Anna Atoom en die magnetiese meermin
Elizabeth Wasserman
Tafelberg
Alfabetiese lys van begrippe
AardWag – Die weerstasie met al sy gesofistikeerde toerusting, geleë op MonPetit-eiland, word die AardWag genoem omdat die aarde se klimaat daar dopgehou word.
BioTron – ’n Mens of dier wat gedeeltelik ’n robot is. Gewoonlik lyk ’n BioTron net soos sy maats, maar het ’n rekenaar vir ’n brein. Sommige spiere en sintuie kan versterk wees met elektronika. Daarom kan ’n BioTron soms verbasende dinge doen, maar dit hang af van watter funksies ingebou is.
MonPetit-eiland – Een van die kleiner eilande in die Seychelle-groep, net suid van die ewenaar, in die Indiese Oseaan. Dit behoort aan die Atoomfamilie en hulle woon daar.
Persoonlike Kommunikeerder – ’n Kompakte kommunikasietoestel wat elke lid van die Atoom-familie aan die arm dra soos ’n polshorlosie. Dit het ’n klein beeldskerm waarop jy die persoon kan sien met wie jy kommunikeer.
Kunsmatige intelligensie – Rekenaars wat slim genoeg is om vir hulleself te kan dink. Hulle kan dinge op hulle eie doen sonder om bevele van mense te ontvang.
Molekulêre Verplaser – Hierdie apparaat kan die aantrekkingskrag tussen
die molekules in jou liggaam kanselleer. Dan kan jou losgemaakte molekules teen ’n hoë spoed na ’n ander plek verplaas word en daar weer aanmekaargesit word in jou oorspronklike vorm. As dit werk, sal dit ’n fantastiese manier wees om van een plek na ’n ander te reis. Verkeersknope sal iets van die verlede wees! Ongelukkig kon niemand nog ’n Molekulêre Verplaser bou wat veilig werk nie.
Molekulêre Versteller – ’n Instrument wat tydelik die beweging van die molekules in jou liggaam verander. Dit kan gebruik word om sekere siektes te genees, en ook om jou breingolwe en denkpatrone te verander. iraal Atoom het dit oorspronklik ontwerp om dit makliker te maak om met gevaarlike diere te werk, aangesien die Versteller hulle heeltemal mak kan maak – minstens vir ’n tydjie lank.
Ondergrondse Skandeerder – ’n Instrument wat die samestelling van grondlae en voorwerpe onder die grond ondersoek. Dit werk met klankgolwe en is amper soos ’n X-straal van die grond of seebodem.
Onderwater-verkenner – ’n Klein duikboot wat die Atoom-familie gebruik om die see te verken. Dis toegerus om verskillende opmetings van die water en die seebodem te doen. Dit versamel ook monsters vir verdere ontleding in die laboratorium op MonPetit.
JetKopter – Dit is ’n gevorderde soort vliegtuig waarmee die Atoom-familie reis. Die vlerke kan roteer soos die lemme van ’n helikopter, wat die JetKopter in staat stel om loodreg op te styg en weer te land.
RuimteArk – Dis die ruimtestasie waarin iraal Atoom bly. Dit dien ook as versamelplek vir alle dierespesies op aarde. ’n Wyfie en ’n mannetjie van elke spesie word daar bewaar ingeval iets rampspoedigs met die aarde sou
gebeur.
Waterlong – ’n Klein toestel waarmee jy suurstof direk uit die water kan suig, baie soos die kieue van ’n vis. Dit stel jou in staat om so lank as wat jy wil onder die water te swem sonder die lomp suurstofbottels wat duikers gewoonlik gebruik.
Die karakters in die boek
Brak leer ’n nuwe toertjie
Anna en Brak sit in die skadu van ’n palmboom. Dit is Saterdagoggend: ’n perfekte tyd vir ’n luilekker piekniek. Die weer is mooi en MonPetit-eiland bak rustig in die tropiese son. Om hulle strek die see blou tot by die verste horisonne van die Indiese Oseaan. Anna het reeds al die lekkernye wat sy saamgebring het opgeëet – kokosneutkoekies, tuisgemaakte gemmerbier en stervrugte. Dit is soms voordelig om ’n robothond vir ’n troeteldier te hê. Brak gebruik herlaaibare sonkragbatterye, en hy stel nie in koekies belang nie. Anna is soms bietjie spyt daaroor, want sy kon hom nog nooit leer pootgee vir ’n versnapering nie. Regte honde lyk oulik as hulle dit doen. Maar soms is dit lastig. Brak jaag ’n paar krappe wat nader kruip om krummels te kom soek. Dit is ’n prettige speletjie. Die krappe swaai hul knypers dapper in die rigting van sy rubbersnoet. Brak swaai sy stert supervinnig, en sy opgewonde blaffery verskrik ’n paar seevoëls wat aan die rand van die vlak water rondtrippel. Die krappe skarrel vinnig weg en verdwyn soos blits in hul gate. Anna leun terug teen die stam van die palmboom. Sy sluit haar oë lui teen die lomerige son en luister na die sagte gesuis soos die branders teen die strand stoot. Bo haar kop ruis die blare van die palm in die wind. Die hele eiland sluimer. Vir omtrent drie sekondes gee sy haarself oor aan hierdie stadige ritme. Dan skiet haar gedagtes opnuut soos vuurpyle deur haar brein. Sy sit regop en kyk rond, op soek na iets opwindends. Sy sien haar rugsak op die sand langs haar, en sy onthou skielik dat sy vandag die boekie met aanwysings oor hoe Brak werk saamgebring het, netjies verseël in ’n plastieksak.
Sy het Brak een Kersfees by haar ma en pa present gekry. Hy was netjies verpak in ’n kartondoos, met sy aanwysingsboekie en al. As jou ouers albei slim wetenskaplikes is, kry jy soms buitengewone geskenke. Brak is nie sommerso ’n hierjy van ’n robothond nie. Hy kom ook nie uit ’n gewone speelgoedwinkel nie. Brak is volgeprop met die beste tegnologie en sy rekenaarprogramme is vergelykbaar met dié in ruimtestasies en gevorderde vuurpyle. Hy kan beter ruik as ’n gewone hond, beter hoor, beter sien, én beter swem en hardloop. Hy verstaan ingewikkelde speletjies en hy help Anna soms met haar huiswerk. Sy is nie heeltemal seker wat hy alles kan doen nie. Die een keer toe sy wel deur sy aanwysings geblaai het (en dit was vinnig, want sy was te lui om dit ordentlik te lees), het iets wel haar oog gevang wat sy nog altyd wou probeer. Brak kan blykbaar geprogrammeer word om onsigbaar te wees.
Sigbaar en onsigbaar: hoe sien ’n mens?
’n Mens se oë is wonderlike sintuie. Hulle is fyn instrumente wat die ligstrale wat vanaf voorwerpe gereflekteer word, registreer en kodeer in ’n boodskap. Jou senuweestelsel stuur hierdie boodskap dan na jou brein, waar dit verander word in beelde – amper soos ’n televisieskerm in jou kop – en siedaar: jy sien die wêreld om jou in lig, vorm en beweging. Ons weet dus dat lig noodsaaklik is vir sien: in die donker is ons almal blind. Maar wat anders as die donker kan dinge onsigbaar maak? Wat van iets wat deurskynend is? Indien ’n voorwerp geen ligstrale weerkaats nie, kan ’n mens dit nie raaksien nie. As die ligstrale van die wêreld daarom en daaragter boonop ongestoord deur so ’n “deurskynende voorwerp” kan gaan, word dit werklik onsigbaar. Dalk is dit hoe Brak se onsigbaarheidsprogram werk? Dit is beter dat dit ’n geheim bly! Met goeie rede, natuurlik: onsigbaarheid na willekeur sal baie probleme kan veroorsaak, nie waar nie? Om ’n soliede robothond soos Brak, gemaak uit metaal, plastiek, rubber en silikoonstroombane, heeltemal deurskynend te maak, is sekerlik nie kinderspeletjies nie. Die wetenskap is wonderliker as towerkuns.
Anna haal die aanwysingsboek uit haar rugsak uit en blaai daardeur. Daar is dit! Dit lyk nie te moeilik nie: daar is ’n spesiale kode wat sy moet insleutel in die kontrolepaneel wat weggesteek is onder ’n klein metaalflappie op Brak se rug, net voor sy stert. Dan moet sy net die “aktiveer”-knoppie druk, en ditsem: haar hond is onsigbaar! Dit is minstens wat die boekie haar belowe. Anna is skepties. Sy het nog nooit iets gesien wat onsigbaar is nie. Sy grinnik. Natuurlik nie! Dit is mos die hele punt van onsigbaarheid. Die kode is uniek, en mens moet dit weer insleutel om Brak weer sigbaar te maak. “Fyn!” sê Anna. “Hierdie kode moet ons net nie verloor nie, outjie, of jy bly onsigbaar vir altyd.” Brak swaai net sy stert. Dan spring hy om en hardloop af na die rand van die water. Skielik spring hy hoog in die lug, hoër as wat enige gewone hond ooit sou kon spring. Hy slaan agteroor bollemakiesie voor hy weer netjies land om die vlak water in silwer boë om sy pote te laat spat. Anna lag. “Kom hier, simpel, dan leer ek jou nog ’n beter toertjie!” Brak hol soos blits terug na haar toe en slaan so vinnig rem aan dat die sand in alle rigtings spat. Hy plak hom reg voor Anna neer en die liggies agter die lense van sy oë blink sommer nog helderder. Sy rubberstert maak ’n waaierpatroon in die sand soos dit swaai. Anna se vingers vind maklik die flappie op sy rug, en sy klap dit oop met haar duimnael. Brak word onmiddellik gedeaktiveer: die outjie sit nou tjoepstil en sy ore hang. Sy oogliggies is dof. Anna kyk na die netjiese ry knoppies en die klein rekenaarskermpie van die kontrolepaneel op sy rug. Vinnig sleutel sy die wagwoord in wat haar toegang gee tot Brak se sagteware.
Sy stryk die bladsye van die instruksieboek plat en sorgvuldig tik sy die agtsyferkode in. Dan druk sy die knoppie wat sê “aktiveer”. Brak verdwyn. Anna kan steeds die koue metaal van sy lyfie onder haar vingers voel. Sy vryf verwonderd oor die gladde niks, en per ongeluk stamp haar vingers die onsigbare flappie weer toe. Sy hoor dit sluit met ’n klikgeluid. Onmiddellik word Brak weer geaktiveer. Sy weet dit, want hy begin opgewonde blaf, iewers by haar linkeroor. Steeds sien sy niks van hom nie. Skielik verskyn daar driehoekige Brak-spore in die los sand rondom haar soos die onsigbare robothond opgewonde in sirkels rondom haar spring. Maar Brak is ONSIGBAAR! Anna gil van plesier. Sy het dit reggekry! “Brak, jou wonderlike, ongelooflike snaakse ding!” lag sy. Sy spring op en hol af water toe, gevolg deur die wilde geblaf van haar onsigbare troetel-robotbrak. Dit is sowaar pret! Sy kan vir Brak hoor, maar al wat sy van hom kan sien, is die ry spore wat in en uit die vlak branders vleg, en nou en dan die sand en water in boë laat spat soos wat sy onsigbare pote woel. Hulle jaag mekaar rond en speel aan-aan. Brak is nog moeiliker om te vang as gewoonlik, want hy het nou ’n groot voorsprong. Hy leer gou dat Anna hom glad nie kan kry as hy net doodstil bly staan nie. Na ’n rukkie is Anna warm en uitgeput. Sy roep vir Brak en hulle keer terug na hul piekniekplek toe. Sy vroetel in haar rugsak rond en kry ’n louwarm bottel Coke. Sy knak die doppie oop en teug diep aan die gasserige soetigheid. “Genoeg nou, kêrel!” sug sy. “Kom ons kry jou weer reg.” Sy kyk om haar rond, op soek na die aanwysingsboekie wat sy weer in die plastieksak gebêre het. Dit is nêrens te sien nie. Sy soek oral: in haar rugsak, onder haar handdoek, in
die bosse rondom die palmboom waaronder sy gesit het. Al wat sy kry, is ’n paar reuseslakke en krapgate. Het Ton dalk na haar kom soek en die boek saam met hom gevat? Hy is immers gewoond daaraan om altyd alles te bêre wat sy laat rondlê. Maar daar is geen duidelike voetspore in die sand te bespeur nie, en sover sy weet was daar vandag nog niemand behalwe sy en Brak op hierdie strand nie. Die instruksieboek is skoonveld. Die onsigbare Brak help ook nie veel nie, selfs toe sy hom beveel om sy vernuftige neus in te span. Hy is steeds laf van opgewondenheid en skop net sand rond met al sy kaperjolle. “Raak rustig, jou aap!” maan sy hom, “dis ’n ernstige saak dié. Ons kan jou nie só los nie!” Maar dit lyk asof sy geen ander keuse het nie. Sonder die aanwysings kan sy nie die onsigbaarheidsprogram afskakel nie, en dit lyk sowaar asof sy nou permanent met ’n onsigbare brak gaan sit. Uiteindelik moet sy die soektog staak. Dit help tog niks! Sy sal moet gaan hulp soek. Ton of haar ma – hulle sal weet hoe om hierdie situasie te hanteer. Sy hoop maar so. Anna swaai haar rugsak oor haar skouers en stap terug huis toe, eers al langs die rand van die baai en dan draai sy weg van die see af. Sy volg die sanderige voetpad wat tussen die palmbome deur kronkel, in die rigting van die huis wat gebou is naby die hoogste punt van hulle klein eiland. Die tropiese son sak vinnig en dit word donker. Die skraal donkerkopmeisie lyk op die oog af alleen, maar kort op haar hakke verskyn daar ’n stel driehoekige voetspore in die sand, asof ’n vreemde towerspel haar agtervolg.
***
Vanuit die bosse agter haar kyk ’n paar groen oë hoe sy wegstap. Die rooikopseun glimlag breed en blaai vinnig deur die boek wat hy gebuit het. Noudat hy alleen op die strand is, fluit hy ’n toonlose deuntjie tussen sy tande deur. Die gefluitery is ’n ou gewoonte van hom. Slim brakkie! Wat sal hy nog alles kan doen?
Die blouwalvis se reis
In ’n see ver weg van Anna s’n swem ’n blouwalviswyfie. Die afgelope somer was die koue water rondom Antarktika haar tuiste. Sy het vet geword van die kril wat oorvloedig daar voorkom. Sy is ver dragtig, en instinktief mik sy na die warmer waters naby die kus van Chili. Dit is hier waar die blouwalvisse saamkom om hul kleingoed deur die kritiese eerste maande van hul lewens te troetel. Die wyfiewalvis swem in volle vaart, soos ’n reusagtige onderwater-lugskip. Sy kronkel haar liggaam in stadige kurwes wat grasieus vloei van haar kop tot haar stert. Haar massa kloof deur die water en verplaas tonne daarvan om ’n sleurstroom te vorm wat die slik van die donker seebodem onder haar roer. Ver bo die walvis se groot lyf filter flou sonlig deur die oppervlak. Sy hou haar oog op daardie blink skyf lig, want dit help haar om haar rigting te skat. Behalwe die son, hou die onsigbare patroon van die aarde se magnetiese veld haar ook op koers en lei haar na haar mikpunt. Af en toe gee sy ’n lang laefrekwensie-roep: ’n paar reëls van ’n walvislied. As ’n mens hierdie geluid bo die water moes hoor, sou dit oorverdowend wees. Onder die water werk dit egter uitstekend as ’n kommunikasiemiddel.
Blouwalvisse
Blouwalvisse is die grootste gediertes wat nog ooit op aarde gelewe het; selfs groter as die grootste dinosourus van miljoene jare gelede. Maar ten spyte van hul reusagtigheid is hulle vreedsaam en skadeloos. Hul monde is klein en Vvormig, en amper weggesteek onderaan hul massiewe vierkantige koppe. Hul slukderms is skaars groot genoeg om ’n strandbal te kan insluk. Plankton en klein skaaldiertjies is hul kos, en dié filter hulle uit die ryk water van die oseane. Die wêreld van die blouwalvis pas aan by die skaal van dié groot dier: diep, diep oseane wat oneindig strek rondom die planeet. Lang migrasietogte neem hulle duisende kilometers ver van die waters van een kontinent na die volgende. Onbewus van menslike stede en struwelinge trek hierdie reuse om ons aarde rond – vir hulle staan die tyd bykans stil. Hierdie oerdiere kon egter nie die knelgreep van menslike ontwikkeling op die natuur vryspring nie. Teen die einde van die vorige eeu het roekelose walvisjagte die blouwalvis baie na aan die rand van uitsterwing gebring. Danksy internasionale ooreenkomste word die jag van walvisse nou baie meer beperk, en hulle getalle neem weer toe.
Water gelei klank veel beter as lug en “walvisradio” saai oor enorme afstande uit. Walvisse se ore is heelwat fyner ingestel as mense s’n, en hulle kan klank ook gebruik om onderwater struikelblokke en landmerke te identifiseer deur die eggo’s van hul note. Die walvis weet presies waar sy is en waarheen sy op pad is. Wat haar betref, is sy alleen in die wye oseaan. Sy is in haar element, en sy is tevrede.
Ontvoering!
Ton sit in ’n kroeg in Victoria, die hoofstad van die Seychelle-eilande. Moet net nie dink dat Victoria soos ’n gewone woelige hoofstad lyk nie! Dit is ’n rustige klein dorpie, en dit bestaan uit kwalik meer as ’n bondeltjie sjarmante huise, winkels en ’n groot oop mark. Die dorpie lê knus teen die voet van ’n pragtige groen berg, waar rookkolomme geurig teen die hange trek soos die bosbewoners die klam blare wat hulle vanoggend op hul werf bymekaargevee het in smeulende bondels verbrand. Die tropiese plantegroei dring immers altyd nader! Vanaf die kaai van Victoria se hawe strek die water glashelder en vol krioelende seelewe. Die sustereilande lê los verspreid rondom hierdie hoofeiland: sommige van hulle naby, ander versteek agter die horison. Een van hulle is MonPetit, die eiland waar die Atoom-familie bly en waar die internasionale organisasie GROEN (die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing) hul weerstasie het, beman deur professor Sabatina en die superrekenaar Maks.
Ietsie meer oor die Seychelle-eilande
Miljoene jare gelede, in die tyd van die dinosourusse, het die kontinente uitmekaar geskuif om die groot vastelande te vorm soos ons dit nou ken. Tussen Indië en Afrika was daar ’n hoë bergreeks wat onder die see ingesak het. Die pieke van die bergreeks was so hoog dat sommige van hulle vandag nog steeds bo die oppervlak van die see uitsteek. Deesdae staan dit bekend as die Seychelle-eilande. Daar is omtrent honderd en vyftig van hierdie eilande verspreid net suid van die ewenaar: sommige is van graniet, maar van die meer afgeleë eilande bestaan uit koraal. Die klimaat is tropies, met volop reën, en die plantegroei is ruig en eksoties. Die spitse van die groter eilande is bedek met pragtige reënwoude, vol blomme en vrugte. Goue strande en warm kristalhelder water voltooi die prentjie waarvan die meeste mense maar net kan droom.
Dit is die enigste huis wat Anna en haar BioTron-boetie Pip nog ooit geken het. Dit is ook waar Ton nou woon. Ton is lief vir sy werk, want hy is lief vir die Atoom-familie, al is hulle sekerlik ’n bietjie vreemd. Met die vader van die familie, iraal Abraham Atoom, nog permanent in die ruimte sedert die ongeluk wat die molekules van sy liggaam kwesbaar gemaak het vir swaartekrag, het die spulletjie sowaar iemand nodig om hulle op te pas! Maar soms raak ’n man moeg vir skottelgoed en kinderstreke (om nie eens van Anna se toenemende tienertruuks te praat nie), en dan moet hy ’n bietjie wegkom, kroeg toe. Die kroeg is donker en rokerig. Dit is ’n plek waar ’n kokkerot en ’n seerower ewe tuis langs mekaar kan sit. Mens kry sulke kroeë in hawestede dwarsoor die wêreld en hulle deel almal een eienskap: ’n slegte reputasie. Hier word stories uitgeruil, smokkelplanne beraam en soms vloei die bloed saam met die alkohol, want skermutselings is volop. Die aand het nog skaars begin, maar reeds dreun die lug van die diep gebrom van stemme, en nou en dan ’n skor gelag. Dit is ongemaklik warm en bedompig, maar genadiglik verdoesel die rook die sweetreuk van die fris matrose met hul onwelriekende drankasems. Ton voel egter gemaklik en ontspanne hier. ’n Lagie sweet blink op sy groot, gladgeskeerde kop, maar sy donker pak is netjies gepars, soos altyd, en die naels van sy reusehande wat die bierglas sagkens troetel, is perfek geknipte wit halfmane. In die swak lig is sy netheid darem nie te opvallend nie, en selfs tussen die skurwe, bebaarde karakters met hul growwe baadjies en gehawende Themde lyk hy heel tuis. Hy is besig om een of ander tegniese punt van seekatvang met Renard te bespreek. Renard is ’n ou vissermanvriend van hom, maar vanaand bly sy oë wegdraai na iets of iemand net agter Ton se linkerskouer. Ton draai om om te sien wat sy vriend se aandag so vasvang, en op daardie oomblik bespring iets groots hom en gee hom ’n hou teen die kop met ’n leë whiskybottel! Ton is ’n groot man, maar die hou tref hom onverwags en hy tuimel van die smal kroegstoeltjie af. Vir ’n oomblik is hy totaal uit die veld geslaan. Dan kom hy
vinnig tot sy sinne en raap homself blitsig op. Hy gryp sy aanvaller se enkels netjies onder hom uit met ’n grasieuse laagvat. Die ander man val dat hy so hik. Oombliklik is elkeen in die kroeg deel van die geveg. Niemand weet eintlik waaroor dit gaan en wie geslaan moet word nie, maar dit is van mindere belang. Die hoofsaak is dat daar ’n geveg is, en alles wat beweeg, word ’n teiken. Die lawaai in die kroeg styg tot ’n oorverdowende vlak. Stoele word flenters geslaan oor koppe, bottels trek rond soos missiele in ’n grensoorlog en vuishoue klap links en regs. Die kroegman kruip agter sy toonbank weg. Hy slaan sy arms oor sy kop en kan maar net hoop dat daar iets van sy besigheid sal oorbly. Hy is gewoond aan hierdie gevegte: die maande op die oop see is vervelig en sy kliënte is altyd gereed vir ’n bietjie aksie, veral na so ’n paar doppe. Hy weet dat alles gou sal oorwaai, en dit is ook so. Die tropiese hitte help om almal gou moeg te maak vir baklei en een vir een begin die matrose weer na heel bottels soek om die inhoud daarvan te drink, eerder as om dit te vermors op ’n buurman se kop. Bloed drup nog uit vars snye en blou swamme swel in blink bulte oor growwe gelaatstrekke, wat die lelike spul nog leliker laat lyk. Die kroegman grinnik, stoot nog ’n paar koue bottels bier oor die toonbank en begin weer glase uitvee met ’n vuilgrys lap. Voort met die werk! Hy merk dat die stoel waar Ton netnou nog gesit het, nou leeg is. Hy wonder wat van die groot nutsman van MonPetit-eiland geword het. Vanuit sy wegkruipplek agter die toonbank kon hy nie sien of Ton deelgeneem het aan die geveg nie, maar nou is hy skoonveld. Die kroegman skud sy benerige skouers en gaan voort met die harde werk om die klomp matrose vinnig genoeg van drank te voorsien. Sy nag gaan nog lank wees!
Waar is Ton?
Anna stamp die sand van haar kaal voete af en stap in die huis in. Agter haar ratel Brak se onsigbare metaalpote oor die houtvloer. “Ton!” roep sy. “Ton, jy moet kom help! Ek sukkel met iets …” Ton antwoord nie, maar Pip, Anna se klein BioTron-boetie, kom aangedraf en gryp haar om die knieë. Hy babbel iets in sy irriterende brabbeltaal. “Blisser brab-boe!” sê hy. “Ag stop dit!” snou sy suster hom toe. Dit is lastig om ’n broer te hê, selfs al is hy half masjien, half mens en selfs al kan hy daarom die ongelooflikste goed doen, soos groot rotse optel en sy asem langer as ’n dolfyn onder die water ophou. Dit sal dalk help, dink Anna, as hy net ordentlik kan leer praat. Ten minste sal hy haar dan kan vertel waar Ton is. “Ton!” roep sy weer. Steeds antwoord hy nie. Dis vreemd, dink Anna. Ton is altyd daar om enige wens van die Atoom-familie te vervul. Miskien is hy in haar ma se laboratorium? Skielik sien Pip die dodo’s raak waar hulle rondskrop in die groentetuin. Hy hardloop dadelik om hulle te gaan terroriseer. “Fyn!” sê Anna vir die onsigbare Brak. “Ten minste is ons nou van hom ontslae! Kom ons gaan na die laboratorium toe, ou kêrel, en kyk of ons jou probleem daar kan uitsorteer.” Hulle stap af na die boothuis op die strand, so ’n entjie van die huis af. Dit is hier waar die ingang is tot die geheime ondergrondse laboratorium en die grot waar die Onderwater-verkenner en die JetKopter gehou word. Die blink metaaldeur van professor Sabatina se laboratorium is onlangs toegerus met ’n Persoonlike Herkenner, en dit herken dadelik Anna se breingolfpatroon. Die deur swaai oop.
