werklikheid maande geduur. Ek kon soms vashaak op die onbenulligste punte, soos: wat het Greta gedra toe Eduard haar die eerste keer sien? Hoe was haar hare gekam? Watse soort koffie het sy vir Peter gemaak toe hy so laat in die nag daar aankom? As dit sterk filterkoffie was, was die daaropvolgende gebeure haar eie skuld, want hulle sou wawyd wakker gewees het. Presies waar het die bed gestaan in verhouding tot die res van die meubels? Waar en hoe het sy Peter die eerste keer ontmoet aangesien sy ’n stil, introspektiewe lewe gelei het en nie gemeng het met stralerjakkers nie? Het haar fisieke eienskappe ooreengestem met myne of was sy langer, beter gebou, mooier? Om sake verder te kompliseer, het twee dinge gebeur. Elsa se seun is gebore en ek het ’n man genaamd Peter ontmoet. Die geboorte van Elsa se kind was ’n driebedryfdrama wat ek, Kara en ons ma tot in die fynste besonderhede moes aanhoor, keer op keer op keer. Hoe Hannes gesit en werk het aan die bibliografie van sy verhandeling toe sy die kamer ingesteier kom en aankondig: “Ek dink dis tyd.” Hoe hy deur sy hare gevee het sonder om op te kyk en “uh-huh” gesê het. Hoe sy dramaties moes kreun om sy aandag te kry. Die geskarrel deur die woonstel om die ligte afgeskakel te kry, haar reeds gepakte tas onder die bed uit te sleep en die motorsleutels te soek. Hoe die motor eers nie wou vat nie en toe so skielik vorentoe geskiet het dat sy byna deur die voorruit is. (Haar maag was te groot en die pyn op daardie oomblik te erg om nog te dink aan veiligheidsgordels vasmaak.) Die onnoembare dinge wat aan haar gedoen is toe hulle by die kraaminrigting aankom. “Ug,” het Kara gesê. “Ek beter solank begin uitkyk vir ’n surrogaatma. Niemand gaan dit ooit aan my doen nie!” Ma het haar hand gelig. “Dit klink erger as wat dit is, darling. Ek is drie keer daar deur en het dit oorleef.” “Ma was seker nie so gesteld op persoonlike waardigheid soos ek nie,” het Kara gesê. Die hoek van haar mond het stywe, afkeurende plooitjies gemaak. “Laat ek verder vertel,” het Elsa hulle vermaan. Sy het regop gesit teen hooggestapelde kussings en haar rooi hare was blinker as ooit vantevore. Ek het gewonder of dit met hormone te doen het en of sy bloot oordryf het toe sy die
geboorte self beskryf het. In bioskoopprente het die vrou altyd rondgekrul op die bed en haar hare was ’n gemors; natgeswete stringe teen haar kopvel. Tensy ’n middernagtelike haarkapper Elsa se kop gewas en gekam het, lieg iemand. Maar ek het nietemin ’n aantekening gemaak van die glansende prag van haar hare sodat ek dit op Greta kon toepas wanneer die regte oomblik aanbreek. “Dis grusaam,” het Kara gesê toe die vertelling eindelik verby was. “Ek verbaas my dat jy jouself sover kan bring om daaroor te praat.” “Dit was die moeite werd,” het Elsa gesê en afgekyk na die bondeltjie wat langs haar in ’n bedjie op wiele gelê het. Hy was aan die slaap, maar vir my het hy kwaad gelyk, asof hy sy tante Kara se opmerking onderskryf. “Besef jy ons is nou tantes?” het ek vir Kara gevra. Sy het nie ingenome gelyk nie. “En Ma is nou ouma,” het Elsa gelag. Ma het verward gelyk. “My aarde, ja. Ek sal moet gaan naslaan wat ’n ouma alles veronderstel is om te doen.” “Klein Hansie stel op hierdie oomblik nog nie belang in oumas nie,” het Kara droog opgemerk. “Ma het genoeg tyd.” “Johan,” het Elsa skerp gesê. “Johan, nie Hansie nie. Hy het Hannes se volle name, maar ons gaan hom Johan noem. Johannes klink so . . . so . . .” “Biblies?” het ek onskuldig opgemerk. Die kamer was vol blomme in kontras met die winterse stowwerigheid buite. “Hannes is seker bly,” het Kara gesê en na haar horlosie gekyk. Dit was haar etensuur en sy moes terug na haar triptieke. Buitendien het Elsa gelyk asof sy graag sou wou slaap. “In die wolke,” het Elsa tevrede gesê. “Deur die blare,” het Ma haar gekorrigeer. “Toe hy drie-uur vanoggend daar by ons insteier, het ek gedag hy was in ’n motorongeluk gewees. Ek het net aanhou vra: ‘Het Elsa iets oorgekom?’”
Elsa het wys gelyk. “Dis swaar vir ’n man.” Kara het gesnork en opgestaan om te loop. “Tensy jy oordryf het, is dit aansienlik swaarder vir ’n vrou.” “Dis nie wat ek bedoel nie. Ek was besig, ek was betrokke, hy het net gekyk.” “Gekyk?” Kara se stem was dun. “Gekyk! Ek skaam my dood.” “Hy’s dan my man.” “Dis geen verskoning nie.” Sy het oorgeleun en die nuwe Madonna gesoen. “Sien jou later en rus nou maar lekker.” “Eersdaags is daar ’n wekker,” het Ma werktuiglik die rympie voltooi. “Hy’s klaar hier,” het ek gesê en na die wieg gewys. Kara het haar voorvinger oor die baba se wangetjie gevee en hy het dadelik sy gesiggie opgeskroef en nog vieser gelyk. “Hy lyk nogal na Iris,” het sy gesê. “Na my?” “Ek het ook gedag die familietrek is daar,” het Ma gesê en opgestaan. “Kan ek jou op die kampus aflaai, darling?” “Nee dankie, Ma, Kara is nader. Ek ry sommer saam met haar.” In die motor het Kara my kategories en met heftige slae teen die stuurwiel vertel waarom sy nooit sal trou en aanteel nie. Die tafereel van blosende moederskap wat ons pas verlaat het en wat my so beïndruk het dat ek besig was om Greta se hare rooi in te kleur, het haar koudgelaat. “Sy’t vlekke op haar gesig, het jy gesien? En haar borste staan geswel soos spanspekke. Ons elegante suster!” “Ag nee, man,” het ek probeer keer. “Sy lyk vir my pragtig.” “Jy’s nog so jonk,” het Kara gesug en nie verder gepraat nie.
Dit was altyd dieselfde ou storie. Ek was te jonk. Ek kon nog nie saampraat nie.
Ek het nie geweet waarvan ek praat nie. Van ek die dag gebore is, was dit so. Wat ek ook al gedoen het, was reeds deur hulle gedoen. Ma het ’n boek aangehou waarin sy my susters se eerste woordjies, eerste volsinne, eerste belangrike mededelings geskryf het. Sy het dit probeer volhou ná my geboorte, maar ek het die boek gelees. Onder “eerste woord” staan “mama” en daar hou die inskrywings op. Toe ek omtrent ses jaar oud was, het ek op ’n dag vir Ma gesê ons hondjie lyk vir my na ’n teddiebeer. “Elsa het gesê hy lyk vir haar na ’n tiertjie,” het sy ingedagte gesê, besig aan ’n konsertrok vir Kara. “Of was dit die kat? Ja, ek dink sy het van die kat gepraat. Jy sal hom nie onthou nie, so ’n rooi-en-swart gestreepte kat. Het Pa asma gegee . . . dié dat ons nie meer katte aanhou nie. Ook nie regtig asma nie, eintlik net ’n toe bors.” “Maar ek dink die hond, ons Wollie, lyk na ’n teddiebeer,” het ek met die koppigheid van ’n sesjarige aangehou. Sy het my nie gehoor nie. Dit moet ’n familiekwaal gewees het. Pa het selde sinne van meer as vier woorde gebruik. (My ouma se bababoek het seker ook net een bladsy beslaan.) Omdat hy self nie veel gepraat het nie, het hy nooit leer luister nie en toe hy boonop trou met ’n vrou wat haar sinne onvoltooid in die lug laat hang, was ons lot verseël. As ’n vrou se stem die eter versteur, het sy ore uitgeskakel. Mense wat Ma nie geken het nie, het in afwagting gesit om die res van haar storie te hoor, maar haar vertelling het weggewaai, verlore geraak in die volgende opmerking. Haar gedagtes, soos los drywende wolkies, was klaar weg, het van vorm verander of saamgekoek om ’n hele nuwe formasie te maak. Geen wonder dat Kara ontvlugting gesoek het in haar Middeleeuse kuns, Elsa in die hiperpraktiese en ek in my fantasieë nie. Die brief wat die prokureur vir Eduard gegee het, was geskryf in Peter se haastige, soms onleesbare skrif en was aan sy broer gerig. In los sinne en nie altyd chronologies verstaanbaar nie, het hy vertel wat hy aan Greta gedoen het. “Sy’s nie soos my ander meisies nie; jy sal sien wat ek bedoel wanneer jy haar ontmoet. Ek sal vir haar moet sorg en as ek iets oorkom, moet jy dit doen.”
Die brief het, soos my ma se sinne, uitgerafel en geëindig halfpad deur ’n sin. Eduard het gefrons en opgekyk na Paul. “Wat beteken dit?” “Hy’t ’n meisie in die moeilikheid laat beland en ’n rare aanval gekry: gewete,” het Paul gesê. “Dis kwalik iets nuuts.” “Die gewete is.” “Wie is sy?” het Eduard gevra. “Ken jy haar?” “Natuurlik nie. Wie kon byhou? Elke keer dat ek Peter gesien het, het hy ’n ander meisie aan die arm gehad. Nie dat daar ’n groot verskil tussen hulle was nie.” Eduard het seergemaak gelyk. Dit was per slot van rekening sy broer waarvan hulle gepraat het. Hy was lief vir Peter en het altyd bly hoop sy broer gaan meteens grootword en verantwoordelik optree. “Haar adres is agter op die brief gekrap,” het Paul gesê. “Dis amper asof hy ’n voorgevoel gehad het.” “Voorgevoel waarvan? Sy dood? Dis tog vergesog, dit was ’n ongeluk gewees.” Paul het sy skouers opgehaal. Hy het daarvan gehou om hom hard en sinies voor te doen, maar in sy binneste was ’n stuk menslikheid nog aan die klop. Eduard het die brief teruggegee. “Doen wat nodig is,” het hy gesê. “Sorg dat fondse beskikbaar gestel word, ’n maandelikse toelaag. Vind by haar uit wat die beste sal wees.” “Die brief is aan jou gerig,” het Paul gesê. Eduard het hom nie geantwoord nie.
Die Peter wat ek ontmoet het, het nie veel van sy fiktiewe eweknie verskil nie.
Dieselfde ruwe, ongekamde soort aantreklikheid, dieselfde selfversekering, dieselfde blonde meisie aan sy sy. Dit was ’n studentepartytjie, maar hy het nie vir my na ’n student gelyk nie. Ek het hom ’n hele ruk gesit en dophou en in die stilligheid gedink hy lyk nogal na sy prototipe, maar toe hy aan my voorgestel word en ek hoor sy naam is Peter, het ek geskrik. (Ek was nog jonk genoeg om dit bonatuurlik te vind wanneer fantasie en werklikheid oorvleuel.) “Wat is jou naam nou weer?” het hy gevra en oorgebuig na waar ek in ’n hoek gesit het. “Iris.” “Die Griekse godin van die reënboog,” het hy gesê en vir my geknipoog. Ek was lamgeslaan. Reënboog? Ek het afgekyk na my grys rok en roomkleurige tjalie, my kortgeknipte, kleurlose naels, my regaf donker hare. Dienares van hoëre gode. “Hoe weet jy dit?” het ek lammerig gevra. “Die iris is ’n embleem wat deur die eeue gebruik is,” het hy vlot vertel. “Veral in die dekoratiewe kuns. Borduurwerk uit die Ooste, motiewe op Persiese erdewerk. Dis tot deel van die Franse vaandel.” Ek moes vir hom dom gelyk het, want hy het voortgegaan. “Die fleur de lis. Jy weet tog wat dit is?” “Ja.” “Daar het jy dit dan. ’n Naam vol ryke assosiasies.” Ek het rondgevat na iets om te drink en my glas sodawater opgetel om as skans te gebruik. “Hoe weet jy dit?” “Nageslaan,” het hy vlot geantwoord. “Hoekom?” “Jy’s nie die eerste Iris wat ek ontmoet nie.” Ek moes op my lip byt om nie by te voeg: en jy ook nie die eerste Peter nie.
“Mag ek maar hier by jou sit?” het hy gevra. Ek het om my rondgekyk. Behalwe die stoel waarop ek gesit het, was daar net ’n klein lamptafeltjie wat nie stewig genoeg gelyk het nie. “Waar?” het ek gevra. “In my woonstel?” Ek het my glas neergesit. “Waar is jou woonstel?” “So ’n ent met die gang af.” “In hierdie gebou?” Hy het geknik. “Wat van jou vriendin?” Hy het gegrinnik. “Watter een?” Hy het sy kop geskud asof hy die ligsinnigheid van hom wou afskud. “Ek het alleen gekom. Wat van jou?” “Ook.” “Waarvoor wag ons?” het hy gevra en my aan die hand regop getrek. Ek is saam met hom na sy woonstel.
Voor ek die aand uit is, het Johanna by my in die kamer kom staan en gekyk hoe ek my hare borsel. “Jy sal iets moet doen met darie hare,” het sy krities gesê. Haar eie hare was in rooi en blou krullers omdat sy amptelik van diens af was. “Wat makeer my hare?” het ek gevra. “Dis pap.” “Net omdat jou eie hare krullerig is,” het ek gesê. “Vertel my liewers hoe dit gaan by Elsa-hulle.”
Johanna was relatief jonk toe sy by ons begin werk het en ek dink sy het vinnig besef sy is onmisbaar. Sy het Ma leer kook (op ’n manier) sodat ons darem kan eet as sy die dag nie daar is nie, sy het ons ons hare leer vleg ná Ma Elsa op ’n dag skool toe gestuur het met drie vlegsels, sy het al die sleutels in die huis bymekaargemaak en in ’n bak by die voordeur gesit sodat die eindelose gesoek na motor- en huissleutels ’n einde kan kry. Waar sy vandaan gekom het, het sy ons nooit regtig vertel nie. Dit het probleme veroorsaak in die dae toe sy nog ’n pas moes dra, maar Ma se vaagheid wanneer sy Johanna moes registreer, het die owerhede so gefrustreer dat hulle nooit stappe gedoen het nie. “Sy’s my niggie,” het sy op ’n keer vir die man gesê. Al wat Johanna ons vertel het, was dat haar pa swart was en haar ma bruin. Sy self was lig van vel met pragtige, sterk swart hare wat sy om die beurt met Vaseline platgedruk of met rollers opgepof het, afhangende van haar bui of etniese identifikasie. Van trou wou sy niks weet nie. “Dankie vir my,” het sy gesê. “Ek ken darie ding.” “Watse ding?” het ons stout gevra. Sy het die vadoek in ons rigting geklap en die onderwerp verander deur te vra wie se vuil wit sokkie dit is wat sy onder die platespeler opgetel het. Die tsotsi’s het haar bygekom toe sy nog jonk was, het Elsa my later eendag vertel. Blykbaar het sy dit by Johanna gehoor. “Elsa is vrek dom,” het sy my nou geantwoord. “Sy is nie,” het ek lojaal geantwoord. “Sy’s vrek slim.” “Dom met bybies.” Met twee kinders uit die huis het Ma begin voel Johanna is verveeld en ná ’n paniekerige oproep van Elsa, twee dae ná sy met die baba by die huis gekom het, het Ma Johanna soontoe geneem en gevra sy moet help. “Natuurlik is sy dom met ’n baba. Dis haar eerste.” Johanna het gesnork. “Sy sit vir hom en kyk of hy gaan ontplof.”
Ek moes haar kortknip, dit was tyd om te ry. “Maar jy help haar darem?” “Natuurlik!” “En ek moet ry.” “Waar’s jou boyfriend?” “Jy weet ek het nie een nie.” Sy het haar oë opgeslaan dat ek net twee wit sirkels in haar bruin gesig kon sien. “Keer my as ek dit verkeerd het,” het sy teatraal aangekondig. “Jy gaat alleen na die paartie?” “Ja.” “Wat het van die Riekie-man geword?” Ek het my tjalie om my skouers geknoop. (Ek was daarin toegedraai toe ek gedoop is en was verknog aan die ding.) “Herder, Johanna, ek het hom twee jaar laas gesien.” “Dan’s dit hoog tyd jy kry ’n ander een.” Profetiese woorde.
Toe ek ná die partytjie deur die donker, besadigde strate huis toe ry, het ek my verwonder dat ek my maagdelikheid so vinnig, so maklik en so ondeurdag aan Peter afgegee het. En dit bloot omdat sy fisionomie en naam my aan iemand anders herinner het. Ek het byna die posbus op die hoek naby ons huis omgery, so ingedagte was ek. My pa het my leer bestuur. Oorspronklik. Sy bevele het bestaan uit ’n kortaf: “Nee, só,” of ’n nog korter: “Oppas!” Ná ek die motor in trurat gesit het sonder om eers die koppelaar te trap, het hy ’n bestuurskool gebel en vir my ’n afspraak gemaak. Ek moes my instrukteur in die middestad ontmoet en toe ek by hom kom, het hy
reeds gaperig in die motor gesit en wag. “Kan jy bestuur?” het hy my gevra ná ons gegroet het. “Nee.” “Klim in,” het hy beduie. Hy het reeds in die asiersitplek gesit, dus het ek geen ander keuse gehad nie, ek moes agter die stuurwiel inskuif. “Ek kan nie in die stad ry nie,” het ek gesê. Ma se verskoning. Hy het met groter oorgawe gegaap, ’n koerant oopgeslaan, sy voete teen die paneelbord vasgeskop en gesê: “Ry.” Luigat, het ek gedink, en die motor aangeskakel. Dit was ’n kleinerige motortjie en hy het net drie keer gespring voor hy teen die geparkeerde motor voor ons uitgeklim het. Ek het langs die motor in die warm son gestaan en wag vir die polisieman om klaar te praat en al sy dinge neer te skryf. Om die tyd te verwyl, het ek gekyk na die duiwe wat nes gemaak het agter ’n neonbord wat die bestuurskool geadverteer het. “Sy’t dit ekspris gedoen!” het die instrukteur beduie. Sy gesig was rooi en opgeblaas. “Hy’t gesit en koerant lees,” het ek vertel. “Dit was my eerste les.” Ná ’n halfuur het die polisieman begin lyk soos die man in die paskantoor nadat my ma met hom gepraat het. Ek is huis toe en met my volgende les het ek ’n nuwe instrukteur gehad.
Fantasie en werklikheid het nie in Peter se woonstel oorvleuel nie. Wanneer ek alleen was, het ek my storie poleer en al my karakters se motiewe verfyn, maar gekonfronteer met werklike geure en klanke en aanraking het my fantasieë verdwyn. Peter was werklikheid. Hy het hare op sy bors, voorarms en bene gehad. Sy
asem het soet geruik, na wyn. Hy het my ernstig ontklee asof ek ’n ou manuskrip was wat hy by ’n antikwaar opgetel het, asof my vergeelde tjalie sou verbrokkel as hy dit rof hanteer. Ná die tyd het hy nie omgedraai en aan die slaap geraak soos wat ek verwag het nie. Hy het op sy elmboog geleun en fronsend na my gekyk. “Was dit lekker?” het hy gevra. “Nogal.” Ek het gegaap, want ek het ’n glas wyn saam met hom gedrink omdat ek nie aanstoot wou gee nie. “Nogal?” “Ja.” “Jy bedoel dit was al beter gewees?” “Nee. Dit was die eerste keer.” Hy het regop gesit. “Die eerste keer?” “Ja.” Ek het opgestaan en my klere van die stoel gehaal waar hy dit netjies neergesit het. “Jissis.” Ek is badkamer toe en toe ek terugkom, het hy voor die venster gestaan en rook, darem met ’n broek aan. “Ek moet nou ry,” het ek gesê. “Waarheen?” “Huis toe.” “Waar’s jou huis?” Ek het die adres afgerammel. “Bly jy alleen daar?” Hy het sy stompie by die venster uitgeskiet en die venster vinnig weer toegemaak toe ’n vlaag koue lug ons laat ril.
“Nee, by my ouers.” Ek het gehoop niemand het onder op die sypaadjie geloop toe die stompie val nie. Hy het sy kop geskud. Ek het my hand gelig en vir hom gewaai. “Lekker slaap.”
Die volgende oggend aan ontbyttafel het Ma my ondersoekend aangekyk. “Jy lyk goed vir iemand wat . . .” Ek het vinnig opgekyk. “Wat wat?” “Die voëls het al geskree,” het Pa gesê sonder om van sy bord pap op te kyk. Ma het die voëls in die agterplaas gevoer en Pa het gedreig om ’n haelgeweer te koop en hulle uit die bome uit te skiet as hulle hom weer vieruur soggens wakker maak. “Was dit ’n lekker partytjie?” het Ma weer gevra. “H’m.” Pa het opgestaan en sy servet neergesit. Dit het van die tafelblad afgeval en Polder het dit bespring en daarop gaan lê om dit te versmoor. “Dis een van die dae eksamentyd,” het Pa gesê. “Wat gaan jy doen?” “Deurkom.” “En volgende jaar?” “Werk.” “Waar?” “By dokter Anders.” Sy mond het oopgeval. “As wat?” “Sy assistente.”
“Haai, darling,” het Ma gesê. “Dis ’n uitstekende idee. Dan is jy nog naby ons.” Pa het sy baadjie aangetrek. “En dis waarvoor ek haar drie jaar op universiteit gehou het, om by die tandarts te werk. Spoeg weg te vee.” Tot hy my gevra het wat ek van plan was om te doen, het ek nie veel aandag aan my toekoms gegee nie, maar toe ek dit eers hardop gesê het, het dit vir my al hoe beter geklink. Ek het van dokter Anders gehou (sy naam het my geamuseer: Anders. Anders as wat?) en hy het toe reeds ’n hele paar keer gevra of ek nie vir hom wil kom werk nie. Sy assistent was swanger en sou die einde van die jaar weggaan om, soos Elsa, winde uit te klop en te wonder waarom babas nie deur die nag kan slaap nie. Ek wou nie ’n werk hê wat my gedagtes in beslag sou neem nie. Om instrumente aan te gee, bang mans se hande vas te hou of, soos Pa gesê het, spoeg af te vee, het vir my ideaal geklink. My kop sou onbetrokke bly. Ek het die telefoon opgetel en hom gebel om hom van my besluit te vertel. Hy was bly, soos ek geweet het hy sou wees, en het my al die relevante besonderhede gegee. Ek sou ’n kursus moes loop – seker om te leer steriliseer – maar ek kon dit doen sodra die eksamen verby was. Ek kon by die huis bly, want sy spreekkamer was in die gebou bokant ons naaste winkelsentrum. Aan Peter en die vorige nag het ek nie gedink nie. Repressie, sou my lektor gesê het as hy geweet het.
Paul het Greta besoek. ’n Paar keer. Sy was, soos hy vermoed het, nie soos Peter se deurslagmeisie nie. Mooi ja, maar sereen en koppig. Sy het geweier om enige geld van die familie te aanvaar. “Sy wil nie geld hê nie,” het Paul by Eduard verslag gedoen. “Sy lag wanneer ek dit noem.” Eduard het gefrons. Hy het genoeg gehad om hom oor te kwel; hardkoppige, gewese nooiens van sy oorlede broer het hom nie geïnteresseer nie. “Miskien moet jy met haar gaan praat,” het Paul voorgestel. “Jy sal strenger kan wees. Ek laat my te maklik verlei.” Eduard se wenkbroue het die lug ingeskiet.
“Nee, nee,” het Paul gekeer. “Dis nie wat ek bedoel nie. Dis net dat sy . . . ons begin gesels en as ek weer sien, is dit tyd om te loop . . . Sy maak heerlike koffie.” “Koffie is nie hier ter sake nie.” “Sal jy met haar gaan praat?” Eduard het swaar gesug. “Paul, jy’s ons prokureur. Jou werk is om ons uit sulke situasies te verlos. En dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Onthou jy nie die meisietjie . . . ek dink amper Peter was nog op skool gewees.” “Ek onthou . . . Dit was gelukkig net ’n vals alarm gewees.” Eduard het teruggeleun in sy stoel en sy bril afgehaal. “Die volgende een was nie. Peter het hoog en laag gesweer hy het nog nooit van haar gehoor nie.” Paul het geknik. “Ons het vir die aborsie betaal, ja.” “Presies. Peter se liefdeslewe was problematies genoeg, waarom wil jy my nou daarby betrek?” “Omdat sy anders is. Omdat ek dink jy gaan nie net van haar hou nie, maar jy sal haar ook oorreed.” Eduard se sekretaresse het êrens op sy lessenaar ’n klokkie laat lui. Die adjunkminister van Finansies was daar om hom te spreek. “Jy sal my moet verskoon,” het hy gesê en opgestaan. “Hier is haar adres,” het Paul gesê, die papier op die lessenaar neergesit en geloop. “Sommer ná werk een middag. Sy’s altyd by die huis.”
Omtrent drie weke ná die partytjie het ek een middag laat by ons voorhekkie uitgeloop met Polder aan sy leiband. Dit was ’n versengend warm Novemberdag en my kop was suf geleer. Ma het die waaier op my laaikas staangemaak sodat ek kon afkoel, maar die gefladder van papiere op my lessenaar elke keer wanneer die waaier oor ons swaai, het my geïrriteer en Polder grommend laat
opspring. Hy het altyd by my voete gelê terwyl ek leer en moedeloos gelyk omdat ek nie beweeg nie. Van tyd tot tyd het ek vir hom ’n grepie uit my Nederlandse voorgeskrewe boek gelees om sy nostalgie te besweer. Maar hy het meer van Simon Carmiggelt gehou, miskien omdat ek self hardop gegiggel het. Die son was aan die sak, die gras het gryserig gelyk en die boomblare het gedruip. Ek het opgekyk na die lug en gewonder of daar genoeg wolke is vir ’n reëntjie. Daar was hoegenaamd geen wolke nie. Selfs die lug was lelik en uitgebak. “Iris,” het iemand gesê en ek het ’n motordeur hoor oopgaan. Dit was Peter. Hy het ’n wit oopnekhemp aangehad en verbleikte jeans. Hy het jonger gelyk as vantevore, meer soos ’n student. “Is jy ’n student?” het ek gevra en Polder probeer bedwing. Hy het vorentoe gebeur om aan Peter te ruik en homself byna aan sy leiband verwurg. Peter het verward gelyk. “Ek is Peter. Ons het nou die aand by Paula se . . .” “Ek weet,” het ek gesê. “Ek vra net of jy ’n student is.” “Hoekom?” “Jy lyk of jy een kan wees, en almal nou die aand was.” Hy het sy kop geskud. “Nee, ek is ’n ingenieur. Ek bou paaie en brûe en damme.” “Nou toe nou.” Ek het die leiband ’n paar keer om my hand gedraai en Polder ingetol. “Ek is op pad park toe.” “Mag ek saamstap?” Ons het in stilte tot by die parkhekkie geloop. Ek het afgebuig en Polder ontkoppel en hy het soos ’n gebreekte veer van my weggeskiet om met sy maats te gaan speel. Die groot swart hond van ons bure het altyd dié tyd van die aand in die park kom speel – sonder sy eienaar – en hy was Polder se vriend. (Of vriendin; ek het nooit gekyk nie.) “Bly jy in hierdie buurt?” het ek gevra terwyl ons na die baljarende honde kyk.
“Nee. Jy ken my woonstel.” Ek het opgekyk na hom. “Hier is jy dan.” “Ek het jou kom opsoek.” “O.” Ons het stadig tussen die struike begin stap. Hier en daar moes ons koes vir die sproeiers wat oor die paadjie gespuit het, maar ek het nie omgegee om nat te word nie. Niks kon met my hare gebeur nie en die klam hemp teen my warm rug was ’n saligheid. “Wat doen jy vanaand?” het hy gevra. “Leer.” “Natuurlik. Dis eksamentyd.” Ek het ’n verbenablaar afgebreek en tussen my vingers gekneus. Die soel suurlemoenreuk was lieflik; ek het aanhou snuif aan my vingers. “Ek het gedog ons kan saam gaan eet,” het hy gesê. Ek het afgekyk na my gekreukelde wit kortbroek. “Ek is nie aangetrek nie.” “Ek sal vir jou wag.” Die blaar tussen my vingers het ’n ander geur herroep. “Ons eet vanaand lemoenhoender,” het ek hom ingelig. “Wil jy nie liewer hier eet nie?” Hy het op ’n strategies geplaaste rots gaan sit en afgekyk na die slykerige water wat veronderstel was om ’n murmelende stroompie te wees. “Iris,” het hy gesê. “Ek verstaan jou wragtig nie.” “Dis lekker,” het ek myself verdedig. “Ma maak dit in ’n wok.” “Wat van jou ouers?” “Hulle hou ook daarvan. Hoekom anders dink jy maak Ma dit?” Ek het op ’n klip oorkant hom gaan sit en my sandale afgeskop. Die stroompie het aan my
kant van die paadjie ’n waterval gemaak en ek het my tone in die yl water gehou. Die grondbedekkers aan weerskante het die ergste slyk vasgevang sodat die water hier relatief skoon was. “Hoekom het jy nou die aand saam met my na my woonstel gegaan?” het hy gevra. Hy het ’n stokkie opgetel en dit voor ’n naaldekoker gehou asof die insek, soos ’n parkiet, daarop sou klim. “Jy het my gevra.” “Doen jy altyd alles wat mense jou vra?” Die naaldekoker het wantrouig na ’n ander blaar verskuif. “Nee.” Hy het sy kop gelig en lank na my gekyk. Gelukkig het Polder deur die beddings aangehol gekom en my byna onderstebo gespring. “Brave hond,” het ek gesê en hom tussen sy ore gekrap terwyl ek die leiband weer vasmaak. “Lieve dier.” “Waarom praat jy met die hond Nederlands?” het Peter gevra. Sy stem het veraf geklink. “Dis al wat hy verstaan.” Ek het opgestaan en my broek afgestof. “Kom, dit word laat. Pa hou daarvan om vroeg te eet, anders sak sy bloedsuiker.” Pa het opgekyk toe ek en Peter met die stoeptrappies opkom en sy koerant laat sak. “Aangename kennis,” het hy gesê toe ek hulle voorstel. “Ek dag Iris leer.” “Ek het met Polder gaan stap.” Pa het na Polder gekyk asof dit sy skuld was dat daar ’n ekstra mens in die huis was. Maar hy het sy bes gedoen om met Peter te gesels. Ma was sjarmanter. “Ag!” het sy geroep en haar hande saamgeslaan. Sy het die middag haar hare ingedraai en dit was mooi uitgeborsel behalwe een vergete kruller wat net agter haar oor gesit het. As dit nie was vir die blou plastiekpennetjie wat deur die hare gesteek het nie, sou ’n mens dit kon miskyk. “Is dit nie plesierig . . .?”
Ek het agter haar inbeweeg en die kruller vinnig uitgetrek. “Is jy en Iris ou vriende?” het sy gevra. “Uh . . .” het hy geantwoord. “Daar’s bier in die yskas,” het Pa onthou. Dit was ’n paar jaar sedert daar laas ’n kêrel in die huis was. “Gaan jy iets anders . . .?” het Ma gevra. “’n Mooi rokkie of so?” Ek het sugtend gaan verklee. Dit was nog steeds warm en ek het vir die soveelste keer gewens ons het ’n swembad. Toe ek terugkom, het almal met biere in die hand gesit en in die skemer kon ek Peter bestudeer. Langs my lang, dun pa het hy korter voorgekom, vierkantiger. Pa se skouers het afgekrom, Peter s’n was nog reguit en sterk asof hy as kind ’n waterdraer in die woestyn was. Toe ek die eerste keer ’n prent gesien het van daardie stok met die twee emmers (of bokvelsakke) het ek gedink dit moet jou leer om jou skouers terug te gooi en regop te loop. (Ma het ons leer regop loop deur ons die gang af te laat stap met die Tweetalige Woordeboek op ons koppe.) “Is die kos reg, Els?” het Pa gevra. Ma het geknik en Peter het na my gekyk. Ek het vir die eerste keer besef waarom sy hare altyd ongekam lyk. Hy het twee kroontjies gehad, een aan elke kant van sy kop. Vanaf hierdie punte het die hare middel toe en kante toe gegroei. Van ’n paadjie of netjies gekamde kuif was daar nie sprake nie. Ma se lemoenhoender was so lekker soos altyd en ek kon sien Peter is bly hy het gekom. Elsa het gebel terwyl ons geëet het om met Johanna te praat. Die baba het brandboudjies gehad omdat hy sy eerste tand aan ’t sny was en Johanna, wat nog nooit ’n kind gehad het nie, het uiersalf aanbeveel. Ek kon Elsa tot in die eetkamer hoor gil. “Ek wens ons het ’n swembad,” het ek gekla toe ons ná ete weer op die stoep sit. “Dis net ’n gemors,” het Pa gesê. Ma, wat hard probeer het om seine te stuur sodat Pa ons alleen moet los, het opgehelder. “Waarom gaan swem julle nie in Aleid se swembad nie? Sommer oor die muur . . .”
“Tante Aleid woon nie meer daar nie,” het ek haar herinner. “Maar die nuwe mense . . . jy weet, die . . . wat is hulle naam nou weer? Hulle’s op vakansie. Het hulle nie, darling?” het sy vir Pa gevra. “Het hulle nie wat nie, Els?” het hy geduldig gevra. “Gesê ons is welkom om te swem.” Ek het na Peter gekyk. “Wil jy swem?” Hy het geknik en opgestaan. Ma is dartelend binnetoe en het teruggekom met twee handdoeke. Die een was pienk met liggeel eendjies en die ander een blou met teddiebere. Vermoedelik deel van Elsa se uitset. Ons is in die donker langs die huis af en by die muur het Peter sy hand gehou sodat ek dit as trap kon gebruik om oor die muur te kom. Die tuin was swart en stil en die swembadwater het dik en olierig gelyk. Ek het die handdoeke op die gras gegooi en na Peter gekyk. “Ons het nie swemklere nie.” Hy was reeds besig om sy skoene uit te trek. “Die blomme kan ons nie sien nie,” het hy gesê. Ek het my sandale uitgeskud en my rok begin losknoop. “Dis ’n debatteerbare punt,” het ek gesê. “Soos ek dit sien, is alle plante lewend en daar is selfs bewyse dat daar sprake kan wees van ’n gevoelswêreld . . .” Peter het voor my kom staan. Sy klere was klaar uit, maar dit was donker en ek kon net sy gesig sien in die flou lig wat deur die bome vanuit ons sitkamervenster gesyfer het. Hy het sy hand oor my mond gedruk en my klere van my afgestroop. “Bly stil, Iris,” het hy gesê. “Bly stil. Ek wil nie ’n verdere woord van jou hoor nie.” Hy het my aan my skouers vorentoe gestoot en met ’n stamp in die water gegooi.
Eduard was glad nie van plan om Greta op te soek nie, maar hy het nie rekening gehou met sy fotografiese geheue nie. Toe hy een middag deur die stad ry, op pad terug van ’n afspraak, het hy haar straatnaam raakgelees en daar ingedraai. Hoe gouer die besigheid afgehandel kan word, hoe beter, het hy besluit. Haar voorkoms, toe sy die deur vir hom oopmaak, het hom verras, soos Paul voorspel het. Sy was ongetwyfeld mooi, maar anders as Peter se nooiens. Sterker. Sy het ook nie vir hom besonder swanger gelyk nie, maar hy moes toegee dit kon wees omdat sy so ’n los (en modieuse – ek het ure bestee om haar reg aan te trek) rok gedra het. “Goeiemiddag,” het hy gesê en sy hand uitgesteek. Haar oë het vernou; miskien het sy die familie-ooreenkoms raakgesien. “Ja?” het sy gesê sonder om die deur wyer oop te maak. Hy het homself voorgestel. “Peter se broer,” het hy bygevoeg. “Ja?” het sy weer gesê. “Ek wil graag met jou gesels.” “Weer oor die brief?” “Wel, ja . . .” “Daar’s niks om te sê nie. Julle hoef julle nie oor my te bekommer nie.” “Dit was Peter se laaste wens.” “Hoe weet jy dit?” het sy gevra en gelag. “Julle prokureur het my die brief gewys, daar’s geen datum op nie.” “Maar sy voornemens is nie te betwyfel nie.” Sy het gesug en die deur wyer oopgemaak. “Kom binne. Ek is nie lus vir baklei nie.” Sy het voor hom uitgeloop na die oop kombuis. “Kan ek vir jou koffie skink?” Hy het wantrouig na die koffiemasjien geloer, op sy hoede vir die
oorredingskrag daarvan. “Ja dankie.” Sy het in ’n harde, regop stoel gaan sit ná sy vir hulle geskink het. “Ek het heeldag al die verskriklikste rugpyn,” het sy bely. “Weet nie waarvan nie. Ek het tog nie swaar meubels rondgestoot nie.” Hy het opgemerk dat sy mooi bene het. (Mooier as myne, vanselfsprekend.) En hy moes toegee dat sy wonderlike koffie maak. “Ek het gedink ’n trustfonds sou die beste wees,” het hy abrup gesê. “Vir die kind. Sy skoling, studies, mediese uitgawes. Dis die minste wat ons kan doen.” Hy was gefassineer deur haar. Ten spyte van wat Paul gesê het, het hy ’n blonde sekspot verwag, ’n skattejagter met gebleikte hare waarvan die wortels roeterig deurskyn, besmeer van maskara en druipend van selfbejammering. Hy het haar begin uitvra oor haar werk en lewe en hoe verder hulle gesels het, hoe meer het hy gevoel dat dit sy fondament was wat aan die wankel was, nie hare nie. Van tyd tot tyd het sy haar lyf gerek en gefrons. “Ek weet nie waarom my rug so seer is nie,” het sy gesê. “Dit grief my.” “Miskien moet jy jou dokter bel?” “Vir wat? Dis seker maar ’n simptoom van my toestand.” Hy het al sy tweede koppie koffie klaar gehad en het begin voel as hy nie nou loop nie, sal hy dit nooit doen nie. “As ek my prokureur vra om die nodige te doen, sal jy so ’n trustfonds aanvaar?” “Ja,” het sy onbelangstellend geantwoord. “Doen maar waarvoor julle lus is. Sal jy my ’n oomblik verskoon?” Sy het opgestaan en na die badkamer geloop. Alleen gelaat, het hy hard probeer om nie onchristelike gedagtes oor sy broer te dink nie. Hoe kon Peter ’n meisie soos sy so misbruik?
“Ek raak nie weer aan jou nie,” het Peter my ingelig toe ons bibberend in die donker langs die swembad sit. Hy het sy teddiebeerhanddoek om sy onderlyf gedraai en op die klipbank langs die braaivleisplek gesit. Ek het my besig gehou met die organisering van my ontoereikende handdoek. As
ek dit laag genoeg afgetrek het dat daar lap tussen my sitvlak en die klip was, het my bolyf ontbloot gelê in die klimmende maanlig. Ná ’n ruk het ek dit oopgelos; hy het my tog al gesien en ek was banger vir Johanna se dreigement dat ek aambeie sal kry as ek op koue klip sit. Ek het teruggeskuif teen die bank sodat my rug teen die muurtjie rus en ek my bene lankuit oor die bank kan uitstrek. “Hoekom nie?” het ek gevra. (Nie dat ek regtig omgegee het nie; hy was per slot van rekening Peter en nie Eduard nie.) Hy het sy kop geskud. “Omdat ek nie weet hoe jou kop werk nie.” Hy het na my gekyk en vinnig weer weggekyk. “Wil jy nie jou rok aantrek nie?” “Nee. Ek’s nog nat.” Die oppervlakkige koudheid wat die water veroorsaak het, was aan die verdwyn; die hitte uit die tuin het my vel styf en dor laat voel. Met die punt van sy handdoek het hy my tone begin afdroog, asof dit sou help. “Sal jou ouers nie wonder waar ons bly nie?” “Nee.” “Nee,” het hy saamgestem. “Wat impliseer jy nou?” “My ma sou al lankal oor die muur gehang het om uit te vind wat ons alleen hier in die donker doen.” “My ma loop nie en tob oor ons sedes nie,” het ek hom vertel. “Sy tob oor ander goed.” “Ja,” het hy gesug. “Ek het so agtergekom.” Hy het my tone gelos en oor die swembad uitgestaar. Die rimpelinge wat ons geswem veroorsaak het, het lankal bedaar, maar ons het albei gewip toe die drywende suierpyp skielik ’n ruk gee en gorrelend begin filtreer. Dit het gelyk na ’n dier wat slurpend oor die swembadbodem soek. “Wat gaan jy volgende jaar doen?” het hy gevra. Ek het hom vertel.
“Is jy ernstig?” het hy gevra. “Ja.” “Wat ’n vermorsing.” “Van wat?” “Jou talent.” “Hoe weet jy wat my talent is?” Hy het weer na my gekyk. Die maanlig was helderder en het sy gesig na ’n masker laat lyk waarvan die twee oë donker uitgehol was. “Ek wens jy wil aantrek.” Ek het afgebuk en ’n hand vol frangipanibloeisels opgetel. Ek het dit omgekeer dat dit soos kappies lyk en een oor elke bors gehang. Dit was nie moeilik nie, daar was nie soveel om te bedek nie, maar ek moes tog terugleun omdat die bloeisels aanhou afval het. “Daar,” het ek vir hom gesê. “Is dit beter?” Hy het opgespring, sy klere bymekaargeraap en begin aantrek. “Jy moet gaan swot,” het hy met sy rug na my gesê. Ek het die blomme afgeskud en ook aangetrek. “Ek dog jy’s so wêreldwys,” het ek vir hom gesê. “Ek?” het hy gesmoord gevra. “Ek?” Hy het my oor die muur gehelp en is sonder om te groet reguit na sy motor. Polder, wat heeltyd aan ons kant van die muur op my gesit en wag het, het bly aan my bene gelek en voor my uit gehuppel. “Is hy weg, darling?” het Ma gevra toe ek inkom. Sy het by die eetkamertafel gesit en skuif aan die stukkies lap van haar laslappieskombers. So lank as ek haar ken, werk sy al aan die ding. “Ja. Hy’t gevra ek moet dankie sê vir die ete.” Dit was ’n leuen, hy het
hoegenaamd niks gesê nie, maar ek het gevoel ek behoort dit te noem. Sy het oor haar leesbril na my geloer. “’n Mooi man. Hy sal pragtige babas . . .” “Pragtige babas wat?” Sy het die lappies rondgeskuif en in die proses ’n paar van die tafel laat afval. Ek het gebuk om dit op te tel. “Maak,” het sy gesê. “Waarom sê Ma so?” “Ek kyk na klein Johan.” “En?” Ek het oor haar gebuig en ’n geel lappie weggevat waar sy dit tussen twee delikate pienkes wou insit. “Die neus,” het sy gesê. “En die swaar kaak. Hannes is ’n liewe man, maar . . .” Ek is vinnig weg na die normaliteit van my wagtende studieboeke.
Dokter Anders was ’n presiese man. Die boeke op sy boekrak was volgens grootte gerangskik en, waar moontlik, volgens kleur. Dit het die rakke skeef laat lyk, asof dit enige oomblik na regs kon omkantel. Nie al die boeke was van tandheelkundige aard nie. Daar was woordeboeke en diverse glansfotoboeke oor sulke uiteenlopende temas as Inka-kuns en moderne boerderymetodes in Hongarye. Ek het afgelei dit was geskenke van dankbare pasiënte. Die onderste twee rakke was vol sagtebandboeke, blitsverkopers, almal dieselfde grootte. Ek het geweet dit grief hom. Dit het die skewe simmetrie van die boonste gegradeerde rakke versteur. Die meubels in die wagkamer en in sy privaat kantoor was swaar en solied, gemaak om meer as een generasie te dien. Outyds, eintlik. Hy het kennelik nie geglo in die moderne opvatting dat ’n wagkamer lig, vrolik en opbeurend moet wees nie. Sy meubels het ontsag ingeboesem. Vrees ook. Pasiënte het verkommerd na die swaar buffettafel gekyk met sy baie laaie en blink spieëls. “Dis waar hy die tange bêre,” kon ek hulle hoor dink.
Maar terwyl die boor gesellig gedreun het en ek die slurppypie onder hulle tonge gehou het, kon ek voortgaan met my fantasieë. Ek kon die uitleg van Greta se kamer verander, Eduard se huis meubileer, blomme op Peter se graf plaas. Ek het omtrent ’n argiteksplan van Greta se woonstel geteken voor ek tevrede was met die ligging van haar badkamer en kon voortgaan met die choreografie van haar en Eduard se bewegings. Ek was baie gesteld op korrektheid. Die wette van die werklikheid moes gehoorsaam word. Koffietafels moes nie in die pad wees wanneer daar skielik beweeg moes word nie, gordyne moes net genoeg lig inlaat, telefone mag nie op ongeleë oomblikke gelui het nie. As Greta klouend aan die muur uit die badkamer kom en hees aankondig: “Ek dink dit het begin,” moet iemand die ligte afskakel en die koffiemasjien ook. Ek wou nie dat die woonstel afbrand terwyl my drama hom ontvou nie. Ek kon nie vir ’n meer ideale werk gewens het nie. Ek was nie afgesonder nie, daar was altyd genoeg mense om mee te klets. Kinders het die minste vrees gehad en het gesellig op die mat gesit en teken op papier wat ek vir hulle gegee het. Ek het die plante gehad om na om te sien, die rekeninge en indekskaarte vir intellektuele stimulasie en die tandartsstoel om in te lê tydens my etensuur. Pa het elke aand ’n nuwe opmerking gemaak oor my werk, almal variasies op die tema van: spoeg afvee, of: hiervoor het ek jou op universiteit gehou. Soos Polder se vlooie, was dit hinderlik, maar iets waaraan ’n mens wel mettertyd gewoond raak. “Objekteer dokter Anders nie teen jou kloosterrokke nie?” het Kara my gevra. “Jy’s ’n mooi een om te praat. Buitendien, ek dra ’n wit oorjas.” Ek het gehou van my voorkoms. Ná jare waarin ek my hare probeer krul het, het ek dit nou in ’n loodregte lyn vyf sentimeter onder my ore laat knip. Johanna het dit sommer vir my gedoen met Ma se naaldwerkskêr, want haarkappers wou altyd begin stileer en “kom ons probeer dit só”. In die winter het ek swart kouse en plat toerygskoene gedra. My “kloosterrokke” was almal grys of swart. “Jy lyk so druipstert,” was Elsa se kommentaar. “Asof jy ’n vlugteling is.” Sy self, met ’n jaar oue kind op die heup, was so netjies soos altyd. Haar voorgeboortelike figuur was terug waar dit moes wees, danksy harde oefening en my ou geroeste fiets. Sy het weer begin skoolhou omdat hulle ’n huis wou koop en die kind is soggens by Ma en Johanna afgelaai.
“Nog ’n kind om te leer,” het Johanna by my gekla. “Van bleddie voor af. Hoe om te eet en sy broek vas te maak.” “Dis darem iets nuuts. Ons was almal dogtertjies.” “Selle ou storie.” Sy het die kind aan sy voet gegryp toe hy verbete in die rigting van die stoeptrappies begin waggel. “Ek dink dis tyd dat ek aanmaak.” Dit was ook ’n ou refrein. Elke paar jaar het sy besluit ons waardeer nie haar gawes nie, dis tyd dat sy loop. “Jy sal tog nie, dis vir jou te lekker hier by ons.” “Ek sal! Om rond te trek, is in my bloed. Die gesittery op een plek is nie vir my nie. Ek aard na my voorvaders.” “Watter een?” Afhangende van haar bui was almal van Dingaan tot ’n televisieheld haar voorvaders. “My oupa,” het sy waardig gesê. “Die seevaarder.” “’n Matroos?” “Darie hare van jou lyk sleg,” het sy teruggekap. “Natuurlik was hy nie ’n matroos nie. ’n Groot man met ’n rooi baard.” “Rooi? Is dit waar Elsa se rooi hare vandaan kom?” “Loop,” het sy vir my gesê. “Jy’t g’n respek vir my voorsate nie.” “Hulle fassineer my. Dis net dat daar soveel van hulle is.” Sy het klein Johan opgetel en met hom kombuis toe gestap. Polder is stertswaaiend saam. Hy het vinnig geleer dat oorskietkos mildelik oor die vloer gesaai word wanneer die baba eet. Vir Peter het ek nie weer gesien nie. By Paula het ek gehoor hy werk in Amerika. Sy het nie geweet ons ken mekaar nie en het bloot ’n handvol inligting in my skoot gegooi (soos dat sy gaan trou) onbewus daarvan dat die een brokkie uitgeval en by my bly lê het.
’n Paar maande later het ek ’n poskaart van hom gekry. ’n Mooi foto van ’n onnatuurlike blou waterval met ’n beer langsaan. Ek is baie besig, het hy agterop geskryf. Ek werk hard daaraan om jou te vergeet. Dit kon nie te moeilik gewees het nie; daar was min om te onthou.
Dokter Anders was besig om van sy vrou te skei. Dit het hy my vertel toe ons een oggend hospitaal toe moes ry om ’n pasiënt te gaan sien wat in ’n motorongeluk haar voortande verloor het. Oor die telefoon was sy histeries en het hom gebied om dadelik te kom en afdrukke te maak van haar gebit sodat die saak reggestel kon word. Ek moes saam as handlanger en terwyl ons deur die verkeer gesukkel het, het dokter Anders my van sy vrou vertel. “Sy praat met my wanneer sy gesigroom in haar mond het,” het hy gesê. “Ek stik vir haar part.” Ek het net geknik. (Was dit rede vir ’n egskeiding?) “Sy trek poppe aan,” het hy voortgegaan. “Toe ek nog studeer het, het sy lampkappe oorgetrek. Lelike lampkappe. Nou’s dit poppe. Die hele huis lê vol kaal skedeltjies en pruike. Laaie vol handjies en voetjies.” “Maak sy dit self?” Hy het ongelukkig gelyk. “Gelukkig het ons nie kinders nie.” “Dit verklaar die poppe,” het ek slim gesê. “Sy was ’n pasiënt van my,” het hy bygevoeg. “Sy’t vir my gevra waarheen gaan die speeksel.” “Watter speeksel?” “Wat ek uit haar mond suig. Sy het gedink dit word opgegaar in ’n pot en moet deur my assistent leeggemaak word.” Ek het hoendervleis gekry en oor my arm gevryf. “Wat ’n afskuwelike gedagte!”
“Maar oorspronklik.” “Miskien.” “Nou’t ons niks meer vir mekaar te sê nie.” Die res van die pad het ek gesit en dink oor die huwelik en gewonder waarom die bevolking van die wêreld so ’n behoefte het om twee-twee af te paar. Elsa en Hannes het mekaar “Mammie” en “Pappie” genoem en teen Hannes se agterkop het die vel begin deurskyn. Paula het meer aandag aan haar trourok gegee as aan haar aanstaande. Johanna was bang vir “darie ding” en Ma en Pa het in gemoedelike onbegrip saamgeleef. Die familie het Kara begin aanhits om tot trou te kom met opmerkings soos: “Ons word geeneen jonger nie,” of “Jy kan nie dat jou klein sussie jou voorspring nie.” En dokter Anders se vrou het gepraat met ’n mond vol gesigroom. Ek was bly toe ons by die hospitaal kom en aan die werk kon spring. Die tandelose mevrou Rademeyer se man het langs haar bed gestaan en wroeg terwyl ons die rubberpap aanmaak om die afdruk te neem. “Ek hoop die assuransie gaan betaal,” het sy gemompel en haar lippe styf op mekaar gehou. “Hulle sal vir die motor betaal, my hart,” het hy gesê. “Ha!” Vir ’n oomblik het ons haar tandvleis gesien. “Wie gee om vir ’n gebreekte voorruit?” “Daarsonder kan jy nie ry nie,” het hy miserabel gesê. Ek kon sien wie sy voorkeur geniet. “Sonder tande kan ek nie leef nie,” het sy gesê voor ons die vorm ingeskuif en haar kake op mekaar geklamp het. “Het u vrou haar veiligheidsgordel vas gehad?” het ek die man gevra terwyl ons wag vir die rubber om hard te word. “H’m,” het sy kwaad probeer praat en haar oë heen en weer gerol. “Nee,” het haar man vertaal.
“Dit sou die skade voorkom het,” het dokter Anders gesê. “Die voorruit kon nog heel gewees het,” het haar man saamgestem. Die vrou was gelukkig gewees, het ek gevoel. Haar oë was potblou geswel en daar was twee snye wat met gaasdoek toegemaak was, maar andersins was sy eintlik ongeskend. Behalwe nou die tande, natuurlik. “Meneer Rademeyer is meer gekwel oor sy voorruit as sy vrou se voortande,” het ek opgemerk toe ons terugry na die spreekkamer. Dokter Anders het sy skouers opgehaal. “Hy was baie erg oor sy motor.” “En tog noem hy haar ‘my hart’,” het ek volgehou. “As sy sy hart is, is sy die belangrikste orgaan.” “Iris, Iris,” het hy gemaan. “Jy neem die lewe te letterlik op.”
Eduard het uit sy stoel opgespring toe Greta in die deur van die badkamer verskyn en haar aankondiging doen. “Dink jy regtig so?” het hy gevra en Paul tot in die verste duisternis verwens. “Ek is bevrees so.” Hy het sy motorsleutels van die koffietafel opgetel. “Ek sal jou hospitaal toe neem.” Greta het die koffiemasjien afgeskakel en die vensters toegemaak. (Dit moet ook nie inreën terwyl sy weg is nie.) Eduard het haar tas opgetel en die deur oopgehou. (Hulle het nie vervaard rondgehol soos Elsa en Hannes nie.) In die motor het sy op haar asemhaling gekonsentreer en so deeglik en diep gehyg dat sy begin bleek word het. “Ek is bang,” het sy erken. “Dis nie meer ’n abstraksie nie. Dis seer.” Hy het nie geantwoord nie. Hy het wel ’n vae plan gehad om haar weer te probeer sien, maar om betrokke te wees by die geboorte van sy broer se kind was
nie deel daarvan nie. “Hoekom het julle so lank gewag?” het die suster by die kraamafdeling met hulle geraas. Sy het Eduard weggedu. “U kan die toelatingsvorms gaan invul, meneer, u vrou is in goeie hande.” “Sy is nie . . .” het hy begin, maar is in die rede geval deur die kwaai suster. “Sy is, meneer, sy is. Laat my toe om daaroor te oordeel.” Greta het haar handsak in Eduard se hande gedruk. “Die vorms . . . dis alles daar,” het sy gehyg en haar bene probeer optrek tot teen haar bors. Met haar handsak is hy terug na die ontvangslokaal. Die klerk het goedig gewag terwyl hy soek na die vorm waarna Greta verwys het, maar toe hy dit kry, was al die nodige inligting soos volle name, identiteitsnommer en so meer, beskikbaar. “Het u ’n kredietkaart?” het sy gevra toe alles neergeskryf is. “Ons maak ’n afdruk en wanneer u vrou die hospitaal verlaat, vul ons die juiste bedrag in en kan u u kwitansie kry sodat u weer op u beurt van u mediese fonds kan terugeis.” (Dis wat ek bedoel met besonderhede. Ek het niks oor die hoof gesien nie.) “Ja, natuurlik,” het hy gesê. Toe alles afgehandel was, het hy verlore rondgestaan. Om koelbloedig om te draai en huis toe te ry, het verkeerd gevoel. Buitendien het hy nog Greta se handsak by hom gehad en sy kon dit later nodig kry. “Tweede verdieping, links,” het die klerk vriendelik gesê. “Teen dié tyd is hulle reg vir u.” Eduard het opgegee en met die hyser boontoe gery. ’n Ander verpleegster het hom gevra wie hy soek en toe hy Greta se naam sê, is hy summier in ’n teaterjas gevou en deur ’n glasdeur gestoot waar hy haar onder skerp ligte sien lê het, gedrapeer in groen steriele doeke. (Of hulle dit regtig gedoen het, het ek nie geweet nie en Elsa het ook nie gesê nie, maar ordentlikheidshalwe het ek dit maar bygevoeg.) Dit het dadelik geblyk dat haar rugpyn deur die dag die aanloop van die geboorte was en dat hy haar net betyds by die hospitaal gekry het. Haar oë was baie groot toe sy hom beteuterd in die deur sien staan. “Nee . . .” het sy begin praat, maar die volgende kontraksie het haar woorde in ’n gil verander.
Hy het by haar kop gaan staan en sy hand uitgehou toe sy na hom gryp. Vir verduidelikings was daar nie tyd nie. Die dokter en suster het simpatiek maar ferm bevele gegee en dit was onmoontlik om almal se aandag te kry en hulle in kennis te stel dat hy nóg eggenoot nóg vader was en eintlik by sy eie huis sou wou wees. Minute later het die dokter aangekondig dat dit ’n seun was. Greta se mooi oë het vol trane geword. “Het jy gehoor?” het sy gevra en die nat bondeltjie teen haar gesig gedruk. Hy het net geknik, te oorweldig deur die oomblik om iets te sê. Toe hy later huis toe ry, was hy verstom om op sy horlosie te sien dat dit byna middernag was. Dit het vir hom gevoel asof die hele drama nie langer as tien of twaalf minute geduur het nie. Sy ritme was versteur; sy normale koel, berekende gedagtegang was chaoties en onsamehangend. Hy was vyf en veertig jaar oud en nooit getroud nie. Hy was ’n terughoudende mens, bang om betrokke te raak, meer tuis met syfers as met mense. Hy het teësinnig by ’n meisie ingeloop met geen ander doel as om ’n embarrasserende situasie so gou moontlik afgehandel te kry nie. In plaas daarvan het hy intiemer betrokke geraak by haar lewe as by sy beste vriend s’n. By sy huis aangekom, het hy reguit na die telefoon geloop en Paul se nommer geskakel. “Ja . . .?” het Paul gesê. “Het jy al geslaap?” “Nie eintlik nie . . .” (Sy liefdeslewe het ooreenkomste getoon met Peter s’n, seker dié dat hy so simpatiek was.) “Ek wou jou net vertel dat ek Greta gaan spreek het.” “Greta?” het Paul gevra. “Nie juffrou Knowles nie?” Sy stem was vol stoute insinuasies. “Ek moes haar hospitaal toe neem en het by haar gebly tydens die geboorte. Dis waar ek nou vandaan kom. Dis ’n seun.”
Daar was ’n lang stilte en toe ’n tikgeluid. “Hallo?” het Eduard geroep. “Kan jy herhaal wat jy nou net gesê het?” het Paul gevra. Sy stem het nou wakker geklink. “Jy’t my gehoor.” “Jy was by?” “Ek het geen keuse gehad nie.” Nog ’n lang stilte. “Wel . . .” het Paul gesê. “Veels geluk.” “Ek praat weer môre met jou,” het Eduard gesê, die gehoorstuk neergegooi en soos ’n dooie in die bed geval.
En toe, op ’n dag, net so, uit die blou lug (by wyse van spreke – in werklikheid het dit gelyk na reën) was Peter weer daar. Dit was my etensuur en vir ’n wonder het ek gevoel na rondloop, miskien omdat die wolke ’n sekere beweeglikheid aangemoedig het ná ’n baie warm paar weke. Hy het op die marmerrand van die binnenshuise plantbak gesit, so ’n paar meter van die hysbakdeur af. Ek het hom eerste gesien en ’n paar sekondes net na hom gestaan en kyk. Hy het donkerder gelyk. En hariger. Sy kop was vantevore ook donker, maar het ’n verbleikte skynsel gehad, seker as gevolg van die son. Nou was dit swart en nogal lank in sy nek. Ten spyte van die koeler weer het hy ’n donkerblou oopnekhemp aangehad en sy borshare het teen sy nekkuiltjie uitgekruip. (Wyle Peter van Greta was blond.) Hy het opgekyk, sy oë ’n slag geknip en opgestaan. “Iris,” het hy gesê. “Middag.” Ek het om my rondgekyk na die bewegende mense wat deur die winkelkompleks gestroom het. “Wag jy vir iemand?” “Nee.” Hy het ’n skouersak by hom gehad, die soort met ’n lugredery se naam en leuse daarop. “Waarheen is jy op pad?”
“Nêrens. Dis etenstyd, maar . . .” Hy het my aan die elmboog gevat en saam met hom geneem na die Italiaanse restaurant net ’n ent verder. Die helfte van die tafels was binne en die res buite in ’n afgekampte gedeelte wat versier was met plastiekklimranke. “Ek wil nie buite sit nie,” het ek gesê. “Die mense kyk wat ek eet as ek hier sit.” Binne het ons in die hoek gaan sit. Dit was leeg; die ander eters het kennelik nie omgegee om na gestaar te word nie en het die buitenste tafeltjies vol gesit. “Wat het van Amerika geword?” het ek gevra. “Dis nog daar.” “En jy?” “Ek is drie weke hier.” “O.” Ek het die spyskaart bekyk. Twintig soorte pizzas, die standaardversameling pastageregte en omelette. “Hoekom?” “My ouers word oud.” Die kelner het ’n mandjie broodhompe voor ons neergesit en ek het aan een begin krummel. “Wanneer het jy aangekom?” “Vanoggend vroeg.” Hy het sy spyskaart opgetel. “Wat wil jy eet?” “’n Omelet en ’n slaai.” “Nie iets groters nie?” “Nee. Die pap was vanoggend verbrand en ek is lus vir eier.” Hy het ons bestelling vir die kelner gegee en gesê hy moet gou maak met die wyn, ons is dors. “Waarom was die pap verbrand?” het hy gevra toe ons elkeen met ’n glas koue wit wyn sit. “Johanna het dit begin, maar toe het Elsa haar kom oplaai en moes my ma verder kyk. Dié.”
Hy het geknik en ook ’n stuk brood gevat. Ek het gekyk hoe netjies hy sy blokkie botter uit die silwer papier dop. “Wil jy nie saam met my terugkom nie?” het hy skielik gevra. “Na jou ouers?” “Nee. Na Amerika.” “Ek werk dan.” “Kan jy nie verlof kry nie?” “Ek weet nie. Ek kan seker.” Hy het buierig aan sy brood gekou, ’n diep keep tussen sy wenkbroue. “Is daar ’n man wat sal omgee?” Ek het nie geweet wat hy bedoel nie. “My pa, praat jy van my pa? Hy sal nie omgee nie. Dokter Anders sal seker. Hy kan nie sonder my regkom nie.” “Jissis, Iris, jy weet wat ek bedoel!” Ek het gewens hy het nog sy woonstel gehad, want as hy my toe gevra het, het ek weer saamgegaan. “Ek dag dan jy het van my vergeet?” het ek gevra. “Dis wat jy op jou poskaart geskryf het.” “Is daar ’n ander man of nie?” het hy kwaad gevra. “Ek weet nie wat jy met ‘ander ’ bedoel nie,” het ek kalm gesê. “Dit impliseer daar is of was ’n spesifieke een om mee te begin.” “Ja,” het hy gesê. “Ek.” “Dit was ’n jaar gelede en toe het ek jou maar twee keer gesien.” “Moenie hare kloof nie. Het jy ’n kêrel?” “Nee.” “Hoekom nie?”
Ek het my hande plat op die tafelblad neergesit. “Wie is nou onlogies? Ek het nie een nie omdat ek nie een wil hê nie.” “Sit jy die afgelope jaar by die huis? Elke liewe aand?” “Sit jy?” het ek teruggekap. Hy het oor die geblokte tafelkleedjie geleun, my aan my skouers opgelig en my gesoen. Hard, so hard dat ek my voortande in my bolip kon voel sny. Toe hy my los, het ons albei te vinnig asem gehaal en ek het verby sy kop gesien hoe die eienaar – die enigste ding in die restaurant wat werklik Italiaans was – ons goedkeurend aankyk. Hy het byna trots gelyk, asof hierdie soort ongebreidelde ie ’n diens was wat hy spesiaal aanbied aan uitverkore klante. Die ander eters het bloot geamuseerd gelyk. Gelukkig het die kelner ons kos gebring. “Sê my net een ding,” het Peter gevra toe ons weer alleen was. “Waarom, waarom het jy daardie aand saam met my gegaan?” “Dis moeilik om te verduidelik,” het ek gesê. “’n Karakter in een van my stories se naam is Peter en toe jy . . .” “Storie? Watse storie? Skryf jy stories?” “Nee. Ek dink hulle uit.” Hy het deur sy hare gevee sodat hulle regop gespring het om die twee kroontjies. “En ek is deel van so ’n versinsel?” “Nee.” Ek het begin eet. “Dis juis my punt, jy is nie.” Hy het sy vurk in sy pasta begin draai. “En as ek jou nou weer sou vra?” “Ek sal weer saamgaan. Maar jy het nie meer jou woonstel nie. Paula het my vertel.” Hy het sy vurk neergesit en die kelner nader gewink. “’n Vriend het syne vir my geleen terwyl ek in die stad is. Het jy ’n motor?” Ek het my baadjie en handsak opgetel en agter hom aangeloop.