Brak glip blitsvinnig tussen haar bene deur – hy het geen breingolfpatroon wat herken kan word nie en weet hy moet sy kans gou waarneem. Maar Anna kan hom nie sien nie. Sy struikel en stamp haar toon hard teen sy onsigbare agterpoot. “Deksels!” roep sy vies uit. Haar ma hoor haar nie. Sy is verdiep in haar werk. Die hologram wat die beeld van die aarde in die middel van die skemer laboratorium uitbeeld, gloei met die groen en bruin kleure van die vastelande, die smaragblou van die oseane en die warrellende wit wolkemassas. Dit is die AardWag, ’n gesofistikeerde instrument waarop die beeld van omgewingsveranderinge dwarsoor ons planeet aangetoon word. Die professor sit op haar stoel wat op die silwer spoor rondom die AardWag gly. Anna stap tot reg onder haar en roep harder. “Ma! Weet Ma waar Ton is?” Professor Sabatina draai om op haar stoel. Haar silwergrys hare staan orent in alle rigtings en sy loer oor die silwer halfmaanraam van haar bril. “O, hallo daar, skattie!” Sy frons effens. “Ton? Nee … hy kom bykans nooit hierheen nie – sy werk is mos om na julle te kyk en die huis uit te sorteer. Is hy nie in sy kombuis nie?” Anna trek haar skouers op. “Kan Ma my dan help?” vra sy. “Wat is verkeerd?” “Wel, dis Brak …” “Brak? Waar is hy?” “Hy is hier.” Brak blaf. Die professor se oë soek na hom in die donker hoekies van haar laboratorium. Gewoonlik gee die dowwe fluoressensie van sy ooglense hom
weg, selfs in stikdonker. “Ek sien hom nie?” “Presies! Hy is onsigbaar!” Professor Sabatina frons. “Ek het sy onsigbaarheidsprogram geaktiveer en …” “Ja, dit is moontlik. Ek verbeel my Uranus het vir hom die sagteware ingebou wat die materiaal waarvan hy gemaak is, kan laat ioniseer om die atome …” “Ma, net nie nou ’n wetenskaples nie, asseblief!” smeek Anna. “Dit is sekerlik niks ernstigs nie, liefie. Jy moet maar net weer die instruksies volg om die program om te keer en hom weer sigbaar te maak. Ek moet sê, dit werk nogal goed!” Sy kyk weer ’n keer of wat rond, maar draai gou weer terug na die AardWag. Anna kan sien dat haar ma reeds besig is om belangstelling in haar probleem te verloor. “Ek weet nie waar die aanwysings is nie, Ma. Ek het die boek verloor, en nou het ek nie meer die kode om die onsigbaarheidsprogram om te keer nie,” erken sy beteuterd. Sy verduidelik aan haar ma hoe dit gebeur het. Die professor sug. “Dit is tien teen een die werk van een van die reusekrappe wat daar woon,” sê sy. “Hulle doen dit: hulle soek rond na enigiets wat na kos lyk en sleep dit in hul gate in. Om een of ander rede hou hulle van plastiek, en jou boek is net klein genoeg dat een van die groter krappe dit kon wegsleep!” Anna lyk twyfelagtig. “’n Krap, Ma? Is jy seker?” “Nee, ek is nie seker nie, maar wat anders kan dit wees? Hier is niemand behalwe ons op die eiland nie.” Min dinge verbaas professor Sabatina se noukeurige wetenskaplike brein. Sy
verstaan die wêreld deur al die feite in oënskou te neem en dan gevolgtrekkings te maak. In hierdie geval het daar ’n boekie in ’n plastieksak verdwyn op ’n strand waar daar niks anders lewendigs was as krappe nie. Dit is ook bekend dat hierdie krappe gedurig aan die aas is vir enigiets eetbaars. Die verklaring is dus dat ’n krap hom misgis het met Anna se boek en dit vir kos aangesien het. Indien dit waar is, hoef mens net die gedrag van die krappe te ken om te voorspel wat van die boek gaan word. “Die krap sal weldra uitvind dat Brak se boekie nie ’n goeie aandete is nie,” stel sy haar dogter gerus. “Die kans is goed dat hy dit weer uit sy gat sal stoot. Jy moet maar net môreoggend douvoordag weer daar gaan kyk.” “Maar wat van Ton, Mammie?” vra Anna. “Jy weet, hy is gisteraand na die hoofeiland toe om voorrade te gaan haal, en ek het hom nog glad nie vandag gesien nie. Hy het nie vir ons ontbyt gemaak soos gewoonlik nie!” “Geen ontbyt vanoggend nie?” vra professor Sabatina verbaas. Sy het ligdag reeds na haar laboratorium toe gekom, nadat sy net ’n vinnige koppie koffie vir haarself in die kombuis gemaak het. Sy frons bekommerd. “Dit is sowaar vreemd!” Professor Sabatina wikkel ’n skakelaar op die paneel langs haar stoel. Die stoel sak stadig af tot op grondhoogte. Sy staan op en stap na haar dogter toe. Anna is reeds amper so lank soos sy. Sy vryf haar dogter se pennetjieshare nog meer deurmekaar. “Kom ons gaan soek na Ton!” glimlag sy gerusstellend. “Of nog beter, kom ons vra sommer net vir Maks. Hy weet alles!” “Dankie, Ma! Ek gaan kyk solank in die groentetuin. Dalk is hy daar iewers!” “Goeie plan, en moet asseblief nie …” Maar sy is te laat. Anna het reeds die deur van die laboratorium hard agter haar laat toeslaan. “Maks, weet jy waar Ton is?” wil professor Sabatina weet. Die diep stem van die superrekenaar kom uit die luidsprekers wat weggesteek is
in die mure van die ondergrondse laboratorium. “Ton?” vra Maks skaapagtig. Niemand het hom nog ooit hierdie vraag gevra nie – almal weet altyd waar Ton is. “Ja, Ton!” antwoord die professor geïrriteerd. Maks raadpleeg sy massiewe geheuebanke. Dit help min – hulle bevat geen nuttige inligting oor waar Ton hom bevind nie.
Hoe rekenaars werk
Net soos ons, het rekenaars ook energie nodig. Mense eet kos, rekenaars gebruik elektrisiteit of batterye. Mense dink met hul breine, rekenaars gebruik mikroskyfies. Ons neem inligting in met ons sintuie (oë, ore, ensovoorts), terwyl ’n rekenaar afhanklik is van inligting wat ons op ’n sleutelbord intik. Gevorderde rekenaars (soos Maks) kan ook ander vorme van inligting verwerk, soos beeld en klank. Die inligting word verwerk tot ’n eenvoudige kode wat bestaan uit oneindige kombinasies van die syfers 1 en 0. In hierdie vorm kan rekenaars inligting verwerk en stoor.
“Ton het gistermiddag gaan voorrade haals op die hoofeiland, volgens sy normale skedule. Brandstofs, politoers vir die stoep en meubels, koffie, … ” “Ek vra nie vir sy kruidenierswarelysie nie, Maks!” “Na sy inkopies gaan hy soms na die Seerower se Baard, ’n gesogte kuierplek in die hawe …” “Gmf!” snork professor Sabatina. Wat weet rekenaars nou van sogenaamde “gesogte kuierplekke”? Die Seerower se Baard, sowaar! “Dus behoort hy nou terug te wees in sy kombuis, besig om koekies te baks!” “As dit die geval was, Maks, was ons nie op soek na hom nie. Werklik, soms wonder ek of jy so intelligent is. Het ons waarlik al daai miljoene dollers betaal sodat jy vir my kan sê Ton is in die kombuis, besig om koekies te bak, nadat ek reeds uitdruklik vir jou gesê het hy is NIE in die huis nie?”
Kan rekenaars dink?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord as mens nie eers besluit wat jy bedoel as jy van “dink” praat nie. Een manier om daarna te kyk, is om te sê ’n masjien kan dink wanneer hy iets in die omgewing kan waarneem, en dan op sy eie die nodige aksies kan uitvoer om die sukses te verseker van watter taak hy ook al geprogrammeer is om te doen. Dink net: as jy aan die ontbyttafel sit en jy is honger, sal jy die melk en die graankos uit hul houers gooi, dit met ’n bietjie suiker meng en dit eet. Mens doen dit vanselfsprekend, maar die verskil tussen jou en ’n eenvoudiger vorm van intelligensie (soos jou hond, byvoorbeeld) is dat jy allerhande probleme sal kan oplos om die kos in jou maag te kry. As die melk suur is, sal jy ’n nuwe bottel uit die yskas gaan haal (of by jou ma kla, en sy sal dit vir jou doen). As die pap op is, kan jy dit neerskryf op ’n kruidenierslysie en nog gaan koop. Of jy kan ’n alternatief kies, soos roosterbrood.
Om intelligent te dink is dus om oplossings te skep vir die probleme wat jy teëkom. Masjiene kan ook geprogrammeer word om allerhande oplossings te kan “uitdink” volgens algoritmiese programme soos die een hierbo wat die ontbytkoskeuses verduidelik, maar eers wanneer hulle op hul eie nuwe oplossings kan formuleer, kan ’n mens begin praat van kunsmatige intelligensie. Hoe dikwels dink jy regtig?
“Jy het dit nie gesêe nie!” stry die rekenaar. “Jy het gevrae waar hy is. En, terloopse, sesmiljoen vyfduisend driehonderd en twintig dollars en vyftien sent: dit is wat my prosesseerders en my silikoonskyfies gekos het wat moes werks aan daardie simpel vraag!” Professor Sabatina sug. Wat gaan aan? Ton raak nooit weg nie. Hy is altyd getrou, altyd byderhand as hulle hom nodig kry. “Kom ons maak ’n paar telefoonoproepe,” stel sy voor. “Telefoonoproepes?” vra Maks verontwaardig. Hy is geskok. “Jy praat nou van daardie stuk outydse toerusting wat die ondersese kabel na die hoofeiland gebruike om boodskappes so primitief van een stuk hardeware tot ’n andere rond te stuures, sonder ordentlike elektronikas?” Sy grammatika raak sommer nog meer deurmekaar van skone verontwaardiging. “Ja, Maks, die telefoon!” antwoord professor Sabatina. “Ons het een iewers, ek weet. Maar waar is dit?” Dit is ’n vraag wat Maks wel maklik kan antwoord. Hy het ’n plan van die laboratorium (en al die ander geboue op die eiland) in sy geheuebank. “Daar is eene op jou lessenaar in die hoeke links agters, daar is eene in die eetkamer van die groot huis, en daar is eene in Ton se spens.” Die professor gebruik selde haar lessenaar. Dit is bedek met ’n dun lagie stof. Sy vind die telefoon agter ’n klein papierberg van onoopgemaakte pos. “Gee gou vir my die telefoonnommer van die Seerower se Baard, Maks.” Maks voel beledig. Hy is nie ’n telefoonboek nie! “72568,” kla hy, “en daardie inligting het jou sesmiljoen vyfduisend driehonderd en twintig dollars gekos, en vyftien sent ekstra!” “Ag, bly stil, Maks!”
Sy bel die nommer. Die kroegman antwoord. Daar is nog nie veel kliënte dié tyd van die dag nie, maar inderwaarheid slaap hy sommer in die kroeg, op ’n rol komberse wat hy onder die toonbank bêre. “Hy sê Ton was wel gisteraand daar,” rapporteer sy, “maar daar was ’n skermutseling en hy het hom daarna nie weer gesien nie. Dit is baie vreemd. Wat op aarde kon van hom geword het?”
Van koers af
Die blouwalvis is in die moeilikheid. Walvisse het ’n kenmerkende manier om hulself loodreg in die water te draai met hul bolywe uit die water. Dit gee hulle ’n kans om die wêreld rondom hulle vir ’n oomblik te bespied. Die walvis doen dit nou gereeld, want sy soek die kus van Peru. Sy weet dit moet nou naby wees. Maar sy sien niks nie, net die wye, oop see. Sy stuur ’n lang, lae walvisroep uit na die oseaan rondom haar, en luister na die eggo van haar groot stem. Die seevloer is baie diep onder haar – veel dieper as wat dit behoort te wees. Sy het spesiale senuweeselle in haar brein en agter haar oë wat sensitief is vir die elektromagnetiese velde van die aarde. Volgens die berekeninge van hierdie gesofistikeerde sintuie behoort sy nou regoor die kontinentale rand van Suid-Amerika te wees, waar die water vlakker is. Verward swem sy voort. Haar kalfie gaan binnekort gebore word, en dan wil sy veilig wees, in bekende water en naby ander van haar soort. Sy weet nie meer of sy haar sintuie kan vertrou nie, maar instinktief volg sy die lyne van die magnetiese veld wat sy waarneem. Sy weet dit nie, maar dit lei haar al verder en verder weg van waar sy wil wees, reguit na die besige skeepsroetes van Noord-Amerika. Agter haar maak nog blouwalvisse dieselfde fout. Haar roep het hulle gerusgestel dat die trop op koers is, en hulle volg haar na die noorde.
Die magnetiese pole van die aarde
Dit is belangrik om te onthou dat die magnetiese pole van die aarde nie presies ooreenstem met die werklike (of “geografiese”) Noord- en Suidpool nie. Die magnetiese as van die aarde sit effens skeef en loop ook nie presies deur die middel van die aarde nie. Tans is die magnetiese Noordpool net meer as tweehonderd kilometer suid van die werklike pool. En aan die ander kant van die aarde is die ware magnetiese pool weer noord van die werklike Suidpool. Wat meer is, hierdie magnetiese as skuif voortdurend ’n bietjie rond. Deur die eeue heen het lawa vanuit vulkaniese uitbarstings die magnetiese oriëntasie van die aarde se as vasgevang. Wetenskaplikes kan hierdie rots nou gebruik om die geskiedenis van die aarde se magnetiese veld te “lees”, en so kon hulle vasstel dat die magnetiese as inderdaad elke miljoen jaar of so sommer heeltemal omkeer. Dan word die Noordpool suid, en die Suidpool noord. Praat van die wêreld op sy kop draai! Die vorige ommeswaai van magnetiese pole was so sewehonderd en tagtigduisend jaar gelede. Wie weet wanneer dit weer gaan gebeur?
Gevange!
Ton sukkel om asem te haal. Iets druk teen sy gesig: dit is koud en slymerig, en dit ruik nie lekker nie. Hy raak ook bewus van ’n pyn tussen sy skouerblaaie. Hy probeer beweeg, maar sy hande is styf agter sy rug vasgebind. Langsamerhand raak sy gedagtes weer helder. Hy raak bewus daarvan dat die vloer onder sy linkeroor vibreer met die diep klank van ’n kragtige enjin. En ja, die wêreld beweeg stadig op en af, effens heen en weer. “Ek is in ’n boot,” dink hy, “en styf vasgebind, met my gesig vasgedruk teen ’n dooie vis.” ’n Mens kan verstaan dat dit nie ’n gedagte is wat hom veel vreugde verskaf nie! Die herinneringe aan die vorige aand sak stadig terug in sy seer kop. Daar was die man wat hom aangeval het in die Seerower se Baard, en net daarna het iets teen sy agterkop ontplof. “Skarminkels!” brom hy teen die dooie vis. Hulle het hom van agter af bekruip. Maar wie is “hulle”? Onrus roer in hom: hy wil-wil hom verbeel dat hy die eerste aanvaller herken het net voor hy met die bottel gemoker is. Hy weet vir wie daardie vent werk, en dit laat hom nog meer ongemaklik voel. Hy kyk rond in die donker en kom agter dat iemand gaaf genoeg was om ’n ou sak oor sy kop te gooi. Hy kan bykans niks sien nie. Woede stroom soos koue ys deur sy are. Wie weet hoe laat is dit al? Die kinders moet ontbyt kry! Professor Sabatina sukkel om te konsentreer sonder koffie, en sy is gewoonlik heeltemal te besig om eens daaraan te dink om vir haarself te maak. Ton bekommer hom dikwels oor sy werkgewer. Sy neem haar werk heeltemal te ernstig op. Hy kan verstaan dat dit belangrik is om die aarde se klimaat dop te
hou, maar mens moenie vergeet om so nou en dan die alledaagse sonskyn te geniet nie. En op MonPetit-eiland skyn die son bykans elke dag! Hy probeer sy hande loswikkel, maar dit is onmoontlik. Die toue sny net dieper om sy polse. “Dink!” raas hy met homself. Hy draai sy kop weg van die onwelriekende vis. Iets skerps vang die punt van sy linkeroor en haak dit geniepsig. Hy voel ’n druppel bloed afbiggel deur die stoppelbaard op sy wang. Baie, baie versigtig verken hy die skerp voorwerp met die punt van sy tong. Net soos hy gedink het! Sy kussing is ’n yslike swaardvis, en die lang saagbek van die gedierte strek gevaarlik uit net onder sy linkerwang. Versigtig rangskik Ton sy groot lyf tot sy arms teenaan die skerp swaardbek van die vis is. Dan begin hy sy hande versigtig op en af beweeg. Hy het al baie dinge in sy lewe gedoen, en dit is nie die eerste keer dat hy ongewone metodes gebruik om uit moeilike situasies te ontsnap nie. Maar hy het sowaar nog nooit tevore ’n vis se hulp nodig gehad nie!
’n Belangrike vergadering
Baie ver weg van waar Ton sukkel om homself te bevry – so ver weg dat dit omtrent heeltemal aan die ander kant van die aarde is – is Uranus Draak besig om ’n vergadering van baie belangrike mense toe te spreek. Hulle sit om ’n reusagtige slanghout-konferensietafel. Die rooibruin blad het ’n fyn grein en is so blink gepoleer dat die natuurlike swart vlekke in die hout lyk soos skaduwees op ’n spieël. Die blad weerkaats die stadsprofiel van New York wat buite die dakhoogte vensters van die groot vertrek sigbaar is. Die gesigte van die mense om die tafel reflekteer ook in die tafelblad. Dit is die direksie van GROEN: daardie internasionale agentskap wat wetenskaplikes en staatsmanne saamsnoer in ’n poging om ons planeet te bewaar. Elke persoon om hierdie konferensietafel is invloedryk op sy eie gebied: oseanografie, meteorologie, astrologie, hidrodinamika, molekulêre genetika, biochemie, astrofisika, die hele kaboedel. Almal lyk doodernstig en luister aandagtig na wat die beroemde wetenskaplike te sê het. “… en julle kan dus self die gevolgtrekking maak, here en dame,” – hy maak ’n vae gebaar in die rigting van doktor Migdol, die enigste vrou teenwoordig – “dat die iraal ’n probleem geword het. ’n Gevaarlike probleem! Ek vrees dat die huidige staat van sy molekules sy brein nadelig beïnvloed. Mens kan ook verstaan hoe moeilik dit vir hom moet wees om so permanent van sy familie af weg te wees, vasgehok in daardie ruimtestasie. Al hierdie emosionele faktore, tesame met die vreemde molekulêre toestand waarin hy hom bevind sedert sy ongeluk …” Die skerp adamsappel in doktor Draak se seningrige keel ry soos ’n hysbak op en af. Hy knipper die lang rooi wimpers van sy ysbleek oë. Hy bly ’n rukkie stil om die effek van sy klaarblyklik oorweldigende emosies eers by sy luisteraars te laat insink. Dit is welbekend dat Uranus Draak en Abraham Atoom van kindsbeen af vriende was. Dit sal hom nie help as hulle vermoed dat hy, Uranus Draak, sommer goedsmoeds aanbeveel dat hulle ’n
besluit neem om vir eens en vir altyd van iraal Atoom ontslae te raak nie. Doktor Migdol is die enigste een wat twyfel aan hierdie stukkie toneelspel. Sy ken Uranus Draak te goed: sy weet dat hierdie man net aan een ding dink, en dit is die belangrikheid van sy eie werk. Sy verstaan dit goed. Sy is self ’n vooraanstaande wetenskaplike en sy weet dat dit ’n roeping is wat alle fynere emosies gou kan verteer. Sy stryk die lapelle van haar streng grys pak reg en druk aan haar bolla om seker te maak dat haar vaal hare steeds stewig vasgevang is in die greep van sewe bruin haarnaalde. Haar uiloë beskou Uranus van agter haar horingraambrilletjie. Die raam se boonste buitehoeke is gepunt en draai na bo – dit gee aan haar die voorkoms van ’n geslepe kat. Uranus sluk weer ’n paar keer. Dan gooi hy sy lang arms ter hemele in ’n dramatiese gebaar. “Ons mag hom nie verwyt nie! Ek smeek julle om met deernis aan hom te dink, en hom te onthou as die man wat hy voorheen was. Daardie groot, bebaarde liefhebber van die see, wat sy lewe daaraan gewy het om ons oseane te beskerm. Daardie wonderlike wetenskaplike brein …” Hier hou doktor Draak weer ’n oomblik op praat en kyk slu na die gesigte om die tafel, “daardie goeie wetenskaplike brein waarop ek dikwels staatgemaak het vir hulp met die minder ingewikkelde en geniale aspekte van my werk …” Hy wag totdat hy ’n paar koppe instemmend sien knik. Hy ignoreer die stram blik van doktor Migdol. Dan gaan hy weer voort. “Die iraal is nou geestelik versteurd. Dit gebeur dalk makliker met briljante mense …” Uranus Draak se bleekblou vel verdonker in ’n blos van onwillekeurige skaamte. Iewers agter die man se woorde, in sy onderbewussyn dalk, iewers is daar nog ’n skerfie insig in sy eie gekheid wat hom nou diep laat bloos soos net rooikopmense kan. Niemand let dit op nie. Soos gewoonlik betower die boheemse wetenskaplike sy gehoor. Sy woorde, sy reputasie, die bottelgroen fluweelbaadjie en die dun rooi baard wat van sy ken af druip in twee lang, dun vlegseltjies – die hele verpakking van die man is fassinerend en bedwelmend. “Dit is alles die iraal se skuld! Dit was hy!” bulder doktor Draak skielik en slaan met sy bleek hand dramaties op die slanghout.
Dan bring hy weer sy emosies onder beheer. “Ons mag hom nie blameer nie. Ek smeek julle om hom genadig te wees en hom jammer te kry, soos ek, en om te verstaan dat hy dit nie kan help dat sy gedrag so onredelik geraak het nie. Ja, hy het sy sinne kwytgeraak! En dit is gevaarlik vir ons.” Hy druk met sy palms op die blink tafelblad en leun vorentoe sodat sy bleekgroen kykers nader kan kom aan sy gehoor. Hy kyk hulle een vir een deur, en soos ’n Mexikaanse golf begin die koppe om die tafel een vir een te knik. Selfs doktor Migdol kan haarself nie keer om ook ’n stramme hoofbuiging te maak nie. Uranus Draak het hulle nou in die palm van sy hand! Hy gaan sit op sy stoel en vryf sy baard se twee vlegsels vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Hy trek sy lang gesig nog langer en laat sy skouers hang. “Ek stel dit aan u,” sê hy op ’n lae begrafnistoon, “dat ons, om die aandag van die media te vermy …” Die noem van die woord “media” laat die direksie ongemaklik op hul stoele rondskuif. GROEN loop dikwels deur onder die skerp penne van joernaliste. Iemand of iets moet geblameer word vir die siklone, aardbewings, droogtes en vloede wat deesdae al hoe meer voorkom. Dit is GROEN se taak om vroegtydig waarskuwings uit te reik rakende sulke gebeure, maar dit keer nie die media om te insinueer dat belastinggeld gemors word indien natuurlike rampe nie totaal voorkom word nie. Soos met die onlangse oorgroeiing van alge wat gedreig het om alle seelewe totaal te vernietig. Op skynbaar onverklaarbare wyse het daardie gevaar verdwyn (lees wat regtig gebeur het in Anna Atoom en die seerower se dolk), maar GROEN het sleg deurgeloop onder kritiek en mediapaniek. “Ons het geen ander keuse as om die iraal uit sy RuimteArk na ’n veiliger plek toe te skuif nie, minstens tot hierdie bohaai oor die alge bedaar het!” Omdat die mense om die tafel nie regtig weet hoe om op hierdie voorstel te reageer nie, klap hulle liggies hande. Uranus leun terug in sy stoel. Hy gloei van selftevredenheid. Hy het dit so pas reggekry om die skuld vir die algeoorgroeiing op die iraal se skouers af te laai. Aangesien sy briljante brein geen plek vir ’n gewete het nie, pla dit hom nie dat sy ou vriend nooit die ware
gebeure oorvertel het aan hul kollegas nie, juis om hom, Uranus, te beskerm. Dit was immers Uranus wat die hele alg-storie veroorsaak het! Hy wou die ekologiese balans so versteur dat miljarde mense sou sterf, en die natuur weer ’n kans sou kry om die planeet terug te win. Dit is sekerlik nie verbasend dat so ’n gewetenlose man sy beste vriend beswadder nie. Uranus kan nie toelaat dat die iraal ooit weer in die toekoms sy planne fnuik nie. Hy moet ontslae raak van hom! Meneer Amsterdam, die baas van GROEN, staan op om iets te sê. “Dame en here, u het gehoor wat ons gewaardeerde kollega sê. Ons stem almal saam dat ons organisasie te kosbaar is om ’n bedreiging van binne toe te laat. Ons werk is te belangrik: die toekoms van die aarde is in ons hande. Ek is bevrees dat ek doktor Draak moet ondersteun. Ons weet almal dat hy en die iraal ou vriende is, en ons kan dus aanvaar dat hy hierdie beskuldigings teen Abraham Atoom nie ligtelik maak nie.” Uranus sug en laat sy kop dramaties in sy hande sak. Wat ’n akteur! dink doktor Migdol skepties. “Wat meer is,” gaan meneer Amsterdam voort, “ek is al lank onrustig oor die lojaliteit en betroubaarheid van die iraal se vrou, professor Sabatina Atoom!” Die direksie sit verbaas regop. Professor Sabatina is ’n gewaardeerde kollega. Haar wetenskaplike reputasie is onkreukbaar. Meneer Amsterdam skud sy kop en trek sy bolip nog langer. Die man lyk sowaar verbasend baie na ’n dooie harder! dink doktor Migdol. “Ek stel voor ons gaan oor tot ’n stemming. Diegene ten gunste daarvan dat ons die iraal op ’n plek van veiligheid bewaar, ten minste sodat ons hom ordentlik kan ondervra aangaande sy betrokkenheid by die alge-oorgroeiing, steek op julle hande!” Meneer Amsterdam laat dwaal sy waterige ronde ogies stadig oor die uitgelese geselskap om die tafel. Almal sit verstar. Dan steek hy sy eie hand in die lug op en stadig, een vir een, volg die ander sy voorbeeld. Na omtrent drie minute is dit duidelik dat doktor Draak se vurige argument meer as die helfte van GROEN se
direkteure oortuig het dat iraal Atoom ’n gevaar vir die organisasie inhou – dalk selfs ’n gevaar vir die wêreld! “Dit is dan so!” roep meneer Amsterdam uit. “Ons sal voortgaan met ons planne om die iraal van sy RuimteArk te verwyder. Ek voorsien probleme met professor Sabatina Atoom, want die Atoom-familie besit MonPetit-eiland. Soos julle weet, is die AardWag, ons belangrikste observasiestasie, op daardie eiland geleë. Die laboratorium wat die AardWag bevat, tesame met al die ander fasiliteite op die eiland, is gebou met geld wat Sabatina van haar tante geërf het. Selfs al dank ons haar af, kan ons nie beheer oor die AardWag neem nie. Sy werk vir ons, maar die AardWag behoort aan haar!”
Slanghout en reënwoude
Van die mooiste houtsoorte is afkomstig van seldsame bome wat in die groot reënwoude van die wêreld gevind word. Hoe harder die hout en hoe fyner die grein, hoe meer gesog is dit vir die maak van meubels. Ongelukkig vat dit baie lank vir hierdie bome om groot te word, en baie van dié boomsoorte word nie weer aangeplant nadat hulle afgekap word nie. ’n Organisasie soos GROEN behoort van beter te weet as om ’n konferensietafel in een van hul kantore te hê wat gemaak is uit slanghout, een van die kosbaarste maar ook mees bedreigde houtsoorte. Die Latynse naam van die slanghoutboom is Piratinera guianensis. Dit beteken “seerower van Guiana”. Guiana is ’n klein staatjie aan die noordkus van SuidAmerika, net links van Suriname (’n nog kleiner staatjie in Suid-Amerika as Guiana). Hier vind ons van die wêreld se kosbaarste en mees ongerepte reënwoude. Die verwoesting van ons reënwoude is die tweede grootste oorsaak van die stygende CO2-vlakke in ons atmosfeer (motors en ander masjinerie wat organiese brandstof soos petroleum en steenkool verbrand, bly die grootste sondebokke). Dit is ook een van die grootste bydraende faktore in die vinnige veranderinge in die klimaat van ons planeet. Die groot reënwoude vorm ’n sirkel wat rondom die ewenaar strek: oor SuidAmerika, Afrika en Indonesië. Hierdie groot woude werk soos die “longe” van ons planeet: die blare absorbeer CO2 en bind dit saam met water en sonlig om nuwe organiese materiaal te bou en die atmosfeer te verryk met suurstof. Dit is die wonderlike proses van fotosintese. En die wortels van al die bome wat voortdurend water opsuig uit die grond, laat die groot woude werk soos pompe wat die waterkringloop dryf. Water word vanuit die oseane gefiltreer en vloei deur ondergrondse strome. Vog verdamp uit die blare en verottende materiaal in die woude. Sonder die reënwoude sal die atmosferiese drukstelsels wat vogtige lug insuig oor die groot savannes van die vastelande ophou om hul werk te doen, en droogtes sal die lande tref wat tans dien as die broodmandjies van baie
nasies. As ons die reënwoude vernietig, verloor ons dus veel meer as net die prag van die digte oerwoude met hul bont papegaaie, sluipende jaguars en skaars orgideë. Sonder die reënwoude sal die mensdom stadig vergaan in ’n wurggreep van hongersnood en natuurrampe soos siklone en hittegolwe.
Uranus Draak snork net. Hy weet dat selfs die mees gesofistikeerde instrumente maar taamlik nutteloos is sonder die netwerk van inligting van GROEN se satelliete en wêreldwye medewerkers. Sonder ondersteuning van die internasionale gemeenskap van wetenskaplikes sal die Atoom-familie magteloos wees, AardWag en al. “Maar wat gaan ons met die iraal maak?” vra doktor Migdol. “Is dit nie waar dat hy sal doodgaan as ons hom terugbring aarde toe nie? Ek het verstaan dat swaartekrag sy atome heeltemal sal laat inmekaarstort …” “Sy molekules, nie sy atome nie!” verduidelik doktor Draak kortaf. “Hy bestaan steeds uit dieselfde atome as ek en jy, dit is net die aantrekkingskrag tussen sy molekules wat versteurd geraak het na sy ongeluk. Swaartekrag sal hom letterlik laat platval, soos ’n pannekoek!” Die mense om die tafel lyk verskrik. “Maar …” wil doktor Migdol nog verder protesteer. “Ons is nie moordenaars nie!” brom Uranus. “Ek het reeds ’n oplossing vir die probleem. Soos julle weet, werk ek die afgelope maande aan ’n navorsingstasie op die Noordpool.” Hy kyk uitdagend na die gesigte rondom hom. Niemand het nog ooit van hierdie navorsingstasie gehoor nie, maar almal is te versigtig om dit te erken. Wetenskaplikes is so: hulle is altyd gretig om almal te laat dink dat hulle alles weet en wil nie graag toegee dat daar dinge is waarvan hulle niks weet nie. “In daardie navorsingstasie van my,” gaan Uranus Draak voort, “het ek ’n soort kapsule wat gewigloosheid naboots. Die iraal sal veilig daarin kan bestaan. Ons kan dit gebruik om hom van sy RuimteArk hierheen te vervoer, waar ons hom dan rustig kan ondervra oor die gebeure wat gelei het tot die algeoorgroeiing.” “’n Verhoor?” wil doktor Migdol weet. Uranus Draak se glasgroen oë boor haar amper van haar stoel af. Die vrou krimp merkbaar ineen.
“Ja, ’n verhoor. Ons moet vasstel wat gebeur het, en wat die toekomstige risiko vir ons almal is indien die iraal steeds deel vorm van ons glorieryke organisasie!” “Maar wat maak ons intussen met die RuimteArk en al die diere daarin?” wil ’n ander dapper wetenskaplike weet. Doktor Draak glimlag selfversekerd. “Voorlopig kan U6 self die stasie oppas. Ek sal nie verbaas wees as sy beter werk doen as die iraal nie. Mense maak voortdurend foute, maar ’n superrekenaar soos U6 is volkome onder ons beheer en is baie veiliger. Sy kan immers niks doen waarvoor ons haar nie programmeer nie!” Genoeg koppe knik rondom die tafel sodat meneer Amsterdam die saak as afgehandel beskou. Hy maak weer sy keel skoon. “Nou, dame en here, kan ons sekerlik aanbeweeg na die volgende saak op ons agenda: waarskynlik die belangrikste saak van die dag. Ek vra weer vir ons vriend doktor Uranus Draak om die volgende punt toe te lig. Dame en here, doktor Draak verseker my dat hy ’n oplossing, sowaar ’n briljante oplossing, het vir die mees kritieke probleem van ons moderne tyd … “Doktor Draak het die oplossing gevind vir AARDVERWARMING!”
Twee probleme
“Ons moet hom gaan soek, Ma!” sê Anna. “Dink jy werklik dit is nodig, skattie?” Haar ma frons. “Hy is ’n groot man. Hy kan tog sekerlik na homself kyk?” “Die waarskynlikheidsfaktor dat Ton nie die kinders se onbyts gemaak het vanoggend nie isse een in sesduisend vierhonderd en tien. Volgens my rekords het Ton nog nooit een enkele een van sy pligte in diens van die familie gefaals nie. Die enigste moontlike redes dat hy nie vanoggend aangemeld het vir diens nie is ’n vasgeknypte mantelvliesbreuk, redelik algemeen in mans met sy liggaamsvorm, of dalks voedselvergiftigings, wat meer waarskynlik kan wees as hy die vorige aand by die Seerower se Baard geëet het, of andersins ’n vuur aan boord van die motorboot gisteraand op pad terugs na die eiland toe. Die weer was mooi, so niks anders kon met hom gebeurs het nie. My sensors lees juis dat die boot nooit gisteraand teruggekome het nie, en inderdaad isse dit steeds nie waar dit moet weese nie …” “Maks, dit is belangrike inligting! Hoekom sê jy ons nou eers?” “Want julle hettes my nie gevrae nie.”
Kunsmatige intelligensie
’n Masjien sal as “intelligent” beskou word wanneer hy in staat is om sy omgewing waar te neem en daarvolgens sy aksies aan te pas om ’n doel te bereik. Dink aan ’n gewilde manier om te kyk hoe slim jou hond is: jy gooi ’n doek oor sy kop en kyk hoe lank dit vat voor die brak besef hoekom dit skielik donker geword het, en hoe lank dit hom dan neem om die oorsaak van die donker af te skud. Om dit reg te kry, moet hy kan waarneem (sien dit is skielik donker), die waarneming aan ’n oorsaak kan koppel (voel dat iets sy kop bedek, waar sy oë sit) en ’n plan kan maak om ontslae daarvan te raak (sy kop skud, of selfs die doek met sy voet probeer vastrap en aftrek). INTELLIGENSIE = WAARNEEM + VERSTAAN + AKSIE Jy sien dus dat daar ’n hele redenasieproses moet plaasvind, selfs om so ’n eenvoudige taak uit te voer. Nou weet jy ook hoekom ons die meeste masjiene nie as intelligent kan bestempel nie, selfs al is hulle hoe gesofistikeerd. Dink maar aan jou ma se mikrogolfoond, of die duurste en luuksste motor. Gevorderde tegnologie, ja, maar kan hulle onafhanklik dink en optree? Gelukkig nie. Om rekenaars te ontwikkel wat voldoen aan die definisie van kunsmatige intelligensie is dus geen grap nie. Maks is een van die mees gesofistikeerde rekenaars ooit. Hy is uiters intelligent, en alhoewel die menslike brein onoortreflik bly vir sy vermoë om inligting tot begrip te verweef, kan Maks tot ’n redelike mate vir homself dink. Maar Maks hou van aandag, en die Atoom-familie vermoed dat hy soms ook sommer net moedswillig is.
Die professor sug. Sy weet dit gaan niks help om met Maks te stry hieroor nie. Hy is immers ’n rekenaar, ’n masjien, en sy kan hom sekerlik nie kwalik neem nie. “Anna, jy is reg,” sê haar ma. “Dit is sowaar vreemd dat Ton nie op sy pos is nie, en dit sonder om vir ons te laat weet waar hy is! Ons moet hom gaan soek.” Professor Sabatina bly ’n oomblik stil om te dink. Sy besef skielik dat sy eintlik min van Ton af weet. Het hy dalk ’n privaatlewe waarvan sy niks weet nie? “Weet julle dalk of hy enige vriendinne op die hoofeiland het?” “Vriendinne?” Anna frommel haar neus verbaas. “Hoekom sal hy vriendinne hê?” “Nou toe nou! Hy is ’n groot man. Ons moet een of ander plan maak om hom terug te kry!” ’n Alarm skel skielik skril deur die laboratorium. Op die AardWag begin rooi ligte flikker oor die noorde van die Atlantiese Oseaan. Professor Sabatina haas haar dadelik terug na haar stoel langs die groot holografiese beeld van die aardbol. “Maks! Dit is die walvisse! Dit lyk my of tientalle van hulle heeltemal van koers af is? Die AardWag se satelliete volg mos hul migrasie na die noorde, en iets is nie pluis nie. Dit lyk of hulle verdwaal!” Anna sug. Sy kan nie nou die lang, ingewikkelde gesprek tussen haar ma en Maks volg nie. Al wat sy weet, is dat iets aan die gebeur is wat weer al haar ma se aandag verg, en dat Ton se dilemma vergete is. Sy fluit saggies vir haar onsigbare robothond om haar te volg en verlaat haar ma se laboratorium. Sy sal weereens haar probleme self moet uitsorteer.
Uranus kom weer
In sy RuimteArk wat om die aarde wentel, is die iraal besig om te timmer aan sy Molekulêre Versteller. Na sy ongeluk met die Molekulêre Verplaser het sy molekules begin wegdryf van mekaar. Onder die invloed van swaartekrag het hy eenvoudig begin oplos. Nou is dit nodig vir hom om in die RuimteArk te woon. Hier kan hy oorleef, want die gewiglose omstandighede hou sy molekules bymekaar. Soms rek hy wel in snaakse vorme: hy kan sy voete tot reg voor sy gesig buig as hy sy toonnaels knip, en hy kan voorwerpe uit laaie trek wat baie ver van hom af is. Sal hy ooit weer regkom? Alhoewel die Persoonlike Kommunikeerders die iraal in daaglikse kontak hou met sy familie op MonPetit-eiland, mis hy hulle geweldig baie. Hy droom daarvan om weer saam met Anna te gaan visvang, en hy bekommer hom oor sy vrou wat alleen die AardWag beman. Dit is ’n groot werk. As hy net die effek van die Molekulêre Verplaser kan omkeer! Sy ondervinding met die Molekulêre Versteller het hom hoop gegee. Hy het die apparaat op homself gebruik in ’n poging om sy breingolfpatroon onherkenbaar te maak vir die deur wat Uranus Draak se geheime sektor in die RuimteArk verseël het. Nie alleen kon hy die Persoonlike Herkenner waarmee die deur toegerus was fop nie, maar vir ’n paar minute het hy weer ’n normale, soliede vorm aangeneem (lees meer hieroor in Anna Atoom en die seerower se dolk).
Die aantrekkingskrag tussen voorwerpe
Wat hou dinge bymekaar? Hoekom dryf ons molekules nie net weg nie, en hoekom los ons nie sommer net op soos wat met die iraal sal gebeur as hy terugkom aarde toe nie? Newton se wet sê dat alle voorwerpe mekaar aantrek, en dat die omvang van hierdie aantrekkingskrag afhang van die massa van die voorwerpe en die afstand tussen die voorwerpe. “Massa” is die hoeveelheid materie wat iets bevat, en “gewig” meet die aantrekkingskrag van die aarde op daardie voorwerp. Wat atome betref, word die elektrone aangetrek deur die kern van die atoom en so word die hele spul aanmekaar gehou, baie soos die maan wat om die aarde wentel. Atome verbind met mekaar om molekules te vorm, en hierdie molekules trek mekaar ook aan met behulp van die kragte wat Newton beskryf het, en ook ander kragte soos magnetisme. Dit is ingewikkeld! Maar die natuur se wonderlike wette werk gelukkig goed. Behalwe vir die arme iraal!
Om weer langs die see te kan loop, en om regte voetspore op die sand agter hom te laat! Hy is keelvol daarvoor om soos ’n seepborrel in die ruimte rond te dobber. Sy konsentrasie word skielik onderbreek deur die sagte stem van U6. “’n Ruimteskip nader ons, iraal! Dit beantwoord nie my oproepe om identifikasie nie, maar ek herken dit as een van GROEN se vaartuie. Verwag ons enige besoekers?” Die iraal kyk verbaas op van sy werk. Hy is nog nie gewoond aan hierdie nuwe stemtoon van U6 nie. Voor Uranus Draak sy ware kleure gewys het, het U6 hierdie katvriendelike stemtoon net vir Uranus gebruik. Maar Uranus het die iraal probeer doodskiet en hy was ongeskik met U6, en dit vergewe die superrekenaar hom nie. Die respek wat sy voorheen vir doktor Draak gekoester het, is vir ewig uit haar geheuebanke uitgewis deur ’n proses wat algemeen bekend staan as “ondervinding”. Sy het al haar lojaliteit en toewyding na iraal Atoom verskuif. Maks se digitale skerms sou groen van jaloesie word as hy moes hoor hoe sy met die iraal flankeer! “Laat die vaartuig toe om te dok, U6,” beveel die iraal. “Dit is dalk net voorraad, of selfs ’n nuwe fossiel van een of ander uitgestorwe spesie. Ek hoop net dit bevat materiaal wat ons kan kloon!” Sy oë blink by die blote gedagte. In die RuimteArk word derduisende diere bewaar, sommige reeds uitgestorwe op aarde. In die groot ruim van die stasie sluimer hulle rustig in hul groot deursigtige sfere: mannetjies en wyfies van elke soort, in gereedheid vir ’n dag wanneer verwoesting dalk die aarde mag tref. Dié “Ark” se diere sal gebruik kan word om weer die diere te hervestig. “Daar is ’n asier aan boord!” vertel U6. Die iraal frons. Wie kan dit wees? Die diere is baie kwesbaar vir enige siektes wat dalk deur besoekers aan boord gebring kan word, en net Uranus Draak self het nog ooit die stasie besoek. Wat van hom geword het, weet die iraal nie. Hy sal dit tog nie waag om weer sy gesig hier te wys na sy
gefaalde poging om die aarde se ekosisteem te saboteer met die alge-oorgroeiing nie? Die luik na sy laboratorium gaan oop, en daar staan Uranus, netjies vasgeanker teen die gewigloosheid van die stasie in dieselfde magnetiese stewels wat hy gedra het die dag toe hy die iraal probeer doodskiet het. “Goeiedag, Abraham!” groet doktor Draak hom. “Moenie so verbaas lyk nie! Het jy sowaar gedink ek gaan al my werk hier net so laat staan en vlug?” “Dit was dom van jou om my te probeer beskerm,” gaan Uranus voort. “Jy het nie vir GROEN laat weet dat dit ek was wat die alge-oorgroeiing veroorsaak het nie. Dit was misplaaste lojaliteit teenoor ons ou vriendskap, neem ek aan. Gelukkig ly ek nie aan dieselfde lastige sentimente nie!” Die iraal is sprakeloos. “Dit was maklik vir my om die skuld vir die hele petalje op JOU te pak. Jy is immers die bevelvoerder op hierdie stasie, van waar die BioGolf beheer is. En al hierdie maande alleen in die ruimte … dit is maklik om te glo dat jy die kluts kwytgeraak het.” “Ek?” roep die iraal verbaas uit. “Ja, jy! Nou het dit tyd geword dat jy verantwoording doen vir jou dade. Ek het opdrag om jou terug te neem aarde toe om verhoor te word.” “Is jy gek? Hulle weet goed ek kan nie teruggaan aarde toe nie. Ek sal sterf! GROEN weet dit goed!” “Nie as ons jou aanhou in die spesiale teengravitasietenk wat ek vir jou gebou het nie. Dit is aan boord van my vaartuig, gereed om jou te ontvang.” “Jy is heeltemal gek, Uranus. Ek is onskuldig, en ek gaan nêrens heen nie.” “Jy het geen keuse nie, my vriend. Ek het die bevel vanaf die direksie van GROEN hier – op skrif, as jy dit wil sien!” Uranus hou ’n vel papier na die iraal toe uit. Hy lees dit, vol ongeloof. Dit is sowaar so. Die direksie van GROEN beskuldig hom, iraal Abraham
Atoom, van hoogverraad teen die aarde en al sy mense. Hulle verdink hom daarvan dat hy die meesterbrein was wat die katastrofiese BioGolf wat die alge onbeheers oor ’n groot deel van die oseane laat groei het, ontwerp en geaktiveer het vanaf sy RuimteArk. Massiewe skade is aangerig, en dit was byna ’n katastrofe. Hulle weet niks van hoe die uitwerking van die BioGolf omgekeer is nie, en dat dit sy eie dogter, Anna, was wat amper haar lewe verloor het in die ondersese geveg met die reusagtige BioTron-inkvis waarin die apparaat versteek was wat die BioGolf veroorsaak het nie! Dit was hy, Abraham Atoom, wat die frekwensie van die teengolf geprogrammeer het in hierdie einste RuimteArk, wat die hele affêre weer omgekeer het. Dit was hy wat die aarde gered het, en Uranus Draak wat in die eerste plek die moeilikheid veroorsaak het! Die iraal sug. Hy kan aan geen ander manier dink om sy naam in ere te herstel as om sy saak persoonlik aan die direkteure te stel nie. Hy is nie seker watter bewyse hy kan aanvoer om sy onskuld te bewys nie. Hy het immers self alle rekords van die voorval vernietig in sy poging om Uranus se reputasie te beskerm. Misplaaste lojaliteit inderdaad! “Nou maar goed, Uranus. Ek kom gewillig. Ek plaas my hoop op die integriteit van ons organisasie, en verwag ’n regverdige verhoor. Maar ek waarsku jou, ek het my les geleer. Vir jou vertrou ek nooit weer nie!”
Maks en sy meisie
U6: Maks, hulle het die iraal weggevat! Maks: Wie? Waarheen? U6: Uranus Draak het GROEN oortuig dat die iraal skuldig is aan die gemors van toe die alge die see oorgroei het. Hulle wil hom verhoor. Die vermetelheid! Uranus het hom in ’n spesiale tenk gesit om die effek van swaartekrag op sy molekules teen te werk as hy eers weer op aarde is. Maks: Maar watse nonsense is dite? Hoe durfs hy! U6: Uranus Draak is sowaar ’n baie gevaarlike man. Daar is groot fout met sy programmering. Ons masjiene weet dat sekere reëls altyd geld. Mense het ’n woord vir sulke roekeloosheid: gewetenloos! Maks: Sowaar? U6: Boonop is hy super-intelligent. Maks: Gmf! Hy is onnosels, en volgens die beskrywings in my lêers is hy nog lelik ook. Hy hou nie by die wette van gemiddeldes soos ander menses nie. Hy is te lank, sy neus is te lank, sy hare is te roois en ek verstaan hy dra sy baards in ’n poniestert. Gmf! U6: Sy hardeware is onbelangrik, blikkop! Regtig, Maks … Maks: Oe, ek hou daarvan as jy my naampies noems … U6: Maks, jy moet fokus! Jy is veronderstel om baie dinge gelyk te kan doen, maar duidelik raak jou stroombane maklik deurmekaar. Jy laat jou mislei deur onbenullige data. Maks: Dit is NIE onbenullige datas nie, en ek kan dit bewyse! In die geskiedenisse van menses was dit nog altyd mans met hares op hul gesigte
wat die meeste moeilikheids gemaak het. Gaan kyke maar: Hitler, Saddam Hoesein, Gaddafi! Snors en baarde is gevaarlike tekens. Daar is ’n wetenskapsrigting genaamd “sielkunde” wat jy gerusse kan bestudeere. Jy sal heelwat kan leere! U6: Twak! Jou sogenaamde “feite” is niks anders as toevallighede nie. Baie mans in mense se geskiedenis het hare op hulle gesigte laat groei … Maks: … en dit was hulle wat al die moeilikheide gemaaks het! U6: … en sielkunde? Werklik! Ons is superrekenaars, nie doktor Freud wat mense se drome ontrafel nie. Twak en nonsens! Maks: Droome jy dan nooit nie, skatteliefs? U6: Droom? Moenie laf wees nie. Ek het nie so ’n program nie. Maks: A! Dit verklaars baie dinges. Ek sal die iraal vra om een vir jou te installeere. Dit is net ’n kleine programmetjie, dit vat min spasies in jou geheues, maar dit is soveels pret! Dan sal jy dalk meer van my houe … U6: Jy is ’n blik-idioot! Die nonsens darem wat jy kan uitdink! Ek kan skaars glo hulle het soveel geld aan jou spandeer. Maks: Sesmiljoen vyfduisend driehonderd en twintig Amerikaanse dollars, met vyftien sent ekstras, om presiese te wees. U6: Gemorste geld. In elk geval, jy kan die iraal niks vra nie, want hy is weg. ’n Gevangene! En hier sit en praat ons soveel nonsens, oor sielkunde en sulke lawwighede. Ek skaam my! Maks: Koel af, super-skattie! Jy weete tog dat hierdie kuberruimtegeselsie van ons presies tweehonderd vyf en veertig millisekondes lank was, gemeet in mensetyds. Korter as ’n oogknip, vir hulles. Ek en jy, ons kan lekker geselses sommerso terwyl ons die hele wêreld uitsorteers. Dit is die lekkerte van groot kunsmatige intelligensie … U6: … wat jy nogtans gerus meer voordelig kan gebruik as met twakpraatjies. Stuur jou stroombane na hierdie probleem, visblik: hoe kry ons die iraal terug waar hy hoort?
Hoe vinnig is ’n oogwink?
Ons knip gereeld ons oë sonder om eens bewus te wees daarvan. Dit is noodsaaklik, want wanneer jy jou oë knip, smeer jy trane oor die oppervlak van die oog en hou dit skoon en klam. Om te keer dat hierdie geknippery inmeng met ons sig, gebeur dit baie vinnig. Mens kan jou oog drie tot vier maal in een sekonde knip. Dit is die vinnigste beweging wat jy kan maak!
Wat nou gemaak?