Dokter Anders was bly toe Peter terug is na Amerika. Hy het nie van Peter geweet nie, maar my gedrag, lang etensure en swak konsentrasie het wel tot hom deurgedring. Die pasiënte het ook gekla. “Waar is die engel wat altyd my hand vashou?” het ou meneer Bruwer vir hom gevra toe ek weer laat was. “Hy noem jou ’n engel,” het dokter Anders gegrom toe ek uiteindelik opdaag. “Dis omdat hy benoud word wanneer jy so in sy mond grou,” het ek verduidelik. “Hy sê dit voel asof sy lugpyp verstop word en hy’s altyd bang een van die watterolletjies glip weg en verstop dit regtig. Ek moedig hom aan om sy neus te gebruik. Om te dink aan vars lug.” “Wat ook al,” het hy gesê. “Ek wens die laatkommery wil nou end kry.” “Dit sal,” het ek gesê. “Dis klaar verby.”
My ouma (Ma se ma) het in engele geglo. Nie net die soort waarvan ’n mens in die Bybel lees en wat gewoonlik in kore gesing het nie, maar die soort wat van tyd tot tyd op aarde kom kuier en met sekere mense gesels. Sy was in die hospitaal toe die Engel haar die eerste keer besoek het. Van die skrik het sy een van die pypies losgeruk sodat die vloeistof op haar beddeken gedrup het. Sy het die storie dikwels vir my vertel. Net vir my. Elsa en Kara en Ma sou nie verstaan nie, het sy gesê. Hoe die pypie wind gesluk het en hoe bang sy was die verpleegster kom in en raas met haar. “Maar wat het die Engel vir Ouma gesê?” het ek altyd gevra. “‘Dis goed,’ het die Engel gesê.” “Net dit?” “Net dit. Ek wou my hand uitsteek en aan hom raak, maar hy was dun, die bak blomme wat jou ma-hulle gestuur het, het klaar deur sy klere geskyn. Terwyl ek
na hom gekyk het, het die tierlelies deur sy rok gewys. Toe was hy weg.” Dit was ’n wonderlike storie. “Hoe het Ouma geweet hy is ’n man?” Ek het engele altyd as vroulik ervaar, mooi meisies met lang golwende hare. Soos Kara. Kara was jaar na jaar die hoofengel in die skoolkonsert. “Sy gesig, sy gesig. Hy was ’n man.” “Het Ouma nooit vir iemand anders vertel nie?” “Nee!” het sy ontsteld gesê. “Ons is Gereformeerd, ons glo nie aan geeste nie.” “En tog het Ouma hom gesien.” “Maar hy was nie ’n gees nie. Nie ’n spook soos ’n mens van lees nie.” Jare daarna (want sy het gesond geword, die uitgerukte pypie ten spyt) het sy bly bid dat hy moet terugkom. “Stuur vir my ’n wonderwerk,” het sy gevra. Ek het gedink dis die mooiste gebed wat ek nog ooit gehoor het. “Toe ek klein was,” het sy vertel, “het ek die woord vir die eerste keer gehoor. Dit was so verskriklik warm en dag na dag het die oes verder verskroei. Jou oupa- en oumagrootjie se gesigte het verval van die kwelling. Toe sê die dominee net ’n wonderwerk kan hulle nou nog red.” “En het dit?” “Nee.” Sy het voor haar in die niet gesit en kyk asof sy die vervalle gesigte en verbrande oeste nog voor haar kan sien. “Nee, maar toe het ek geweet wat ’n wonderwerk is.”
Ek het die storie vir dokter Anders vertel terwyl ons gewerk het aan mevrou Buys wat doof is. Sy het altyd haar gehoorapparaat afgehaal omdat die geluid van die elektriese boor onhoudbaar was. Ek dink sy kon wel ons lippe lees, want sy het ’n keer of twee kwaai gefrons en met groter konsentrasie na my gekyk. “Dis stront,” het dokter Anders gesê.
Hy was baie kortgebonde sedert sy egskeiding. “My ouma het dit geglo.” “Mense glo snaakse goed. Ou meneer Bruwer het geglo sy brein word beskadig toe ek sy kiestand uittrek. Hy dag die wortels loop tot in die brein.” “My ma het geglo babas word deur ’n mens se naeltjie gebore. Sy het dit geglo tot sy getroud is.” “Dit wys jou net hoe jou ouma gefaal het,” het hy gesê en die vysel met amalgaam by my gevat. “Pleks dat sy minder met die Engel gefoeter het en jou ma die feite van die lewe vertel het.” Mevrou Buys het haar oë gepynig toegemaak.
Alhoewel dokter Anders reeds wettiglik geskei was, het dit nie sy vrou verhoed om hom te kom spreek nie. In ’n professionele hoedanigheid. As eggenoot het hy te kort geskiet, maar haar tande het sy aan niemand anders toevertrou nie. Niemand kon ’n wortelkanaal so pynloos behandel soos hy nie, het sy my vertel. Sy was ’n mooi vrou in haar middeljare, ’n kop langer as haar man, en ’n geselser. Terwyl sy in die wagkamer gesit het, het sy die tydskrifte in netjiese hope gepak, die potplante se blare met ’n sakdoek skoongevee en met my gesels as ek daar verbygeloop het. “Ek het gister bang geword,” het sy vertel. “Toe ek oor die wasbak gebuk staan, het ek myself meteens voel versink in tandelose bejaardheid. Ek kon dit voel. My bene het hulle vet en spiere verloor, spatare het in die wit vel om my enkels uitgebult. Ek was skielik alleen op die wêreld.” “Ja?” het ek gesê en bly staan. Ek het altyd tyd gehad om na mense se fantasieë te luister. “Ek was alleen op die wêreld, almal het van my vergeet en hulle eie selfsugtige lewe gelei. Die woonstel was al wat ek gehad het. Ek het heen en weer geslof op my uitgetrapte pantoffels om my oorblywende besittinkies skoon te hou. Dit was ’n droewe tafereel.”
“Inderdaad,” het ek saamgestem. “Dis waarom ek vanoggend hier is. ’n Mens mag nie jou tande verwaarloos nie.” “Dis wat u man altyd sê.” “Hy’s nie meer my man nie.” “Nee.” Ek het my verskoon om haar gewese man te gaan help. Dit klink miskien asof ek alles gedoen het en dis nie heeltemal korrek nie. Daar was ’n ander meisie, Dina, wat veronderstel was om die ontvangstoonbank en telefoon te beman, maar sy was selde daar. Hoe minder hulp ek van haar gekry het, hoe vinniger het ek leer werk sodat ek ons albei se take kon afhandel sonder om die een of die ander af te skeep. “Wie’s volgende?” het dokter Anders my gevra toe ek weer langs hom staan. “Jou vrou.” “Wat wil sy hê?” Hy was besig om sy spierwit hande te skrop. “Sy gaan deur ’n krisis.” “Stuur haar in,” het hy gesug. “Sy kan ten minste nie praat terwyl ek die boor in haar mond het nie.” Hy was verkeerd. Haar tande was in ’n uitstekende toestand en die boor was nooit nodig nie. Sy kon praat en waaroor sy gepraat het, was sy huidige lewenstyl. Ek het met groot belangstelling geluister, want soos baie ander pasiënte het sy geglo ek bestaan nie of indien ek wel bestaan, dat ek doof was. ’n Tandarts moes dikwels diens doen as psigiater en wanneer dit gebeur het, het ek verdwyn. Nie fisiek nie, maar in die oë van die pasiënt. “Ek hoor by Ans-hulle dat jy by elke geleentheid opdaag met ’n ander meisie aan die arm,” het mevrou Anders gesê. Hy het gegrinnik en begin krap aan haar plaak. “Ek het geweet mans gaan deur so ’n stadium, maar ek het dit nooit van jou
verwag nie.” Ek het op my hoë stoeltjie gaan sit en my baas met nuwe oë bestudeer. Hy was seker aantreklik as ’n mens gehou het van korter, bleswordende mans in hulle middeljare. “Ek veronderstel jy sleep hulle almal saam na jou nuwe woonstel wat ek nog nie eens gesien het nie,” het sy voortgegaan toe haar tong ’n pad tussen sy vingers kon kry. “Soms,” het hy toegegee. “Dis vieslik,” het sy gesê en my raakgesien toe ek vorentoe beweeg om ’n instrument aan te gee. “Iris. Vind jy dit nie vieslik nie?” “Nee, mevrou.” “Ek veronderstel jy was ook al daar?” “Nee, mevrou.” Sy moes ’n paar sekondes stilbly terwyl hy aan ’n kiestand gekrap het. “Jy kan ook nie oordeel nie,” het sy toe gesug en toegelaat dat ek haar mond uitspoel en leegsuig. “Jy’s te jonk en julle sedes is anders.” Sy het haar tong tussen haar lip en tandvleis deur getrek om te voel of haar tande skoon genoeg was. “Jy moet vir jou ook ’n kêrel kry, Dora,” het dokter Anders voorgestel en sy hande vir die hoeveelste keer gewas. “Ek?” het sy gekreet. “Iris. Hoor jy dit? Waar moet ek op my ouderdom ’n kêrel kry?” “Hou op om vir Iris te vra,” het hy gesê. “Sy stel nie in mans belang nie.” “Hoe weet jy dit? Iris, hoe weet hy dit?” “Hy raai maar, mevrou.” Sy het opgestaan en haar rok reggetrek. Ek het nader gestaan en die borslap
losgemaak. “Dis bitter,” het sy gesê. “’n Vrou van my ouderdom wat alleen is.” “Dis jy wat wou skei, Dora,” het hy gesê terwyl hy haar kaart ingevul het. “Ek sien jou weer oor ses maande. Pas jou tande op, jy kan nog baie jare plesier uit hulle kry. Wie’s volgende, Iris?”
Lank voor Eduard en Greta uitvind hulle is lief vir mekaar, was ek moeg vir hulle. Die besoeke aan die hospitaal, die besluit oor ’n naam vir die kind (hy kry die familienaam wat nog ’n kraak maak in Eduard se verweer) en die ontplooiing van Eduard se gevoel vir Greta het my lank besig gehou, maar teen die tyd dat hy haar vra om met hom te trou sodat hulle saam vir die erfgenaam ’n tuiste kan bied, was ek uitgekuier met hulle en hulle baba. Ek kon Eduard nie meer duidelik sien nie en het die hele storie uitgegooi en begin rondtas na ’n nuwe een. Elsa in die hospitaal, rosig ná die geboorte van Johan, voldaan en selfversekerd in haar nuwe rol as Die Moeder, was die saad waaruit die storie ontkiem het, maar teen die tyd dat die kind twee jaar oud was, kon ek min romanse in die situasie sien. Dat die kleintjie oulik was, het ek nie betwyfel nie, maar dat hy ’n handvol was wat gelei het tot ergerlikheid en ’n rondskuif van verantwoordelikheid, was ewe waar. Ek kon eenvoudig nie sien hoe Eduard en Greta sielvol in mekaar se oë kon kyk terwyl hulle kind die antieke Venesiese glas van die tafel trek of op Greta se skouer opbring omdat hy te veel en te vinnig geëet het nie. Boonop het Kara weer ons vreedsame gesinslewe deurmekaargemaak. Ek was vier en twintig jaar oud en sy dus dertig toe sy weer van ’n oorsese reis terugkom en aankondig dat sy die man van haar drome ontmoet het. “Hoog tyd,” het Johanna gesê. “Sy was aan die uitdroë.” Ma, en veral Pa, was skepties. “’n Buitelander?” het Pa gevra. “Wat is verkeerd met ons eie mans?” “Sal ons met hom kan praat?” het Ma gevra.
Sy en Hannes het mekaar ontdek toe hy en Elsa ’n huis gekoop het. Dit was ’n nuwe huis, gebou soos ’n trein, met ’n lang gang en al die kompartemente aan die een kant. Die huis het Ma koud gelaat, maar Hannes het haar raad gevra in verband met die bar tuin en dis daar waar hulle mekaar gevind het. Aanvanklik het net bourommel en ’n paar opslagmadeliefies op die erf gegroei, maar terwyl Elsa boeke nagesien en Johan die telefoongids verskeur het, het Ma en Hannes die tuin beplant. Haar kennis van plantname was ewe vaag as haar kennis van die meeste goed, maar sy kon goed verduidelik. “Hier het jy daardie bos met die pienk trosse nodig,” sou sy sê. “Dit groei by ons langs die lukwartboom. Hy’s nie lief vir te veel son nie.” Aangesien die tuin net son gekry het, het sy betaal en ’n firma gekry om ’n vragmotor vol opgeskote boompies te kom aflewer. Kara het net geglimlag oor al die vrae. Sy het ’n nuwe glans gehad asof iemand haar, soos Johanna se Kersfeeseend, versigtig met heuning en suurlemoensap bedruip het. “Julle sal hom sien,” het sy gesê. “Hy kom in die somervakansie kuier.” “Dan’s ons by die see,” het Ma gesê. “Sy somervakansie.” Ma het ontsteld gelyk. “Dan is dit so lelik hier by ons.” “Hy kom nie na die tuin kyk nie, hy kom by my kuier,” het Kara gesê. Al wat ons verder van hom geweet het, was dat hy van Martinique afkomstig was, Franssprekend was, maar darem op ’n manier Engels kon praat. “Dit gaan lol,” het Pa gesug en Ma gehelp soek in my ou skoolatlas. Hulle het Martinique gekry, maar nie veel wyser geword nie. Gelukkig was hy bloot daar gebore en het hy nou in Frankryk gewoon waar hy ’n lektor was by ’n klein kollege. Die dag voor hy aangekom het, was ek en Ma besig om die gastekamer reg te kry. Hy sou by ons moes bly omdat Kara se woonstel te klein was. Dit was ná werk en sy het gou by ons aangery om te sien of alles onder beheer was. Haar oë
het geblink soos kerse en ek het my voorkeure geskommel en besluit sy is tog mooier as Elsa. Later het ons om die verwarmer in die sitkamer gesit en koffie drink. Kara het die kleur van haar koffie bestudeer en nog ’n bietjie melk bygegooi. “Ek wil nou nie hê julle moet môre julle tonge insluk nie,” het sy gesê. “Claude is nie wit nie.” “Hoe bedoel jy, darling?” het Ma gevra. “Hy’s nie wit nie. Dis al.” Pa het gefrons. “Wat is hy dan, swart?” Kara het haar koppie gelig en skuins gehou. Omdat sy nog niks gedrink het nie, het die meeste uitgestort in die piering. “Nee, só. Soos my koffie.” Daar was ’n paar sekondes stilte. “Weet hy van apartheid, darling?” het Ma eindelik gevra. (Dit het my verras; ek het nie geweet sy weet daarvan nie.) Kara het gegiggel, ’n vreemde geluid in die stilte. “O ja, maar toe hy hoor waar ons woon, was hy gerusgestel. Hy het gedink apartheid is ’n stad.” Ek het my verskoon en kombuis toe gegaan. Johanna het voor die stoof gestaan en roer aan haar boontjiesop. “Wag tot jy dit hoor,” het ek vir haar gesê. “Kara se kêrel is bruin.” Johanna het onverstoord aangehou roer. “Ek dag julle loop en vertel hy’s ’n Frenchie.” “Hy is.” Sy het ’n skielike kekkellaggie gegee, die lepel neergesit en haar arms gevou oor haar maag. “Dan sal ek hom mos verstaan.” “Nee, jy sal nie. Hy praat eintlik net Frans.” “En hy lyk soos ek?”
Ek het haar velkleur probeer vergelyk met Kara se koffie. “Min of meer, ja. Soos ek dit verstaan.” Sy het teruggedraai na die stoof. “Miskien is hy familie.” “Nee.” So maklik het ek nie dat sy vir Claude opeis nie. “Hy kom van ver af.” “My oupa was ’n seevaarder,” het sy my herinner asof ek dit al ooit vergeet het. “Maar hy kon wragtig nie op elke kontinent of obskure klein eilandjie kinders gemaak het nie!” “Ek sal weet as ek hom sien,” het sy kripties gesê. “Sal ek nou vir die klong koffie in die bed moet aandra?” “Johanna! Hy’s nie ’n klong nie en jy’s ’n rassis.” Sy het haar heupe wulps geswaai. “Maar ’n mooi een.” Toe het sy begin lag dat haar hele lyf geskud het. As Kara gedink het Claude se aankoms, teenwoordigheid of velkleur gaan ’n rimpeling veroorsaak, het sy dit mis gehad. Vanaf die oomblik dat hy oor ons drumpel getree het, het hy ons in die olyfkleurige palm van sy elegante, skraal hand gehad. Hy het ons hande gelig tot ongeveer een sentimeter van sy lippe en “Enchanté” geprewel. Ek kon Ma se knieë hoor swik en ek self het besef Eduard was meer as net ’n fiktiewe maaksel. Pa het min gesê, maar sy stilte was nie vyandig nie. Johanna het klong uit haar woordeskat geskrap. Ek dink Ma en Claude het so goed klaargekom omdat hulle ’n eenderse uitkyk op die lewe gehad het. Sy was geen Pollyanna nie; sy het nie blindelings en teen alle bewyse in geglo dat die wêreld ’n goeie plek is en mense almal edel van inbors nie; dit was bloot dat sy die lewe vir haarself vereenvoudig het. Wat sy nie kon begryp of verander nie, het nie bestaan nie. Moordenaars en psigopate was oor dieselfde kam geskeer as verspotte wette en regulasies en het in die wêreld, soos sy dit ervaar het, geen bestaansreg gehad nie. Toe ek nog op skool was, het Pa een wintervakansie gaan jag en was ons alleen. Ma het in die middel van die nag wakker geword van ’n geluid in die sitkamer en toe sy daar kom, was ’n inbreker besig om die platespeler te diskonnekteer.
“Nee, nee,” het sy gesê. “As jy dit doen, sal dit nie meer speel nie. My dogters sal baie omgekrap wees.” Onder haar besorgde oë het hy die drade teruggesit waar dit moes wees, sy leë tas opgetel en geloop. Ma en die stertkwispelende Polder, toe nog ’n jong hond, het saamgestap en die hekkie agter hom toegemaak. Toe ek in die sitkamer kom, wakker gemaak deur die ongewone gedruis van stemme, was sy besig om vir Polder ’n lesing te gee. “Dat mag niet,” het sy vir hom gesê en na die deur gewys wat deur die inbreker oopgebreek is. Die slot het slap eenkant toe gehang en die hout was versplinter. Polder het intelligent na haar gekyk en haar hand gelek. “Hij was een boef,” het sy voortgegaan. “Doe so: woef, woef!” Polder het instemmend geblaf en na my gedraf om my kaal tone by te kom. Pa was minder tegemoetkomend toe hy terugkom en die storie hoor. Hy het beter slotte laat insit en sy bonusgeld bestee aan ’n gesofistikeerde alarmstelsel wat Ma so dikwels per abuis laat afgaan het dat die polisie ons as ’n gesin met ’n hoë irritasiewaarde aangestip het. Maar ek dwaal af. Johanna het ook voor Claude geswik en Ma gevra om ’n Franse kookboek te koop sodat sy vir die man beter kos kan maak. Sy het ook teenoor my erken dat sy nie dink hy is familie nie. “My mense is ronder van gesig,” het sy gesê. “En korter in die lyf.” Elsa en Hannes was die enigste wat nie meegesleur was nie al het Claude sjarmant deur die tuin gestap met klein Johan aan die hand. “Dit kan nooit werk nie,” het Elsa verklaar. “Die kultuurverskil is te groot.” “Nie regtig nie,” het ek gesê. “Sy vak is kunsgeskiedenis en dis hulle al twee se ie.” “Dis nie wat ek bedoel nie,” het sy kortaf gesê.
“Hulle kan skaars met mekaar konverseer,” het Hannes gesê. (Hy het gehou van woorde soos konverseer, al het dit die res van ons hoendervleis gegee.) “Kara ken twee woorde Frans en hy drie woorde Engels.” “Die liefde ken geen taal nie,” het ek teatraal aangehaal. “Bly stil, Iris,” het Elsa gesnou. “Jy is te jonk om saam te praat.” “Hulle geniet mekaar,” was Ma se kalm siening. “Niemand het nog van trou gepraat nie.” Pa het onthuts opgekyk. “Trou!” “Waar sal hulle bly?” wou Elsa weet. Sy het haar mooi hare korter geknip en dit het haar strenger laat lyk. Ek en Ma het gaan tee maak. Daar was tye dat ons Elsa ’n handvol gevind het.
Claude en Kara het hulle aan niemand gesteur nie. Ek het een middag gesit en kyk hoe ’n stringetjie miere teen Claude se skoen en broekspyp opmarsjeer, op pad na die konfytkrummels van Johanna se tert. Ek het na my eie been geklap en Claude se aandag gekry, maar hy het net vir my geglimlag en voortgegaan met blaai deur ons fotoalbum. Kara as sesjarige, in vlegsels en boepmagie, was vir hom belangriker. Hy het die hooigetrapte, wit gerypte grasperk misgekyk en ekstaties geraak oor die vurige blomme van die koraalboom. Hy het saam met ons om die verwarmer gesit saans en ons vertel van die klein vulkaniese eilandjie waar hy gebore is en waar sy familie ’n suikerplaas gehad het. Sy ouma, ’n formidabele matriarg wat as bruid uit Frankryk gekom het, het die plaas en haar vier seuns met ’n ysterhand regeer. Sy wou bruide uit haar vaderland invoer, maar het skouerophalend geswig toe hulle by die huis kom met boorlinge van die eiland. Claude het ’n swart broer gehad en ’n wit suster en alhoewel sy ouma bytende opmerkings kon maak oor die gemengde bloed van haar bure, het sy haar eie kleinkinders se velkleur nooit raakgesien nie. “Ons moet Elsa soontoe stuur,” het Kara tersyde opgemerk en verder geluister na sy stories van mahoniebome en reënwoude en varings so groot soos ’n man. Of daar miere buite ons tuinmure was wat wel tot Claude se vel deurgedring het,
het ek nooit gehoor nie. Hy het vir Ma ’n geborduurde tafelkleed gegee en ons verseker dit was ’n onvergeetlike vakansie. Kara was baie stil ná sy vertrek. “Jy moet met hom trou,” het ek vir haar gesê. “Pak jou goed en vlieg agter hom aan.” “Hy’t my nog nie gevra nie,” het sy gesug. Maar haar beurt op die verhoog was verby. ’n Ander speler het vorentoe getree en ons aandag opgeëis. Pa. Hy sou aan die einde van daardie jaar aftree en ons het almal aangeneem hy sal by die huis bly en dikwelser gholf speel. Ons was verkeerd. “Ek gaan boer,” het hy aangekondig. “Boer?” het Ma geprewel. Pa het jare gelede ’n aandeel in ’n wildsplaas gekoop sodat hy nie hoef rond te val vir ’n plek om te gaan jag nie. Nou het hy ons kort en kragtig vertel dat hy sy vennote uitgekoop het en van plan was om met beeste te boer. “Wat van ’n huis?” het Ma gevra en om haar rondgekyk na haar geliefde besittings. “Ons kan in die rondawels bly en aanbou.” “Goggas,” het Ma gesê. “Hulle val uit die dak.” Sy was net een vakansie saam met hom gewees, daarna het sy by die huis gebly. “Mens het ’n geweer nodig as jy na die kleinhuisie loop.” “Ons sal ’n badkamer bou.” “Die leeus sal Polder opeet,” het sy aan nog iets gedink. “Die seekoeie sal hom vertrap.” Polder het sy naam gehoor en opgekyk na ons. “Wat is ’n seekoei in Nederlands?” het Ma haar tot my gewend. “’n Nijlpaard.”
“Sien jy kans vir nijlpaarden, Polder?” het sy hom gevra. Hy het gegrom en na die voordeur gedraf. “Ek gee nie om wat julle sê nie,” het Pa beslis. “In Desember trek ek bosveld toe. Dié wat wil bly, kan bly.” Ma het gebly.

HOOFSTUK TWEE
Die twee jaar ná Pa afgetree en vertrek het, was vol wendinge. Dokter Anders is deur sy klimakterium en het sy praktyk drie maande lank in die bekwame hande van ’n jong tandarts genaamd Frederik gelaat terwyl hy om die Turkse kus geseil het. Hy was nie alleen nie; die seiljag het behoort aan ’n ryk, geskeide vrou van onbepaalde ouderdom. Sy was nie die aantrekkingskrag nie, maar sy het twee pragtige dogters gehad wie se wortelkanale deur dokter Anders behandel is en wat as gevolg hiervan ’n groot bewondering vir die dokter oorgehou het. Die gevoel was wedersyds; die twee meisies kon nie hulle hande van hom afhou nie en ek het gewonder wie na die boot sou omsien. Ek en Frederik het dikwels daaroor gespekuleer en wanneer mevrou Anders ingeloer het, het sy ons aangeval en ondervra asof ons iets geweet het wat ons nie met haar wou deel nie. Elsa het besluit die enkelkindgesin is die aangewese ding in hierdie moeilike tye waarin ons leef en het Hannes aangehits om ’n vasektomie te ondergaan. Hy het volstrek geweier en sy het haar laat steriliseer. Klein Johan was van sy posisie seker en het ’n boelie geword op die kleuterskoolspeelgrond. Kara het haar tasse gepak en afgesit Frankryk toe om by Claude te gaan woon. Haar briewe was vol Franse frases wat Ma in die woordeboek moes naslaan. Polder, gehawend van ouderdom, het hondegriep gekry en doodgegaan. Toe Johanna die oggend by die agterdeur uit roep dat hy sy oorskietpap moet kom kry, het hy nie gereageer nie en toe sy na hom gaan soek, het sy hom in sy mandjie gekry. Hy het nooit in sy mandjie geslaap nie; dit was maar daar vir geval die een of ander inspekteur sou opdaag om na te gaan of die dier ordentlik versorg word. Maar dié oggend was hy in sy mandjie en dit het eers vir Johanna gelyk asof hy slaap. “Hy’s oorlede!” het sy by ons kom huil. “Hy’s weg honnehemel toe en wie gaan hom daar verstaan?” Toe ek twee dae later die middag by die huis kom, nog ruikend na
ontsmettingsmiddel en naeltjies, het ’n jong hond – die ewebeeld van Polder – my bespring. Ma het stralend op die stoep gestaan en na ons gekyk. “Niet doen, jongens,” het sy na ons geroep toe ek die hond pootjie omdat hy toe reeds my uniform bruin getrap het. “Wie’s dit?” het ek gevra. “Ons nuwe Polder.” “Maar Polder is dood.” “Dis sy opvolger.” Ek het die hond op sy kop geklop om hom te wys ek is lief vir hom en ek vereis dat hy hom gedra. “Wat is sy naam?” “Polder die Tweede. Hy praat ook net Nederlands.” “Hoe weet Ma?” “Dis al wat ek met hom praat van ek hom opgelaai het en hy verstaan elke woord wat ek sê.” Ek het net my kop geskud. Dit was nie meer maklik om met Ma te redeneer nie. “Kan ons hom nie ’n ander naam gee nie?” “Nee. Hy lyk dan nes Polder.” Ek kon nie stry nie. Die ooreenkoms was daar. Terwyl ons tee gedrink het, het Ma my vertel dat sy tante Aleid opgebel het om te hoor waar hulle die oorspronklike Polder gekry het en hoe bly sy was toe die telers haar vertel hulle het toevallig ’n jong reun wat te koop is. Met Pa uit die huis en doodgelukkig tussen die malariamuskiete en beesvretende leeus, was Ma meer op my aangewys en het ons meer gesels as wat vantevore die geval was. Sy het dikwels oor Ouma gepraat en ek was verbaas (en effens gekrenk) om te hoor dat sy ook van Ouma se Engel kennis gedra het. “Ouma het vir my gesê niemand anders weet daarvan nie,” het ek gemor. “Dit
was ons geheim.” “Die Engel het dan saam met ons geëet, darling!” “Ouma het my nie daarvan vertel nie.” “Van sy uit die hospitaal gekom het, die keer ná haar operasie, was die Engel deel van ons lewe.” “Het Ma hom ooit gesien?” “Hom?” “Ouma het gesê hy was ’n man.” “O.” Ons was besig om die wasmasjien reg te maak. Dit was ’n definitiewe nadeel van Pa se vertrek, ons moes nou dinge regmaak. Omdat Pa weg is met sy gereedskap, moes ons nuwes aanskaf en aan die begin het dit baie gebeur dat ons ’n loodgieter of elektrisiën moes laat kom om ons hopelose brousels te kom beredder. Maar mettertyd het ons geleer. Het ek geleer. Ma het nooit verder gevorder as ’n belangstellende en onderskragende bystander nie. Sy het vir my skroewe vasgehou, drade uit Polder se bek getrek en kommentaar gelewer oor die mooi kleure wat die koperdraad bedek. Sy het veral gehou van die groen-engeel gestreepte een. “Het Ma die Engel self gesien?” het ek aangedring. “Nee, maar ek het geweet hy is by ons.” “Dan was julle seker baie gelukkig gewees? Hy moet ’n vreedsame aura versprei het.” “Wat het van Peter geword?” het sy skielik gevra en die buis silikoongom na my uitgehou sodat ek die lekkende rubberpyp kan smeer. Ek wou nie oor Peter praat nie. “Vertel my meer van die Engel.” Maar sy het ’n ander rigting ingeslaan. “Dis deesdae net Frederik voor en
Frederik agter. Ek het van Peter gehou.” “Hy’s nog in Amerika.” “Is hy nie al afgestudeer nie?” “Ek weet nie.” Ek het nog van tyd tot tyd poskaarte van Peter gekry, maar die soort goed wat hy daarop geskryf het, was nie vertelbaar nie, om die waarheid te sê, ek het my verwonder dat die poswese die kaarte deurgelaat het. Miskien was hy te kripties en het net ek verstaan wat hy eintlik wou sê. In die laaste twee het hy weer begin aandring dat ek moet kom kuier. “Waarom gaan kuier jy nie vir hom nie?” Dit moet een van haar heldersiende oomblikke gewees het. “Wat van my werk?” “Vader, darling, is jy ná vier jaar nog nie moeg vir tande nie?” Ek het die taai wit gom van my vingers probeer afvee. “Wat van Ma?” het ek gesê. “Pa kom huis toe oor Kersfees. Hy sê dis te warm in Desember.” “Gee die skroewe aan, Ma,” het ek haar betig. Sy het van die wasmasjien vergeet en was besig om die stryklap se rafels uit te trek. “Is hy nou reg?” het Ma gevra. “Die hoop beskaam nie, Ma.”
Frederik was gegrief en vol besware toe ek hom vertel dat ek in Amerika wil gaan kuier. My tydsberekening was swak; die dag vantevore het ons ’n brief van dokter Anders gekry waarin hy gevra het of Frederik nog ses maande kan aanbly, daar was iets met die jag verkeerd (of met die meisies, ons kon nie sy handskrif duidelik lees nie). Finansieel gesproke kon Frederik nie kla nie, hy was besig om geld bymekaar te maak vir die koop van sy eie praktyk, maar hy wou nie langer aansukkel met iemand anders se pasiënte en gedeelde lojaliteite nie. Hy wou sy eie aanhangers versamel.
“Ek is lus en loop sommer,” het hy geknor. Ek het gekyk na sy fronsende, mooi gesig. Die probleem met hom was dat hy na Eduard gelyk het. Hy was lank en donker: ’n prenteboekheld. Ek kon my voorstel dat ’n mens plakkate van hom sou kon druk en dat dit teen elke jong meisie se slaapkamermuur geplak sou word. Tussen hom en Claude het Eduard vir my ’n werklikheid geword, maar sonder Peter het ek verhonger. ’n Irriterende situasie. Frederik het my begin uitneem van hy by dokter Anders oorgeneem het en ek is gewillig saam na bioskoopprente, konserte of intieme etes by kerslig. Die konflik het gekom as hy vatterig wou raak. Die soenery kon ek verduur omdat hy bedrewe was, maar meer wou ek nie toelaat nie, selfs al het ek op pad na sy woonstel heeltyd gesit en borduur aan die nuutste episode van my Eduard-enGreta-saga. (Ek het die babamotief lankal uitgegooi. Elsa in haar Madonna-rol in die kraaminrigting was iets om na te streef, maar klein Johan met taai hande en suur gesig, temend aan sy vermoeide ouers, was iets wat summier geskrap moes word. Greta is onvrugbaar verklaar en my storie met sy eindelose moontlikhede het voortgekronkel.) “Wat is jou probleem?” wou Frederik elke keer weet. “Jy gaan met niemand anders uit nie, jy’t my self gesê.” “Ek is nog nie gereed hiervoor nie,” het ek preuts gesê. “Bowendien, jy is my werkgewer.” “Ek is nie. Anders is ons albei se baas.” “Nietemin. Ek voel nie dis reg nie.” Die volgende dag het hy sy bewerige hande en hoofpyn aan my ongevoeligheid toegeskryf. Ek was selfsugtig en het nie sy behoeftes in ag geneem nie, het hy gesê. Sy aantreklike, bedorwe gesig het my finaal laat besluit; in my etensuur het ek my plek gaan bespreek.
Peter se laaste, onduidelike poskaart het voorgestel dat ons mekaar in New York ontmoet, die naweek voor Kersfees. Hy sou sorg dat hy daar is as ek dieselfde sou doen. In ’n naskrif het hy iets genoem van ’n begeerte om daarna Europa toe
te gaan en stel ek belang om saam te kom? Ek het verkies om dit andersom te doen omdat ek so gou as moontlik onder Frederik se verwytende oë wou uitkom. My kleinniggie Sara, ’n dik meisie van dertig, het aangebied om Frederik te kom help. Ek het hom nie vertel hoe sy lyk nie, bloot dat ek iemand gekry het om vir my in te staan. Sy sou hom ongetwyfeld alles vertel van my en my susters, veral van Kara wat, volgens haar, apokriewe wette van die Bybel oortree het deur saam met Claude huis op te sit en wat dus eendag in ’n verskriklike hellevuur sou brand. Nie almal in die familie was so kleurblind soos Ma en Pa nie. Met my vliegtuigkaartjie in my handsak het ek vir Kara laat weet dat ek kom kuier en vir Peter dat ek hom in New York sal sien, hy moes net laat weet waar. ’n Paar weke later het sy ma my gebel en gevra of sy ’n pakkie mag saamstuur. “Seker,” het ek gesê en sy het afgespreek om een middag oor te kom. Dit was ’n kreperend warm middag en ek was kaalvoet in die tuin besig om Ma se pers petunias nat te gooi. Dit was geplant aan die skadukant van die kapokboom, maar het teen halfses dooierig omgekantel gelê en ek het hulle – en myself – met oorgawe natgespuit. Ek was die hele dag al ongedurig ná ek ’n vreeslike droom gehad het die vorige nag. Dit was seker die hitte, het ek myself getroos, maar die droom het my so gehinder dat Frederik my ’n keer of wat skerp moes aanspreek omdat ek die verkeerde instrumente aangegee het. Ek was by ’n partytjie gewees, een van daardie partytjies wat net in drome voorkom, waar ek niemand geken het nie en dit gevoel het asof ek nie regtig in die vlees teenwoordig was nie. Soos Ouma se Engel. Ek het geweet ek was daar, maar geeneen van die gaste het deur woord of daad te kenne gegee dat hulle my sien of hoor nie. Op ’n gegewe oomblik het ek opgekyk na die deur en Peter gesien. Hy was nie alleen nie, aan sy arm was ’n jongerige meisie met vaal, styfgekrulde hare. Besitlik het hy haar aan die arm vasgehou en voor hom deur die mense gestuur. Van tyd tot tyd het hy haar aan iemand voorgestel, dan het sy weggestaan asof sy geskrik het. Elke keer het sy haar hand gelig. Dit was ’n groot kamer; in my droom het dit na ’n tonnel gelyk waardeur Peter en die meisie hulle weg gebaan het. Dit het na ure gevoel voor hulle by my gekom het en Peter haar weer vorentoe gestoot het. “Iris,” het hy gesê. “Dis Marie. My verloofde.” Ek het niks gesê nie. Sy was kleinerig, soos ek, maar vaal en senuagtig. Sy het
ook nie gepraat nie, net werktuiglik haar hand uitgehou en ’n halfwas diamantjie voor my neus gedruk. “Ek was net op pad,” het ek gesê. “Waarheen?” het hy gevra. Ek het my weer verwonder aan sy bonkigheid. Hy was nie kort nie en hoegenaamd nie dik of geset nie; nie eens uitermate gespierd nie en tog het hy die indruk van vierkantigheid gegee. Sy hare was langer, maar die twee kroontjies het dit steeds hoekig laat lyk. Ek het huis toe gery en deur die tuin gehardloop en onder die lukwartboom in die nat grond gaan lê. Met my hande het ek slote om my gegrawe en nat grond oor my kop gegooi terwyl ek skree in wanhopige, radelose, redelose frustrasie en angs. Toe ek wakker word, kon ek nog die grond in my mond proe en was ek waternat gesweet en rukkend van ontsteltenis. Die droom, en veral my wanhoop, was so reëel dat ek nie kon glo dit was net ’n maaksel van die verbeelding nie. Ek het na my verkreukelde nagrok gekyk en gesoek na die modderstrepe; ek het my hande deur my gekoekte hare getrek en gevoel vir grondkorrels teen my kopvel. Die huis was so stil dat ek die gang af geloop het om te kyk of Ma nog leef; iemand moes tog my krete gehoor het? Nuwe Polder het nuuskierig en gemoedelik saam met my gestap. Hy het normaalweg voor my bed geslaap en selfs hy het geen teken gegee dat hy my hoor skree of wroeg het nie. Hy het aan my knie gelek terwyl ek my kop onder die kraan hou en aangebied om by my op die bed te lê sodat ek kon ophou bewe. Ek het na die vloer gewys en hy het gelate weer gaan lê, maar ek kon nie weer slaap nie en is met ’n versufte kop weg werk toe. “Darling!” het Ma van die stoep af geroep en ek het opgekyk en gesien daar staan ’n vreemde vrou by haar. Ek het die tuinslang toegedraai en ’n laaste blik op die lukwartboom gegooi. Die grond was droog en krummelrig; daar was geen tekens van my droom nie. Peter se moeder was korterig en dikkerig, met ’n oop, laggende gesig. “Jy is Iris,” het sy gesê en my vol op die mond gesoen. “Ek sal gaan tee maak,” het Ma taktvol gesê en verdwyn in die koel skadu van die sitkamer.
“Sit gerus,” het ek gesê en na ’n tuinstoel gewys. “Dis so warm vandag.” “Peter skryf hulle het al sneeu gehad.” Ek het oorkant haar gaan sit en afgekyk na my modderbespatte kaal bene. “Hoekom het jy hom alleen laat gaan?” het sy gevra. “Alleen?” Sy het haar grys wordende hare van haar voorkop weggevee. “Dis mos anders deesdae. Julle trou mos terwyl die man nog studeer.” “Trou?” het ek gevra. “Ek wil nie trou nie.” My redes was moeilik verklaarbaar, selfs aan myself. Die onwilligheid was nie net vanweë my eie ouers se huwelik nie; ek het dit trouens goedgekeur dat Pa weg is om te doen wat hy altyd na verlang het. Hy en Ma was nie kwaaivriende nie, hy het gereeld huis toe gekom, al was dit net dat sy ’n slag sy klere kon heelmaak. Dit was ook nie te wyte aan Elsa en Hannes se saaklike, geordende huwelik of Kara se impulsiewe, simboliese trek, kaalvoet oor die berge om by haar geliefde te wees nie. Ek het net geweet dat ek nie vasgevang wou word nie. Ek wou nie aan tafel sit, oorkant ’n mens wat nie meer na my luister nie. Miskien het Ouma die saadjie gesaai toe sy my vertel het hoe die Engel in die gang voor die slaapkamerdeur tent opgeslaan het. “Hier sal geen onheiligheid meer plaasvind nie,” het hy haar gemaan. Ek het dikwels daaroor gewonder. Was sy reeds moeg vir die eise van haar huwelik en het dit haar interpretasie van onheiligheid beïnvloed of het die Engel dit vir haar uitgespel? Wat ook al die geval was, Oupa het in die spaarkamer ingetrek. “Julle jong mense moet dit maar self uitwerk,” het Peter se moeder my tot die werklikheid herroep. “Ja.” Ek het my een voet oor die ander gevryf en droë grond het op die skoon stoep gesif. Eintlik wou ek gaan slaap het. Ek was vas van plan om my droom verder te droom, wat die geleerdes ook al sê. Dit moes onder die lukwartboom begin en verder gaan. Ek wou Peter se motor hoor soos hy met skreeuende bande stilhou en na my gehardloop kom onder die boom.
“Dit was net ’n grap,” sou hy sê. “Ek wou sien hoe jy reageer.” “Hy’s nou so te sê klaar,” het Peter se moeder gesê. “Wanneer hy terugkom, is hy doktor.” Sy het breed geglimlag en dit weer gesê. “Doktor.” Sy het na my gekyk vir goedkeuring. “Kan jy dit glo?” “Ek werk saam met dokters.” Sy het afgebuk en die swaar kartondoos wat sy saamgebring het, nader gesleep. Die flappe was nie toegeplak nie en sy het dit oopgevou en begin beduie. “’n Bottel appelkooskonfyt. ’n Flessie moerbeijem. Ingelegde perskes – die goed wat hy daar kry, is seker van pampoen gemaak. Gedroogde mosbeskuit, hy is so lief daarvoor.” Sy het die plastieksak opgelig en gewys na iets wat gelyk het soos dikkerige aartappelskille. “En dan ’n sakkie soutbeskuit. Hy sal sommer huil van verlange as hy dit sien.” Ek het geknik en gewonder waar ek die spul kos moes inpak. “Ek het nie geweet hy is so ’n beskuiteter nie,” het ek gesê. As ek en hy saam was, kon ons nie eens ’n restaurantmaaltyd klaarmaak nie. “Hier is die tee,” het Ma aangekondig en die koffiepot op die stoeptafel neergesit. Johanna het agter haar gestaan met die skinkbord koppies en toe sy my oog vang, het sy haar oë gerol en die koffiepot weggevat. Die twee ma’s het goed klaargekom. Oor die regte teepot het hulle mekaar vergas op hulle kinders se oulikhede en ek, wat afgetrokke gesit en luister het, nog swaar onder die indruk van my droom, het dit moeilik gevind om te glo dat hulle van volwassenes praat. Hulle het geklink soos ouers by die kleuterskool se oueraand. Ma het die deugde van haar drie dogters besing, van ons hare (“Rooi, blond en swart. Is dit nie interessant nie? Ons weet nou nog nie waar die rooi vandaan kom nie.”) tot ons voete. (“Kara het ’n ware talent gehad vir ballet. Sy kon op haar smal voetjies draai soos ek nog nooit iemand sien doen het nie.”) Peter se ma het aan die kortste end getrek met haar twee seuns, maar sy het dapper probeer bybly. Haar jongste seun was ’n skrynwerker en geen Nobelpryswenner nie, maar hy het die mooiste meubels gemaak en Peter belowe dat hy sal sorg vir die ameublement van sy huis, sou hy die dag tot trou oorgaan. Ek het in my geheue rondgesoek na ’n herinnering aan Peter se woonstel, maar al wat ek onthou het, was die pragtige houtbed. As Jonsie dit inderdaad gemaak het, was hy so goed soos sy ma vertel het.
“En heeltemal verskillend in geaardhede,” het sy voortgegaan. “Peter is die ernstige een, hy was vir ons ’n kommer toe hy jonger was omdat hy nie in meisies belanggestel het nie.” Ek het my ore gespits. “Hy kom tog as ’n gesellige mens voor,” het Ma gesê. “Nee, nee. Baie inkennig.” My verbasing het toegeneem. Inkennig? Die man wat vir my vertel het Iris is die godin van die reënboog en hy weet dit omdat hy al vantevore ’n meisie genaamd Iris geken het, en wil ek saamstap na sy woonstel? “Is dit nie so nie, Iris?” het sy haar tot my gewend. Ek het op my vuil voete bly konsentreer. “Mevrou ken hom beter as ek.” Sy het stout geglimlag. “Ek sien jy stem nie saam nie. Dit is natuurlik so dat verskillende mense verskillende reaksies by ’n man uitlok.” “Iris is ook nie sosiaal nie,” het Ma vir my in die bresse getree. “Sy’s die enigste kind in die huis oor.” “Ek kon nie vir Ma alleen los nie,” het ek myself verdedig. “Ag, ag,” het Peter se ma gesimpatiseer. “Het u u man verloor?” “Nee,” het Ma gesê. “Ek weet waar hy is.” Die vrou het verward van Ma na my gekyk. “My pa wou gaan boer,” het ek vinnig verduidelik. “En ons, of liewer, Ma, wou nie.” “O,” het sy gesê, haar stem vol twyfel. “Waar boer hy?” “In die bosveld.” “Dis droog daar, is dit nie?”
“Daar’s leeus ook,” het Ma bygevoeg. “Diere wat vreemde geluide maak in die nag. Ek was al daar.” “U sien mekaar dus nog?” Sy het verlig geklink. “O, ja. Hy kom oor ’n week huis toe vir die Kersvakansie.” Peter se ma het opgestaan en begin groet. Ek het saam met haar na haar bakkie gestap. Die bak was vol misspatsels en het skerp geruik. “Pappie se posduiwe,” het sy verduidelik. “Aa.” “Sê vir Peter dit gaan goed, Dulcie wen nog elke keer,” het sy gesê en my op die wang gesoen. “Bloute het weggeraak en Pappie vermoed hy het êrens in ’n draad vasgevlieg. Dis moeilik om te glo, want hy was ’n slimme. Peter sal wil weet.” Ek het geknik en my binnegoed voel draai van verlange. Sy het ingeklim en die deur gewelddadig toegeklap. Deur die oop venster het sy verder gepraat. “En Jonsie stuur ook sy beste. Hy’s amper klaar met daardie hoop dwarslêers. Vreeslike werk gewees, hy moes omtrent die helfte van elke blok wegsaag voor hy by die goeie hout gekom het. Sê vir Peter. Hy sal wil weet, want hy het Jonsie gehelp laai aan die goed.” “Ek sal vir hom sê,” het ek belowe. “Ek hou van ’n kaalvoet kind,” het sy halfmompelend gesê en die sleutel gedraai. “Jy moet veilig reis, hartjie.”
Elsa het my voornemende reis afgekeur. Sy en Hannes het kom groet die dag voor my vertrek en sy het haar mening ongevraag en onomwonde gegee. “’n Meisie loop nie agter ’n man aan nie.” “Ek gaan vlieg, nie loop nie,” het ek ’n blaadjie uit Ma se boek geleen. “Dis nie reg nie.” Sy het beskuldigend na Ma gekyk wat besig was om haar
apostelteelepeltjies in ’n peloton op te stel vir die vermaak van klein Johan. “Ma behoort Ma se voet neer te sit. Waar sou een van ons dit ooit gedoen het? Halfpad oor die aardbol vlieg om vir ’n man te gaan kuier? Wat dink jy sou Hannes van my gedink het as ek dit gedoen het?” Hannes het bedremmeld gelyk. Heel waarskynlik sou hy daarvan gehou het. “En wat van sy ouers? Hulle sal dink jy’s ’n los flossie.” “Nee,” het ek gesê. “Sy ma se seën rus op my reis. Sy het sakke beskuit en konfyt saamgestuur.” “Wat weet ons van die man?” het Elsa voortgetier. “Ons ken hom van geen kant af nie.” “Ek ken hom,” het Ma laat hoor. “Ek het hom al gesien,” het sy haarself gekorrigeer. “Kara is agter Claude aan,” het ek gesê. “Die reël in hierdie gesin is om agter ’n man aan te vlieg. Twee uit die drie van ons doen dit. Jy’s die uitsondering.” “Kom hier, skapie,” het Elsa vir Johan gewink en hom ’n koekie gevoer asof hy nog nie self kon eet nie. “Ek weet wat ek dink,” het sy kripties voortgegaan. “Die man, ’n relatiewe vreemdeling, stuur ’n poskaart en sê sy moet kom kuier en weg is sy.” Ek het verwytend na Ma gekyk. Sy moes nie van die poskaart vertel het nie. “Waar gaan jy bly?” het Elsa vervolg. “Het hy vir jou losies gereël?” “Ek is vyf en twintig jaar oud,” het ek gesê. “Ek weet wat ek doen en ek wou buitendien altyd oorsee gegaan het.” “Ons ook,” het sy teruggekap. “Maar ons beplan dit deeglik. Ons is besig om te spaar, ons lees intussen na oor elke land se geskiedenis en nes Johan groot genoeg is dat ons hom met die minimum trauma hier kan laat, sal ons ons planne finaliseer.” Ek het stip na die muur gestaar en nie geantwoord nie. Daar was tye dat Elsa my aan die Ontvanger herinner het. Ek het die indruk gekry dat sy ook mense sal
aanmoedig om te spaar net sodat sy die rente met popelende genot kan opraap as die dag van afrekening kom.
Pa, teësinnig bly om weer in die beskawing te wees, het vir my ’n sakkie koedoebiltong saamgegee wat hy eiehandig geskiet en gedroog het. “Dis vir padkos,” het hy gesê. “Dankie, Pa.” “Ek het nog ’n sakkie vir Kara ook.” Ek het geknik. My reistas het al gelyk na ’n spens. “Pa mag dit seker nie self eet nie?” het ek opgemerk, gedagtig aan sy soutlose dieet. “Is omtrent al waarvan ek leef,” het hy gegrom. “Is dit nie sleg vir Pa nie?” “Ek’s gesond in die bos,” het hy gesê. “Daar’s nie tyd vir fieterjasies nie.” Oor Peter of Claude het ons nie gepraat nie. Johanna was meer uitgesproke. “Jy’t die man ’n jaar laas gesien,” het sy gesê. “Dit gaan neuk.” “Tyd of afstand het nog nie vantevore ’n verskil gemaak nie,” het ek myself verweer. “Waarom sal dit nou?” Sy het gesnuif. Dae lank al het sy deur die huis gedruppel, droef en ineengedoke, haar gewone sofistikasie weg. “Nou’s al drie my kinners weg,” het sy gesê. “Al my favourites foeter oor die see.” “Ek kom mos weer terug!” Dit was nietemin goed om te hoor dat ek ’n gunsteling was. “Dis nie altyd te sê nie,” het sy gekla. “Wie weet wat daar oorkant gebeur? Hy hou jou dalk nog daar.”
“Nee. Sover ek weet, is hy self op pad terug.” Sy het effens opgehelder. “Dan kan jy mos net sowel hier vir hom wag.” Ek het my kop geskud. “Ek wil gaan kyk hoe lyk dit daar. Buitendien, ek gaan eers vir Kara kuier. Onthou jy nie wat Ma altyd gesê het nie? ’n Iris blom net een keer per jaar. Ek is aan die oud word en dis tyd dat ek blom.” “Ag, Iris,” het sy gesug. “Jy blom elke dag vir ons.” (Sy het my naam “Aairis” uitgespreek, net soos ons haar “Djou-henne” moes noem.) Ek het haar omhels en my laaste goed gaan inpak.
Dit was ’n verligting toe die vliegtuig eindelik opstyg en ’n mooi meisie met pers ooggrimering begin beduie hoe die suurstofmasker funksioneer en dat ons tog moet onthou om ons skoene uit te trek as ons van die opblaasglybaan gebruik moet maak. (Ek het verkies om nie daaraan te dink nie, maar het nietemin gehoop dis nie my polvye wat die ding sal afblaas sodat die res van die asiers moet plons of val, na gelang van omstandighede nie.) Ma was tranerig by die afskeid. Pa het my medereisigers se handbagasie getel uit vrees dat iemand die vliegtuig in so ’n mate gaan oorlaai dat dit nie sal kan opstyg nie. Frederik, mooi, boos en tot op die laaste pleitend dat ek moet bly, het my so hartstogtelik vasgedruk dat Ma en Pa anderpad gekyk het en nagelaat het om vir Peter groete te stuur. Ek het ’n drankie bestel, my stoel effens laat terugkantel en ervare probeer lyk. Verdiep in die brosjure oor hoe om ’n noodlanding te hanteer, het ek geskrik toe die man langs my skielik praat. “Jou eerste vlug?” het hy gevra. “Hoe weet u dit?” het ek gevra. Gekrenk. “Niemand anders lees daardie brosjure nie.” “Ek lees dit elke keer,” het ek ferm gesê. “Mens weet nooit wanneer hulle dalk iets nuuts byvoeg nie.”
Hy het gegrinnik. Hy was geset maar jonk, en sy rooierige gesig was bepêrel van sweet. “Ek het jou op die lughawe al raakgesien.” “Lughawens is eienaardige plekke,” het ek uit die hoogte geantwoord. “Soos vlieëpapier in ’n kombuis. Dis die reuk, dink ek. Dit trek jou aan. Jy kleef daaraan vas.” “Dink jy so?” Hy het ’n dubbele whisky gesluk asof dit water was. “Ja. Lughawens mis die soliditeit van byvoorbeeld ’n stasieplatform.” Ek het gedink aan die rye zinnias en stinkafrikaners wat in die droë son staan en bak om die verbyganger te herinner aan sy aardse bande. “Waarheen is jy op pad?” het hy die onderwerp verander. “New York.” Hy was besig om die pakkie gerookte amandels wat die lugwaardin in sy skoot geskiet het met sy tande oop te skeur en kon nie dadelik praat nie. “Dan is jy op die verkeerde vliegtuig,” het hy gesê. “Hierdie een gaan Parys toe. Jy beter vra om by die volgende halte oor te klim.” Ek kon sien dit gaan ’n lang vlug word aan die sy van hierdie grapmaker en het die tydskrif wat Frederik vir my gegee het, oopgeslaan. Dit was die maandblad van die tandheelkundige vereniging en ek het begin lees van nuwe maniere om kariës met laserstrale toe te sweis. Dit het nie geklink na die soort ding waarvoor dokter Anders sou val nie; hy het nog nostalgies geraak oor die ou waterlose trolliebore. “Is jy ’n tandarts?” het die grapmaker gevra, skielik doodernstig. Ek het net ’n sekonde gehuiwer. “Ja.” “O genade.” Hy het sy oë toegemaak en vinnig gesluk aan sy tweede drankie. “Ek’s vir julle so bang soos ’n bok vir vuur.” Ek het ernstig na hom gekyk. Die absorpsievermoë van die amandels was nie goed nie, die man het ’n alkoholiese gloed in sy oë gehad. Sy grynslag het twee puntige hoektande blootgelê en hom na ’n vampier laat lyk. “Is dit so?” het ek gevra. “Ek kan sien dat u ortodontiese behandeling ontduik, daardie hoektande
moes lankal teruggedruk gewees het. Dis natuurlik nog nie te laat nie alhoewel dit in hierdie stadium heel waarskynlik mondchirurgie nodig gaan hê . . .” Hy het weggedraai van my en met die Eduard-agtige sakeman aan sy ander kant begin gesels. Ek het my tydskrif gebêre en die boek uitgehaal wat ek saamgebring het om te lees. Ná aandete bedien is, het ek my stoel terug laat sak en probeer slaap, maar dit was ’n onbegonne taak. Die joviale vampier het my vertel hy slaap nooit op vliegtuie nie en het toe die res van die nag deur krakende koerante gelees, oor my moeë liggaam met die lugwaardin geflankeer, of gedrink. Ek het dit oorweeg om hom Frederik se lesing te gee oor die dehidrerende effek van die lugdruk so hoog bo die aarde en hoe alkohol meewerk om dit te vererger, maar ek was nie lus vir praat nie. In plaas daarvan het ek ’n nuwe storie begin waarin Greta op ’n lang oorsese vlug langs Eduard beland en hoe hulle mekaar ontdek. Terwyl die spanning tussen hulle opbou, het ek my heupbene tussen die leunings van my stoel probeer inwig en ’n rusplek vir my seer nek probeer kry. Ek het ook gewonder of ek nie vir dokter Anders moet kontak en uitvind of ek nie eerder met sy seiljag kan terugvaar huis toe nie. Om seesiek te wees, maar plat op my rug op ’n bed, het verkieslik begin lyk bo nog ’n nagvlug.
Claude het my op die stasie van die provinsiestad ontmoet. Teen daardie tyd kon my oë – teen die krapperige weerstand van ’n slapelose nag, ’n busrit en ’n ure lange treinrit – nie meer oopbly nie, hoe graag ek ook alles om my wou waarneem en absorbeer. Ek het my swaar reistas vir hom gegee, my skouersak na die ander geduikte skouer verskuif en toegelaat dat hy my op albei wange soen. Sy stompneusmotortjie het naby die ingang gestaan en ons het my bagasie op die nou agterste sitbankie ingeskuif en vertrek. Hy het vrae gevra in sy skewe Engels en ek het probeer antwoord, maar my kop het gesing en my tong het aan my droë verhemelte gekleef. Hulle huis was ’n vierverdiepinggebou sonder hysbak en hulle woonstel was op die boonste verdieping. Ek het die laaste paar trappe hande-viervoet uitgeklim. Asof deur ’n dik gordyn het ek Kara in die oop deur sien staan en sy het haar arms om my geslaan en my omhels soos sy nog nooit vantevore gedoen het nie. Wat my van die omhelsing getref het, was dat ons koppe aan mekaar geraak het, maar dat daar die een of ander versperring in die pad van ons lywe was. Ek het afgekyk en die boep gesien.
“Kara,” het ek gesê. “Jy verwag.” Stralend het sy my aan die arm gevat en kombuis toe geneem terwyl Claude my tasse in die klein gastekamertjie neersit. ’n Gasstoof het blou gevlam terwyl Kara die ketel oorskuif en koppies op ’n skinkbord laat klingel. “Ja,” het sy gesê. “Ek moes alles sluk wat ek van Elsa gesê het. Dis heerlik. Ek wil hierdie hele gebou vul met babas. Elke kleur van die reënboog.” Ek het op ’n houtstoeltjie neergesyg. “En my tas is vol beskuit en konfyt,” het ek gesê. “As ek geweet het, het ek meer praktiese goed gebring. Doekspelde of so iets.” Sy het gelag. “Mens kan alles hier koop. Ek het elke middag ’n horde kinders hier vir tekenlesse; geld is daar wel.” Dit was alles te oorweldigend. Ek het my tee gedrink, ’n stuk stokbrood gesluk en gevra of ek maar mag gaan slaap. Die volgende oggend was ek vroeg wakker. Dit was doodstil in die huis en ek het gelê en luister na die onbekende verkeersgeluide, die uitroepe in ’n ander taal. Ek is in ’n ander land, het ek gedink, ’n ander land en ’n ander bestel. Dit het duideliker geword toe ek Kara in die kombuis hoor en sy my saamnooi om in hulle kamer te kom koffie drink. Claude was nog in die bed, sy glimmende bolyf kaal tussen die gestreepte lakens wat ek herken het uit Ma se linnekas. Kara het langs hom ingewoel en die skinkbord tussen haar bene staangemaak. Sy het nog nooit mooier gelyk nie. “Maak jou tuis,” het sy vir my gesê en na die voetenent van die bed beduie. Ek het ongemaklik gaan sit en my kamerjas vasgehou. “Hoe gaan dit met die hiënas?” Ek het gewonder na wie hy verwys; politici, landgenote of die werklike diere. Kara het gegiggel. “Die goed met hulle stink asems het ’n blywende indruk op hom gemaak,” het sy vertel. “Hy hou nooit op met praat oor die drie dae in die Wildtuin nie. En die son hoef nie te skyn vir hom om sy hoed met die tiervelband te dra nie.”
Ek het geknik. “Lê julle altyd so laat?” het ek gevra aangesien my kennis van wilde diere skraal was. “Claude se eerste lesing is eers tienuur.” Kara het teruggeleun teen die kussings en haar hand teen sy wang gehou, ’n gebaar so vol liefde dat ek vinnig weggekyk het, meteens hol van verlange na Peter en iemand van my eie om lief te hê. “Gaan julle trou?” het ek haar gevra toe Claude later singend in die stort staan. “Is jy afgevaardig om uit te vind?” “Nee,” het ek gelieg. “Maar julle is tog lief vir mekaar en met die baba . . .” “Ons sal seker,” het sy toegegee. “Moenie jou kwel nie.” “Ek kwel my nie, ek dink dis . . . wonderlik. Asof julle hekke toegemaak het teen iets.” “Teen die hiënas?” Sy het gelag op ’n onbevange manier wat vir my vreemd was. “Dis so. Ons gaan nie toelaat dat iemand op ons aas nie.” Sy het die skinkbord eenkant toe geskuif. “Gaan ons rondloop? My eerste klas begin eers in die middag.” Die week by Kara was lekker. Rustig eintlik, en vreemd. Wanneer dit gereën het, het die water voor my venster gedrup van takke wat ek nie geken het nie. Winkels het anders geruik, die kos het anders gesmaak. Ons het nie vleis en groente en slaai vir aandete gekry nie maar brood en patee en uitjies en sop. Dit was koud en die winkels was behang van Kersversierings en klokke. Dit het my meer eg voorgekom as ons eie, miskien omdat die sneeu en takbokke makliker ingeskakel het by die koue weer. Kara het ’n paar vriende oorgenooi om my te ontmoet en hulle het dapper probeer Engels praat terwyl sy en Claude happies en warm, gegeurde wyn bedien. “Dit moet ’n las wees,” het een man vir my gesê, “om te kom van jou land.” Ek het geswyg en klein slukkies wyn gedrink.
“Moenie jou aan hom steur nie,” het iemand sag agter my gesê. Ek het onthuts omgedraai om te sien wie gepraat het en in die opgestoomde ruit het ek die vae omlyning van ’n Engel gesien. Die wyn is in my verkeerde keel in en ek het gestik. Sou die man al die pad saamgevlieg het of was dit ’n plaaslike Engel? Ek het my glas neergesit en heeltemal omgedraai. Die Engel was weg, slegs druppeltjies kondensasie het teen die ruit afgeloop en ’n dralende rookwolk uit iemand se sigaar het verby my gesig gekrul. “Verskoon my,” het ek vir die man voor my gesê en opgestaan. My plan was om in die kombuis te gaan skuil tot ek kalmeer het of, alternatiewelik, uitgevind het wat die Engel se politieke affiliasie is, maar ’n ander jong man, ’n landgenoot van Claude, het my voorgekeer. “Is jy ’n model?” het hy gevra. “Nee. Assistent vir ’n tandarts.” “As jy wil, sal ek foto’s van jou neem,” het hy aangebied. “Ek het ’n kamera,” het ek gesê. Hy het gelag en ek het gevlug. Ná al die mense weg was en ek Kara help opruim het, het ek haar daarvan vertel. (Van die Engel het ek geswyg.) Sy het my ondersoekend aangekyk. “Dis waar, weet jy.” “Wat is?” “Jy het daardie soort gesig.” Ek het gesnork en verlepte slaaiblare in die vuilgoedsak gekrap. “Ek het ’n doodgewone boeregesig.” Sy het nie geluister nie. “By die huis, ja, maar hier soek hulle na iets anders.” “Is hier ’n aanvraag na boeregesiggies?” “Mens weet nooit nie.”
Twee dae later het ek New York toe gevlieg. Op die lughawe, voor ek vertrek het, was ek gelukkig genoeg om ’n poskaart van ’n windmeul te kry. Die kiosk waar ek dit gekoop het, was blykbaar ingestel op toeriste wat sekere lande mag misloop en het landskappe gehad van oor die hele Europa. Ek het gou gaan sit om vir Polder ’n boodskap te skryf al was ek nie self in sy land van (vermoedelike) herkoms nie. Ek het geweet Ma sou dit vir hom voorlees.
Peter was nie op die lughawe nie en ná ek ’n streng doeanebeampte verseker het ek is nie van plan om brood uit iemand se bord te steel deur werk te soek nie, het ek uitgestap in die bytend koue lug om ’n taxi te soek. Lang, geduikte motors met bekende name maar onbekende vorms, het die een na die ander na die randsteen geswenk en is gevul met haastige asiers. Teen die tyd dat ek aan die beurt was, was my neus bevrore en het my oë getraan van die koue. Klein, nat vlokkies het teen my gesig vasgewaai en in straaltjies gesmelt. My taxibestuurder was swart en ek het my voorgeneem om my mond te hou en my aksent te versteek. “Ja?” het hy gesê toe die motor vorentoe skiet met blou wolke wat agter uitblaas. Ek het die naam van die hotel gegee. “Waar is dit?” het hy gevra. “Ek weet nie.” Hy het rem getrap en soos ’n koggelende eggo het ek ander motors agter ons hoor protesteer. “Shit,” het hy gesê en ’n vervormde, gevlekte stadsgids op sy skoot oopgevou. Terwyl hy mompelend na die adres gesoek het, het ek my hande probeer warm vryf. “Waar kom jy vandaan?” het hy gevra toe hy weer vorentoe boog en ’n ander motor van die pad af dwing sodat hy in die regte baan kan kom. Ek het besluit om hom letterlik op te neem. “Frankryk.” “Jy klink nie Frans nie.” “Ek is nie.” Ek het die stryd gewonne gegee en hom vertel waar ek vandaan
kom. Hy het weer rem getrap, maar gelukkig nie so hewig soos die vorige keer nie. Net een motor agter ons het sy toeter geblaas. “Waar die leeus in die strate loop?” het hy gevra. Ek het gelag. “Dis tog ’n grap. Almal weet hulle loop nie rêrig in die strate nie. En ons het ook tandepasta.” Hy het oor sy skouer na my geloer. “Is dit so? Maar daar is mos leeus in Afrika?” Ek moes saamstem. “Suid-Afrika,” het hy mymerend gesê asof hy hoop die naam gaan ’n assosiasie wakker maak. “Ons is die rassiste,” het ek behulpsaam genoem. Dié keer het hy behoorlik uitgeswenk en stilgehou. “Dit was net ’n grap,” het ek senuagtig gesê en om my rondgekyk. As hy my op daardie plek uit die motor gegooi het, het ek nooit by Peter uitgekom nie. Dit was ’n armoedige buurt van laerige huise en verligte Kersboompies op elke stoep. “Is dit so?” het hy gevra. “Nie regtig nie,” het ek vinnig gesê. “Ek het dit maar genoem om jou te help.” Ek het gewens ek het Johanna met my saamgebring, sy sou binne sekondes met die man klaargespeel het. “Geld is geld,” het hy gesug. “Dis so,” het ek saamgestem. “En as jy my nou hier uitsmyt, gaan ek heel waarskynlik vermoor word en dan gaan jy baie sleg voel wanneer jy môre daarvan in die koerante lees.” “Ek lees nie koerante nie,” het hy gesê maar tog weer die motor aangeskakel.