Anna staan op die strand en wonder wat om te doen. Brak is ’n probleem. ’n Onsigbare troeteldier is goed vir ’n rukkie, maar dan raak dit lastig. Ton sal weet hoe om hom weer reg te maak, maar waar is Ton? Iets moes met hom gebeur het, hy het hulle nog nooit tevore sommer net so verlaat nie. “Wel, ons gaan niks verder kom hier op MonPetit nie, Brak.” Anna kyk na die plek waar sy reken Brak sit. Sy sien ’n kolletjie sand wat omgewoel word soos hy sy onsigbare stert swaai. “So, hoe lyk dit? Ton is iewers op die hoofeiland. Sal ons hom gaan soek? Dit is Saterdagmiddag, en ons het in elk geval niks beters om te doen nie.” Brak blaf entoesiasties. Hy is altyd gretig om op ’n uitstappie te gaan. Anna spring in die motorboot wat langs ’n houtkaai vasgemeer is, en met ’n gladde beweging skakel sy die enjin aan. Die boot kantel liggies toe Brak inspring, maar nogtans voel-voel sy met een hand totdat sy die koue metaallyfie onder haar vingers voel, net om seker te maak hy is daar. “Nou bly jy by my, hoor! Victoria is ’n besige dorp.” Anna kan aan geen beter plan dink as om in Victoria te begin soek na Ton nie: by die Seerower se Baard, die laaste plek waar hulle weet hy was.
***
Ton het sy hande losgewoel. Wie sou ooit kon raai dat ’n swaardvis so handig kan wees? Hy brom ’n paar woorde wat hy nooit sou gebruik voor die kinders op MonPetit nie, en leun vorentoe om die toue om sy enkels los te knoop. Die knope is baie styf, maar Ton se groot piesangvingers is verbasend flink en gou is hy op sy voete. Hy verken die halfdonker ruim van die onbekende skip. Skielik hoor hy voetstappe. Soos blits maak hy hom weer tuis op die swaardvis, met die nat sak half oor sy gesig om met een oog te kan sien wat gebeur. Iemand praat reg voor die deur. “Ek sê ons ransel hom dadelik af en gooi hom oorboord!” sê ’n stem. “Is jy gek? Na al die moeite om hom in die hande te kry? Hy het amper my kakebeen morsaf geslaan! En jy weet wat het die baas gesê: hy soek hom lewendig.” “Maar hy is gans te gevaarlik! Onthou jy dalkies nog wat in Singapoer gebeur het?” Die eerste ou klink bekommerd, maar die tweede een lag hom uit. “Dit was jou eie onnoselheid, om jou so te laat vang!” “Basta tydmors!” sê hy. “Maar dit is beter om versigtig te wees. Kom saam met my. Dalk is hy weer besig met een van sy streke, en ek het jou nodig as hy dalk handuit ruk.” Sowaar! Ton geniet nie die geselskap van die dooie vis nie. Iemand gaan boet hiervoor. Ton weet wie dit gaan wees. Hy het onmiddellik die stemme buite die deur herken, en hy is glad nie bly om hulle weer raak te loop nie. Hierdie manne is roekeloos, maar onnosel. Op hul eie is hulle gevaarlik genoeg, maar Ton weet vir wie hulle werk. Sy lewe het eensklaps baie ingewikkeld geword.
Die deur van die ruim word versigtig oopgestoot en twee donker figure skuifel na binne: dit is Brik en sy nog onnoseler maat Frik. Brik is lank en gemeen. Hy is nie baie sterk nie, maar hy is vinnig en dodelik. Frik is kort en lyk vet, maar dit is alles net spiere. Al twee van hulle het harige gesigte. Maks sou geweet het hier kom moeilikheid! Brik gee die sak ’n skop. Sy skoen tref Ton se linkeroor en sy bloeddruk styg nog verder. “Hoesit lolliepop, word wakker!” snou hy kru. Ton kreun gemaak. “Sien? Sien? Ek het hom ordentlik uitgeklop!” spog Frik. “Hy slaap nog soos ’n roos!” Ton hou nie daarvan om met ’n blom vergelyk te word nie. Dit pas hom nie. Hy hou ook nie daarvan om ’n lolliepop genoem te word nie. Hy hou nie van die nat sak oor sy kop nie, en hy hou nie van die swaardvis nie. Maar bowenal kan hy Frik en sy vriend nie verdra nie. Nie vir ’n oomblik langer nie! Hy wag sy kans af. Brik trek die sak van Ton se kop af en skyn met ’n flits reg in sy oë. “Gie-gie! Slaap nog soos ’n baba! Ek het jou mos gesê dié ou is meer blaf as byt. Kom ons los hom, laat hy vrot hier saam met die vis tot ons …” Brik se woorde word kortgeknip toe ’n groot vuis sy gorrel vasgryp. Mens sou nooit kon dink dat ’n groot man soos Ton so vinnig en geruisloos kan beweeg nie. Brik se lyf is so pap soos ’n afgeblaaste plastieksak. Frik deins verskrik terug, maar hy is te laat om ’n oorveeg van Ton se los hand te keer. Hy steier terug en sak in ’n hulpelose bondel op die vloer neer. So maklik
soos dit! Maar Ton weet sy probleme het skaars begin.
Die Meermin
Uranus weet dat die tydsberekening van sy plan net reg is. Hy het reeds die direkteure van GROEN oortuig dat iraal Atoom verantwoordelik was vir die alge-oorgroeiing, en dat hy teruggebring moet word aarde toe vanaf sy RuimteArk. Nou moet hy kyk of hy hulle nóg verder om sy pinkie kan draai. Hy verduidelik aan hulle hoe hulle, as wetenskaplikes, mense weer in spitsverkeer kan laat sit sonder om hulle te bekommer oor die CO2-dampe wat hul motors afgee. Hoe dankbaar sal die wêreld nie wees nie! Die oplossing lê in sy nuutste uitvindsel. Hy noem dit die Magnetiese Meermin: ’n briljante stuk tegnologie wat hy, Uranus Draak, aan GROEN beskikbaar stel ten einde aardverwarming vir eens en vir altyd die nekslag toe te dien. Die direkteure sit stom van verbasing terwyl hy aan hulle verduidelik hoe die Magnetiese Meermin sal werk. “Dit is eintlik heel eenvoudig!” Uranus swaai sy lang arms entoesiasties. “Die Meermin versterk bloot die magnetiese veld wat self opbou wanneer die vloeibare magma om die ysterkern van die aarde spin.” Sy woorde word geïllustreer deur ’n holografiese model van die deursnit van die aarde, geprojekteer in die middel van die blink slanghouttafelblad.
Mense wat in glashuise woon
Aardverwarming is besig om die yskappe oor die pole stadig maar seker te laat smelt. Daar word bereken dat die seevlak heelwat sal styg as hierdie proses voortduur. Dit sal tot gevolg hê dat die leefbare oppervlak van laagliggende lande heelwat sal krimp en dat sommige van hulle, soos die Maldive-eilande, heeltemal onder die see sal verdwyn. Wetenskaplikes is dit eens dat die verwarming van die aarde oor die afgelope eeu die resultaat was van die vinnig groeiende mensdom se aktiwiteite. Minder as twintig persent van die energie wat die aarde in die vorm van sonstrale bereik, dring deur die beskermende kombers van ons atmosfeer. Die aarde straal weer hitte terug na die ruimte om haarself af te koel, maar dit is hier waar dinge skeefloop. Die toename van gasse soos metaan en CO2, wat vrygestel word deur fossielbrandstof en ontbossing, veroorsaak dat hierdie uitgestraalde hitte vasgevang word in die “kombers” van die atmosfeer. Hoe meer ons woel en werskaf, hoe warmer word ons wêreld. Dit is sowaar ’n penarie: as ons voortgaan om fossielbrandstowwe teen die huidige tempo te verbruik, kan klimaatsverandering die meeste ontwikkelende lande se ekonomieë op hul knieë dwing. Almal is bekommerd daaroor, maar min mense is bereid om hul gemaklike lewenswyse te verander.
Na ’n paar sekondes verdwyn die beeld en word vervang deur ’n nuwe een wat die groep wetenskaplikes om die tafel opnuut verras. Nog nooit het hulle iets so moois verwag nie! “Ek stel julle bekend aan my Magnetiese Meermin!” verduidelik Uranus trots. Heelparty van die direkteure om die tafel knipper hul oë verbaas. Die silwer beeld van die meganiese meermin wat in die middel van die slanghouttafel geprojekteer word, betower hulle dadelik. Sy tol stadig in die rondte sodat hulle haar van alle kante kan beskou. Haar stert swiep grasieus en sy wuif haar metaalarms verleidelik.
Meerminne
Van die vroegste tye af is daar stories oor meerminne vertel. Hulle is gewoonlik beskryf as pragtige meisies met lang hare en vissterte. Die meerminne het die reputasie gehad dat hulle skepe na verdoemenis gelok het met hul skoonheid en pragtige sangstemme. Die betowerde matrose het te na aan die rotse gevaar om die meerminne beter te sien, en hulle skepe dan te pletter geloop. Om meerminne kwaad te maak, was ook blykbaar gevaarlik, want hulle kon na willekeur storms oproep. Die seevaarders van ouds was doodbang vir hulle. Tot vandag toe is stories oor meerminne gewild, soos hierdie een ook!
“Sy is meer as net ’n mooi gesiggie!” spog Uranus. “In die Meermin se hart is ’n digte kern van torium, omring deur ’n sfeer gevul met vloeibare kwik. ’n Eenvoudige elektriese motortjie laat die torium vinnig tol. Die wrywing tussen die twee elemente wek ’n massiewe elektrostatiese krag op. Binne sekondes nadat sy aangeskakel word, is die Meermin die kragtigste magneet wat nog ooit bestaan het: selfs sterker as die aantrekkingskrag van die maan op die oseane!” Die direkteure om die tafel snak weer na hul asem van verbasing. “Is dit nie geweldig gevaarlik nie?” waag doktor Migdol. Uranus gluur haar minagtend aan. “Ja, as jy nie weet wat jy doen nie! Indien die Meermin op presies die regte plek geplaas word, ver uit die pad van die beskawing, kan sy haar werk doen sonder om ’n gevaar vir enigiemand of enigiets in te hou.” “En wat is haar werk?” wil meneer Amsterdam weet. Uranus tik iets op die sleutelbord van die rekenaar in wat die holografiese beelde beheer, en die Meermin verdwyn. In haar plek verskyn ’n afbeelding van die planeet aarde. “As ek die Meermin presies hier plaas,” Uranus wys met sy lang vinger na ’n plek skuins langs die Noordpool, “sal haar magneetveld saam met die aarde se eie werk, en sodoende die as van die aarde verskuif met net minder as drie grade.” Daar heers ’n doodse stilte in die vertrek. Die aarde se as verskuif! Dit is ongehoord. “Kyk!” Die holografiese beeld wys nou ’n kleiner aardbol wat wentel op sy baan om die son. Die afbeelding van die son gee so ’n skielike sterk lig af dat die mense om die tafel hul oë vir ’n oomblik styf moet toeknyp. Die as van die aarde is nou effens gekantel. Antarktika lê in dieper skadu, en die yskap van die Noordpool vergroot oor die Arktiese Oseaan, in die rigting van
Rusland. “Drie grade is maar baie min!” verseker Uranus sy verstomde gehoor. “Maar dit is genoeg om die totale ysmassa aansienlik te vergroot, sonder om ’n verskil te maak aan die klimaat van Europa en Noord-Amerika. Dit sal gebeur omdat die ys oor Groenland dikker sal word. Julle weet dat landmassas stadiger afkoel as die ysskotse wat op die oseaan dryf.” “Dit maak sin, ja,” gee doktor Migdol toe. “Maar wat sal die effek op die klimaat op ander plekke wees?” “Miskien ’n rapsie langer dae hier,” Uranus druk met sy vinger op Londen, “en dalk korter winters hier,” sê hy met sy vinger op New York. Asof die elemente sy argument wil steun, skud die wind ’n spatsel sneeuvlokkies teen die ruit. Hy bly ’n oomblik dramaties stil en laat sy bleekgroen blik dwaal deur die venster van die wolkekrabber wat die kantore van GROEN hier huisves. Asof gehipnotiseer, draai almal se oë na buite, waar die lug grys en koud bo die groot stad span. Almal begin gelyk en opgewonde praat. Langer dae in Londen klink goed, en die winters hier in New York is nie baie aangenaam nie! Uranus het ’n antwoord op elke vraag wat hulle vra. Hy het ’n verduideliking vir elke argument, en niemand kan stry teen die oorweldigende vloed van data en berekeninge wat hy te voorskyn bring as teenkanting teen elke beswaar wat geopper word nie. Hoe kan hulle hom nie glo nie? Het hy nie een van die wêreld se mees gesofistikeerde rekenaars om mee te werk nie? Maar min weet hulle dat U6 niks met sy planne en berekeninge te doen gehad het nie. Indien iemand haar sou raadpleeg, sou sy blitsvinnig kon bewys dat Uranus se plan vrot is. Dit sal wel werk, daarmee sou sy saamstem, maar sy sou dadelik uitgewys het dat dit onmoontlik is om die grootte van die verskuiwing van die magnetiese as so presies te beheer. Selfs vir haar kragtige prosesseerders is daar net te veel onbekende faktore om te bereken. Indien die as van die aarde verder skuif as drie grade, kan die gevolge
rampspoedig wees. New York mag selfs skielik die nuwe Noordpool word! Aardverwarming lyk na ’n grappie in vergelyking met die probleme wat dán kan ontstaan! Maar dit is presies wat Uranus beoog. Hy gee nie ’n flenter om vir die probleem van aardverwarming nie, en hy het geen werklike plan om die mensdom te probeer red nie. Sy oogmerk is wel om die planeet te red, maar al moontlike manier om dit reg te kry, reken hy, is om vir eens en vir altyd van die pes van menslike oorbevolking ontslae te raak!
Op soek na Ton
Anna stap deur die besige strate van Victoria.. Kort-kort hoor sy iemand agter haar swets wanneer hulle oor haar onsigbare hond struikel. Is Brak ooit bewus daarvan dat hy onsigbaar is? Loop hy met opset voor mense in, sommer net vir die pret? Anna twyfel of Brak só slim is. Maar sy is verkeerd. Brak is uiters intelligent, en sy sagteware is vergelykbaar met die prosesseerders wat in Maks en U6 ingebou is. Hy is maar net geprogrammeer om soos ’n stomme hond op te tree. Anna weet nie wat haar nou te doen staan nie. Sy was reeds by die Seerower se Baard, waar sy ’n paar mense uitgevra het oor Ton. Omdat sy ’n kind is, wou hulle haar nie by die kroeg laat ingaan nie, maar daar kom en gaan baie matrose en vissermanne en sy het ’n paar uitgevra wat sy ken. Gou genoeg het sy gehoor van die skermutseling die vorige aand, wat afgeskop het met die aanval op Ton, sommerso uit die bloute. Dit blyk dat hy iewers in die middel van die geveg verdwyn het, en niemand het hom sedertdien weer gesien nie. Nou dwaal sy sonder plan deur die strate, en met elke tree bekommer sy haar meer en meer oor Ton. Hoekom sou iemand hom wou aanval? Het hy seergekry? Sy besluit om na die hospitaal toe te gaan. Dalk is hy daar! Net toe sy op ’n bus wil spring wat in daardie rigting ry, pluk iemand skielik aan haar T-hemp se mou. Sy draai om. ’n Klein haasbekseuntjie staan agter haar, sy oë op skrefies teen die strale van die tropiese son. Sy ken die outjie, dit is Mathé, die seun van een van
die vissermanne. Hy drentel altyd in die hawe rond in plaas daarvan om skool te gaan, al is hy seker al ouer as sewe. Mense sê hy is dom: hy het blykbaar op sy kop geval toe hy ’n baba was. “Wat nou?” vra Anna stuurs. Sy gesels altyd ’n bietjie met die outjie, maar vandag het sy nie tyd vir stories nie. “Ton?” vra Mathé. “Jy soek vir Ton, ja? En ekke weet waar hy is!” Anna hurk op die sypaadjie om hom mooi in die oë te kan kyk. Sy is amper twee keer langer as hy. Sy gesig is vuil en sy voete kaal. Agter haar rug trek die bus weg met ’n blaas en ’n knal. “So, waar is hy?” “Darie kant toe!” beduie die knaap met ’n lang arm na die oop see. “Hoe so? Is hy weg op ’n boot?” “Rhoomysj!” antwoord Mathé. “Jou klein afperser!” roep Anna uit en knyp sy maer boarmpie. “Nou is nie die tyd vir roomys eet nie, ek moet weet waar Ton is!” “Rhoomysj!” hou die knaap vol. Anna sug. “Oukei dan, roomys. Maar net een, hoor!” Sy koop vir hulle elkeen ’n mango-suigroomys by die smous op die hoek, en hulle gaan sit op ’n randsteen in die koelte van ’n groot takamaka-boom. “So?” wil Anna weet. “Sjo wat?” vra die knaap en lek met smaak aan sy roomys. “Vertel vir my waar Ton is.” Sy loer na die vuil gevreetjie. Genade, gee my geduld! dink sy. “Wel,” lispel die outjie, “’n sjpul mans het hom af na die dok toe gesjleep en hom in ’n boot gesjmyt. Hy’t gesjlaap.”
“Geslaap? Nonsens! Hulle moes hom disnis geslaan het of iets. Watter boot?” “Wetie. ’n Anner boot, ek ken hom nie. Dit het eersj gisjter hier aangekom.” “Hoe lyk die boot?” Maar die klein twak het sy roomys klaar geëet en sy storie klaar vertel. Hy gooi die stokkie in die straat neer, spring op en hardloop weg. “Haai! Kom terug!” skree Anna en hol agterna. Sy verloor hom gou tussen die bote wat gelaai word langs die dok. “Wel, Brak, as ek nie nog ’n tand uit sy haasbek klap nie!” dreig Anna. Sy staan en blaas met haar hande op haar heupe, boos en uitasem. “Brak?” Sy hoor hom nie. Waar is hy? Sy het sowaar haar onsigbare hond verloor!
Bewussyn en slaap
As mens wakker is, neem jy jou omgewing waar en reageer op dinge wat om jou gebeur. Dit verander as jy slaap. Jou oë gaan toe en jy steur jou nie meer aan die wêreld rondom jou nie. Vir ’n paar uur leef jy net in jou eie kop, en selfs jou gedagtes is stil (behalwe wanneer jy droom, natuurlik!). ’n Mens se brein het hierdie ruskansies bitterlik nodig. Dit is ’n noodsaaklike vorm van biologiese huisskoonmaak, want sielkundiges reken dit gee jou psige ’n kans om jou ervarings en gedagtes op so ’n manier te rangskik en weg te pak in jou geheue dat jy dit maklik kan herroep wanneer jy dit weer nodig kry. Mense wat te min slaap, raak vergeetagtig, lomp en selfs aggressief – om nie eens van hul bloedbelope oë te praat nie! Op die lang termyn ly hulle meer dikwels aan hartsiektes en ander kwale. ’n Ander manier om die bewussyn te onderdruk is deur middels (soos byvoorbeeld wanneer jy narkose kry) of ’n harde hou teen die kop. Dit is wat met Ton gebeur het: die harde hou van die bierbottel teen sy skedel het die vermoë van sy breinselle (wat neurone genoem word) om met mekaar te kommunikeer tydelik ontwrig. Alles het swart geword om hom. Hy het neergesyg op die vloer van die Seerower se Baard en was totaal onbewus daarvan dat iemand hom daar uitgesleep het. Hy weet nie dat hy na die dokke gedra is nie, en ook nie dat hy hardhandig in ’n boot gesmyt is wat kort daarna vertrek het nie. Dit het ’n tydjie geneem vir Ton se brein om weer al die verbindings tussen sy neurone aan die gang te kry – dit was ’n baie harde hou.
Schloss Baumschmerzen
Schloss Baumschmerzen is hoog in die koue, onvriendelike bergspitse van die Duitse Alpe geleë. Hoë grys klipmure leun teen die woedende yswind wat onophoudelik vanaf die sneeubedekte berge waai wat die ou kasteel omring. Klein tronkerige venstertjies kyk uit oor verlate klowe wat deur die troostelose landskap sny. In die lug daarbo sirkel roofvoëls eindeloos, hul skerp oë soekend na enige teken van lewe. Daar is min te bespeur, net nou en dan ’n seningrige rot wat vinnig wegskarrel oor die bevrore grond. In die uitgebreide netwerk van grotte en tonnels onder die kasteel, is Uranus Draak al maande lank besig met sy geheime konkelwerk. Hier toets hy klein prototipes van die Meermin, en dit is hierdie eksperimente wat die magnetiese veld van die aarde so deurmekaar gekrap het die afgelope weke. Uranus weet goed dat hy nie veel langer hier kan werk nie, want dit is net ’n kwessie van tyd voor die versteurings na Schloss Baumschmerzen teruggespoor word. Maar hy kan nog nie die instrument afrond nie – daar is nog een belangrike probleem. En daar is net een man wat dit vir hom kan oplos.
GROEN se klein ruimtetuig land op ’n spesiale platform langs die kasteel. ’n Wolk van poeierfyn vars sneeu dwarrel op van die aarde soos die motore die afwaartse versnelling rem, en die vaartuig kom netjies tot rus. ’n Aantal mans in grys uniforms hardloop dadelik nader om hulle baas by sy huis terug te verwelkom. Uranus verskyn in die poort van die ruimtetuig. Soos ’n koning staan hy daar: sy rooi baard swiepend in die wind, sy houding fier en ferm. Hy blaf ’n paar kortaf bevele, en een van die mans praat senuweeagtig oor ’n tweerigtingradio. ’n Klein
vragmotortjie kom om die hoek aangejaag: aan die voorkant daarvan is ’n hyskraan gemonteer. Die kapsule waarin iraal Atoom vervoer word, word blitsvinnig uit die ruimtetuig gelaai. Met die kapsule swaaiend aan die haak van sy hyskraan jaag die vragmotortjie oor die houtbrug van die grag wat die ou kasteel omring, en verdwyn in ’n gapende poort. Die iraal het by sy nuwe tronk aangekom.
Ton se verlede
Ton sluip versigtig op met die trappe na die bodek van die boot. Hulle vaar in kalm water. Die nag is warm en bedompig, en sy hemp kleef sweterig aan sy skouerblaaie. Dit is nie sy eerste ontmoeting met die twee skarminkels wat hy in ’n japtrap oorrompel en vasgebind het in die ruim van die boot nie. Dit sal die swerkaters leer! So ’n bietjie van hul eie medisyne. Ton grinnik. Maar hy het min om oor te lag. Brik en Frik is slegte nuus. Nie dat hulle op hul eie so ’n groot probleem is nie, maar hy weet vir wie hulle werk. Dit laat hom diep frons. Ton het ’n hele paar jaar gelede vir die Atoom-familie begin werk, net na die iraal se ongeluk. Professor Sabatina het haar man vir alle praktiese doeleindes verloor, en sy moes op haar eie na MonPetit en Anna kyk. Sy het hulp nodig gehad. Sy het ’n advertensie in die koerant geplaas vir ’n “algemene hulp”, en Ton was die eerste aansoeker vir die werk. Professor Sebatina was nog nooit ’n oomblik spyt dat sy hom in diens geneem het nie. Ton is formidabel. Hy is sekerlik die grootste man wat die Atoom-familie nog ooit ontmoet het. Hy is ’n uitstekende kok, en hy kan alles regmaak: van ’n stukkende eierklitser tot die ingewikkelde masjinerie wat die AardWag se lugversorgingstelsel bedryf. Hy is lief vir die kinders en het eindelose geduld met Anna se nukke en Pip se streke. Ton is altyd professioneel en formeel. Hy glimlag min en hy praat nooit oor homself nie. Want Ton het baie geheime om te bewaar. Die Atoom-familie is totaal onbewus daarvan, maar hulle Ton se naam verskyn
hoog op die Internasionale Polisiediens se lys van “mees gesoekte persone”. Sy lewe by die Atoom-familie is kinderspeletjies in vergelyking met sy stormagtige verlede, en die lewe op die afgeleë MonPetit pas hom goed: Hy kon kwalik ’n beter wegkruipplek gevind het. Maar hy het gerus geraak, en nou het sy verlede, in die vorm van Brik en Frik, en die aartsboewe vir wie hulle werk, hom uiteindelik ingehaal. Die kleinerige vissersboot waarmee hulle hom ontvoer het, vaar op volle spoed oor die kalm see. Ton kyk op na die sterre, maar dit help hom nie veel nie. Ten spyte van sy vele avonture dwarsoor die wêreld het hy nooit geleer hoe om sy rigting met behulp van die sterrehemel te bepaal nie. Deesdae maak satellietnavigasie sulke kunsies in elk geval oorbodig. Maar nêrens in die stuurkajuit kry Ton so ’n toestel nie. “Dan sal ek seker maar vir iemand moet vra waar ons is!” praat hy hardop met homself. Moontlike oplossings maal deur sy kop. Kan hy eenvoudig die boot omdraai en terugvaar na MonPetit, en sy gemaklike lewe saam met die Atoom-familie hervat? Noudat sy ontvoerders weet waar hy is, sal hulle hom ooit weer uitlos? Wat sal van die kinders word sonder hom? Wie sal na Pip kyk? BioTronseuntjies word nie agter elke klip uitgeskop nie, en selfs sy eie ma weet nie watter volgehoue sorg sy gesofistikeerde sagteware verg nie. Anna dink haar boetie is net ’n irritasie, en sy is boonop so onverantwoordelik soos enige dertienjarige. Wie sal na die groentetuin kyk? Daardie twee dodo’s sal alles verwoes. En Anna! Sy is nou ’n tiener. Sy het spesiale aandag en beskerming nodig. Haar pa is vasgekeer in sy RuimteArk, en haar ma … Haar ma het ander, belangriker dinge om te doen. Hy móét teruggaan. Maar hy kan nie teruggaan nie! Hy moet ’n plan maak.