“Dit sal tog ’n klad op jou naam wees,” het ek gesê. “Die polisie sal uitvind.” Hy het weer oor sy skouer na my gekyk, maar ek kon sien sy moed is eintlik gebreek. “Hoekom sal iemand jou vermoor?” “Ek weet nie. Julle vermoor mense mos maklik in hierdie stad.” “Waar hoor jy dit?” “Ek het al baie Amerikaanse televisiereekse gesien.” “Dis snert.” Ek het stilgebly en dit oorweeg om hom ’n sedeles te gee oor die media en die geloofwaardigheid van alles wat mens op televisie as die werklikheid opgedis kry. Ek het daarteen besluit. “Ons gaan vanaand sneeu kry,” het hy gesê. “Ek is bly. Ek het nog nooit sneeu gesien nie.” “Hoekom nie?” Hy het skielik tussen die geboue uitgery en voor ons het ’n verligte brug gelê met anderkant die brug die so bekende en oorweldigend mooie silhoeët van die stad. “Dis somer by ons en selfs al is dit winter kry ons nie sneeu nie.” “Crazy,” het hy gesê. Ek het vorentoe gesit en my verkyk aan die verligte prag voor my. “Dis verskriklik mooi,” het ek gesê. “Ek wou in die aand aankom sodat ek dit presies so kon sien.” Hy het geknik en ’n vars repie kougom uit sy silwerpapieromhulsel gewikkel. Hy het die pakkie na my uitgehou. “Nee dankie, dis sleg vir jou tande.” Hy het ’n hiklaggie gegee. “Lady,” het hy gesê. “Wie gee ’n hel om?” “Ek werk by ’n tandarts.”
“Is dit so?” “Ja.” “Maar ek het goeie tande.” “Des te meer rede om dit op te pas.” Ek was bang hy hou weer stil en gooi my in die rivier. “Wat kom maak jy hier?” het hy die onderwerp verander. “My vriend studeer hier. Wel, nie hier in New York nie, maar ons het afgespreek om mekaar hier te ontmoet.” “Jou kêrel?” “Ja.” “Weet jou ma jy’s hier?” het hy ook beterweterig geraak. “Ja. Syne ook. Sy het konfyt en beskuit saamgestuur.” “Is dit so?” “Uh-huh.”
Ek het gedog ons kom nooit by die hotel uit nie. Ons het in breë strate gery, om sirkels en onder die stasie deur. Die strate het nouer geword en was nie meer parallel met mekaar nie. Orals was mense en eetplekke en kaal winterse boompies, getooi in stringe wit liggies wat in die nat strate weerkaats het. My kop het gedraai van die sagte gewieg van die taxi. Ek het gewonder waarom Peter so ’n versteekte hotel gekies het. “Hier is ons,” het die bestuurder uiteindelik gesê en voor ’n rooi baksteengebou stilgehou. Dit het nie luuks gelyk nie, maar darem ordentlik. “Dankie,” het ek gesê en bykans al die geld wat ek op die lughawe gewissel het vir hom uitgetel.
“Good luck,” het hy gesê toe hy my laaste besitting op die sypaadjie neersit. “Dankie.” “Wag tot ek my vriende vertel,” het hy gelag en met sy normale geskree van bande weggetrek.
Peter was nie in die portaal nie en daar was geen boodskap by die stug, kougomkouende, verlepte ontvangsklerk nie. Maar die kamer was bespreek en ’n jong man, geklee in denimbroek en stowwerige rooi baadjie met die hotel se naam uitrafelend op die sak geborduur, het my tas na die kamer geneem en gewag tot ek my laaste dollarnoot in sy palm neergesit het. Die kamer was leeg en gemeubileer in hotelkleure, ’n anonieme versierder se konsep van herfs. Die twee enkelbeddens het ougoud dekens oorgehad, ’n deprimerende kleur by die lig van die swak gloeilampies wat deur oranje kappe geskyn het. Die mat was bruin, die kassies funksioneel en die lak gekrap en afgeskilfer. Selfs die Gideonsbybel langs die bed het varkore gehad. Ek het neerslagtig op die bed gaan sit en om my rondgekyk. Dit was nie die romantiese herontmoeting wat ek my voorgestel het nie. Niemand het die deur oopgegooi en my naam geroep nie, daar was niemand om my te omhels en te verwelkom nie. Omdat ek nie geweet het wat om te doen nie, het ek my tas oopgemaak, nagklere uitgehaal en loop bad. Die badkamer was nie sleg nie behalwe dat die bad vir dwerge ontwerp was. Ek het om die beurt my skouers laat sak sodat my bolyf onder water kon wees, en my bene in die lug, en dan weer afgeskuif sodat my bene onder water kon wees en my bolyf hoendervleis. Gelukkig het die gelui van die telefoon my verlos en ek het twee ontoereikende handdoeke om my gewikkel en oor die bed geval om die gehoorstuk te gryp voor dit te laat was. Dit was Peter, sy stem veraf en deinend tussen ’n elektriese gekraak en gesuis oor die lyn. “Iris!” het hy geroep. “Is jy veilig daar?” “Ja, maar jy is nie. Waar is jy?” Hy het begin vertel. ’n Vreeslike sneeustorm het hulle getref en die lughawe is gesluit, die paaie onbegaanbaar en die treine tot stilstand gedwing. Ek kon huil.
“Wat nou?” het ek gevra. “Wat van my?” “Hulle sal iets doen,” het hy my verseker. “Die vertraging sal nie langer as ’n dag of twee duur nie. Hulle ken sneeu.” “Is dit so?” het ek bitter gesê. “Sielsallenig in hierdie stad. Wat moet ek doen?” “Bekyk solank die plek. Loop rond.” “En as hulle my vermoor?” Hy was ernstig. “Niemand sal jou vermoor nie, pop. Jy dra mos jou eie beskermengel met jou saam.” Ek het vinnig om my rondgekyk, maar geen teken van die Engel gesien nie. Miskien was hy ook moeg van die reis en uitgeklok vir die nag. Peter het my verseker hy kom sodra dit menslik moontlik is en in ieder geval bel hy my weer die volgende aand. Ek het my nat handdoeke gaan ophang, my pajamas aangetrek en in die bed geklim om televisie te kyk. Ek het gewens die taxibestuurder was by my, want in al drie die polisiereekse waarna ek gekyk het, is onskuldige voetgangers of verbygangers sonder enige aanleiding vermoor. Maar ná ek die lig afgeskakel het, het ek opgebeur toe ek deur die vuil venster uitkyk na die stad om my. Ek was omring van verligte stalagmiete waarvan die hoogste, skerp punte in die wolke verdwyn het. Dit was soos ’n kraalmuur om my relatief lae hotel; ek het onder die komberse ingekruip en gevoel die vee is veilig vir die nag. Die volgende oggend het ek die ontvangsklerk gebel en koffie gevra. “This ain’t the Hilton, lady,” het hy gesê en my verwys na ’n koffieplek om die hoek. Die lug was skoon en blou, maar die sypaadjies het wit gelê van die sneeu. Ek het nie meer as ’n halwe blok gestap nie voor my ontoereikende skoene waternat was en my tone yskoud. Al die ander voetgangers het doelgerig deur die sneeu gesloeg en my meewarig aangekyk soos ek glyend van lamppaal tot lamppaal beweeg het. Dis die stad waar ’n mens dood kan neerslaan en mense oor jou sal stap, het ek onthou en dankbaar by die koffiekroeg ingesteier. Die vloer was nat en sopperig van die gesmelte sneeu en vuil wat die mense ingetrap het, maar die koffie was warm en die ontbyt vullend.
Ek het met my hande om die koppie gesit en gewonder waar ek ’n paar stewels sou kon koop. Skuins oorkant my het ’n man gesit met ’n jong gesig en silwergrys hare. Om sy nek het twee kameras gehang en dit het my herinner dat ek moet begin foto’s neem sodat ek iets het om vir Ma-hulle te wys. Ek het my ook voorgeneem om ’n gidsboek te koop sodat ek kan weet waar ek is, wat ek behoort te doen en miskien selfs wie ek behoort te wees. “Jy is nuut hier,” het iemand langs my gesê en toe ek opkyk, het ek die silwerharige man langs my tafeltjie sien staan. “Ja,” het ek agterdogtig toegegee. Hy het sy hand uitgesteek. “Ek is Joe Pryor.” Ek het my naam genoem en sy aangebode hand geskud. (Stel moordenaars hulle so formeel aan hul slagoffers voor?) “Waarheen is jy op pad?” het hy gevra, die ene sjarme. “Ek moet stewels gaan koop. En geld wissel.” Ek was dadelik spyt dat ek dit gesê het. Hy sou my natuurlik begelei, so behulpsaam soos kan kom en nes ek die geld in my hand het, sou hy my besteel. “Ek sal jou wys waar jy die gouste geholpe kan kom,” het hy aangebied. “Dis nie nodig nie.” “Moenie alle mense wantrou nie.” het die Engel grimmig in my oor gefluister. Ek het omgeswaai, maar soos te verwagte was hy klaar weer weg, vermeng met die rook en wasem van die verhitte atmosfeer. “Goed,” het ek gesê en opgestaan. As die Engel my dan wou uitlewer aan die eerste die beste rokjagter in die stad, was ek my koulike hande in onskuld. Eers by die toonbank het ek besef ek het nie geld om te betaal nie, en ná Joe my rekening vereffen het, was ek ordentlik in sy mag. “Ek betaal jou terug nes ek geld getrek het,” het ek vinnig gesê. “Dis net dat . . . wel, die taxi van die lughawe was so vreeslik duur en ek het skoon vergeet dat . . .”
Hy het gemaklik gelag en die swaaideur vir my oopgehou. Natuurlik het ek met my Boeretrots daar uitgestap asof ek kaalvoet in ’n klipperige stofpaadjie loop en dadelik gegly en teen die deurkosyn gebots. Joe het kalm een van sy kameras gelig, my afgeneem in my verwronge posisie, hare slierte oor die gesig, en toe sy hand uitgesteek om my aan die elmboog te vat. “Kom, ek neem jou na ’n afdelingswinkel waar jy stewels kan koop,” het hy voorgestel. “En daar’s ’n bank op die grondverdieping.” “Vir wat het jy my afgeneem?” het ek kwaad gevra. “Dink jy jy is hier om ’n moderne pelgrim se tog deur die bose stad vas te lê?” “Dit was so ’n mooi prentjie,” het hy kalm gesê. Ek het my mond gehou en op my voete gekonsentreer. Soos meer voetgangers die sneeu omgekarring het, het dit vuil en nat geword en by straatoorgange het ek soms tot oor my enkels in poele bruin water getrap. As my nat voete nie reeds gevoelloos was nie, sou dit ’n pynlike tog gewees het, want ek kon voel hoe die nat leer van my skoene aan my vel rem. “Het jy nie iets beters om te doen nie?” het ek gevra toe hy my uiteindelik deur die groot glasdeure van ’n winkel stoot. “Nee.” In die skoenafdeling het ek my klam hare agtertoe geskud en gesien hoe die kamera flits. Ek het dit geïgnoreer en toegelaat dat die assistent tongklikkend my blou voete meet. ’n Seëning was dit, ’n warm omhelsing toe my voete gehul is in wolsokke en stewels met trekkerbandsole. “Aa,” het ek gesug en die helfte van my Kersfeesbonus aan die winkeldame betaal. “Dis so,” het die Engel agter my beaam, maar ek het my nie aan hom gesteur nie omdat hy natuurlik nie regtig bestaan nie en bloot so opdringerig geword het omdat hy Peter se telefoongesprek afgeluister het. “Waarheen nou?” het Joe gevra en self geantwoord. “Wat van die park? Ek kan mooi foto’s van jou neem.”
“Verskoon my,” het ek beleef geantwoord. “Maar wat is hierdie beheptheid met foto’s neem? Nie eens as baba is ek so gedurig afgeneem nie. ’n Derde kind se oulikhede is ou nuus en . . .” “Jy’t ’n interessante gesig. Ons kan iets daarvan maak.” Ek het ’n paar potensiële leuens agtermekaar gekry. Sou ek noem dat my ma by die hotel vir my wag? “My agent sal nie hiervan hou nie,” het ek die swakste moontlike verskoning opgediep. “Agent? Ek het nie geweet jy het een nie.” Hy het die lensdop van die kamera teruggedruk. “Wie is hy? Ons kan ’n ooreenkoms aangaan.” “Sy naam is . . . wel, eintlik het ek hom nog nie ontmoet nie. Hy het my hierheen ontbied en ek eet vanaand saam met hom.” “Sies,” het die Engel in my oor gesis. “Jy lieg,” het Joe vrolik gesê en my aan die arm gevat. “Kom, ons gaan park toe. Onder sy sneeukombers gaan dit mooi lyk.” Ek is saam, holderstebolder in ’n geel taxi in met twee groot plakkers teen die agterste sitplek. Die een het ons verbied om in die voertuig te rook en die ander een het ons vertel dat ons summier uitgesmyt sal word as ons met die bestuurder praat. Ek het my lippe op mekaar gedruk en gekyk hoe geboue en straatname wat ek uit bioskoopprente of televisiereekse leer ken het, in hulle normale, effens verweerde toestand by my verbyflits. Ek het gewonder waarom ’n naambord met “Fifth Avenue” op veronderstel was om meer opwinding te veroorsaak as een waarop “Kerkstraat” staan.
“Waar kom jy vandaan?” het Joe gevra en inbreuk gemaak op die assosiasies wat die onderskeie straatname by my wakker gemaak het. Ek het gekug. “Suid-Afrika.” Die bestuurder het so hewig van rat verwissel dat die motor stokkerig geruk het. Hy het vinnig in sy truspieëltjie na my gekyk en ewe vinnig sy oë laat sak.
“Sowaar,” het Joe gemompel. “Dis die eerste keer dat ek een van julle ontmoet.” Ek het liewers nie geantwoord nie. “En jy lyk so ordinêr.” “Ek is. Ons is eintlik almal. Ons loop, ons praat, ons sê ‘mamma’.” Hy het gegrinnik. “Onder andere.” Ek het my hand op die deurknop gesit, of waar die deurknop behoort te gewees het, en koel gevra om uit te klim. “Natuurlik,” het Joe gesê en vir die bestuurder gewink. “Ons is hier.” Ek het uitgeklim en verwonder gestaan en kyk na die sneeubedekte woud wat so onverwags tussen die betonstrukture verskyn het. “Mooi, nè?” het Joe geselserig opgemerk. “’n Oase eintlik.” “Hier vermoor julle mos op groot skaal,” het ek styf gesê. “Nie bedags nie.” Hy het my aan die arm gevat en ons het begin loop terwyl hy feite aframmel, soos hoeveel bome daar groei, hoe groot die oppervlakte is, hoeveel mere en dammetjies daar is en waarvoor die park alles gebruik word. As hy ’n besondere mooi sneeubelaaide boom gesien het, moes ek met my nuwe stewels soontoe ploeg sodat hy ’n foto kon neem. Dit was vir my onbegryplik waarom hy my wou afneem, ek was ongegrimeer en ek het geweet my neus raak rooier en natter hoe verder ons loop. Daarby was daar vir my iets twyfelagtigs in my gewilligheid om tog te doen wat hy vra. Waarom sit ek so maklik my glas (of koppie) neer en volg as iemand vir my sê: “Kom”? Ek was nog nie vier en twintig uur in ’n stad met ’n reputasie wat veel te wense oorlaat nie, wat op Ouma se prent onteenseglik Die Breë Weg sou voorstel en hier strompel ek koelmoedig agter ’n totale vreemdeling deur die park sodat hy my kan afneem. Vir al wat ek weet, kon hy my doodslaan net om my nuwe sokke en stewels te steel. “Kyk na my!” het Joe geroep net toe ’n versierde perdekar verbyklingel. Die perde se asems het blou wolke gemaak en die man op die bok het sy swepie gelig en vir my gewaai. Agter hom, onder ’n karos, het ’n jong paar gesit, hulle
wange rooi en hulle hare krullerig klam om hulle gesigte. “Toeriste,” het Joe gesê. Ek het aangestap. Ten spyte van my warm skoeisel was ek koud. En ek was moeg om deur ’n vreemde man aangejaag te word. Ek wou alleen wees, maar ek het nie geweet hoe ek die man kan afskud nie. Redding het uit ’n onverwagte oord gekom. Toe ons om ’n draai gestap kom en ek skielik weer vir Fifth Avenue anderkant die reling sien, het ek die een bekende gesig op ’n bankie sien sit, ’n oop kartondosie op sy skoot en ’n plastiekbekertjie aan sy lippe. Die swart taxibestuurder. “Hallo,” het ek vir hom gesê en my na Joe gedraai. “Ons kan hier afskeid neem.” Ek het doelmatig langs die bestuurder gaan sit en die benieude uitdrukking op sy gesig verbygekyk. “En nou?” het Joe gevra. “Nou groet ons.” Joe het sy skouers opgehaal. “Waar kan ek jou kontak?” Ek het die naam van my hotel genoem en in die verte gestaar sodat hy kon sien ek is klaar gesels. Met ’n effense buiging het hy toegegee, rats oor die reling gespring en weggeloop tussen die voetgangers. “Dit moes jy nie gedoen het nie,” het die man langs my deur ’n mond vol kos gesê. “Wat moes ek nie gedoen het nie?” “Jou adres gegee het.” Ek het verlangend na die halfgeëte hamburger in sy hand gekyk. “Waar het jy dit gekry?” Hy het sy kop geknik in die rigting van ’n karretjie wat in ’n stoomwolk gehul onder ’n blou-en-rooi sambreel gestaan het. Ek het geld uit my handsak gehaal en wou net opstaan toe hy dit by my vat. “Dieselfde?” het hy gevra en sy eie
broodjie in die lug gehou. “Asseblief.” Toe ons weer langs mekaar sit, het hy met die agterkant van sy hand oor sy mond gevee en na my gekyk. “Ken jy hom?” het hy verbaas gevra. Ek het my storie vertel. “En jy was dan so bang om vermoor te word?” het hy gesê. “En dan foeter jy saam met die eerste die beste man wat jou optel. Waar is jou kêrel?” “Vasgevang in die sneeu. En ek moes stewels kry,” het ek myself verweer. “En die foto’s? Wat gaan hy met die foto’s maak?” Ek het gesug. “Ek weet nie.” Hy het hard met sy tong geklik en ’n krummel teen sy baadjielapel gespoeg. “Jy soek moeilikheid en jy gaan dit kry.” “Wat is jou naam?” het ek gevra omdat ek gevoel het ’n mens kan nie jou lewensfilosofie sit en verduidelik aan iemand wie se naam jy nie eens ken nie. “Billy. Joune?” “Iris.” Hy het breed geglimlag en ek moes toegee, hy het baie goeie tande gehad. “My suster is ook Iris.” “Daar het jy dit dan,” het ek voldaan gesê. “En waar is jou taxi?” Hy het sy hand gewaai in die rigting van ’n ry geparkeerde geel taxi’s. “Dis my etensuur.” “Is dit al so laat?” Ek het na my horlosie geloer. “Sowaar. Jy sien, my ouma het haar eie spesiale Engel gehad en ek het die gevoel die man is nou by my. Saamgevlieg, blykbaar.” Billy het sy oë gerol. “Uh-huh.”
“Dis dié dat ek seker nie so versigtig is soos ek behoort te wees nie. Ek reken die Engel sal my pootjie of so iets as ek te ver gaan.” Hy het sy kop geskud en die plastiekbekertjie tussen sy groot hande verfrommel. “Mense luister nooit regtig na my nie. Veral nie my familie nie.” “Is dit so?” “En dan is daar my naam. Iris. In die mitologie het dit ’n paar verskillende betekenisse gehad. Dienares van hoëre gode is een. Of godin van die reënboog. Ek glo nie eintlik die laaste een nie, maar die eerste een is wel van toeing. Ek is gedurig besig om ander mense te bedien. Maar dan is daar ook die blom. Het julle ook irisse in julle tuine?” “Uh-huh,” het hy weer gesê en ’n sigaret uit sy baadjiesak geskud. Hy was kennelik nie verwant aan die bestuurder wat my en Joe by die park afgelaai het nie. “Hulle blom net een keer per jaar,” het ek hom herinner. “En dis miskien ook een van die redes waarom ek nie altyd nee sê as ek dit behoort te doen nie. Ek glo al sedert my skooldae dat ek, soos my botaniese naamgenoot, die een of ander tyd moet blom en dat ek dus te alle tye gereed moet wees en nooit ’n nuwe aanbod van die hand mag wys of ’n potensieel opwindende situasie onbenut mag laat nie. Verstaan jy dit?” “Hel,” het hy gesê. “My suster het nog nooit aan hierdie goed gedink nie. Iris is haar naam. Dis al. Toeval, dis wat dit is. My ander suster is Daisy.” Ek het dankbaar aan die skroeiend warm koffie gesluk. “En is sy soos ’n daisy?” Onthuts het hy die verkraakte koppie met ’n netjiese onderarmse gooi in die asblik laat val. “Hoe’s ’n daisy?” “Fladderend, lig op die voete, koppie na die son.” Billy het begin lag. “Son of a bitch. Jy’s reg. Dis nes sy is. Laat haar blare ook glad te maklik val, as jy my vra.” Ek het tevrede aan my hamburger begin eet. “Sien. Ek’s nie mal nie. En ek glo
ook nie aan toeval nie. Dinge gebeur soos dit veronderstel is om te gebeur. Soos jy. Behalwe die hotelklerk is jy die enigste mens wie se gesig ek ken. As wetenskaplikes nou die ding reg moes uitwerk, wat dink jy is die kans dat ek die een mens wat ek ken tussen agt miljoen sal raakloop? Hulle sal lag. Dit kan nie gebeur nie behalwe as dit so bedoel was. En dit was. Want ek wou wegkom van daardie vent met sy ewige geklik van kameras.” Billy het ’n vars sigaret aangesteek en oor sy skouer na sy motor gekyk. “Dis seker waar wat jy alles sê,” het hy erken. “En dit bring my terug na die man. Jy moet versigtig wees. Ek ken hierdie stad. Jy’s ’n kind hier. Dis alles goed en wel dat jy wil blom, maar gestel die man spit jou uit?” Hy het gegrinnik vir sy bevredigende beeldspraak. “Dit kan ook gebeur. Nie alle bolle kom tot bloei nie. Dis beter om maar in jou pasoppens te wees.” “Maar as ek in my hotelkamer bly sit, gaan ek niks ervaar nie. Nie goed of sleg nie. Dan kon ek net sowel by die huis gebly het. Ek moet iets ondervind wat ek vir Ma-hulle en Johanna kan vertel.” Ons het ’n rukkie in gemeenskaplike stilte gesit tot ek aan iets gedink het. “Miskien moet ek dit juis doen vir Ma en vir Johanna.” “Is dit jou suster?” “Nee, Elsa is my suster. Johanna is ons huishoudster.” Ek het na hom geloer om te sien watter effek hierdie aristokratiese verduideliking op hom het. “Sy’s swart. Bruin eintlik.” “Ek het nie gedink sy’s wit nie,” het hy gesê, darem nie te smalend nie. “Sy’s verwant aan die hele voorgeskiedenis van ons land,” het ek ter versagtende omstandighede aangevoer. “Dingaan, de lot.” “Wie’s Dingaan?” Ek het hom vertel en terselfdertyd gesoek na ’n soortgelyke figuur uit die Amerikaanse geskiedenis. Al name waaraan ek kon dink was Davy Crockett en Big Chief Sitting Bull en dit was bloot omdat my oom Andries my as kind ’n prenteboek present gegee het waarin afbeeldings van hierdie twee was. Dingaan se portuur was hulle nie. “Ons Bloedrivier was half soos julle slag by die Alamo. Soort van. Maar wat ek van Johanna wou vertel, is dat sy graag dinge sou wou doen. Dis waarom ek my onder ’n verpligting voel. Vir Ma omdat sy dit nooit
sou doen nie en vir Johanna omdat sy dit so graag sou wou ervaar.” Billy het gegrom. Vir my het hy verward gelyk. “Ek moet nou gaan,” het hy gesê en opgestaan. “Ryk sal ek nie word van sit en klets in die park nie.” Ek het my leë bekertjie en servet in die asblik gegooi en ook opgestaan. “Kan jy my verduidelik hoe om terug te kom by die hotel?” Hy het swaar gesug. “Ek sal jou neem.” “Dis nie nodig nie. Ek kan stap. Jy’s te duur.” Hy het sy oë opgeslaan na die lug waar wolke stadig aan die nader kruip was. “Waarom ek?” het hy gevra. “Waarom word ek uit agt miljoen mense gekies om ’n dom Suid-Afrikaner te help?” “Ek’s nie dom nie,” het ek gekrenk gesê. “Kom,” het hy gesê. “It’s on the house.” Terwyl ons deur die nimmereindigende, dreunende, skellende verkeer geworstel het, het hy van tyd tot tyd na my in die truspieëltjie geloer. “Jy kan wragtig op ’n mens se gevoel werk,” het hy bitter gesê. “Ek het vanoggend die koerant by my vrou gevat en wat was die eerste ding wat ek lees? ’n Vroumens wat nie honderd myl van jou hotel af nie vermoor is. Ek moes my keer of ek het reguit soontoe gery om te kyk of jy nog leef.” Ek het tevrede reggeskuif en sommer met my hand die modderspatsels van my nuwe stewels afgevee. “Dan was ek reg. Dit was nie toeval nie. Jy het aan my gedink, ek het iemand nodig gehad en die logiese gevolg is dat ons mekaar moes ontmoet.” “Jeez,” het hy gesê en sy kop geskud.
Billy het my voor die hotel afgelaai, omgedraai en sy telefoon- en taxinommer op die afgeskeurde agterkant van ’n sigaretpakkie geskryf, en my gemaan om weg te bly van vreemde mans. “Ek weet nie hoekom nie,” het hy gesê, “maar ek het die gevoel dat ons mekaar weer sal sien. Have a nice day.”
“Dankie,” het ek gesê en verby die afkeurende klerk geloop in die rigting van die hysbak. My voete het gesleep, my ooglede het halfmas gehang. Dit was asof die koue buite ’n verdowende uitwerking gehad het, ’n effek wat eers voelbaar geword het toe ek die verhitte hotel betree. Ek kon skaars my oë oop genoeg hou om die sleutel in my kamerdeur te pas; herhaaldelik het dit verby die sleutelgat gegly en op die mat geval. Ek het dom gevoel, en gedisoriënteer. In die kamer het ek my stewels uitgeskud en lankuit oor die ougoud deken geval. Ou reuke, van vergane parfuums of seep of lyfpoeier het uit die materiaal opgeslaan en ek het dit eenkant toe gegooi en my kop in die kussing gedruk. Ten minste het die bedlinne net na seep geruik. Ek sou daarop kon slaap.
Dit was vieruur toe ek, deur borrels slaap en droomflardes wat soos seegras aan my kleef, weer na die oppervlak gedobber het. Dit was swaar om wakker te word, ek wou terugduik na die donkerte waar ek saam met Peter gekuier het; nie tussen sneeuvelde nie, maar op die geel, verdorde grasveld van ’n plaas wat ek nie geken het nie en wat in die droom klaarblyklik ’n vertroude plek was. Ná ek my gesig gewas het, het ek op die bed gekniel en uitgekyk na buite. Die gedreun van die verkeer was intenser, die geloei van sirenes het soos linte deur die geluid gevleg. Ek het onthou wat Joe my vertel het, dat die verkeersgeluide op band beskikbaar is vir mense wat tydens hulle vakansies in rustiger oorde nie kan slaap nie as gevolg van die stilte. Ek het nog steeds gedink hulle is mal, soos ek die oggend vir hom gesê het, maar ek kon terselfdertyd nie die polsslag van die stad weerstaan nie, ek moes uit. In die portaal het die klerk grimmig na my gekyk en op ’n skielike ingewing het ek na hom gedraai. “Wat doen ek verkeerd?” het ek gevra. Miskien was dit die slaapwiere, wat nog half om my bene gedraai was en my teruggerem het na die droomwêreld, wat my so vermetel gemaak het. Ek weet nie. Al wat ek geweet het, was dat ek twee uur of so saam met ’n liefdevolle Peter, wie se gesig nie eens meer vir my duidelik was nie, deur velde geloop het waar niemand grimmig na my gekyk het nie . . . Die klerk het sy dun lyf ontvou en regop gekom. “Wat sê jy?” het hy beleef gevra.
“Ek wil weet wat ek verkeerd doen. Jy gluur na my as ek hier deurstap. Moet ek my skoene uittrek? Moet ek buig of soentjies waai?” “Natuurlik nie.” “Wat dan?” “Ek weet nie wat jy bedoel nie.” Ek het nader gestap. “Jy pla my. Ek is vreemd hier, soos ongetwyfeld die meeste van jou gaste. Jy kan ons help deur vriendeliker te wees, meer tegemoetkomend.” “Is dit so?” Hy het effens geglimlag. “Ja.” Ek het pure Pollyanna gevoel en ’n ander rigting ingeslaan voor hy my te lyf gaan. “Terwyl ek nou hier is, het jy dalk ’n kaart waarop jy die ligging van die hotel kan aanstip? Nes ek twee blokke omgestap het, is ek my rigting kwyt.” “Kan tog nie wees nie,” het hy gesê. “Die stad is logies uitgelê, die strate is genommer. As jy kan tel, kan jy regkom.” “Ek kan tel,” het ek hom verseker. “Maar ek sal ’n kaart van nut vind.” Hy het afgebuig en ’n brosjure onder die toonbank uitgehaal. “Hier is ons,” het hy gesê en sy vinger op die oopgevoude kaart gedruk. “Trek vir my ’n kruisie. Asseblief.” Hy het dit gedoen en die kaart oorgeskuif na my. “Here you are.” “Dankie.” Ek het dit weer opgevou en in my jassak gedruk. “Is jy getroud?” “Dit het niks met jou te make nie. Hoekom wil jy weet?” Ek het my ken gelig en begin aanstap. “Ek dag ek kan dalk met haar gaan praat.” “Ha!” het hy geroep. “Waar kom jy vandaan?” “Suid-Afrika,” het ek gesê en vinniger gestap. Kon die man nie die lees
nie? “That figures!” het hy teen my verdwynende rug geroep. Ek het aangestryk en gewonder wat dit veronderstel was om te beteken. Was ons te gesteld op vriendelikheid (wat mensliewendheid impliseer) of was ons inmengerig (waarvoor ’n sekere mate van brutaliteit nodig is)? Daar was nie tyd om te tob nie, ek is voortgestoot deur die massa mense wat soos ’n trop beeste doelgerig vorentoe gestu het. Ons asems het wolkies gemaak en ek het my jaskraag opgedruk en my kop laat sak. ’n Snydende wind het deur die tonnels tussen die hoë geboue gejaag en toe ek verby ’n winkel stap met kleurryke musse en serpe in die uitstalvenster, is ek daar in om te koop. Dit het gehelp, my ore het nie meer gevoel asof dit sal afbreek as iemand aan daaraan stamp nie. En ek het my laat meevoer en opgekyk na die duiselende pieke hoog bo ons wat gelyk het asof hulle vorentoe buig, na mekaar toe, soos die Venus-plant wat sy steeksels oorkruis toemaak en die insekte wat hy gevang het tydsaam verteer. Ek is uit die gang gestoot en meteens was daar ’n skyf aarde voor my, soos ’n sny koek, wat die straat skerppuntig na twee kante toe verdeel het. Ek het weer eens opgekyk en gesien hoe een gelerige struktuur deur die laatmiddagson verlig word sodat dit uitstaan tussen sy grys metgeselle. Dit was so pragtig dat ek weggebeur het tussen die mense en met my rug teen ’n paal gaan staan en opkyk het. Ek het koud en verlate en waardevol gevoel, asof ek uitverkies was om hierdie skouspel gade te slaan, maar dan alleen, sonder iemand aan wie se mou ek kon pluk om dit saam met my te geniet. Ek het geskrik toe ’n skril klokkie naby my oor lui en het omgekyk om te sien waar die geluid vandaan kom. ’n Vet Kersfeesvader in ’n rooi pak waarvan die fleur af was, sy wattebaard flarderig en ongelyk aangeplak, het voor die ingang van ’n winkel gestaan en sy klokkie gelui. Eers het ek gedink hy kollekteer vir iets, maar ek kon geen bussie sien nie. Klaarblyklik moes hy maar net die mense se aandag rig op die smaakvol versierde winkel en dus die heerlikhede binne waar die kass se geklingel die nuwe lied van die Kerstyd aangehef het. Op daardie oomblik sou ek my lewe gegee het vir Polder se warm tong teen my gesig of Ma se “Maar darling, vir wat staan jy hier? Kom saam, ons gaan straks eet.” Vir oulaas het ek opgekyk na die geel gebou. “That’s the Empire State, honey,” het die Kersvader vir my gesê. “Regtig?” Ek het nie verwag dat so ’n oorbekende baken terselfdertyd ook mooi
kon wees nie. “Dis die son daarop,” het ek aan hom verduidelik maar hy het klaar weer weggedraai en was sy klokkie aan die lui in ’n ander rigting. Ek het aangestap, my maag woelend van die hongerte, en gesoek na ’n eetplek op Broadway. Terwyl ek geloop het, het ek meteens weer aan Greta en Eduard gedink. Vir die eerste keer in ’n lang tyd. Ek het gewonder of Greta nie dalk ook nou in New York sou wees nie en waar sy vir die hoeveelste keer haar Eduard sou raakloop. “Oppas!” het die Engel vir my gesis en ek het rats eenkant toe gespring voor ’n jong seun op ’n skaatsbord my middeldeur kloof. Ek het gesug. Met die Engel ook by, is Greta en haar geliefde tersyde gestoot; het my verbeeldingsvlugte oorbevolk geraak. En tog, het ek gedink, toe ek in ’n delikatesse beland, op ’n klein smeedysterstoeltjie by ’n tafel die grootte van ’n sopbord, bly my hoofkarakters altyd huiwer in die voorstede van my brein. En die rede waarom hulle nou na vore kom, kon wees omdat ek alleen en skrikkerig in ’n vreemde plek was. Greta se habitat. Daarby was my eie Eduard vir my op daardie tydstip ewe vaag as Greta s’n. Ek het Peter bykans twee jaar nie gesien nie; die aand toe ek opgestaan het en hom na sy woonstel gevolg het, was in ’n verre verlede wat nie so maklik meer herroepbaar was nie. Die jare tussenin, gespikkel met poskaarte, was lank en vol ervarings en foute en belaglikhede wat ons nie met mekaar gedeel het nie. So iets is belangrik. Hier het ek in ’n hotelkamer gesit – en ’n trenserige een daarby – wagtend op ’n geliefde wat heel moontlik minder bekend gaan wees as Billy die taxibestuurder. Dit het my laat dink. Ek het my stoel effe agteruit gestoot en my bestelling geplaas. My kop was tussen ’n rak vol koffiebone en ’n staander met laai op laai geurende brode. Ek was bang iemand wil my koop, sal na die eienaar gaan en sê: “Twee van die stokbrode daar oorkant asook die meisie in die middelste spasie.” Maar niemand het na my gekyk voor die plek so oorvol geraak het dat ’n vrou kom vra het of sy oorkant my mag sit nie. “Seker,” het ek gesê en sy het haarself ingewurm tussen die aangrensende tafeltjies en hulle insittendes. Dit het snaaks gelyk, asof sy kwaaivriende met hulle was. Haar skouers het aan weerskante geraak aan dié van haar onderskeie bure behalwe dat sy na vore gekeer was en hulle na agter. Kompleet asof sy haar vir hulle gewip het en haar stoel omgeswaai het.
“Wat is so snaaks?” het die vrou gevra. Ek het die glimlag van my gesig gevee en my ernstig na my kos gewend. “Nee, nee, niks nie,” het ek haar verseker. “Toeris?” het sy gevra ná sy haar bestelling geplaas het by ’n bakker met rooi wange en ’n meelbestrooide voorskoot. “Ja.” “Van waar?” Ek het net ’n oomblik geweifel. “Honduras.” Haar hele gesig het verander. Waar sy vantevore gespanne en haastig gelyk het, soos die meeste van haar stadsgenote, het sy meteens oopgeblom, stralend van mensliewendheid. “Tegucigalpa?” het sy gevra. Ek het swaar gesluk. “Ekskuus tog?” Sy het weggeval in Spaans, haar hande swaaiend oor ons beknopte tafeltjie sodat ek na my koffiekoppie gegryp het voor dit in die slag bly. Toe sy klaar was, het sy vraend na my gekyk asof ek haar ’n antwoord skuldig was. “Ek is jammer, ek verstaan nie Spaans nie,” het ek erken en reg gesit om my rekening te gryp en te laat spaander. “O,” het sy gesê en teruggesit, net om weer vorentoe te skiet toe haar buurman haar veronreg aankyk en iets van sy lapelle dep wat haar skielike aanraking hom laat mors het. “Ek het net ’n grap gemaak,” het ek gesê. “Ek kom van Tegucigalpa,” het sy in Engels gesê. Ek het ingenome probeer lyk. “Is dit so?” Terwyl sy haar omelet met gerookte vleis geëet en ek ’n tweede koppie koffie gedrink het, het sy my haar lewensverhaal vertel. Om mee te begin, was sy presidente van ’n groot in- en uitvoeronderneming, ’n feit wat my verbaas het
omdat sy nie veel ouer as dertig kon gewees het nie. Haar oupa was ’n generaal en haar pa ’n minister en sy het grootgeword in ’n paleis, wemelend van bediendes wat tot haar hare vir haar geborsel het. Sy het vir die eerste keer in haar lewe ’n bed opgemaak toe sy sestien was. (Ek het gewonder wat Johanna daarvan sou sê aangesien sy ons van agtjarige ouderdom af wild en wakker opgeklop het om ons eie beddens op te maak omdat dit haar rug moeg maak.) Maar, het Maria voortgegaan (haar volle naam was Maria de Jesus, wat ek lasterlik gevind het), daar was ’n coup en oornag was die paleis weg en daarmee saam die vloot blink motors, die bediendes en chauffeurs en voorregte. Die nuwe regering het dit verkies dat die opposisie in die tronk bly waar hulle nie probleme kan veroorsaak nie. Haar pa is opgesluit, haar ma het by ’n oom op die platteland ingetrek en met hoenders geboer en sy wat Maria was, het gevlug na Meksiko. Daar het sy as kindermeisie gewerk, waatlemoene gepluk en op agtienjarige leeftyd getrou sodat sy kon rus en iemand anders die brood kon verskaf. “Was jy darem lief vir hom?” het ek, skepper van romantiese maaksels, gevra. “Nee.” Sy het haar skouers opgehaal en iets in haar eie taal gesê. Ek het begrypend geknik terwyl sy somber aan haar broodrolletjie gekou het met oë wat ver verby my na die verlede kyk. Aan swaarkry kom egter ook ’n einde en vyf jaar vantevore was daar weer ’n ongeselligheid in die land en is die regering omvergegooi. Haar pa het triomfantlik uit die tronk gestap; die paleis, blink motors en al die aanhangsels teruggekry en die vorige regering na die tronk genooi. “Kan jy meer,” het ek bewonderend opgemerk. Maria is uit die waatlemoenlande herroep en haar pa het haar gevra wat sy die graagste sou wou doen. Om ryk te wees en in Amerika te woon, het vir haar na ’n goeie voorstel geklink en dit is hoe sy die boonste sport bereik het. “Maar vertel my van jouself,” het sy genooi. “Ek praat te veel.” “Ek sou graag wou, maar ongelukkig is ek klaar laat,” het ek gesê en my hand uitgesteek. “Dit was gaaf om jou te ontmoet. Sterkte.” Ek het vinnig deur die tafeltjies gesukkel na die toonbank waar ek betaal het. By die deur het ek teruggekyk en haar sien sit. Ek het my hand gelig in ’n groet, die deur oopgestoot en uitgespring in die koue.
By die hotel was daar pos. ’n Ander klerk, seker lid van die nagskof, het die koeverte vir my gegee toe ek my sleutel kry. Hy het my skerp aangekyk en ek het gewonder of sy kollega hom omtrent my ingelig het. Daar was ’n brief van Ma en een van Johanna. Ma het gelukkig geklink en vertel hoe sy saans Pa se sokkies sit en stop. Sy weet nie of hy net met sokkies aan oor die klippers loop en of dit is omdat hy vergeet om sy toonnaels te sny nie, maar sy kouse is in ’n slegte toestand. Dis ook nie maklik om met wol te werk in die Desember-hitte nie. Verder het klein Johan ’n week by hulle gekuier omdat Hannes eksamen geskryf het, en die kind was vir haar ’n vreugde. Hy het vir hom ’n plaas uitgelê tussen die petunias en sy oupa dink hy is ’n potensiële boer. Johanna se brief was skerper. Die hitte was verskriklik, my kamer was ontstellend leeg en die klein snotkop dra die huis vol grond. Sy het my gemaan om warm aan te trek alhoewel sy nie kon verstaan hoe enigiemand in Desember kan winter hê nie en dat dit volgens haar swak beplan is omdat almal tog weet dat Julie winter is. Sy het ook die hoop uitgespreek dat ek my hare sal laat kap by een van die haarkappers wat sy op televisie gesien het, want my huidige steil, regaf gesnyde kapsel was nog nooit vir haar mooi nie en gaan Peter verskrik. Sy het haar brief geëindig met die vermaning dat ek versigtig moet wees, nie met vreemde mense moet praat nie en moet lig loop vir die negers “omdat hulle nie soos ons is nie”. Ek het ’n klein bietjie gehuil oor die briewe en my voorgeneem om ’n foto te neem van Billy sodat ek dit vir Johanna kon wys. “Wil jy regtig kom?” het ek vir Peter gevra toe hy later bel. Ek het weer eens net uit die bad gekom, my bene lam van die ver loop, die onvertroude gewig van die stewels en die klouter oor omgedolwe, vuil, bevrore sneeu. “Iris,” het hy gesê. “Nee, ek wil regtig weet. Onthou jy nog hoe ek lyk?” “Ek onthou.” Die lyn het skielik dowwer geword en ek het gewonder of die nagklerk inluister. “Ek sal môreoggend daar wees.” “Moet ek jou ontmoet of iets?” “Nee, wag by die hotel.” Sy stem was weer helder, die klerk moet die gesprek
vervelig gevind het. “Wat het jy vandag gedoen?” “Ek was vanoggend in Central Park saam met ’n man wat heeltyd foto’s geneem het van my en toe saam met die taxibestuurder wat my gisteraand na die hotel toe gebring het.” Daar was ’n stilte. “Hoekom?” het hy uiteindelik gevra. “Ek weet self nie. Hy sê hy kan iets van my maak.” “Wie?” “Joe, die fotograaf. Ek dink hy’s een, miskien het hy net ’n kans gevat, maar dit het my tog voorgekom asof hy weet van kameras.” “Waar’s die foto’s nou?” “Ek weet nie.” “Iris,” het hy gesug. “Dier. Jy’s nie nou meer by die huis nie.” “Ek sien geen verskil nie, die geboue is net hoër, maar die mense lyk vir my dieselfde.” Ek was koppig omdat ek moeg was. “Hulle is nie. Glo my.” Ek het besluit die gesprek is vrugteloos. “Peter,” het ek gevra. “Dink jy jy’s nog lief vir my?” Dit was weer lank stil. “Ek hoop so.” “Dis lank dat ons mekaar nie gesien het nie,” het ek hom aangemoedig. “Ek besef dit.” “So ons moet maar sien hoe dit gaan.” “Sien jou môre,” het hy gesê en afgelui. Ek het nog peinsend na die stil instrument gesit en staar toe dit weer lui. Hierdie keer was dit Joe, die ene entoesiasme omdat hy die foto’s ontwikkel het en almal
volgens hom wenners was. “Kan nie wees nie,” het ek gekeer. “Tensy jy die negatiewe geverf het.” “Sorg dat jy môreoggend by die hotel is. Ek kom dit vir jou wys. Ons het baie om te beplan. Ek ry nou na ’n vriend om dit vir hom te wys.” “Nag,” het ek gesê en die telefoon neergesit. ’n Mens moet soms jou voet neersit anders omsingel die wêreld jou. Ek het vir die eerste keer geweet wat Johanna bedoel het toe sy vir ons as kinders gesê het: “Julle gebruik my op.”
Die volgende môre het ek kroeserig en deurmekaar wakker geword, ’n normale gebeurtenis, maar vererger omdat ek deurmekaar gedroom en wakker geword het met ’n droë mond, ’n vel wat na perkament gevoel en hare wat elektries weggespring het van my kopvel as ek die borsel naby bring. Eie niggie van Struwwelpeter, het ek gedink, behalwe dat my naels nie so lank was nie. Die sentrale verhittingseenheid onder die venster was so warm dat dit gesis het toe ek met ’n nat vinger daaraan vat. Ek het die venster oopgegooi en teruggesteier toe die volle geweld van die opstygende verkeersgedreun my tref. Ek kon nie wen nie. Die glase water wat ek afgesluk het in ’n poging om my koffiehonger te stil en dehidrering teë te werk het na chloor gesmaak en my wanhoop vererger. Ek het gewens ek was terug in my kamer wat so “ellendig” leeg was. Terwyl ek aangetrek het, het ek gewonder of Johanna nie al in my kamer ingetrek het nie. Sy het al lankal gedreig om dit te doen, van Pa weg is plaas toe. “Ek gaan alleen wees as jy eers die dag weg is, darling,” het Ma eendag gesê. “Johanna sal in die huis moet kom bly.” “Never,” was Johanna se aanvanklike reaksie. “Jou ma kan by my in die woonstel intrek.” Maar sy het mettertyd anders gedink. Veral wanneer sy Kara en Elsa se ongebruikte kamers onnodiglik moes skoonmaak.
Johanna het eers net in ’n kamer in die agterplaas gewoon, die standaardvertrek wat agter elke huis te vinde is, maar ek was nog klein toe sy begin agiteer het vir
’n ordentlike badkamer met pers lelies op die teëls. Kara het vir haar gesê sy het nie woorde om te beskryf hoe onnoembaar kitsch pers lelies is nie, en Johanna het gesê sy het nie geduld met iemand wat vir haar voorskryf hoe haar badkamer moet lyk nie. Pa het soos gewoonlik min te sê gehad en die teëls loop koop, weliswaar nie met pers lelies op nie, maar na genoeg om nie saak te maak nie. Die teëls was pers en die lelies wit met liggeel stuifdrade. Johanna was ekstaties en het slaphakskeentjies vir aandete gemaak om vir Pa dankie te sê. Gedurende die volgende paar naweke het Pa die ou latrine uitgebou tot ’n volwaardige badkamer terwyl Johanna en die bou-inspekteur die saak uitbaklei het. Hy wou naamlik nie hê dat die badkamerdeur direk uit haar slaapkamer loop nie, dit moes van buite betree word, en Johanna het gesê sy verseg om ’n sambreel te dra elke keer as sy wil gaan bad. Die inspekteur het haar daarop gewys dat daar ’n afdak bokant die deur was en dat ’n sambreel dus onnodig was, maar sy het vasgestaan en gewen. Pa het die man meewarig aangekyk en sy kop geskud. Daardie Kersfees het ons almal vir Johanna lilapers handdoeke, sepies, skropborseltjies of waslappe gegee, behalwe Kara wat ’n slapbandboek oor binneversiering vir die leek gekoop het. Vir die volgende paar jaar was Johanna tevrede, maar die koms van televisie het haar weer laat dink. “Ek het so gereken,” het sy vir Pa gesê ná sy vir hom beesstertbredie, rys en pampoenkoekies gemaak het. “Daardie stoepieding voor my kamer. Dit sal nie moeite wees om dit toe te bou nie, dan het ek my eie sitkamer.” “Wat wil jy met ’n sitkamer maak?” het Pa gevra. “Jy kan ons s’n gebruik,” het Ma gesê. Johanna het gesnork. “Dit sal lekkerder wees vir die tievie.” “Jy kyk mos saam met ons,” het Ma gesê. “Dit sal lekkerder wees om my eie te hê.” “Dis waar,” het Kara saamgestem. “Dan hoef ons nie aand op aand te sit en luister hoe jy met die weerman baklei nie.”
“Hy lieg.” Dit was ’n ou argument, maar Johanna het nooit ’n kans laat verbygaan om dit weer aan te voor nie. “Keer op keer hang ek die wasgoed uit oor hy gesê het daar’s ’n twintig persent motreën innie middag en wat gebeur? Die hemele skeur oop en ’n Noagsvloed was die lakens vannie draad af.” “Dit behoort nie moeilik te wees nie,” het Pa gesê. “Maar ons sal planne moet indien.” Johanna het haar oë gerol; of dit van ontsteltenis of genot was, sou ek nie kon sê nie. En weer eens het Pa elke naweek onder die sementstof gesit. Terwyl hy rooi verbrand en skurf op die nuwe dakbalke rondgekruip het, het Johanna onder gestaan en hom kloekend aangemoedig. Toe ’n onverwagte (en onvoorspelde) donderbui hom kletsnat die huis injaag, het Johanna sonder kla die vloer drooggemop en melksnysels vir aandete belowe. Daardie Kersfees het sy haar eie klein televisiestel gekry en het ons almal gehoop sy is nou tevrede. Maar eers Elsa en toe Kara is uit die huis uit, en ná Pa weg is plaas toe, het sy al hoe meer saans by my en Ma in die sitkamer kom sit. Veral in die winter is sy langtand slaaptyd terug na haar eie kamer. “Julle moet vir my ’n duikweg bou,” het sy een aand gesê toe sy haar trui stywer trek om die paar tree na haar kamer te loop en ek staan en wag het om die agterdeur te sluit. “Vergeet daarvan,” het ek gesê. “Pa bou nou kraalmure op die plaas. Hy’t nie krag vir uitgrawings nie.” “Jy in jou klein hoekie en ek in myn,” het sy aangehaal. “Jy’s welkom om in die huis te kom bly. Ons kan jou woonstel omskep in ’n speelkamer vir die kleinkinders.” “Ha!” het sy gesê. “Kleinkinders! Elsa is klaar en dit lyk my nie jy of Kara gaan ooit tot trou kom nie.” Sy het oudergewoonte na my hare gekyk. “Nie met daardie weeskindhaarstyl nie.” “Mans stel nie belang in my hare nie.” “Kan ek sien,” het sy gesê en geloop.
Ek het water op my borsel gesprinkel om my hare plat te kry en was nog aan die staar na my verkreukelde gesig in die hotelspieël toe die telefoon lui. “Hier’s ’n man vir jou,” het die dagklerk bot aangekondig. “Sal ek hom boontoe stuur?” “Wag,” het ek gekeer. “Wat is sy naam?” “Verwag jy meer as een?” “Ja.” Ek kon hoor hoe daar deur sy hand oor die mondstuk gemompel word. “Sy naam is Joe,” het die klerk gesê. Ek het my skouers opgehaal. “Ja, hy kan maar kom.” Terwyl ek wag, het ek gou my bed opgemaak dat dit darem ordentlik lyk. En ek het die gordyn toegetrek sodat my nat onderklere op die radiator uit die sig was. “Kyk net hier,” het Joe gedartel toe ek die deur oopmaak. Hy het ’n groot koevert oor die ougoud deken uitgeskud en ek het verslae gestaan en kyk na my verspreide gesig in swart-en-wit, soms fronsend, soms laggend, soms agteroor gegooi of anders vooroorgebuig en bedek deur my hare. “Is dit nie wonderlik nie?” het hy gevra. “Hoe sal ek weet?” “Ons gaan nou na die agentskap vir wie ek al vantevore werk gedoen het. Hulle gaan in die wolke wees. Ons gaan jou ontdek!” “Snert,” het ek gesê. “Ek het nog nie eens koffie gehad nie en jy praat van . . .” “Ek sal gou vir jou maak,” het hy gesê. Terwyl ek sprakeloos toekyk, het hy ’n kassie oopgemaak en die skinkbord uitgehaal wat blykbaar nog heeltyd daar versteek was. Daar was ’n ketel, ’n mandjie vol papierkoevertjies gevul met koffie, suiker of versoeter asook ’n bondeltjie teesakkies.
“Hoe’t jy geweet dis daar?” “Waar kamerbediening afgeskaf is, kry jy dit gewoonlik,” het hy gesê. “Maar dit behoort hier bo-op te wees, nie binne-in die kas nie. Noem dit vir die klerk of die kamermeisie as jy haar te sien kry.” “Liewers nie vir die klerk nie. Ons kom nie te goed klaar nie.” Hy het die koffie gemaak en een beker vir my aangegee. Ek het my lippe verbrand in my gulsigheid, maar die oggend het van kleur verander ná ek ’n paar slukke gedrink het. “Ek is so opgewonde,” het Joe gesê en op die kant van die bed gaan sit om die foto’s netjies te rangskik. “Elke fotograaf droom van so ’n ontdekking.” “Ek is kwalik ’n ontdekking,” het ek hom probeer terugbring aarde toe. “As iemand my ontdek het, was dit my ma se dokter en dis meer as ’n kwarteeu gelede.” “Drink jou koffie,” het hy gebied. “Moenie tyd mors nie. Ons moet daar wees wanneer hulle oopmaak.” “Wag ’n bietjie. Ek kan nie nou . . .” My verduideliking is onderbreek deur die gelui van die telefoon. “Die volgende man is hier,” het die klerk my meegedeel. “En so vroeg in die oggend al.” “Wat is sy naam?” Weer eens die gemompel. “Peter.” “Stuur hom boontoe,” het ek gesê en die telefoon vinnig neergesit voor hy my sy teorieë oor my lewenstyl kon vertel. “Iris,” het Peter gesê toe ek die deur oopmaak. Hy het sy tas laat val en sy arms opgelig om my te omhels toe hy vir Joe sien wat familiêr oor die bed uitgestrek gelê het, sy kop rustend op sy elmboog en my gesig om hom uitgesprei. “Wie is dit?” het hy gevra en sy arms laat sak.
“Joe, die fotograaf. Joe, dis Peter.” Terwyl die mans mekaar fronsend gegroet het, het ek na Peter gekyk. Hy het maer geword wat hom langer laat lyk het en ook oud. Nie bejaard nie, maar tog ouer. Daar was lyne op sy gesig wat ek nie geken het nie. Sy hare was ook langer nes in my droom al het die twee kroontjies nog weerbarstig hulle eie koers ingeslaan. Dit was baie stil in die kamer en by gebrek aan iets anders het ons al drie na die foto’s op die bed gekyk. “Bring jou tas in,” het ek voorgestel en die deur toegemaak ná hy dit gedoen het. “Sal ek vir jou koffie maak? Ek sal my beker uitspoel, want hier is net twee.” Niemand het iets gesê nie en ek het vinnig voortgegaan. “Kan jy dit glo dat ek nie eens geweet het die koffiegoed is in die kamer nie? As Joe dit nie gekry het nie, was ek nou al op sterwe na dood.” “Ek sou tee verkies,” het Peter gesê. “Tee? Natuurlik.” Joe het sy beker na my uitgehou. “En sommer nog koffie vir my ook.” Peter het aan die binnekant van sy wang gekou en na die foto’s gewys. “En wat is die storie hier?” Ek het vertel terwyl ek die teesakkie soos ’n forellyn in die kookwater gooi en weer uittrek. “En?” het hy gevra. “Is dit waarheen julle nou op pad is?” “Nee.” Joe het regop gesit en ongelukkig gelyk. “Waarom nie?” “Ek kan regtig nie,” het ek gesê ná ek Peter se tee vir hom gegee het en hy dit vieserig begin drink het. “Jy moet verstaan. Ek het Peter jare laas gesien en . . .” Joe het ons krities bekyk en die foto’s bymekaargemaak. “Ek is jammer,” het hy gesê maar nie geklink nie. “Ek is in die pad. Ek sal die foto’s vir hulle neem, maar as hulle reaksie gaan wees wat ek verwag dit sal wees, sal jy moet saamkom.” “Wie’s hulle?” het Peter gevra.
“Die agentskap,” het ek verduidelik alhoewel ek self nie veel geweet het nie. “Joe reken hy’t my ontdek.” Peter het verkies om te swyg. “Jy hoor wel van my,” het Joe gesê, aan sy voorkop geraak en vertrek. Ek was eintlik spyt, want sonder sy weerligafleidende effek was ek uitgelewer aan hierdie vreemdeling met wie ek veronderstel was om ’n kamer te deel. “Hoe gaan dit met jou studie?” het ek beleef gevra. “Goed.” “Is jy amper klaar?” “In Mei.” “O. En dan?” “Dan gaan ek huis toe.” Ek het sy leë koppie gevat en dit in die badkamer uitgespoel. “Die mense hou nie eintlik van ons nie,” het ek gesê toe ek terugkom. “Van Suid-Afrikaners.” “Nee,” het hy saamgestem. “Nie eintlik nie.” “Hy’s moeg,” het die Engel skielik agter my gesê. Ek het soos gewoonlik omgedraai al het ek geweet daar gaan niks te sien wees nie. “Wat is dit nou?” het Peter gevra en oor sy gesig gevryf. “Niks nie. Ek dag ek hoor . . . Jy’s seker moeg?” “Nogal. Ek het heelnag op die lughawe gesit omdat hulle gesê het daar’s ’n kans dat die vliegtuig gisteraand al sou vertrek.” “Dan wil jy seker nou slaap?” Hy het op die rand van die bed gaan sit. “Tensy jy iets anders beplan het.”
“Ek wou gaan eet het. Daar’s ’n plek net ’n paar tree van hier.” Hy het sy trui oor sy kop getrek en sy hemp begin losknoop. Ek het vinnig weggekyk en begin vroetel met die knop van die radiator wat nou louwarm was, maar nog steeds versier met my nat onderklere en sokkies. “Maak my wakker wanneer jy terugkom,” het hy gesê en lankuit oor die bed geval. Sy kaal rug het my week gemaak en ek het skielik onthou waarom ek altyd antwoord op sy roepstem. “En moet om hemelsnaam nie met vreemde mense praat nie.” “Reg,” het ek gesê, my jas uit die kas gehaal en my nuwe stewels aangetrek. “Lekker slaap.” Ek dink nie hy het geluister nie. In die kafee het ek my oë op die spyskaart gehou, soos beveel, en glad nie rondgekyk nie. Dit was nie moeilik nie; ek was rasend honger en sou na iemand gehap het as hulle met my gepraat het. Ek het ’n belegde croissant bestel, ’n warm smulhappie met eier, spek, ham en kaas op. Toe die kelnerin my koffie bring, het ek haar sommer dadelik gevra vir ’n tweede koppie. Dit was terwyl ek die tweede een drink dat ek my handsak op my skoot oopgemaak het om gou skelm my geld te tel. Met die rondskrabbel tussen sakdoeke, handskoene, paspoort en diverse ander rommel (foto’s van Polder Een en Twee) het ’n dosie vuurhoutjies op die mat geval. Ek het dit nie dadelik opgetel nie omdat ek nie kon dink wat dit in my handsak gemaak het nie, maar daar was ’n skielike beweging langs my soos iemand anders daarna gevat het. Met afgewende oë het ek my hand uitgehou maar die persoon wat dit opgetel het, wou dit nie so maklik laat gaan nie. “Van watter land kom dit?” het hy gevra. Ek moes opkyk. Die man was in sy middeljare en onversorg alhoewel die effek te wyte kon wees aan sy ongekamde hare. Hy het met groot belangstelling na die geel-en-blou dosie gekyk en sy vraag herhaal. Ek het my skouers haaks gemaak en my ken gelig. “Suid-Afrika.”
“Ek het nie so een nie,” was sy enigste reaksie. Ek het meteens onthou waar ek die dosie gekry het. Dokter Anders het dit vir my gegee toe ons een middagete saam gaan eet het sodat hy my die nuutste verwikkelinge insake sy herwonne liefdeslewe kon vertel. Ons het biefstuk gehad en ná die tyd het ek my hand uitgesteek na een van die harde, dik tandestokkies deur die bestuur van die restaurant op die tafel geplaas. Dokter Anders het my gekeer en vertel hoe ek die emalje van my kiestande sou afsplinter. Hy het die vuurhoutjiedosie uit sy sak gehaal, in een behendige beweging ’n vuurhoutjie gesplits en die een dun splinter vir my aangegee. Ek het in die rigting van die dosie geknik. “U mag dit maar vat,” het ek vir die man gesê. “Ek versamel vuurhoutjiedosies,” het hy vertel en sy stoel nader geskuif. Ek het myne ’n aks weggeskuif en my oë op my koppie gehou. “Ek het meer as duisend verskillende soorte,” het hy voortgegaan. “Eenduisend tweehonderd en twaalf, om die waarheid te sê.” Ek het weer geknik. “Ek werk nie op die oomblik nie dus het ek baie tyd om aan my stokperdjie te wy.” Ek moes opkyk. Wat het hy bedoel? Stof hy dit af, speel hy daarmee, bou hy torinkies, liasseer hy dit alfabeties of kyk hy net? “Wat doen u daarmee?” het ek gevra. “Ek soek nuwes. Elke dag bestaan die kans dat ek ’n unieke een kan . . .” Hy het vir die kelnerin gewink om nog koffie te bring en sy sakke op die tafelblad begin leegmaak. Dit was nie dosies soos my bydrae nie, maar die gevoude kartontipe, die meeste met die een of ander reklame op die skutblaadjie. Geeneen was in ’n goeie toestand nie, maar gevlek en verfrommel en nat. “Waar kry u dit?” het ek gevra. “Asblikke, meesal. Ek stap agter die woonstelblokke verby en kyk deur die asblikke.”
“Is dit nie grieselig nie?” Hy het opreg verbaas gelyk en selfs effe gekrenk. “Hoe bedoel u nou?” “Wel, behalwe vuurhoutjiedosies is daar mos ’n vreeslike gemors in so ’n blik. ’n Mens wil eintlik nie eens dink aan al die moontlikhede nie.” “Ek is nie vol fiemies nie.” “O,” het ek gesê. “Net sowel.” “Ek maak dit skoon,” het hy gesê en stukkies verrotte koolblaar van een afgetrek. “Dan pars ek dit en kyk waar dit inpas tussen die res.” “Dit hou u seker besig,” het ek beleef erken. Halfpad deur my derde koppie koffie het ek galsterig begin voel, want die koffie was sterk. “O ja. Dis ’n lewenstaak, kan jy sê.” “Maar waarvan leef u?” Sy gesig het verstrak, die hemelse vervoering terwyl hy sy stokperdjie bespreek het, weg. “Welsyn,” het hy kortaf gesê. Ek was jammer dat ek gevra het en het my koppie eenkant toe geskuif. “Ek moet nou gaan,” het ek gesê en die rekening nader getrek. “Asseblief, laat my toe om vir u te betaal.” Hy het sy hand ook uitgehou na die strokie papier. Ek het dit weggeruk. “Nee! Dis buite die kwessie. Ek behoort eerder vir u te betaal.” Hy het lieftallig geglimlag. “In daardie geval . . .” Voor ek kon keer, het hy sy rekening ook op my tafel gesit, opgestaan en by die deur uitgeloop. “Wag!” het ek geroep, maar ná hy iets vir die meisie agter die toonbank gesê het, het hy verdwyn tussen die stroom mense buite. Ek het oorbluf na die twee rekeninge gesit en kyk en gedwee my beursie uitgehaal toe die kelnerin langs my kom staan met ’n saaklike uitdrukking op haar gesig asof sy nie nou lus is vir
lang verduidelikings nie. Gelukkig het die vent net ’n toebroodjie geëet, maar ek moes ook vir die halfdosyn koppies koffie betaal. Buite het ek besluit om eers ’n ent te gaan stap. In die eerste plek om tot verhaal te kom en in die tweede plek om vir Peter langer slaaptyd te gun. Die vorige dag se sneeu was nou ’n bruin papperasie, meer plas as ys, en ek het versigtig diekant toe en daardie kant toe getrap om nie my nuwe stewels te bederf nie. Om die lamppale was die sneeu nog relatief skoon behalwe die gelerige holtes waarvoor ek nie ’n verklaring kon gee nie tot ek ’n halwe blok verder ’n hond sy been teen ’n paal sien lig. Ek het aangestap en by ’n klein, oorvol kruidenier ’n blik koffiepoeier en ’n bottel sjerrie gekoop. Die appels het lekker gelyk, maar ek het in opstand gekom teen die prys. By ’n winkeltjie wat niks anders verkoop as nuutvervaardigde, outydse Kersversiersels nie, het ek lank stilgestaan en wonder wat hulle die res van die jaar verkoop. ’n Versameling porseleinengele met dooie, geverfde oë en bolwangetjies het verskrik teruggebeur van hulle goud geverfde vlerkies. Sonder om oor my skouer te kyk, het ek gefluister: “Ek hoop jy lyk beter as dit.” Die Engel het nie geantwoord nie.
Peter het nog vas geslaap toe ek die deur suutjies oopstoot. Ek het die deken van my bed afgetrek en dit oor sy bleek rug gegooi alhoewel die kamer nie koud was nie. Hy het gemompel en gekreun en sy oë oopgemaak. “Jy’s terug. Het ek lank geslaap?” Ek het na my horlosie geloer. “Omtrent ’n uur. Sal ek vir jou vars tee maak?” Hy het regop gesit en die deken soos ’n mantel oor sy skouers getrek. Die satynagtige stof en die goue kleur het dit nogal koninklik laat lyk. “Koffie, asseblief.” Hy het na sy sigarette gesoek en een aangesteek. “Hoekom wou jy vroeër tee hê en nou koffie?” “Ek het nie van daardie man gehou nie.” Hy het opgeskuif sodat hy met sy rug teen die muur kon sit. Ek kon sien hy word wakker, ordentlik wakker. “Het jy lekker geëet?”