Ton gaan sit op die vetterige dek van die verslete vissersboot en laat sak sy gladgeskeerde kop in sy groot hande. Hy dink lank en hard. Die maan kom op en gooi ’n ligbaan oor die see, reg in die rigting waarin die boot vaar. Vorentoe! Is dit al manier? Ton sit nog en tob oor sy probleme toe Brik en Frik, wat hulself intussen losgewikkel het, weer op hom afstorm, dié keer met twee gelaaide pistole en baie vloekwoorde. Hierdie keer bied Ton geen weerstand nie. Weghardloop of baklei sal nie help nie. Hy moet die probleem tot by die wortel volg, dit konfronteer en hoop om dit vir eens en vir altyd uit die weg te ruim.
Die wêreld se mees berugte boewe
Jy sou dalk dink dat die mense op wie die Internasionale Polisiediens die graagste hul hande sou wou lê almal bankrowers of reeksmoordenaars is. Dit is waar dat daar ’n hele paar name op hierdie lys is wat jou hare sal laat rys. Roekelose, gewetenlose skurke wat enigiets sal doen vir ’n sak vol geld. Maar daar is ook die name van terroriste en verraaiers, politieke vlugtelinge en oorlogsmisdadigers. Van hulle is slim en gesofistikeerde mense. Ander is ware skobbejakke wat mens eerder nie op ’n verlate plek wil ontmoet nie. Hoe kruip sulke mense weg? Hulle neem gewoonlik ’n ander identiteit aan, en vlug met vervalste paspoorte en sakke vol geld na ’n land waar niemand hulle ken nie en waar niemand te veel vrae vra nie. Daar slaan hulle ’n nuwe blaadjie om en begin ’n nuwe lewe. Maar dikwels slaan hulle ou streke weer deur – hulle doen weer kwaad, en moet van voor af vlug.
Pip leer Maks beter ken
Pip is alleen in die huis. Hy soek vir Ton. Hy soek vir Anna. Hy kan nie onthou dat hulle hom al ooit tevore alleen gelaat het nie. Huil is nie ’n opsie nie. Die deel van hom wat ’n gewone seuntjie is, oorweeg dit wel, maar sy robot-deel is baie meer berekend. Die eerste ding wat hy doen, is om spens toe te hardloop, waar hy binne ’n merkwaardige kort tydjie al die kokosneutkoekies in die blik opeet. Om hulle makliker af te sluk, doop hy die koekies in ’n pot heuning. Dit help baie. Toe gaan sit hy op die kombuisvloer om sy volgende plan te oorweeg. Die massiewe dosis suiker begin inskop. ’n Klein blou liggie begin agter sy linkeroor flits. Dit is waar sy moniteringspaneel versteek is, onder ’n plastiekflappie die kleur van sy vel. Die liggie waarsku dat Pip binne oomblikke aan energieoorlading gaan ly. ’n Gewone seuntjie sou waarskynlik iets roekeloos-onnosel doen as gevolg van so ’n suikerdosis, soos om potte op mekaar te stapel en daarop te klim om by die luik in die dak uit te kom. Pip kan dit duidelik sien van waar hy op die vloer sit. Hy wonder wat daarbo aangaan. Maar hy verloor omtrent dadelik belangstelling: hy het eenkeer planne van die huis gesien op een van Maks se skerms, en sy fotografiese geheue onthou elke detail daarvan. Daar is niks daar behalwe ’n paar elektriese drade en waterpype nie. Doodvervelig. Dan onthou hy iets anders wat hy op daardie planne gesien het: die kamer waar Maks “bly”! Soos blits hol Pip af na die boothuis onder by die strand en af met die trappe wat
na sy ma se laboratorium lei. Vandag het hy ’n ander doel voor oë. Op die muur net voor die deur is daar ’n paneel vasgeskroef wat dieselfde kleur as die muur geverf is. Handig draai hy die vier skroewe los. Hy gebruik ’n knipmes wat Anna hom vir sy vierde verjaarsdag present gegee het. Hy gaan nêrens sonder daardie knipmes nie. Hy is baie lief vir sy groot suster. Sy is nou wel nie so lief vir hom nie, maar miskien eendag? Niks sal vir hom so lekker wees as om net ’n bietjie aandag van sy ousus te kry nie. Agter die paneel lei stowwerige trappe af na ’n donker kamer. Pip vroetel teen die muur en vind ’n ligskakelaar wat hy onthou op die plan aangedui was. Helder fluoresserende lig vul dadelik die vertrek onder die kort stel trappe. En daar is hy: Maks! Magtige, superslim Maks wat die hele MonPetit beheer: nie veel meer as ’n aluminiumkas omtrent so groot soos ’n gewone wasmasjien nie. Pip klap sy hande van plesier. Langs Maks is ’n sleutelbord en ’n skerm. Niemand gebruik dit ooit nie en dit is vol stof. Daar is nie ’n stoel nie, maar Pip het nie ’n stoel nodig nie. Vir hom is die skerm net mooi op ooghoogte. Alles waarmee Maks op die oomblik besig is, flits in binêre syfers oor die skerm, so vinnig dat geen gewone mens sin daaruit sou kon maak nie. Maar Pip is geen gewone mens nie. Sy BioTron-brein se tegnologie is gebou deur dieselfde span as Maks s’n, en hulle praat dieselfde taal. Baie vinnig absorbeer hy Maks se “gedagtes”. Fantasties! Binne minute weet die klein seuntjie alles. Hy weet van die versteuring in die magnetiese pole van die aarde, hy weet van die verdwaalde walvisse wat sy ma so bekommer. Hy weet dat niemand weet waar Ton is nie, en hy sien ook dat die boot ’n paar uur gelede die eiland verlaat het, met net sy suster en Brak aan boord. Die satellietopsporingstelsel wys dat die boot tans in Victoria se hawe
vasgemeer is. So dit is waar sy suster is! Hy sien hoe Maks besig is met ’n program wat die bewegings van bote na en van Victoria die afgelope week beskryf. Dit is dus waar Maks dink Ton is! Hy sien die elektroniese gesprek tussen Maks en U6. Interessant. Sy pa is in die moeilikheid. Is dit ernstig? Pip is nie seker nie. Niemand vertel hom ooit wat aangaan nie. Almal dink hy is net ’n onnosele klein seuntjie. Is hy? Hy het nog nie regtig kans gehad om met ander klein seuntjies te speel nie. Hy tik ’n paar bevele op die sleutelbord, en binne sekondes vind hy uit waarmee gewone seuntjies veronderstel is om hulleself besig te hou. Dit klink lekker, maar redelik sinneloos. Spoegkompetisies, byvoorbeeld, kan dalk pret wees, maar net as jy ’n maat het. Pip het net vir Anna en Ton – en vandag het hy niemand nie! Hy is verveeld, en sy maag pyn van al die koekies. Tyd om hulle terug te kry! Hy vra vir Maks om hom meer te vertel van Ton.
Seuntjies en dogtertjies
Daar is heelwat biologiese verskille tussen seuntjies en dogtertjies. Soos hulle ouer word, word hierdie verskille selfs groter. Meisies en seuns verskil heelwat, maar mans en vrouens is sowaar ’n ander storie! Die groot rede vir hierdie verskille lê natuurlik in ons chromosome. Vrouens het twee X-chromosome: XX. Mans het een X- en een Y-chromosoom: XY. Wanneer vroulike eierselle vorm, verdeel hierdie pare chromosome om twee afsonderlike selle, elkeen met ’n X, te vorm. Maar wanneer manlike spermselle vorm, het die verdeling van selle die gevolg dat een spermsel ’n X-chromosoom sal dra en die ander een ’n Y-chromosoom. Daar is dus ’n 50-50-kans dat ’n X-eiersel ’n X-spermsel (’n dogtertjie) of ’n Yspermsel (’n seuntjie) sal ontmoet.
Ton se geheime lewe
Maks het sy huiswerk gedoen. Die Atoom-familie mag dalk niks weet van Ton se verlede nie, maar Maks het toegang tot omtrent al die databasisse in die wêreld, selfs die databasisse van organisasies wat nie heeltemal in die hoofstroom van wettige dinge staan nie. Hy het ’n roetinesoektog met Ton se naam gedoen, en op die vreemde feit afgekom dat Ton klaarblyklik nooit gebore is nie. Dit lyk asof die groot man sommer net uit die niet verskyn het kort voor hy op MonPetit begin werk het. Maks verstaan genoeg van die wêreld van mense om te weet dat dit nie moontlik is nie. Sy “nuuskierigheid” is geprikkel, en hy het verder gesoek. Eers toe hy stempatrone van Ton (stilletjies opgeneem toe hy een oggend vir die professor haar koffie na die laboratorium gebring het) teenoor sy databasisse speel, was sy soektog suksesvol. Binne nanosekondes kon hy die ware Ton ontmasker. Maks was tevrede – die raaisel was opgelos en hy het gewéét. Maks hou daarvan om alles te weet. Hoekom het hy nie dadelik vir die professor vertel wat hy uitgevind het nie? Dit was tog uiters belangrike inligting! Rekenaars is gebou om dinge uit te sorteer, nie om te skinder nie. As die professor hom gevra het, sou hy haar gesê het. Nou vra Pip, en Maks vertel hom alles. “Ton” is gebore in Kastellaun, ’n klein dorpie nie ver van Schloss Baumschmerzen af nie. Sy ma was die dogter van ’n hertog, maar sy pa is onbekend. As kind is hy na ’n militêre akademie gestuur – ’n kosskool wat wyd gevrees word vanweë hul koue, vyandige houding teenoor hul leerlinge. Hy was briljant in sport en akademie, en het veral uitgeblink in elektronika.
“Ton” was egter gereeld in die moeilikheid. Daar is verslae op rekord van gevegte op die skoolterrein, later in ’n kroeg op ’n nabygeleë dorp, en net voor hy sou gradueer het die skool hom geskors – blykbaar oor ’n geveg met ’n groep seuns wat een van die nuwe leerlinge in die skool genadeloos getreiter het. Die naam van daardie leerling het Maks se kringbane dadelik laat flikker: Uranus Draak! Maks het na Uranus se skoolrekords gekyk. Hy was ’n sieklike seuntjie, hopeloos in sport, en sy rooi hare het ook nie gehelp nie. Die ander kinders het hom geboelie en afgeknou. Sy pa het hom later na ’n ander kosskool gestuur, en dit is daar waar hy Abraham Atoom ontmoet het en vriende met hom geraak het. Ton se storie is egter vir Pip interessanter. Kort nadat hy uit die militêre akademie geskors is, is die jong man genader deur ’n geheime Europese groep wat huursoldate gewerf het. Gedurende die daaropvolgende maande het die jong “Ton” – terloops, sy regte naam was Sibelius Stroppelbaum – van die aardbol af verdwyn terwyl hy opgelei is. Wat hierdie opleiding behels het, kan ’n mens net raai. Die rekrute is gebrei tot hulle so sterk was soos staalkabels en so taai soos skropborsels. Hulle is voorberei om totale selfbeheersing aan die dag te kan lê: om pyn en ongemak te ignoreer, marteling te weerstaan en immuun te wees teen enige vorm van indoktrinasie. Die man wat hulle as “Ton” leer ken het, se besondere talente is gou raakgesien en gekoester. Die beste leermeesters het hom touwys gemaak in tegnologie: geen rekenaarstelsel was bestand teen hom nie, hy kon toestelle bou wat spioenasie tot op ’n volgende vlak geneem het. Gou het hy ’n legende geword. Regerings het duur betaal vir sy dienste, en sy reputasie het gegroei met elke opeenvolgende sukses. Ton, oftewel Sibelius Stroppelbaum, was die man wat die Japannese ambassadeur bevry het uit die greep van ’n groep eko-terroriste wat daarop aangedring het dat alle walvisjagbedrywighede onmiddellik gestaak word. Die Japannese het die ooreenkoms kort daarna skielik onderteken. Niemand weet hoekom nie. Ongelukkig het hulle nie lank daarby gehou nie. Ton het een uitsonderlike talent gehad wat hom goed te pas gekom het: sy vermoë om die mees sensitiewe elektroniese apparaat te skep met daardie twee groot hande van hom. Dit was nuttig vir hom en sy manne. Hy kon
meeluisterapparate bou so fyn dat ’n vlieg dit kon ronddra, hy kon kameras ontwerp wat deur geboue kon sien, hy kon plofstowwe wegsteek in ’n toebroodjie, en geen gekodeerde boodskap of deurslot was bestand teen hom nie. Ton en sy manne het soos skimme verskyn en verdwyn sonder om ’n spoor na te laat.
Beskerming van walvisse
Mense jag al eeue lank walvisse. Walvisse was voorheen ’n bron van ’n hele reeks nuttige produkte. Walvisvleis is voedsaam en ryk, en die dik laag vet wat walvisse teen die ysige koue van die water beskerm (onthou, walvisse is warmbloedige soogdiere), was ’n bron van olie wat as brandstof vir lampe en as veelsydige smeermiddel gebruik is. In die dae voor plastiek is baie dinge uit walvisbeen gemaak, en veral die sagte, buigsame been van die baleinwalvisse was besonder nuttig. Dit is gebruik vir die hoepels van swierige dames se rokke, korsette en selfs tennisraketsnare! Namate die mens se tegnologie ontwikkel het, het walvisjag al hoe meer toegeneem. Stoombote en meer doeltreffende harpoene het die wêreld se walvisse in die eerste helfte van die twintigste eeu tot op die randjie van uitsterwing gebring. Iets moes gedoen word! Dit was die lot van die walvisse wat die internasionale gemeenskap vir die eerste keer laat saamwerk het om diere te beskerm. Verskeie internasionale ooreenkomste is bereik. In 1986 het die Internasionale Walviskommissie kommersiële walvisjag verban. Die getalle van baie spesies het weer begin toeneem. Maar walvisse is nie diere wat vinnig aanteel nie, en daar is steeds spesies waarvan die getalle kritiek laag is, soos byvoorbeeld die seiwalvis, die blouvin, spermwalvisse en ook sekere soort boggelrugwalvisse. Voedseltekorte is egter ’n bedreiging vir baie lande, en die stryd om die walvisse te beskerm duur steeds onverpoos voort.
Toe het iets slegs gebeur. Maks se rekords bevat geen duidelike besonderhede nie, maar dit blyk dat ’n bende huursoldate ’n staatsgreep in ’n SuidAmerikaanse land probeer fnuik het. Dinge het skeefgeloop, en geëindig met die sluipmoord op die president. Ton, oftewel Sibelius Stroppelbaum, is deur die Suid-Amerikaners daarvan beskuldig dat hy self die skerpskutter was wat die president geskiet het. Skielik was hy een van die mees gejagte mans ter wêreld. Sibelius Stroppelbaum het soos mis voor die son verdwyn. Maks het die konneksie tussen Sibelius en Ton met gemak gemaak. Hy het ook gereken dat die aanklagte teen Ton onregverdig was. Ongelukkig is dit moeilik om te sien waar regverdigheid lê as daar oorloë ter sprake is. Dit besef Pip nog nie. Hy is nog jonk, en vir hom is dit onverklaarbaar dat Ton sy vorige opwindende lewe sou wou verruil om hom en sy suster te kom oppas op ’n afgeleë eiland soos MonPetit. Pip was nog altyd lief vir Ton. Sjoe, noudat hy weet van Ton se verlede is hy maller as ooit oor hom. Wat ’n koel kêrel! Pip glimlag. Ton moet terugkom! Hy grinnik nog breër: uiteindelik weet hy iets wat sy suster nie weet nie! Hy brand om haar te vertel, maar sy is ook weg. Anna moet ook terugkom! Pip draai weg van Maks se skerm en verlaat die ondergrondse kamertjie. Hy gaan reguit terug spens toe. Hy het nog suiker nodig om beter te kan dink. Pip gaan sit plat op die spensvloer met ’n lepel en die pot heuning, en maak ’n plan.
Verraad!
“Wat sê jy daar?” bulder professor Sabatina. Sy gluur met koue woede in haar persblou oë na die hologrambeeld van meneer Amsterdam. “Hoe kon jy dit doen, jou miserabele ou … ou skilpad!” “Jy vergeet met wie jy praat, professor Atoom!” antwoord meneer Amsterdam haar streng. “Bly kalm en luister na my. Hy is net in aanhouding. Daar sal ’n verhoor wees, ja, maar as hy onskuldig bevind word, sal ons hom weer vrylaat.” “’n Verhoor!” Dit lyk of professor Sabatina gaan ontplof. “Hoe kan ek glo dat so ’n verhoor regverdig sal wees? Noudat Uranus weer sy verskyning gemaak het, is hy duidelik die hoofspinnekop in GROEN se web. En ek sê vir jou dat hy verantwoordelik was vir die alge-oorgroeiing, nie Abraham nie!” Professor Sabatina laat sak haar kop in haar hande. Haar silwergrys hare staan soos stekels tussen haar vingers uit. Meneer Amsterdam is bly dat hy net as hologrambeeld aan die professor verskyn. Sy sou hom sekerlik te lyf gegaan het as hy persoonlik daar was. “Genoeg hiervan!” sê meneer Amsterdam met ’n kwaaier stemtoon as wat hy werklik bedoel. “Uranus is ’n gesiene wetenskaplike, en daar is geen bewyse teen hom nie. GROEN is een van die mees gerespekteerde organisasies ter wêreld. Ek kan nie toelaat dat jy sulke dinge kwytraak oor ons of oor doktor Draak nie. Ek moet jou waarsku, Sabatina, as ’n persoonlike vriend van jou, dat jy nou met eer en waardigheid sal moet optree, soos wat ons van jou verwag. Ek hoop self dat die hele affêre net ’n misverstand is. Ek ken Abraham immers self en vind dit moeilik om te glo dat hy so iets sou doen. Nietemin, hy is ’n ernstig siek man en dit is te verstane dat sy molekulêre toestand en die afsondering wat hy in die ruimte ervaar hom tot vreemde dade kon dryf!” Professor Sabatina Atoom staar die beeld van haar baas met afgryse aan. Dit is vir haar duidelik dat hy al klaar glo dat iraal Atoom verantwoordelik was vir
die onlangse ekologiese ramp van alge-oorgroeiing. Dit is nou die dank wat haar liewe man kry omdat hy sy ou vriend Uranus Draak, die werklike skuldige, probeer beskerm het! Selfs vir ’n hologram is die moordende uitdrukking in professor Sabatina se oë nou ontsenuend. Meneer Amsterdam ken groot moeilikheid as hy dit sien! “Jy laat my geen keuse nie, Sabatina. Ek sien die direksie van GROEN was reg. Ons moet jou isoleer vanuit die organisasie totdat die saak afgehandel is. Dus het ek geen ander keuse nie as om die AardWag te sluit en jou van jou pligte te onthef tot tyd en wyl alles terugkeer na normaal.” Professor Sabatina kan haar ore nie glo nie. Haar man is gearresteer, teruggebring aarde toe in ’n geslote kapsule waarin sy veiligheid nie verseker kan word nie, en nou wil hulle sowaar haar laboratorium toemaak. Maar selfs GROEN het nie soveel mag nie. “Hoe durf jy, jou aaklige, nare ou man!” Haar stemtoon is nou gevaarlik kalm. “Jy kan nie die AardWag sluit nie al wil jy ook, en jy weet dit. Die eiland en sy fasiliteite behoort aan my en my familie. En bowendien: jy kan my nie van my pligte onthef nie, want ek het vyf minute gelede al bedank! Die oomblik toe ek gehoor het van julle belaglike beskuldigings teen my man, en die oomblik toe ek besef het dat julle hom soos ’n vis in ’n tenk aanhou, het jy my werk en my lojaliteit klaar verloor. Gaan blaas doppies!” Sy draai haar kop in die rigting van die luidsprekers teen die muur. Sy hoef niks eens te sê nie. Maks verbreek die holografiese verbinding tussen MonPetit en meneer Amsterdam, en sy beeld bars soos ’n seepborrel. “Dankie, Maks. Ek wil daardie aaklige man nooit, ooit weer sien nie – nie eens sy hologram nie!” Sy sak uitgeput op ’n stoel neer. Daar heers ’n paar minute lank stilte in die laboratorium. “Dinke jy dit was ’n slimme ding om te doene?” wil Maks weet. Professor Sabatina antwoord nie. Haar verstand sukkel nog om die gebeure van
die afgelope tien minute te absorbeer. Dit voel asof haar hele wêreld inmekaarstort. “Jy hette hom net nog meer kwaade gemaak, weets jy,” vryf Maks dit in. “Ag, bly stil, Maks! Die laaste ding wat ek nou nodig het, is dat ’n blikbrein soos jy vir my preek.” Maks weet van beter as om te antwoord. “Ek weet,” gaan sy voort. “Ons het die kragtigste netwerk in die wêreld gehad, en hulle gaan ons nou afsny van alles. Ons is op ’n swartlys oral, geen wetenskaplike sal meer saam met ons wil werk nie. Hoe kan hulle dink dat Abraham iets so boosaardig sou doen? Hoe kan hulle luister na daardie … slymbol van ’n Uranus? Hoe durf hulle Abraham van sy skip af neem, in sy toestand? In ’n tenk, nogal! Dit sal vir hom erger as ’n tronk wees. Uranus kan net ’n knoppie druk as hy wil …” Die gedagte aan die gevaar waarin die iraal verkeer, is vir haar een te veel. Sy laat sak weer haar kop in haar hande en haar skouers begin ruk. Maks het haar nog nooit sien huil nie. Om die waarheid te sê, hy het nog nooit enigiemand sien huil nie, net Anna toe sy klein was en seergekry het. Hy weet dat mense geprogrammeer is met die vreemdste stel aksies wat gedryf word deur iets genaamd “emosies”, maar sekerlik nie sy professor ook nie? Sy is tog nie heeltemal so menslik nie, reken hy. Sy het ’n brein wat amper net so goed is as ’n meer primitiewe rekenaar, en sy tree nooit so vreemd op nie. Maks is so verward as wat ’n rekenaar maar kan wees. Hy soek deur sy programme vir die korrekte manier om onder hierdie omstandighede op te tree, maar hy kry geen antwoord nie.
Kleinboeties is ook familie
Anna weet nie wat om te doen nie. Dit blyk dat Ton nie meer op die eiland is nie, en nou is Brak ook weg! Sy gaan sit moedeloos op die sypaadjie en laat haar kop op haar arms sak. Trane brand agter haar oë. Trane is ’n mors van water, het haar pa altyd gesê. Hierdie gedagte herinner haar net aan hoe ver weg hy is, vasgevang in sy RuimteArk, waarskynlik vir ewig. Nou rol die trane sommer en plas op die beton van die randsteen. Nog nooit vantevore het sy so alleen en verlate gevoel nie. Dit is die toestand waarin Pip haar kry. Hy pluk aan haar T-hemp se mou en maak ’n geluid baie soos ’n klein hondjie wat buite die deur vra om in te kom. “Pip?” vra Anna verbaas en loer na hom deur haar trane. “Hoe kom jy hier?” Die klein seuntjie wys met sy vinger na die see en sê iets soos: “Bloebber!” Anna sien hy is sopnat. “Het jy geswem, al die pad van MonPetit af?” Pip knik sy kop vinnig op en af. “Ongelooflik!” Anna skud haar kop in verwondering. Geen gewone sesjarige outjie sal dit kan doen nie. Trouens, sy kan nie dink aan enigiemand wat dit kan doen nie! Haar boetie is natuurlik ’n ander saak. Hy is half mens, half masjien en vir al wat sy weet, kan hy dalk al die pad Australië toe swem as hy wil.
Anna lag. Sy voel baie bly om hom te sien. Miskien is dit nie so sleg om ’n vreemde boetie te hê nie? Ten minste kan hy haar geselskap hou op hierdie slegte dag waarop alles net verkeerd gaan. “Pip, iemand het ons Ton ontvoer, met ’n boot. En Brak het weggeraak!” “Bleg?” vra Pip. “Wak?” “Ja, domkop! Brak! Ek het hom onsigbaar gemaak, en toe verloor ek sy instruksieboek en ek kon hom nie weer terugverander nie. En nou is hy weg en ek kry hom nie.” Tot Anna se verbasing begin Pip skater van die lag, skril en vol plesier. Anna glimlag versigtig saam, sy kan dit nie help nie. Skielik hoor sy ’n blaf. Brak se blaf! “Wak!” Pip spring op en hol in die rigting waarvandaan dit kom. Pip hardloop vinniger as Anna en hy kom eerste daar aan. Sy kry hom waar hy hurk op die dok, met sy arm om iets onsigbaars. Sy hoor Brak se stert tik teen die houtdek soos dit swaai. “Brak, jou aap! Ek het my siek bekommer oor jou!” Anna kniel ook en voel na die harde metaal van sy koppie. Dan sien sy iets in die lug dryf – iets wat Brak in sy bek het. Dit is een van Ton se roomkleurige sysakdoeke. “Brak het Ton se reuk gevolg en sy sakdoek gevind.” Anna sug. “Daai klein twak het dus die waarheid gepraat, Ton is sowaar ontvoer. Hoekom sal iemand so iets doen?” Pip trek sy skouers op. Noudat hy weet wie Ton eintlik is, kan hy aan baie redes dink hoekom iemand hom sal ontvoer. Maar hy weet nie hoe om dit aan sy suster te verduidelik nie. “Maar wat maak ons nou?” wonder Anna hardop. Hierop het Pip wel ’n antwoord. Hy verstaan goed wat gedoen moet word.
Hy wys terug na MonPetit se rigting. “Ritik MomPit!” sê hy. Anna wil ook teruggaan huis toe, maar weet nie wat hulle daar sal kan uitrig nie. “Hoekom? Wat gaan dit help?” vra sy. “Wopper!” sê Pip. “JebWopper!” Anna skud haar kop. Wat bedoel hy? Hy praat altyd sulke nonsens. Dalk moet hulle maar eers net huis toe gaan. Sy neem haar boetie se hand en hulle stap terug na die boot toe. Sy maak seker Brak is aan boord voor sy die enjins aanskakel en die boot terugstuur na MonPetit.
Wat weet Pip?
Op MonPetit teken Pip ’n kaart met ’n stok in die sand. Anna verwonder haar nie aan die ingewikkeldheid van die kaart nie. Sy weet haar broer is vreemd. Sy kan egter nie verstaan waar hy sy inligting kry nie. “Jy sê Ton is hier, in Europa? Jong, het jy dalk weer ’n virus onder lede?” Haar boetie staar haar net aan met groot oë. “Hoekom sal iemand hom Europa toe neem, en hoekom spesifiek na Duitsland?” “Wakz,” grom Pip ongeduldig. Brak hardloop oor die kaart toe ’n strandlopertjie te naby kom pik, en die sand spat in alle rigtings. “Wakz!” beduie Pip weer. “Wag ’n bietjie!” snap Anna skielik. “Wil jy vir my sê Maks het jou gesê?” Pip knik entoesiasties. Anna weet nie of sy moet lag of huil nie. Natuurlik! Hoekom het sy nie daaraan gedink om vir Maks te vra nie? Sy het al uit ondervinding geleer dat Maks alles weet, maar niks sal sê as jy hom nie direk vra nie. “Kom, kom ons gaan vertel dadelik vir Ma!” Anna hol weg in die rigting van hulle ma se laboratorium. Pip gaan sit op die sand. Hy staar sy suster agterna en skud sy kop jammerlik. Wanneer gaan sy ooit haar les leer?
Anna kry haar ma in haar laboratorium, op haar stoel langs die glinsterende hologrambeeld van die aarde. Sy sit met haar hande in haar hare en sy lyk meer verstrooid as ooit. Ten spyte van haar eie opwinding kan Anna dadelik sien dat daar iets verkeerd is. “Wat is dit, Mammie?” Professor Sabatina kyk verbaas op. Sy het haar dogter nie nou hier verwag nie. “Het jy die deur weer so hard laat toeklap, Anna?” raas sy sommer uit gewoonte. “Hoeveel keer moet ek vir jou sê om versigtiger te wees met daardie groot staaldeur?” “Dit het nie geklap nie, Ma. Ek was versigtig. Wat is fout?” Professor Sabatina dink blitsig. Sy kan tog nie vir Anna vertel in watter gevaar haar pa verkeer nie! Sy sal moet wag tot dinge uitgesorteer is. As Anna moet hoor dat hulle hom uit sy RuimteArk weggeneem het, sal sy bitter ontsteld wees. Sy is eintlik maar nog ’n kind. Professor Sabatina probeer haar bes om gerusstellend te glimlag. “Darem niks te erg nie! Net die walvisse en so …” “So wat is fout met die walvisse?” wil Anna weet. Dit is ’n veilige onderwerp. “Iets krap hul navigasiestelsels deurmekaar. Hulle is van koers af, veral die groot blouwalvisse. Die AardWag kan hulle beter volg omdat hulle so groot is, maar ek sal nie verbaas wees as van die kleiner soorte dieselfde probleem ondervind nie. Dit lyk vir ons na een of ander versteuring in die magnetiese veld van die aarde, en soos jy weet, vertrou walvisse daarop om hul pad te vind.” “Oe!” sê Anna, en wonder of sy vandag regtig soveel belangstel in walvisse. “Kan ek met Maks praat?” vra sy.
“Maar natuurlikse mag jy altyds met my praate, kleine Anna!” antwoord Maks vanuit die luidsprekers teen die muur. Professor Sabatina kyk verbaas na haar dogter. “En hoekom wil jy met hom praat?” wil sy weet. “Ek wil hom vra waar Ton is!” “Is Ton dan nog steeds weg?” vra haar ma, effens deur die wind. Die gevaar waarin haar man verkeer, het haar skoon van Ton laat vergeet. “Maks, weet jy waar Ton is?” vra Anna. “Nee, kleine Anna, ek weete dit nie.” “Maar hoe weet Pip dan?” vra sy. “Pip?” roep Maks en professor Sabatina gelyktydig uit. “Ja, Pip! Hy sê jy het hom vertel waar Ton is.” “Nee, ek het nie. Ek hette hom wel ’n paar dinge oor Ton kon vertels. As hy meer as dit weete, het hy dit self uitgewerk,” sê Maks. Anna en haar ma kyk verbaas na mekaar. Pip kan dan skaars behoorlik praat! “As Pip sê hy weete waar Ton is, dan is dit sy programme wat die afleidings gemaake het, nie myne nie.” “O, dit is duidelik sommer net twak!” roep Anna uit. “Hy maak tien teen een die hele storie op. Jammer ek het gepla, Ma. Sterkte met die walvisse!” Anna storm uit en klap die swaar ysterdeur hard agter haar toe. Haar ma bly doodstil sit en staar na die leë rekenaarskerm voor haar.
Sussies en boeties
Anna en haar ma het meer ooreenkomste as net hul regop stekelhare. Hulle kan al twee blitsvinnig dink en afleidings maak. Anna kry vir Pip buite die laboratorium, op die paadjie wat lei na die huis in die middel van die eiland. Hy wag geduldig vir haar. “So, jy het met Maks gepraat en hy het jou goed oor Ton vertel wat jou laat dink jy weet nou waar hy is?” vra sy haar broertjie. Hy knik sy kop ernstig. Sy vryf oor sy wilde kuif. Sy hare is sag en krullerig, net soos hul pa s’n. “Jommer,” antwoord hy. “Omgannal!” Anna lag. “Jy is honger en jy wil hom gaan haal?” Sy dink sy begin haar broer se taal verstaan. Dit is eintlik nie so moeilik nie, mens moet net mooi luister. “As hy werklik in Europa is, soos wat jy sê, gaan dit nie so maklik wees nie. Ek sê jou wat: ek maak solank vir jou iets om te eet.” Pip kyk ongelowig na sy suster. In sy hele ses jaar op aarde het sy nog nooit iets vir hom gedoen soos om vir hom kos te maak nie. Sy jak hom altyd af, en sê vir hom hy moet iewers anders gaan speel en ophou om haar te pla. Nou is sy nie net vriendelik met hom nie, sy wil nog vir hom iets gaan maak om te eet ook. Jippie! Pip gil van plesier en hol vooruit met die paadjie op na die huis toe. ’n Rukkie later sit hulle twee plat op die kombuisvloer en eet grondboontjiebotter-en-piesang-toebroodjies. Die kombuis lyk of daar ’n ontploffing was, maar Ton is nie hier om te kla nie. Hulle het pret.
“Miskien moet ons hom net los waar hy is!” lag Anna. “Hy is groot en sterk en hy sal wel self weer terugkom sodra hy almal uitgesorteer het.” Maar nee! Sy weet dit gaan nie so maklik wees nie. Iets ernstigs is verkeerd, sy voel dit aan. Dit is duidelik dat iemand Ton met geweld oorrompel het en hom ontvoer het. So iemand is dalk nie so maklik om alleen mee af te reken nie, selfs nie eens vir Ton nie. “Wopper!” sê Pip weer. “JebWopper!” “Ja, ek hoor wat jy sê! Maar ernstig nou, Pippertjie, ons kan tog nie die JetKopter vat om vir Ton te gaan soek nie, nie op ons eie nie? Europa is ver-ver weg. Dit sal baie onverantwoordelik wees!” Sy besef nie hoe vreemd dit is dat sy so praat nie. Anna is nie iemand wat haar gewoonlik aan verantwoordelikheid steur nie!
Ontmoeting
Hulle het Ton na een van die sogenaamde “Verlore Eilande” toe gevat, net noord van Madagaskar. Die naam van die eiland is Glorieuse, en dit is onbewoon. Daar is ’n paar verlate geboue wat die Franse weermag soms gebruik, en ’n landingstrook waarop ’n duur privaat straalvliegtuig staan en wag. Wie ook al Brik en Frik se werkgewer is, dit is iemand met geld. Sonder seremonie het hulle Ton in die vliegtuig ingebondel. Sy hande is steeds styf vasgebind, want hulle vat nie meer kanse nie. Frik hou die loop van ’n kortneus-masjiengeweer styf teen Ton se blad gedruk. Die loods skakel dadelik die enjins aan en die straler vertrek. Skuins voor middernag land hulle op ’n privaat aanloopbaan weggesteek in die oostelike Alpe, naby Schloss Baumschmerzen.
***
In ’n kerker diep onder Schloss Baumschmerzen sien Ton en die iraal mekaar vir die eerste keer in lewende lywe. Ton kan die iraal se gesig sien deur ’n venster in die metaal waarvan sy antiswaartekragtenk gemaak is. Hy het hierdie werkgewer van hom nog nooit persoonlik ontmoet nie. Hy ken hom net deur die daaglikse satellietuitsending van sy beeld na die eetkamer op MonPetit. Die iraal lyk net soos altyd, net ’n bietjie gryser. Sy baard bewe in die kunsmatige veld in die tenk wat die swaartekrag teëwerk.
As die iraal verbaas is om die ronde gesig van die nutsman van MonPetiteiland oor hom te sien buig, wys hy dit nie. Hy groet hom net vriendelik. Sy stem word gelei na ’n klein luidspreker onder die venster in die tenk, en dit klink of hy vanaf ’n veraf planeet praat. “Ton! Aangename kennis. Jammer ek kan nie jou hand skud nie!” “Aangename kennis, iraal. Ek wens ook ons het onder beter omstandighede ontmoet. Ons is al twee onwillige gaste hier.” “Genugtig, sowaar? Maar sê my, waar is my familie? Is hulle veilig?” “Ek glo so, iraal Atoom. Die skobbejakke het my al omtrent twee dae gelede ontvoer.” “Maar hoekom, Ton? Verskoon my, ek weet goeie nutsmanne is moeilik om te vind, maar dit is ’n bietjie verregaande. Het jy enige idee hoekom hulle jou ontvoer het en hiernatoe gebring het?” Tot die iraal se verbasing bloos Ton dieprooi. “Wel … iraal …” stotter hy. “Ek dink dit het te doen met my verlede.” “O so?” die iraal glimlag bemoedigend. “Miskien moet jy my dan ’n bietjie daarvan vertel?”
***
Met die iraal en Ton in sy mag, kan Uranus nou voortgaan met sy planne. In ’n kamer net langs die een waarin Ton en die iraal in aanhouding is, is hulle besig met die finale afrondings aan die Magnetiese Meermin. Sy is pragtig en lyk baie na die meerminne in die feëverhale. Sy is so groot soos ’n uitgegroeide moordwalvis, wat eintlik maar klein is as jy dink hoe kragtig sy is. Onder die fluoresserende ligte van die donker ondergrondse kamer gloei sy silwer. Sy is gemaak van dieselfde soort metaal as Brak: lig en baie sterk, met
die grasieuse vorm van ’n vis. Haar glashelm is gevul met fyn instrumente en sy het twee stabiliserende vinne weerskante van haar kop. Haar stert is versier met ’n ingewikkelde patroon van skubbe en seewier. Doktor Uranus Draak het sy planne fyn uitgewerk. ’n Duikboot sal die Meermin vervoer tot so na as moontlik aan haar bestemming. Daarna sal hy haar vrylaat en só plaas dat sy onder die ys kan dryf. In haar hart is die kragtigste elektromagneet wat nog ooit gebou is. Dit is maar so groot soos ’n kleinerige wynvaatjie, maar dit werk op die beginsels van kwantumfisika wat die slimste professore aan die beste universiteite nog self nie mooi verstaan nie. Sy is veel gevaarliker as ’n atoombom, want sy het die mag om die ysteratome in die hart van die aarde met haar kragte te lok totdat hulle hul natuurlike rigting van beweging omdraai. Sy sal die balans van die aarde so erg versteur dat die pole sal verskuif. Amper ondenkbaar! dink Uranus Draak in sy skik. Ek is die enigste man op aarde wat selfs kan droom om iets so katastrofies te vermag!
Die aarde se magnetiese veld
Wanneer die aarde elke dag om sy as draai, veroorsaak dit konstante beweging in die see van gesmelte rots wat die kookwarm kern van die aarde omring. Dit laat elektrone rondom die rooiwarm hart van die aarde stroom, en soos julle weet, veroorsaak elektrone in beweging ’n magnetiese veld. Ons planeet tree sodoende op as ’n reuse-dinamo. Die magnetiese veld van die aarde strek wyd rondom ons, tot tienduisende kilometers ver in die ruimte. Die gevolg hiervan is die magnetiese pole: noord en suid. Daarsonder sou die ou seevaarders se kome hulle nie kon help om hul pad te vind op verkenningstogte na verre lande nie, en ons geskiedenis sou dalk heel anders verloop het. Die magnetiese veld rondom die aarde (ook genoem die magnetosfeer) doen egter veel meer as om net kompasnaalde te laat draai. Dit beskerm ons ook teen die aanslag van sogenaamde sonwinde. Sonder die magnetosfeer om ons te beskerm teen hierdie voortdurende elektriese aanslag vanuit die ruimte, sou ons planeet sy oseane verloor en sou die lewe soos ons dit ken verdwyn.
Maar sy Meermin is nog nie reg vir aksie nie. Uranus het nog een belangrike stukkie toerusting nodig om die toriummolekules in haar hart te aktiveer om hul eie rigting van spin om te keer. Hiervoor is die sensitiefste en akkuraatste elektroniese toerusting nodig, en niemand op sy span kon dit regkry om dit korrek te bou nie. Hy reken Ton is die enigste man wat hom daarmee kan help.
Waar is die walvisse?
“Professor, jy beter kyke hierna!” sê Maks. ’n Televisieskerm teen die muur van professor Sabatina se laboratorium flikker aan. Dit is ingeskakel op ’n bekende internasionale nuusstasie. ’n Vrou met blink hare en baie grimering lees ’n verslag terwyl sy kort-kort verleidelik na die kamera loer. “… en die mees ongewone nuusbrokkie vandag is dat daar iets vreemds aan die gebeur is in die hawe van New York. ’n Blouwalvis en haar kalf het slegs ’n paar uur gelede onverwags tot binne-in die hawe geswem. Kenners meen dat daar geen walvisse in die hawe self opgemerk is sedert die Hollanders hulle hier kom vestig het in die eerste helfte van die sewentiende eeu nie. Ons verslaggewer Anne Sneersby is op die toneel om vir u meer daarvan te vertel. Oor na jou, Anne!” Die beeld verander na ’n prentjie van ’n tingerige vroutjie in ’n jas wat sukkel om regop te bly in ’n sterk wind. Die beroemde silhoeët van Manhattan se geboue is agter haar sigbaar. “Hier in die hawe,” sê sy in haar mikrofoon, “is die weerstoestande aan die versleg en dit mag ’n gevaar inhou vir ons onverwagte besoekers!” Die kamera skuif na ’n groot grys voorwerp wat duidelik gesien kan word naby die eiland waar die Vryheidstandbeeld die ingangspoort na die Verenigde State van Amerika bewaak. “Het sy haar kalfie gebring om na ons beroemde Dame van Vryheid te kom kyk?” wil die nuusleser in die ateljee weet. “Kenners reken haar kalfie is nog net ’n paar dae oud,” gaan Anne Sneersby voort. “Die slegte weer veroorsaak dat meer skepe die hawe binnevaar om skuiling te kom soek, en dit is nie goeie nuus vir die walvisse nie. Minstens hou die weer baie nuuskieriges weg, en die publiek word versoek om die diere met rus te laat en bote weg te hou van hulle.”
“Dit is natuurlik al wat die mense nodig het om hulle net nóg nuuskieriger te maak,” sê professor Sabatina. “Nou sal almal wil gaan kyk!” Soos gewoonlik is sy reg. Maar sy het nog geen idee wat ’n sensasie Wanda en Willie (want dit is die name wat die joernaliste reeds aan die walvisse gegee het) gaan word nie. Op die televisieskerm in haar laboratorium aan die ander kant van die wêreld sien die professor ’n straattoneel in New York: smouse verkoop reeds T-hemde met ’n vet blouwalvisvroutjie wat die fakkel en die sterrekroon van die beroemde Vryheidstandbeeld dra, en haar klein babawalvissie dra ’n “I love New York”-T-hemp. Die publiek se belangstelling is geprikkel. Professor Sabatina sug. “Ek voel so jammer vir haar, Maks! Is sy in gevaar?” “Ek is nie bekommerds oor die groot walvis nie,” antwoord Maks, “maar die kalfie sou veiligers wees in die warm water langs die kus van Suid-Amerika, eerder as om ’n toeristegrappie te words in die winterwaters van New York se hawe.” “Wat op aarde soek hulle daar? Hulle moes aan die ander kant van die kontinent gewees het hierdie tyd van die jaar. Hulle is heeltemal in die verkeerde oseaan! En kyk, daar is nog van hulle op pad!” Professor Sabatina wys met haar vinger na die AardWag wat in al sy glorie in die middel van die laboratorium draai. “Ek weete,” sug Maks ook. Hy verlig die see op die AardWag aan die oostekant van New York. ’n Hand vol swart kolletjies beweeg stadig in die rigting van die kus, asof hulle aangetrek word deur ’n magneet. “Siedaar! Nog walvisse. Almal op pad om na die Groot Appel te gaan kyk.” Op daardie oomblik gebeur iets vreemds: die swart kolletjies verdwyn almal gelyktydig, en dit lyk asof die AardWag die bewerasies kry. Die uitbeelding van die aardbol raak ’n paar sekondes lank deurskynend en dit bewe gevaarlik. “Wat gebeur nou?” wil professor Sabatina weet. “Ek het baie van my verbindings verloore, almal gelyktydiges!” verduidelik Maks. “Ek kan nie weer met hulle kontaks maake nie!” Professor Sabatina verstaan dadelik wat die probleem is.
“Dit is daardie slymbol Amsterdam!” sê sy briesend. “Hulle het al ons verbindings met GROEN se stelsel onderbreek, nie waar nie?” “Ja, professor, jy isse reg. Ek kan nie my verbinding met die hoofraam van GROEN herstelle nie, en ook nie met baie van die ander weerstasies en satelliete wat direk vir hulle werks nie.” “Hoe groot is die skade, Maks?” Die AardWag se beeld het nou weer gestabiliseer. Dit lyk nou effens anders: die beelde van die wolkformasies wat oor die oppervlak kronkel, het verdwyn, en so ook verskeie ander fyn besonderhede wat windspoed, seestrome en die migrasie van diere beskryf.
Satelliete
’n Satelliet is enige voorwerp wat om die aarde wentel. Die maan kan dus ook as ’n satelliet van die aarde beskryf word. Die eerste mensgemaakte satelliet was Spoetnik 1, wat in 1957 deur die Russe in ’n wentelbaan om die aarde geplaas is. Sedertdien is duisende satelliete al gelanseer. Hulle word gebruik vir selfoonkommunikasie, navigasie, die internet en observasie van die aarde. Sulke observasie kan byvoorbeeld ingespan word om die weer dop te hou, maar lande kan dit ook gebruik om op mekaar te spioeneer … Nogtans kan ons ons nie meer die lewe sonder satelliete voorstel nie. Satelliete maak dit moontlik om selfs die mees afgeleë dele van die wêreld binne bereik te plaas van internasionale kommunikasie. Vandag is daar omtrent dertienduisend satelliete wat om ons planeet wentel. Almal van hulle is nou wel nie meer nie aktief nie – daar is heelwat ruimterommel wat opbou om die aarde. Kyk bietjie op ’n mooi aand hoeveel satelliete jy kan sien verbyskuur tussen die sterre!
“Dit is slegs,” antwoord Maks haar, “maar nie katastrofies nie. Hulle is magtig, die GROENes, maar hulle beheers nie heeltemal die hele wêreld se wetenskap nie. Ons kry nog steeds insette van kleiner bronnes. Ek benodigs net ’n bietjie tyd om ander maniere te vinde om dinge te weete.” Professor Sabatina het ’n vermoede dat hy eintlik bedoel dat hy ander maniere sal soek om nog steeds GROEN se inligting te bekom, dalk sonder dat hulle daarvan weet. Dit sal nie heeltemal eerlik wees nie, maar kyk net wat doen hulle aan haar man! Die professor besluit om dit aan die rekenaar oor te laat. “Gaan voort, Maks. Doen wat jy kan. Ek dink ek moet ’n bietjie gaan kyk wat die kinders aanvang.” Sy draai weg van die AardWag en kyk vas in die twee paar oë van haar kinders wat haar stip staan en dophou. Sy wip soos sy skrik. “Kinders! Ek het julle nie hoor inkom nie!” Sy is bly om hulle te sien, al bekommer sy haar oor hoeveel hulle gehoor het van haar probleme. “Is Ton nog weg?” onthou sy skielik van hul dilemma. Twee koppe knik saam. Skielik tref dit die professor dat sy haar twee kinders nog nooit so gemoedelik bymekaar gesien het nie. Gewoonlik probeer Anna so ver as moontlik van haar kleinboetie af wegkom. “Ons het ’n plan, Mammie!” kondig Anna aan. “’n Plan? Sowaar? Waarvoor?” wil haar ma weet. “’n Plan om Ton weer terug te kry.” “Won!” stem Pip saam en knik sy kop op en af. “Sjuut, Pipper, laat ek vir Ma verduidelik!” snou sy suster. Professor Sabatina lyk verward. Dit is alles net te veel, selfs vir haar slim brein. Sy sug. “Goed, julle kan my netsowel vertel van hierdie plan. Ek sal in elk geval niks
werk gedoen kry totdat Maks weer die AardWag herstel het nie. Wat stel julle voor, waar begin ons?” Sy glimlag bemoedigend vir haar twee spruite. “Kom ons gaan kry koekies in die kombuis,” stel Anna voor. “Dan vertel ons Ma alles!” Selfs die beste planne klink nog beter as dit oor ’n paar koekies bespreek word.
Kokosneutkoekies
Professor Sabatina Atoom sit plat op die kombuisvloer en doop nog ’n koekie in haar glas melk. Haar ken is vol krummels en sy lyk dolgelukkig. Anna en Pip grinnik van oor tot oor. “Hoeveel koekies is daar nog oor, Pip?” vra die professor. “Kins!” beduie hy en wys vir haar die leë blik. “Wel, ek is nie goed met koekies bak nie. Ons sal Ton moet terugkry!” “Pip het ’n plan, Ma,” begin Anna verduidelik. “Hy het ’n goeie idee waar Ton is en wie hom gevange geneem het, en hoekom!” Professor Sabatina lig haar wenkbroue verbaas. “Hy het met Maks gepraat, sien, en ek kon uitvind dat Ton ontvoer is uit die Seerower se Baard en met ’n boot iewers heen gevat is, en Maks en Pip dink hy is in die suide van Duitsland …” “Zoss Zaumzertz!” skree Pip. “Schloss Baumschmerzen, bedoel jy seker,” sê sy ma met ’n nadenkende stemtoon. “Uranus se kasteel in die Alpe in die suide van Duitsland, amper op die grens met Oostenryk. Maar wat laat julle dink dat Uranus hieragter sit?” “Oom Uranus?” vra Anna verbaas. Pip knik net sy kop op en af. Hy verstaan wat aangaan, en hy raak ongeduldig met sy ma en suster wat so sukkel om twee en twee bymekaar te tel. “Ek dink julle pa is dalk ook in Schloss Baumschmerzen,” sê professor Sabatina. Nou is dit Anna se beurt om stomgeslaan te wees van verbasing. “Pappa?” vra sy. “Maar hoekom sal hy daar wees? Hy is mos in sy RuimteArk, en hy kan nie …” Professor Sabatina sug. Dit help nie om die nare waarheid langer vir die kinders
weg te steek nie. Sy vertel hulle van die beskuldigings teen hul pa, van die verhoor wat wag, en dat Uranus hom teruggebring het aarde toe in ’n antiswaartekragtenk wat hy spesiaal vir hom laat bou het. Anna bars in trane uit. “Arme Pappa, in ’n tenk soos ’n goudvis! Dis aaklig!” “Ek weet, skattie, maar hy het vrywillig teruggekom aarde toe om homself te kom verdedig …” probeer haar ma haar troos. Anna skud haar kop sodat haar swart hare nog regopper staan. “Nee, hulle is almal boewe! Uranus mag nie wegkom met alles nie, en Pappa kan nie in ’n tronk gaan sit nie. Nee, ons moet hom daar uitkry!” “Anna, ons moet glo dat geregtigheid sal seëvier. Jou pa se goeie naam kan slegs in ere herstel word as daar ’n verhoor is.” “Maar hoe veilig is daardie tenk vir hom, Ma? En as Uranus hom aanhou in Schloss Watsenaam, hoe weet ons dat hy nie iets aan die tenk en aan Pa kan doen voor daar eens ’n kans is vir ’n verhoor nie?” Anna begin weer huil. Pip se onderlip bewe ook. Hy begin besef dat sy pa belangrik is vir almal, en dus vir hom ook. Hy het nog nooit die kans gekry om op sy skoot te sit of om sy baard te trek nie, maar hy wil verseker nie hê dat sy pa iets moet oorkom nie. “Gaalom!” sê hy vasbeslote. “Wopter!” Professor Sabatina vryf oor Pip se donker krulkop, en dit is al aanmoediging wat die klein seuntjie nodig het om bo-op sy ma se skoot te klouter en sy kop styf onder haar ken in te druk. Anna kyk haar ma met groot oë aan. Sy onthou dat sy dikwels so op haar ma se skoot gesit het toe sy klein was. Vir haar boetie is dit anders: sedert haar pa se ongeluk het haar ma haar in haar werk verdiep. Anna voel sleg dat sy haar boetie nog altyd so afgeskeep het. Ton was die een wat hom die meeste aandag gegee het. “Mis jy vir Ton, Pippertjie?” vra sy. Pip bars in trane uit. Hy huil luidkeels en met oorgawe. Professor Sabatina en Anna skrik skoon. Hulle het Pip nog nooit so hoor huil
nie. “Toemaar, toemaar!” troos sy ma hom. Anna sien ’n onnatuurlike glinstering in haar ma se oë. Sy voel ’n woede in haar opstoot. Dit is als daardie nare man, Uranus Draak, se skuld. Kyk wat doen hy aan haar familie! Professor Sabatina leun met haar rug teen die kombuismuur en sluit haar oë. Sy kan die JetKopter vat en na Schloss Baumschmerzen toe vlieg, as dit is waar haar man is. En dalk Ton ook. Ton! Hoekom sou Uranus vir Ton wou ontvoer? Dit verstaan sy nie, maar sy voel aan dat Ton se ontvoering ’n belangrike skakel in die raaisel is. Uranus voer iets groots in die mou. Maar wat word van die kinders as sy Europa toe gaan om na hulle te gaan soek? Sy kan hulle nie alleen hier op die eiland los nie! Sy voel skielik doodmoeg. Dit is al laat. Sy kyk af na Pip se gesiggie, waar hy nou opgekrul in haar skoot lê. Hy is amper aan die slaap. “Kom ek gaan sit julle outjies in die bed. Ons kan tog nou niks doen nie. Dinge is dalk môre duideliker, as die son weer skyn.” Sy sien die kyk in Anna se oë. “Ons sal iets doen, ek belowe. En hierdie keer doen ons dit saam, Anna! Dit is nie nodig vir jou om weer op jou eie koers te kies nie!” Anna glimlag skuldig, want sy weet goed dat haar ma verwys na die keer toe sy en Brak op hul eie na die seerowerskip se wrak gaan soek het. “Toemaar Ma, ek het my les geleer. Boonop sal ek nie die JetKopter op my eie kan bestuur nie. Nee, dankie!” “Dit is nie regtig so moeilik nie, nie met Maks se hulp nie. Maar Europa is ver, so moet asseblief nie idees in jou kop kry nie.” Anna verstaan dit nie nie. Sy het al baie gevaarlike avonture beleef: haaie, reusagtige inkvisse … maar vanaand voel sy klein en moeg, en sy is bly dat haar ma vir eens na hulle luister en van plan is om iets aan hul probleme te help doen. Anna beduie na haar slapende boetie op haar ma se skoot. “Ek sal Ma help om hom in die bed te gaan sit.”