“Ja.” “En met niemand gesels nie?” Ek het stilgebly. “Iris. Vertel die waarheid.” “Die man het eerste met my gepraat. Wat kon ek doen?” “En wat wou hy hê? Het hy ook aangebied om jou beroemd te maak?” “Nee. Hy’t my vuurhoutjies gevat omdat hy dit versamel en toe het hy geloop.” Ek het op my eie bed gaan sit ná ek sy koffie vir hom gegee het. Hy het sy hand uitgehou na my. “Kom sit hier langs my,” het hy genooi. “Liewers nie.” “Hoekom nie?” “Jy weet wat sal gebeur.” Hy het geglimlag en ek moes my inhou of ek het oorgeduik in sy arms in. “Nou ja?” het hy gesê. “Ek dink ons moet mekaar net eers weer leer ken,” het ek preuts gesê, wel wetende dat ek nie lank sal uithou nie. Maar op daardie oomblik het die telefoon, daardie altyd teenwoordige deus ex machina, gelui en ek het dit opgeraap. “’n Kabelgram vir jou,” het die klerk lakoniek gesê. Ek het die telefoon laat val. Pa het ’n nooi gekry, Ma het haar heup gebreek toe sy op die leer staan om die Kersboom te versier, Polder Twee is doodgery, Johanna gaan trou, Elsa se sterilisasie was ’n mislukking en sy verwag ’n vyfling. Ek het naar gevoel en my kop op my opgetrekte knieë laat rus. “Wat is dit?” het Peter ontsteld gevra en sy mantel afgegooi om my te hulp te snel.
“’n Kabelgram,” het ek gehyg. “Dis net Ma-hulle wat die adres van hierdie hotel het.” “Wag nou,” het hy gekeer. “Gaan haal die ding en lees eers wat dit sê. Nee, ek sal dit gaan haal. Laat ek net my trui aantrek en my skoene kry.” Hy was nog besig toe die kamerbediende aan die deur klop. Sy het die koevert na my uitgehou en toe betekenisvol van ons omgekrapte beddens na die trollie agter haar gekyk. “Kan ek die kamer skoonmaak?” het sy gevra. “Nee.” “Skoon handdoeke?” het sy aangedring en ek het die bondel by haar gegryp. “Ek moet die gebruiktes vat,” het sy gesê en verby my geloop na die badkamer. “Lees nou,” het Peter gesê toe ons weer alleen was en ek net met die koevert in my hand bly staan. “Of gee dat ek lees.” “Hoe gou sal ek kan terugvlieg?” het ek gevra. “Dink jy daar’s vanaand ’n vlug?” “Ek twyfel. Hulle het swaar sneeu voorspel.” “Weervoorspellings is altyd verkeerd,” het ek gesê. “Vra maar vir Johanna. Sy sê . . .” “Iris!” het hy gebulder. “Lees die kabelgram!” Hy het die koevert uit my slap vingers gevat, dit oopgeskeur en gelees: “Sal jy met my trou?” Ek het my hand oor my mond gedruk. “Hoe kan jy nou aan so iets dink?” Ek het gesukkel om asem te haal en het gewonder of ek aan skok ly en indien nie, waaraan dan. “Jy weet ek wil nie trou nie en veral nie nou nie.” Hy het die kabelgram neergegooi en teruggeskuif op die bed, sy bene lankuit voor hom. “Ek is bly om dit te hoor. Die kabel terug sal dus nie veel kos nie. Jy skryf net ‘nee, Iris.’ Baie ekonomies.” Ek het gedag hy het mal geword en het die vel papier opgetel. “Sal jy met my trou?” het daar gestaan. “Frederik.” “Wie’s Frederik?” het Peter gevra.
“’n Tandarts. Dokter Anders se plaasvervanger.” “Hoekom wil hy met jou trou?” “Ek weet nie.” Die verligting was so groot dat ek nie eens kon lag nie. “Is dit nie wonderlik nie? Hulle leef almal nog. Johanna gaan nie weg nie, Polder huppel nog deur die tuin en soek na my. Ma sal dat Pa die hoë Kersversierings aan die boom hang. Ek gaan hom doodmaak.” “Wie?” “Frederik. Dat hy my so kon laat skrik.” Ek het my hande in die lug gegooi en al in die rondte gedraai. “Kom, ons moet uitgaan. So ’n lieflike dag moet gevier word.” “Wat wil jy vier?” het Peter suur gevra, maar tog sy skoene vasgeveter en sy anorak van die mat af opgetel. “’n Huweliksaansoek?” “Nee, dat dit nie erger was nie.” “Ek beskou ’n huweliksaansoek van ’n wildvreemde as erg genoeg.” “Frederik is nie ’n wildvreemde nie.” “O?” Hy het die deur vir my oopgehou en die sleutel langs die ketel gevat. “Ek het saam met hom gewerk.” “En wat nog?” “Niks nie. Ek het niks saam met iemand gedoen sedert ek jou laas gesien het nie.” Ek het hom skuins aangekyk. “Wat seker meer is as wat jy kan sê.” “As ek ook nee sê, sal jy my glo?” het hy gevra. “Nee.” Hy het sy skouers opgehaal en ons het uit die hysbak gestap, verby die bot klerk wat ons woordeloos aangestaar het. “Have a nice day,” het ek vir hom gesê. Hy het skewerig geglimlag, maar nie die nasionale groet beantwoord nie.
Buite was dit minder koud as wat ek verwag het en ons het aangestryk in die rigting van die East Side omdat Peter wou hê ek moet sien hoe lyk die VVgebou. Ons het ’n klein onderonsie gehad toe hy voorstel dat ek sy hand vashou. “Nee,” het ek gesê. “Dit sal lyk asof ons gekys is.” Hy het sy oë opgeslaan. “Sal jy dan by my inhaak?” “Dan lyk dit asof ons getroud is.” “Dit sal ook lyk asof jy aan my behoort en sakdiewe twee keer laat dink.” “In daardie geval . . .” Ek het by hom ingehaak en dit was nogal lekker om my arm teen sy warm lyf te voel. Ons het vreedsaam aangestap, soms stilgestaan om na iets in ’n winkelvenster te kyk, en ek kon al die East River tussen die geboue sien, die water grys en oliegestreep, toe ’n swart man ons meteens nader. “Asseblief, meneer,” het hy hom tot Peter gewend. “Ek wonder of u my kan help?” Ons het stilgestaan en ek was bly dat Peter nou self kon sien hoe maklik dit gebeur dat ’n mens met ’n vreemdeling begin praat. “Ja?” het Peter versigtig gevra. “Wat is die probleem?” Die man het na ’n deftige woonstelblok gewys, die eerste twee verdiepings die ene glas en binnenshuise plante. “Sien u daardie gebou?” “Ja,” het ons albei gesê. “My vriend woon daar en hy skuld my geld.” “Ek sien nie wat die probleem is nie,” het Peter gesê, en “Hoekom?” het ek gevra. Die man het van die een na die ander gekyk en blykbaar besluit om my vraag eerste te beantwoord. “Sy suster was siek en hy het nie geld gehad nie toe het ek dit vir hom voorgeskiet. Dis duisend dollar, meneer. Dis baie geld.” Ons het albei die man bestudeer. Hy was netjies aangetrek, maar sy broekspype
was uitgerafel waar dit teen sy skoene geskaaf het en sy hemp was nie skoon nie. Ek kon sien Peter wonder ook waar die man duisend dollar gekry het om so ligtelik uit te leen. “Weier hy om dit terug te gee?” het ek gevra. “O nee, mevrou. Hy’t gesê ek moet dit net kom haal.” Ons het al drie weer na die gebou gekyk. Dag Hammerskjöld Towers was die naam daarvan, en voor die glasdeure was ’n massiewe brons kopbeeld van die einste hy. Aan die binnekant van die deur het ’n man gestaan, geklee in donkerrooi livrei en agter ’n toonbank in die foyer was ’n tweede wag, identies aangetrek. Ek het gewonder waarom iemand wat in so ’n gebou kon bly dit nodig gevind het om duisend dollar te leen. “Wat moet ons doen?” het Peter gevra. Die man het sy hande gevryf en sy skouers ’n paar sentimeter laer laat hang. “As meneer net saam met my boontoe sal gaan.” “Hoekom?” het Peter gevra. “Jy kan mos alleen gaan.” “Hulle sal my nie daar toelaat nie, meneer.” Ek kon my verluister aan sy swaar Suidelike aksent, die manier waarop hy sy vokale gerek en gebuig het sodat sy sinne melodies op en af gewieg het. “Natuurlik sal hulle,” het Peter gesê. “Gee hulle net die naam van die persoon wat jy wil spreek.” Die man se skouers het nog ’n ent gesak en hy het met die agterkant van sy hand oor sy neus gevee. ’n Droewige gebaar. “Ek is te bang. U sien, ek kom van ’n land waar hulle my sal uitjaag as ek dit sou probeer.” Peter se een wenkbrou het opgetrek. “En waar is dit?” het hy koel gevra. “Suid-Afrika, meneer. U weet nie hoe vreeslik dit daar was nie en hoe ek nog steeds . . .” “Nou toe nou,” het Peter gesê en met ’n groot grynslag die man se hand gegryp en geskud. “Dumela! Leina la gago ke mang?”
“Hu?” het die man gesê en ’n tree teruggestaan. “O dula kae?” het Peter volgehou. “Waar woon jy?” Hy het nader getree aan die retirerende man. “Ons is ook Suid-Afrikaners. Is dit nou nie lekker nie? Landgenote hier in die vreemde. Maar miskien het ek ’n fout gemaak, jy is nie ’n Sotho nie maar ’n Zoeloe?” Die man het omgedraai en laat spaander. Hy het so vinnig gehardloop dat hy ’n ou dame met ’n stootkarretjie, waarin ’n terriër en twee sakke kruideniersware was, byna van die sypaadjie afgestamp het. Sy het hom gegrief agterna gekyk soos hy tussen die mense deurvleg en om die eerste hoek verdwyn. “Rude man,” het sy vir ons gesê toe sy sien ons kyk hom ook agterna. “Honestly, these people . . .” Peter het my aan die arm gevat en ons het stadig aangeloop. Nie een van ons het geweet wat om te sê nie. “Hy wou seker gaan inbreek het,” het Peter oplaas gespekuleer. “En nege uit tien mense sou seker sy storie geglo het.” Ek het niks gesê nie. Of dit al die koffie was of die pas afgelope insident sou ek nie kon sê nie, maar ek het naar gevoel. Ons het afgestap na die rivier en gestaan en kyk hoe vragbote verbystoom en ’n paar dapper mense in sweetpakke en oorfone deur die plat gras en rommel verbydraf. “Dis lelik hier,” het ek vir Peter gesê. “Kom ons stap terug.”
Toe ons ná middagete terugkom by die hotel, het Joe in die portaal op en af gestap en op ons afgestorm toe hy ons sien. Die klerk het ’n vars strook kougom in sy kies gedruk en ons belangstellend dopgehou, sy een elmboog rustend op die toonbank. “Ons moet nou dadelik gaan,” het Joe gebied. “Ek wag al ure.” “Ek is moeg,” het ek geprotesteer. “Dadelik,” het Joe herhaal en ons albei aan ons onderskeie arms beetgepak. “Dit
sal ’n wonderwerk wees as hulle jou nog wil sien.” Peter het niks gesê nie en ons is saam met Joe na buite waar hy dadelik ’n geel taxi nader gewuif het en ons al drie holderstebolder agter ingeval het. Ek het nors in my hoek gesit terwyl Joe onsin gepraat het oor gesigte van die jaar en fortuine wat wag om gemaak te word. By die agentskap was dit selfs erger. Peter het op ’n donkerpers rusbank gaan sit terwyl twee vroue, gegrimeer soos kraaie, my kop heen en weer gedraai het. “Die neus is goed,” het die een gesê. “En die oë ook. Die lippe is bietjie dun maar dit kan reggemaak word. Hare ook interessant.” Sy het my aan die skouers gevat en reggetrek asof ek ’n trui was wat aan die wasgoedlyn droog geword het en dus van vorm verander het. “Ek dink jy het iets hier beet, Joe.” Sy het afgekyk na die boek op haar kersierooi lessenaar en gekou aan haar kersierooi lippe. “Môreoggend tienuur. Ek sal die kontrak opstel en dit gereed hê.” Sy het haar glimmende swart kop in Peter se rigting geknak. “Is die onbelangstellende nommer daar oorkant die agent?” “Nee,” het Peter gesê. “Bring hom dan môre saam,” het sy my gebied terwyl haar kollega my hare opgelig, rondgevryf en oor my oë laat val het. “Hy moet die kontrak goedkeur. Standaardkontrak vir nuwelinge, natuurlik,” het sy gesê. “Het sy haar groen kaart?” Voor ek iets kon sê en sonder dat ek regtig geweet het waarvan sy praat, het Joe geknik. “Geen probleem nie.” Ons was terug op die sypaadjie voor ek agtergekom het waaroor alles gegaan het. Joe het my op albei wange gesoen, gesê hy sal my halftien by die hotel kom oplaai en terug in die gebou gedans. Ek en Peter het ná ’n lang gesukkel ’n taxi gekry en vir die soveelste keer die verkeer ingevaar. Hy het nie ’n dooie woord gesê nie. “Ek het jou al vertel van my naam,” het ek gesê toe ek die stilte nie langer kon verduur nie. “En dat ek glo ek sal een keer blom. Nou, soos ek dit sien . . . wie sê dis nie nou my kans nie?” “Jy’s dwaas,” het die Engel met ’n lae stem gesê.
Ek was sommer ergerlik. “Ag, bly stil.” Peter het seergemaak gelyk. “Ek het nie ’n woord gesê nie.” “Ek het nie met jou gepraat nie.” “Met wie dan?” Ek het koppig geswyg en die bestuurder se oog in die spieëltjie gevang. “Where’re you folks from?” het hy gevra. “Suid-Afrika,” het ek skerp gesê. “Weird language,” het hy gesê. “What is it?” “Afrikaans.” “Jou ouers moes jou nooit Iris gedoop het nie,” het Peter skielik losgetrek. “Hulle moes jou Anna of Marie genoem het.” “Ken jy ’n Marie?” het ek gevra toe ek skielik van my droom onthou. “Nee, dit was net ’n voorbeeld. As jou naam Marie was, het jy nie so vol idees rondgeloop nie.” “Dis nie net die naam nie, dis my lewensfilosofie. Kara blom van sy haar Claude gekry het. Elsa blom . . .” Daar het ek my vasgeloop. “Ja?” het hy my aangehits. “Waar blom sy? In die kombuis waar sy haar vrieskas alfabeties georganiseer het, skaapvleis voor varkvleis en beesvleis heel eerste?” “Ek weet nie. Maar kyk nou maar na my pa van hy op die plaas is. En Ma . . .” “Ja?” het hy gekoggel. “Jou teorie is net op elke tweede mens van toeing. Wat van jou ma?” “Miskien was haar blomtyd toe sy kinders gekry het.” “Nee,” het hy ferm gesê. “Jy het my self vertel sy sou nie eens onthou het om julle bottels warm te maak as Johanna nie daar was nie. Sy kan nie beskuit bak
sonder om die suurdeeg te vergeet en kluitjies uit die oond te haal nie.” Ek het my oë voel water, maar dit kon gewees het omdat die bestuurder sy ruit afgedraai het om iets vir ’n kollega langs hom by die verkeerslig te skree. “Jou ma het vir jou beskuit en konfyt saamgestuur,” het ek vir hom gesê. “Moenie dat ek vergeet om dit vir jou te gee nie.” “Hoe gaan dit met haar?” “Goed. Sy hou van my.” “Dan is daar darem een,” het hy ongevoelig gesê. “Ek gaan nie in jou pad staan nie. Iris. As jy wil blom onder ateljeeligte met mense wat jou deurmekaar gaan boelie, moet jy dit doen. Ek gaan Vermont toe.” Ek het my trane gesluk. “Vermont? Waarom skielik Vermont?” “Omdat ek nie my kosbare Kersvakansie hier gaan deurbring as jy nie by is nie. Ek het vriende wat ’n huis het in Vermont en hulle het ons genooi om saam te kom, maar ek het nie geweet of jy dit sal wil doen nie, dus het ek bedank.” “Sien jy?” het die Engel gesê. “Jou dom aap.” “Wat doen ’n mens daar?” het ek gevra. “Jy sit en kyk hoe die sneeu val terwyl jy die kaggel opstook.” Ek het aan my voorvingernael gekou. “Ek kan dalk baie geld maak.” “Om wat mee te doen? En wat van jou groen kaart? Daarsonder mag jy nie werk nie.” “Joe het nie gereken dis ’n probleem nie.” “Joe se . . .” Ek het gehoop die Engel luister nie. Alhoewel sy taalgebruik ook nie altyd was wat ek van hemelse belastingbetalers verwag het nie. “Ek dink nie ons moet so voor die man baklei nie,” het ek vroom gesê. “Ons kan later weer daaroor praat.” Hy het vir ’n blok of twee nie gepraat nie. “Ek is nie meer ’n snuiter nie,” het hy
oplaas gesê. “Ek kan nie onbepaald sit en wag dat jy tot jou sinne kom nie. Oor ’n klompie jare is ek veertig. Dis middeljarig.” “Meer as net ’n klompie jare,” het ek gesê. “Jy’s nog ver van veertig af, tensy jy hier in Amerika vinniger verouder het.” “Miskien het ek. Veral gedurende die afgelope vier en twintig uur.” Ons was weer stil tot ons die kamersleutel by die klerk gekry het. “Did she make it?” het hy vir Peter gevra en met sy duim na my gewys. “None of your business,” het ek vir hom gegrom en hysbak toe gestap. “Waarom wou jy weet of ek ’n Marie ken?” het Peter gevra terwyl ons boontoe ry. “Ek het eenkeer gedroom jy’s verloof aan ’n Marie.” “Ek hoop sy was mooi en lieftallig en inskiklik en . . .” Ek het voor hom uitgestap. “Nee, sy was vaal en lelik.” “Was jy bly dis net ’n droom toe jy wakker word?” het hy gevra en my aan die arm gevat. “Verskriklik,” het ek gesê en die Engel hoor lag.
Die huis in Vermont was halfpad teen ’n dennebegroeide helling uit, slegs bereikbaar met ’n pad wat die naam onwaardig was. Peter se gehuurde motor het gehyg en gesluk en dwars gegly in sneeu wat gedreig het om by ons deure in te peul. Toe hy uiteindelik op ’n gruiserige gelykte bokant die huis stilhou, was ons albei bly. Die huis, van buite geheel en al gebou uit swart houtstompe, het gehurk onder ’n lading sneeu wat oor die stoep en venster deursigtige swaardpunte ys gevorm het. Ek het gewonder hoe dit voel as so ’n stalaktiet jou in die nek tref. Binne was die mure ook uit hout behalwe in die woonkamer wat swart gerookte bakstene gehad het. Die huis was deurdrenk van ’n bedompige reuk van ou rook
of nat vure, maar onder die oorhang van die stoep was ’n berg houtstompe opgestapel, en terwyl ek die sakke kruideniersware ingedra het wat ons in die dorpie gekoop het, het Peter op sy knieë voor die vuurherd gesit en die vuur aangeblaas. Dit wou nie dadelik vat nie en ons het bolle papier al om die hout ingedruk en aan die brand gesteek. Die rook was verstikkend tot die kaggel begin trek het, wat verklaar waar die reuk in die huis vandaan gekom het. ’n Paar kakkerlakke het verskrik teen die mure uitgeskarrel en nuwe woonplek loop soek. “Daar’s vetspatsels hier,” het Peter gesê en vieserig rondgekyk vir iets om sy hande aan af te vee. “Iemand het vleis gebraai in die kaggel.” Ek het die kos weggepak en die kassies oopgemaak om te kyk wat daar alles was. Borde, onpaar koppies, ’n bonte versameling opskepskottels, plastieksouten peperpotjies en ’n klomp geduikte kastrolle en panne. ’n Mens sou kon regkom. Ek het vir ons tee gemaak en broodrolletjies gesmeer, meer omdat die broodrolletjies nog warm was as omdat ons honger was. Daarna is ons met die houttrap boontoe om te kyk hoe die slaapkamers lyk. Om die eerste buiging van die trap was een kamer met ’n stapelbed en langsaan ’n badkamer. Verder boontoe was twee groterige kamers met ’n dubbelbed in elk asook ’n tweede badkamer. Baie gerieflik. “Ons hoef nie die kamer met die stapelbed te gebruik nie,” het ek vir Peter gesê. “Brian-hulle het kinders,” het hy geantwoord. “Ek dog jy het my gesê hulle is nie getroud nie?” “Hy en Bettie is nie, maar hy was vantevore getroud en hy kry die kinders oor Kersfees.” “O.” Ek het ’n venster oopgemaak om vars lug te laat inkom, maar die lug was te koud en ek het dit weer vinnig toegemaak. “Hoe oud is hulle?” “Ek weet nie.” Ons het een van die groot slaapkamers vir onsself toegeëien en ons tasse uitgepak terwyl ons wag op Brian en Bettie wat gesê het hulle sal vroegmiddag daar wees. Ons het voor die kaggel gesit en dut, heel waarskynlik as gevolg van die gebrek aan suurstof, toe ons die motor buite op die gruis hoor stilhou. Deure
het geklap en jillende stemme het op ons afgepyl. “Hallo,” het ’n seuntjie van so sewe of agt vir ons gesê en in die deur bly staan. “Dis ons huis dié.” “Ek weet.” Peter het opgestaan om Brian te groet. Hy was ’n groot man, gehul in ’n pelsuitgevoerde baadjie en ’n pet met twee pelsoorflappe. Sy wange was gevaarlik rooi, asof die are almal gelyk gebars het, maar sy blou oë was jolig en sy handdruk hartlik. Bettie, wat agter hom ingesteier het met drasakke en jasse, was lank en maer en bleek. ’n Leiband was om haar bene gestrengel en ’n keffende swart hondjie, die soort wat Polder in een byt sou vernietig, het histeries op en af gebons tot Brian die kinders bulderend beveel het om hom by Bettie te vat. Die tweede kind was ’n dogtertjie, jonger as haar broer. Ek het net na hulle gestaar. Tot die lawaai bedaar het, was daar min kans om iets anders te doen. Die mans het die motor afgelaai en ek het Bettie gehelp kos wegpak. Dit het vir my voorgekom asof ons genoeg voorrade het om ’n beleg van etlike maande te oorleef, maar toe ek dit vir haar noem, het sy haar oë gerol in die rigting van die twee gillende kinders en haar kop geskud. “Hulle eet verskriklik,” het sy gesê en om haar woorde te staaf, het die kinders nader gestorm en gesê hulle is honger. Ek het nog broodjies gesmeer, nie meer warm nie maar darem nog vars. “Ek wil ’n hotdog hê,” het die seuntjie gesê. “Miskien vir aandete,” het ek gesê. “Dié is net om julle aan die gang te hou tot dan.” “Jy’s nie my ma nie,” het hy brutaal gesê. “Ek weet.” “En is jy nie bly nie,” het Bettie uit die hoek van haar mond gesê en vir haarself ’n beker koffie ingeskink. “Sy ook nie,” het die kind vervolg en na Bettie gewys.
Ons gesprek is onderbreek deur die dogtertjie wat van bo met die trappe afgehardloop gekom het. “Daddy,” het sy gesê en haar pa so hard aan die hemp gepluk dat hy bier oor sy bors gemors het. “Hulle het hulle klere in jou kamer gesit.” “Ek is jammer,” het ek gesê. “Ons het nie geweet watter kamer om te . . .” “Natuurlik,” het Brian gesê en my omhels. “Dis om’t ewe. Denise, waarom neem jy nie die hond uit nie?” “Hy’t dit klaar in die portaal gedoen,” het sy gesê en weer weggehuppel om haar broer te help eet. “Junior!” het Brian gebulder, so hard dat ons almal gewip het. “Gaan maak skoon. Dis jou hond.” Ek het my voorgeneem om buite te gaan stap sodat ek privaat met die Engel kon gesels. Ek het gevoel na ’n belegger wat misleidende advies gegee was. Maar nou, vir ’n wyle, was alles rustig. Ek en Bettie het met ons bekers koffie voor die vuur gesit, die mans het blikkies bier in die hand gehad en die twee kinders het ’n splinternuwe doos Lego oopgeskeur en op die mat begin bou. “Brian bederf hulle vreeslik,” het Bettie my vertel aangesien die mans verdiep was in ’n ingenieursgesprek waarvan ons weinig begryp het. “Skuldgevoel, natuurlik. Die ou storie: koop liefde met duur geskenke.” “Ek weet nie van liefde nie,” het ek gesê en na die soet, spelende kinders gekyk. “Stilte, sou ek sê. Rus en vrede. Is hulle al ge-potty-train?” Bettie het gelag, ’n proses wat bietjie kleur in haar wange gebring het. “Natuurlik! Junior is agt en Denise ses.” “Ek weet nie van hierdie dinge nie,” het ek erken. “Ek het een nefie en van hy van die bors af is, probeer my suster hom sindelikheid leer. Teen die tyd dat ek weg is by die huis, was daar nog glipsies.” “Hoe oud is hy?” “Drie of vier of miskien al vyf.”
“Junior maak nog sy bed nat,” het sy erken. “Maar dis bloot om my te straf. Hy doen dit nie in sy eie huis nie, net as hy saam met my en Brian weggaan.” “Ons moet plastieksakke oor die matras trek,” het ek my by die praktiese gehou. “Daar’s duisende onder die wasbak.” “Hy kla dit kraak.” Sy het haar hand oor haar dun, krullerige hare gestryk. “Brian het vir hom ’n rubberlaken gekoop.” “Dan is daar nie ’n probleem nie.” Ons vuur het nou rooi gegloei en net af en toe gesis wanneer ’n nat stuk skielik vlam vat. Ek het warm en lui gevoel. “Peter is ’n liewe man,” het sy vir my gesê. “Ons gaan hom mis. Hy promoveer mos een van die dae.” Ek het geknik om te wys ek stem saam met al drie bewerings. “Nog van die ou soort wat wil trou en tuinmaak.” “Ek weet nie van die tuinmaak nie,” het ek gesê en haar vertel van Joe en die modelleerkontrak en die briefie wat ek vir hom by die hotel gelos het toe ons douvoordag daar weg is. “Nee!” het Bettie gekryt. Sy het haar hand oor haar mond gedruk en gelyk asof sy gaan huil. “Jy moes dit nie gedoen het nie! So ’n kans kry ’n mens net een keer in ’n leeftyd.” Ek het nie krag gehad om haar te vertel van die Engel se neerbuigende “Jou dom aap” nie. Daarom het ek net my skouers opgehaal. “Ek het Amerika toe gekom om vir Peter te sien en miskien bietjie van die land. Nie om te werk nie.” Sy het steeds ontsteld gelyk en om haar aandag af te lei het ek haar gevra wat sy doen en of sy werk. Haar antwoord het my verras. Ek het my voorgestel sy is ’n sosiale werkster of ’n onderwyseres of iemand verbonde aan ’n rehabilitasiesentrum. Sy het gelyk na iemand wat hard probeer om iets reg te kry en nooit daarin slaag nie. Die alkoholiste wat sy probeer rehabiliteer het, het net weer begin drink, die gebroke gesinne wat sy met welsyn en goeie bedoelinge op die pad van regskapenheid gehelp het, het mekaar net van voor af gehaat en te lyf gegaan, die kinders wat sy moes leer, het dom gebly. Maar in werklikheid was sy die eienares van ’n ysterwarewinkel wat ook ’n diens aangebied het om
reparasies in en om die huis te doen. “Ek het my babaratel verruil vir ’n moersleutel en ’n stel skroewedraaiers,” het sy vertel. “Ek was die enigste kind en my vader het my geleer. Ek kon ’n toiletwasser vervang voor ek ’n knoop kon aanwerk.” “Is dit hoe jy Brian ontmoet het?” Sy het geknik. “Sy warmwatertenk het ontplof.” Haar stem was kleurloos en sy het haar leë koffiebeker aan die oor laat bengel. “Haai,” het ek gesê, nie meer so spyt oor wat ek Joe aangedoen het nie. “Sy eie skuld,” het sy gesê. “Hy’t met die termostaat gefoeter en hy kan nie ’n vulpen vol ink trek sonder om ’n ongeluk te maak nie.” “Ek dag hy’s ’n ingenieur!” “Hy’s goed met paaie en brûe,” het sy erken en opgestaan. “Ek dink ons moet begin werk. Dit word vroeg donker en die troepe gaan honger word.” Ek het haar na die kombuis gevolg en gehelp groente skil en uie kap terwyl sy twee hoenders van hulle nekke, mae, lewers en harte verlos het. “Denise is allergies vir geel groentes,” het sy gesê. “En Junior vir melk. Ek noem dit maar, want hulle kan jou dalk dwing om vir hulle melkskommels te maak. Hulle’s lief vir hulle kwale.” Ek het een ongeskilde wortel eenkant toe gestoot en die res in repe gesny. “Hoe lank ken jy en Brian mekaar al?” “Vyf jaar. Hy was net besig om te skei.” “Gaan julle trou?” Sy het die hoenders in die oond gestoot en oor haar voorkop gevee. “Nee. Ek twyfel. Hy wil nie. Dit sal ’n trauma wees vir die kinders.” “Maar hulle sien julle tog saam?” Sy het haar een hand voor haar gehou en op die vingers begin tel. “Die eerste
keer het hulle weggeloop en moes ons die polisie inroep voor ons hulle agter ’n restaurant in die skuur gekry het. Die tweede keer het Denise so siek geword dat ons die noodeenheid moes laat kom met suurstoftenks en hartpompe. Die derde keer . . .” Ek het met meer ontsag na die spelende kinders gekyk. Twee tikkende bomme op die mat. “Hulle moet julle tog die kans gun om ’n eie lewe te lei?” het ek gesê. “Hulle is te jonk om só daaraan te dink. En Brian se skuldgevoel laat hom dans na hulle pype.” “Hoekom los jy hom dan nie?” Sy het oor die toonbank wat ons geskei het van die woonkamer na die twee mans gekyk. “Dan het ek niks. En ek is lief vir hom.” Ek het afgekyk na die groente voor my. “Wat sal ons met die aartappels doen? Braai, kook of skyfies?” “Kook,” het sy geantwoord. “Kapokaartappels. Brian hou nie van vetterige kos nie.” Tydens die ete was die kinders baie stil, en ysreën, soos miniatuurhaelkorreltjies, het teen die ruite getik. Dit was koud en ons het vinnig geëet sodat ons kon teruggaan na die vuur. Bettie het aangebied om die kinders te bad en in die bed te sit, maar hulle het na haar gegluur en dit self gedoen terwyl die mans die skottelgoed was. Die hond het verlangend na die oorskiethoender gekyk, maar toe ek vir hom ’n klomp bene en velle buite op die stoep gooi – soos ek met Polder maak – het hy net na my gekyk en voor die kaggel gaan lê. “Dis te koud buite,” het Bettie gesê en dit weer opgetel en in ’n emaljebakkie geskep wat sy onder die wasbak gekry het. Die hond het dit dadelik uitgelig en die vetterige bene op die mat voor die kaggel gelê en knaag. “Vertel my van jouself,” het Brian genooi toe hy ons wynglase vol geskink en ons gemaklik gesit het. “Sy het pas ’n modelleerkontrak van die hand gewys,” het Bettie hom ingelig. Sy het haar stoel nader aan syne geskuif en was besig om sy hande in te vryf met
kanferroom. “Nee!” het Brian gesê. “Jy moet baie selfvertroue hê om dit te kan doen.” “Selfvertroue?” het ek gesê. “Nee. Ek is self nie seker of ek die regte ding gedoen het nie.” “As jy weer begin verduidelik wat jou naam beteken, gaan ek my kop in die sneeu begrawe,” het Peter gewaarsku. “Dis tog die naam van ’n blom,” het Bettie gesê, haar fletsblou oë rond en onskuldig. “Wat een keer per jaar blom,” het Peter wanhopig gesê. “En sy het gedink die modelstorie is dalk haar kans.” “Kan wees,” het Brian gemymer. “Dis hoe ek ook voel,” het ek gesê. “Elke mens moet een keer in sy lewe die regte ding op die regte tyd doen en só ’n moment van volmaakte sintese beleef.” “Ek is al vyf en dertig jaar oud,” het Bettie gesug. “Ek het dit nog nie ervaar nie.” “Wat van die keer toe jy Brian oor sy ontplofte tenk ontmoet het? Het jy nie toe gevoel alles het meegewerk vir die hoogste moontlike goed nie?” Sy het na Brian gekyk. “Nie eintlik nie. Dit was so ’n gemors. Die tenk was ingebou bokant die bad, sien, en die laaghout was versplinter, die bad se emalje beskadig, die spieël gekraak, die sjampoe oor die vloer en mat . . . nee, ’n onvergeetlike ervaring was dit nie. Buitendien, ek het geval en my stuitjie beseer toe ek op ’n badpêrel trap, een van daardie badoliekapsules wat sommige mense as onontbeerlik beskou.” “Het aan my vorige vrou behoort,” het Brian gesê en gesuig aan ’n onwelriekende pyp. Hy het sy vetterige hand op Bettie se maer pols gesit. “Maar Bets hier het opgestaan en skewerig die skade ondersoek en ’n kwotasie gegee en ek het besef dis die soort vrou om te leer ken.” Bettie het haar glas wyn neergesit, opgestaan en ’n groot kartondoos wat in die
hoek gestaan het nader gesleep. “Ons moet die Kersboom versier,” het sy vir my gesê. “Dis nog net twee dae voor Kersfees en ek het die kinders belowe as hulle wakker word, sal dit hier wees.” Brian het opgespring om te help en dadelik die verkeerde takke in die verkeerde gate gesteek. Dit was ’n kunsboom, maar besonder goed nagemaak, en as ’n mens van onder begin het met die langste takke en boontoe gewerk het tot by die heel kortste, sou daar nie ’n probleem gewees het nie. “Los die vroue,” het Peter taktvol gesê toe hy sien hoe Bettie se irritasie styg. “Lyk my Bettie weet wat om te doen.” Buite teen die ruite het die sneeu hoër gelê en ek het die stoeplig aangeskakel en uitgekyk na die vallende, waaiende sneeu. Deur die kombuisvenster kon ek die motors sien staan, albei verander in wit heuweltjies met vier swart wiele elk. “Dit sneeu nogal kwaai,” het ek opgemerk. “Gelukkig het ons genoeg kos as ons sou vasval,” het Bettie gesê en ’n tak uit Brian se hand gevat. Ek was bang daar bly niks meer van die boom oor nie, want sintetiese dennenaalde het reeds oor die mat gestrooi gelê, maar uiteindelik was die boom tog aanmekaar en kon ons die versiersels ophang. Bettie het ’n besem gekry en die mat skoongevee en ons het gesit en kyk na die boom, ’n pragtige gesig toe die liggies eers brand. Brian het ’n derde bottel rooi wyn oopgemaak en ons glase vol geskink, behalwe myne wat nog vol was. “My ouers se lewe was sonder glorie,” het Bettie somber opgemerk. “Glorie. Dit het nie eens doel of waarde gehad nie. My pa het as kneg op ’n koringplaas in Kansas gewerk en my ma as kelnerin op die dorp. Toe hulle trou, het my pa by my ma se oom in die ysterwarewinkel gaan werk. Swaarkry, dis al. En toe boonop nie eens ’n seun nie.” Peter het verwytend na my gekyk asof dit alles my skuld was. “Gee vir my die handeroom aan,” het hy die onderwerp probeer verander. “Ek weet nie hoe julle vrouens se hande dit hou nie.” Ek het die flessie op sy skoot gesit, maar ek was nie van plan om dit vir hom in te vryf nie. Hy was oud genoeg.
“Wil jy nie gou by die kinders gaan inloer nie?” het Bettie my gevra. “As hulle my sien, sal hulle histeries word.” “Aw, honey,” het Brian gesê en haar deurmekaar hare nog deurmekaarder gevryf. Ek het opgespring, bly om bietjie weg te kom en ook om ’n draai by die badkamer te maak. Die kinders was vas aan die slaap, engelagtig soet met lang wimpers teen hulle ronde wangetjies, maar albei oopgeskop en opgekrul om hulle teen die koue te weer. Ek het die gordyne toegetrek om die yskoue glas van die vensters te bedek, en die termostaat van die sentrale verhitting ’n aks opgeskuif. Maar toe ek Junior se komberse onder hom uitwikkel om hom toe te maak, het ek gevoel sy laken is nat. “Bettie,” het ek met die trappe af geroep. “Kom help.” “Hy’s nat,” het sy gelate gesê toe sy by my kom. Sy het ’n tas oopgeknip en ’n droë laken uitgehaal. Ons het die kind eenkant toe gerol terwyl hy steunend protesteer, die rubberlaken drooggevee met ’n punt van die laken wat nog droog was, en die vars laken oorgetrek. “Ek spoel hierdie een sommer gou uit,” het Bettie gesê. “Met die verhitting sal dit vinnig droog word.” Ek het my hande loop was om van die reuk ontslae te raak en terug voor die vuur het ons albei ons hande met room ingesmeer. “Ek voel na vroeg gaan slaap,” het Peter gegaap en sy arms bokant sy kop uitgestrek. “Nee,” het Bettie koppig gesê. “Ek is lus vir gesels. Nou-nou maak ek vir ons kakao.” Peter het vinnig na my gekyk en weer weggekyk. “Hou jy van Amerika?” het Brian my gevra. “Ek het nog maar min daarvan gesien en wat daar was, was onder sneeu. Maar ek vind die dorpies hier in Vermont pragtig. Die blou en wit en rooi houthuise. Selfs houtkerke. Ons ken dit nie.” “Bou julle nie met hout nie?”
“Nee. Met bakstene.” Bettie het vreugdeloos gelag en sommer self haar glas vol geskink. “Die wolf sal dit nie sommer omblaas nie.” “Inderdaad,” het Peter gesê. “Julle moet dit in gedagte hou.” “En weet jy hoe is hulle dood?” het Bettie uit die bloute vir my gevra. Haar wange was rooi, van die vuur of die wyn, en haar pupille skerp gedefinieer. “Hulle was met vakansie en het uitgekamp en die mense in die karavaan langs hulle was op pad en het hulle oorskietkos vir my ouers gegee. Onder andere ’n bredie. Dit was vergif.” “Kom nou, Bets,” het Brian goedig gelag. “Jy laat dit klink asof dit doelbewus was.” “Wat bedoel jy met vergif?” het Peter gevra. “Iets het blykbaar daarin gelek. Miergif, dink ek.” Sy het haar tot my gewend. “Hulle is natuurlik vrygeskeld ná hulle opgespoor is. Dit was nie regtig hulle skuld nie, maar kan jy dit glo, so ’n simpel dood.” Ek het verby haar na die vensters gekyk. “Dit sneeu darem verskriklik.” “H’m,” het Brian saamgestem. “’n Monsterstorm, lyk dit my. Dis tog nie voorspel nie. Ligte sneeu is al wat hulle gesê het, onthou jy, Bettie? Die kinders was nog so teleurgesteld toe ons dit oor die motorradio hoor.” Hy het na ons gekyk. “Verlede Kersfees het ons bykans geen sneeu gehad nie.” “Weervoorspellings is altyd verkeerd,” het ek gesê. “Vra maar vir Johanna.” “Johanna is nie nou ter sprake nie,” het die Engel gefluister. “Luister na Bettie.” Ek het hom geïgnoreer, maar was darem bly om te hoor hy is met ons. Die opstapelende sneeu buite het my verskrik. “Ek gaan vir ons kakao maak,” het Bettie gesê en wankelend opgestaan. “Brian, kry jy die konjak.” Ek is saam om te help, want Bettie het nie gelyk asof sy alleen gelaat kon word
met warm kastrolle en kookmelk nie. Dit het vir my veiliger gevoel om haar die koffiebekers te laat afdroog en die kakao en suiker te meng terwyl ek die stoof behartig het. “Ek kan nie self kinders kry nie,” het sy my vertel. “En hulle weet dit, die klein blikskottels.” “Hoe weet hulle dit?” “Dit was ’n naweek toe hulle by Brian was en ek het in trane daar aangekom. Kan jy begryp. Ons het gedag dis sulke tyd en ek was dokter toe in die hoop dat dit bevestig sou word. Dan sou Brian met my trou, sien.” “En toe is dit nie?” Sy het haar kop geskud. “Net ’n gewas. En ná dit verwyder is, was alles daarmee heen.” Ek het nog nooit self oor my vrugbaarheid besin nie, maar ek was jammer vir haar. “Ag, foei tog,” het ek gesê en haar arm gedruk. “Die kinders was agter die stereo en het elke woord afgeluister. Daardie aand het Brian hulle in die kamer gekry met die ensiklopedie, besig om die woorde na te slaan wat hulle nie geken het nie. Toe moes hy maar verduidelik.” Sy het ’n stuk van die papierrol afgeskeur en haar neus geblaas. “Brian glo in eerlikheid met die kinders. Niks vir hulle wegsteek nie. Dié dat hulle my so vermaak. Hulle weet hulle hoef nooit bang te wees vir kompetisie nie.” Ek het die prentjie van die spelende kinders op die mat en die nog aandoenliker prentjie van die slapende kinders herroep en dit probeer versoen met die beeld van twee drakies, soos deur Bettie geskets. “Ag nee wat,” het ek onhandig probeer troos. “Miskien is jy net moeg. Jy het mos vir Brian.” “Ek dink ek moet hom los.” Sy het teen die wasbak geleun, haar arms gevou oor haar maer lyf. “Die melk kook,” het ek gesê. “Hou vir my die siffie vas. Ek gril my dood vir velle.”
“Ek moet badkamer toe gaan,” het sy gesê en met die trappe opgestrompel. Peter het my kom help, waaroor ek ook maar bly was. “Sy’s nie lekker nie,” het ek vir hom gefluister terwyl ons die kakao inklop. “Ek weet nie of dit gaan werk nie. En daarbuite sneeu dit ’n hond uit ’n bos uit. Sal ons ooit kan wegkom?” Hy het my agter in my nek gesoen. “Sy’s altyd so die eerste aand. Sy sal regkom.” “Sy klink nie gelukkig nie.” “En oordryf ook maar omdat jy nog nie haar stories ken nie. Brian weet hoe om met haar te werk.” Ons het die stomende bekers ingedra en ’n paar minute later was Bettie terug by ons, haar gesig gewas en haar hare gekam. Sy het haar glas konjak gelig en geglimlag. “Op ’n besondere Kersfees,” het sy gesê. Die volgende oggend aan ontbyttafel was almal vrolik. Ek omdat ek knus en warm agter Peter se blad geslaap het, die kinders omdat die Kersboom hulle geval het en hulle die drasakke vol geskenke onder die boom kon uitpak, en Bettie omdat sy klaarblyklik haar tristesse afgeslaap het. Brian was die vorige aand ook vrolik, dus was daar nie by hom ’n merkbare verskil nie. Buite het die sneeu nog onophoudelik geval en ons kon nie enige deur oopgemaak kry nie. Dit het die kinders plesier verskaf, want hulle moes die hond deur hulle slaapkamervenster lig sodat hy sy besigheid op die balkon daarbuite kon doen. Die arme hond het tot oor sy rug in die sneeu verdwyn, ’n ruk rondgewoel, sneeu van die balkon af gestoot en toe tjankend teen die ruit gekrap om weer in te kom. Ek was gelukkig by en kon dus keer dat die hond nie direk op die bed neergesit word en alles natmaak nie. Ongelukkig het die hond se ekspedisie die kinders aangevuur en ná ontbyt moes ons hulle ook een vir een deur die woonkamervenster lig sodat hulle in die sneeu kon gaan speel. Soos die hond het hulle min of meer onmiddellik uit die gesig verdwyn en ek het hulle benoud agternagestaar. Brian en Bettie was ongekweld en het ’n massiewe legkaart uit ’n kas gehaal, die eetkamertafel ontruim en toegewyd stukkies begin sorteer volgens kleur. “Hulle’s gewoond aan sneeu,” het Brian my verseker. “Hulle kan net nat word.”
“En daarin is hulle vakmanne,” het Bettie tersyde gesê. Ek het maar voor die venster bly dwaal. Nou en dan het ’n rooi of blou mus bokant ’n sneeuhoop verskyn, net om gillend weer uit die gesig te verdwyn. Ek het probeer onthou hoe die omgewing lyk, maar al wat ek die vorige dag opgemerk het, was dat daar ’n yserige stroompie onder die huis verbygevloei het. Brian was seker reg, hulle kon net nat word. “Kom help,” het Peter na my geroep. Hy was blykbaar ook ’n bekwame legkaartbouer, want hy het al die stukkies met reguit kante eenkant gesit en die raam begin vorm. Dit het vir my vervelig gelyk, maar ek is teen wil en dank betrek. Die prent, wat uit tienduisend stukkies bestaan het, het ’n herfstoneel in ’n vallei in Switserland uitgebeeld. Daar was baie blou lug en nog meer oranjeen-geel beboste hellings. Tussenin was rooi dakke van huise. Ek het onbelangstellend tussen die stukkies rondgekrap tot ek meteens die kerktoring aan sy naburige denneboom gekoppel het. Daarna was ek net so entoesiasties soos die ander. Teen elfuur was ek moeg gesit en het my aangetrek om buite na die kinders te gaan soek. “Jy wil net in die sneeu gaan speel,” het Peter liefderik gesê en my deur die venster gehelp. “Terwyl jy buite is, stoot vir ons die sneeu voor die deur weg,” het Brian voorgestel. Dit was ’n vreemde wêreld waarin ek my begewe het. Onmeetlik stil, wasig deur die vallende vlokke en onherkenbaar as boom of klip of skeur. Ek kon die kinders onder by die stroompie sien en het soontoe probeer loop, maar ek het weggesink tot by my bobene, geval oor struike wat gelyk met die res van die landskap bedek was of in slote geval. Dit was asof ek deur mieliepap loop. “Haai,” het die kinders vir my gesê toe ek uitasem by hulle kom. “Ons speel.” “Ek sien, ja.” Die stroompie was nog nie bevrore nie, maar wel bedolwe onder die sneeu. Op ’n plek waar dit sigbaar was, het die kinders blare of stukkies bas of stokkies ingegooi en dan vinnig gehardloop na die volgende opening, ’n paar meter
stroomaf, waar hulle hul vaartuie kon sien uitspoel van onder die sneeukombers. Die sneeu langs die stroom was al vasgetrap deur hulle stewels en ek het vir ’n ruk saamgespeel al het die vallende sneeu teen my wimpers gekielie en in my nek afgesmelt. “Is julle nie koud nie?” het ek gevra. “Nee.” Ek was. “Wat van iets warms om te drink?” “Nee. Later.” Ek het my handskoene teen mekaar gevryf en my kop geskud om die sneeu te verwyder. “Dan gaan ek solank voor die deur vee. Wil julle my nie kom help nie?” “Nee. Bettie kan dit doen.” “Sy bou legkaart.” Hulle het opgekyk na my. “Watter een?” “’n Herfstoneel in Switserland.” Junior het gefrons en met sy nat handskoen oor sy nat neus gevee. “Dis myne.” “Jy gee tog nie om nie?” “Dis myne,” het hy herhaal. “Ek wens Bettie wil doodgaan,” het Denise geselserig opgemerk en ’n stokkie deur ’n nat eikeblaar gesteek sodat dit as seil kon dien. “Mens sê nie so nie,” het ek streng gesê. “Sy is ’n goeie mens.” “Nee, sy’s nie. Ons wil haar vergiftig.” “Junior! Moenie lelik wees nie! Hoekom hou julle nie van haar nie?” Hy was besig om ’n sneeubal te maak, die sneeu het ’n vreemde geluid gemaak
wanneer hy dit saampers, asof die kristalle protesteer. “Sommer.” “Sy is goed vir julle en as julle haar ’n kans gee, is ek seker . . .” “Sy’s nie ons ma nie,” het Denise gesê, haar blou oë die ene onskuld. “Dit weet ons almal. Ek is ook nie julle ma nie, maar julle is nie so naar met my nie.” Die sedeprekery het my nie geval nie, maar ek het tog gevoel dat hulle moorddadigheid ontlont moes word. “Wat is jou naam nou weer?” wou Junior weet. “Iris.” Hy het sy kop geskud en die sneeubal teen ’n boomstam te pletter gegooi. “Dis ’n simpel naam. Blomname vir mense is simpel.” “Dis tog ’n mooi blom,” het ek myself verdedig. “Irisse is pragtig wanneer hulle in die lente blom.” “My ma s’n blom in die herfs ook,” het Junior gesê. “Ek weet, want dan verjaar sy en ons pluk vir haar blomme en daar’s nooit veel meer in die tuin nie.” My lewensfilosofie was besig om te wankel. Ek het omgedraai om die terugtog aan te pak. “Ek kry koud,” het Denise gekla en agter my begin aanklim. “Oukei, oukei,” het Junior gegrom. “Ons sal jou kom help.” Ons het grawe langs die houtstapel gekry en die sneeu voor die woonkamerdeur begin wegstoot. Dit was nie maklik nie, die sneeu het misleidend lig gelyk, maar het in werklikheid ’n ton geweeg. Die drie legkaartbouers het skaars opgekyk terwyl ons swoeg en ek het sweet teen my bors en agter my blaaie voel kriewel. Nadat ons ’n spasie van omtrent drie meter voor die deur skoongemaak het, het hulle ons laat inkom en die vermetelheid gehad om te kla omdat ons sneeu op die rubbermat afskud. Ek het die kinders gehelp uittrek en ons het al die nat jasse en baadjies en sokkies in die badkamers gaan ophang. “Is die kinders darem vriendelik met jou?” het Bettie gevra toe sy tee maak en ek
vir die kinders broodjies smeer. “O ja.” Junior het ingedraf gekom en ’n sneeubal op die toonbank neergesit. “Sal jy dit vir my vries?” het hy gevra. “Ek wil dit bêre.” “Hoekom?” het Bettie gevra. “Daar’s baie sneeu buite.” Sy gesiggie het stram geword. “Ek wil dié een hou.” “Goed, goed,” het ek gesê, nie lus vir ’n nuwe konfrontasie en dreigemente van moord nie. Ek het onder die wasbak gesoek na ’n klein plastieksakkie en die sneeubal in die vrieskompartement van die yskas gesit. Onder die wasbak was daar chaos, alles wat nie elders plek kon vind nie, is daar ingedruk. Ek het op my hurke gaan sit en begin regpak. “Oppas,” het Bettie gewaarsku. “Daar’s ’n spul gif in daardie bottels.” Ek het geskrik. “Watse gif?” “Noem maar op. Een somer het die eekhorings amok gemaak met die bedrading in die dak en ons moes gif uitsit. En die miere wou die fondamente opvreet. In die somer is die plek wemelend van die peste.” Ek het alle herkenbare bottels, blikke en spuithouers eenkant gesit en die opgefrommelde bondels plastieksakke alles in een sak gedruk. “Is dit nie gevaarlik nie? Met kinders in die huis?” Sy het haar vreugdelose laggie gegee. “Dink jy hulle kom ooit in die kombuis behalwe om kos te vra?” “Mens weet nooit nie.” Die hond het voor my kom staan met ’n benoude uitdrukking op sy gesig en ek het hom by die deur uitgesit. Die mans het gekla oor die koue wind teen hulle rûe en Bettie was besig om tee te skink. Ek is vinnig terug na die kombuis en het al die gif, of wat vir my na gif gelyk het, tot ver agter in die kas geskuif en die plastieksakke en skoonmaakgoed voor gesit.
“Bly jy nou net hier,” het ek vir die Engel gesis. “Pas die kas op. Ek het jou bystand nie nou nodig nie.” Ná middagete het ons almal gaan lê. Daar was nie eintlik iets anders om te doen behalwe aptyt opwerk vir die groot Kersete wat Bettie vir die aand beplan het nie. Middagete (net sop en brood) was skaars verby toe sis die bottervet kalkoen al in die oond en is die huis deurtrek van die reuk van bakkende pluimvee. Bettie het weer te veel sjerrie saam met haar sop gedrink en was tranerig en selfbejammerend terwyl ons opgeruim het. Niemand het haar waardeer nie, Brian het net van haar gehou omdat sy so goed kon kook (en sy kon). Sy libido was laag, het sy my vertel; aan meer as maaltye en gemoedelike kameraadskap het hy nie behoefte gehad nie. Boonop was haar rug seer omdat die bed in die houthuis sagter was as haar bed by die huis en sy was seker sy sou verkoue kry. En asof dit nie voldoende rede was om ongelukkig te voel nie, het haar hormone haar opgekeil sedert die operasie. “Jy moet maar geduldig wees met my buie,” het sy gesê. “Brian weet dit al.” Ek het regtig nie geweet wat om te antwoord of hoe om te simpatiseer nie. Ek was gewoon te jonk en onervare. Kinders was ’n jonger weergawe van myself, maar sonder die beperkinge van volwassenheid. Hulle kon sê wat ek sou wou sê, maar nie durf nie. Meer as dit het ek nie geweet nie. Ek kon hulle nie ontleed of oorreed om van iemand te hou nie. Die driehoek van twee ma’s en een pa was buite my ervaringsveld. Ek het self twee ma’s gehad as ’n mens Johanna bytel, maar hulle het vreedsaam saamgeleef en nie die een teen die ander afgespeel nie. Peter het nie van my gehou omdat ek kos kon kook nie. En hy wou trou. My hormone was ’n konsep waaraan ek selde gedink het; ek sou nie geweet het of dit op hol is of nie. In vergelyking met Bettie was my lewe ’n psalm en hare ’n dissonante gemors. “Jy’t darem jou eie besigheid,” het ek lomp getroos. “Jy’s finansieel onafhanklik.” “Ha!” was al wat sy wou sê. Ek het my laaste troefkaart uitgehaal en haar vertel van my gesin. Dit het mense gewoonlik vermaak, maar met haar het dit misluk. “’n Huishoudster?” het sy skerp gevra. “Het julle ’n huishoudster?”
Ek het Johanna as onderwerp afgeskryf en op Ma gekonsentreer. “Vir sulke hulpelose vrouens is daar in hierdie moderne tye nie plek nie,” het sy Ma verwerp en die vulsel vir die kalkoen gewelddadig geknie. Die sjerrieglas het nog langs haar gestaan en sy het kort-kort bygevul. Ek het onthou dat ek besig was om te gesels met ’n vrou wat ’n warmwatertenk kon vervang en het oorgeskakel na Elsa en Kara. “Sy’t haar laat steriliseer? Terwyl sy nog jonk en vrugbaar was?” Nog ’n bloutjie. Ek het vinnig vertel van verwagtende Kara wat haar huis wou vul met kinders in al die kleure van die reënboog. “H’m,” het sy gesê, nie heeltemal goedkeurend nie. “Hoekom is hulle nie getroud nie? Is hy ook een van die soort mans soos Brian?” My moed was laag. Miskien moes ek in New York gebly en my deur Joe laat fotografeer het. “Ek weet nie. Ek dink hulle sal trou.” Dokter Anders en Frederik en Dora het haar ook nie eintlik geamuseer nie. Bowendien was die skottelgoed afgedroog en weggepak en was ek lus vir loop. Maar in ’n laaste desperate poging het ek haar van die Engel vertel en dit was ’n kolskoot. “Sowaar?” het sy gesê en die laaste druppels uit die bottel in haar glas gegooi. Die kalkoen was in die oond en sy het teen die wasbak geleun en skigtig om haar rondgekyk. “Is hy nou hier by ons?” “Ek weet nie.” Ek het oor my skouer gekyk, maar die Engel het geswyg. Miskien was hy binne-in die kas, doenig met die oppas van die gif, soos ek hom gevra het. “Maar is hy gewoonlik by jou?” “Ek dink so. Ek het hom van my ouma geërf. Vir hom en ’n borsspeld met geel steentjies. Nie diamante of iets nie, sommer net mooi steentjies.” “Jy bedoel toe jou ouma sterf, het hy net so oorgestap na jou?” “Nee, hy was baie jare tussenin weg. Miskien was hy terug vir ’n reoriëntasiekursus.”
Bettie het begin lag en gelag tot sy begin hik het. Hoe meer sy gehik het, hoe harder het sy gelag. Ek het voldaan na haar gestaan en kyk. “Wat is so snaaks?” het Junior gevra en in die deur kom staan. “Ag, kind,” het Bettie gehyg en hom teen haar maer lyf vasgedruk. “As jy maar weet.” Junior het ongemaklik gelyk, maar nie ontevrede nie. Ek kon sweer hy geniet die omhelsing. “Ek het Bettie laat lag,” het ek vir Peter gesê toe ek in ons kamer kom. Hy het met gekruiste bene op die bed gesit en blaai deur ’n tegniese tydskrif en ek het langs hom gaan sit. “Jy laat my ook lag,” het hy afgetrokke gesê en sy hand op my nek laat rus. “Ja, maar jy lag maklik. Bettie nie.” “H’m,” het hy gesê.
Ná die slapie was almal knorrig. My teorie was dat die suurstof in die huis begin min raak het, maar ek het geen ondersteuning gekry nie, veral nie van die mans wat my daarop gewys het dat meer as genoeg suurstof deur die balke ingelaat word. Dit, op sy beurt, het Bettie genoop om te kla dat dit verklaar waarom sy so koud om die blaaie gevoel het. Die kinders was die enigste wat vrolik was. Hulle het selfs aangebied om die tafel te dek en het elke klapper geskud, probeer inkyk wat binne-in is en daarvolgens besluit wie kry watter een. Ek het hulle gewys hoe om die servette in waaiers te vou, ’n truuk wat ek by Elsa geleer het. (Elsa het nooit net ’n tafel gedek nie; sy het altyd ’n kleurskema, ’n tema en iets pikants of ongewoons as versiering. Soos die keer toe sy by ’n visete ’n kunstige versameling skulpe op ’n silwer bordjie gerangskik het en een van die skulpe begin wegloop en ’n slymspoor oor die gestyfde tafeldoek gelaat het. Dit was Hannes se skuld, het sy gesê. Die idee was dat hy leë slakskulpe uit die tuin bymekaar moes maak. Johanna het gelag soos ’n heks toe ek haar ná die tyd daarvan vertel het.) Ons het verder gebou aan die legkaart. Brian het aan die lug gearbei omdat dit sy
spesialiteit was. Tussendeur het hy ons vertel van sy bekwame broers. Een was ’n advokaat en die ander een ’n meubelmaker (iets wat hy en Peter gemeen gehad het) – albei hooggeag in hulle onderskeie gemeenskappe. Hy het afgunstig geklink en ek het onthou dat Peter my in die kamer vertel het dat Brian, alhoewel ’n liewe mens, nie ’n baie suksesvolle ingenieur was nie. Te lui, basies. Te lief vir sy gerief. Nie flink genoeg uit die vere nie. Goeie kontrakte het verlore gegaan omdat sy tender te laat was. “My vorige vrou was net so suksesvol,” het hy vertel. “Wat bedoel jy met vorige vrou?” het Bettie gevra. “Sy is die enigste een.” Ons het warm, gekruide wyn gedrink om die grys koue en bedrukking van die laatmiddag en die vallende sneeu te besweer. Dit het Bettie weer veglustig gemaak. “Dis mos wat ek gesê het,” het Brian gesê. “Wat het sy gedoen?” het ek vinnig gevra. “Apteker. Sy besit haar eie apteek.” Hy het vir my na ’n bevoorregte man geklink. Iemand om hom van meubels te voorsien, iemand om sy regsake te behartig, iemand om hom van medisyne en toiletware te bedien en iemand wat alles kan regmaak wat breek. My susters, ’n kunskenner en ’n onderwyseres, was van min praktiese waarde. “Sy’s ook baie mooi,” het Bettie bygevoeg. “Ag, Bets.” “Sy is. Kyk net na haar hare en daardie wulpse lyf.” Brian het ingedagte gelyk. Ek het my verbeel ek sien verlange in die blik wat hy oor ons gewerp het voordat hy hom weer toegelê het op die blou stukkies voor hom. “Is sy weer getroud?” het ek gevra. “Nee,” het Bettie vinnig geantwoord. “Sy sit en wag dat Brian moet terugkom.”
“Hoekom is sy dan in die eerste plek weg?” “Taktloos,” het die Engel in my oor gesug. “Ons probeer olie op die waters gooi, nie ’n brandende fakkel nie.” “’n Ander man,” het Bettie triomfantlik gesê. “Is dit nie so nie, Brian?” “Wie’s lus vir ’n wandeling?” het Peter gevra. “Om ons aptyt op te wek vir daardie kalkoen?” Bettie het gesê sy hou liewer ’n ogie oor die kos, maar die res van ons, geklee soos maanlopers, het uitgestrompel en bokant die huis padlangs begin loop. Die pad was nie herkenbaar as sodanig nie en Brian het gemor oor die kontrakteur wat veronderstel was om dit te skraap. “Waarvoor betaal ek hom?” het hy gevra. Peter en die kinders het vooruit gehardloop en mekaar met sneeuballe gegooi. Hulle het geval en gegil en gelag en ek het ’n aantekening gemaak van die feit dat Peter ’n goeie pa sou maak. Nie dat ek in pa’s belanggestel het nie, maar dit was goed om te weet. Brian het my arm deur syne getrek en ons het stadiger agterna gestap, soos twee ou mense. “Jy moet Bettie nie te ernstig opneem nie,” het hy vir my gesê. “Sy is nog besig om te herstel ná haar operasie. Dit het haar geknou.” “Ja,” het ek simpatiek gesê. As ek my tong uitgesteek het, het die fyn sneeukorreltjies op my tong geval en gesmelt. Sedert ons wakker geword het, het dit ligter gesneeu, yskristalletjies eerder as vlokke. “Die ding is,” het ek vir hom gesê toe ek moeg word vir sneeu eet, “sy soek na vastigheid. Ek kan seker nie saampraat nie, want ek ken haar nog nie lank genoeg nie, maar dis soos ek dit sien. Sy wil trou.” “Ek weet.” Hy het geklap na ’n tak wat sy sneeulading met ’n plof voor ons voete laat val het. “Dis wat alle vrouens wil hê.” “Behalwe ek.” Hy het gelag. “Natuurlik sal jy. Dis al waaroor Peter die afgelope twee jaar praat.”
“Hoekom?” Hy het sy breë skouers in die dik skaapvelbaadjie opgehaal en in die proses ’n bietjie sneeu laat afval. “Dit weet hy self nie. Selfs as hy op sy kwaaiste verlang het, het hy nog erken hy weet nie wat dit omtrent jou is wat hom so aantrek nie.” “Hy beter uitvind voor hy wil trou,” het ek bits gesê. “Jy’s gemaak vir trou,” het hy gesê en sy voete gestamp om die sirkulasie aan te help. “Dienares van hoëre gode,” het ek gemymer. “Behalwe dat ’n mens net eers moet vasstel wie hulle is en of hulle inderdaad hoër is. En indien wel, waarom.” Hy het my nie gehoor nie. “So ons moet maar geduldig wees met ou Bets,” het hy gesê, sy vingers in sy mond gedruk en ’n fluit gegee wat ’n sneeustorting sou kon veroorsaak. Peter en die kinders het opgekyk en baljarende na ons begin terughardloop. Al drie se wange was gloeiend rooi en hulle oë helder asof die koue hulle uitgespoel en toe vernis het. “Kom ons gaan terug,” het Brian voorgestel. “Ons kan nie vir Bettie so lank alleen laat nie. En ons wyn word koud.” Hy was onnodig bang, die wyn was op. Bettie het ons by die deur ingewag, klaar verklee vir die feestelikhede van die aand, haar wange net so rooi soos ons s’n. Sy het ’n pers langbroek aangehad met ’n silwer-en-pers bloes daarby. Die meeste mense sou siek gelyk het in daardie besondere skakering van pers, maar dit het haar gepas. Sy het jonk en amper tevrede gelyk. “Bettie!” het Brian verras gesê en haar op die mond gesoen. “Hoe mooi lyk jy! Lyk sy nie mooi nie?” Ons het almal gelyk ja gesê; selfs Denise het skamerig aan die silwerige materiaal gevat en gesê dit voel nes aluminiumfoelie. Toe is ons almal boontoe om ook iets aan ons voorkoms te probeer doen. Junior het droë jeans aangetrek met ’n hemp waarop ’n geel-en-oranje monster met vlammende bek dwarsoor sy borskassie na ons gegluur het. Denise het ’n pienk valletjiesrok gedra en my kom vra om haar poniestert vas te bind en ’n lint in te strik. Peter het ’n roomkleurige langbroek met ’n ende trui gedra en allerliefliks gelyk. Ek self het my een ordentlike rok, ’n donkerbloue met ’n kantkragie, aangetrek en Brian het ’n kaftan gedra oor sy jeans. Dit het hom enorm laat lyk, maar ons het nie
opmerkings gemaak nie. Dit was Oukersaand en sover ek weet, het selfs die Engel verklee in vars vleuels of ’n nuwe stralekrans. “Vanaand is die aand,” het Bettie gesê toe ek haar help opskep. “Die aand vir wat?” “Jy sal sien.” Die kalkoen was sag, die pampoenkoekies (vooraf vervaardig en bevrore saamgebring) geurig, die kapokaartappels donsig en die skons vuurwarm. Net die sous was effens klonterig, maar ons het so lekker geëet dat ons dit amper nie eens agtergekom het nie. Die kinders het die wensbeentjie probeer trek, kon dit nie breek nie en moes hulle pa se hulp inroep. Ons het ons klappers oorkruis getrek en al die ringetjies, fluitjies en miniatuur-yo-yo’s vir die kinders gegee. Brian het aangedring dat ons die papierhoede op ons koppe sit en die res van die maal het dit gedreig om af te val. Saam met die nagereg (gestoomde, vooraf vervaardigde en geblikte Kerspoeding waaroor Johanna haar hoof in skaamte sou laat hang het) het ons sjampanje gedrink en die kinders is elk ook ’n vingerhoedjie vol toegelaat. “En nou die geskenke!” het Brian geroep. Bettie het hom waterpas in die oë gekyk. “Nie voor almal nie gehelp opruim het nie. Ons sal dit doen terwyl jy vir Kersvader gaan haal.” “O,” het hy gesê. “Ja. Natuurlik.” Ek en Peter het opgewas en afgedroog, die kinders het die tafel afgedek en die hond gevoer en Bettie het die oorskietkos, waarvan daar baie was, in lugdigte houers geskep en in die yskas gebêre. Ons was net klaar toe Kersvader die trappe afgesukkel kom. Hy kon skaars loop en ek kon sien waarom. Die slaapkamerkussings was dig gestop en swaar en Brian het ten minste twee om sy maag vasgebind gehad onder die ekstra groot rooi pak wat hy gehuur het. Hy was ’n groot man, om mee te begin, maar in dié klere het hy gelyk na ’n reus. Die baard het losserig om sy gesig gekleef, soos wattebaarde maar maak, en die mus het gedreig om oor sy voorkop af te sak.