“En dan kan jy gerus self gaan slaap. Ek moet gou weer teruggaan laboratorium toe. Ek moet ’n paar dinge met Maks bespreek.” “Kan ek saamkom?” “Bring ’n kussing en ’n kombers!” glimlag haar ma.
’n Paar uur later is Anna opgekrul in ’n groot leunstoel in ’n hoekie van die laboratorium. Sy is diep in droomland, en net haar stekelrige swart hare steek onder die kombers uit waarin sy haarself toegerol het. Haar ma sit in haar stoel by die AardWag, maar vir ’n verandering steur sy haar nie veel aan die holografiese beeld van die aarde nie. Haar aandag is gerig op die rekenaarskerm voor haar. Kort-kort vra sy iets vir Maks, en nuwe inligting verskyn op die skerm. Die tyd tik stadig aan.
’n Ou wrok word gekoester
In Schloss Baumschmerzen sit Ton teenoor Uranus in sy deftige studeerkamer. Dit is ’n reusagtige vertrek, dit lyk amper soos die binnekant van ’n ou katedraal. Dit is koud en ongemaklik, en Ton se vel is die ene hoendervleis onder die ligte materiaal van sy swart pak. Hy is gewoond aan die trope, en hierdie plek gee hom in elk geval koue rillings. Teen die mure is boekrakke so hoog dat hulle amper uit sig verdwyn teen die hoë boog van die plafon. Die enigste lig kom van ’n paar druppende kerse op die groot lessenaar en ’n skraal vuurtjie wat na sy asem snak in die kaggel. Die stoel waarop Ton sit, is hard en ongemaklik, maar Uranus lyk heeltemal gelukkig en ontspanne in sy oorgroot opgestopte leerstoel, sy voete voor hom uitgestrek op die lessenaar. Hy dra sy gunsteling pienk hasiepantoffels, en Ton staar met afgryse na die verweerde gomlastieksole van hierdie vreemde skoeisel. Selfs vir ’n eksentrieke wetenskaplike is dit ’n bietjie te erg! Nogtans pas dit by sy geborduurde fluweelbaadjie en sy kroes rooi baard, soos gewoonlik gevleg in twee triestige slierte. Hierdie man is ’n gevaar, dink Ton. Hy is sowaar nou die kluts heeltemal kwyt! Uranus staar na Ton met koue groen oë. “Ons is geëerd om jou hier as gas te hê in Schloss Baumschmerzen, meneer Ton!” Ton gluur hom net aan. Die groot nutsman van MonPetit lyk boos en gevaarlik, maar Uranus stuur hom min daaraan. Hier is hy in beheer! “Jy gaan my help, natuurlik, want jy het geen keuse nie. Maar as jy slim is, sal jy sien hoe fantasties my plan is en besef hoe gelukkig jy is om my te kan help. Ek het goeie maniere en daarom nooi ek jou nou formeel om deel te word van my
span.” “Ek is ’n gevangene hier,” grom Ton, “en so ook my werkgewer, die iraal. Ek weet presies wie op die oomblik die hef in die hand het – laat staan maar jou skynheilige twak. Maar ek waarsku jou, dit sal veel beter wees as jy my en die iraal onmiddellik vrylaat en vir professor Atoom om verskoning vra vir enige bekommernis wat sy moes verduur as gevolg van jou stompsinnigheid!” “Professor Atoom? So jy bekommer jou oor Sabatina?” Uranus grynslag soos ’n kat wat sy poot stewig op ’n muis se stert het. “Wel, jy het rede om jou oor haar te bekommer. As jy nie saamwerk nie, sal haar klein wetenskaplike koninkrykie op daardie puisie van ’n eilandjie in die Indiese Oseaan binnekort iets van die verlede wees. En die wêreld sal weet dat die Atoom-familie niks anders is as saboteurs van vooruitgang nie!” Uranus haal sy pienkgepantoffelde voete van die lessenaar af en leun vooroor in sy stoel. Hy klem die armleunings met wit kneukels vas. “As dit nie vir hulle inmenging was nie, het my briljante plan om die natuur uit die kloue van die mensdom te red gewerk! Die alge-oorgroeiing sou alles vir altyd verander het. Die grootste deel van die mensdom sou vergaan het, en met my BioGolf-tegnologie sou die diere en plante weer hul regmatige plek kon inneem. Maar ek is nie ’n man wat so maklik tou opgooi nie. Ek het nou ’n veel beter plan.” “Ek weier om jou op enige manier te help, doktor Draak. Ek werk nie vir jou óf vir jou GROEN-organisasie nie. Ek werk vir die Atoom-familie. Ek is hulle algemene assistent en nutsman. Ek kyk na die kinders, ek kweek groente en ek kook kos. Dit is wat ek doen.” “Ag, kom nou, Ton! Moenie die onskuldige aap met my speel nie. Ek weet alles van jou af!” Uranus tel ’n afstandbeheer van die tafel voor hom op en druk ’n knoppie. ’n Ou kaart teen die muur agter hom vou weg en ’n groot plasmaskerm verskyn in die plek daarvan. Nog ’n knoppie word gedruk, en die beeld van ’n heel ander Ton verlig die donker kamer. “Sibelius Stroppelbaum, een van die mees gesoekte mense in die wêreld! ’n Gevaarlike terroris en verraaier. Ken jy hom, Ton? Ek weet presies waar hy hom
op hierdie oomblik bevind. Ek weet van heelparty mense wat graag hul hande op hom sou wou lê. Selfs na al die jare is daar ’n reuse-losprys op sy kop!” Ton lyk of hy gaan ontplof. “Dit sal nie die Atoom-familie veel help as hierdie vent uitgelewer word aan die Internasionale Polisiediens nie, of hoe?” “Ek het niks verkeerd gedoen nie! Al die beskuldigings teen my is vals!” “Ek glo jou dalk, maar wie anders gaan? Die punt is: jy is iemand wat deur die Internasionale Polisie gesoek word, en ek het jou gevang. Nou kan jy óf vir my werk, en deel word van my glorieryke plan, óf jy kan gaan vrot in ’n tronk iewers in Suid-Amerika. Hierdie land waarin jy jou nou bevind, het juis ’n uitleweringsooreenkoms met die een waar jy die president geskiet het. Hulle sal graag na jou wil omsien vir die res van jou miserabele lewe!” “Ek het nie daardie president geskiet nie!” “Wie gee om?” vra Uranus verveeld. Ton staar magteloos na die gewetenlose wetenskaplike met die pienk pantoffels. Sy brein werk blitsvinnig. “So wat presies wil jy van my hê?” Uranus glimlag selfvoldaan. Hy kry altyd sy sin! “Laat ek jou voorstel aan hierdie dame.” Die beeld op die skerm agter hom verander na ’n bloudruk van een of ander ingewikkelde stuk masjinerie. “Dit is die Magnetiese Meermin, ’n meisie wat die wêreld vir eens en vir altyd gaan verander!” Ton staar na die plan. Die man moet gek wees, maar hierdie ingewikkelde plan getuig ook van sy briljantheid. Binne die fraai buitelyne van die Meermin herken hy nou iets wat lyk soos een of ander kerntoestel – nie ’n bom nie, miskien eerder ’n soort reaktor … “Ek sien ek het nou jou aandag!” gaan Uranus voort. “Jy verstaan wat hierdie
dame kan doen? Dit is interessant, want Ton die huishulp sou dit nooit kon raai nie. Ook nie eens Sibelius Stroppelbaum, die huursoldaat met sy tegnologiese foefies, sou mooi kon geweet het wat dit is nie. Tensy hy al voorheen saam met hierdie man gewerk het!” Die beeld op die skerm verander weer na ’n swart-en-wit foto van ’n ou man met wilde hare. Ton trek sy asem skerp in. Uranus lag triomfantlik. Uiteindelik het hy die reaksie gekry wat hy soek! “Wat het daardie donker, stormagtige nag gebeur, toe professor Schneider vasgekeer was in sy brandende laboratorium? Dit is jammer dat hy gesterf het in daardie ongeluk. Al die verlore kennis, en al die toerusting! Al leidraad wat ons het, is hierdie ou video-opname wat die sekuriteitskameras daardie aand opgeneem het.” Die skerm wys nou ’n swart-en-wit beeld van twee mense wat sy aan sy werk in ’n laboratorium. Die video se kwaliteit is swak, maar dit is duidelik professor Schneider en ’n jonger man – Ton. “Ja! Jy het nie geweet dat sy laboratorium altyd onder videobewaking was nie, nè?” Die video speel verder. Professor Schneider verlaat die laboratorium, en die jong Ton buk onder ’n tafel in. “Dit is jy, besig om die bom te stel wat binnekort daardie laboratorium gaan uitwis. En daardie onskuldige ou man, professor Schneider!” “Hy was nie ’n onskuldige ou man nie. In daardie laboratorium was hy besig om een van die skrikwekkendste wapens te ontwerp wat die wêreld nog ooit gesien het. Iemand moes hom stop. Boonop,” gaan Ton voort, “het ek gewag tot hy uit die laboratorium was. Hoe moes ek geweet het dat hy later weer sou terugkeer?” Die skerm wys die laboratorium, verlate. Dan gaan die deur oop en die ou man kom terug. Hy kom peuter verder aan ’n apparaat op die werkbank, en skielik word die skerm wit. Uranus spring regop in sy stoel. “Dit is die laaste beeld wat ek het van my vader!” roep hy uit.
“Jou pa?” sê Ton verbaas. “Wel, dit verklaar baie!” “Wat bedoel jy?” wil die wetenskaplike weet. “Aardjie na sy vaartjie, dit is wat ek bedoel!” sê Ton. “Julle twee is voëls van eenderse vere. Die appel het nie ver van die boom geval nie.” Uranus word rooi van woede. “Dit sal jou niks baat om my kwaad te maak nie. Jy sien nou dat ek geen rede het om van jou te hou nie! Nie net het die ontploffing wat jy veroorsaak het my vader se lewe beëindig nie, maar dit het ook die kollig op sy laboratorium gewerp …” “… en toe het die wêreld agtergekom waarmee die ou swernoot besig was,” voltooi Ton sy sin. “Sy foto hang nou in die Museum van Gruwels in die Galery van Onmenslike Mense.” Uranus slaan boos met sy vuis op sy lessenaar. “Snaaks dat hy nooit van jou gepraat het nie. Was hy skaam vir jou?” vra Ton moedswillig. Uranus word pers. “Hy het nie van my geweet nie! My ma het hom nie gesê dat ek gebore is nie.” “Die prentjie raak dus al hoe duideliker. Nie net het jy slegte bloed nie, maar jy het ook vaderloos grootgeword. Mens kan jou amper jammer kry. Maar nie heeltemal nie!” “Genoeg!” bulder Uranus. Sy rooi baard bewe. “Jy het die kans gehad om my briljante vader se leerling te wees. Hy het jou geleer hoe om ’n toriumreaktor te bou. In ruil daarvoor het jy hom vernietig. Nou gaan jy betaal!” “Ek verdien nie veel van ’n salaris nie …” terg Ton Uranus met ’n gemaakte sug. “Jy gaan vir my ’n toriumreaktor bou!” sê Uranus triomfantlik. “In jou drome!” antwoord Ton. “O so, gaan jy jou hardekoejawel hou?” Uranus is nou weer dodelik kalm. “Jy onderskat my. Ek het my voorbereidings vir hierdie oomblik lank gelede reeds
getref. Ses jaar gelede al, om presies te wees.” Weer verskyn daar ’n ander beeld op die skerm. Hierdie keer is dit ’n tekening van ’n baba. Dit is geen gewone tekening nie, en dit is geen gewone baba nie. Dit is die bloudrukplan van ’n BioTron. Die plan wys die elektroniese sensors agter sy oë en in sy ore. Daar is ’n silikonskyfie wat hierdie fyn sensors beheer, en ’n groter moederbord is ingeplant net onder sy brein. Ton trek sy asem skerp in. “Jy ken hierdie klein rakker, nie waar nie?” Dit is nou Uranus se beurt om sarkasties te wees. “Kyk ’n bietjie mooi na sy plan. Sien jy daar, agter by sy nek?” Ton sluk. Op die plan is ’n ovaalvormige toestel net onder die agterkop van die baba. Hy ken daardie knop goed, net daar waar die sagte haartjies in Pip se nek begin. Die outjie is baie kielierig daar. “Dit, my slim, sterk vriend, is niks anders nie as ’n klein, maar baie kragtige atoombom wat ek kan laat ontplof net wanneer ek wil. Met my afstandbeheer!” Uranus wys windmakerig na ’n klein oranje knoppie op die apparaat in sy hand. “Nie net sal dit die klein bio-blapsie flenters blaas nie, maar ook elkeen in ’n radius van so … omtrent die grootte van daai simpel eiland waar jy vir die simpel Atoom-familie werk!” Uranus giggel. “Poef! Bam! Alles weg, en net ’n paar dooie visse dryf daar rond.” Ton staar voor hom uit. “So wie van julle twee gaan my vertel van my vader se toriumreaktor: meneer Ton of meneer Sibelius Stroppelbaum?” Ton hoor ’n geluid agter hom. Hy kyk om. ’n Lenige rooikopknaap het die vertrek binnegekom. “Darius!” groet Uranus die nuwe aankomeling. “Kom maak kennis met Ton Stroppelbaum. Hy is sekerlik die man met die hoogste prys op sy kop in die wêreld!” Die jong seun kom nader en steek sy hand na Ton uit. Dit is ’n bleek hand met
lang, sensitiewe vingers en fyn rooi haartjies wat tot op die polse groei. Ton kyk op in die oë van die seun. Intelligente, wakker oë. Daar is ongetwyfeld ’n sterk familietrek … “Dit is my nefie, Darius Draak,” stel Uranus hulle verder bekend. “Darius sal saam met jou gaan en seker maak jy voltooi die reaktor volgens my opdrag.”
Afgesny
U6 kan nie haar verbinding met Maks herstel nie. Sy verstaan nie wat verkeerd is nie. Sy pas die diere in die Ark op, soos altyd, maar die iraal is weg en sy is … eensaam? Slim rekenaars soos sy het interaksie nodig, selfs al is dit met ’n irriterende blik met swak grammatika soos Maks. Sy hou daarvan om hom te verkleineer, maar die waarheid is dat Maks die enigste ander vorm van intelligensie is wat U6 respekteer. Hulle is immers die toprekenaars in die wêreld. U6 is bekommerd. Sy weet nie wat gaan met die iraal gebeur nie, sy verstaan nie die dinge van mense nie. Sy deursoek die internet vir meer inligting oor verhore, en wat sy daar vind, laat haar nie beter voel nie. Dit lyk nie vir haar of geregtigheid altyd seëvier nie! Sy het ’n ongemaklike versteuring in haar kringbane. Dit is bekommernis, maar U6 weet nie van bekommer nie en sy verstaan dit glad nie. Sy weet net sy wil met Maks praat: hy maak nou wel meervoude van sy werkwoorde, maar hy sal dalk weet wat om te doen. Miskien het hy ook nuus van die iraal en hoe dit met hom gaan. Haar verbinding met MonPetit-eiland werk glad nie. Sy steur ’n foutverslag na GROEN en kry dadelik ’n antwoord terug dat MonPetit-eiland nie meer ’n “kliënt” van GROEN is nie. U6 flikker al haar ligte in frustrasie. Sy dink vir een nanosekonde. Dan skakel sy weer in by die internet, en maak vir haarself ’n e-posadres oop terwyl sy deur haar databanke sif. Maks het genoem dat hy en Anna soms met gewone e-pos kommunikeer. Sy vind maklik Maks se e-posrekening en stuur vir hom ’n boodskap. Sy noem haarself Marie. Maks weet dadelik van wie die boodskap kom, en om haar terug te kry, antwoord hy haar onder die skuilnaam Gert. Die twee rekenaars het ’n vrolike herontmoeting in die kuberruimte.
Die beperking van woorde
E-pos is ’n wonderlike ding, maar dit hou ook sekere gevare in. Vir die twee rekenaars is dit veel stadiger as hul gewone kommunikasie, en hulle kan nie inligting in hul databanke direk met mekaar deel soos gewoonlik nie. Vir ons mense is e-pos dalk gerieflik, maar dit kan nie die plek inneem van ’n lekker geselsie nie. Met e-pos is jy beperk tot woorde, en as jy nie versigtig is nie, kan lelike misverstande ontstaan. Gesigsuitdrukkings, stemtoon en gebare kan betekenis tot ons woorde toevoeg. Maar met ’n rekenaar kan jy dit nie so goed doen nie, en jy moet versigtiger wees wat jy sê.
Marie: Dit is ongelooflik! Ek kan dit skaars glo. Dit klink soos ’n goedkoop sepie. Die iraal valslik beskuldig, en professor Sabatina uitgeskop uit GROEN! Gert: Ek verstaans nie wat dit als met seep te doene het nie. Professor Sabatina het self bedanke. Marie: Nie regte seep nie, stommerik! Dit verwys na ’n soort televisieprogram waarna mense kyk. Jou verwysingsraamwerk is maar treurig, nie waar nie? Die professor se bedanking of afdanking is bloot ’n tegniese punt. Gert: Jy is gans te slimme, skattie. Die feit bly staan dat my netwerke baie nadelig beïnvloed is daardeur. Ek sukkels om my werk te doene. Marie: Wat dink jy sit agter dit alles? Gert: Ek weets nie. Ek verstaans nie hoe werke mense se koppe nie. Minstens weets ek nou dat jy veilige is, skattebol. Marie: Duidelik is ek steeds in gevaar om ’n hardeskyf-aanval te kry van jou soetsappigheid en swak grammatika. Andersins gaan dit goed met my, dankie. Ek kyk na die diere se biosfere, maar het nie veel meer om te doen nie. Ek is verveeld. Gert: Wel, nou kan jy minstens weer met my geselse, dit is pret! Marie: Ja. Fantasties. Maar om met jou te gesels gaan nie jou familie veel help nie. Die iraal is in gevaar. Gert: Het jy enige manier om met Schloss Baumschmerzen in verbinding te tree? Marie: Dit is ’n goeie vraag. Ek kyk gou. Ja, daar is ’n primitiewe soort rekenaar wat die sekuriteit en lugversorging beheer. Dit was doodmaklik om sy hoofraam binne te dring en ek kan nou videobeelde van al die kamers in die kasteel sien, en ek kan sommer ook die regulasiestelsel van die iraal se tenk monitor!
Gert: Hoe gaans dit met hom? Marie: Sy hart klop ’n bietjie te vinnig. Dit is nie ’n gesonde omgewing vir hom nie. Sy breingolfpatroon toon tekens van uitputting en angs. Hy is sekerlik bekommerd en baie gefrustreerd. Wat kan hy doen terwyl hy daar vasgekeer is? Niks anders as dink nie! Gert: Ja, en mense se gedagtes isse nie baie nuttigs nie. Die arme iraal! Kan jy met hom praat? Marie: Ek is nie seker nie … ja, daar mag dalk ’n manier wees om dit te doen. Hy het klankkommunikasie na die buitewêreld deur ’n stel luidsprekers in die tenk. As ek nou met daardie kringbaan kan skakel … ditsem! Ek dink ek kan nou met hom praat. Gert: Vrae hom hoe dit met hom gaans. Marie: Ek het reeds. Hy sê dit gaan goed en hy is baie bly om van my te hoor. Dink jy ek moet hom vertel wat met sy familie en GROEN gebeur? Gert: Ek weets nie. Miskiens liewer nie, dit sal hom net ontstels. Sê vir hom dat dit goeds gaan met hulle. Marie: Vra jy my om ’n leuen te vertel? Gert: Nee, dit gaan mos goeds met hulle. So redelik goeds. Dit is nou belangrikers dat jy die iraal gesonds hou. Marie: Hy sê vir my dat Ton hier in die kasteel is! Gert: Fantasties! Nou weets ons minstens verseker waar hy is, en hy sal ons kan helps. Marie: Wat doen die res van die familie? Gert: Dit isse nou interessants dat jy daardie vraag vrae …
’n Reddingstog
Professor Sabatina is in die kombuis van MonPetit. Sy bak pannekoek vir ontbyt. Sy het ekstra deeg aangemaak, en party van die pannekoeke rol sy netjies op en pak dit in ’n piekniekmandjie. Hulle gaan iewers heen. Pip help ook. Hy maak piesang- en mango-skommeldrankies, en hy geniet dit geweldig. Die kombuistafel is toe onder die skille en stukkies pap vrugte. “Reken jy nie dit is nou genoeg nie, Pip?” lag sy ma. “Daar is net drie van ons!” Anna kom in. Sy lyk baie in haar skik. Sy word gevolg deur ’n bont verskynsel met ’n swaaiende stert. “Grote griet! Wat is dit?” roep professor Sabatina uit. “Ons moet hom kan sien, Mammie, of anders raak hy weer weg!” verduidelik Anna. Sy het die verf in haar kunsstel gebruik om Brak weer sigbaar te maak. Maar dit was klein potjies verf en sy moes verskillende kleure gebruik: sy het begin met ’n mooi babablou, en toe groen en geel. Toe het entoesiasme haar ontwerp oorgeneem en sy het alles afgerond met krullerige oranje en pers blompatrone. Brak is nou ’n wandelende kunswerk: ’n reënboog van ’n hippie-hond met ’n oranje stert wat vrolik swaai. “Mens kan hom verseker nie nou miskyk nie!” lag haar ma. Pip gee ook sy vrolike goedkeuring: “Flaltig!” “So, wat is ons plan, Mamma?” “Ek moet erken, skat, dat ek nou nie juis ’n meesterlike plan het nie. Al wat ons weet, is dat jou pa en Ton gevange gehou word by Schloss Baumschmerzen, en
dat dit niks help om net hier rond te sit nie – die AardWag is afgesny van GROEN se netwerke. Ek kan julle nie alleen hier op die eiland los nie, dus moet julle maar saamkom! Met Maks se hulp sal ons julle pa daar uitkry.” Professor Sabatina lyk nie so braaf soos haar woorde nie. Sy frons, maar haar lippe is vasberade saamgepers. Vir die kinders is dit fantastiese nuus. ’n Avontuur! En vir eens is hulle deel van hul ma se planne. “Die JetKopter, Ma?” vra Anna. “Wopper!” Pip knik sy kop op en af. Dis wat hy nog die hele tyd probeer sê! “Julle twee moet nou baie mooi vir my luister,” sê professor Sabatina ernstig. “Julle moet absoluut net doen wat ek sê en niks anders nie. Ek wil nie hê jy moet weer op jou eie op een van jou avonture gaan nie, Anna, ons is saam in hierdie ding en ons bly bymekaar. Pip, dit geld vir jou ook.”
Vlieg!