“Ho, ho, ho,” het hy gesê en in die algemene rigting van die Kersboom beweeg. “Daddy!” het die kinders gegil. “Nee,” het Bettie hul betig. “Dis Kersvader.” Hulle het haar minagtend aangekyk en om hulle pa getrippel. Om hulle te terg het hy eers ’n pakkie vir Bettie uitgesoek en toe een vir my. Van toe af was alles chaos soos Kerspapier deur die lug gevlieg het, die hond blaffend daartussen rondgehol en almal “oe” en “kyk net hier!” geroep het. Bettie het by Brian ’n ding gekry wat vir my gelyk het na ’n elektroniese kragopwekker vol drade en meters en LED-liggies. Sy het bly gelyk, maar ek het tog gewonder of sy nie ’n pelsjakkie sou verkies het nie. Die kinders het vir haar ’n serp gegee en ’n dosie geskenkseep. Brian het ’n trui gekry, ’n klompie plate en die Encyclopaedia Brittanica. (Dit was nie daar nie, maar Bettie het die bewys vir hom gegee en hom verseker as hy tuiskom, wag die hele stel plus die nagemaakte essehoutboekrak waarin dit pas, vir hom.) Peter het ook ’n serp, ’n trui (van my) en ’n paar boeke gekry. Bettie het vir hom ’n bottel naskeermiddel gegee, wat ek heimlik afgekeur het omdat dit dieselfde was as wat Hannes gebruik het en ek dit geassosieer het met droë knolle. (Wat Peter nie was nie.) Ek het ’n boek oor die Nasionale Parke van Amerika by Brian en Bettie gekry, van die kinders ook ’n dosie geskenkseep (seker by hulle ma in die apteek gekry) en van Peter ’n silwerketting waaraan ’n swaar, nagemaakte, outydse horlosie gehang het. ’n Pragtige ding. “Dis lieflik,” het Bettie gesê en oor my geleun toe ek dit om my nek hang. Haar kragopwekker het eenkant onder die verfrommelde papier gestaan en haar asem het na wyn geruik. “Ja,” het ek saamgestem en Peter vinnig op die wang gesoen. “Nou goed,” het Bettie gesê toe alles oopgemaak was en ons al die kinders se speelgoed bewonder het. “Laat ons begin opruim, want dis amper slaaptyd vir klein kindertjies.” Die kinders het gemor en Brian het opgestaan om nog sjampanje te kry en van sy verstikkende uitrusting ontslae te raak. “Ek het ’n vars kastrol kruiewyn gemaak,” het sy na hom geroep. “Dis lekkerder as sjampanje.”
Die kinders wou ook hê en sy het hulle toegelaat om te proe. “Sal hulle laat slaap,” het sy gesê en vir my geknipoog. “Ek wil hulle nie vanaand onder my voete hê nie.” “Sal hulle ook laat bed natmaak,” het ek teruggefluister. “Eers badkamer toe voor julle inkruip!” het sy beveel en hulle gehelp om al hulle buit boontoe te dra. “Iris sal ons in die bed sit,” het hulle vir haar gesê en sy is terug ondertoe sonder om hulle nag te sê. “Dis Oukersaand,” het ek betig. “Ons moet lief wees vir mekaar.” “As sy my in die bed sit, maak ek sommer my bed nat,” het Junior gesê. “Dis verspot. Om doelbewus so iets te doen, is baie kinderagtig.” Maar ek was ook nie lus vir baklei nie, en hulle was eintlik baie moeg van die speel buite, die opgewondenheid en die wyn. Ek het hulle toegemaak en op die voorkop gesoen en besef dat ek dit nogal geniet het om huis-huis te speel met twee regte kinders. “Watse werk doen jy eintlik?” het Brian my gevra toe ons later lankuit in ons stoele voor die kaggelvuur sit. “Ek werk by ’n tandarts.” “Dis nie baie ambisieus vir iemand wat glo sy moet ’n ster wees nie,” het Bettie gesê. “Ek het nooit gesê ek wil ’n ster wees nie.” “Jou oomblik van glorie dan.” Sy het venynig geklink. “Ek dink dit werk op ’n glyskaal,” was Brian se mening. “Vir ’n aktrise beteken dit seker ’n toekenning, vir ’n model om op die buiteblad van ’n toptydskrif te verskyn . . .” Hy het my ’n skuins kyk gegee. “Vir die ou man wat langs ons woon, is dit wanneer sy kaktus blom.” “En vir jou?” het Peter gevra.
“Ha!” het Bettie gesê en haar glas met onseker vingers in sy rigting gelig. Brian het lank gedink. “Dis ’n moeilike vraag. Ek vra nie veel nie, sien. My verwagtinge is nie hoog nie. Ek wil maar van dag tot dag voortgaan sonder te veel probleme. Solank ek kan werk en my kinders om my het en vakansie kan hou wanneer ek wil. Soos die ou man langs my. Ek sal ook bly wees as my kaktus blom.” “Jy gee dit te veel water,” het Bettie gesê. “En jy, Bettie?” het ek gevra, want ek kon sien sy voel afgeskeep. “Vra eers vir Peter,” het sy gesê. “Hy sê nooit iets nie.” Ek wou hom juis nie vra nie, maar ons het ons almal na hom gewend. “As ek kan kry wat ek wil hê,” het hy slim geantwoord. “Dit sal my tevrede stel.” “En wat wil jy hê?” het Bettie gevra. “’n Hele lys goed, maar almal binne die perke van moontlikheid. Ek hoop nie op ’n Nobel-prys nie.” “En gaan jy vir ons vertel wat op jou lys is?” het Bettie gevra. “Nee.” “Die lewe het geen sin nie,” het sy verklaar met die selftevredenheid van iemand wat dink hulle het pas iets oorspronkliks kwytgeraak. “Dis oor jy te veel wyn drink,” het Brian gesê. “Dis omdat my lewe begrens word deur skroefsleutels en sweisapparate.” Sy het haar hand van voor na agter deur haar hare getrek en onmiddellik gelyk soos ’n grys bosloerie. Ek het reggeskuif om te luister. Party van my vriendinne het soms sulke bewerings gemaak – oor die lewe, nie die skroefsleutels nie – en Ma het altyd gesê dis deel van die grootwordproses. Johanna het gereken dis die bogpraatjies van snuiters wat nog nie eens die lewe beproef het nie, dan gee hulle al uitsluitsel daaroor. Bettie was die eerste volwassene wat ek so hoor praat het.
(Kara het dit in haar nonperiode gesê maar Elsa nooit nie. Vir Elsa was die lewe altyd ’n goed gemerkte, onlangse padkaart: Wie kan lees, kan dit volg.) “Ek dink ek moet ’n einde daaraan maak,” het sy voortgegaan. “’n Skoon einde. Ek het so ’n hekel aan ’n gemors.” Ek het na die twee mans geloer. Peter se oë was halftoe; ten spyte van die middagslapie het hy vir my gelyk na iemand wat enige oomblik aan die slaap gaan raak. Brian het sy pyp in die vuurherd uitgekrap, sy twaksakkie uitgehaal en suigend sy pyp gestop. Bettie se aankondiging was kennelik ou nuus vir hulle. “Goeienag,” het Bettie gesê en waardig opgestaan al moes sy haar hand uitsteek om haar te balanseer. Ons het haar in die kombuis hoor vroetel met potte en kaste en kort daarna is sy boontoe. “Kom,” het Peter vir my gesê, en sy oë was warm. “Wat van Bettie?” wou ek darem net weet. “Sy’t gaan slaap,” het Brian gesê. “Is dit wat sy bedoel as sy sê sy gaan ’n einde aan alles maak?” Hy het geglimlag. “Normaalweg drink sy min. Dis net met feesdae dat sy haar vergryp en morbied raak.” “Maar sê sy altyd sy gaan ’n einde aan alles maak?” “Nie altyd nie maar dikwels genoeg,” het Peter gesê en sy hand na my uitgehou. “Wat het sy in die kombuis gesoek?” het ek volgehou al het ek reeds willoos in Peter se rigting beweeg. “Seker melk warm gemaak. Sy hou daarvan voor sy gaan slaap.” “Ek weet darem nie,” het ek vir Peter gesê toe ons alleen in ons kamer was, besig om truie en skoene van mekaar te trek. “Jy het ’n oorval gekry omdat ek met vreemde mense in New York gepraat het, maar jou vriende is nie vry te spreek nie. Gemeet op ’n skaal waar nul normaal is en tien abnormaal sou ek sê Bettie is ’n nege.”
“Los vir Bettie,” het hy gesê en die nuwe silwerketting versigtig oor my kop getrek. “Sy het ’n ooraktiewe verbeelding, iets waaraan jy ook skuldig is.” Hy het sy hande oor my nek en skouers laat gly en ek het gewonder of die staalstange en betonplatforms ook vibreer van plesier onder sy aanraking. “Ek het al saam met hulle gekampeer in die somer en sy maak ’n drama van die mees gewone gebeurtenis. Bowendien, sy is Brian se verantwoordelikheid.” “Maar is hy altyd by as sy hom nodig het?” Hy het my gesoen om my te probeer stilmaak. “Hy ken haar beter. Hy weet wanneer sy iets bedoel en wanneer dit net los praatjies is.” Sy hande het om my gesig gevou en ek het teen hom gekantel. “Ek dink hy weeg dit op teen die hoeveelheid drank wat sy ingekry het.” “Dan behoort sy behandeling te kry.” “Jy ook,” het hy gesê. “Van ’n ander aard.” Ek het na asem gesnak. “Toe julle saam kampeer het . . .” “Sjuut,” het hy gemaan. “Maar het sy toe ook gesê sy gaan ’n einde aan alles maak?” het ek verby sy nek en hare gevra. “Natuurlik.” “Hoe?” “Hoe wat?” “Hoe wou sy dit doen?” “Sy sou by die waterval afspring. Dit was nie baie hoog ne; ons kon rustig gaan slaap het.”
Van Bettie kon ek nie ’n Greta maak nie. Sy het nie genoeg waardigheid gehad nie, om mee te begin. As een van my karakters gepraat het, het mense geluister
en gereageer. Dis waarom ek hulle dialoog gepoleer en verfyn het. Hulle het nie “Ha!” gesê en hulle neuse rooi gesnuif nie. Greta sou ook nie gedreig het om by ’n vlak waterval af te spring nie. Maar my onmiddellike probleem was Peter en Eduard. Die twee was besig om te oorvleuel, veral in die koue nagte onder die dik donskombers. Eduard was ’n adolessente skim, moes ek teësinnig toegee, Peter was werklikheid en die Engel het êrens tussen die twee ingepas. My lewe was bevolk met mense wat of te veel of te min ektoplasma gehad het. En aangesien die Engel nooit saans voor my slaapkamerdeur uitgekamp het en gewaarsku het teen onheilighede nie, het ek Ouma se weergawe van die gebeure bevraagteken. Sy kon die Engel meer mag toegeëien het as wat hy in werklikheid gehad het of anders is hy, soos ons, deur die evolusieproses van die twintigste eeu gestoot en het anderkant uitgekom met ’n verslapte sin vir verantwoordelikheid. “Waarmee is jy nou besig?” het Peter gevra. “Frederik?” “Ek dink sommer.” “Dink aan my.” “Sekerlik,” het ek gesê en my neus tussen sy borshare ingewoel.
Ek weet nie hoe laat dit was toe ek wakker geword het nie. Peter het vas geslaap, sy arm swaar oor my bors, en eers wou ek net omdraai en weer slaap behalwe dat daar ’n hand op my ander skouer was, en ’n koue hand daarby. Ek kon niks sien nie, daarvoor was dit te donker. “Kom,” het die Engel gesê. “Kom.” Ek het agter hom aangestrompel en eers by die deur besef ek is kaal. “Net ’n oomblik,” het ek gemompel en ’n trui oor my kop getrek. Ek was nog besig om my sweetpakbroek op te trek toe ek ’n nare geluid hoor en die Engel my gewelddadig in die gang uitstoot. Die badkamerdeur was toe, maar ek kon die lig onderdeur sien skyn. Die geluide wat ek gehoor het, het my wawyd wakker gemaak.
“Joe-hoe,” het ek saggies gesê en aan die deur geklop. “Is iets verkeerd?” Daar was geen antwoord nie, maar die skeurende, brakende geluide het momenteel opgehou. “Bettie?” het ek gevra en aan die handvatsel getrek. Dit was gesluit. Ek het met die trappe afgedraf na die kinders se kamer en ingeloer. Albei was aan die slaap. Terug op ons verdieping het ek by al twee kamers ingekyk en gesien dat Brian ook rustig slaap. Hy het op sy rug gelê, sy bultende borskas deinend in die koue. Ek het die kombers tot onder sy ken opgetrek en vinnig teruggespring toe sy gesnork van rat verander. Dit moet Bettie gewees het en ek is terug na die badkamer. “Bettie?” het ek gesis. “Dis ek. Maak oop.” Ek het weer aan die handvatsel geruk en dié keer het die deur meegegee en ingeswaai na binne. Sy het in die middel van die vloer gesit, kruisbeen op die klam blou matjie, die plastiekwasgoedemmer tussen haar bene. Sy het miserabel gelyk en die reuk was oorweldigend, suur en chemies. Haar hare het aan haar kopvel gekleef en haar gesig was grys. “Ek het ’n plaat,” het sy onduidelik gesê en haar hand teen haar mond gedruk. “’n Wat?” ’n Verduideliking was onnodig. Sy het ’n pienk deursigtige verhemelte waaraan vier tande vasgesit het, uit haar mond geruk, vooroor gebuig en brakend oor die wasgoedemmer gehang. Haar hele lyf het geruk en gesidder, maar daar het nie veel uitgekom nie. Te oordeel na die inhoud van die emmer moes sy lankal leeg gewees het. Toe die spasma verby was, het sy met bewerige hande die vier tande teruggesit. “Maar Bettie,” het ek gesê en voor haar gehurk. “Wat het gebeur? Is dit net die wyn of het jy iets gedrink?” “Ek gaan dood.” “Nee, nee,” het ek gesê en opgestaan om ’n waslap nat te maak. “Ek wou skoon doodgaan,” het sy gesê en afgekyk na haar bemorste naghemp. “Het jy iets gedrink?” het ek weer gevra.
“Gif,” het sy gesê, haar oë omgedop en stadig omgekantel. Ek het die emmer net betyds gegryp en dit in die toilet afgespoel. Die skerp reuk het vervaag en ek het meteens gewonder of dit die regte ding was om te gedoen het; miskien was die inhoud van die emmer nodig vir identifikasie. Maar daar was nie tyd vir tob nie. Ek het ’n handdoek onder Bettie se nek ingewig sodat haar kop gelig was en toe weggespring om die mans te gaan roep. Die Engel het swyend in die gang gestaan en ek was lus en klap na hom. Waar was hy toe sy met die gif gefoeter het? Ek het Peter aan sy mooi skouer geklou. “Word wakker! Bettie het gif gedrink!” “Uh-uh,” het hy gesteun. “Sy sê net so.” “Peter! Nee! Sy’s uit soos ’n kers. Grys in die gesig.” Hy het regop gesit en met knipperende oë na my gekyk. “Wat?” “Jy moet kom help.” Ek het die moue van my trui opgeskuif omdat dit aanmekaar oor my polse geval het en agtergekom dit was nie my trui nie maar Peter s’n. “Hier,” het ek gesê en dit oor my kop gestroop. “Oe,” het hy gekreun en sy warm hand teen my bors gedruk. Ek het eenkant toe gestaan en my eie trui aangetrek. “Maak gou, ek gaan vir Brian roep. Moenie die kinders wakker maak nie.” Om vir Brian wakker te maak, was soos om ’n gestrande walvis terug see toe te sleep. Hoe meer ek aan hom gestamp en gestoot het, hoe verder het hy gerol om weg te kom van my indringende hande. Hy het nie eens sy oë oopgemaak nie, net sy snorkies het van pas verander. “Brian!” Ek het hom teen die voorkop getik. “Bettie is besig om dood te gaan. Jy sal moet ry om ’n dokter of iets te kry.” Sy oë het oopgegaan. “Ons kan nie ry in hierdie sneeu nie.” “Wel, ons moet iets doen.” Ek het hom gelos en teruggedraf na die badkamer.
Bettie het gelê soos ek haar gelos het, blouerig om die mond, haar hande slap op die mat. Ek het my oor teen haar bors gehou en was bly om te hoor haar hart klop en sy haal asem. Peter het langs my gekniel. “Ons het nie ’n telefoon nie en die paaie is onbegaanbaar,” het hy gesê en haar slap gewrig tussen sy twee hande gevryf. “Wat het sy gedrink?” “Ek weet nie.” Ons het albei in die badkamer rondgekyk, maar daar was geen leë, omgevalle bottel om ’n leidraad te gee nie. Die sjampoebottel was vol en verder was daar net tandeborsels en tandepasta en ’n blikkie handeroom. “Ja,” het Peter gesug en opgekyk na Brian wat groot en verslons in die deur gestaan het, sy kamerjas los om sy maag geknoop en sy gryserige hare woes om sy kop. “Wat doen ons nou?” “Sy was naar gewees,” het ek vertel. “Amper ’n emmer vol. Die gif is dalk al uit.” “Dis nie noodwendig ’n goeie ding nie,” het Peter gesê. “Ek herinner my daar is sekere gifstowwe wat liewers moet binne bly anders brand dit twee keer, met die ingaan en die uitkom.” “Wat het sy gedrink?” het Brian gevra en oor sy mond gevryf. “Ons weet nie.” Ons het al drie na die stil figuur op die vloer gekyk. “Watse gif het jy in die huis gehad?” het ek ergerlik vir Brian gevra. “Dis jou huis, jy behoort te weet.” “Ander mense huur die huis,” het hy homself verontskuldig. “Ek weet nie wat hier ingedra word nie.” “Miergif,” het ek gesê. “Rottegif. Dis al waarvan sy my vertel het. En ek weet van tande en mondhigiëne, nie gif nie.” “Brian,” het Peter beveel. “Tel haar op en probeer haar bykry. Ek en Iris sal die
motor gaan uitgrawe. Ons sal haar hospitaal toe moet neem. Dis sinneloos om hier te sit en spekuleer.” Hy het na my gekyk. “Trek aan jou stewels en anorak.” Daar was gelukkig ’n effense maan wat sigbaarheid buite verbeter het en dit het nie meer gesneeu nie. Maar dit was ongelooflik koud, so koud dat ek my oogvliese voel brand het. Ons het Brian met baie komberse en ’n kan swart koffie by Bettie gelos en ons is met grawe en die flitslig na buite om die motor uit te grawe. Dit was ’n onbegonne taak, veral vir my wat gewoond was aan droë wit gras en kakiebos. Die sneeu was tot teen die buik van die motor en het in die nag gevries sodat die wiele soos ’n vlieg in ’n ysblokkie vasgesit het. “Breek die ys weg,” het Peter beveel en met sy swaarder graaf begin kap. Ek het my bes gedoen, maar my graaf het met ’n metaalgeluid van die ys weggekaats. Ek het gegly op die ongelyke bevrore sneeu en binne minute het ek alle gevoel in my voete en bene verloor. Maar ons het gevorder, nie vinnig nie, maar tog. Peter het die twee wiele aan sy kant reeds skoon gehad en ek was besig met die agterste een aan my kant toe ek skielik afgly in die sloot wat ek self gegrawe het. My voet het teen die band tot stilstand gekom op dieselfde tyd as wat ek my lyf in die teenoorgestelde rigting gegooi het in ’n poging om my balans te behou. Iets het “klieks” gemaak en ek het gaan sit. “Peter,” het ek gesê. “My voet het ‘klieks’ gemaak. Of dit was my been, ek is nie seker nie.” “Grawe, Iris,” het hy gemaan. “Ons het hom amper uit. Ek skraap solank hier na voor sodat ons oop gruis het vir die wiele om te vat.” “Dit het geklink soos ’n rou wortel wat ’n mens middeldeur breek. Of seldery as dit nog nie verlep het nie.” Hy het my nie gehoor nie. Ek kon hoor hoe hy na asem hyg en so sittende het ek maar voortgegaan met die wegstoot van die sneeu om die agterwiel. “Ek gaan kyk of die enjin sal vat,” het hy gesê en die deur probeer oopsluit. Ek kon hoor hoe hy swets. “Die slot is gevries. Wat nou?” My sitvlak was ook besig om te verys, maar ek was bewus van pyn êrens in my ledemate. “Blaas daarop.”
“Ek het nie meer asem oor nie,” het hy gekla. “Gaan hoor gou by Brian of hy nie iets het nie. Mens kry ’n ontvriesspuitjie vir slotte. Kyk sommer hoe gaan dit met Bettie.” “Ek dink nie ek kan loop nie,” het ek hom ingelig. “Iets het definitief ‘klieks’ gemaak. Seker my enkel.” “Ai, diertjie,” het hy gesê, die flits gevat en huis toe gedraf. Ek het alleen in die spookagtige, besneeude donker agtergebly. Dit was voelbaar stil, behalwe die skielike protesterende gekraak van ’n tak wat meegee onder sy las. Ek het gewonder of dit nie was wat ek gehoor het nie en het my voete versigtig beweeg. Die een het opgelig en teen die band geskop, die ander een het wel van die knie af gelig, maar pynlik teen die gewig van my stewel teruggeval. Gelukkig het ek die swaaiende lig van die flits sien terugkom en gehoor hoe Peter iets sissends teen die motordeur spuit. “A,” het hy gesê en die deur oopgesluit. “Bettie het al ’n bietjie koffie gedrink en was nog nie weer naar nie.” “Wat spuit jy so?” “Dis die goed wat Brian gegee het. Ek het dit onder die wasbak gekry.” Ek het my ore gespits. “Het jy gekyk of daar iets weg is? ’n Bottel gif of iets.” “Hoe sal ek weet?” het hy gevra. “Daar’s ’n hele spul bottels en gemors.” Hy het die motorsleutel gedraai en die enjin, soos my enkel, het “klieks” gesê. ’n Dooie geluid met ’n sekere finaliteit daaromtrent. “Hy is morsdood,” het hy gesê en weer probeer. Die enjin het sangerig geneul vir ’n sekonde of twee en toe weer “klieks” gemaak. “Dis presies die geluid wat my enkel gemaak het,” het ek gesê. “Soos ’n lekkerbreektakkie as dit goed droog is.” “Dier,” het hy gemaan. “Moenie nou kla nie, ek moet die enjin aan die gang kry.” Maar die enjin, soos ek, het stilgebly. “Jy kan my haardroër gebruik,” het ek voorgestel. “As Brian ’n verlengingskoord het. Blaas die enjin warm en as jy klaar is, gee dit vir my want
ek is besig om te verkluim.” “Jy kan maar in die huis ingaan,” het hy afgetrokke gesê. Die enjin het weer ’n slag gevat, gekla en doodgegaan. Ek het my van my sitvlak af opgelig deur op my hande te druk en het op een been, die ander slepend agterna, huis toe gesukkel. Die lewe was ’n antiklimaks. Dapper dade word nie beloon nie en heldinne bestaan nie. “Peter!” het Brian geroep toe ek die voordeur agter my toeklap en op die trappie wat afgaan na die kombuis neersak. “Sjuut,” het ek gefluister. “Dis nie Peter nie, dis ek. Hy sukkel met die kar.” Brian het van bo af gekom en by my kom staan. In sy mond was ’n dik, stinkende sigaar. “Sy slaap nou. Ek dink nie dis so ernstig as wat dit lyk nie.” “Net sowel,” het ek gegrom. “Peter kry die enjin nie aan die gang nie. Het sy met jou gepraat?” “’n Paar woorde. Wil jy nie vir ons koffie maak nie?” “Maak dit self. Ek het buite op die ys gegly en my enkel het ‘klieks’ gemaak.” Hy het gekrenk verby my gedruk en die ketel aangeskakel. Toe het hy die kombuisvenster op ’n skreef oopgemaak en na Peter geroep. “Moet tog nie so ’n lawaai maak nie. Ons wil nie die kinders wakker hê nie,” het ek gesê. Peter het by die voordeur ingekom en sy stewels op die mat gestaan en afstamp. Die lug wat saam met hom ingewaai het, was ysig en hy het die deur vinnig toegestoot. “Wat nou?” het hy gevra en sy handskoene afgestroop. “Die battery wil nie vat nie.” Brian het hom in kennis gestel van Bettie se vordering en hy het sy skouers opgehaal. “Kyk onder die wasbak,” het ek hulle gebied. “Pak alles uit en kyk.”
Brian het steunend op sy dik hurke gaan sit en begin uitpak. Opwasmiddel, skuurmiddel, ammoniak, seeppoeier, bytsoda (vol en nog verseël), bleikmiddel, vlooipoeier vir die hond, miergif en rottegif, albei pakke halfvol en heel agter in die kas. “Ek weet nie,” het hy gesê. “Dit lyk nie vir my asof iemand onlangs hiermee gepeuter het nie. En dit het heel agter gestaan.” “Sê dit nie wat ’n mens moet doen as iemand daarvan ingekry het nie?” het Peter gevra, ook verby my gedruk en die ketel afgeskakel. Brian het die aanwysings gelees. “Nee. Dit sê net ’n mens moet dit nie inneem nie aangesien dit uiters giftig is. En om dadelik dokter toe te gaan as jy wel per ongeluk daarvan ingekry het.” Hy het aan die boksie geruik. “Poe. Dit stink. G’n hond sal dit doelbewus eet nie.” Die hond, wat die nagtelike aktiwiteite geniet het en ’n paar keer om ons by die motor rondgeskarrel het voor hy besluit het dit is te koud, het sy ore gespits en ons verwytend aangekyk. Soos die warm lug my ledemate ontdooi het, het ’n snydende pyn in my been begin klop. “Ek dink my been is gebreek,” het ek vir die hoeveelste keer gesê. “Ag, foei tog, poplap,” het Peter berouvol gesê en drie koffiebekers uit die rak gehaal. “Ek maak gou vir jou iets warms om te drink.” Hy het hom weer tot Brian gewend. “Dink jy regtig sy is nou beter, want daardie motor kry ons wragtig nie gou hier uit nie?” “Haar kleur was beter. Ek dink sy het die gif – as dit gif was – alles uitgespoeg.” “Het sy iets gedrink?” Ek het my handskoene uitgetrek en op die trap langs my neergesit en my pers naels bestudeer terwyl die mans Bettie se herstel bespreek het. “Wil jy nie net gou weer gaan loer nie?” het Peter vir my gevra. “Ek kan nie loop nie.” Peter het sy koffiemakery gelos, my op die kroontjie van my nat kop gesoen en die trappe twee-twee opgespring boontoe. Ons kon sy bewegings monitor soos die houtvloere vibreer het en ’n paar minute later was hy terug by ons, redelik opgewek.
“Sy slaap rustig,” het hy gesê. “Haar asemhaling is normaal. Ek het net nog ’n kombers oorgegooi.” Hy het die yskas baldadig oopgegooi, melk by ons koffie geskink en een beker vir my aangegee. “Ek dink die krisis is verby.” “Behalwe my enkel,” het ek gesê. Peter het langs my op die trap kom sit en sy arm om my skouer gesit. “Die ding,” het hy goediglik vir Brian gesê, “is nie sneeu gewoond nie. Sit haar tussen die doringbome en die akasias en die ysterhoute en sy’s in haar element, maar moenie dat sy op bevrore sneeu rondfoeter nie, dan hou sy nie op kla nie.” “Hy’t ‘klieks’ gemaak soos ’n droë stok,” het ek gesê. Peter het sy koffie neergesit en my stewel uitgetrek. Hy het die gesonde voet tussen sy twee hande gevryf. “Foei,” het hy gesimpatiseer. “Dis verkluim. Ek vryf dit vir jou warm.” Die hond het belangstellend nader gekom en aan my nat sokkie geruik. “Dis die ander voet,” het ek gesê, maar toe hy aan die stewel trek, het ek gegil. “Wat is dit nou?” het hy gevra. “Dis gebreek!” het ek geroep. “Hoeveel keer moet ek dit nog sê? As jy die stewel só trek, gaan my voet agterbly.” “Jy bedoel dis regtig seer?” “Natuurlik is dit seer!” Teen dié tyd was ek in trane en was dit te laat om my krete te demp. Ons het ’n sagte geskuifel gehoor en die volgende oomblik het Junior deur die slaap na ons gestaan en kyk. “Wat gaan hier aan?” het hy gevra. “Pa?” “Niks nie,” het Brian gesê en sy arm om die kind gesit. “Gaan slaap maar weer.” “Sy huil,” het hy gesê en na my gewys. “Sy’t haar voet seergemaak.” Hy het die kind aan die hand gevat en saam met hom boontoe gestap.
“Wat maak hulle in hulle sneeupakke?” kon ons hom hoor vra. “Speel julle buite nes ons gaan slaap het?” Peter het my voet deur die stewel gevoel. “Dis vreeslik geswel,” het hy bekommerd gesê. “Ons sal die stewel moet lossny.” “Dis nog splinternuut.” “Iris,” het hy gemaan. “Moenie koppig wees nie.” Die afsny van die stewel was nie maklik nie. Bettie se kombuismesse was die een stomper as die ander en ek het besef waarom sy gif as metode gekies het en nie die afsny van haar polse nie. Sy sou dae moes kerf om net die vel stukkend te kry. Selfs die mes waarmee die kalkoen gesny was, het nie veel meer gedoen as die leer beskadig nie. Peter was bang om te veel geweld te gebruik vir geval hy my been ook deursny, en as hy die mes aan die binnekant gehou het om buitentoe te sny, het die stomp kant pynlik in my geswolle vlees gedruk. Brian het sy knipmes gaan haal, maar dit was ook ná tien minute se sny stomp. Die kombuisskêr, nog vetterig soos Bettie die kalkoen geknip het, was die doeltreffendste en terwyl ek aan die kombuiskas vasgeklou het soos ’n pioniersvrou in barensnood, het Peter die stewel afgekry. Brian het sprakeloos na my enkel gekyk. “Dit lyk na ’n spanspek,” het hy gesê. “Net blouer.” Op daardie oomblik het Bettie, klouend aan die trapreling, na die woonkamer neergedaal. Sy het ons verward aangekyk en ek kon sien sy sukkel om die situasie op te som. Oplaas het haar oë na die wekker op die kaggelmantel gedraai. “Vieruur,” het sy gesê, haar stem hees en rou soos gebeur ná ’n mens naar was. “Kersfees. Gelukkige Kersfees, almal.” Ons het swyend teruggekyk. ’n Aansienlike gesig was sy nie. Niemand het haar ’n skoon nagrok aangebied nie en sy was nog in haar bespatte jurk van vroeër. Haar maer voete was kaal en haar hare woes, kwalik ’n tragiese heldin. Maar ek, met my blou spanspekvoet, was dit ook nie. “Geseënde Kersfees,” het Brian eerste tot verhaal gekom en haar loop soen. “Hoe voel jy?” “Sleg,” het sy gesê en in ’n leunstoel neergesak. “Hoekom sit julle hier?”
Peter het afgekyk na my voet. “Iris het haar enkel gebreek. Vermoed ons.” Sy het haar kop stadig in my rigting gedraai asof die beweging pynlik was. “In die bed?” “Nee, buite.” Ek kon sien sy probeer hard assimileer aan feite wat nie wou sin maak nie. “Wat het sy buite gemaak?” Ons het na mekaar gekyk. In ander omstandighede sou ek dalk met iets oorspronkliks voor die dag gekom het, maar op daardie oomblik het ek die bewerasie gehad. My been was onhoudbaar pynlik en ek was nie lus vir gesels nie. “Doen iets,” het ek vir Peter gesê. Bettie het opgestaan, nader gesteier en afgekyk na my enkel. “Julle beter haar hospitaal toe neem. Veel van ’n hospitaal is dit nie, onthou jy, Brian? Die somer toe Denise se stuifmeelallergie haar bors toegetrek het? Twee verpleegsters en ’n bedwelmde dokter. Maar beter as niks. Dit moet gespalk word.” “My motor wil nie vat nie,” het Peter gesê. “En Brian s’n is nog nie uitgegrawe nie.” Bettie se blik het skerper geword. “Hoe weet jy?” “Ons het probeer.” Sy het na Brian gekyk. “So in sy pajamas?” “Nee, ek en Iris.” Sy het teen die kombuiskas geleun. “Hoe wreed. Haar enkel is gebreek en jy laat haar buite in die koue motors uitgrawe.” Peter het gesug en die ysbakkies uit die yskas gehaal en die ysblokkies in ’n plastieksak gegooi. Ek het gegil toe hy die sak teen my enkel druk. “Haar enkel was toe nog nie gebreek nie,” het hy verduidelik.
“Eintlik was dit,” het ek gesê, “maar niemand het my gehoor nie.” “Wat het julle buite gedoen?” het Bettie gevra. “Wat gaan hier aan?” “Ons het gedog jy gaan dood,” het ek gesê. “Ek?” “Gif gedrink,” het Brian bygevoeg en sy arm om haar skouer gesit. “Ek?” het sy weer gesê. Brian het die aand se gebeure vir haar opgesom. Peter het deur die kombuislaaie gekrap en twee houtlepels, ’n houtspaan en die afgebreekte stok van die verestoffer gekry. “Ons sal dit self moet spalk,” het hy gesê. “Bettie, het jy verbande?” “Nee,” het sy gesê en Brian gestuur om kussingslope uit die gangkas te kry. “Hoe kon julle so iets gedink het?” het sy vir ons gevra. “Lyk ek na die soort mens wat gif sal drink?” “Nie regtig nie,” het Peter geantwoord. “Maar jy het gesê dis wat jy gedoen het.” “En jy was uiters siek,” het ek bygevoeg. “Die kalkoen was te ryk,” het sy kortaf gesê. “Ek moes al die vet afgesny het.” Brian het die kussingslope gebring en hulle het dit in repe geskeur. Peter het die houtlepels en spane om my enkel vasgehou en Bettie het die verbande styf gedraai. Toe sy klaar was, het net die skepgedeeltes van die lepels onder my knie uitgesteek. Ek was in trane en Brian het vir my ’n glasie brandewyn ingeskink. “Liewer nie vir jou nie,” het hy taktvol vir Bettie gesê. “So op jou nugter maag.” “Julle spot met my,” het sy gesê en haar onderlip het begin bewe. “Ek gaan Iris in die bed sit,” het Peter aangekondig en my opgetel. Dit was nie maklik nie. Hy moes die draaie versigtig maneuvreer, asof ek ’n laaikas met ’n uitstaande punt was, en ’n paar keer het my belepelde been teen die muur gestamp en moes ek my kop in sy nek druk om nie die dak van die huis
af te skree nie. Hy het my op ons bed neergesit en my anorak uitgetrek. “O aarde,” het hy gesê en na my langbroek gekyk. “Hoe kry ons dit af?” “As jy dit ook afsny, gaan ek nie meer klere oorhê om by die huis te kom nie. En ek wil bitter graag huis toe gaan.” “Ek ook,” het hy gesê en vir my pynpille gegee om te drink.
Kersfees was nie die soort dag waaraan ek met nostalgie sou terugdink nie. Die hospitaal, eintlik ’n verlenging van die dokter se spreekkamer met ’n apteek en oogkundige ingesluit, was ’n bedrukkende gesig op daardie besondere Kersdag. Die dokter was inderdaad bedwelm, soos Bettie hom beskryf het, maar waarvan sou ek nie kon sê nie. Toe ons ligdag en ná ’n oneindige gesukkel met die heuwel afgegly en die besneeude dorpie ingery het, was ek klaar nie lus vir die dag nie, en toe die ongeskeerde dokter ons by die deur ontmoet in sy nagklere, ’n halfoopgemaakte pakkie in sy hand, sou ek weggehardloop het as ek kon. Hy het na die lepels om my enkel gekyk en die pakkie tussen ’n hoop serpe en musse neergesit. “Te veel jolyt,” het hy gesê. Sy kinders het na ons kom kyk en die jongste een het vir ons sy driewiel gedemonstreer. Flardes geskenkpapier het aan die handvatsel gehang. “Ek sluit vir julle oop,” het die dokter gesê en na ’n deur gewys. Ek en Peter het lank in die wagkamer gesit voor die dokter, nou glad geskeer, weer verskyn het. Hy het my enkel ontdaan van die verbande, gegrinnik oor die lepels en dit bevoel. “Ek het dit hoor ‘klieks’ maak,” het ek vertel. Hy het geknik en iemand gebel. Ná ’n lang ruk het ’n blonde verpleegster verskyn, my in ’n rystoel gehelp en deurgestoot na ’n vertrekkie waarin ’n antieke X-straalmasjien gestaan het. Terwyl sy my rondgeskuif en gefotografeer het, het Peter met haar gesels. Hy kon nie sy oë van haar afhou nie. Sy was mooi, moes ek toegee, maar ’n bietjie wulps en ek sou sê sy het ’n nag van jolyt agter die rug gehad, want haar grimering was onseker en haar bewegings stadig. Teen die tyd dat my enkel in gips was, en ek op ’n hoë hospitaalbed gelê het, sou
ek nie omgegee het as Peter haar om haar hand gevra het nie. Ek wou myself terugverplaas na my eie bed in ons eie huis, maar omdat dit onmoontlik was, het ek gevra of ek mag bel. “Vir wie?” het Peter gevra. “Ma.” Hy het my versoek aan sy nuwe vriendin oorgedra en sy het ’n telefoon langs my bed ingeprop. Ons moes ’n rukkie rondval voor ons die relevante kodes in die hande gekry het, maar oplaas het ek Ma se versigtige stem aan die ander kant gehoor en dadelik begin huil. “Darling,” het sy gesê. “Iris, is dit jy? Geseënde Kersfees.” “Ek lê in die hospitaal,” het ek gesê. “Ag nee,” het sy gesimpatiseer. “Hoekom?” Ek het haar vertel. “Wie’s Bettie?” het sy gevra. “Hoekom het sy gif gedrink? Met watter soort mense is jy deurmekaar?” Sonder om haar hand oor die mondstuk te hou, kon ek hoor hoe sy my storie aan iemand herhaal. “Wie’s daar?” het ek gevra. “Elsa-hulle. Ons het nou net van die tafel af opgestaan. Pa lê ’n bietjie.” Dit was ’n onbevredigende gesprek. Behalwe dat ek vir haar gesê het ek wil huis toe kom en sy gesê het dis ’n goeie plan, kon ons nie eintlik iets bereik nie. Ek het die gehoorstuk neergesit, my gesig na die muur gedraai en aangekondig dat ek wou slaap. Peter en die verpleegster is saam daar uit. Die dokter, wat lank langs my op die bed gesit en gesels het, het voorgestel dat ek ten minste ’n dag of twee in die hospitaal bly. Vir die wis en die onwis. Ek het nie omgegee nie, want vir die rit bergop na die houthuis het ek nog nie kans gesien nie. Bettie, Brian en die kinders het in die namiddag kom kuier en die kinders was geïnteresseerd in my harde wit been, tot een van die dokter se kinders verby die venster gebrom het met ’n batteryaangedrewe speelgoedmotortjie. Daarna is hulle saam uit om te speel. Dit was ’n pragtige dag, kon ek deur die venster sien. Die son het geskyn op die wit landskap en die yskegels bokant my venster het druppend en deursigtig op die vensterbank gesmelt. Die blonde verpleegster het my oorskietbrood op die vensterbank gesprinkel sodat ek kon lê en kyk hoe die voëltjies dit verorber. Sy
was eintlik ’n aangename soort mens en ek het skuldig gevoel omdat sy haar Kersdag by my moet deurbring. “Liewer ’n gebreekte enkel,” het sy gesê. “Verlede Kersfees het ons ’n motorongeluk gehad, en alhoewel ons die kwaai beseerde ouers Burlington toe oorgeplaas het, het ons bly sit met die tienerkinders se snye en kneusplekke.” “Dis oor julle nie veiligheidsgordels dra nie,” het ek gesê. “Dink jy so?” het sy gevra. “Vanselfsprekend. Ek werk by ’n tandarts en dis gewoonlik die tande wat in die slag bly.” Sy het haar tong versigtig oor haar skitterwit tande laat gly en my nadenkend aangekyk. Kort daarna het Peter opgedaag en haar gevra hoe ek my gedra. Hy het ook ’n stapel vorms saamgebring wat ek moes invul. “Dit gaan jou ’n fortuin kos,” het hy opgemerk. “Mediese dienste kos ’n fortuin hier. Ek moes saans as kelner gaan werk by die padkafee om my blindedermoperasie te betaal.” “Ek het ’n polis uitgeneem vir sulke gebeurlikhede,” het ek hom in kennis gestel. “Hannes het daarop aangedring. Hy is ’n presiese soort man. Wanneer is jou blindederm uitgehaal?” “So twee jaar gelede.” “Jy’t my nooit vertel nie.” Dit was ’n dom opmerking; hy kon ’n hartomleiding gehad het en ek sou dit nie geweet het nie. “Eintlik weet ek niks van jou lewe af nie.” “Ek is nie ’n briefskrywer nie.” “Ek het so agtergekom.” Dit was vervelig om in die bed te lê met niks om te doen of te lees nie, en hy was so besig om my paspoortnommer en geboortedatum in triplikaat neer te skryf dat hy nie vir veel vermaak gesorg het nie. Maar die telefoon, wat langs die bed vergete gebly het, het gelui. Ek het daarna gekyk, onseker of ek as ontvangsdame moes optree.
“Antwoord,” het Peter voorgestel. Ek het die gehoorstuk opgetel en Frederik hoor vra na my. “Dis ek wat praat,” het ek gesê. “Hoe op aarde?” het hy gevra. “Ek dag ek sal eers deur ’n skakelbord moet sukkel.” “Dis ’n klein hospitaal. Vir al wat ek weet, is dié die enigste telefoon.” “Hoe gaan dit?” het hy gevra. “Goed, dankie.” Ek het na my horlosie gekyk. “Is dit nie ver verby middernag by julle nie?” “Dis onbelangrik,” het hy gesê. “Ek het by jou ma gehoor van jou ongeluk.” “Bel jy my ma elke dag?” Peter het sy wenkbroue gelig en geluidloos gevra wie dit is. Ek het ewe stom “Frederik” beduie en hy het boos gelyk. “Het jy my kabelgram ontvang?” het Frederik gevra. “Ja. Maar hoe het jy deurgekom na my toe?” “Ek het Navrae gebel. Dis nie moeilik nie. En wat is jou antwoord?” “Jy weet wat my antwoord is. Buitendien, ek is nou by Peter.” Hy het gestik of genies; al wat ek kon hoor, was ’n proesgeluid. “Die skelm,” het hy gesê. “Sal ek jou kom haal?” “Nee. Is dokter Anders dan al terug?” “Nee.” Hy het gegroet en afgelui. Peter het die vorms eenkant toe geskuif en na my gekyk met die blik wat ek laas in die Italiaanse restaurant gesien het. “Die skepsel wou weet wat jou antwoord is?”
Ek het verby hom gekyk, want met die gips aan kon ek nie opstaan en hom volg nie. “Het ek jou ooit al jou ma se boodskappe gegee? Sy het gesê Dulcie het gewen. Weet jy wie Dulcie is? ’n Duif. Een van jou pa se duiwe.” “Ek ken hulle nie by name nie.” “En Jonsie het iets met ’n klomp dwarslêers gedoen. Ek het vergeet wat.” “Og,” het hy gesê en sy kop in sy hande laat sak. Daardie aand het die dokter weer by my kom sit en gesels. Die blonde verpleegster is huis toe om haar Kersete saam met haar verloofde te eet. Hy was die bankbestuurder van die tweemanbank en hulle het sedert die vorige Kersfees saamgewoon in die huis wat hy gehuur het. Sodra sy skeisaak deurgekom het en hy en sy vorige vrou hulle eiendom in Florida verdeel het volgens hulle prokureurs se riglyne, sou hulle trou. Hy was nuut in die dorp en sy het hom leer ken toe sy haar beseerde pasiënte se geldsake moes organiseer. Die dokter, aan die ander kant, was ’n bedrukte man wat teensuurtablette soos lekkergoed uit sy sak gehaal en gekou het. Hy het nie van Kersfees gehou nie omdat hy nie besonder lief was vir kalkoenvleis nie en sy vrou geweier het om iets anders gaar te maak op die feesdag. “Biefstuk,” het hy bitter gesê. “Waarom nie biefstuk nie? Of ’n ribbetjie?” Hy het my ook gesê dat ek die eerste Suid-Afrikaner is wat hy ontmoet het en dat ek hom van my land moes vertel. Ek het my bes gedoen, maar ek was vaak en hy het gou ophou vrae vra. “Ons het ’n nagverpleegster,” het hy gesê en na die drie ander leë beddens in die kamer gekyk. “Sal ek haar bel dat sy kom?” Ek het die aanbod bedank en hy het vir my gewys watter knoppie op die telefoon hom sou bereik as ek skielik in die nag hulp sou nodig kry. Daarna het hy al die ligte behalwe een floue afgeskakel en my ’n goeie nagrus toegewens. Ek het in die dof verligte kamer rondgekyk en die Engel op een van die leë beddens sien lê, blykbaar ook moeg ná die lang dag en vorige nag. “Ek weet nie waarvan jy moeg is nie,” het ek gesê. “As beskermengel het jy
gefaal.” “Sy’t nie regtig gif gedrink nie,” het hy gesê. “Dank jou die duiwel,” het ek bitsig geantwoord. Hy het sy vlerk gepynig oor sy gesig gevou. “Asseblief.” “Jammer.” Ek was ’n rukkie stil, maar het tog gevoel dat hy aangespreek moes word. “As jy my dan nie fisiek kan beskerm nie, behoort jy in ’n raadgewende hoedanigheid op te tree.” “Soos?” het hy gevra en sy vlerk weer laat sak. “Ek is ’n jong vrou in ’n wêreld vol konflikte en ek voel jy behoort dit vir my op te klaar. Jy moet my vrae kan beantwoord.” “Watse vrae?” “Wat moet ek byvoorbeeld doen omtrent Peter en Frederik?” “Wat wil jy met hulle doen?” “Ek weet nie.” “Jy’s nie lief vir Frederik nie.” Ek het gesug. “Ek weet. Dis oor Peter wat ek wonder. Ken ek hom goed genoeg om tot ’n besluit te kom?” “Het hy jou gevra?” het hy my vraag slim teruggekaats. “Soort van. As ek nou ’n karakter in een van my stories was, het ek iets dramaties gedoen soos sy kind verwag. Dit sou alles tot ’n punt dryf.” “Jy’s op die Pil,” het hy my herinner. “En jy’s ’n vreeslik byderwetse engel,” het ek gesê. “Het jy ook só met Ouma gepraat?” “Tye was anders.”
“Volgens haar het jy haar aangeraai om haar onheiligheid met Oupa te staak.” Ek het gelag. “Waar kom jy aan so ’n eufemisme?” Hy het sy waardigheid behou. “Mense skryf maklik dinge aan my toe wat hulle eintlik self besluit het.” “Nog ’n ding,” het ek onthou. “Waarom het jy jou by my aangesluit? Wat van Ma of die ander tantes of Elsa en Kara? Wat het ek en Ouma gemeen?” “Jy het my opgeroep,” het hy gesê. “Jy het my een van jou fantasieë gemaak.” Ek het regop gesit en hom goed bekyk. “Jy’s alles behalwe ’n fantasie. Ek sien jou met my eie oë. Jou linkervlerk se punt het ’n modderspatsel op.” Hy het sy vlerk gelig, daarna gekyk en dit teen die wit beddeken van die bed afgestof. “Terwyl ons nou die hele nag het om te praat, is daar baie wat ek jou wil vra,” het ek hom gesê. “Soos oor die relatiwiteit van links en regs. Dit word beskou as absolute maatstawwe en dit is dit nie. Dit hang net af van waar ’n mens staan. Jou regs is my links. Dis net met ’n mens se eie hande wat jy seker kan wees.” “Moet jy nie slaap nie?” het hy gevra. “Ek verbeel my die dokter het gesê jy moet rus.” “Ek slaap al heeldag. En wat van Bettie? Gaan Brian met haar trou en sal die kinders haar aanvaar? Sal Claude met Kara trou en gaan hulle gelukkig wees met hulle reënboogkleurige kinders? Wat gaan van ons land word?” “My land is nie joune nie,” het hy gesê. “En ek is nie ’n sterrewiggelaar of ’n fortuinverteller nie . . .” “Maar tog,” het ek gestry. “Jy was deel van die verlede, dus kan ’n mens seker aanneem dat jy ook deel het aan die toekoms. Of insae daarin het.” “Wat sal jy doen as jy weet?” het hy gevra. “Sal jy gelukkiger wees? As ek wou, kon ek jou vertel wat jou kleinkinders se lot gaan wees, maar dan kan jy net sowel nou doodgaan, want die uitdaging en die opwinding sal verdwyn.” “Miskien sal ek dan die foute kan vermy. Of die swaarkry. Is daar swaarkry in
my toekoms?” Hy het geswyg. “Jy het van kleinkinders gepraat. Dit veronderstel dus ek gaan kinders hê.” “By wyse van spreke.” “Ek wens jy wil meer presies wees,” het ek gekla. “Droom jou eie toekoms op,” het hy voorgestel en ek kon sien hy word yler, die beddegoed het deur hom geskyn, presies soos Ouma dit vertel het. “Droom dit op en kyk of jy daarvan hou.” Ek het my oë toegemaak en met Ma begin. Sy was amper sewentig en selfs in die mees geseënde omstandighede sou sy nie langer as dertig jaar meer kon leef nie. Pa selfs korter. ’n Benouende gedagte. Hulle sou metterjare meer verstrooid word, Ma sou op die bus klim en vergeet waarheen sy op pad is, behulpsame kondukteurs sou deur haar handsak soek na ’n telefoonnommer en een van ons sou haar gaan oplaai waar sy beteuterd by die bushalte wag. Pa was nie verstrooid nie, maar as gevolg van sy lewenslange beheptheid met sy gesondheid was hy rumatiekerig en geneig tot hardlywigheid, veral sedert hy plaas toe is en nie meer gereeld slaai en vrugte ingekry het nie. Hy sou met ’n kierie begin loop en struikel oor die ongelyke bosveldlaagtes. Hy sou vergeet hoeveel beeste hy het en nie agterkom as die leeus onder hulle begin vreet nie. Die dag sou aanbreek dat hy besef hy kan nie langer alleen op die plaas bly nie; die mense in die buurt sal sê dis ’n skande soos die ou man homself verwaarloos. Teen sy sin sal hy kapituleer en terugkom stad toe waar Johanna die twee ou mense sal oppas. Maar sy self word ook nie jonger nie, soos sy ons gereeld vertel het. Ek het geskat dat sy reeds op pad vyftig toe was, want net voor ek oorsee is, het sy by my gekla dat sy warm gloede kry en opswel. Sy sou ook nie vir altyd bly leef nie en die gedagte het my my komberse stywer om my skouers laat trek. Sy sou ook kwale ontwikkel soos die masjien uitgeslyt raak. Jig in die heup en skouer, rugpyne van wasgoed ophang en kombuiskaste regpak. Miskien sou sy selfs so ver gaan om na ’n dokter te gaan, iets wat sy nog nooit wou doen nie. Haar druppels en boererate was nog altyd voldoende en sy het haar lip gekrul as een van ons antibiotika moes drink en sy ons drie keer per dag daaraan moes herinner. “Gif,” het sy gesê. “Ons het grootgekom daarsonder.”
Toe Kara ’n uitslag ontwikkel het wat selfs vir die dokter onverklaarbaar was, het Johanna hawermout in die bad gegooi en die kind daarin laat week. Ma het in afgryse na die pappery in die water gekyk en Pa het somber voorspellings gemaak aangaande die toekomstige probleme van die afvoerpype as die gemors eers weggespoel moes word. Maar Johanna het die sif gaan haal en die geweekte vlokke uitgeskep voor sy die badwater laat uitloop het. En Kara se uitslag het verdwyn. Daarna het Ma meer geredelik geluister wanneer Johanna ’n kuur voorstel wat uit die kombuiskaste getower kon word. “Net nie vars geslagte katvelle op hulle borse nie,” het sy gesê. “Geen diereonderdele nie.” Maar met rou eiers, asyn, brandewyn, bruinsuiker en Jamaikagemmer het Johanna ver gekom. Polder Twee sou ook nie vir altyd kon leef nie, het ek gedink. Hy sou ook oud word en net op die voorstoep lê en slaap in die son. Hy sou nie meer rotte jag en ure met toegespitste konsentrasie na die prieel sit en kyk omdat daar dae vantevore ’n rot met die balke langs gehardloop en in die dakgeut verdwyn het nie. Hy sou knorrig word as Johan op sy rug wil ry. Hy sou die bure se kat ignoreer en selfs minder werd wees as ’n waghond. Ma en Pa sou te oud wees om weer ’n nuwe hond, veral ’n klein hondjie, te kry en op te lei. Die erf sou stil word, oorskietkos sou in die komposgat gegooi word waar dit miere lok en die bure pla. ’n Nare gedagte. Niemand om my onderstebo te spring wanneer ek die tuinhek smiddae oopstoot nie. En Elsa. Hannes sal ’n professoraat kry en die huis afbetaal, maar Elsa sal aanhou skoolhou. Sy was reeds departementshoof en sou eventueel visehoof of selfs prinsipale word. Nie by dieselfde skool as klein Johan nie omdat sy glo dit kan nie goed wees vir sy sosiale ontwikkeling en sin van selfstandigheid nie. Johan, wat al klaar meer na haar aard as na Hannes, sou akademies presteer en nie rugby speel nie. Miskien krieket of tennis, en Elsa sal sorg dat hy die beste onderrig kry en ten minste onderkaptein van die skoolspan word. Ná matriek sal hy leër toe gaan en dit haat, maar nietemin bruin gebrand en fikser as ooit vantevore uiteer. Daarna sal hy universiteit toe gaan, nog slimmer word en sy ma in beterweterigheid oortref. Hy sal trou met ’n meisie wat sy ouers nie goedkeur nie, nie omdat daar iets met haar verkeerd is nie, maar omdat Elsa niemand as goed genoeg sou beskou nie.
Elsa en Hannes sou hulle huis verkoop nes die bome wat Ma hulle gehelp plant het groot genoeg is dat ’n mens op die tuinstoele in die skaduwee kon sit. Hulle sal ’n deftiger huis koop met ’n goeie adres, drie garages en ’n elektroniese hek. Elsa sal kursusse loop in pottebakkery en Bauernmalerei en die huis sal vol staan van haar skeppings. Sy sal krities wees teenoor Ma en Pa se vertraagde lewenstyl, maar sy sal hulle liefdevol versorg en ’n loodgieter inroep as daar probleme is. Van Kara was ek nie so seker nie, haar lewe het onverwagte kronkelinge gemaak, van non tot kunsstudent tot aartsmoeder. Sy het kategories verklaar dat sy nooit kinders wou hê nie en toe handomkeer omgeswaai en gesê dis al wat sy wou doen. Sy sou ook nie noodwendig met Claude trou nie, selfs al het hy haar gevra. Hulle sou nooit baie ryk wees nie tensy Claude se ouma ’n fratstestament opstel en die speseryplantasie op Martinique aan hulle nalaat. Dit kon ek my nogal voorstel. Kara in kaal voete en kleurryke sarong tussen die geil boomvarings en die welriekende saadpeule en vruggies. Haar kinders sou saam met haar oor die verrotte blare rondspeel terwyl Claude die pot aan die kook hou deur op die dorp klas te gee. Een keer in tien jaar sou sy huis toe kom en verslae om haar rondkyk na die wit gerypte Hoëveldse gras of die lukwartboom met sy verknypte vrugte. Miskien sou sy, soos Gauguin, geïnspireer word deur haar nuwe subtropiese omgewing en wonderlike skilderye voortbring, wat sy sal saambring huis toe, waar Elsa vir haar ’n uitstalling sal organiseer. Kritici sou dol wees op haar en die kunswerke sou soos soetkoek verkoop. Halfverbaas sou sy terugkeer na Claude en haar kinders met ’n vet tjek waarmee hulle ’n watersuiweringsplant kan oprig sodat hulle nie alle drinkwater hoef te kook nie. Maar dit was moeilik om te voorspel. Vir dieselfde prys kon sy net sowel besluit sy is moeg vir die vreemde en wil huis toe kom om haar kinders groot te maak onder die Suid-Afrikaanse son. Ma en Pa sou hulle vooropgesette idees oor multikleurige kleinkinders moes hersien en saam met Kara die moontlike misnoeë van vriende, familie en owerhede die hoof bied.
“Hoe vorder jy?” het die Engel gevra. Hy was terug in die kamer, maar nou voor die venster van waar hy uitgekyk het oor die straatligte op die stil sneeu. “Dis bedrukkend,” het ek erken. “Maar tog fassinerend. Dis moeilik omdat die toekoms oud word beteken. Aftakeling. Die wegval van geliefdes. Maar
fassinerend omdat alles moontlik is voor dan.” “Gaan voort,” het hy gesê.
My eie toekoms was die onduidelikste van almal. Hoe lank sou ek nog by dokter Anders werk en indien ek daar weggaan, wat sou ek doen? Ek sou graag pos wou aflewer, dis ’n werk in die buitelug en vol variasie. Ek sou die tuine leer ken en die honde wat vir my blaf. ’n Fiets sou ’n vereiste wees en ek was nooit ’n baie bedrewe fietsryer nie. Buitendien het ek nie gedink gegradueerde meisies van ses en twintig sou maklik in so ’n pos aangestel word nie. Buskondukteur sou my ook geval en sou die bykomende voordeel hê dat ek dan byderhand is wanneer Ma vergeet waarheen sy op pad was. Maar ek het maklik naar geword in ’n voertuig wat kwaai skud en busse is nie bekend vir hulle gladde ryvermoë nie. Winkelassistent sou nie deug nie. Ek sou die kopers teregwys wanneer hulle iets onends koop of te veel geld bestee aan iets wat ek nie die moeite werd ag nie. Maar ek sou ’n afslag kry op alles wat ek self aankoop. Dokter Anders self sou ook in die toekoms aftree en saam met een van sy meisies ’n seiljag aanskaf. Dora sal geduldig wag tot hy van sy wulpse seniliteit genees is en hom dan terugneem in die huis wat hulle saam gekoop het. Hy sal druipstert in die tuin werk en net soms terughunker na die wilde dae op see. Een keer per jaar sal hy na ’n tandheelkundige kongres gaan, te veel drink, te veel ryk kos eet en sielvol raak met ’n aantreklike jong vrouetandarts. Aan die ander kant kan Dora weier om hom terug te neem. Sy sal heel waarskynlik nie meer kans sien vir ’n man wie se lewe begrens word deur tande en seiljagte nie. Sy sal in die gewoonte kom om op Frederik se breë skouers haar eensaamheid uit te snik en hy, ná sy teëspoedige verhouding met my, ’n jong vrou, kan die voordele begin insien van ’n flirtasie met ’n volwasse vrou. Dora sal ongetwyfeld daarvoor te vinde wees; sy beskou haarself as ryp en wys, presies wat ’n gefrustreerde en viriele kollega van haar gewese man nodig het om die blos na sy wange terug te bring.
Maar van meer belang was my onmiddellike toekoms. Die enkel sou my
beweging beperk. Ek sou nie verder kon toer nie. Ek sou beperk word tot krukke en afhanklik wees van Peter of iemand anders wat geduldig genoeg sou wees. “Met wie is jy nou besig?” het die Engel gevra. “Ek dag jy kan gedagtes lees? Met myself, natuurlik. Die ander kon ek in ’n paragraaf of ’n paar sinne afmaak; ek self is meer gekompliseer.” “Ja,” het hy saamgestem. “Ek word daartoe gedwing,” het ek geprotesteer. “Ek is ’n student van homo sapiens. As ek rotte kon gebruik, het ek seker. Jy kan hulle in koue aanhou en soveel keer per dag verby die hokke loop en aantekeninge maak aangaande hulle gedrag. Ek kan nie dieselfde met mense doen nie. Ek kan ook nie marmotte in plaas van rotte gebruik nie. Marmotte dreig nie om gif te drink nie. Rotte maak nie hulle beddens nat omdat hulle nie wil hê hulle pa moet met Bettie trou nie. En die enigste eksemplaar in gevangenskap, kan jy maar sê, is ek self. Ek is te alle tye beskikbaar en gewillig om mee te doen, om ontleed te word.” “Ek het niks gesê nie,” het die Engel gesê. “Maar ek moes my motiewe verduidelik.” “Waarom?” “Wel, omdat ek bang is jy dink . . .” “Dink wat?” Ek het geswyg. “Wat gaan ek doen?” het ek uiteindelik gevra. “Ek wou teruggaan New York toe. Ek wou weer in die strate rondloop en met Billy gesels. Hy gaan lag as hy my been sien. Hy gaan vra of die moordenaars my toe tog beetgekry het. En Joe gaan lekker kry. Hy gaan sê dis my verdiende loon, dis wat gebeur met meisies wat goue kanse, soos hy my wou gee, deur hulle vingers laat glip.” “Dink jy regtig die lewe van ’n model sou jou gepas het?” het hy gevra. “Nee, dis waarom ek hier is.”
“Nou ja? Vergeet van Joe.” Ek moet weer ingesluimer het, want toe ek wakker word, kon ek nie die Engel sien nie. In sy plek was ’n vet rooi kat met ’n ingeduikte gesig. Hy het skelm uit die gang gesluip gekom, vinnig na my gekyk en teen die muur gaan sit met sy rug na my en sy plat neus teen die muurpapier. ’n Grimmige dier, miskien die eiendom van die dokter of sy kinders. “Kietsie,” het ek gefluister, maar hy het nie beweeg nie. Ek het besluit om hom ook te ignoreer en verder gespeel met my toekoms. Ek het my probeer voorstel hoe dit sou wees as ek en Peter trou. Hy wou damme bou en ek sou moes saam. Van een karavaan na die volgende. Of ’n houthuis op stelte, die soort wat vinnig afgebreek, opgevou en verpak kon word wanneer ’n projek voltooi was. Peter wou kinders hê en seker gou ook. Ek het my probeer voorstel hoe dit sou wees as ek met my boep op die trappe van die houthuis sit, omgewe van stof en die geraas van swaar vragmotors, betonmengers en stootskrapers. Saans sou hy huis toe kom, sy gesig rooi van die grond, sy hare besweet en platgedruk deur die pet wat hy heeldag sou dra. Hy sou my soen en gaan bad. Ná ons geëet het, sou ons gemoedelik voor die televisie sit met sy hand op my maag sodat hy die erfgenaam kon voel skop. Die geboorte sou ’n dolle gejaag oor slegte plaaspaaie wees na die naaste dorp, waar die vroedvrou ons sou inwag. Maar Peter sou heeltyd by my bly, aanmoedigend en liefdevol. Hy was nie die soort wat sou flou word nie. Ek sou, maar nie hy nie. Hy sou vir my rose bring (as daar rose op die vlakte beskikbaar is) en vir my vertel dat hy trots was op my. Metterjare sou die houthuis vol kinders wees. Die seuns sou saam met hom rondry om die vordering van die dam te monitor en die meisies sou by my bly sodat ek hulle kon leer handwerk doen of klavier speel. Nee. Ek was besig om die verlede en die toekoms te meng. Meisies leer nie meer om handwerk te doen of klavier te speel nie. Buitendien kon ek self nie borduur of klavierspeel nie, my dogters sou my moes leer. Miskien sou Peter verkies om as raadgewende ingenieur te werk. Vennoot in ’n gesiene firma. Ons sou in ’n deftige vierslaapkamerhuis woon met familiekamer en studeerkamer, swembad en sauna. Die dogters sou balletklasse neem, en elokusie. Die seuns, as hulle musikaal was, sou die tjello speel. Andersins net
rugby of krieket. Ons sou twee motors hê en saans onthale gee of bywoon waartydens voornemende kliënte met wyn en goeie kos saggemaak word. Peter sou snyerspakke dra en gewig optel van al die sake-etes. Dit sou, op sy beurt, gesondheidsprobleme veroorsaak sodat ek Pa se ou laecholesteroldiëte sou moes opdiep en Peter rantsoeneer. Die kinders sou kla oor die afgeroomde melk wat hulle noodgedwonge ook moes drink en ek sou mor oor die nasmaak van aspertaam en sakkarien. Peter sou aansluit by ’n fiksheidgroep en soggens voor sonop drie kilometer draf. Ek sou bly lê in ons warm bed. Met so ’n span kinders sou dit wys wees om aan te bly by dokter Anders. Hy sou ’n spesiale prys maak vir die spul se ortodontiese behandeling, die plate en drade wat nodig gaan wees om hulle almal van ’n volmaakte gebit te verseker. Hulle sou lag vir my skewe hoektande en vra of daar in die ou dae nie tandartse was nie. “O, daar was,” sou ek hulle verseker. “Maar toe ek klein was, het ons ouers nie so hard gewerk om die basiese produk te verbeter nie. As ons lomp was, moes ons dit ontgroei. Nou stuur ons julle na arbeidsterapeute. As ons gelispel het, moes ons maar wag tot ons voortande ingegroei het en ons ordentlik kon praat. Vir julle stuur ek na ’n spraakterapeut.” “Oh, brave new world,” sou ons oudste seun sê. Hy het al ons ou boeke gelees, selfs aan tafel as ons hom nie gekeer het nie. Peter sou hulle vertel van my naam en sy betekenisse en hulle sou vir my lag. Goedig, maar tog. Ek sou al die irisse in ons tuin uitspit en aan ’n vriendin skenk sodat ek nie gedurig geterg sou word nie. Maar ek sou hulle vertel van Ma se kwart-voor-sewe-lelie. “Dit word nou-nou lig,” het die Engel vir my gesê. “Jy het my nie verder nodig nie.” “Ek het gedink ek gaan Bettie red,” het ek gesê. “En almal sou my bewonder en op die skouer klop oor my flink optrede. Toe het sy nie regtig gif gedrink nie en ek gly in die sneeu en breek my enkel.” “Tja,” het die Engel gesug. “Die lewe is nie ’n storieboek nie.” “En ’n naam is net ’n naam.”
“Is so,” het hy saamgestem. Die rooi kat het oor sy skouer na ons gekyk, maar toe hy my oog vang, het hy vinnig weggekyk en sy neus weer teen die muur gedruk. “Net voor jy gaan,” het ek gesê. “Ek wil jou vertel van ’n lelie in my ma se tuin. Dit was maar altyd daar, een van daardie groen plante wat jaar na jaar ’n hoek volmaak sonder om iets dramaties te doen. En toe, een laatmiddag, speel ek met Polder en uit die hoek van my oog sien ek ’n beweging, iets wits tussen die groen. ’n Blom het oopgegaan. Nie stadig nie, oombliklik. Ek het na my horlosie gekyk en gesien dit was kwart voor sewe. Die volgende oggend was die fyn wit blom verlep, maar daar was nog heelparty knoppe aan die stingel. Daardie aand het ek van sesuur af na die plant gestaan en kyk, al het Johanna geroep ek moet kom help met die slaai. Een van die knoppe het dikker geword, uitgebult aan die kant en presies kwart voor sewe het die blom oopgemaak. As ek my oë sou geknip het, het ek dit gemis, so vinnig het dit gebeur. En die soetste geur.” “Wat probeer jy sê?” het hy gevra. Ek was gekrenk. “Niks nie.” “Net sowel,” het hy gesê. “Ek sien geen verband tussen jou lelie en enigiets wat ons vannag bespreek het nie.” “Ek ook nie, maar is daar altyd ’n verband? Gebeur dinge nie maar sommerso nie? My lewe bestaan uit onsamehangende flardes.” “Is so,” het hy saamgestem. Soos die rooi kat, het ek my weggedraai van hom en na die muur gekyk. Wat baat ’n Engel as hy jou nie kan onderskraag nie?
HOOFSTUK DRIE
Dit was vyf jaar gelede en tot dusver het die toekoms – of die entjie wat ons gevorder het – by geen voorspelbare of gefantaseerde plan gehou nie. Om mee te begin, het my enkel skeef aangegroei, wat bewys dat ’n mens nie ’n dokter aan jou moet laat werk direk ná ’n swaar Kersete nie. Ek het dit natuurlik eers in Suid-Afrika agtergekom; in Amerika was die skade onder die gips verberg. Toe het my vel gejeuk en die krukke my gehinder, maar dat die beenskerwe vergeefs by mekaar probeer uitkom het, het ek toe nog nie geweet nie. Peter het my by die lughawe besorg, my hare deurmekaar gevryf en my gesoen van my linkeroor dwarsoor my gesig tot by my regteroor. “Nog net ’n paar maande,” het hy vir my gesê. “Dan is ons vir altyd by mekaar.” Ook nie bang vir ’n cliché nie. Op die vliegtuig is ek simpatiek behandel en by die uitgang gesit sodat daar genoeg spasie was vir my been. Die vlug was nietemin lank en al die tyd wat ons oor die see gevlieg het, het ek gewonder wat sou gebeur as ons val en die asiers bo-oor my been ontruim moes word. Ma, Pa en Johanna was op die lughawe om my te ontmoet. Pa met ’n rolstoel wat hy by die grondpersoneel gebedel het. “Slaan my dood,” het Johanna gesê. “En die blikbeen?” Dit was eers toe ons huisdokter die gips afsny dat ons albei stilswyend na my voet gekyk het. In plaas van reg na voor te wys, was hy ingedraai. Die dokter was triomfantlik, want dit het vir hom gewys Amerikaanse medici is dommer as wat hy gedink het, maar ek was bedruk, want ek kon sien daar lê werk voor. “Sien jy,” het Frederik gesê toe hy my in die hospitaal besoek ná die been gebreek en weer gespalk was. “As jy met my getrou het, sou dit nooit gebeur het nie. Dagvaar die donder.”
“Nee,” het ek gesê. Dié keer was dit ’n regte hospitaal. Geen katte nie en al vier beddens in die saal beset. Links van my was ’n gebreekte heup, oorkant my ’n gebreekte sleutelbeen en ’n rugwerwelprobleem. Vir die Engel was daar geen lêplek nie. Hy was ook nie op die vliegtuig nie en ek het gewonder of hy agtergebly het om sy wakende oog oor Peter of Bettie te hou. Frederik het my hand vasgehou en ek het hom maar laat begaan. Ek was skaars weer op die been en aan dokter Anders se sy, toe Elsa haar dramatiese aankondiging maak: Sy het besluit enigste kinders is nie die ideaal wat sy ons altyd voorgehou het nie, groot gesinne is meer dinamies en verrykend. (Dit was kort ná die geboorte van Michel, Kara en Claude se eersteling, ’n blonde kind met pikswart ogies en ’n olyfkleurige vel soos sy mooi pa.) Haar dokter het sy kop geskud en gesê sterilisasie is onomkeerbaar, maar hulle kon tog diverse dinge probeer en kyk wat gebeur. ’n Drieling was die gevolg. Selfs Johanna het nie geweet wat om te sê nie, en Pa het in aller yl van sy plaas teruggekeer om sy prokureur te gaan spreek en sy testament te hersien. Al drie was seuns en sou aan ’n stukkie grond gehelp moes word. “Die dokters is te slim,” het Ma gesê. “Wie sou dit kon raai?” “Slim?” het Johanna gesê. Sy en Ma het gebrei dat die rook uit hulle penne slaan, want die vier kleinkinders moes geklee ook kom. “Ek sou graag wou weet watse skelmstreke is daar aangevang. Sy’s dan reggemaak?” “Mens sê nie só nie,” het Ma haar betig. Hannes het vinnig ’n nuwe huis gekoop, nie vir die redes wat ek voorsien het nie, maar bloot omdat hulle meer ruimte nodig gehad het. Hy het ook ’n sterk heining om die swembad laat opslaan en ’n elektroniese hek laat insit wat begin skree het as iemand aan die slot of handvatsel raak. Klein Johan het smalend booor geklim en heen en weer geswem om ons te wys dat hy nie beïndruk was met óf die veiligheidsreëls óf sy drie nuwe boeties nie. Elsa, haar figuur onherroeplik daarmee heen omdat geeneen van die drie min geweeg het nie, het stralend op en af gedraf met bottels en nat wasgoed en gortwater. Haar huis was omgekrap en het nie meer gelyk asof sy enige oomblik voornemende kopers te wagte was nie. In die voue van die rusbank het borslappies versteek gelê en jy moes kyk waar jy trap of jy loop bo-oor ’n kind of ’n speelding of ’n vergete bottel. Hannes se hare
het vinnig minder geword. Johanna was nie meer nodig om hand by te sit en raad te gee nie; Elsa was ’n veteraan en stigterslid van die Drielingvereniging. Sy het nie meer ure in die kombuis gestaan met deegvelle wat sy uitgerol het vir haar perfekte, tuisgemaakte cannelloni nie, sy het wors in die pan en bevrore groente in die kookwater gegooi en gehoop haar gesin se mae raak gevul. Kara, wat kom kuier het met klein Michel, was sprakeloos en ek was weer eens die buitestander. Hulle het borsabsesse, uitslag, krampe en die soutgehalte van kommersiële babakos bespreek asof hulle spesialiste was. Ek het Kara probeer weglok met uitnodigings na die opening van ’n nuwe, omstrede kunstenaar se uitstalling. “Hoe laat is dit?” het sy gevra en afwesig deur haar hare na die wit vierkantjie geloer. “Sewe-uur.” “Nee, nee,” het Elsa namens haar geantwoord. “Michel sukkel so met winde ná sy sesuurvoeding.” “Los hom by Johanna,” het ek voorgestel. Kara het haar kind teen haar bors gedruk asof ek van plan was om hom met geweld te verwyder. “Gaan jy en vertel my hoe dit was,” het sy gesê. Ek het die uitnodiging in my sak gesit. As ek tee wou hê, sou ek dit seker self moes gaan maak. “Hoe gaan dit met Claude?” het ek haar gevra toe ek terugkom met die skinkbord. Sy het geglimlag en vir ’n oomblik menslik gelyk en nie net moederlik nie. “Baie goed. Hy’s bevorder tot medeprofessor.” Elsa het goedkeurend geknik, nommer een versadig eenkant toe gelê en nommer twee sy bottel begin voer. “Dan gaan julle seker nou trou?” “Ons is lankal getroud.”
Ek het maar die tee geskink, want aan Elsa se reaksie kon ek sien dis ou nuus. “Weet Ma-hulle?” het ek oplaas gevra. “Ek dink so. Dis tog nie belangrik nie.” “Hoekom het julle dit dan gedoen?” Sy het net haar skouers opgehaal en Michel se vingertjies getel asof hy gedurende ons gesprek dalk een verloor het. “Hulle is bababedonnerd,” het ek vir Johanna gesê toe ek en sy daardie aand in die kombuis staan en groente skil. “Dis nog net ek en jy wat normaal is.” “Loop,” het sy gesê. “Hoe kan jy van my praat? Ek gaan al deur die change.” Sy het die aartappels en uie by die bone gegooi en die spul op die stoof gesit om pap te kook, al het Kara en Elsa haar al hoeveel kere gesê dat bone krakerig en gesond groen moet wees wanneer dit die opskepskottel bereik. “Ek etie rou kos nie,” het sy altyd gesê. Ná sy die deksel opgesit het, het sy na my gedraai. “Maar jy sal moet beginne roer. Jy word oud.”
Dokter Anders se lewe het ook anders verloop as wat ek voorsien het. Hy het Frederik ’n vennootskap aangebied omdat hy gevoel het die praktyk het te groot geword om alleen te behartig. Hy het ook genoeg geld gemaak en wou minder werk. Ons moes ’n tweede assistent in diens neem en die spreekkamers vergroot. Dora was ongelukkig daaroor. “Nou word dit soos ’n supermark,” het sy by my gekla. “In en uit en niks tyd vir gesels nie.” “So gaan dit,” het ek saamgestem. Ek was nie ontevrede met die nuwe bedeling nie omdat Frederik se assistent ’n mooie klein meisietjie was wat dadelik ingestem het om met hom uit te gaan, naweke in die bos uit te kamp en sy wit hemde vir hom te stryk omdat die wassery dit bederf. Hy het nooit meer na my gekyk nie en om hom te treiter het ek hom herinner aan sy huweliksaansoek. “Ek het jou nog nooit geantwoord nie,” het ek een etenstyd gesê toe ons saam gaan eet het omdat Hildie, die pop, stad toe was vir inkope. “Op jou kabelgram.”
Hy het onthuts gelyk. “Dis jare gelede.” “Dit maak geen verskil nie. In die ou dae sou my broers jou in die bos kon uitdaag met pistole.” “Waarom?” “Omdat jy ’n belofte verbreek het. Tot ek nie amptelik nee gesê het nie, staan jou aanbod. Jou flankeerdery met Hildie sou die familie-eer aangetas het.” “Jy het nie broers nie.” “Maar ek het veglustige susters en ’n magdom nefies wat een van die dae oud genoeg sal wees om ’n pistool of swaard te hanteer.” Hy het breed geglimlag en die kelnerin wat ons borde kom weghaal het, het merkbaar geswig voor sy sjarme. “Johan is mal oor my,” het hy gesê. “Hy sal my nie skiet nie al soebat jy hom.” Elsa het, uit lojaliteit teenoor my, dwarsoor die stad gery om Johan na dokter Anders te bring, maar die kind het ná die eerste besoek aangekondig dat hy nie van die man hou nie omdat daar grys hare uit sy neusgate groei. Met Frederik was dit nog nie die geval nie en Johan is oorgeskuif na hom. Wat die twee gedoen het, het ek nooit uitgevind nie, maar ek kon Johan altyd hoor kraai van die lag. Frederik was reg, Johan sou hom nooit skiet nie en die drieling seker ook nie. Dokter Anders, op sy beurt, het prostaatprobleme ontwikkel en moes sy meisies laat staan. Tot Dora se plesier. Sy was die ene simpatie en boererate wanneer sy by hom was, maar as ek en sy alleen was, het sy popelend gelag en verwys na mankoliekerige ou bokke wat die jong blare nie meer kon bykom nie.
Maar verreweg die mees onverwagte gebeurtenis was Hannes se misstap. Elsa het die aand by my en Ma aangekom om te vertel. Dit op sigself was nie vreemd nie alhoewel ons gewoond moes raak aan die gesig van Elsa op haar eie en nie behang van kinders nie. “Raai wat het gebeur,” het sy gesê.
“Ag nee, darling,” het Ma geprotesteer. “Jy weet ek haat raaispeletjies.” “Jy verwag nog ’n drieling,” het ek gesê. “Hannes kul my,” het sy aangekondig. “Nooit,” het ek gesê. Daar was dinge wat ek sou aanvaar as moontlik binne die grense van die werklikheid maar dat Hannes haar sou kul, was nie een daarvan nie. “Hannes doen wat?” het Ma gevra, haar oë op haar breiwerk. Die drieling was twee jaar oud en sy en Johanna was besig met drie eenderse blou truitjies wat moes klaarkom voor die winter. Boonop was Ma selfs meer verstrooid as vantevore. Ons het uitgevind haar motor se remme was temperamenteel en het soms glad nie gewerk nie. Sy het nooit ’n woord gesê nie en nog na die winkelsentrum gery omdat daar ’n bouery aan die gang was en hope sand in die parkeerruimte rondgelê het. Sy het eenvoudig die motor se neus na die naaste sandhoop gemik en tot stilstand gekom sonder groot skade. “Hy kul my,” het Elsa gesê. “Met ’n student van hom.” “Hoe weet jy?” het ek gevra. “Lipstiffie op sy kraag? ’n Brief in sy baadjiesak?” “Nee, sy het my gebel.” Sy het haar hande netjies oormekaar gevou. “Sy dra nie lipstiffie nie. Sy is van die natuurlike soort. Skeer ook nie haar beenhare nie.” Ons het almal simpatiek meegegril. Ek het aangebied om te gaan tee maak, maar Johanna, wat uit die gang meegeluister het, het reeds die ketel aangeskakel gehad en was besig om koppies op die skinkbord te pak. “Kan jy dit glo?” het ek gefluister. “Dis nou van mans,” het sy gesê. “Stille waters.” “Maar Hannes!” Sy het wys gelyk. “As hulle bles word, moet jy oppas.” Terug in die sitkamer was Elsa aan die vertel en Ma aan die luister. Sy het selfs haar breiwerk laat lê.
“Is dit omdat jy al jou tyd aan die kinders gewy het?” het ek gevra. “Het hy afgeskeep gevoel?” “Ha!” het sy gesê en ek het nostalgies gewonder hoe dit met Bettie gaan. “Watse keuse het ek gehad? Moes ek hulle laat honger ly of vuil laat rondloop? Hulle moes versorg word.” “En dit is sy kinders ook,” het Ma opgemerk. “Dit is mos?” Elsa het net haar oë omgedop. “Dis seker die invloed van die seisoen,” het ek gesê. “Dis ’n besondere geil lente. Al die reën en so.” Vroeër die middag het ek en die Engel deur die tuin gewandel; ek op die gras en hy so ’n paar sentimeter bokant die modderige grond sodat hy nie vuil word nie. Ek was eintlik op pad om te kyk of Ma se lelie al knoppe maak al het ek geweet dis eintlik nog te vroeg. Die Engel was sommer saam vir geselskap. “Dit hou al ’n jaar aan,” het Elsa gesê. “Sy het kastig probleme met haar kursus en het hom op kantoor gaan spreek. Dit het ’n gewoonte geword en hulle het gereeld saam tee gedrink. Sy verstaan hom en hy vir haar.” “Het hulle net tee gedrink?” het Ma gevra en pienkerig gebloos. “Is dit al?” “Sover ek weet.” “Nou ja,” het ek verlig gesê. “Waaroor kwel jy jou dan? Dis sommer infatuasie van haar kant en simpatie van syne.” “Ontrouheid neem baie vorme aan,” het sy styf geantwoord. “Maar Hannes se vorm lyk vir my aanvaarbaar.” Ma het weer haar breiwerk opgetel, verlig dat ’n krisis afgeweer is. “Wat moet ek doen?” het Elsa gekreet. “Nooi haar huis toe,” het Ma geantwoord. “Laat haar help met die wasgoed. Sit haar op die mat met die kinders en die blokkies wat Pa vir hulle gemaak het. Miskien skrik sy.”
Ek was redelik seker dat sy sou skrik, maar ek het dit nie hardop gesê nie. “Los die kinders een naweek en gaan alleen weg met Hannes,” het Ma, ’n gereelde tydskrifleser, voorgestel. “Koop vir jou mooi nagklere.” “Ek het mooi nagklere.” “Hulle sê jy moet die romanse terugbring,” het Ma volgehou. “Bog. Hannes moet sy verantwoordelikhede besef.” “Nee, darling,” het Ma gesê. “Sy voordele.” Ek het maar gaan slaap. Toe ek die lig afskakel, het ek die Engel op die vensterbank sien sit, sy gesig na die tuin gedraai. “Jy het weer drooggemaak,” het ek verwyt. “Waar was jy toe jy ’n oog oor die man moes hou?” “Dis sy lewe.” “Jy kan maklik praat. Jy is vry van aardse drange. Sover ek weet.” Hy het waardig geswyg. “En ons is swak. Ek wens ek was jy, verby hierdie aardse geploeter.” “Jy sal ook eendag soos ek word.” “Dink jy so?” Dit was ’n fassinerende gedagte. Sou ek ook op mense se vensterbanke rondsit en advies aanbied of weier? Sou ek ook saam met my toegewysde persoon in vliegtuie vlieg, in vreemde wêreldstede rondloop sonder om eers my roksoom vuil te maak? “Maar jy is nie altyd by nie,” het ek hom herinner. “Ek hoop ten minste nie so nie. Dit sou pervers wees as jy altyd op my vensterbank na my sit en loer.” ’n Ander gedagte het my getref. “Dink jy ek blom dalk eers ná ek dood is? Gaan my bloeityd eers kom as ek my sigbaarheid verloor het?” “Party mense blom ongesiens,” het hy gesê. “So onverwags dat niemand dit eers opmerk nie.”
“Soos Ma se lelie.” “Iets in dier voege, ja.”
Net Polder Twee het opgetree soos hy moes. Sy lewe het jaar na jaar onveranderd voortgegaan. Hy het nie skielik kleintjies gekry of ’n dramatiese persoonlikheidsverandering ondergaan nie. As hy lui was, het hy geslaap en wanneer hy honger was, het hy geëet. Hy het smiddae saam met my gaan stap en uit die pad gebly wanneer Elsa en haar kroos kom kuier het. Hy was net ’n hond.
My nuwejaarsvoorneme, nadat my enkel weer aangegroei en albei voete weer na voor gewys het, was om my aanstaande skoonfamilie te leer ken. Ma het ook gedink dit was wys. Elsa het haar mooi hande (dit was voor die drieling) teen haar voorkop gedruk en my sterkte toegewens. Sy en Hannes se ma het in prekêre vrede geleef, ter wille van die kind en die geslagte skape wat die skoonma saamgebring het elke keer as sy kom kuier het. (Sy was ’n weduwee wat op die plaas aangebly het danksy die hulp en onderskraging van ’n knap voorman. Vandaar die voorraad skape en soms, in die winter, ’n springbok.) “Peter is ’n persoonlike man,” het Johanna vir my gesê toe ek inpak vir die langnaweek wat ek by Peter se ouers sou deurbring. “Maar jy beter hulle gaan deurkyk. Families steek hulle swakhede weg. Kyk uit vir horrelvoete en skeel oë. Jy wil jou kinders nie opsaal met iets wat hulle uitgespaar kon geword het nie.” “Jy’t al sy ma gesien,” het ek gesê. “Sy was doodnormaal.” “Aa,” het Johanna wys gesê. “Maar hoekom het sy alleen gekom? Wat het sy by die huis gebêre?” Op die oog af was dit ’n doodnormale huishouding ook. Peter se ma het uit die huis gekom toe ek voor die deur stilhou en my na my kamer geneem. Dit was blykbaar Peter se ou kamer gewees en teen die mure was al sy sertifikate, foto’s uit sy skooljare en geraamde seëlversamelings, almal versier met linte wat sy pa vir sy posduiwe gewen het. Sy ma het die kamer vroulik probeer maak deur ’n pienk handdoek oor die stoel te hang, ’n gestyselde lappie oor die laaikas te sit
en ’n roos voor die bed. “Hy het sy rotte op die laaikas gehou,” het sy my vertel en aan die lappie gevat. “Dit het die hout gevlek. Ek moet maar altyd ietsie oorgooi. Jonsie belowe al jare hy gaan dit afskuur.” “Ek gee nie om nie,” het ek beleef geantwoord. “Jonsie en Merel kom vanaand oor. Wil jou ook graag ontmoet.” Sy het my moederlik aan die arm gevat. “Met die dat jy nou familie gaan word.” “Ja,” het ek gesê. “Ek is so bly,” het sy voortgegaan. “Ek was bang hy kry nooit ’n vrou nie.” “Hoekom?” “Ek het jou mos al vertel. Hy was nie een vir die meisies nie.” Terwyl ek by haar in die kombuis gestaan het, het Peter se pa ingekom. ’n Kort, bleek man met ’n glimmende pankop. Ek het nog nooit vantevore ’n posduiffanatikus ontmoet nie en het dus nie geweet wat om te verwag nie, maar dié man met sy sagte stem en goed versorgde hande was ’n verrassing. Miskien het hy handskoene gedra wanneer hy die hokke skoonmaak. “So, jy is Piet se meisie,” het hy gesê en by die kombuistafel gaan sit. Met ’n handgebaar het hy my genooi om dieselfde te doen terwyl sy vrou koffie geskink en ’n appeltert uit die oond gehaal het. “Ja, oom,” het ek gesê. “Jy’s kleiner as wat ek my voorgestel het.” Ek het geknik en regopper gesit. “En Piet vertel ons jy breek toe jou enkel daar in die sneeu. Kon hy nie beter vir jou gesorg het nie?” “Ons het die motor uit die ys probeer loskap, oom.” “Hy kon dit mos self gedoen het?”
“Nee, oom, hy kon nie. Dis te swaar vir een mens.” Hy het dit herkou en aanvaar. “Maar hoe die mense dit in so ’n land kan uithou, weet ek ook nie. En boonop is julle toe daar saam met die vrou wat net wil gif drink.” Hy het meewarig gelyk terwyl hy sy koffie omroer. “Ons het gedink sy wou,” het ek gesê. “Maar dit was toe nie so nie. Sy was net naar.” “Mens gedra jou darem nie so nie,” het my aanstaande skoonma gesê. “Hoe is sy grootgemaak?” Ek het nie die antwoord geken nie. “Sy’s baie knap,” het ek darem vir Bettie verdedig. “Sy bestuur ’n ysterwarewinkel en kan goed doen soos gebarste warmwatertenks regmaak. En sweis en alles.” “Waarom wil sy dan gif drink?” het die tannie gevra. “Ek dink sy is ongelukkig oor haar verhouding met Brian,” het ek gesê. “Ek dink nie dit het iets te doen met die besigheid nie, mevrou.” “Jy kan nie vir my mevrou sê nie,” het sy gesê. “Een van die dae moet jy Ma sê. As die orrel begin speel. Noem my tant Ans.” “Goed,” het ek gesê. “Tant Ans.” Oor die orrelspel het ek nie uitgewei nie. As ek sou trou – en op daardie tydstip was selfs dit nog nie ’n uitgemaakte saak nie – sou dit vinnig en sonder ophef in ’n magistraatskantoor plaasvind. “Hoekom wil dié Brian nie met haar trou nie?” het die oom gevra. “Watse nonsens is dit?” “Dis ’n lang storie, oom. Hy het kinders.” “Wag nou, hart,” het tant Ans gekeer. “Hulle was goed vir ons kind in die vreemde.” “Maar dis nonsens,” het hy weer gesê. “’n Mens trou of jy trou nie. Jy sit nie en kyk hoe die vrou dreig om haarself te vergiftig nie.” Ek het my appeltert geëet. Dit was heerlik en ek het probeer proe wat dit was
wat die tannie bygesit het sodat ek vir Johanna kon vertel. “Piet is darem nie so nie?” het die oom gevra. “Nee, oom.” “Jy hou van hom?” “Ja, oom.” Tant Ans het goedig gelag en haar dik grys hare van haar gesig gevee. Ek kon sien wie se hare Peter geërf het. “Haai, man,” het sy haar man berispe. “Hoe kan jy die kind so sit en ondervra?” “Ek wil weet,” het hy gesê. “Peter is nie meer ’n kind nie,” het sy gesê. “Hy weet tog wat hy doen.” “Ek is ook nie soos Bettie nie, oom.” Hy het geknik en tevrede gelyk. “Kan jy sweis?” “Nee, oom.” “Dis nou jammer. Ek het nuwe hokke nodig en Jonsie is so besig, hy kom nooit meer hier nie.” “Miskien kom Brian en Bettie vir ons kuier,” het ek gesê. “Sy het gesê sy sou graag wou kom. Dan kan oom haar vra.” Tant Ans het gevoel sy moet die onderwerp verander. “En ek hoor jou been moes toe weer gebreek word?” “Ja.” “Bobbejane,” het die oom gegrom. “Onnosele ape.” “Tja,” het die tannie gesug. “’n Mens kan deesdae maar net bid dat daar nog beskermengele oor is om na ons kinders te kyk.” “Ek het een,” het ek gesê. As ons mekaar moes leer ken, wat die idee van die
naweek was, moes ons seker al die karakters aan mekaar voorstel. “’n Wat?” het die oom gevra. “’n Beskermengel. Ek het hom van my ouma geërf.” “Hom?” het die tannie gevra. “Ek dag engele is vroue.” “Nee, myne is ’n man.” Die oom het my nadenkend aangekyk om te sien of ek die gek skeer. My ernstige gesig moet hom oortuig het. “Weet Piet daarvan?” het hy gevra. “Ja, oom. Hy gee nie om nie.” Peter het nie sterk gevoelens oor die Engel gehad nie. Omdat hy hom nooit in aksie gesien het nie, het hy nie regtig geglo dat hy bestaan nie, maar hy was bereid om toegewings te maak. “Kan jy hom sien?” het die tannie verwonderd gevra. “O ja.” Sy het stadig deur die kombuis gekyk, verby die wit geverfde kombuiskaste, die stel blou-en-wit gekraakte porseleinflesse met aanwysings daarop soos “Thee” en “Rijs”, die outydse beskuittrommel waarvoor Elsa haar agtertande sou gee, die plafon met sy vlieëgompapier en terug na my. “Is hy nou hier?” Ek het ook om my gekyk, maar meer spesifiek na die venster. “Nee.” Die oom het vinnig opgestaan. “Kwit,” het hy gesê. “Die kind sien gesigte. Ek gaan na my duiwe toe.” Ek het ook opgestaan. “Mag ek saamstap? Ek het nog nooit ’n posduif gesien nie.” Hy het wantrouig in die deur bly staan. “Jy bring nie geeste met jou saam nie. Die wyfies broei nou.” “Nee, oom,” het ek hom verseker. Ons het deur die agtertuin gestap, ’n tipiese plattelandse tuin wat in die stad onderverdeel sou word met ’n rits meenthuise op. Daar was vrugtebome,
sommige nog behang met laatsomervruggies, en rye bone, netjies opgelei teen oorkruiste riete, en koolkoppe, beet en buite beheer rankende pampoene. Teen die agterste heining was die duiwehokke, netjies beplan en afgekamp. Maar my oog is eerste gevang deur ’n stellasie waarop ’n groepie spierwit duiwe gesit het soos gevoude servette, die soort wat Johanna uit Ma se damasservette vou wanneer ons mense kry. “O, maar hulle is pragtig!” het ek uitgeroep, so hard dat die servette opgevlieg het. “H’m,” het die oom gesê. “Dis nie posduiwe nie. My vrou s’n. Net vir die mooigeit.” Hy het my deur die hokke geneem en heelpad verduidelik. Hoe posduiwe in Romeinse tye reeds gebruik was, hoe hulle menselewens gered het, hoe slim hulle was. Ek het geluister, maar ek kon nie regtig verstaan waarom ’n mens duiwe wil hê wat duisende myle van jou wegvlieg en dan weer terugkom nie. Toe ons verby die broeiende wyfies gestap het, het die oom my wantrouig aangekyk en ek het so normaal moontlik probeer lyk. Ons is nietemin vinnig daardeur en hy het verlig teruggekyk ná hy die hek agter ons toegesluit het, asof hy verwag het om die duiwe, waansinnig en van bose geeste besete, te sien opvlieg en eiers uit hulle neste skop. “Ek wil gaan nuus luister,” het hy gesê toe ons die kombuis nader. Ek het by tant Ans gaan gesels. Oor Peter. Die res van die dag het ek die oom kort-kort betrap dat hy my deurdringend aankyk as hy gedink het ek sien hom nie. Hy het gelyk asof hy wierook om my sou wou brand. Teen die laatmiddag het Jonsie en Merel gekom en ek was dadelik spyt dat ek nie vir Polder Twee saamgebring het nie, want Merel was van Nederlandse afkoms en het ’n mengsel van Afrikaans en Hollands gepraat. Jonsie was soos ek gedink het hy sou wees. Korter as Peter en blond soos sy pa seker was voor hy sy hare verloor het, maar met dieselfde ongekompliseerde persoonlikheid as Peter. “So jy is Iris,” het hy gesê en my gesoen. “Die vrou wat Peter nie wil laat los nie.”
“Dis hy wat my nie wil los nie,” het ek gesê. “Dis wat ek bedoel, ja.” Hy het sy ma gesoen, sy pa se hand geskud en toe saam met sy pa in die agtertuin verdwyn. Tant Ans is weg om na die ete om te sien, en ek en my aanstaande skoonsuster is alleen gelaat met ’n sjerrie en ’n skotteltjie grondbone om mekaar te leer ken. “Ons hond is Nederlands,” het ek gesê. “Nou kijkes,” het sy geantwoord. “Hy is nommer twee in die Polder-dinastie.” Sy het verward gelyk. “Polder?” “Dis sy naam.” “Waarom?” “Ek weet nie. Dis wat my ma hom genoem het.” “’n Polder is tog ’n drooggelegde gebied.” “Ek weet.” Ons was albei vir ’n wyle stil en het gesit en luister na die klank van kombuisgereedskap en duiwe wat koer. “Hoe lank is jy al in Suid-Afrika?” het ek haar gevra en dit was die regte vraag, want sy het begin praat sonder om asem te skep. Ek het geluister en so nou en dan ’n grondboontjie geëet. Sy het grootgeword op ’n dorpie genaamd Lekkerkerk waar haar pa die barbier en snuisterywinkeleienaar was. Sy en haar sussie Jannie was die enigste kinders en moes smiddae die winkel uitvee. Sy het nie daarvan gehou nie, veral die opsuig van die klosse hare wat onder die barbierstoel se pote vasgesit het nie. Sy het nie gehou van die reuk van pommades en skeerseep nie en het mettertyd daardie sy van die besigheid op Jannie afgeskuif en die snuisterywinkel oorgeneem. Hulle ma het die huis skoongehou en die etes gekook en haar kinders herinner aan die hongerwinter. Hulle moes blykbaar dikwels herinner
word, want hulle was nie tevrede om op Lekkerkerk groot en oud te word nie en wou weg na een van die groot stede. Jannie, wat die oudste was, het ’n oog gehad op een van die boere en was dus meer tevrede, maar Merel het planne beraam om weg te loop. Sy het elke dag die koerantkolomme deurgelees in die hoop dat sy iets opwindends sou teëkom en die hoop het nie beskaam nie; op ’n dag was daar ’n advertensie vir ’n meisie om ’n gesin se kinders na Suid-Afrika te vergesel en daar op te pas. Sonder haar ouers se medewete het sy aansoek gedoen en die pos gekry. Toe hulle uitvind, was hulle gebroke. Dit was te ver en Afrika het vir hulle na ’n donker en gevaarlike kontinent geklink, goed vir ander mense, maar nie vir hulle dogter nie. Maar Merel het haar man gestaan, die familie gegroet en weggevlieg saam met haar krosie. Sy het nie lank by hulle gewerk nie omdat hulle nie langer haar salaris kon bekostig nie en alternatiewe en goedkoper hulp gekry het. Merel het hier en daar gewerk, vasbeslote om die oorvloed son nooit weer prys te gee nie. Dit was terwyl sy in ’n toeristewinkel gewerk het dat sy Jonsie ontmoet het. Hy het lampstaanders uit inheemse hout vir die winkel gemaak en met die aflewering daarvan vir Merel leer ken. Sy het nie twee keer gedink toe hy haar vra om te trou nie en sy was ook nog nooit spyt nie. Lekkerkerk se groen weilande en windmeulens op die horison het in die vergetelheid verdwyn terwyl sy die klammigheid van haar geboorteland uit haar lyf gebak het. Tant Ans het haar gesig by die deur gewys en vir ons geglimlag. “Is julle gelukkig? Skeep ek julle af?” Ons het albei ons koppe geskud. “Een lieve vrouw,” het Merel gesê toe ons weer alleen was. “Mis jy nie jou eie ouers nie?” het ek gevra, gedagtig aan hoe verlore ek was sonder my fladderende, verstrooide ma. “Ja, toch.” Sy het my vertel van haar ouers se besoek, ’n jaar gelede, en hoe beangs hulle was deur die wydte en die verlatenheid van die veld. Sy het hulle, soos dit hoort, na die Wildtuin geneem en anders as Claude wat selfs die hiënas sjarmant gevind het, was hulle verskrik deur die nabyheid van potensiële mensvreters soos leeus en jagluiperds. Olifante en seekoeie was gewoon te groot om te aanvaar. Jonsie het ingekom, ’n frangipanibloeisel agter elk van ons ore ingedruk en hom
op die rusbank neergevly. “’n Merel is ’n voël,” het hy my meegedeel. “Amper soos ’n spreeu.” “’n Iris is ’n blom,” het ek gesê. “Flappen,” het Merel bygevoeg. “Flappen noemen wij dat.” “Blackbird,” het Jonsie voortgegaan. “Swart met ’n geel bek. ’n Huishoudelike soort voël. Hou van mense, maak nes in geute, stoepbalke, onder afdakke of sommer op die grond.” “Het jy en jou broer ’n gesamentlike studie gemaak van name en die betekenisse?” het ek gevra. Hy het gegrinnik en meteens nes sy broer gelyk. “Nee, dis net ’n stokperdjie.” “En jou naam dan?” “Kom van Johan, wat Jon geword het. Ma is Johanna, wat Anna en toe Ans geword het.” “Ons het ook ’n Johanna,” het ek vertel. “Een van jou susters?” “Amper.” Hy het ’n hand vol grondboontjies geskep, teruggelê teen die bank en hulle een vir een in sy mond gegooi. “Pa sê jy kan goël,” het hy tussen twee monde vol gesê. “Ek weet nie waar kom hy daaraan nie.” “Goël?” het Merel gevra. Sy het agter die rusbank op haar knieë gehurk en die grondboontjies opgetel wat Jonsie mis gegooi het. “Sy praat met geeste,” het Jonsie verduidelik. “G’n wonder Piet weet nie wat hom getref het nie.” Merel het haar kop skuins gedraai en vraend opgekyk na my. Sy het nogal na ’n spreeu gelyk met haar lang, skraal lyf en blouswart hare, behalwe dat haar lippe
rooi was, nie geel nie. “Wat leuk,” het sy opgemerk. “Kan jy die boeke uit die boekrak laat val?” het hy gevra. “Nie tensy ek die boekrak omstamp nie.”
Dwarsdeur die ete het die oom my onderlangs dopgehou. Ek het so normaal moontlik probeer optree en die gesin vergas met my ondervindinge in New York. Dit was nie honderd persent geslaag nie; Merel was baie geskok toe ek vertel hoe ek my loopbaan as topmodel so sonder slag of stoot prysgegee het. Sy, wat ’n kop langer was as Jonsie, het onomwonde verklaar dat sy nooit so iets sou doen nie. Geen man sou vir haar voorskryf wat sy met haar lewe moes doen nie. “Dit was nie net Peter nie,” het ek my verdedig. “Ek was self nie lus daarvoor nie.” Dit het haar nie tevrede gestel nie. Sy het Peter eintlik net uit foto’s geken, maar sy het die familie bestook met vrae oor sy karakter en herkoms. As Jonsie so redelik was, waar kom die chauvinistiese vark vandaan? wou sy weet. Tant Ans het geskok gelyk en ek en sy het gelyktydig vertel watse liewe ding Peter eintlik was, ten spyte van die verdoemende getuienis teen hom. Dat hy nie wou hê ek moet deur Joe afgeneem word nie, was eintlik sy enigste swakheid, het ons probeer sê. Merel was nie tevrede nie. Sy was ’n meisie wat die toekoms aan sy kraag gryp en nader trek; haar lewe was ’n goed gebreide stuk klei wat sy tussen haar bekwame hande, gewoond aan harde werk, gevorm het na haar wense en niemand anders s’n nie. Sy was nie die soort mens wat sou sit en wonder wanneer sy eendag gaan blom nie; sy sou tyd, plek en datum bepaal, die gebeurtenis deeglik beplan en almal wat belangstel, inlig. Ek het gevoel dat ek gefaal het as aanstaande lid van die familie. Dit was net tant Ans wat my onvoorwaardelik goedgekeur het. Miskien Jonsie ook alhoewel hy nie veel gesê het nie. Hy het met sy messegoed gesit en speel tydens Merel se tirade oor vroueregte en bevryding. Hy moet dit al vantevore gehoor het, het ek vermoed, en hy het besluit dis die heel beste om te swyg. Maar ek was verlig toe ons die koffiekoppies bymekaar kon maak en Jonsie en Merel gegroet het. Die Engel was nie in die kamer toe ek gereed gemaak het om te gaan slaap nie, en selfs ná ek die lig afgeskakel het en na die vensterbank geloer het, het hy
weggebly. Miskien was hy geaffronteer omdat die mense hom as ’n bose gees beskou het en het hy teruggekeer na sy blyplek, waar dit ook al was. ’n Motordeur het buite êrens geklap en ek het gehoop dis nie Merel wat iets vergeet het en teruggekom het nie. Iemand het teen die voordeur gehamer en ek het die laken oor my kop getrek en die twee punte van my kussing om my ore gevou sodat enigeen wat belanggestel het, kon sien ek is van diens af en nie lus vir sosiale verkeer nie. Maar my kamerdeur is oopgegooi, so hard dat die deur teen die muur geklap en byna halfpad weer toegeswaai het en ’n figuur het met sy volle gewig dwarsoor my geval. Ek het die kussing oor my kop gedruk en stil gegil. “Iris,” het iemand gesê en die kussing probeer wegtrek, maar ek het geklou. “Iris, Iris, Iris.” Die stem was bekend en vir ’n oomblik het ek gedink dis Jonsie wat teruggekom het om my te vermoor en sodoende te verhoed dat ek met sy broer trou. Ek het die kussing oor my kop gehou en stukkies lig sien skyn soos iemand die bedlampie aangeskakel het. “Dis ek,” het die stem gesê. Ek het die kussing opgelig en gekyk. Dwarsoor my lyf het Peter gesit. Dis onmoontlik dat dit hy kon wees, het ek gedink en gewonder of die Engel besig was om my terug te betaal vir my onoordeelkundige bekendmaking van sy bestaan. Maar Peter het afgebuig en my gesoen en ek het geweet dis nie die Engel nie. “Dit kan nie wees nie,” het ek gefluister en verby hom gekyk om te sien of die res van die kamer nog normaal lyk. In die deur het ’n stralende tant Ans gestaan, haar kamerjas skeef toegeknoop, en agter haar haar suspisieuse man, sonder sy kamerjas. Ek kon net sy blink pankop en sy kaal voete sien uitsteek. “Jy kom eers oor ’n maand terug,” het ek gesê. “Klim van haar af, kind,” het tant Ans voorgestel. “Jy sal haar breek.” Ek het regop gesit teen die bedstyl, die laken tot onder my ken getrek ter wille van die ouers. Peter het van my afgeklim en met albei sy voete op die vloer langs my gaan sit. Ná al die bruin gebrande gesigte waarteen ek heelaand vasgekyk het, was hy baie bleek. Ek kon die blouerige baardstoppels onder sy vel sien
deurskyn. “Toe ek Ma se brief kry waarin sy vertel jy kom vir die naweek hiernatoe, het ek besluit ek kan vinniger klaarmaak en julle verras. Ek sou vroeër hier gewees het as die motor wat ek gehuur het nie al die pad gelol het nie.” “Is dit nie wonderlik nie?” het tant Ans gevra, haar oë nat van plesier. “Ek gaan vir ons tee maak.” Sy het weggedraai en weer teruggekyk na ons. “En om te dink heelaand was my hart so seer omdat ons almal hier bymekaar was behalwe hy. Ek het gewens ’n wonderwerk wou gebeur, iemand moes ’n towerstaffie swaai . . .” Die oom het vinnig na my gekyk en die deur weggetrek sodat hy daaragter kon kyk. “Kom, hart,” het tant Ans vir hom gesê. “Jy kan my kom help. Peter is seker honger.” Hy het onthuts agter haar aangeskuifel. “Van wanneer af help ek jou kosmaak, Anna?” het ons hom hoor vra. Ek het net na Peter gesit en kyk en ek was verskriklik bly. Ons het almal op die ou end in die kombuis gesit en kyk hoe Peter oorskietkos eet en vertel van sy lang vlug huis toe. Sy ouers, wat nog nooit gevlieg het nie, wou alles weet. Hoeveel mense daar op die vliegtuig was, watse kos hy geëet het, of hy geslaap gekry het, of hulle vriendelik met hom was. Ek het met my kop op my gevoude arms by die tafel gesit en gegaap dat my oë getraan het. “Môre is nog ’n dag,” het die oom uiteindelik gesê en sy koppie eenkant toe geskuif. “Jy moet vir Piet gaan bed opmaak, Anna.” “Ek slaap in my kamer,” het Peter gesê. “Iris slaap daar,” het sy Ma gesê. “Presies.” Die oom het begin hoes en gesê hy gaan maar slaap, dis al vreeslik laat en hy moet na sy duiwe omsien voor hy kerk toe kan gaan. Tant Ans het verleë gelyk,
maar ons albei gesoen en gesê sy hoop ons slaap lekker.
Ons troue was ’n verlore saak van die begin af. Ek en Peter wou stil trou en voortgaan met ons lewe en albei ma’s het gesê hulle respekteer ons wense, hulle sal alles organiseer en ons hoef ons nie oor ’n ding te bekommer nie. Hulle het ’n kerk en ’n predikant bespreek, blomme en ’n koek bestel, kaartjies uitgestuur en spyseniers te woord gestaan terwyl ek voortgegaan het met my werk en Peter as raadgewende ingenieur begin werk het. Elsa het my rok gemaak uit die kantgordyne wat haar skoonma uit haar huis gegooi het. Dit was oud en vergeel en presies wat ek in gedagte gehad het. “Gordyne?” het Johanna gestik. “Jy gaan trou in gordyne!” “Jy moet sien wat Elsa daarvan maak,” het ek haar gerusgestel. “Stukke satynlint tussenin. Baie mooi.” Natuurlik het ek nie ’n uitset gehad nie en Ma en Elsa het my van winkel tot winkel gesleep om die broodnodige te koop. Ma, soos ek, het gereken twee stelle lakens en vier handdoeke is genoeg om ons deur te sien, maar Elsa het lyste gemaak en nie na ons geluister nie. Johanna het vir my ’n lilapers toiletoortreksel gehekel en Jonsie het die meubels gemaak. Dit was bitter koud op ons troudag en ek het ’n trui oor my trourok gedra tot by die kerkdeur. Pa was ontuis in sy donker pak en ek kon sien hy was bly dat ek die laaste een was vir wie hy die opoffering sou moes maak. Ma het heelpad deur die seremonie gesit en glimlag, haar onpaar handskoene in haar skoot vasgeklem. Johanna het hardop gehuil en klein Johan, deur Elsa in swart fluweel en kant geklee, het die kussinkie aangegee waarop die trouringe gerus het. Elsa het die ringe met lintjies vasgestrik, maar Johan was senuagtig en het seker voor die tyd met die linte gepeuter, want toe hy opstaan en die kussing na ons uithou, soos dit ’n hofknaap betaam, het albei ringe afgeval en onder die kerkbanke ingerol. Al die mans in die voorste rye het hoflik opgespring en op die vloer rondgeskrabbel en Ma, wat die een ring by haar skoenpunt opgemerk het, het dit sekuur uitgeskop in die paadjie waar Pa dit kon optel. Johanna het opgehou huil en geskok gelyk. Die oomblik toe die seremonie verby was en die foto’s geneem, het ek my trui weer aangetrek. Peter het nie omgegee nie, maar Elsa het in my oor gesis dat ’n
bruid nie ’n trui dra nie en hoe kan die mense die mooi rok waardeer as ek dit toewikkel in ’n wolkombers? Tydens die onthaal het ek opgekyk na die kerksaal se vensters waardeur die winterson weldadig geskyn het en agter ’n groot rangskikking bestaande uit buiteseisoenlike blomme, het ek die Engel sien staan. Ek het vir hom geglimlag en hy het vir my geknipoog en sy duim in die lug gehou. “Die Engel is ook hier,” het ek vir Peter gefluister toe almal opstaan om op ons gesondheid te drink. “Het jy hom genooi?” het Peter gevra. “Hy kom nie net op uitnodiging nie.” “Van wie praat julle nou?” het my nuwe skoonpa gevra, wat aan my ander kant gesit het. Die mense was aan die rondbeweeg en eet en onder die algemene gedruis kon ons praat. Ek het hom reguit in die oë gekyk. “Die Engel.” “Is hy hier?” het die oom gevra en oor sy mond gevee. “Ja.” Peter het nie saamgepraat nie omdat Ma hom aan die arm beetgehad het en besig was om hom te vertel van Kara se Michel en hoeveel hy nou weeg. “Waar?” het die oom gevra en bang rondgekyk. “Agter die blomme. Daar by die venster.” Hy het soontoe gekyk en gefrons. “Ek sien niks nie.” “Oom sal seker nie. Dis net ek wat hom kan sien.” “Kwit,” het hy gesê en selfs benouder gelyk. “En dit op julle troudag.” “Natuurlik moet hy hier wees. Hy, by uitnemendheid, moet vandag hier wees.” “Is jou ander susters ook so?” het hy ná ’n ruk gevra, sy oë moeg getuur na die skerp lig in die venster.
“Bedoel oom of hulle ook die Engel kan sien? Nee, dis net ek.” Peter het hom weer na my gewend. “Gaan jy vir Pa aanhou ‘oom’ sê?” “Ja.” Ek het die oom vas in die oë gekyk en hy het geweet as hy my wil aanvaar, moet hy die Engel ook. Aanvaarding was deel van die kontrak. “Jy moenie die man so treiter nie,” het die Engel vir my gesê toe ek later my trourok uittrek en ordentlik warm kon aantrek. Hy het beleef met sy rug na my voor die venster gestaan. “Maar hy dink jy’s boos en ek mal,” het ek gekla. “Dit maak nie saak wat hy dink nie.” “Dis waar.” Ek was moeg vir die trouery en my nuut aangegroeide enkel was seer van die baie staan. Ons was nie van plan om weg te gaan nie omdat ons albei teë was vir ry en reis, vir vreemde mense en kamers en beddens. Buitendien moes ek die volgende dag by die werk wees om te assisteer by ’n moeilike stukkie kaakchirurgie. “Dink jy dit was ’n mooi troue?” het ek gevra en op die rand van die bed gesit om my skoene aan te trek. “Dis maar ’n ritueel,” het hy gesê. “Was jy ooit getroud?” Hy het geswyg soos hy altyd gedoen het wanneer ek hom uitgevra het aangaande sy vorige lewens, indien enige. “Jammer,” het ek om verskoning gevra. “Maar dink jy ek het die regte ding gedoen?” “Twyfel jy?” “Nee. Sonder Peter kan ek tog regtig nie klaarkom nie.” “Nou ja. Waarom vra jy dan?” Ek was self nie seker nie. “Goedkeuring, miskien.” “Ek is nie hier om pryse uit te deel nie,” het hy gesê.
Ek het my jas opgetel en reggemaak om te loop. Elsa wou my kom help aantrek, soos ek haar gehelp het op haar troudag, maar ek het die aanbod van die hand gewys. Hulp het ek nie nodig gehad nie en ek wou vir oulaas alleen met die Engel praat. “Jy sal nie nou verdwyn nie?” het ek hom gevra. “Sal jy nog in die buurt wees al is ek getroud?” “Ek het niks beters te doen nie,” het hy gesê, suinig soos altyd met onderskraging. “Dan sal ek jou weer sien,” het ek gesê en geloop. My getroude status het almal gepas. Ma en tant Ans het baie goed klaargekom en die twee pa’s, ná ’n aanvanklike inkennigheid, ook. Peter se ouers het by Pa op die plaas gaan kuier en Ma is saam om te gaan kyk hoe dinge daar vorder. Sy het aangenaam verras teruggekeer; dit was blykbaar nie nodig gewees om haar te skaam nie. Pa se hartbeeshuis is uitgebou tot ’n ordentlike woonhuis met ’n dak, mure, ’n badkamer en kombuis, elektriese bedrading en deure wat kon sluit en die wilde diere buite hou. Die werf was afgekamp en die beeskrale nie so na aan die huis dat die vlieë gepla het nie. “Ek sou daar kon woon,” het sy my vertel. “Polder Twee sal veilig wees.” “Die nijlpaarden vreet blykbaar nie honne op nie,” het Johanna uit haar maag gelag. “Ma kan nie vir Polder wegvat nie!” het ek gesê. “Hoekom nie, darling?” “Wat van my?” “Jy het mos nou vir Peter.” “Peter is nie ’n hond nie.” “Haai, darling,” het sy gesê. “Ek hoop nie so nie.” My skoonouers het ’n keer of twee by ons in die woonstel kom kuier, maar die
oom (in my gedagtes was hy teen daardie tyd Die Oom) was nooit op sy gemak in my teenwoordigheid nie. “Jou pa dink ek is ’n heks,” het ek vir Peter gesê. “Jy is,” het hy geantwoord. “Hoe dan anders?” Die Engel het nie inbreuk gemaak op ons lewe nie. Ek het hom nooit meer saans op die vensterbank gesien sit nie, maar laatmiddae, voor Peter by die huis gekom het, het hy dikwels by my in die kombuis gestaan en gesels. Somtyds het ek gewens hy was van meer praktiese hulp en kon byvoorbeeld help aartappels skil of hemde stryk, maar die meeste wat hy ooit gedoen het, was om die strykyster weer regop te sit ná ek dit plat laat lê en toe die telefoon beantwoord het. En dit was maar net een keer. Toe ek die vleis laat aanbrand het, het hy niks gedoen om te keer nie. Ek moes self leer, het hy gesê toe ek hom daaroor aanspreek, en buitendien was hy nie my kneg nie. “Ek hou ook nie van vuur nie,” het hy gesê. “Jy behoort dit te begryp.” “Jy bedoel die hel?” Hy het diep gepynig weggekyk. “Dan moes jy juis die stoof afgeskakel het,” het ek gesê. “Deur dit nie te gedoen het nie, kon jy ’n brand veroorsaak het.” Maar ek het hom tegemoet gekom en versigtiger met elektrisiteit omgegaan.
Tussen my susters se verbete vrugbaarheid het ek en Peter rustig voortgeleef sonder om te vermeerder. Elsa se drieling was daar, Kara het ’n tweede een gehad, ’n dogtertjie Nadine, en Merel het, soos Elsa, seuns voortgebring tot Jonsie se plesier. Tant Ans het hunkerend na my middellyf gekyk elke keer wanneer sy my gesien het, in die hoop dat ek vir haar die verlangde dogter sou gee. “Tant Ans het dan vir my en Merel,” het ek gesê. “Twee dogters.” “Maar julle is groot. Ek kan nie linte in julle hare strik of sonrokkies maak met springende hasies op nie.”
Sy was reg. Nóg ek nóg Merel sou daarvan gehou het. Merel het Peter aanvaar soos Die Oom my aanvaar het: oppervlakkig en vol bedenkinge. As ons by hulle gekuier het en Peter vir my sê: “Kom, Iris, ons moet ry,” het ek haar nekhare sien rys. “Moenie dat hy jou so staat te bevele nie,” het sy gesê. “Staan jou man.” Ek wou haar wys op die ironie in haar laaste opmerking, maar wou nie moeilikheid maak nie. “Hy beveel my nie. Dis tyd dat ons huis toe gaan.” “Maar geval dit jou?” “Ja. Ek wil huis toe gaan.” Ek was bang om onhoflik te klink, maar terselfdertyd moes ek haar oortuig. “Waarom beveel jy hom dan niet?” “Ek sou, maar hy het eerste gepraat.” Vanselfsprekend het sy en Elsa, self ’n militante feminis as dit haar gepas het, nie goed oor die weg gekom nie. (Elsa was wel mal oor Peter en Jonsie.) “Dit maak nie saak wat ek sê nie,” het Elsa vir my gesê. “Sy weet altyd beter. Dit was seker haar oupagrootjie wat sy vinger in die dyk gedruk het.” Ons het by Ma op die stoep gesit en Polder het teen my knie geleun om saam te luister, soos hy altyd gedoen het as sy land van herkoms ter sprake was. “Ek dink nie so nie,” het ek gesê. “Haar oupagrootjie was ’n predikant in Friesland, as ek reg onthou.” “As my skoenveter los is, wys sy my daarop. As ek die drieling voer met hulle borslappies aan, vertel sy my dis ’n slegte gewoonte en ek moet die slabbertjes verwyder.” Gelukkig hoef hulle mekaar nie te dikwels gesien het nie, net met familiefeeste, waarvan daar genoeg was. My ouers het met moeite hulle eie kinders se verjaardae onthou; enige ander herdenking was die betrokke persoon se eie saak, maar Peter se ouers het daarvan gehou om elke doop (en daar was genoeg), eerste tand, eerste tree te vier. Asof dit nie die kalender vol genoeg gemaak het
nie, het Merel ons by haar Nederlandse feesdae ook betrek. Die drieling was nog skaars oud genoeg om te praat, toe leer sy hulle al saam met haar eie kroos sing aan die Sinterklaasliedjies. Johanna het gewetensbesware gehad teen Swarte Piet, veral omdat hy gespeel was deur klein Johan met ’n roetbesmeerde gesig. Polder het hom aan haar kant geskaar en vir Johan gegrom, iets wat hy nie andersins sou gedoen het nie. En Elsa was ontevrede oor Johan se besmeerde klere. Maar die mans het nie met mekaar skoor gesoek nie en dit was ook Peter op wie Elsa haar beroep het om met Hannes te praat oor sy ontrouheid. Pa het volstrek geweier. Sy skoonseuns se sedes was hulle eie saak, het hy gereken. “Ek?” het Peter gekryt, toe ek hom vertel wat van hom verwag word. Hy het in die bad gelê en ek het op die matjie gesit en koerant lees om hom geselskap te hou en ook omdat dit die enigste tyd van die dag was dat ek kon koerant lees. “Ja. Elsa sê jy is volwasse genoeg om dit te hanteer.” “Maar dit het niks met my te doen nie. Sy en hy moet dit self uitmaak.” “Sy sê ’n man moet met hom praat.” Hy het gesug en ’n seepbel tussen sy bakhande geblaas. “Jou familie stel darem hoë eise aan my.” “Net omdat Pa jou gevra het om sy varkhokke te ontwerp? Wat van jou pa wat wou hê ek moet kom dolosse gooi om uit te vind waarom die een wyfie haar eiers uit die nes gooi?” “Jou bonatuurlike gawes is geboekstaaf; ek is nie ’n huweliksraadgewer nie.” Ek was geneig om saam te stem, maar Hannes en Peter is een Saterdag die veld in, kwansuis om droë hout op te tel vir Elsa se kaggel en wat tussen hulle gesê is – indien enigiets – het ek nooit gehoor nie. Nie een van die betrokke partye het ooit weer iets gesê nie. Of die harige student van die verhoog afgeskuif is, weet ons nie. Die toekoms sal ons leer. “Miskien het sy student hom laat blom,” het ek vir Peter gesê. “Miskien is dit waarna hy gesoek het.” “Hannes is nie so behep met sy blomtyd soos jy nie,” was al wat hy wou sê.
“Het Hannes toe sy stuk laat staan?” het Johanna by my probeer uitvis. Ek het net my skouers opgehaal.
Nog twee karakters wat van die verhoog af verdwyn het, was Eduard en Greta. Af en toe, wanneer ek langs dokter Anders gestaan en instrumente aangee het, het ek nog met hulle lewe gespeel, maar die vlam was weg. Hulle het dieselfde romantiese ontknopings te dikwels ondergaan, hulle fut was uit. Bowendien was geen denkbeeldige karakter opgewasse teen die harde, fisieke werklikheid van Peter nie. Hy was snaakser, warmer en meer dimensioneel as die spookbeelde waarmee ek my jeug omgedroom het.
Ongeveer ’n jaar ná ons getroud is, het Ma aangekondig dat haar dae leeg geword het en haar aande selfs erger. Al het Hannes haar motor se remme laat regmaak, wou ons nie dat sy langer op haar eie rondry nie. Johanna is as lyfwag aangestel en het Ma winkels toe vergesel. “Wat help dit?” het Peter gevra. “Johanna kan nie bestuur nie.” “Sy kan darem vir Ma die ander motors uitwys en ’n oog hou oor die kleur van die verkeersligte.” Ek het ook met die Engel gepraat en voorgestel dat hy van werkgewer verander en hom by Ma aansluit aangesien ek nie regtig sy dienste op ’n daaglikse grondslag nodig gehad het nie. “So maklik ontslaan jy my nie,” het hy gemor. “Ek wil jou nie ontslaan nie. Inteendeel. Dis net dat ek voel Ma het jou nou nodiger.” “Hoe weet jy sy het nie haar eie oper nie?” “Sy het nog nooit iets gesê nie.” “Maar sou sy?”
Ek was beslis. “Natuurlik. Ek en sy gesels dikwels oor jou. Sy ken jou per slot van rekening langer as ek. Sy sê jy was altyd by hulle toe Ouma nog geleef het. Selfs aan tafel.” “Wie sê dit was ek?” Dit was ’n nuwe gedagte en ek was nie seker of ek daarvan gehou het nie. “Jy bedoel jy is iemand anders as Ouma se Engel? ’n Neef of so?” “Jy wil my maar in aardse terme ontleed,” het hy gesê. “Ek het nie neefs nie.” “Dan moet jy ’n mutasie wees van die oorspronklike Engel. Of muteer jy ook nie?” Hy het deursigtig geword en deur die pietersielieplant op die vensterbank beweeg. Ek het hom sy unieke metode om ongewenste vrae te ontduik beny, al het dit my tot dodens toe gefrustreer. Maar hoe dit ook al sy, Ma het aangekondig dat sy plaas toe gaan trek sodat sy en Pa mekaar geselskap kan hou. “Sy huis is tog nou leefbaar,” het sy gesê. “’n Badkamer en warm water . . . Ek sal vir hom gaan tuinmaak.” “Ek trek not ’n donner die bosse in,” het Johanna verklaar en so het dit gebeur dat ek en Peter die huis, Polder en Johanna oorgeneem het. Wat van hulle erfporsies? wou Elsa en Kara weet, maar Peter het die huis wettiglik gekoop en geen testamentiese probleme veroorsaak nie. Ek was in die wolke omdat ek die tuin en die kwart-voor-sewe-lelie geërf het nadat ek ’n jaar lank vergeefs gesukkel het met ’n stuk bol wat ek van die moederplant afgespit het. Hy het wel blare gemaak, maar verseg om te blom. Sonder terugslae was ons saambestaan ook nie. ’n Jaar gelede, en kort voor Bettie en Brian sou kom kuier, het Peter êrens waar daar aan ’n gebou gewerk is en hy toesig moes gaan hou, amper sy oë verloor. Wat presies gebeur het, het ek nie geweet en nooit uitgevind nie. Iemand het gesweis of iets in dier voege, maar waarom sy gesig in die vlam beland het, het ek nie belanggestel om uit te vind nie. Dat dit gebeur het, was erg genoeg. Een van sy vennote het my van die hospitaal af gebel en ek het by dokter Anders ingestorm en sy reeds angstige pasiënt in trane laat uitbars omdat sy gedog het my histerie het iets met die toestand van haar kaak te doen. Ons moes haar eers
kalmeer voor ek kon ry. By die hospitaal moes ek ’n ruk rondstaan voor ek hom kon sien en toe hulle my by hom toelaat, het hy in ’n rystoel gesit met verbande oor albei sy oë. Ek was so ontsteld dat ek nie ’n woord kon sê nie en as ek nie uiteindelik aan sy hand geraak het nie, sou hy nie geweet het ek was daar nie. “Ag,” het ek gesê. “Peter.” Toe het ek begin huil. My oë kon dit nie help nie. Hy het my vertel dit voel asof iemand ’n sak hoendergruis in sy oë gesprinkel het en dat ek nie moet dink sy ooglede hou op knip agter die verbande nie. Nee. Hulle het oustryk voortgegaan en elke knip was soos duisend speldeprikke. Ek het harder gehuil, maar aanvaar dat hy die nag in die hospitaal sou moes bly. Slaap was wat hy in gedagte gehad het, want as hy sou slaap, sou sy oë dalk stiller wees. Ek het hom op sy twee kroontjies gesoen en huis toe gery, waar Ma op besoek was. “Ag,” het Ma gesê toe ek haar snikkend om die nek val. Johanna het gaan tee maak en die sjerriebottel op die skinkbord by die koppies gesit. Polder het meewarig aan my been gelek. “Gaan hy blind wees?” het Johanna gevra en by ons op die stoep kom sit. “Ek weet nie.” Sy het met haar mou oor haar oë gevee. Ons het al drie oor die tuin gestaar, oorstelp deur die wete dat ons almal kon sien. “Ek is so bly Ma is hier,” het ek gesê. “Ek moes die kruideniersware kom aanvul,” het sy gesê. “Die plaaswinkel het nie alles nie.” “Tja,” het Johanna gesug en sommer vir haarself ook sjerrie geskink. “Die dokters is darem baie slim deesdae, darling,” het Ma probeer troos. “Kyk net na Elsa.”
“Ja, kyk,” het Johanna gesnork. “Dit moet gesien word om te glo.” “Maar gestel hy kan nooit weer sien nie?” het ek gevra en van voor af begin huil. “Hulle sal vir hom ’n glasoog insit,” het Johanna gesê. “My oorlede oom het sy een oog met ’n vurk uitgesteek en hulle het vir hom ’n glasoog ingesit. Jy kon die verskil amper nie sien nie behalwe as jy goed kyk.” “Maar ek wil nie hê Peter moet glasoë hê nie! Ek wil sy eie oë terughê.” “Met ’n vurk?” het Ma gevra. “Watse soort vurk? Was hy besig om te eet?” “Hooivurk,” het sy kortweg gesê. “Hy was nie onnooslik nie.” Ek het my hande oor my ore gedruk. “Ek wil nie hoor nie! Julle is veronderstel om my moed in te praat.” “Jammer, darling,” het Ma gesê en my hand gedruk. “Maar ek dag hy was dalk besig om te eet toe sy hand gly en . . . Maar Peter is nie so nie. Hy sal regkom. Hy is sterk en gesond.” “Kyk net op TV die ander aand,” het Johanna bemoedigend gesê. “Daai meisie wat van die perd afgeval het en toe’s sy mos blind en net so . . .” sy het haar vingers geklap, “. . . toe sien sy weer.” “Peter se oë het gebrand. Hy’t nie van ’n steier afgeval nie.” “Dis buitendien bog,” het Ma vir Johanna tereggewys. “Mens raak g’n blind as jy van ’n perd afval nie. Jy sal eerder jou been breek. Of jou rug.” “Ek sê ook so,” het Johanna erken. “Maar dit was op TV. Ek het dit met my eie oë gesien.” Ek het op my tande gekners. Elke sin wat ons gebruik het, het die begrippe sien of kyk in gehad. Dit was om van mal te word. “Jy moet sterk wees, darling,” het Ma gesê. “Kyk net na Jane Eyre. Sy’t nie geskrik toe sy Rochester terugkry met sy geskende gesig en blinde oë nie. Teen die tyd dat hulle eersteling gebore is, kon hy al amper sien.”
“Dit help óns nie.” “En Milton,” het sy voortgegaan. “Het hy nie gesê deur stilweg rond te staan, raak jy ook geholpe nie?” Ek het vir hulle gesê ek gaan ’n bietjie lê.
En daar, doodluiters voor die venster, het die Engel gestaan, rustig besig om sy vlerke glad te stryk. “Nou het jy te ver gegaan,” het ek getier en gesorg dat die deur toe is. “Jy behoort van jou vlerke gestroop te word. Jy moet herroep word vir indiensopleiding. Jy is die naam beskermengel nie werd nie. Jy sit hier om my rond asof jy niks beter te doen het nie en bly ver weg waar jou hulp regtig nodig is. Jy het so ’n pes aan vuur, waarom het jy nie die verdomde sweisapparaat doodgeblaas nie? Of is dit te veel gevra?” Ek wou hom aan sy skouers vat en skud, maar natuurlik was daar niks om aan te raak nie en dit het my net kwater gemaak. Die hele tyd dat ek gepraat het, het hy onverstoord en sereen voor die venster bly staan. “Voel jy nou beter?” het hy gevra toe ek uitasem ophou. “Nee,” het ek nors gesê. “Ek is nie verantwoordelik vir jou en jou mense nie,” het hy kalm gesê. “Ek gaan dit ook nie weer vir jou sê nie. Jy sien jouself as ’n kind wat leer loop en my as die ma wat met haar arms beskermend weerskante van die kleuter saamloop om te keer dat hy nie val nie. Ek is nie ’n loopring nie. Ek maak nie reg waar jy verbrou het nie. Ek skakel nie stowe of sweisapparate af nie. As jy môre op die dak loop en gly en afval, sal ek jou nie vang nie. Om op die dak te loop, is jou keuse. Peter se werk is sy keuse.” Ek het my op ons bed neergewerp en gehuil, nie net van skok nie, maar ook omdat ek beskaamd was oor my uitbarsting. “Gaan terug hospitaal toe en gaan sit by Peter. Hou sy hand vas in plaas van om so liederlik jammer vir jouself te voel.”
“Ek is jammer vir hom,” het ek myself verdedig, maar opgestaan en my hare gekam. “En ry versigtig,” het hy gemaan voor ek loop. Hy het geglimlag. “Vergewe my,” het ek gesê. “Ek was ontsteld. As ek net kon seker wees sy oë sal weer aangroei. Of wat ook al nodig is.” “Die lewende sel is ’n besondere organisme. Dit het die vermoë om homself te regenereer.” “Dink jy so?” het ek gevra, meteens weer vol moed. “Ek weet dit.” “Jy’s ’n engel,” het ek gesê en vir hom gewaai.
Hy was reg gewees en sy mening oor regenererende selle is deur die oogspesialis bevestig. Agter die verbande was die selle besig om die verbrande vliese te heg teen ’n goeie spoed. Peter het wel ’n rukkie aardig gelyk sonder wimpers en met verskroeide wenkbroue, maar dit het ook weer reggekom. Om ’n herhaling van ’n soortgelyke ongeluk te verhoed, het hy ’n bril begin dra en, soos die Engel, lig geloop vir vuur. Die kaggel is nie meer gebruik nie en as ek lus was vir braaivleis, moes ek op die plaas gaan kuier of Sondae saam met Hannes en Elsa gaan braai. Die nuwe beleid het die Engel se onvoorwaardelike goedkeuring weggedra. En dit was nie vir my nodig om my Rochester aan die hand rond te lei nie.
Wat die toekoms verder vir ons inhou, weet ek nie en verklik die Engel ook nie. Ma bly skynbaar doodtevrede op die plaas al mor sy soms oor die stof of die partylyn. Sy bel my ten minste een keer per week en as ons gelukkig is, is dit net ons wat praat. Op slegte dae gesels die buurt saam en ruil ons nuus uit terwyl resepte bespreek word, ’n boer met die veearts praat oor hartwater en ’n eensame mens hard asemhaal en inluister. Pa is bly sy is by hom al erken hy dit nie maklik nie. Hy hou daarvan om die indruk te skep dat hy selfstandig en onafhanklik was sonder haar en dat sy gesondheid beter was as ooit vantevore.
Maar ons weet dit was net praat; hy was eensaam gewees. Ma het vir haar ’n groentetuin aangelê, soos sy gesê het, en sy woeker haar dae om tussen haar plante. Sy dra tennisskoene en sokkies en kla oor die hoë hakke wanneer sy vir ons kom kuier. Elsa reken Ma verwaarloos haarself en raak selfs meer eksentriek as vantevore, maar vir my is sy nog dieselfde. Sy probeer nie meer laslappieskomberse maak of rokke smok nie en sy het aangesluit by ’n groep wat hulleself Die Spieël noem. Dis nie ’n landbou- of kerkvereniging nie, maar ’n klompie mense wat glo in reïnkarnasie en spiritualisme. Hulle kom op die een of ander plaas byeen en as omstandighede reg is, gesels hulle met die voorvadergeeste. Ma vind dit baie stimulerend en wie is ek om te kritiseer? Ek het haar mooi gevra om nie voor ander mense daaroor te praat nie, veral nie voor Die Oom nie. “Dis ongelooflik interessant, darling,” het sy my vertel. “Net verlede week nog het ons gepraat met ’n Chinees uit die Ching-dinastie.” “In watter taal?” Sy het verbaas gelyk. “Afrikaans, natuurlik. Mila was die medium en dis al wat sy kan praat.” “Kon hy vir Ma raad gee oor die plantluise?” Sy was geaffronteer. “Ons praat oor diep dinge, darling.” “Soos?” “Ons rol in ons eie noodlot. Met vyfduisend jaar agter hom het hy ’n perspektief wat ons nooit sal hê nie.” “En wat sê Pa?” “Ek vertel hom nie alles nie. Mans verstaan nie sulke goed nie. Hy lees maar die Landbouweekblad.” Peter het gesê hy skei my as ek met antieke Chinese begin praat. Die Engel het hy aanvaar omdat die Engel nie opdringerig is of my tyd in beslag neem nie, maar as ek by Die Spieël wil aansluit, moet ek my koffers pak. Ek het belowe ek sal dit in gedagte hou. Om te moet kies tussen Peter en die voorvadergeeste is
geen keuse nie. Dit is nou laatsomer en ek en Johanna sit saam op ons kombuisstoeltjies in die hoek van die skadutuin. Dis halfsewe en ons hou die lelie dop. Toe ek nou-nou opkyk, het ek Die Engel deur die ondertuin sien sweef. Hy hou daarvan om laatmiddae in die tuin te wees. Miskien kommunikeer hy met die plante of versterk hy sy onsterflike siel sodat hy krag het vir ons latere argumente. Ek weet nie. “Dan sal ons seker maar so saam oud word,” sê Johanna vir my toe sy met ’n steun langs my kom sit. “Jy word vet,” sê ek. “Jy gaan nie ou bene maak as jy nie oppas nie.” “Ek is gesond vir my jare,” sê sy gebelg. Ek sit my hand op haar knie om te wys ek bedoel dit nie regtig nie en Polder kyk van die een na die ander en dan na die lelie wat met bultende knop roerloos voor ons staan. “Ek hoop nie hy’s laat nie,” sê Johanna. “Ek wil nie die kos vir Peter verbrand nie.” “Wees geduldig,” sê ek. “Dis amper tyd.”
Leesgids
Inleiding tot Die kwart-voor-sewe-lelie as roman
Eleanor Baker het in haar romans ’n dieper dimensie aan die klassieke grondpatroon van die populêre liefdesverhaal gegee. Die kwart-voor-sewe-lelie gaan oor die wel en wee van ’n stadsgesin wat bestaan uit ’n vergeetagtige ma, ’n gemoedelike pa, die hoofkarakter, Iris, en haar twee susters, Elsa en Kara, hul “Hollandse” hond, ’n huishulp wat presies weet wat sy wil hê en ’n buiteaardse beskermengel met ’n aardse humorsin. Die titel van ’n roman gee dikwels ’n sleutel tot die verhaal – tot inhoud en tema. By Die kwart-voor-sewe-lelie is daar ’n duidelike verband tussen die titel en die hoofkarakter, Iris, se naam. Die blomnaam “kwart-voor-sewe-lelie” bestaan nie in botaniese kringe of in die omgangstaal nie. Dit is fiktief, wat in pas is met die fiktiewe wêreld wat die hoofkarakter in haar verbeelding skep. Iris identifiseer met die kwart-voor-sewelelie wat by sy omgewing insmelt (“een van daardie groen plante wat jaar na jaar ’n hoek volmaak sonder om iets dramaties te doen”), maar dan tydens ’n magiese oomblik ’n wonderskone wit blom vorm wat dadelik verlep. Iris, soos haar botaniese naamgenoot, glo dat sy ook een of ander tyd moet blom, en haar optrede en toekomsplanne word grotendeels bepaal deur afwagting van dié groot oomblik. Al haar verbeeldingsvlugte is ingestem op die magiese blomoomblik in haar lewe. Sy hunker na “kwart voor sewe” wanneer ook haar blom sal oopgaan. Aan die einde van die roman sit sy saam met Johanna en Polder, die hond, en wag vir kwart voor sewe sodat die lelie kan oopgaan. Dit
blyk dat die wag op die lelie om oop te gaan ’n daaglikse gebeurtenis in hul huishouding is. Die implikasie is dat Iris tot die besef gekom het dat ’n mens se hele lewe ’n blomtydperk kan wees. Die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan kan net so magies wees soos die beste fantasie. Iris se geskepte irreële wêreld word vervang deur die realiteit, ’n realiteit wat sy as ’n magiese blomoomblik ervaar. Talle ander konnotasies van die woord “iris” word ook in Die kwart-voor-sewelelie ontgin. Pa was die eerste wat spottend daarop gewys het dat sy as baba na pers “flappe” (’n sinoniem vir “iris” as ’n bolplant) getrek het. Grappies is ook gemaak oor “iets knaag weer vandag aan Iris se bol”. Die iris is ook deel van ’n oog en die hoofkarakter was trots daarop dat haar naam op haar insig en diepsinnigheid dui. In die Griekse mitologie was Iris ook in diens van die hoër gode of godinne van die reënboog. Dit vind groot aanklank by Iris wat romantiese fantasieë rondom die “hoër gode” bou, alhoewel sy nie uit die oog verloor dat sy dikwels in diens van ouers, susters en onderwysers is nie. In A dictionary of symbols (Cirlot 1988) word die boodskapper Iris gelyk gestel aan brug en reënboog as ’n skakel tussen twee wêrelde. In Die kwart-voor-sewe-lelie slaan die skrywer in die karakter Iris “’n brug tussen die reële en irreële, tussen realiteit en fantasie” (Van Zyl 1989). Gebeure is een van die vier kernelemente van ’n roman, en intrige of plot is die volgorde of sisteem waarin die gebeure gerangskik is, die verwikkeling wat spanning laat opbou, en dit verteenwoordig die storielyn. In Die kwartvoor-sewe-lelie skep die ontdekking van die verskillende betekeniskomponente van haar naam groot verwagtinge by Iris. Sy borduur romantiese verbeeldingsvlugte rondom twee fiktiewe broers, Eduard en Peter. Fantasie en werklikheid oorvleuel wanneer sy ’n Peter ontmoet, ’n verhouding met hom begin en later vir hom in Amerika gaan kuier. Haar groot verwagtinge realiseer uiteindelik in die vorm van ’n modelkontrak in New York, maar Iris besluit eerder ten gunste van ’n alledaagse bestaan saam met Peter. Daar kom ook verskeie subintriges of ondergeskikte storielyne in Die kwartvoor-sewe-lelie voor. So ontwikkel die storielyn rondom die perfekte Elsa wie se lewe altyd so ordelik verloop, totdat die koms van ’n drieling lei tot ’n onordelike maar meer spontane lewenswyse. Die storielyn rondom Kara wat aanvanklik ’n non wou word, neem ook ’n interessante wending.
Konflik kan uiterlik of innerlik van aard wees. Uiterlike konflik is tussen die hoofkarakter en ’n ander karakter of tussen die hoofkarakter en sy omgewing, die stelsel of gemeenskap. In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar so te sê geen uiterlike konflik nie. As mens nou regtig moet, sou jy ’n saak daarvoor kon uitmaak dat daar konflik tussen Iris en haar vryers, Riekie en Frederik, is, omdat sy sukkel om hulle op ’n afstand te hou. Daar is ook sprake van konflik tussen haar en Frederik oor sy huweliksaanbod, tussen haar en Peter oor haar “obsessie” met haar blomoomblik en haar emosionele onbetrokkenheid, en tussen haar en Peter se pa oor die Engel. Innerlike konflik vind in die gemoed van die hoofkarakter plaas en is die spanning wat in ’n persoon geskep word deur die botsing (of toutrekkery) van begeertes, behoeftes, drange, vrese, onsekerheid, ensovoorts. Daar is sprake van innerlike konflik by Iris wat geskep word deur haar verwagting van die groot blomoomblik wat enige tyd kan aanbreek. Sy twyfel byvoorbeeld of sy die regte besluit in New York neem toe sy Peter bo die modelkontrak kies. Selfs op haar troudag twyfel sy of Peter die regte man vir haar is. Sy ervaar ook innerlike konflik wanneer haar fantasiewêreld met die werklikheid oorvleuel; soms is die werklikheid baie beter, soms nie. Die tema is die sentrale idee of hoofgedagte van ’n teks. Die boodskap is meer spesifiek en dui op ’n oordrag of mededeling aan die leser. Die tema van Die kwart-voor-sewe-lelie is die mens se hunkering na die groot oomblik in sy lewe, met die gevaar wat bestaan dat die wonder van die huidige oomblik dikwels by hom verbygaan. Die boodskap hiervan gaan van leser tot leser verskil, maar sê basies dat jy nie so na die groot oomblik in jou lewe moet hunker, dat jy die lekker van die hiér en nóú mis nie. Ruimte staan ook soms bekend as agtergrond of milieu. Ruimte behels al die plekke waar die gebeure afspeel, die karakters hulle bevind, sowel as plekke wat tydens terugflitse, herinnerings, vooruitskouings en verbeeldingsvlugte genoem word. Die ruimtes in Die kwart-voor-sewe-lelie is Iris se ouerhuis (waar die grootste gedeelte van die roman afspeel), Frankryk, New York en Vermont. Mens sou verwag dat die vreemde ’n meer romantiese ruimte sou wees, maar dit word juis as die teenoorgestelde uitgebeeld terwyl die gewone voorstedelike bestaan later geromantiseer word.
Ruimte is nie in alle verhale ewe belangrik nie. In Die kwart-voor-sewe-lelie speel dit ’n mindere rol in vergelyking met ’n roman soos Kringe in ’n bos waar ruimte voorop staan. Ruimte het gewoonlik ook vier belangrike funksies waarvan hoogstens twee in Die kwart-voor-sewe-lelie voorkom. Daar is sprake van die ruimte wat, eerstens, karakterisend werk en, tweedens, atmosfeer en stemming skep. Dit kan veral in Vermont gesien word waar die karakters negatief deur die ruimte beïnvloed word (vgl. Betty se depressie). Die swaar sneeulandskap skep definititief ’n swaar stemming of atmosfeer. Die wisselwerking tussen ruimte en karakter is belangrik. Hoe sterker die karakter se belewing van ruimte en tyd, hoe ronder die karakter. Hoe minder die belewing van ruimte en tyd, hoe platter die karakter. Iris kan as ’n ronde karakter beskou word. Sy het ’n redelik intense tydruimtelike belewenis. (Vgl. bv. haar reaksie op die blomme in haar ma se tuin en haar verhouding met die engel.) Iris is ’n karakter wat foute maak, maar daaruit leer en insig in situasies verkry. Sy is ’n fyn waarnemer van die menseverhoudinge rondom haar en leer gereeld daaruit. Sy ontwikkel die heeltyd as karakter. So kom sy tot die insig dat die realiteit van ’n geroetineerde of voorstedelike bestaan net so magies soos die beste fantasie kan wees. Onder tydsverloop verstaan ons vertelde tyd en verteltyd. Die vertelde tyd is die tydperk waaroor die verhaal strek en sluit nie terugverwysings in nie. Die vertelde tyd in Die kwart-voor-sewe-lelie is ongeveer vier jaar. Verteltyd kan beskryf word in terme van die aantal bladsye of woorde wat die verhaal beslaan. Die kwart-voor-sewe-lelie se verteltyd beslaan 211 bladsye in die gedrukte uitgawe van die boek. In Die kwart-voor-sewe-lelie is die hoogtepunt of klimaks van die roman in New York toe die fotograaf Joe vir Iris “ontdek”, hy van haar foto’s neem en ’n agentskap vir haar ’n modelleerkontrak aanbied – die kans van ’n leeftyd, haar moontlike blomoomblik. Tydens die afloop gaan Iris saam met Peter Vermont toe, breek sy haar enkel en keer terug Suid-Afrika toe. Hulle trou uiteindelik.
Leesgids
Inleiding tot Die kwart-voor-sewe-lelie as roman
Eleanor Baker het in haar romans ’n dieper dimensie aan die klassieke grondpatroon van die populêre liefdesverhaal gegee. Die kwart-voor-sewe-lelie gaan oor die wel en wee van ’n stadsgesin wat bestaan uit ’n vergeetagtige ma, ’n gemoedelike pa, die hoofkarakter, Iris, en haar twee susters, Elsa en Kara, hul “Hollandse” hond, ’n huishulp wat presies weet wat sy wil hê en ’n buiteaardse beskermengel met ’n aardse humorsin. Die titel van ’n roman gee dikwels ’n sleutel tot die verhaal – tot inhoud en tema. By Die kwart-voor-sewe-lelie is daar ’n duidelike verband tussen die titel en die hoofkarakter, Iris, se naam. Die blomnaam “kwart-voor-sewe-lelie” bestaan nie in botaniese kringe of in die omgangstaal nie. Dit is fiktief, wat in pas is met die fiktiewe wêreld wat die hoofkarakter in haar verbeelding skep. Iris identifiseer met die kwart-voor-sewelelie wat by sy omgewing insmelt (“een van daardie groen plante wat jaar na jaar ’n hoek volmaak sonder om iets dramaties te doen”), maar dan tydens ’n magiese oomblik ’n wonderskone wit blom vorm wat dadelik verlep. Iris, soos haar botaniese naamgenoot, glo dat sy ook een of ander tyd moet blom, en haar optrede en toekomsplanne word grotendeels bepaal deur afwagting van dié groot oomblik. Al haar verbeeldingsvlugte is ingestem op die magiese blomoomblik in haar lewe. Sy hunker na “kwart voor sewe” wanneer ook haar blom sal oopgaan. Aan die einde van die roman sit sy saam met Johanna en Polder, die hond, en wag vir kwart voor sewe sodat die lelie kan oopgaan. Dit blyk dat die wag op die lelie om oop te gaan ’n daaglikse gebeurtenis in hul huishouding is. Die implikasie is dat Iris tot die besef gekom het dat ’n mens se hele lewe ’n blomtydperk kan wees. Die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan kan net so magies wees soos die beste fantasie. Iris se geskepte irreële wêreld word vervang deur die realiteit, ’n realiteit wat sy as ’n magiese blomoomblik ervaar.
Talle ander konnotasies van die woord “iris” word ook in Die kwart-voor-sewelelie ontgin. Pa was die eerste wat spottend daarop gewys het dat sy as baba na pers “flappe” (’n sinoniem vir “iris” as ’n bolplant) getrek het. Grappies is ook gemaak oor “iets knaag weer vandag aan Iris se bol”. Die iris is ook deel van ’n oog en die hoofkarakter was trots daarop dat haar naam op haar insig en diepsinnigheid dui. In die Griekse mitologie was Iris ook in diens van die hoër gode of godinne van die reënboog. Dit vind groot aanklank by Iris wat romantiese fantasieë rondom die “hoër gode” bou, alhoewel sy nie uit die oog verloor dat sy dikwels in diens van ouers, susters en onderwysers is nie. In A dictionary of symbols (Cirlot 1988) word die boodskapper Iris gelyk gestel aan brug en reënboog as ’n skakel tussen twee wêrelde. In Die kwart-voor-sewe-lelie slaan die skrywer in die karakter Iris “’n brug tussen die reële en irreële, tussen realiteit en fantasie” (Van Zyl 1989). Gebeure is een van die vier kernelemente van ’n roman, en intrige of plot is die volgorde of sisteem waarin die gebeure gerangskik is, die verwikkeling wat spanning laat opbou, en dit verteenwoordig die storielyn. In Die kwartvoor-sewe-lelie skep die ontdekking van die verskillende betekeniskomponente van haar naam groot verwagtinge by Iris. Sy borduur romantiese verbeeldingsvlugte rondom twee fiktiewe broers, Eduard en Peter. Fantasie en werklikheid oorvleuel wanneer sy ’n Peter ontmoet, ’n verhouding met hom begin en later vir hom in Amerika gaan kuier. Haar groot verwagtinge realiseer uiteindelik in die vorm van ’n modelkontrak in New York, maar Iris besluit eerder ten gunste van ’n alledaagse bestaan saam met Peter. Daar kom ook verskeie subintriges of ondergeskikte storielyne in Die kwartvoor-sewe-lelie voor. So ontwikkel die storielyn rondom die perfekte Elsa wie se lewe altyd so ordelik verloop, totdat die koms van ’n drieling lei tot ’n onordelike maar meer spontane lewenswyse. Die storielyn rondom Kara wat aanvanklik ’n non wou word, neem ook ’n interessante wending. Konflik kan uiterlik of innerlik van aard wees. Uiterlike konflik is tussen die hoofkarakter en ’n ander karakter of tussen die hoofkarakter en sy omgewing, die stelsel of gemeenskap. In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar so te sê geen uiterlike konflik nie. As mens nou regtig moet, sou jy ’n saak daarvoor kon uitmaak dat daar konflik tussen Iris en haar vryers, Riekie en Frederik, is, omdat sy sukkel om hulle op ’n afstand te hou. Daar is ook sprake van konflik tussen haar en Frederik oor sy huweliksaanbod, tussen
haar en Peter oor haar “obsessie” met haar blomoomblik en haar emosionele onbetrokkenheid, en tussen haar en Peter se pa oor die Engel. Innerlike konflik vind in die gemoed van die hoofkarakter plaas en is die spanning wat in ’n persoon geskep word deur die botsing (of toutrekkery) van begeertes, behoeftes, drange, vrese, onsekerheid, ensovoorts. Daar is sprake van innerlike konflik by Iris wat geskep word deur haar verwagting van die groot blomoomblik wat enige tyd kan aanbreek. Sy twyfel byvoorbeeld of sy die regte besluit in New York neem toe sy Peter bo die modelkontrak kies. Selfs op haar troudag twyfel sy of Peter die regte man vir haar is. Sy ervaar ook innerlike konflik wanneer haar fantasiewêreld met die werklikheid oorvleuel; soms is die werklikheid baie beter, soms nie. Die tema is die sentrale idee of hoofgedagte van ’n teks. Die boodskap is meer spesifiek en dui op ’n oordrag of mededeling aan die leser. Die tema van Die kwart-voor-sewe-lelie is die mens se hunkering na die groot oomblik in sy lewe, met die gevaar wat bestaan dat die wonder van die huidige oomblik dikwels by hom verbygaan. Die boodskap hiervan gaan van leser tot leser verskil, maar sê basies dat jy nie so na die groot oomblik in jou lewe moet hunker, dat jy die lekker van die hiér en nóú mis nie. Ruimte staan ook soms bekend as agtergrond of milieu. Ruimte behels al die plekke waar die gebeure afspeel, die karakters hulle bevind, sowel as plekke wat tydens terugflitse, herinnerings, vooruitskouings en verbeeldingsvlugte genoem word. Die ruimtes in Die kwart-voor-sewe-lelie is Iris se ouerhuis (waar die grootste gedeelte van die roman afspeel), Frankryk, New York en Vermont. Mens sou verwag dat die vreemde ’n meer romantiese ruimte sou wees, maar dit word juis as die teenoorgestelde uitgebeeld terwyl die gewone voorstedelike bestaan later geromantiseer word. Ruimte is nie in alle verhale ewe belangrik nie. In Die kwart-voor-sewe-lelie speel dit ’n mindere rol in vergelyking met ’n roman soos Kringe in ’n bos waar ruimte voorop staan. Ruimte het gewoonlik ook vier belangrike funksies waarvan hoogstens twee in Die kwart-voor-sewe-lelie voorkom. Daar is sprake van die ruimte wat, eerstens, karakterisend werk en, tweedens, atmosfeer en stemming skep. Dit kan veral in Vermont gesien word waar die karakters negatief deur die ruimte beïnvloed word (vgl.
Betty se depressie). Die swaar sneeulandskap skep definititief ’n swaar stemming of atmosfeer. Die wisselwerking tussen ruimte en karakter is belangrik. Hoe sterker die karakter se belewing van ruimte en tyd, hoe ronder die karakter. Hoe minder die belewing van ruimte en tyd, hoe platter die karakter. Iris kan as ’n ronde karakter beskou word. Sy het ’n redelik intense tydruimtelike belewenis. (Vgl. bv. haar reaksie op die blomme in haar ma se tuin en haar verhouding met die engel.) Iris is ’n karakter wat foute maak, maar daaruit leer en insig in situasies verkry. Sy is ’n fyn waarnemer van die menseverhoudinge rondom haar en leer gereeld daaruit. Sy ontwikkel die heeltyd as karakter. So kom sy tot die insig dat die realiteit van ’n geroetineerde of voorstedelike bestaan net so magies soos die beste fantasie kan wees. Onder tydsverloop verstaan ons vertelde tyd en verteltyd. Die vertelde tyd is die tydperk waaroor die verhaal strek en sluit nie terugverwysings in nie. Die vertelde tyd in Die kwart-voor-sewe-lelie is ongeveer vier jaar. Verteltyd kan beskryf word in terme van die aantal bladsye of woorde wat die verhaal beslaan. Die kwart-voor-sewe-lelie se verteltyd beslaan 211 bladsye in die gedrukte uitgawe van die boek. In Die kwart-voor-sewe-lelie is die hoogtepunt of klimaks van die roman in New York toe die fotograaf Joe vir Iris “ontdek”, hy van haar foto’s neem en ’n agentskap vir haar ’n modelleerkontrak aanbied – die kans van ’n leeftyd, haar moontlike blomoomblik. Tydens die afloop gaan Iris saam met Peter Vermont toe, breek sy haar enkel en keer terug Suid-Afrika toe. Hulle trou uiteindelik.
Moontlike vrae
(LW: Alle bladsynommers in die leesgids verwys na die bladsye in die gedrukte uitgawe van die boek.)
1. Kort vrae
Wenk: Skryf elke belangrike karakter se naam groot boaan ’n bladsy. Skryf daarna, soos jy lees, al die relevante dinge oor die karakter puntsgewys onder mekaar neer. Dit hoef dus nie in volsinne te wees nie, maar dit sal help as jy belangrike woorde of uitdrukkings uit die verhaal aanhaal.
1.1 Hoe het Pa spottenderwys Iris se naam verduidelik? 1.2 Watter ander grappe is oor haar naam gemaak? 1.3 Watter betekenis van haar naam het sy tydens puberteit ontdek? Hoe het dit haar laat voel? 1.4 Watter ontdekking omtrent haar naam het haar met nuwe oë na haarself laat kyk? Hoe aktiveer dit haar verbeeldingswêreld? 1.5 Som Ma in een woord op nadat jy pp. 11-13 gelees het.
Wenk: Trek die volgende diagram groot in julle werkboeke: twee sirkels wat oorvleuel. Noem die linkerkantse sirkel Elsa, die regterkantse een Kara
en die oorvleueling Iris. Skryf nou eienskappe wat by elke karakter pas in die betrokke ruimtes uit die volgende sin: “Elsa was die ernstigste van ons drie, Kara die diepsinnigste en ek êrens in die middel” (p. 15). Kleur jou diagram in volgens die susters se onderskeie kleurskakerings op p. 15. Vul jou diagram in soos jy verder lees en die drie susters se verskille en ooreenkomste openbaar word. (So ’n visuele voorstelling help mens soveel makliker onthou en kan met vrug vir die ander karakters aangewend word.)
1.6 Ontleed die volgende stelling van Iris: “Uit die aard van die saak was ek dus ’n alleenloper en, soos Polder, iemand wat op oorskietkos geleef het” (p. 14). 1.7 Het Elsa se sproete as aansporing of afskrikmiddel by die kêrels gedien? Verduidelik. 1.8 Evalueer Ma se houding teenoor haar dogters se verhoudings met die teenoorgestelde geslag na aanleiding van die volgende stelling: Ma se reaksie op Elsa se kêrel wat haar sproete tel, is “besadig”. 1.9 Waarin, dink jy, het die groot bekoring vir Kara gelê om ’n non te word? 1.10 Waarin soek elk van die drie susters ontvlugting van hul ma se warhoofdigheid? 1.11 Hoe het Iris oor Kara se droom om ’n non te word, gevoel? 1.12 Hoe romantiseer Iris vir Riekie? 1.13 Bespreek die ironie wat voorkom rondom Iris wat haar ma probeer kry om haar te verbied om Riekie te sien. 1.14 Die skrywer ironiseer op p. 19 die hedendaagse hiperbewustheid met VIGS as ’n sosiale kwessie. Bespreek. 1.15 Hoe kontrasteer Iris se verbeeldingsvlug met die realiteit tydens Elsa se troue? 1.16 Wat word Iris se verbeeldingsvlugte deur Elsa genoem?
1.17 Sou jy die volgende stylfiguur as geslaag beskou: “. . . hoe haar rooi hare knetter en glans asof elke haar deur ’n elektriese transformator opgewek is”? 1.18 Lees p. 24 en bespreek Johanna as die niestereotiepe huishulp. 1.19 Ontleed die dinamika tussen die drie susters wanneer daar iets belangriks met een van hulle gebeur. 1.20 Hoe druis Elsa se swangerskap teen haar persoonlikheid in? 1.21 Ontleed hoekom die nuus wat Iris tydens haar finale jaar ontvang vernietigend vir haar eksistensiële krisis is. 1.22 Som die uitgebreide verbeeldingsvlug op wat Elsa se swangerskap by Iris veroorsaak. 1.23 Watter twee groot gebeurtenisse “kompliseer “ Iris se verbeeldingsvlug? 1.24 “Dit was altyd dieselfde ou storie. Ek was te jonk. Ek kon nog nie saampraat nie.” (p. 34) Dink jy Iris was te jonk om saam te praat? Gee jou mening. 1.25 Verduidelik die volgende stelling: Alles wat Iris gedoen het, was mosterd na die maal vir haar ouers. 1.26 Waarmee imponeer Peter dadelik vir Iris tydens hul kennismaking? 1.27 Wat gebeur met Iris se fantasieë tydens haar besoek aan Peter se woonstel? 1.28 Evalueer Johanna se bydrae tot die huishouding (lees p. 37). 1.29 Wat lei jy af uit die manier waarop Ma vir Johanna help om die owerheid t.o.v. ’n pas te ontduik? 1.30 Evalueer Iris se besluit om vir die tandarts, dokter Anders, te gaan werk. 1.31 Watter betekenis heg Iris aan dr. Anders se naam? 1.32 Analiseer die gebrekkige kommunikasie tussen Iris en Peter tydens sy eerste besoek aan Iris-hulle se huis.
1.33 Met hul ontmoeting lyk dit asof Ma ’n verhouding met Peter aanmoedig. Waaruit blyk dit? 1.34 As hy haar vra of daar ’n man is wat sal omgee indien sy vir hom in Amerika gaan kuier, verstaan sy hom weer verkeerd (p. 61). Hoe antwoord sy hom? 1.35 “Waarom, waarom het jy daardie aand saam met my gegaan?” Hoe beantwoord Iris Peter se vraag? 1.36 “En ek is deel van so ’n versinsel?” (p. 62). Hoekom, reken Peter, het Iris vir hom geval? 1.37 Hoekom was dr. Anders bly toe Peter se vakansie verby was? 1.38 Was die Engel vroulik of manlik? 1.39 Wanneer verskyn die Engel vir die eerste keer aan Ouma? 1.40 Wat is die mooiste gebed wat Iris nog ooit gehoor het? 1.41 Evalueer die volgende vraag van Johanna: “Sal ek nou vir die klong koffie in die bed moet aandra?” (p. 70). 1.42 “Kara ken twee woorde Frans en hy drie woorde Engels.” (p. 72). Ten spyte van alle taal-, ras- en ander kultuurverskille werk die verhouding tussen Kara en Claude uitstekend. Bespreek. 1.43 Ontleed Ma se unieke manier om misdadigers te hanteer (p. 71). 1.44 Hoekom was daar twyfel of Iris dieselfde engel as Ouma gehad het? 1.45 Hoekom kan aanvaar word dat Peter se ma Iris se besoek aan haar seun goedgekeur het? 1.46 Hoe troef Iris vir Elsa wanneer Elsa sê dat mens nie agter ’n man aanloop nie? 1.47 Watter twee susters vlieg agter mans aan en wie is die uitsondering? 1.48 Wie is Johanna se gunsteling(e) onder die susters?
1.49 “Ek moes alles sluk wat ek van Elsa gesê het” (p. 90). Wat het Kara alles tydens Elsa se swangerskap gesê? 1.50 Wat het die familie Iris afgevaardig om te doen met haar besoek aan Kara en Claude? 1.51 Neem Iris die Fransman wat haar wil afneem, ernstig op? Verduidelik. 1.52 Ironie t.o.v. die kleurkwessie word treffend gebruik wanneer Iris in New York met ’n taxibestuurder praat. Bespreek. 1.53 Dit blyk ook uit Joe en die tweede taxibestuurder se reaksie dat SuidAfrikaners nie baie gewild oorsee is nie. Hoekom, dink jy? 1.54 Iris se woorde aan Billy op p. 104 is die sleutel tot die tema van die roman. Haal dit aan en formuleer dan die tema van Die kwart-voor-sewe-lelie. 1.55 Die hotelpersoneel was allesbehalwe hulpvaardig. Verduidelik. 1.56 “Kan tog nie wees nie,” het hy gesê. “Die stad is logies uitgelê, die strate is genommer. As jy kan tel, kan jy regkom.” (p. 108). Watter stylfiguur kom hier voor? 1.57 Hoekom het Iris se verbeeldingsvlugte weer oorgeneem in New York nadat sy lank laas gefantaseer het? 1.58 Wat in die vrou in die koffiewinkel/deli se storie spreek tot Iris? Hoekom? 1.59 Hoekom het Iris getwyfel of sy vir Peter wou sien toe hy haar in haar hotelkamer in New York bel? 1.60 Watter beloftes maak Joe alles aan Iris? 1.61 Hoe uitoorlê die vuurhoutjiedosieversamelaar vir Iris? 1.62 Bespreek die lui van die telefoon as ’n deus ex machina tussen Peter en Iris. 1.63 Hoekom is sowel Iris as Peter ontsteld oor die kabelgram wat sy ontvang? 1.64 Wat is Iris se besware om Peter se hand vas te hou of by hom in te haak?
1.65 Hoe uitoorlê Peter die skelm wat by die Dag Hammerskjöldgebou wil inbreek? 1.66 Wat is die agentskap se uitspraak oor Iris as voornemende model? 1.67 Watter advies gee die Engel haar oor ’n toekoms in die modewêreld? 1.68 Watter advies gee Peter haar? 1.69 Watter besluit neem sy uiteindelik? Hoekom? 1.70 Dink jy dit was die begin van groot dinge vir haar, haar groot blomoomblik? Hoe visualiseer jy haar toekoms verder indien sy Joe se aanbod aanvaar het? Het sy verkeerd besluit deur liefde bo haar drome te kies? 1.71 Benoem die volgende stylfigure en bespreek elk se funksionaliteit: 1.71.1 “Peter se gehuurde motor het gehyg en gesluk . . .” (p. 134). 1.71.2 “Die huis . . . het gehurk onder ’n lading sneeu . . .” (p. 134). 1.71.3 “Ek het met meer ontsag na die spelende kinders gekyk. Twee tikkende bomme op die mat” (p. 139). (2 stylfigure) 1.71.4 “In vergelyking met Bettie was my lewe ’n psalm en hare ’n dissonante gemors” (p. 150). 1.71.5 “Die enjin het sangerig geneul vir ’n sekonde of twee en toe weer ‘klieks’ gemaak” (p. 166). (2 stylfigure) 1.72 ’n Houthuis in die sneeu is altyd romanties, maar Peter en Iris se kennismaking met Brian se huis is allesbehalwe romanties. Verduidelik.
Wenk: Op p. 135 ontmoet die leser vier nuwe karakters. Skryf elkeen se naam boaan ’n skoon vel papier en skryf alle woorde wat hulle beskryf, daaronder neer. Bv. “jolig” en “hartlik” by Brian en “brutaal” by die seuntjie, Junior.
1.73 Hoekom wou Iris ’n privaat gesprek buite met die Engel hê? 1.74 Sou jy sê dat Bettie ’n gewone beroep beklee? Motiveer jou antwoord. 1.75 Hoe manipuleer die twee kinders vir Brian? Hoekom is hulle suksesvol? 1.76 Wat was Bettie se reaksie toe sy van die modelleerkontrak hoor wat Iris nie aanvaar het nie? 1.77 Hoe slaag Iris uiteindelik daarin om Bettie uit haar depressiewe toestand te kry en selfs te laat lag? 1.78 Wat dink Iris was Bettie se “moment van volmaakte sintese” (p. 140)? 1.79 Wat is Brian en sy buurman se oomblik van glorie of blomoomblik? 1.80 Waarvan maak Iris ’n notatjie as sy Peter saam met Brian se kinders sien? 1.81 Bettie se gifdrinkery word deeglik voorberei deurdat daar drie keer vooraf verwys word na gif. Bespreek. 1.82 Watter insig gee die Engel vir Iris i.v.m. Bettie se gifdrinkery? 1.83 Watter stylfiguur is die volgende: Volgens Ouma het die Engel “haar aangeraai om haar onheiligheid met Oupa te staak” (p. 178)? 1.84 Assesseer Johanna se geloof aan alternatiewe medisyne. 1.85 Watter ander twee beroepe geval Iris ook? Hoekom, dink jy? 1.86 Evalueer die ironisering van die sosiale konvensie dat moeders hulle dogters leer handwerk doen en klavier speel (p. 185). 1.87 Wat sou Iris eendag met al die irisse in haar tuin doen as sy met Peter sou trou? Hoekom? 1.88 Wat bring ’n einde aan die ordelikheid van Elsa se lewe? 1.89 Hoe raak Iris weer eens die buitestander toe Kara kom kuier met Michel?
1.90 “Hannes en sy beheptheid met sproete was maar die aanloop tot veel groter konflik”. Hoe word hierdie vroeëre uitspraak (p. 16) nou bewaarheid? 1.91 Hoekom verwyt Iris die Engel vir Elsa se ongelukkigheid? 1.92 Paar die studierigting in kolom B af met die naam in kolom A. Skryf elke keer die volledige antwoord neer.
Kolom A
Kolom B
Peter
Kunsgeskiedenis
Frederik
Letterkunde
Jonsie
Ingenieurswese
Claude
Houtwerk
Iris
Tandheelkunde
Elsa
Onderwys
1.93 Hoekom vertrou Peter se pa nie vir Iris naby sy voëls nie? 1.94 Hoe dink Peter se pa kan Iris behulpsaam wees met die een wyfie wat haar eiers uit die nes gooi? 1.95 Hoekom beskou Merel vir Peter as ’n chauvinistiese vark? 1.96 Wat was die wesentlike verskil tussen Merel en Iris? Bespreek. 1.97 Verwag jy dat Merel en Elsa goed oor die weg sal kom? Motiveer jou antwoord. 1.98 Iris was allesbehalwe die prentjiemooi bruid op ’n idilliese troudag met ’n romantiese wittebrood daarna. Bespreek. 1.99 Hoekom wil Iris alleen wees wanneer sy haar trourok gaan uittrek? 1.100 Merel het nooit opgehou om bedenkinge oor Peter te hê nie. Gee ’n voorbeeld. 1.101 Wie blameer Iris vir Peter se ongeluk? Hoekom? 1.102 Hoekom het Ma besluit om plaas toe te trek? 1.103 Ontleed die slottoneel (p. 220).
Lees weer
Ma
•Ma word die eerste keer in die volgende sin beskryf: “Voor haar op die werkblad het ’n skaapboud gelê en sy was verstrooid besig om deur die speseryrak te soek na die soutsubstituut” (p. 11).
•Ma was glad nie die stereotiepe moeder nie. •Op die plaas sluit Ma aan by ’n groep wat hulself Die Spieël noem – ’n groep wat glo in reïnkarnasie en spiritualisme en met voorvadergeeste praat. “Ma vind dit baie stimulerend en wie is ek om te kritiseer?” (p. 219). Dink jy ons behoort mense wat hulle besig hou met ander kennissisteme as ons s’n te kritiseer? Bespreek.
Die drie susters
•Iris is ietwat van ’n laatlammetjie, ses jaar jonger as Kara, terwyl die ander twee susters slegs twee jaar verskil. “Ek het dikwels soos Aspoestertjie gevoel behalwe dat my susters nóg stief nóg lelik was” (p. 14). •Iris se mening is nooit as belangrik beskou nie omdat sy die jongste was. Wie van julle is laatlammetjies? Kan julle met Iris se ervaring identifiseer? •Kinders word dikwels op skool geterg oor fisieke eienskappe soos sproete, ’n bossiekop, gewig, lengte, terwyl die lelike eendjie later in ’n mooi swaan verander en dit juis hierdie eienskappe is wat die individu van die res onderskei. Elsa se sproete is ’n goeie voorbeeld. •Elke keer wanneer Iris haar ouers se aandag nodig het, kry sy slegs sekondêre aandag omdat iets belangriks met een van haar susters gebeur. “Dit klink miskien in hierdie stadium asof ek deur my susters geleef het, of in reaksie teen hulle, maar dit was nie die geval nie” (p. 25). Hoekom klink dit asof Iris deur haar susters geleef het? Bespreek.
Johanna
•Johanna word van die begin af nie as die stereotiepe huishulp uitgebeeld nie •(p. 24). (Sy word o.a. ’n “kitchen oracle” genoem in die resensie van die roman in die Cape Times van 11/2/1989.) Hoekom moet mens nooit ander mense stereotipeer nie? •Johanna verkies dat hulle haar naam uitspreek as “Djou-henne” (p. 87). •“Ek het self twee ma’s gehad as ’n mens Johanna bytel . . .” (p. 150). Hoekom, dink jy, het Johanna so vinnig onmisbaar in hul huishouding geword? •“Sal ek nou vir die klong koffie in die bed moet aandra?” (p. 70). Sy skryf aan Iris dat sy moet lig loop vir die negers “omdat hulle nie soos ons is nie” (p. 114). Wat lei jy hieruit af? •Johanna het definitiewe idees oor haar woonplek. Hoe manipuleer sy vir Pa en die bouinspekteur om presies te kry wat sy wil hê? (p. 116). •Johanna het geglo aan alternatiewe medisyne. (Lees p. 180.) Trek jy jou neus op vir alternatiewe medisyne of weet jy ook van ’n paar rate wat goed werk?
Peter en Iris
•Peter en Iris ontmoet by ’n partytjie en sien mekaar dan weer drie weke daarna wanneer hy vir haar by haar ouerhuis kom kuier. Die derde keer dat hy haar sien, is wanneer hy in Amerika studeer en vir haar kom kuier tydens sy vakansie in Suid-Afrika. Tydens elkeen van hierdie geleenthede verkeer hulle intiem. •“Ek het Peter bykans twee jaar nie gesien nie; die aand toe ek opgestaan het en hom na sy woonstel gevolg het, was in ’n verre verlede wat nie so maklik meer herroepbaar was nie. Die jare tussenin, gespikkel met poskaarte, was lank en vol ervarings en foute en belaglikhede wat ons nie met mekaar gedeel het nie. Hier het ek in ’n hotelkamer gesit – wagtend op ’n geliefde wat heel moontlik minder
bekend gaan wees as Billy die taxibestuurder” (pp. 110–111). •Peter en Iris sukkel om te kommunikeer. Hy verstaan nooit presies wat sy bedoel nie. Op p. 45 sê hy: “Iris, ek verstaan jou wragtig nie.” •“Ons troue was ’n verlore saak van die begin af” (p. 206). Peter en Iris wou stil trou en rustig voortgaan met hul lewe, maar hul ma’s het anders besluit en vir hulle ’n tradisionele troue gereël.
Kara en Claude
•“’Dit kan nooit werk nie,’ het Elsa verklaar. ‘Die kultuurverskil is te groot.’” (p. 72). •“Nie almal in die familie was so kleurblind soos Ma en Pa nie” (p. 79). “Ek wil hierdie hele gebou vul met babas. Elke kleur van die reënboog” (p. 90). “Ma en Pa sou hulle vooropgesette idees oor multikleurige kleinkinders moes hersien en saam met Kara die moontlike misnoeë van vriende, familie en owerhede die hoof bied” (p. 182). Die pad vorentoe sou nie maklik wees vir Kara en Claude en hul reënboogkinders nie, veral nie as hulle in Suid-Afrika kom kuier nie. Bespreek.
Iris se groot blomoomblik
•Iris se woorde aan die taxibestuurder, Billy, op p. 104 is die sleutel tot die hele roman. Sy leef haar hele lewe in afwagting op haar groot blomoomblik. “Elke mens moet een keer in sy lewe die regte ding op die regte tyd doen en só ’n moment van volmaakte sintese beleef” (p. 140).
•Dit raak ’n lewensfilosofie by haar. “Dis nie net die naam nie, dis my lewensfilosofie” (p. 132). Wat is Iris se lewensfilosofie? Hoe wankel haar lewensfilosofie later met Junior se onskuldige opmerking dat sy ma se irisse ook in die herfs blom (p. 148)? •Billy antwoord: “Dis alles goed en wel dat jy wil blom, maar gestel die man spit jou uit? Dit kan ook gebeur. Nie alle bolle kom tot bloei nie” (p. 105). Na watter man verwys Billy? Hoe kan sy uitgespit word? Die Engel sê: “Party mense blom ongesiens, . . . So onverwags dat niemand dit eers opmerk nie” (p. 195). Is Iris een van die bolle wat nooit tot bloei kom nie of blom sy ongesiens? Wat dink jy? •Reeds in Frankryk is daar ’n Fransman wat Iris se potensiaal as model raaksien en haar wil afneem (p. 92). “Jy het daardie soort gesig” (p. 93). Kara kyk nou met nuwe oë na haar suster en sien ook die modelpotensiaal raak. Iris het in haar wildste drome nooit aan haarself as ’n model gedink nie en reken dat sy “’n doodgewone boeregesig” het. Kara kan egter sien dat sy ’n buitengewone gesig het: “By die huis, ja, maar hier soek hulle na iets anders” (p. 93). •“Jy’t ’n interessante gesig. Ons kan iets daarvan maak” (p. 100). Joe is ’n fotograaf wat waarskynlik nuwe talent uitsnuffel en hy sien dadelik Iris se potensiaal raak. Joe sê: “Elke fotograaf droom van so ’n ontdekking” (p. 119). Dit is betekenisvol dat Iris in Frankryk en New York, beide bekend as modemekkas, raakgesien is. Dit wil dus lyk asof sy werklik potensiaal het. •Tydens die slottoneel in die roman sit Iris en Johanna en wag vir die verskyning van die kwart-voor-sewe-lelie. Die Engel is ook êrens in die tuin en Polder is saam met hulle. Dit blyk ’n gereelde verskynsel te wees – die groepie wat wag op die lelie om te blom. Die implikasie is dat Iris tot die besef gekom het dat ’n mens se hele lewe ’n blomtydperk kan wees; dit word nie net beperk tot ’n magiese oomblik nie. Die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan kan net so magies wees soos die beste fantasie.
Vermont
•In Vermont is die houthuise blou en wit en rooi en daar is selfs houtkerke. ’n Houthuis in die sneeu behoort romanties te wees, maar dit is nie. Let op hoe die romanse tussen Peter en Iris met die beskrywing van die huis en die gebeure tydens die vakansie gedemp word. •Eleanor Baker sê: “Geography is destiny” (Fourie 1995). Alhoewel iemand soos Brian joviaal voorkom, leef hy nes die ander drie karakters na binne – tipies van ’n gebied waar dit soveel maande van die jaar sneeu en die mense binnenshuis is.
Peter se familie
•Peter se pa is baie wantrouig teenoor Iris toe hy van haar beskermengel hoor. Hy vertel vir Jonsie dat sy kan goël of met geeste praat (p. 203). •Merel, Jonsie se vrou, het ’n voëlnaam. ’n Merel of “blackbird” is swart met ’n geel bek. Jonsie deel dus sy broer se voorliefde vir vroue met name uit die natuur (p. 203).
2. Kontekstuele vrae
2.1 Lees p. 9 (vanaf “Niemand het nog ooit regtig na my geluister nie.”) en die eerste vier reëls op p. 10. Beantwoord nou die volgende vrae: 2.1.1 Watter soort verteller is hier aan die woord? Bespreek die funksionaliteit van hierdie soort vertelling binne Die kwart-voor-sewe-lelie en die aangehaalde gedeelte. 2.1.2 Hoekom, dink jy, kan die hoofkarakter voel dat haar geboorte nie ’n belangrike gebeurtenis was nie?
2.1.3 “Niemand het nog ooit regtig na my geluister nie.” Watter afleidings maak jy dadelik omtrent die hoofkarakter? 2.1.4 Hoe word jou afleidings in 2.1.3 later bevestig deur Iris se susters se reaksie op die nuwe baba? 2.1.5 “Dit was volmaan . . .”. Watter sinistere aktiwiteite en idioom assosieer jy met ’n volmaan en hoe bring jy dit met die hoofkarakter, Iris, in verband? 2.1.6 “Omdat Pa nie gerook het nie, kon hy nie soos ’n karakter in ’n strokiesprent in die wagkamer op en af loop en die asbak stadig maar seker met stompies vul nie.” Watter stylfiguur kom hier voor en hoekom is dit funksioneel? 2.1.7 Bespreek Pa se afwesigheid by die geboorte as ’n ironisering van politiek korrekte sosiale konvensies. 2.1.8 Bespreek die volgende stelling: Hier word ook die draak gesteek met die hedendaagse groot klem op omgewingsvriendelikheid. 2.1.9 “Dié keer is dit ’n donker enetjie”. Ontleed die verskillende betekenisse van “donker “ soos dit hier gebruik word.
2.2 Lees die gedeelte wat begin op p. 11 (vanaf “Voor haar op die werkblad . . .”), asook bladsye 12 en 13. 2.2.1 “Voor haar op die werkblad het ’n skaapboud gelê en sy was verstrooid besig om deur die speseryrak te soek na die soutsubstituut.” (a) Watter woord in bg. sin beskryf Ma? (b) Waag ’n voorspelling omtrent Ma se kookvernuf uit bg. sin. 2.2.2 “Sy was verlig, soos sy altyd gelyk het as die aand se kos aan die gaar word was” (p. 12). Wat lei jy hieruit af? 2.2.3 Watter stylfiguur is die volgende en hoekom is dit funksioneel? “Sy het die skerp mes uit die laai gehaal, sy lem al hol van die slyp sodat hy na ’n sekel
gelyk het.” 2.2.4 Met watter twee gemengde gevoelens het Ma altyd huishoudelike take aangepak? 2.2.5 Evalueer die volgende uitspraak op p. 12: “Ek en my susters moes versigtig grootmaak aan ons ma”. 2.2.6 Met wie word Ma op p. 13 vergelyk? Hoekom is dit so ’n gepaste vergelyking? 2.2.7 Wat beteken Iris se naam volgens die aangehaalde gedeelte? 2.2.8 Waaruit kan jy aflei dat Ma, soos altyd, met ’n halwe oor na Iris se interessante mededeling oor haar naam geluister het?
2.3 Lees vanaf onderaan p. 96 (“Peter was nie in die portaal nie . . .”) tot in die middel van p. 99. 2.3.1 Hoekom was Peter nie daar met haar aankoms nie? 2.3.2 Vergelyk Iris se aankoms by die hotel met die herontmoeting wat sy haar voorgestel het. 2.3.3 Haal ’n woord uit die stuk aan om haar gemoedstoestand te beskryf. 2.3.4 Watter rol speel die ruimte (in die aangehaalde gedeelte)? 2.3.5 Gee ’n sinoniem vir “stug” (p. 96). 2.3.6 Hoe tree Iris later pure Pollyanna op teenoor die norse hotelklerk? 2.3.7 Watter stylfigure is die volgende? (a) “Ek was omring van verligte stalagmiete waarvan die hoogste, skerp punte in die wolke verdwyn het” (p. 98). (b) “Dit was soos ’n kraalmuur om my relatief lae hotel” (p. 98).
(c) “Ek het my naam genoem en sy aangebode hand geskud. (Stel moordenaars hulle so formeel aan hul slagoffers voor?)” (p. 99). 2.3.8 Hoe gryp die Engel in tydens haar ontmoeting met Joe?
3. Opstelvrae
3.1 Soos Iris ouer raak, ontdek sy telkens ’n nuwe betekeniskomponent van haar naam totdat sy haar later vereenselwig met die kwart-voor-sewe-lelie in hul tuin. Haar beheptheid met haar naam en die kwart-voor-sewe-lelie speel ’n groot rol in haar lewe. Bespreek. 3.2 Hoe word die volgende karakters as niestereotiep uitgebeeld? (a) die hoofkarakter, Iris, (b) Ma en (c) Johanna. 3.3 Hoe word die liefdesverhaal as genre geïroniseer in Die kwart-voor-sewelelie? 3.4 Ontleed die rol wat die Engel in Iris se lewe speel. Verwys in jou antwoord na die volgende en skryf ’n paragraaf oor elk:
•Die Engel se belangrikste funksie in Iris se lewe en haar daaglikse omgang met hom (inleidende paragraaf); •Hoe sy aan die Engel gekom het; •Die belangrike posisie wat die Engel in haar lewe beklee; •Die Engel se primêre bystand aan Iris;
•Die Engel dans nie altyd na Iris se pype nie; •Die Engel se seksvoorligting deur die jare; •Die Engel se kommentaar op Iris se gesprekke; •Iris is soms bitter ontevrede met die Engel; •Die Engel bly deel van Iris se lewe (slotparagraaf).
3.5 Lug jou mening oor die mate waarin Iris se fantasiewêreld die realiteit oorheers. Verwys na die volgende:
•Fantasiewêreld vs. realiteit by Iris; •Elsa se huwelik en swangerskap; •Riekie, Frederik en Peter; •Iris se beroepskeuse; •’n Opsomming van jou mening (slotparagraaf).
Moontlike antwoorde
1. Kort vrae
1.1 Sy was perserig by geboorte en haar arms en bene het oor die verpleegster s’n geflap (wat herinner aan “flappe”, ’n ander naam vir irisse). 1.2 “Iets knaag weer vandag aan Iris se bol” en grappe oor flappe. 1.3 Iris as ’n gedeelte van die oog. Sy het goed oor haarself gevoel, selfs meerderwaardig. Sy sien haarself as diepsinnig en skerpsinnig. 1.4 Toe sy in ’n woordeboek lees dat Iris in die Griekse mitologie die godin in diens van hoëre gode was. In haar verbeeldingswêreld sien sy haarself as ’n Griekse godin besig om nektar aan te dra vir ’n romantiese held. 1.5 Verstrooid. 1.6 Sy het haar susters se ou klere en speelgoed gekry. Sy het “oorskietaandag” van haar ma gekry. 1.7 Aansporing. Hannes het dit gebruik om intimiteit te verkry deurdat hy dit getel het. 1.8 Sy reageer bedaard. Sy het ’n verligte houding en maak haar dogters nie so konserwatief groot soos ander Afrikanermoeders nie. 1.9 Katedrale, loodglasvensters, perkamente van Middeleeuse ridders en heiliges en die mistiek rondom die Heilige Mis, wierook en gesnede beelde. 1.10 Kara – haar Middeleeuse kuns; Elsa – hiperpraktiese en Iris – fantasieë.
1.11 Sy was jaloers. Dit was presies die soort ding wat sy sou wou gedoen het. Sy was ontevrede met haar lewe en wou iets heel anders en interessants doen. 1.12 Sy verander sy naam na Rigardt; sy borselkop na golwende donker hare en sy praktiese, stomp hande na sensitiewes met lang vingers. 1.13 Iris wil hê dat Ma haar moet verbied om Riekie te sien, maar Ma sê dat Riekie ’n gawe seun is en vra of Iris akademies sukkel. Dit is ironies, want gewoonlik is ma’s bekommerd dat kêrels die dogters se studie sal beïnvloed en sal hulle graag aanmoedig om die kêrels te los. Ma toon die teenoorgestelde reaksie, want sy is eintlik besig om te worstel met ’n groter probleem – Kara wat ’n non wil word. 1.14 Daar is deesdae ’n hiperbewustheid met VIGS as ’n sosiale kwessie. Die verteller wens dat VIGS al in haar tyd bestaan het sodat sy dit as ’n verskoning teen Riekie se vatterigheid kon gebruik. Sy reken dat dit makliker sou wees as om sy attensies met haar ordentlikheid te beveg. 1.15 Iris verbeel haar ’n romantiese (uitlandse) strooijonker wat ná die troue in Suid-Afrika aanbly terwyl sy vir hom die land wys en hulle ’n paar nagte van ie deurbring. Die realiteit is dat die onromantiese Riekie die strooijonker is en dat niks aan Iris se hoë romantiese verwagtinge voldoen nie: die toesprake, Elsa wat weglê aan die kos, Elsa se voorstedelike stel onderklere en Elsa wat beplan om vroeg te gaan slaap. 1.16 “romantiese drogbeelde” 1.17 Voorbeeld van klanknabootsing. Die beeld laat haar rooi hare lewe en roep die hitte en kleur van ’n vuur op. 1.18 Johanna is smaakvoller aangetrek vir Elsa se troue as die meeste van hulle tantes. Sy praat streng met die aanstaande bruid. Sy is minagtend teenoor die gebruik van “Kleinmies” wanneer huishulpe die kinders in die huis aanspreek. 1.19 Wanneer iets belangriks met Iris gebeur, steel een van die ander twee susters altyd die kalklig. Toe Iris die krisis met Riekie beleef, fokus Kara die aandag op haar deurdat sy ’n non wou raak. Toe Iris deur ’n eksistensiële krisis gaan, steel Elsa weer die kollig deurdat sy swanger raak. 1.20 Dit was onbeplan en onvoorsien, terwyl Elsa alles in haar lewe so deeglik
beplan. 1.21 Sy verneem met ’n skok dat haar geboorte ’n glipsie was. Dit is nie nuus wat ’n mens wil hoor wanneer jy worstel met bestaanskwessies nie. 1.22 Die heldin in Iris se verbeeldingsvlug, Greta, laat een aand ’n goeie vriend maar rokjagter, Peter, sy hart oor ’n meisie uitpraat. Die een ding lei tot die volgende, nege maande later is sy swanger, Peter sterf in ’n motorongeluk en sy ouer broer, Eduard, besluit teen sy sin om haar op te soek. Terwyl hy haar een aand besoek, moet hy haar inderhaas hospitaal toe neem waar sy die lewe skenk aan ’n seun. 1.23 Elsa kraam en Iris ontmoet ’n niefiktiewe Peter. 1.24 Eie mening. 1.25 Alles wat Iris beleef het, was ou nuus vir haar ouers omdat haar twee susters alreeds iets soortgelyks beleef het. As die sesjarige Iris bv. vir haar ma sê hul hondjie lyk soos ’n teddiebeer, sê Ma dat hy vir Elsa soos ’n tiertjie gelyk het. 1.26 Hy het nie net geweet dat haar naam na ’n Griekse godin verwys nie; hy kon haar nog verder inlig. Iris staan ook bekend as die Griekse godin van die reënboog en die iris as embleem is deur die eeue gebruik, o.m. as die fleur de lis op die Franse vlag. 1.27 Haar fantasieë verdwyn; dit word oorheers deur die werklikheid – Peter se reuk en die hare op sy liggaam. 1.28 Johanna lewer ’n onmisbare bydrae tot die huishouding: Sy leer Ma kook, sy leer die meisies hul eie hare vleg en sy sit al die sleutels bymekaar in ’n bak langs die voordeur. 1.29 Ma het die owerheid gefrustreer met haar vae antwoorde en opmerkings soos dat Johanna familie van haar is. Hieruit blyk duidelik Ma se liberale politieke denke; sy is allesbehalwe ’n rassis. 1.30 Alhoewel Iris ’n universiteitsgraad het, kies sy ’n eenvoudige werk. Haar primêre doel is ’n werk wat haar gedagtes nie van haar verbeeldingsvlugte kan wegneem nie.
1.31 Sy het gewonder in watter opsig hy anders was. 1.32 Iris vra twee vrae wat Peter heeltemal onkant betrap en tekenend is van die gebrek aan begrip tussen hulle. Sy vra: “Is jy ’n student?” en Peter dog sy het hom nie herken nie. Sy vra: “Bly jy in hierdie woonbuurt?” omdat sy nie gedink het dat hy hier is omdat hy vir haar kom kuier het nie. Hy wonder weer of haar ouers nie sou omgee as hy saameet nie. Sy verstaan sy vraag of haar ouers ook van die lemoenhoender hou. 1.33 Sy is sjarmant teenoor hom, wil graag hê hy en Iris moet alleen wees en moedig hulle aan om te gaan swem. 1.34 Sy sê dat haar Pa en dr. Anders nie sal omgee nie. 1.35 Hy het haar aanvanklik aan die karakter in haar verbeeldingsvlug laat dink, maar sy het toe later besef dat die realiteit beter as fantasie is. 1.36 Omdat hy haar aan een van die karakters in haar stories herinner. 1.37 Iris se konsentrasie en gedrag het verbeter en haar lang etensure het verkort. 1.38 Manlik. 1.39 Toe sy in die hospitaal was. 1.40 Toe haar ouma vir ’n wonderwerk bid – die terugkeer van die Engel. 1.41 Sy is rassisties ingestel. 1.42 Alhoewel Kara Afrikaans en Claude Frans praat, Kara wit en Claude swart is en Kara ’n Suid-Afrikaner en Claude ’n Fransman van Martinique is, oorbrug hulle liefde alle verskille en is hulle gelukkig. 1.43 Sy oorreed die dief om nie hulle platespeler te steel nie, aangesien dit sou ophou speel en haar dogters baie ontstel. Sy behandel hom ook met groot hoflikheid en sien hom af by die hekkie. 1.44 Ma het gedog die engel is vroulik en Iris se engel is manlik. 1.45 Sy kom groet haar voor sy vertrek en stuur beskuit, konfyt, asook die
jongste familienuus saam. 1.46 Sy sê dat sy nie agter hom aanloop nie, maar aanvlieg en dat Elsa die uitsondering is, aangesien dit die reël in hierdie gesin is om agter ’n man aan te vlieg. 1.47 Kara en Iris. Elsa is die uitsondering. 1.48 Kara en Iris. 1.49 Sy het gesê dat die hele geboorteproses vir haar grusaam was, dat Elsa se borste soos spanspekke gelyk het en dat sy nooit self ’n broeikas sal wees nie – sy sal eerder ’n surrogaatma kry. 1.50 Sy moes hulle pols of hulle gaan trou. 1.51 Verduidelik. Nee, as hy haar wil afneem, bied sy haar kamera aan. Sy dink dis ’n vakansiefoto en nie ’n modefoto nie. 1.52 Iris is bang dat die swart taxibestuurder sal agterkom dat sy ’n blanke SuidAfrikaner is; daarom praat sy min en probeer haar aksent wegsteek. Maar dan probeer sy hulpvaardig wees as hy nie dadelik weet waar Suid-Afrika is nie en sy antwoord: “Ons is die rassiste.” 1.53 Die roman speel af in die apartheidsjare, en gedurende daardie tyd was wit Suid-Afrikaners baie ongewild oorsee a.g.v. die destydse regering se beleid. 1.54 “Ek glo al sedert my skooldae dat ek, soos my botaniese naamgenoot, die een of ander tyd moet blom en dat ek dus te alle tye gereed moet wees en nooit ’n nuwe aanbod van die hand mag wys of ’n potensieel opwindende situasie onbenut mag laat nie.” Die mens se hunkering na die groot oomblik in sy lewe, maar hy moet versigtig wees dat die nóú en die hiér hom nie verbygaan nie. 1.55 Toe sy vir koffie vra, het die ontvangsklerk snedig gesê dat dit nie die Hilton is nie. Hy het nagelaat om haar in te lig dat daar koffie in haar kamer is. 1.56 Sarkasme. 1.57 Sy was alleen en skrikkerig op ’n vreemde plek.
1.58 Sy wou weet of die vrou lief was vir die man met wie sy moes trou. Die skepper van romantiese maaksels in haar het dit gevra. 1.59 Sy het so lank laas kontak gehad met hom (behalwe die poskaarte) en het nie geweet of sy nog lief is vir hom en hy vir haar nie. 1.60 Sy kan ’n fortuin maak en die gesig van die jaar word. 1.61 Hy bied aan om haar rekening te betaal en as sy aanbied om syne te betaal (omdat hy werkloos is), aanvaar hy dit en sy moet opdok vir sy toebroodjie en vele koppies koffie. 1.62 ’n Deus ex machina is ’n maklike, toevallige, ongemotiveerde oplossing vir ’n moeilike situasie. Tussen Peter en Iris is daar ’n sterk fisieke aantrekkingskrag, maar hulle ken mekaar nie goed nie en daar is geen emosionele band nie. Net voor Iris weer voor die fisieke versoeking swig, lui die telefoon en is die probleem tydelik opgelos. 1.63 Peter is kwaad omdat dit ’n huweliksaansoek van Frederik is. Iris is kwaad omdat sy aanvanklik gedink het dit is slegte nuus van die huis af. 1.64 As hulle hande vashou, lyk dit of hulle gekys is. As hulle ingehaak loop, lyk dit of hulle getroud is. 1.65 Peter begin met hom Sesotho praat toe die man voorgee hy is van SuidAfrika af. 1.66 Hulle reken haar neus, oë en hare is goed, maar haar lippe bietjie dun. Hulle bied haar ’n kontrak aan. 1.67 Die Engel sê dat sy dwaas sal wees indien sy die kans aanvaar. 1.68 Peter raai haar af. Hy sê dat hy nie vir haar gaan wag nie; hy stap aan in jare. Sy het ook nie ’n groen kaart om in Amerika te werk nie. Hy wens haar naam was nooit Iris nie. 1.69 Sy besluit teen die modelkontrak. Sy wil nie vir Peter verloor nie. 1.70 Eie antwoord.
1.71.1 Personifikasie. Die motor is soos ’n mens wat erg sukkel (om miskien asem te haal). 1.71.2 Personifikasie. Die hoop sneeu was so swaar dat dit lyk soos ’n mens wat moet hurk onder ’n swaar las. 1.71.3 Metafoor en oordrywing. Hulle kan enige tyd “ontplof “ of emosioneel uitbars. 1.71.4 Kontras. ’n Harmoniese lied teenoor wanklanke of ’n geraas. 1.71.5 Personifikasie en klanknabootsing. Die irriterende geluid wat ’n enjin maak wat sukkel om aan die gang te kom stem ooreen met ’n geneul. 1.72 Die huis was deurdrenk van ’n bedompige reuk, daar was kakkerlakke en vetspatsels teen die kaggel en hulle verstik aan die kaggelvuur. Dis glad nie die romantiese beeld wat ons van ’n houthut in die sneeu het nie. 1.73 Sy wou hom roskam omdat hy haar verkeerde advies gegee het om Vermont toe te kom. 1.74 Nee, dis ongewoon vir ’n vrou. Sy was die eienaar van ’n ysterwarewinkel. 1.75 Hulle wou nie hê hy moes met Bettie trou nie – haar selfs nie uitneem nie – en het dan groot dramas veroorsaak. Hy het skuldig gevoel oor die egskeiding en omdat hy dikwels weg is by die werk. 1.76 Sy sê Iris moes dit nooit gedoen het nie, want so ’n kans kry mens net een keer in ’n leeftyd. 1.77 Sy vertel haar van die Engel en meen dat die jare dat hy weg was tussen Iris en haar ouma, hy waarskynlik vir ’n reoriëntasiekursus was. 1.78 Toe Bettie Brian ontmoet het toe sy warmwatertenk ontplof het. 1.79 Brian wil net van dag tot dag voortgaan, werk, sy kinders om hom hê en vakansie hou. Vir sy buurman is dit wanneer sy kaktus blom. 1.80 Hy sal ’n goeie pa maak.
1.81 Bettie se ouers is dood toe hulle per ongeluk miergif ingekry het nadat bure vir hulle oorskietkos gegee het. Brian se kinders wil Bettie vergiftig. Iris en Bettie kom af op ’n hele kas vol gif in die kombuis. 1.82 Bettie het nie werklik gif gedrink nie en sy was waarskynlik siek van te veel eet en drink. 1.83 Eufemisme. 1.84 Antibiotika was gif in Johanna se oë en haar druppels en boererate was nog altyd vir haar voldoende. Met rou eiers, asyn, brandewyn, bruinsuiker en Jamaikagemmer het Johanna baie dinge reggedokter. Niemand het raad geweet met Kara se uitslag nie, maar Johanna het dit vinnig reggedokter deur ’n pap daarop aan te smeer. Dit is duidelik dat Johanna redelik kennis van allerlei boererate had en redelik suksesvol daarmee was. Miskien deel ons nie haar geloof aan alternatiewe medisyne nie, maar ons kan dit respekteer. 1.85 Posbode en buskondukteur. 1.86 Iris droom van haar lewe saam met Peter en dat sy haar dogters wil leer handwerk doen en klavier speel, maar dan besef sy dat hulle eerder vir haar sal moet leer, aangesien sy nie een van die twee vaardighede bemeester het nie. 1.87 Sy sal dit uitspit, want hy en die kinders sal haar net daaroor terg. 1.88 Toe sy ’n drieling kry. 1.89 Sy is nie deel van Kara en Elsa se gesprekke oor babas nie. 1.90 Hy het ’n buite-egtelike verhouding. 1.91 Hy moes ’n ogie oor Hannes hou sodat hy nie sy vrou kon verkul nie. 1.92 Elsa – onderwys; Peter – ingenieurswese; Frederik – tandheelkunde; Jonsie – houtwerk; Claude – kunsgeskiedenis; Iris – letterkunde. 1.93 Hy is bang sy toor hulle. 1.94 Sy kan die dolosse gooi om uit te vind hoekom.
1.95 Omdat hy Iris van haar groot geleentheid laat afsien het. 1.96 Merel het nie soos Iris vir die groot oomblik gesit en wag nie; sy was een wat daadwerklik optree. Sy was nie die soort mens wat sou sit en wonder wanneer sy eendag gaan blom nie; sy sou self die tyd, plek en datum bepaal, die gebeurtenis deeglik beplan en dan almal wat belangstel, inlig. 1.97 Nee. Hulle al twee beplan altyd alles baie deeglik en hulle kan dalk mekaar irriteer. Hulle is albei ook militante feministe. 1.98 Sy trou in Elsa se skoonma se gordyne en dra die grootste gedeelte van die dag ’n trui bo-oor haar trourok. Ma het onpaar handskoene aan. Johan laat die trouringe val. I.p.v. ’n wittebrood doen sy die volgende dag ’n moeilike stukkie kaakchirurgie. 1.99 Sy wou vir oulaas met die Engel gesels. 1.100 As Peter vir Iris sê hulle moet huis toe gaan, dink Merel dat hy oor Iris baasspeel. 1.101 Die Engel. Hy moes die sweisapparaat se vlam doodgeblaas het. 1.102 Ná Iris se troue het haar dae leeg geword en haar aande selfs nog leër. 1.103 Tydens die slottoneel in die roman sit Iris en Johanna en wag vir die verskyning van die kwart-voor-sewe-lelie. Die Engel is ook êrens in die tuin en Polder is saam met hulle. Dit blyk ’n gereelde verskynsel te wees – die groepie wat wag op die lelie om te blom. Die implikasie is dat Iris tot die besef gekom het dat ’n mens se hele lewe ’n blomtydperk kan wees; dit word nie net beperk tot ’n magiese oomblik nie. Die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan kan net so magies wees soos die beste fantasie.
2. Kontekstuele vrae: moontlike antwoorde
2.1.1 Dit is ’n eerstepersoonsverteller of ek-verteller. Iris vertel die verhaal uit haar eie gesigshoek. Die ek-verteller is die beste soort verteller om Iris se
emosies en gevoelens te beskryf. Dit is ’n goeie keuse vir Die kwart-voor-sewelelie omdat hierdie roman so pertinent op Iris se gevoels- en verbeeldingswêreld fokus. Dit is besonder effektief in die aangehaalde gedeelte omdat dit vir die leser voel of die verteller haar eie geboorte van buite af aanskou. 2.1.2 Niemand het ’n ophef van die nuwe baba gemaak nie: die dokter was dadelik ná haar eerste skree al weer op pad na die volgende bevalling, haar ma het dadelik aan die slaap geraak, die kraamsuster het gesê dat dit “nog ’n dogter “ was en was haastig om haar te was en haar pa was by die kantoor. 2.1.3 Van haar eerste skree af het niemand na haar geluister nie. Vandag is daar nog steeds niemand wat na haar luister nie. 2.1.4 Haar susters was ook nie beïndruk met die nuwe baba nie. Hulle het net die volgende dag kom kuier om Ma te sien en hul leeslesse hardop vir haar te lees. 2.1.5 Abnormale gedrag soos wolwe wat in die rigting van die maan tjank. Die idioom is: met die maan gepla wees en beteken om effens mallerig of van lotjie getik te wees. Iris kan vir ander mense as effens vreemd of selfs mallerig voorkom. Verder kan haar gesprek met die Engel as ’n sinistere aktiwiteit beskou word. (Peter se pa sien dit wel so.) 2.1.6 Vergelyking. Enersyds sluit die storieboekkarakter aan by die karakters wat Iris in haar verbeeldingswêreld optower. Andersyds is dit funksioneel om die politiek korrekte sosiale konvensie te ironiseer. 2.1.7 Deesdae is dit nie net die mode nie, maar word ook as sosiaal korrek vir ’n man beskou om sy vrou elke tree op die bevallingpad by te staan. Die man gaan saam na voorgeboortelike klasse en tydens geboorte staan hy langs sy vrou se bed vir emosionele bystand, om deel te wees van die hele proses en dit op foto’s te verewig. Iris se pa was so sosiaal onkorrek as moontlik: hy was glad nie daar nie – nie eers in die wagkamer nie. Hy was nie emosioneel betrokke nie, maar besig met werk. 2.1.8 Deesdae word daar ’n groot klem geplaas op omgewingsvriendelikheid. Ons moet so vriendelik moontlik teenoor ons omgewing wees deur dit so skoon en mooi moontlik te hou. Iris is, nes ander babas, in die uiterste omgewingsonvriendelikheid gebore. Vgl. die skerp lig wat haar oë seergemaak het, die wurgende ervaring en mens kan jou die bloed, slym, ens. voorstel. Omgewingsvriendelikheid is dus nie altyd moontlik nie.
2.1.9 Die baba het bruin of swart hare en miskien ’n olyfkleurige vel gehad, maar “donker “ kan ook “duister “ of “onverstaanbaar “ beteken. Daar is die suggestie van ’n gekompliseerdheid of onverstaanbaarheid ten opsigte van haar karakter.
2.2.1 (a) “verstrooid” (b) Ma is nie ’n bedrewe kok nie. 2.2.2 Sy het nie selfvertroue in haar eie vermoëns as kok gehad nie. 2.2.3 Metafoor. Sy lem was al so hol, dat hy rond soos ’n sekel was. In Ma se hande was die mes ook ’n veel lomper werktuig as kombuisgereedskap. 2.2.4 Vrees en selfversekering. 2.2.5 Hier word Ma as ’n niestereotiepe moeder uitgebeeld. Sy maak nie haar kinders groot nie, maar hulle maak haar groot. 2.2.6 Iemand wat ’n bus verpas het en nog steeds agter die bus aanhardloop. Sy het die bus verpas wat bestuurs-, kook- en huishouvernuf betref, maar probeer dit nog op haar manier najaag – sonder om dit werklik te bemeester. 2.2.7 Dis die naam van ’n Griekse godin wat die hoëre gode bedien het. 2.2.8 Sy praat van die iris as ’n mooi blom wat net in die lente blom, wat wys dat sy nie na Iris geluister het nie.
2.3.1 ’n Vreeslike sneeustorm het hulle getref, die lughawe is gesluit, die paaie was onbegaanbaar en die treine het nie geloop nie. 2.3.2 Sy het haar ’n romantiese herontmoeting voorgestel, wat dit allesbehalwe was. Niemand het die deur oopgegooi en haar naam geroep nie, Peter was nie daar om haar te omhels en met ope arms te verwelkom nie; daar was nie eers ’n boodskap nie. Die ontvangsklerk was stug. Die hotelkamer was leeg en gemeubileer in hotelkleure. Daar was slegs twee enkelbedjies en die meubels
was funksioneel en afgeleef – glad nie ’n romantiese toneel nie. 2.3.3 “neerslagtig” 2.3.4 Die ruimte skep ’n bepaalde stemming en beïnvloed die hoofkarakter se gemoed. Die hotelkamer is funksioneel gemeubileer en toon tekens van verwaarlosing (die kassies se lak is afgekrap en die Gideonsbybel het varkore). Dit is allesbehalwe ’n romantiese atmosfeer wat geskep word. 2.3.5 onvriendelike, onbuigsame 2.3.6 Sy probeer sy norsheid positief verander deur voor te stel dat hy vriendeliker is met die hotelgaste. 2.3.7 (a) Metafoor. (b) Vergelyking. (c) Ironie. 2.3.8 Iris was agterdogtig, maar die Engel sê dat sy nie alle mense moet wantrou nie.
3. Opstelvrae: moontlike antwoorde
(Let op: styl speel ’n belangrike rol in jou beantwoording van ’n literêre langvraag. Die volgende antwoorde konsentreer net op die inhoud.)
3.1 Soos Iris ouer raak, ontdek sy telkens ’n nuwe betekeniskomponent van haar naam: Haar pa het kleintyd gespot dat sy perserig by geboorte was en haar arms en bene oor die verpleegster s’n geflap het (wat herinner aan “flappe”, ’n ander naam vir irisse). Daar is ook grappe gemaak oor flappe en “iets knaag weer vandag aan Iris se bol”. Tydens puberteit het Iris besef dat die iris deel van die oog is en het sy haarself as diepsinnig en skerpsinnig gesien. Eendag ontdek sy
in die woordeboek dat Iris ook ’n godin in die Griekse mitologie was. Hierdie godin was in diens van hoëre gode en onmiddellik aktiveer dit ’n romantiese verbeeldingswêreld by haar. Peter brei hierdie kennis later uit tot Iris as die Griekse godin van die reënboog en die iris as ’n embleem wat deur die eeue gebruik is. Hy verwys spesifiek na die fleur de lis wat op Franse wapenskilde voorkom. . . . totdat sy haar later vereenselwig met die kwart-voor-sewe-lelie in hul tuin. Die kwart-voor-sewe-lelie was een van die groen plante in haar ma se tuin wat jaar na jaar daar staan sonder om iets dramaties te doen. Toe een aand het ’n wit blom oopgegaan; nie stadig nie, maar oombliklik. Dit was presies kwart voor sewe. Sy het haar met die plant vereenselwig; sy lewe ’n doodgewone lewe, maar sy is ook bestem om te blom. Haar blomtyd sal ook, soos die lelie s’n, nie perfek wees nie (sewe is simbool van die volmaakte). Haar beheptheid met haar naam en die kwart-voor-sewe-lelie speel ’n groot rol in haar lewe. Iris se hele lewe is ’n hunkering na die blomtyd in haar lewe, alhoewel Johanna in haar wysheid sê dat sy elke dag vir hulle blom. Iris glo al sedert haar skooldae dat sy, soos haar botaniese naamgenoot, die een of ander tyd moet blom. Sy moet altyd gereed wees, nooit ’n nuwe aanbod van die hand wys of ’n potensieel opwindende situasie onbenut laat nie. Sy leef haar hele lewe in afwagting op haar groot blomoomblik. Sy reken dat elke mens só ’n moment van volmaakte sintese moet beleef. Sy sien haar modelkontrak dus as ’n geleentheid, miskien haar geleentheid om te blom. Peter meen haar ouers moes haar nooit Iris gedoop het nie; dan sou sy nie sulke spesiale verwagtinge gehad het nie. Tydens die slottoneel in die roman sit Iris en Johanna en wag vir die verskyning van die kwart-voor-sewe-lelie. Die Engel is ook êrens in die tuin en Polder is saam met hulle. Dit blyk ’n gereelde verskynsel te wees – die groepie wat wag op die lelie om te blom. Die implikasie is dat Iris tot die besef gekom het dat ’n mens se hele lewe ’n blomtydperk kan wees; dit word nie net beperk tot ’n magiese oomblik nie. Die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan kan net so magies wees soos die beste fantasie.
3.2 (a) Iris is beswaarlik die tradisionele vurige en sterk heldin van ’n liefdesverhaal. Van vroeg af het haar lewe die smaak van mosterd na die maal:
niemand luister regtig na haar nie en haar susters se lewe lyk opwindender en interessanter as hare. Dit wil vir die res van haar gesin lyk asof sy nie in mans belangstel nie. Sy smeek haar ma as ’t ware om haar te verbied om Riekie te sien. Sy val nie vir Frederik se plakkaatvoorkoms nie. Sy lewe eerder in haar verbeeldingswêreld waar sy haar eie romantiese helde skep en voer gesprekke met die Engel. Haar verhoudings is almal fisiek en nie emosioneel gedrewe nie. Sy is nie beroepsgerig soos jou tipiese heldin in ’n liefdesverhaal nie; as gegradueerde het sy inteendeel ’n nederige werk by ’n tandarts en sou ook ’n posbode of buskondukteur kon wees. Sy stel alles ondergeskik aan haar hunkering na die groot oomblik wanneer sy eendag gaan blom. (b) Ma is so ver verwyder van die tradisionele ma as wat denkbaar is. In plaas daarvan dat sy haar kinders grootmaak, maak Johanna hulle groot en die kinders maak hul ma groot. Ma is glad nie ’n goeie kok nie en was altyd verlig wanneer die aand se kos aan die gaar raak was. Sy bring haar tyd veel eerder in die tuin deur. Sy maak haar dogters redelik liberaal groot en tob nie oor hul sedes nie. Sy kom altyd verstrooid voor. Sy is so onkonvensioneel dat sy selfs ’n dief kon oortuig om nie van hulle te steel nie. Op die plaas sluit Ma aan by ’n groep wat hulself Die Spieël noem – ’n groep wat glo in reïnkarnasie en spiritualisme en met voorvadergeeste praat. Dit is duidelik dat Ma alternatief en onkonvensioneel is. (c) Johanna word van die begin af nie as die stereotiepe huishulp uitgebeeld nie. Met Elsa se troue is sy deftiger aangetrek as die meeste van Iris se tannies. Sy weier om ’n “snotkind” “Kleinmies” te noem soos al die ander huishulpe die huiskinders noem. Sy was relatief jonk toe sy by die gesin begin werk het en sy het vinnig besef sy is onmisbaar. Sy moes Iris se ma leer kook, die kinders hul hare leer vleg en algemene orde in die huis handhaaf aangesien Iris se ma so verstrooid was. Sy was soos ’n ma vir die drie dogters, nie net omdat sy hulle grootgemaak het nie, maar omdat sy hulle emosioneel onderskraag het. Sy is redelik rassisties: sy noem Claude ’n “klong” en sy skryf aan Iris dat sy moet lig loop vir die “negers”. Johanna het definitiewe idees oor haar woonplek en manipuleer Pa en die bouinspekteur met dreigemente en omkoopgeskenkies sodat sy presies kry wat sy wil hê. Sy glo aan die krag van alternatiewe medisyne en dokter die gesin hiermee gesond.
3.3 Hoe die liefdesverhaal as genre geïroniseer word in Die kwart-voor-sewe-
lelie. Formuleer jou eie antwoord uit die Inleiding.
3.4 Die Engel se belangrikste funksie in Iris se lewe en haar daaglikse omgang met hom. Iris het haar eie persoonlike beskermengel met wie sy deurgaans praat. Hoe sy aan die Engel gekom het. Sy het as ’t ware die Engel by haar ouma geërf. Iris se ryk verbeeldingswêreld was uiters ontvanklik vir Ouma se suggestie van ’n Engel. Iris meen dat haar ouma net vir haar van die Engel vertel het omdat Ma, Kara en Elsa nie sou verstaan nie. Sy was dus gekrenk toe sy uitvind dat Ma ook van die Engel weet; trouens, hy het saam met hulle geëet nadat Ouma uit die hospitaal gekom het. Daar bestaan later onsekerheid of hy wel dieselfde engel as Ouma s’n was. Die belangrike posisie wat die Engel in haar lewe beklee. Dit is duidelik dat die Engel ’n belangrike posisie in Iris se lewe beklee het. As sy aan hom dink, vergeet sy selfs van haar verbeeldingsvlugte. “Met die Engel ook by, is Greta en haar geliefde tersyde gestoot; het my verbeeldingsvlugte oorbevolk geraak”. Die Engel is ook teenwoordig op Iris se troue, tot haar skoonpa se groot ongemak. Wanneer Iris haar trourok uittrek, wil sy vir oulaas alleen wees om met die Engel te gesels. Die Engel se primêre bystand aan Iris. Primêr is hy daar om haar te beskerm. In New York reken Peter dat niemand vir Iris sal vermoor as sy alleen rondstap nie omdat sy haar eie beskermengel het. In Frankryk is die Engel daar om haar te beskerm wanneer ’n gas op Kara se partytjie vir Iris oor haar land konfronteer. Hy beskou dit waarskynlik as sy plig om ’n wakende ogie oor haar te hou. So waarsku hy haar ook wanneer sy in gevaar verkeer, soos wanneer die skaatsplankryer haar amper omry in New York. Die beskermengel verskyn sonder waarskuwing op die toneel en staan haar altyd met raad by, bykans nooit met daad nie. Soms wens sy hy was van meer praktiese hulp, maar die meeste wat hy ooit gedoen het, was om die strykyster weer regop te sit nadat sy dit plat vergeet en die telefoon beantwoord het. Die Engel dans nie altyd na Iris se pype nie. Die Engel is gewis nie daar om Iris se opdragte uit te voer of takies vir haar te verrig soos stryk nie. Hy gee haar raad en as sy nie wil luister nie, moet sy haar kop stamp en self uit
haar foute leer; hy is nie haar kneg nie. Die Engel se seksvoorligting deur die jare. Die Engel het baie meer byderwets geraak omtrent seks. In Ouma se tyd het hy buite haar slaapkamer tent opgeslaan sodat daar niks onheiligs binne plaasvind nie. Met Iris gesels hy oor die Pil. Sy “geen seks”-voorligting aan Ouma het verander in “gebruik voorbehoedmiddels” aan Iris. Die Engel se kommentaar op Iris se gesprekke. Die Engel lewer graag kommentaar op Iris se gesprekke met ander. Een keer meen hy dat sy “taktloos” was en hy spreek ook sy misnoeë uit wanneer sy ’n leuen vertel: “Sies”. Dit is dus duidelik dat Iris en die Engel besonder gemaklik en eerlik met mekaar is as hy die vrymoedigheid het om sulke snydende kommentaar op haar gesprekke te lewer. Iris is soms bitter ontevrede met die Engel. Iris weet nie altyd of sy die Engel se raad kan vertrou nie, soos in New York wanneer sy dink dat die Engel haar uitlewer aan die fotograaf, Joe. Sy het gevoel soos ’n belegger aan wie misleidende advies gegee is. Sy was aanvanklik baie ontuis in Vermont en het gevoel dat die Engel haar ook verkeerde raad gegee het om Peter Vermont toe te volg. Sy voel dat hy as beskermengel gefaal het omdat hy Bettie toegelaat het om gif te drink nadat sy hom so mooi gevra het om die gifhouers op te pas. Haar grootste ontevredenheid met hom is dat hy toegelaat het dat Peter sy oë beseer. Iris se ontevredenheid met die Engel is natuurlik ’n projeksie van die ontevredenheid met haarself. Die Engel bly deel van Iris se lewe (slotparagraaf). As getroude vrou besoek die Engel haar laatmiddae wanneer sy kosmaak. Dit is duidelik dat die Engel nog steeds ’n funksie in haar lewe het.
3.5 Fantasiewêreld vs. realiteit by Iris. Iris skep vir haarself ’n interessante tweede lewe in haar verbeelding. Die tweede lewe dien op amusante wyse as verwysingsraamwerk vir haar alledaagse en oënskynlik minder interessante lewe totdat sy die punt bereik waar verbeelding en werklikheid letterlik oor mekaar skuif om die alledaagse werklikheid te word. Elsa se huwelik en swangerskap. Tydens Elsa se huwelik oorheers Iris se verbeeldingswêreld die realiteit. Iris verbeel haar ’n romantiese (uitlandse)
strooijonker wat ná die troue in Suid-Afrika aanbly terwyl sy vir hom die land wys en hulle ’n paar nagte van ie deurbring. Die realiteit is dat die onromantiese Riekie die strooijonker is en dat niks aan Iris se hoë romantiese verwagtinge voldoen nie: die toesprake, Elsa wat weglê aan die kos, Elsa se voorstedelike stel onderklere en Elsa wat beplan om vroeg te gaan slaap. Elsa se swangerskap lei tot Iris se mees uitgebreide fantasie. Die heldin in Iris se verbeeldingsvlug, Greta, laat een aand ’n goeie vriend, maar rokjagter, Peter, sy hart oor ’n meisie uitpraat. Die een ding lei tot die volgende, nege maande later is sy swanger, Peter sterf in ’n motorongeluk en sy ouer broer, Eduard, besluit teen sy sin om haar op te soek. Terwyl hy haar een aand besoek, moet hy haar inderhaas hospitaal toe neem waar sy geboorte skenk aan ’n seun. Iris se wonderlike verbeeldingsvlug word wreed onderbreek deur die werklikheid – Elsa se baba wat sy opwagting maak en Iris wat Peter ontmoet. Riekie, Frederik en Peter. Iris weef dikwels romantiese fantasieë rondom die mans in haar lewe. Toe Iris begin uitgekuier raak met Riekie, romantiseer sy sy naam en voorkoms in haar verbeelding. “Ek het hom oorgeskryf tot iets meer na my sin.” Sy verander sy naam na Rigardt; sy borselkop na golwende donker hare en sy praktiese, stomp hande na sensitiewes met lang vingers. Frederik word ook nooit meer vir haar as ’n prenteboekheld wat ’n plakkaat teen elke meisie se slaapkamermuur sou kon wees nie. By Peter oorheers die realiteit vir die eerste keer haar fantasiewêreld wanneer dit by mans kom. Wanneer Iris met die werklikheid in Peter se woonstel gekonfronteer word, verdwyn haar fantasieë. Sy kom self tot die insig dat geen denkbeeldige karakter opgewasse is teen die harde werklikheid van Peter nie. Sy het hom snaakser, warmer en meer dimensioneel ervaar as die spookbeelde waarmee sy haar jeug omgedroom het. Iris se beroepskeuse. Alhoewel Iris ’n universiteitsgraad het, verkies sy om ’n stoelassistente te word omdat sy nie ’n werk wou hê wat haar gedagtes kon wegneem van haar verbeeldingsvlugte nie. Haar volgende keuses sou posbode en buskondukteur wees. Al drie is werke wat mens kan doen terwyl jy besig is om te fantaseer. ’n Opsomming van jou mening. Ek is van mening dat die realiteit in ’n groot mate deur Iris se fantasiewêreld oorheers is. Haar beroepskeuse veral is ’n duidelike barometer hiervan. Werklikhede soos Elsa se huwelik en
swangerskap word omtower tot romantiese verbeeldingsvlugte. Iris se liefdeslewe word ook deur haar fantasiewêreld oorheers, met Peter die groot uitsondering. By hom is die realiteit soveel beter as haar fantasieë dat hulle uiteindelik verdwyn.
Biografiese notas oor die skrywer
Eleanor Elizabeth Liebenberg is op 21 Augustus 1944 gebore. Saam met drie susters en ’n broer word sy groot op ’n kleinhoewe buite Pretoria. Sy matrikuleer in 1961 aan die Hoërskool F.H. Odendaal. Nadat sy aanvanklik musiek gestudeer het, verwerf sy in 1968 aan die Universiteit van Pretoria ’n MA-graad in Afrikaans cum laude. Sy trou in 1969 met Walter Baker, ’n beroepsdiplomaat, en die gesin woon sewentien jaar lank oorsee – in stede soos Teheran, Den Haag, Montreal en Brussel. Haar interessantste en opwindendste verblyf in die buiteland was die net meer as drie jaar in Teheran van 1975 tot 1979. Oor hierdie tydperk verskyn haar As ’n pou kon vlieg, ’n Verblyfboek oor Teheran in 1980. Dit was net vóór die revolusie, Teheran het verander in ’n opstandige stad, ’n hele leefwyse is bedreig en alles het opgeraak: melk, vleis, petrol, gas. Eleanor het egter verknog geraak aan die stad en het selfs die inheemse taal, Farsi, vlot leer praat. Sy het uiteindelik die laaste vliegtuig gehaal voordat die lughawe gesluit is en haar tweede kind, Christine, is kort ná haar terugkoms in Pretoria gebore. In 2000 keer Eleanor saam met haar man en twee kinders terug na Suid-Afrika. Sy en Walter vestig hulle op Klein-Brakrivier aan die Kaapse suidkus, en sy wy haar voltyds aan haar skryfwerk. In 2002 sterf Eleanor Baker op die ouderdom van 57 aan kanker. Weerkaatsings (1984) is haar bekendste roman en is bekroon met die Kaaplandse Helpmekaar-FAK-prys. Dit is in Engels (Reflections) vertaal, asook in Sweeds, Fins, Deens en Hebreeus. Haar ander boeke sluit in: Wêreld sonder einde (1972), Splinterspel (1973), Mørketiden (1975), Monica (1978), As ’n pou kon vlieg (1980), ’n Geslote boek (1981), Dossier van ’n gyseling (1985), Die kwart-voor-sewe-lelie (1988), In die middel van die Karoo (1991), Die nes (1993), Verbeelde werklikheid (1996), Groot duiwels dood (1998), ’n Ou begin (2001) en Die ander Marta (2002).
In 1992 het sy die Scheepersprys vir jeuglektuur gewen vir Daar is spore op die maan. Sy het ook twee TV-dramas geskryf: En toe kom Wynand en Dooiehout. Onder die skuilnaam Christine le Roux het sy ’n hele aantal ligte liefdesverhale geskryf, en onder die naam Alex Muller het sy vyf speurromans gepubliseer. Alhoewel Eleanor nie sogenaamde “betrokke” romans geskryf het nie en selde uitsprake in die openbaar gemaak het oor politieke kwessies, getuig haar werk wel van sosiaal-politieke bewustheid. Die kwart-voor-sewe-lelie (1988) lewer indirek kommentaar op rassevooroordeel. Tydens ’n 1986-onderhoud met Louis Krüger blyk haar siening omtrent apartheidstrukture en die posisie van die vrou duidelik: “Apartheid is ’n ou masjien wat verander moet word – jy hoor hom eintlik al kraak. In die toekoms sien ek ’n nuwe Suid-Afrika met regverdigheid en gelykwaardigheid vir alle mense. Die land hoef nie afgebrand te word om dit reg te kry nie. “Dis nie nodig dat ons op wette en regulasies moet wag nie; ons moet leer lief raak vir mekaar. As skrywer oor menseverhoudinge is dit vir my belangrik dat mense hulle met mekaar moet versoen. Dis op dié vlak dat die eintlike stryd gevoer word.” (Krüger 1986.) Eleanor het ook geglo dat die vrou se mindere posisie in Suid-Afrika dikwels haar eie skuld is: “. . . sy klou vas aan haar tradisionele rol en kan nie verby haar eie grense kyk nie.” (Krüger 1986.)
Assessering
Riglyne by die beantwoording van kontekstuele vrae
•In ’n kontekstuele vraag moet jy vrae kan beantwoord oor die uittreksel self, maar ook oor aspekte in die res van die roman wat verband hou met die betrokke deel. •Vluglees die uittreksel. •Dis belangrik dat jy presies weet waar die uittreksel in die verhaal inpas. Wat gebeur net voor en net daarna? Dit is dus belangrik dat jy die inhoud van die verhaal baie goed ken. •Lees nou die vrae deur en onderstreep of omkring die opdragwoorde in die vrae, bv. haal aan, beskryf, verduidelik, bespreek of motiveer. •Omkring ook die puntetoekenning by elke vraag. •Lees nou wéér die uittreksel sorgvuldig deur terwyl jy die vrae in gedagte hou. •Onderstreep die dele wat verband hou met die vrae of maak ’n merk in die kantlyn langs die woorde. •Beantwoord nét dit wat gevra word. Moenie meer skryf in die hoop dat die antwoord dalk in die “ekstra” sin sal wees nie. •Laat jou lei deur die puntetoekenning by elke vraag:
– ’n 1-punt-vraag: gewoonlik net ’n woord of ’n sinsdeel.
– ’n 2-punt-vraag: gewoonlik ’n antwoord plus ’n bewys of verduideliking; of twee verskillende name of redes. – ’n 3-punt-vraag: drie verskillende feite of redes. – Vrae wat vier punte of meer tel, moet gewoonlik in ’n paragraaf beantwoord word.
•’n Waar-of-Onwaar-vraag: Skryf eers neer Waar of Onwaar. Maak seker of jy jou antwoord moet motiveer deur ’n aanhaling en of jou motivering in jou eie woorde moet wees. •Gebruik aanhalingstekens as jy ’n woord of woorde uit die uittreksel aanhaal. •As die vraag is: “Skryf vier opeenvolgende woorde neer” beteken dit vier woorde wat langs mekaar in die teks staan. •Laat ’n reël oop na elke antwoord. •Moenie in die kantlyne skryf nie; dis vir die nasiener bedoel. •Gebruik die linkerbladsy van jou eksamenboek vir jou beplanning. Onthou net om ’n streep daardeur te trek voor jy jou boek ingee. •Proeflees jou antwoorde. Lees ook weer die vrae oor. Het jy elke keer beantwoord wat gevra is?
Riglyne by die beantwoording van opsteltipe vrae
•Lees die vraag en onderstreep die kernwoorde. Merk veral die werk- of opdragwoorde sodat jy weet of jy byvoorbeeld moet beskryf, verduidelik of kontrasteer.
•Gebruik die linkerbladsy van jou eksamenboek vir jou beplanning. •Maak ’n kopkaart en skryf vinnig alles neer wat jy van die onderwerp weet. •Bekyk jou kopkaart krities en merk duidelik watter inligting jy in elke paragraaf wil gebruik. •As daar genoeg tyd is, moet jy vinnig jou eerste weergawe skryf. Onthou om ’n streep daardeur te trek sodat dit duidelik is dat dit deel van jou beplanning is. •Jou inleidingsparagraaf moet na die vraag verwys sodat dit duidelik is jy verstaan die opdrag. •Skryf elke argument of aspek in ’n afsonderlike paragraaf. Gebruik die PIVformule:
– P (punt): Watter punt maak ek in hierdie paragraaf? – I (illustrasie): Hoe kan ek dit illustreer met ’n aanhaling of verwysing na die verhaal? – V (verduideliking): Hoe kan ek hierdie illustrasie of voorbeeld verduidelik om my punt te versterk?
•Maak seker dat jy nie afdwaal nie. Lees kort-kort weer die vraag: Is jy besig om te beantwoord wat gevra word? •Jou slotparagraaf kan bestaan uit ’n kort opsomming of samevatting. •Jou antwoord moet tussen 400 en 450 woorde lank wees. •Proeflees jou opstel en maak seker dat jy alle onnodige foute uitgeskakel het. •Die rubriek hieronder word gebruik om opsteltipe vrae te assesseer.
Rubriek vir die assessering van letterkunde-opstelle
KODES EN PUNTETOEKENNING
INHOUD (15) Vertolking van onderwerp. Diepte van argument, motivering en begrip van voorgeskrewe werk.
STRUKTUUR EN TAAL (10) Struktuur, logiese vloei en aanbieding. Taal, toon en styl in opstel gebruik.
Kode 7: 80–100% Uitmuntend: 12 tot 15 punte Diepgaande vertolking van onderwerp; alle aspekte volledig verken. Uitstekende respons. Verskeidenheid treffende argumente volledig uit teks gestaaf. Uitstekende begrip van genre en voorgeskrewe teks. Kode 7: 80–100% Uitmuntend: 8 tot 10 punte Opstel met ’n samehangende struktuur. Uitstekende inleiding en slot.
Argumente goed gestruktureer en duidelik ontwikkel. Taal, styl en toon volwasse, indrukwekkend, korrek.
Kode 6: 70–79% Verdienstelik: 11 punte Bogemiddelde vertolking van onderwerp; alle aspekte goed verken. Volledige respons. Verskeidenheid argumente goed uit teks gestaaf. Baie goeie begrip van genre en teks. Kode 6: 70–79% Verdienstelik: 7 punte Opstel goed gestruktureer. Goeie inleiding en slot. Argumente en gedagtegang maklik om te volg. Taal, styl en toon korrek en geskik vir doel. Goeie aanbieding.
Kode 5: 60–69% Beduidend: 9 of 10 punte Toon begrip en onderwerp goed vertolk. Redelik volledige respons. Sommige goeie argumente, maar nie almal goed genoeg gemotiveer nie.
Begrip van genre en teks duidelik. Kode 5: 60–69% Beduidend: 6 punte Duidelike struktuur en logiese vloei van argument. Inleiding en slot en ander paragrawe samehangend georganiseer. Gedagtegang kan gevolg word. Taal, styl en toon grootliks korrek.
Kode 4: 50–59% Voldoende: 8 punte Redelike begrip van onderwerp; nie alle aspekte volledig verken nie. Sommige goeie punte ter stawing van onderwerp. Die meeste argumente gemotiveer, maar bewyse nie altyd oortuigend nie. Basiese begrip van genre en teks. Kode 4: 50–59% Voldoende: 5 punte Bewyse van struktuur. Opstel ontbreek ’n goed gestruktureerde logiese vloei en samehang. Taalfoute minder belangrik; toon en styl meestal geskik; paragrafering meestal korrek.
Kode 3: 40–49% Matig: 6 of 7 punte Baie gewone, middelmatige poging om die vraag te beantwoord. Baie min diepgaande begrip in reaksie op onderwerp. Argumente nie oortuigend nie en min motivering uit teks. Leerder begryp nie genre of teks ten volle nie. Kode 3: 40–49% Matig: 4 punte Beplanning van struktuur toon leemtes. Argumente nie logies gerangskik nie. Taalfoute duidelik; toon en styl nie geskik vir akademiese doel nie; paragrafering foutief.
Kode 2: 30–39% Basies: 5 punte Swak begrip van onderwerp. Respons herhalend en soms van die punt af. Geen diepte in argumente nie; foutiewe vertolking/argumente nie uit teks gemotiveer nie. Baie swak begrip van teks en genre. Kode 2: 30–39% Basies: 3 punte
Swak aanbieding en gebrek aan beplande struktuur belemmer vloei van argument. Taalfoute en foutiewe styl lei daartoe dat opstel grootliks onsuksesvol is.
Kode 1: 00–29% Ontoereikend: 0 tot 4 punte Respons toon ’n mate van aansluiting by die onderwerp, maar argumente moeilik om te volg of grootliks irrelevant. Swak poging om vraag te beantwoord. Die paar toepaslike punte is glad nie uit die teks gemotiveer nie. Baie swak begrip van teks en genre. Kode 1: 00–29% Ontoereikend: 0 tot 2 punte Moeilik om te bepaal of daar oor onderwerp geskryf is. Geen bewyse van beplande struktuur of logika nie. Geen paragrafering of samehang nie. Swak taal; foutiewe styl en toon.
Kontrolelys van hoofkenmerke en literêre begrippe
Soort verteller (’n Ek-verteller of ’n derdepersoonsverteller)
Intrige of plot (Wat gebeur in die verhaal?)
Konflik of botsing Uiterlik (tussen die hoofkarakter en ’n ander karakter of teen die stelsel of die gemeenskap) Innerlik (in die gemoed van die hoofkarakter, bv. die twyfel voor ’n besluit)
Karakters (word uitgebeeld deur karakters se optrede en dialoog, wat ander oor hulle sê en wat hulle oor hulself sê)
Karakterontwikkeling (Verskil die hoofkarakter aan die einde van die soort persoon wat hy aan die begin was en wat het daartoe gelei?)
Agtergrond / milieu / ruimte (Watter invloed het dit op die karakters? Is daar ’n kontras tussen twee verskillende soorte agtergrond?)
Tema (d.w.s. die boodskap of “les”)
Hoofgedagte: Die tema is die sentrale idee of hoofgedagte van ’n teks. Dis nie die onderwerp, die “storie” of inhoud nie, maar is eerder die betekenis, boodskap of “les” wat omskryf of geparafraseer kan word en wat verder strek as die besondere verhaal of gedig self.
Tydsverloop Vertelde tyd (Van wanneer tot wanneer strek die verhaal? Hoeveel dae of weke of jare? Terugflitse vorm nie deel van die vertelde tyd nie.) Verteltyd (Hoeveel bladsye of woorde word gebruik vir die vertel van die verhaal?)
Literêre stylmiddels Soek voorbeelde van die volgende en bespreek: metafoor vergelyking personifikasie metonimia (die deel i.p.v. die geheel: “Die ketel kook; Die pen is magtiger as die swaard”) klanknabootsing simbool of simbole hiperbool (doelbewuste oordrywing) kontras (bv. tussen karakters, plekke, ens.) sarkasme
ironie
Deurlopende motiewe of simbole (Wat kan elkeen alles beteken?)
Persoonlike respons op die verhaal (Hou jy daarvan of nie? Motiveer, d.w.s. gee redes.)
Woordverklarings van onbekende woorde
amalgaam (p. 65): legering waarvan kwiksilwer een van die metale is; deur tandarts as vulsel gebruik antikwaar (p. 40): handelaar in oudhede, veral ou boeke bedolwe (p. 147): bedek; toe benieud (p. 12): angstig oor bonkigheid (p. 80): grof gebou brutaal (p. 136): onbeskof, astrant, vermetel, parmantig coup (p. 112): verkorte vorm van die Franse woord coup d’état vir staatsgreep déjà-vu (p. 25): reeds gebeur; iets voel bekend omdat dit alreeds gebeur het; uit die Frans deus ex machina (p. 126): ’n maklike, toevallige, ongemotiveerde oplossing van ’n moeilike vraagstuk of knoop, veral in ’n roman of drama; Latynse uitdrukking dissonante (p. 150): valse klank; wanklank eekhoringsindroom (p. 21): om bymekaar te maak omdat jy vrees vir skaars tye eksistensiële (p. 25): wanneer jy die sin van die lewe probeer deurgrond ektoplasma (p. 161): in die spiritisme beteken dit stof waarin materialisasies vorm aanneem
elke bloue duit (p. 16): elke sent; ’n duit is ’n ou Nederlandse muntstuk wat ’n agste van ’n stuiwer is, die kleinste moontlike geldeenheid elokusie (p. 185): kuns van korrekte uitspraak enchanté (p. 70): “pleased to meet you”, aangename kennis epistel (p. 19): brief; sendbrief geëmansipeerde (p. 29): vrygemaak van knegskap, onderhorigheid; bevry; geniet gelyke regte met mans inkennig (p. 84): skaam, sku ipso facto (p. 10): uit Latyn afkomstig; beteken: uit die aard van die saak; uit krag van die feit, die daad self kabelgram (p. 126): berig per telegrafiese kabel oorgedra; kabeltelegram kariës (p. 89): verrotting, bederf van die tandbeen; tandverrotting klimakterium (p. 75): tydperk in die lewe (45–60) wanneer die lewenskrag begin afneem; oorgangsleeftyd, oorgangsjare klong (p. 70): bruin of swart seun konverseer (p. 72): gesels; ’n gesprek voer ongebreidelde (p. 62): onbeheerste onwennig (p. 26): nog nie gewoond aan iets nie en daardeur ongemaklik opslagmadeliefies (p. 68): blomme wat lyk asof dit nie geplant is nie, maar sommer daar opgespring het piëteit (p. 17): verering, eerbied popelende (p. 86): vinnig klop van aandoening prekêre (p. 196): onsekere, haglike, bedenklike
promoveer (p. 137): jou doktorsgraad verwerf regenererende (p. 218): verjongende, herstellende repressie (p. 42): onderdrukking; terughouding sereen (p. 42): kalm, ongestoord sindelik (p. 12): skoon, netjies sintese (p. 140): verbinding, samevoeging van afsonderlike elemente tot ’n nuwe geheel skigtig (p. 151): skrikkerig; sku stuiwer (p. 20): bydrae tot die gesprek n.a.v. die idioom ’n stuiwer in die armbeurs gooi – saampraat; ’n stuiwer was oorspronklik ’n halfpennie, ’n muntstuk wat in onbruik geraak het tafereel (p. 65): situasie, gebeurtenis trenserige (p. 111): vuil; ’n vuil trens is ’n vuil, liederlike persoon; ’n trens was die oog of lus, gewoonlik van ’n riem of draad waarmee die juk aan die disselboom van die ossewa verbind is en wat gewoonlik baie vuil was triptiek (p. 27): skilderstuk op drie e tristesse (p. 145): Franse woord vir hartseer uitset (p. 21): klere en linnegoed wat ’n bruid bymekaarmaak voordat sy trou; trousseau verhandeling (p. 26): ’n opstel of tesis in besonderhede uitgewerk, o.m. as deel van die vereistes van ’n magistergraad vysel (p. 65): koper- of ysterhouer waarin iets met ’n stamper fyngestamp word
Enkele belangrike verwysings in die roman
Die kwart-voor-sewe-lelie (titel): Volgens die skrywer se man, Walter, was ’n sekere bolplant agter in hulle tuin die inspirasie vir die titel van die boek. Eleanor het self hierdie naam vir die blom gegee toe sy agterkom dat dit daardie tyd van die aand oopgaan. Volgens Walter blom dit in Februarie (Baker 2007). Allan Tait, ’n bekende Pretoriase botaniese fotograaf en die grootste iriskweker in die land, het die blom geïdentifiseer as ’n aandblommetjie. Volgens hom is die blommetjie spierwit. Dit laat ’n mens dink aan ’n klein satellietskotteltjie en maak vroegaand (kwart voor sewe) oop. Die genusnaam is Oenothera tetraptera (wit aandblom of white evening primrose). Hy ken die plant oor ’n wye gebied in die somerreënvalstreke van Suid-Afrika, maar dit is uitheems en kom van Texas af. Alhoewel dit ’n verklaarde onkruid is, doen dit geen afbreuk aan sy skoonheid nie. Dit beteken maar net dat die plant geen kompetisie het nie en dat hy baie maklik in die plaaslike omgewing inpas (aldus Allan).
Met my geboorte . . . (p. 9): Wanneer mens die geboortetoneel lees, kry jy die indruk dat die hoofkarakter ’n waarnemer by haar eie geboorte was. Dit herinner baie aan die geboorte van Garp in die 1982-fliek The world according to Garp met Robin Williams in die hoofrol. Die film is gebaseer op die roman deur John Irving. Irving was een van Eleanor se gunstelingskrywers; dus is daar ’n goeie kans dat haar ongewone openingstoneel in Die kwart-voor-sewe-lelie deur The world according to Garp geïnspireer is. Die storie handel kortliks oor T.S. Garp wat verwek is nadat sy ma, Jenny, ’n verpleegster met ’n wil van haar eie, omgang met ’n sterwende soldaat gehad het. Sy wou ’n kind, maar nie ’n man hê nie.
eksistensiële periode (p. 25): Die eksistensialisme is ’n filosofiese rigting wat
die menslike bestaan in elke situasie telkens in die middelpunt stel en deur ondersoek na die konkrete bestaanswyse (eksistensialia) van die mens die sin van die lewe wil deurgrond. Die individu bevraagteken die betekenis van sy lewe en ’n goddelike teenwoordigheid. Die individu is heeltemal vry en daarom ook heeltemal verantwoordelik. Vgl. bv. Iris se uitspraak op p. 26– 27: “As denkende mens, as lid van ’n spesie wat die verband tussen oorsaak en gevolg kan bepaal en in ’n mate beheer, is jy verantwoordelik vir jou dade . . .” Eksistensiële vrae word gevra, bv. Wat is die doel van alles? Is daar ’n God? As Iris deur so ’n periode gaan, wonder sy oor die sin van alles en oor haar plek in die groter bestel.
fleur de lis (p. 36): Dit is ’n Franse uitdrukking wat letterlik beteken “blom van die lelies”. Die fleur de lis is ’n stylvolle ontwerp van óf ’n iris óf ’n lelie en word versierend sowel as simbolies gesien. Dit het al op baie Europese wapenskilde verskyn, maar word in die besonder met die Franse monargie geassosieer en deesdae met die Spaanse monargie as die enigste oorblywende monargie van die Huis van Bourbon. Dit is ’n blywende simbool van Frankryk, alhoewel dit nooit amptelik deur die Franse republieke toegeëien is nie. In Noord-Amerika word die fleur de lis geassosieer met gebiede met ’n Franse invloed soos Quebec en Louisiana. Dit het ook die kenteken van ’n verskeidenheid organisasies geword.
. . . in die dae toe sy nog ’n pas moes dra (p. 37): ’n Pas of dompas was ’n dokument wat mense se bewegings reguleer en swart mense was verplig om dit te alle tye byderhand te hê indien hulle voorgekeer word. Die Wet op Naturelle Stadsgebiede van 1923 staan algemeen bekend as die Paswet. Die doel van die Paswet was om swart verstedeliking te beperk tot die hoeveelheid beskikbare werksgeleenthede en die “oortolliges” uit die stede te hou. Instromingsbeheer is veral streng op swart vroue toegepas. Die pas is later vervang deur die verwysingsboekie (“reference book”).
Simon Carmiggelt (p. 43): Hy is ’n Hollandse joernalis en skrywer. Iris het moontlik een van sy werke as voorgeskrewe boek gehad. Sy het waarskynlik
’n BA met Afrikaans en Nederlands as hoofvak gestudeer.
Martinique (p. 69): Martinique is ’n eiland in die oostelike Karibiese See en beslaan ’n oppervlakte van 1 128 km². Dit is ’n deel van die Republiek van Frankryk en is dus deel van die EU en het die euro as ’n geldeenheid. Die amptelike taal is Frans, alhoewel die inwoners ’n Antilliese Kreool ofte wel “Créole Martiniquais” praat. Martinique staan ook bekend as die rumhoofstad of die Eiland van Blomme.
. . . waarvoor die park alles gebruik word (p. 102): Die park wat Joe vir Iris gaan wys, is natuurlik Central Park, een van die bekendste bakens in New York en wêreldwyd bekend as gevolg van verskeie films. Dit is ’n openbare park – 843 hektaar groot – in Manhattan in New York City. In die noorde word dit begrens deur 110de Straat, die suide 59ste Straat, die weste Agste Laan en die ooste Vyfde Laan. Daar is verskeie mere en dammetjies, uitgebreide wandelpaadjies, twee ysskaatsbane, ’n dieretuin, ’n hardloopbaan, ’n buitelugamfiteater en groot gebiede natuurlike woud. Die park word gereeld deur hardlopers, fietsryers en skaatsryers gebruik.
Davy Crockett, Alamo en Big Chief Sitting Bull (p. 106): Iris wou vir Billy vertel van Dingaan en sy geskiedenis en soek parallelle uit die Amerikaanse geskiedenis. David Crockett is ’n groot Amerikaanse held wat in 1836 saam met 139 ander by Alamo vermoor is. Niemand het bly leef om die storie te vertel nie; ook nie oor die 2 000 Meksikaanse soldate teen wie Davey-hulle geveg het nie. Chief Sitting Bull (Tatanka Iyotake) was die hoofleier van die Sioux (1831–1890). Hy sal altyd bekend staan as die opperbevelvoerder van die slag van die Little Big Horn.
pure Pollyanna (p. 108): Pollyanna is ’n roman deur Eleanor H. Porter wat in 1913 gepubliseer is. Dit was ’n blitsverkoper en het een van die klassieke werke in kinderliteratuur geword. Die boek was so ’n sukses dat Porter nog elf boeke, bekend as “glad books”, geskryf het. Die term “pollyanna” het
deel van die woordeskat geword en verwys na iemand wat opgeruimd en optimisties is en wat altyd ’n vrygewige houding teenoor die motiewe van ander het.
Eie niggie van Struwwelpeter (p. 115): Struwwelpeter is die hoofkarakter in die Duitse boek Der Struwwelpeter deur Heinrich Hoffmann. Struwwelpeter het ’n vreeslike boskasie en ellelange naels.
Vermont (p. 134): Vermont is een van die state van die VSA, geleë in New England in die noordooste teenaan die Kanadese grens. Vermont is bekend vir sy buitengewone koue winters met ’n jaarlikse sneeuval van tussen 60 en 100 duim (150–250 cm). Dit maak Vermont ’n uitstekende skigebied.
Bauernmalerei (p. 181): Dit is volkskuns geassosieer met Duitsland, Oostenryk en Switserland, alhoewel vele ander Europese lande ’n soortgelyke verfstyl het. Dit is ’n Duitse woord wat boereskilderye beteken. Dit word hoofsaaklik in Beiere aangetref en word soms ook Beierse volkskuns genoem. Dit word tradisioneel op meubels geverf, alhoewel die geverfde melkkanne ook wydbekend is. Dit word gekarakteriseer deur die hale van ronde verfkwasse wat gebruik word om blomme te verf.
Gauguin (bl. 182): Eugène Henri Paul Gauguin is in 1848 in Parys gebore. Hy was een van die leiersfigure in die post-impressionistiese beweging. Hy het verskeie pogings aangewend om ’n tropiese paradys te vind waar hy van vrugte en vis kon leef en in sy toenemend primitiewe styl kon skilder. So het hy ’n paar keer op Martinique en in Panama tuisgegaan.
Jane Eyre (bl. 217): Jane Eyre is in 1847 deur Charlotte Brontë geskryf. Dit handel oor die hoofkarakter, Jane Eyre, se liefde vir ’n werkgewer, Rochester, en hoe hulle uiteindelik bymekaar uitkom, al is Rochester blind
en kreupel.
Glossarium van literêre terme
afloop: die finale deel van die verhaal waar die ontknoping van die spanningslyn plaasvind en vrae of geheime beantwoord word. In Die kwartvoor-sewe-lelie gaan Iris saam met Peter Vermont toe, breek haar enkel, keer terug Suid-Afrika toe, en trou uiteindelik met Peter.
antitese (ook kontras): teenstelling van gedagtes wat uitgedruk word wat skerp teenoor mekaar staan, bv. hoe meer haas, hoe minder spoed.
boodskap: is meer spesifiek as tema, wat meer universeel is. Dit dui op ’n oordrag of mededeling aan die leser en behels dikwels ’n les of morele gedagte.
buitestander, outsider: ’n karakter wat nie aan ’n groep behoort nie. So iemand het gewoonlik ’n breër visie op sake as dié wat deel is van ’n groep. Op p. 190 sê Iris: “. . . en ek was weer eens die buitestander.” Van kleins af was sy anders as haar susters en onttrek haar in ’n fantasiewêreld waarin sy haar ten volle uitleef.
chronologies: die gebeure in die verhaal is gerangskik in die volgorde waarin dit gebeur het.
eerstepersoonsverteller of ek-verteller: die vertelling vind vanuit die
hoofkarakter se eie gesigspunt plaas en beskryf haar emosies en gevoelens.
eufemisme: versagtende uitdrukking of omskrywing; verbloeming. Die Engel slaap buite Ouma se kamer sodat daar nie “onheiligheid” plaasvind nie: “onheiligheid” is die eufemisme vir die amoreuse aktiwiteite wat binne die slaapkamer kan plaasvind en word hier humoristies gebruik.
hiperbool: doelbewuste oordrywing ter wille van beklemtoning. Om Brian se twee kinders tydbomme te noem, is doelbewuste oordrywing.
intrige of plot: die volgorde of sisteem waarin die gebeure gerangskik is, die verwikkeling wat spanning laat opbou en die storielyn verteenwoordig.
inversie: omkering, omdraaiing van woorde of bedoeling.
ironie: wanneer mens die teenoorgestelde sê van wat jy bedoel vir groter effek; omstandigheid of stand van sake wat die teenoorgestelde is van wat mens kon verwag het; ironie berus op kennis en insig, daarom verskaf dit ’n gevoel van slimwees en genot by die snap daarvan. Ironie kom deurlopend voor in hierdie roman.
karikatuur (spot): ’n oordrewe uitbeelding (geskrewe of visueel) van ’n karakter deur die spot te dryf met persoonlike karaktertrekke of voorkoms; spotprent, spotbeeld, spotfiguur.
klanknabootsing: die gebruik van woorde om klank te skep of na te boots.
Vgl. die enjin wat “klieks” maak.
konflik: dit kan uiterlik of innerlik van aard wees. Uiterlike konflik is tussen die hoofkarakter en ’n ander karakter of tussen die hoofkarakter en sy omgewing, die stelsel of gemeenskap. In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar so te sê geen uiterlike konflik nie. Innerlike konflik vind in die gemoed van die hoofkarakter plaas en is die spanning wat in ’n persoon geskep word deur die botsing (of toutrekkery) van begeertes, behoeftes, drange, vrese, onsekerheid, ensovoorts. Daar is sprake van groot innerlike konflik by Iris, wat geskep word deur haar verwagting van die groot blomoomblik wat enige tyd kan aanbreek.
kontras (ook antitese, teenstelling): stylmiddel waarin twee uiterstes teenoor mekaar gestel word.
metafoor: ’n assosiasieproses waardeur een ding deur ’n ander met soortgelyke eienskappe in die verbeelding opgeroep word. Ma se kombuismes wat ’n sekel is, is ’n voorbeeld hiervan.
metonimia: net ’n deel van die geheel word genoem.
oksimoron: stylfiguur waarby twee teenoorgestelde begrippe met mekaar verbind word, bv. ou nuus.
onderbeklemtoning: die uitdruk van iets op ’n terughoudende wyse, eerder as om die volle feite of waarheid te ontbloot, gewoonlik vir beklemtoning.
paradoks: skynbare teenstrydigheid, bv. om die waarheid te sê moet ek lieg.
personifikasie: beeldspraak waardeur menslike eienskappe en handelinge aan lewelose dinge, diere of plante toegeken word, bv. die wind huil om die hoeke van die huis.
plat karakter: ’n statiese karakter wat voorspelbaar is en min of geen ontwikkeling toon. Frederik, met sy oog vir ’n mooi nooi, is ’n goeie voorbeeld.
retoriese vraag: ’n vraag wat gevra word, nie om iets uit te vind nie, maar vir beklemtoning, jou mening uit te spreek of vir dramatiese effek (bv. Weet jy hoe gelukkig jy is).
ronde karakter: ’n dinamiese karakter wat ontwikkel en deur die tyd en ruimte gevorm word. Iris is ’n voorbeeld van een. Sy is nie ’n statiese karakter nie, maar iemand wat soms foute maak, daaruit leer en insig in situasies verkry. Sy kom bv. tot die insig dat die realiteit van ’n geroetineerde voorstedelike bestaan net so magies kan wees soos die beste fantasie.
sarkasme: bytend, bitter spot, minagting wat wil seermaak of skok op persoonlike vlak; anders as ironie sê jy presies wat jy bedoel. Die hotelklerk sê bv. vir Iris dat die stad logies uitgelê en die strate genommer is. As jy kan tel, kan jy regkom.
satire: iets wat hekelend spot met die lewe; dwaashede en wanpraktyke van die mens/maatskappy word onthul of geopenbaar; ’n satiriese literêre werk
het gewoonlik ’n bewustelik sosiale inslag.
simbool: wanneer ’n voorwerp gebruik word om iets anders, gewoonlik ’n abstrakte saak, te verteenwoordig. Die kwart-voor-sewe-lelie raak simbolies van Iris se verwagtinge.
stereotipe: ’n persoon met die tipiese eienskappe van ’n sekere groep.
subintrige, subplot: ’n aanvullende of ondergeskikte storielyn, bv. Bettie se oënskynlike gifdrinkery in Vermont.
tema: die sentrale idee of hoofgedagte van ’n teks. Dis nie die onderwerp, die “storie” of inhoud nie, maar eerder die universele betekenis van die teks wat omskryf of geparafraseer kan word. Die tema van Die kwart-voor-sewelelie is die mens se hunkering na die groot oomblik in sy lewe wat maak dat die wonder van die huidige oomblik dikwels by hom verbygaan.
vergelyking: naasmekaarstelling van dinge om die ooreenkoms of verskil te vergelyk. Woorde soos soos, nes en net soos word gebruik om die aandag op die vergelyking te plaas. By Iris se geboorte word gesê dat Pa nie soos ’n karakter uit ’n strokiesprent op en af in die wagkamer geloop en rook het nie.
vertelde tyd: die tydperk wat die verhaal dek. In Die kwart-voor-sewe-lelie is dit ongeveer vier jaar.
verteltyd: Die tyd wat dit neem om die verhaal te vertel: In Die kwart-voorsewe-lelie is dit ongeveer 73 woorde.
woordspeling: die humoristiese gebruik van ’n woord om ’n ander betekenis uit te bring; maak op geestige wyse gebruik van woorde wat verskillende betekenisse kan hê of woorde wat eenders klink, bv. woordspeling by grappe.
Bibliografie
•Baker, Eleanor. 1981. ’n Geslote boek. Kaapstad: Tafelberg. •Baker, Walter. 2007. In ’n gesprek met die uitgewer, Alida Potgieter. •Beyers, Susanne. 28 Junie 2000. “Eleanor kom huis toe.” Sarie. •Brink, André P. 12 Januarie 1986. “Daar sal gebloos word oor dié skryfster.” Boekerapport. •Brits, Cecilia. Romanza (skryfkursus vir voornemende skrywers van liefdesverhale vir Lapa Uitgewers), ongepubliseerd. •Cirlot, J.E. 1988. A dictionary of symbols. Londen en New York: Routledge. •Fourie, Corlia. 23 Augustus 1995. “Eleanor is terug op eie bodem.” Rooi Rose. •Grobler, Hilda. 17 April 1989. “Méér as ’n leesbare, ligte roman . . .” Die Transvaler. •Hambidge, Joan. 20 Februarie 1989. “Baker goël bedrewe met konvensies.” Beeld. •Henderson, L. 2001. Alien weeds and invasive plants: a complete guide to declared weeds and invaders in South Africa. Plant Protection Research Institute, Handbook 12. (Weeds SAfr 2001.)
•http://www.boekwurm.co.za/blad_skryf_ae/baker_eleanor.html •Irving, John. 1978. The world according to Garp. New York: EP Dutton.
•Kannemeyer, J.C. Eleanor Baker. In: Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse Literatuur, 1652–1987. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau. •Krüger, Louis. 1986. “’n Kop vol boeke.” De Kat. •Lategan, Leana. 16 Julie 2001. “Baker steeds ’n gunsteling by lesers.” Volksblad. •Lombaard, Sonette. 18 Julie 2002. “Baker was ons ‘cantadora’.” Die Burger. •Pakendorf, Gunther. 30 Maart 1989. “Blomtyd, maar Iris wil nie blom nie.” Die Burger. •Pelser, Waldimir. 3 Julie 2002. “Skrywer se dood ‘laat leemte in letterkunde’.” Die Burger. •Prinsloo, Koos. 1993. “Skryf is soos naaldwerk doen.” De Kat. •Radway, Janice A. 1984. Reading the Romance: Women, Patriarchy and Popular Literature. Chapel Hill: University of North Carolina. •Smuts, J.P. 1998. Die roman: ’n inleidende studie. Kaapstad: Human & Rousseau. •Van Niekerk, A. 1999. “Die Afrikaanse vroueskrywer – van egotekste tot postmodernisme (18de eeu–1996).” In Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en Profiel. Deel 2. Pretoria. J.L. van Schaik: 305–444. •Tait, Allan. 2007. (Telefoniese onderhoud en e-pos oor kwart-voor-sewe-lelie.) •Van Zyl, Anna. 11 Februarie 1989. “Dié werk pak jou beet en voer jou mee.” Die Volksblad. •Van Zyl, Dorothea. 2006. “Eleanor Baker (1944–2002).” In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel. Deel 111. Pretoria: Van Schaik: 201–218. •Wainger, Leslie. 2004. Writing the romance novel for dummies. San Francisco: Wiley Publishing.
Oor die boek
In Die kwart-voor-sewe-lelie skryf Eleanor Baker met ’n satiriese aanslag en fyn insig oor die wel en wee van ’n stadsgesin wat bestaan uit ’n vergeetagtige ma, ’n gemoedelike pa, Iris en haar twee susters, Elsa en Kara, hul “Hollandse” hond, ’n huishulp wat presies weet wat sy wil hê en ’n buite-aardse beskermengel met ’n aardse humorsin. In die karakters se doen en late sien die leser, met ’n glimlag, baie van hom/haarself. “Ek het jou al vertel van my naam,” sê Iris, die sentrale figuur in hierdie bekoorlike roman, “. . . ek glo ek sal eendag blom.”
Hierdie leerdersvriendelike skooluitgawe bevat ’n leesgids volgens die NKV met - ’n inleiding tot die roman - biografiese notas oor die skrywer - literêre begrippe - woordelyste - moontlike vrae en antwoorde - assessering en riglyne by die beantwoording van vrae
Oor die skrywer
Eleanor Baker (1944-2002) se eerste roman is in 1972 gepubliseer, maar dis met Weerkaatsings, 1984, dat sy werklik aandag getrek het. Dit het ’n FAKtoekenning ontvang en is ook in Brittanje, Swede en Israel uitgegee. Haar roman, Verbeelde werklikheid, is o.m. ’n tour de force genoem en haar roman oor die Anglo-Boereoorlog, Groot duiwels dood, is ook in Nederlands vertaal.
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad www.humanrousseau.com
Kopiereg © 2006 deur die Baker-trust
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Studiemateriaal opgestel deur Marieta Nel Bandontwerp deur Laura Oliver E-boekontwerp deur Nazli Jacobs
Eerste uitgawe van
Die kwart-voor-sewe-lelie: Human & Rousseau, 1988 Tweede uitgawe In Eleanor Baker Omnibus 1: Human & Rousseau, 2006
Ook beskikbaar in druk: Twaalfde druk in 2013 ISBN: 978-0-7981-4959-4
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6595-2 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6598-3 (mobi)