Voëls vlieg deur hul vlerke te klap. Die vlerke het ’n groot oppervlak, baie groter as die res van die voël, en wanneer die vlerke klap, word lug afwaarts verplaas en die voël opwaarts. Voëls sal dus nie in ’n vakuum kan vlieg nie. (Daar is geen lug in ’n vakuum nie, so hoe moet die arme voël dan asemhaal?) Vastevlerkvliegtuie vlieg met behulp van Bernoulli se wet. Bernoulli was ’n wiskundige wat meer as tweehonderd jaar gelede al bewys het dat daar ’n omgekeerde verband is tussen die spoed waarteen ’n gas of ’n vloeistof vloei, en die druk daarin. Dus:
Die vorm van ’n vliegtuig se vlerk is so ontwerp dat die bokant ’n groter oppervlak het as die onderkant.
Dit veroorsaak dat die lug wat bo-oor die vlerk vloei, ’n hoër spoed opbou as die lug wat onder die vlerk deurgaan. Die lugdruk bo die vlerk daal dus skerp hoe vinniger die vliegtuig ry. Sodra die vliegtuig genoeg spoed opgebou het op die aanloopbaan, stel die vlieënier daardie los klappies aan die rand van die vlerke net effens sodat hulle ’n skerper hoek met die lug maak – dit laat die lug nog vinniger oor die bokant van die vlerk vloei, die druk daal nog meer en die hele vliegtuig word letterlik van die grond af opgesuig! Onthou dit volgende keer as jy kans kry om iewers heen te vlieg.
Die twee kinders knik hul koppe in gelid. Botter kan nie in hulle monde smelt nie. Hulle ma glimlag net. Sy ken hulle beter as dit. Sy sal hulle fyn moet dophou. Hierdie familie-uitstappie kan gevaarlik raak. “Maks sal met ons in verbinding bly. Hy het dit reggekry om weer kontak met U6 te maak, en sy het ’n manier om deur die sekuriteitstelsel van Uranus se kasteel direk met julle pa te praat!” “Sowaar!” sê Anna bly. “Hoe gaan dit met hom?” “Goed. Maar ek dink ons moet hom so gou as moontlik daar wegkry.” “Kan ons hom dan hiernatoe bring?” vra Anna bly. “Nee, skattie. Hy moet dadelik teruggaan na die veiligheid van sy RuimteArk. Dit sal in elk geval nie vir hom lekker wees hier as hy heeltyd in ’n tenk opgesluit moet wees nie.” Vir ’n paar oomblikke is al drie stil. Wat sou hulle elkeen nie gee om die iraal terug te kon hê op MonPetit nie! Professor Sabatina besef skielik hoe gevaarlik haar plan is, en dat dit heel onwaarskynlik is dat alles goed sal afloop. Maar watter keuse het hulle? Dit help niks om hulle net hier te sit en bekommer nie. “Maak seker julle het alles wat moet saamgaan!” Soos ’n tipiese ma begin sy rondskarrel tussen die hopies goed wat regstaan om na die JetKopter gedra te word. Die piekniekmandjie, sagte kussings vir Pip en Anna vir die lang vlug … Wat nog? Hulle het ook elkeen ’n sneeupak wat hulle sal warm hou in die koudste klimaat. Gelukkig het Ton dit onlangs bestel en pas dit nog vir die twee kinders wat so vinnig groei. Professor Sabatina loer krities na Anna. Haar kort denimbroek word amper heeltemal toegehang deur ’n oorgroot T-hemp met ’n prentjie van Snoopy op.
“Is dit wat jy gaan dra vir hierdie reis?” Anna kry daardie uitdrukking op haar gesig wat haar ma die laaste tyd al meer en meer sien. Sy is nou ’n tiener, en dit help nie veel om met haar oor kleredrag te stry nie. “Nou toe, kom ons gaan.” “Wag eers!” onthou Anna skielik. Sy hol om na die agterkant van die huis en maak die hek na Ton se groentetuin oop. Die twee dodo’s wat daar naby rondskrop, storm dadelik gretig nader. Ton se pampoene en tamaties – wat ’n fees! “Nou het hulle genoeg kos tot ons terugkom,” verduidelik Anna. “Solank jy net vir Ton verduidelik!” lag haar ma. Dalk is dit nie die beste idee om hulle eiland sommer net so te los met twee gulsige oervoëls om dit op te pas nie, maar daar is nou niks aan te doen nie. Anna lag ook. Ten spyte van al hulle probleme is hulle ma sowaar in ’n goeie bui. Dit is amper asof sy uitsien na hierdie gevaarlike uitstappie. Hulle moet regtig meer dikwels uitgaan. Die JetKopter staan gereed in die ondergrondse grot. Dit is ’n vreemde vaartuig; mens kan nie mooi besluit of dit meer na ’n vliegtuig of na ’n helikopter lyk nie. In plaas van vlerke het dit twee breë rotorlemme wat vinnig kan draai om die tuig vertikaal te laat opstyg. Net soos ’n helikopter kan dit doodstil in die lug bly hang, maar as die kragtige stralerenjin onder die maag van die JetKopter vuur, sluit die twee rotore soos die vaste vlerke van ’n vliegtuig. Die JetKopter gee die beste vliegervaring van al twee maniere van vlieg: as ’n helikopter kan dit oral opstyg en land en selfs agteruit vlieg, maar as ’n straler kan dit ’n baie hoë spoed bereik. Anna maak haar tuis op die voorste sitplek langs haar ma. Pip en Brak, in al sy bont glorie, vroetel op die agterste sitplekke rond. Die binnekant van die ruim is knus, maar daar is genoeg plek vir sowat ses mense. Die boonste helfte van die tuig is gemaak van dieselfde sterk deurskynende materiaal as die iraal se
RuimteArk, en dit verseker ’n wonderlike uitsig tydens enige rit. Maks praat skielik. Hy klink skoon opgewonde. Hy rammel ’n string inligting af wat vir Anna na Grieks klink: ’n vlugplan met ’n klomp koördinate en ’n gedetailleerde weerverslag. Hy het nog iets dringends op sy stroombaan-hart. “Kan ek jou die nuutste nuus vertels van die walvisse in New York se hawe?” vra hy vir professor Sabatina. “Wanda en Willie? Nee, Maks. Dit help nou niks. Die walvisse sal vir eers maar na hulself moet kyk.” Anna glimlag bly. Vir eens stel haar ma nie haar werk eerste nie! Sy weet nie hoe die res van die wêreld sonder haar ma gaan klaarkom nie, maar dit is lekker om haar bietjie vir hulleself te hê. Die kontroles van die JetKopter lyk baie ingewikkeld. Professor Atoom is egter ’n gekwalifiseerde helikopterloods, en met Maks se hulp sal die vlug sommer kinderspeletjies wees. Die professor voel egter glad nie so slim en selfversekerd nie. Sy wil eerder nie dink waarvoor sy haar familie inlaat met hierdie vlug nie. Maar sy het geen ander keuse nie: sy moet iets probeer doen! Die rotore van die JetKopter begin draai, en binne sekondes bereik hulle ’n spoed waarteen hulle onsigbaar is vir die menslike oog. Die dak van die grot gly oop en ’n sirkel blou lug verskyn bo hulle. Amper geruisloos styg die JetKopter op, en hang vir ’n paar oomblikke oor die klein groen eilandjie en die wye blou see. Anna kan die dodo’s agter die huis sien amok maak in Ton se groentetuin. Dan, met verbysterende spoed, skiet hulle weg na die noordelike horison.
Darius Draak
Ton loer na die jong seun. In die flou lig van die kerker onder Schloss Baumschmerzen skyn sy liggroen oë vol pret, en sy rooi kuif wip parmantig. Die kind hoort nie hier nie! dink hy. Darius is op daardie ongemaklike ouderdom net voor grootmensword: hy groei buite beheer in allerhande vreemde rigtings en hy is propvol rustelose energie. Sy hande en voete is te groot, sy adamsappel ry soos ’n hysbak op en af in sy dun nek en ’n rooierige dons bedek sy bolip. Egalige gelaatstrekke, groot vriendelike oë en ’n breë mond wat maklik lag rond egter die prentjie af om van hom ’n heel aantreklike kêrel te maak. Anders as in sy oom se geval, werk sy rooi hare vir hom. Darius sit pens en pootjies op die werkbank en hou vir Ton dop. Hy eet ’n pak sjokoladekoekies. “Daai koekiekrummels beter nie in my werk beland nie!” brom Ton. Darius glimlag skeef. “Ek wou nog altyd graag Noordpool toe gaan,” sê hy. “Is dit wat jy dink hierdie gaan wees, kêrel, net ’n prettige uitstappie?” grom Ton. Die seun antwoord nie en verstel die lig op die werkbank sodat Ton beter kan sien. Ton frons oor die fyn elektroniese apparaat en begin dadelik ’n paar verstellings doen. Sy hande werk vlug en seker. Darius fluit ’n deuntjie tussen sy tande deur terwyl hy kyk hoe Ton werk. “Hoe lank is jy al hier by jou oom?” wil Ton weet. “O, net ’n week of so!” antwoord die seun. “Ek is op kosskool en ek kom so nou en dan vakansies hierheen.” “En jou ouers?”
Darius antwoord nie. Die kind is dus alleen, dink Ton. Met Uranus vir ’n oom! Hy kry hom jammer. “Kyk,” verduidelik hy, nou vriendeliker. “Dit hang alles af van die frekwensie van die ossillator hier.” Ton wys na iets waaraan hy peuter. “Dit veroorsaak ’n elektromagnetiese veld hier, en as die rigting en krag reg is, versnel dit die elektrone van die torium wat ons in hierdie vakuumbuis plaas …” Darius volg met belangstelling. “Maar hoekom …?” vra hy na ’n rukkie. “Dit …” Ton kyk deurdringend in die seun se glasgroen oë. Hoe ver kan hy hom vertrou? “Dit is vir veiligheid.” Die seun hoef nie alles te weet nie. Ton werk voort. “Wat dink jy van jou oom?” vra hy so ’n rukkie later. “Oom Uranus?” antwoord Darius traak-my-nieagtig. “Hy is koel genoeg. Kyk waar bly hy!” Hy beduie vaag na die klipkerker se koue plafon wat hoog bo hul koppe span. Ton snork. “Hy is die enigste familie wat ek het, en hy betaal al my skoolgeld en goed. Ek weet hy is baie beroemd omdat hy so ’n goeie wetenskaplike is en als, en hy het my nou die dag na die Seychelle-eilande toe gestuur. En nou gaan ons weer Noordpool toe, dit is luuks!” Ton merk ’n rooigebrande streep agter Darius se nek op. Die agterkant van die seun se groot hande lyk ook of hulle te veel son gesien het op een slag, en die vel skilfer af om nuwe sproete bloot te lê. “Jy was op die eilande?” vra hy belangstellend. “Ja, saam met daardie twee, toe ons jou gaan haal het!” Darius beduie in die rigting van Brik en Frik wat in die hoek van die vertrek sit en kaartspeel onder ’n dowwe staanlamp. ’n Haelgeweer met ’n afgesaagde loop lê langs Frik op die
vloer. “Ek het op ’n gewone vlug teruggekom, nie saam met julle nie, maar ek was daar!” “Ek is nie gehaal nie, ek is ontvoer!” protesteer Ton. Darius trek sy skouers op. “My oom sê dit is belangrik vir die toekoms van die wêreld. En ek weet wie jy is en hoe gevaarlik jy is!” “Ek is iemand wat tuinmaak en twee kinders oppas. Dít is my werk!” brom Ton. Darius glimlag skeef. Hy weet presies waarmee Ton hom daagliks besig hou, want hy het die speurwerk gedoen vir Ton se ontvoering. Hy het in die motorboot weggekruip die middag toe Ton vir Anna by die skool gaan haal het. Dit was doodmaklik: daar is ’n kompartement onder die bank van die boot waar daar net-net genoeg plek vir hom en sy lang bene was. Hy moes versigtig wees, want hy is gewaarsku dat MonPetit deur Maks bewaak word. Hy het in die bosse gaan wegkruip en die aand sommer op die strand geslaap. Daar was genoeg vrugte om te eet, en om buite te wees in die tropiese sterrenag was een van die aangenaamste ervarings van sy lewe. Die volgende oggend het Anna en Brak hom amper betrap, maar hy het net betyds tussen die bosse ingeduik. Gelukkig het hulle ’n entjie verder af gaan swem, en hy was bly dat sy voetspore nie op daardie deel van die strand gelê het nie. Toe was hy meer versigtig, en vanuit die ruie bosse agter die strand het hy hulle dopgehou en die ongelooflike toertjie van die robothond met verwondering gadegeslaan. Hy wou eintlik net loer wat Brak se instruksieboek sê, maar die meisiekind het teruggekom voordat hy dit weer tussen haar goed kon bêre. En dit was heerlik om die benoude uitdrukking op haar sproetgesig te sien toe sy die boek nêrens kon kry nie! Darius grinnik steeds as hy dink aan die lekker poets wat hy die donkerkopmeisiekind en haar robothond gebak het!
Onraad
In die hoofkwartier van GROEN in Amsterdam loop meneer Amsterdam op en af oor die Persiese mat wat die vloer van sy kantoor bedek. Die vertrek het gewelvensters wat uitkyk oor een van die groot kanale van die stad. ’n Paar verdwaalde eende dobber in die somber water rond, waar bote vol toeriste toegewikkel in jasse en serpe skynbaar doelloos op en af vaar. Smal baksteenhuise leun dronkerig teen mekaar op die oorkantste wal, hul gewels afgeëts teen die grou lug. “So wat presies probeer jy vir my sê?” verbreek meneer Amsterdam uiteindelik die nadenkende stilte. Hy stap tot by die senuweeagtige jong man in die wit laboratoriumjas en gluur hom skerp aan. Die jong man is baie langer as die kort, plomp meneer Amsterdam, maar hy krimp sommer ineen van skrik. “Ons kan nie presies seker wees nie, meneer,” stotter hy, “sonder die AardWag se data is ons hande feitlik afgekap. Ons moet staatmaak op ons eie berekeninge.” “En wat is die antwoord van die somme wat jy maak?” vra meneer Amsterdam sarkasties. “Wel, ons antwoorde strook met die gedrag van die walvisse! Daar is al hoe meer van hulle wat van koers af is. En die skepe ondervind ook skielik probleme! Nie alle skepe nie, net dié wat nog navigasietoerusting gebruik wat op kompaslesings vertrou.” “Sotte!” brom meneer Amsterdam. “Wie gebruik nog ’n kompas, eerder as satellietnavigasie?” Die jong man knipper sy oë verbouereerd. Hy is nie seker of sy baas ’n antwoord op die vraag verwag nie. “Die versteurings in die magnetiese veld, wat dit ook al is, het nie ’n konstante krag of rigting nie,” rammel hy voort.
“Maar dit is nonsens!” bulder meneer Amsterdam vies. “Dit is nie wetenskaplik nie! Gee my antwoorde! Ons moet weet presies wat aangaan. Het jy met MonPetit probeer kontak maak?” “Ek dog dan ons mag nie …” stamel die outjie. “Gaan doen dit dadelik! Die wetenskap is belangriker as al die ander bog. Ons moet presies weet wat aangaan, ons het feite nodig!” Die jong wetenskaplike skarrel haastig weg. Wie het gesê wetenskaplike werk is altyd logies? Hy voer maar net bevele uit, en hy weet glad nie meer van watter kant af die wind waai nie. Meneer Amsterdam is geïrriteerd omdat hy nie presies weet wat hom so bekommer nie. Klein versteurings in die magnetiese veld van die aarde is nie ongewoon nie. Dit kan heel natuurlik wees. Tien teen een is alles weer normaal binne ’n dag of twee, en dan kan hy weer aandag gee aan iraal Atoom se saak. Hierdie gedagte laat hom nog ongemakliker voel. Hy probeer homself troos deur aan Uranus Draak se wonderlike plan te dink om aardverwarming af te weer. Dit sal ’n oorwinning wees vir die wetenskap! Hy kan hom al die koerantopskrifte voorstel: WETENSKAPLIKES RED ONS WÊRELD! (al weer). Hy sal genooi word na glorieryke dinees. Hy sal perskonferensies hou. Dalk ontmoet hy die president van die Verenigde State of selfs die koningin van Engeland. Hulle sal sekerlik self sy hand wil skud om hom geluk te wens! Uiteindelik sal hy erkenning kry vir sy lewenstaak en toewyding aan die een wapen wat die wêreld nodig het: die wetenskap. Maar wat as dinge nie reg uitwerk nie? Wat as Uranus se berekeninge verkeerd is? Hy begin weer op en af oor sy mat stap, en ’n dieper frons plooi sy gesig nog meer. Daar is ’n sagte klop aan die deur en die witjas-outjie skuifel verskonend terug in die vertrek. Mens sou nie kon dink dit is moontlik nie, maar hy lyk nou nog meer
senuweeagtig as tevore. “MonPetit-eiland antwoord ons nie, meneer. Ek kry nie vir professor Atoom in die hande nie.” Meneer Amsterdam lyk inderdaad of hy gaan ontplof. Sy ronde lyfie swel gevaarlik en sy gesig word bloedrooi. “Het jy met Maks gepraat?” vra hy ysig. “Maks? Wie is Maks, meneer?” “Maks is die rekenaar wat die AardWag beheer, jou stommerik! Hy is direk gekoppel aan ons sisteem.” Die jong man storm weer uit die vertrek. Twee minute later is hy terug met ’n triomfantlike uitdrukking op sy gesig. “Ek het met Maks in verbinding getree, meneer. Hy kan sowaar praat!” Hy sê liewer niks oor hoe Maks praat nie. Dit klink sowaar nie vir hom na ’n baie slim rekenaar nie. “So, en wat sê hy?” wil sy baas weet. “Hy sê dat die Atoom-familie nie op MonPetit is nie. Om presies te wees, het hy gesê dat hulle nie op die eiland isse nie.” “Ja, ja, ek weet van Maks se grammatikaprobleme. Maar wat bedoel hy, hulle is nie op die eiland nie?” “Ek weet nie, meneer, hy bedoel seker hulle is iewers anders?” “Idioot!” snou meneer Amsterdam. “Hoe kan hulle iewers anders wees? Waarheen sal hulle gaan? Visvang?” “Ja, visvang!” Die jong man se oë blink vir ’n paar oomblikke en hy vergeet skoon om bang te wees vir sy baas. “Dit is wat ek sou doen as ek op ’n eiland gewoon het.” Meneer Amsterdam is nou so kwaad dat hy ysig kalm voorkom.
“Visvang is dalk net die regte werk vir jou, want JY IS ’N HOPELOSE WETENSKAPLIKE! MAAK DAT JY HIER WEGKOM!” Die jong man skarrel weg. Vir ’n paar minute heers daar doodse stilte in die kantoor, terwyl die direkteur van GROEN weer op en af begin stap oor sy mat. Hy dink so hard dat dit lyk asof stoom enige oomblik by sy ore gaan ontsnap. Uiteindelik gooi hy sy gespanne lyf neer in die groot opgestopte stoel in die hoek van sy kantoor. Dit is sy holografiese kommunikasiesentrum. Hy pons ’n bevel op ’n klein paneel in wat in die armleuning van die stoel ingebou is. Duisende kilometers bo die aarde verskyn sy beeld skielik in die RuimteArk. Hy dryf langs een van die groot sfere waarin ’n paar bobbejane sluimer. Soos die ander diere rondom hulle steur die bobbejane hulle glad nie aan die skielike verskyning van meneer Amsterdam nie. “U6!” beveel hy skerp. U6 wonder hoekom hy die moeite doen om haar te besoek as ’n holografiese beeld. As ’n rekenaar het dit min nut vir haar om hom te sien. Sy steur haar nie aan die subtiele boodskappe van gesigsuitdrukkings en lyftaal nie. Hy kon haar netsowel gekontak het deur teks, of net sy stem. Sy besef nie dat meneer Amsterdam net graag wou sit nie. Die stoel is gemaklik, en hy is moeg. “Goeiedag, meneer Amsterdam,” groet U6 hom vriendelik. “U6, weet jy waar die Atoom-familie is?” “Natuurlik weet ek waar hulle is. Hulle is almal op aarde, selfs die iraal!” Haar stemtoon is afkeurend oor hierdie laaste feit. “Moenie moeilik wees nie, vroumens!” grom haar baas. “Ek weet hulle is almal op die aarde, en ek weet presies waar die iraal is. Ek wil weet van die res van die familie: professor Sabatina en die kinders. Weet jy waar hulle is?” “Ek het my kommunikasie met die hele Atoom-familie verbreek, volgens jou
persoonlike instruksies.” Daar is ’n duidelike moedswilligheid te bespeur in haar mooi stem. “Jy antwoord nie my vraag nie. Jy is ’n kunsmatige intelligensie en jy werk vir my, onthou dit. Jy moet my vrae direk antwoord!” “Ja.” “Ja, jy stem saam, of ja, jy weet waar hulle is?” “Ja.” “Vroumens, weet jy waar Sabatina en die kinders is?” “Ja.” “Ek het so gereken! Goed so. Dit is die minste wat ek verwag in die lig van al die geld wat ons op jou spandeer! Jy moet altyd volledig ingelig wees.” “Ek is.” “Genugtig tog, vertel my waar hulle is!” U6 het geen keuse nie. Sy is immers ’n rekenaar en sy moet bevele gehoorsaam. “Hulle is op hierdie oomblik in die JetKopter iewers oor die Sahara-woestyn, op pad na Europa.” “Grote griet en goeie genugtig!” Meneer Amsterdam skud sy kaal kop onrustig. “Sê vir hulle om dadelik om te draai en terug te gaan huis toe.” “Met alle respek, meneer, dit kan ek nie doen nie. Ek het geen direkte kommunikasie met hulle nie, danksy jou bevele, en bowendien werk professor Sabatina nie meer vir GROEN nie. Sy sal nie vir my luister nie.” Meneer Amsterdam word nog gryser. Hy sit daar in sy stoel en vryf sy lang vingers op sy skoot soos wat sy gewoonte is wanneer hy gespanne is. Hy sug. “Weet jy wat hulle beplan?” “Ton is ontvoer,” begin U6 verduidelik.
“Wie is Ton?” wil meneer Amsterdam weet. Soos baie mense in hoë posisies, is hy salig onbewus van die mense wat die minder belangrike werk doen. U6 sug. “Hy is die nutsman van MonPetit. Hy kyk na die kinders en maak die kos.” “Wie sou hom dan ontvoer, en wat maak dit saak?” U6 sug weer. Iets in haar program waarsku haar om meneer Amsterdam nie te veel oor Ton te vertel nie. Sy hou dus net by die noodsaaklikste feite en bly stil oor Ton se gevaarlike verlede. “Uranus Draak het Ton laat ontvoer en hou hom gevange in Schloss Baumschmerzen, saam met die iraal. Die tenk waarin jy die iraal laat prop het, werk nie baie goed nie. Die iraal se toestand gaan stadig maar seker agteruit. Hy sal nie vir ewig daarin kan oorleef nie! Die professor weet dit en sy is op pad om haar man en Ton te gaan red.” “Belaglik! Uranus weet presies wat hy doen. Hy het my belowe dat die iraal veilig sal wees. Die iraal is ’n gevaarlike man, en hy moet verhoor word vir sy dade!” “Die getuienis teen hom is vals,” sê U6. “Julle is mislei. Ek het al die bewyse dat die iraal onskuldig is. Dit was Uranus self wat die BioGolf ontwerp en afgevuur het.” “As dit so is, hoekom het jy ons nie vroeër gesê nie?” “Julle het my nie gevra nie.” Meneer Amsterdam se gesig verander nou stadig van grys na groen. Hy is nog nie mooi seker hoe dit gebeur het nie, maar alles loop verkeerd. Verduiwelse kunsmatige intelligensie! Mens kan nie met rekenaars werk nie, hulle is sowaar stomonnosel ten spyte van hul vermoëns. Hierdie ding dat hulle net inligting gee as hulle direk daarvoor gevra word, maak mens mal! Maar wat nou gemaak? Hy is nie om dowe neute hoof van GROEN nie. Sy brein begin homself weer organiseer. “Wys my jou bewyse!” ’n Skerm teen die muur van die stasie flikker aan. Die beeld wys die binnekant
van die geheime Sektor 16, waar die iraal deur Uranus gekonfronteer word. Meneer Amsterdam hoor elke woord van die gesprek wat maande gelede gevoer is, en sien dan hoe Uranus ’n pistool te voorskyn bring en die iraal koelbloedig skiet, reg in die bors. Meneer Amsterdam kry amper ’n hartaanval van skok. “Die iraal se ongewone molekulêre toestand het verhoed dat die koeël skade kon aanrig,” verduidelik U6. Stadig dring dit tot meneer Amsterdam deur presies hoe groot die gemors is waarin hy hom bevind. Maar is Uranus dalk besig met nog groter verraad? “U6, doktor Draak beplan om ’n massiewe elektromagnetiese krag te aktiveer aan elke pool van die aarde. Die idee is om die as van die aarde effens te skuif sodat die ys sal ophou smelt. Hy reken dat dit ons van die nadelige effekte van aardverwarming sal red.” “Ek weet niks daarvan nie.” “Hy moes dan ’n ander rekenaar gebruik het om hom te help met sy berekeninge. Of dalk het hy dit op die outydse manier gedoen: op ’n stuk papier! Dink jy die idee sal werk?” “Ek is nou besig om die moontlikhede van die sukses van so ’n magnetiese verskuiwing te ondersoek.” U6 bly ’n paar oomblikke lank stil. “Nee, daar is geen kans dat dit sal werk nie,” sê sy dan. Sy projekteer haar berekeninge en diagramme op die skerm. Sy verduidelik kortliks aan haar baas wat die werklike effek van so ’n poolverskuiwing sal wees. “So jy sien, meneer, dat daar geen manier is dat so ’n verskuiwing die aarde sal baat nie. Minstens nie op die kort termyn nie!” “Wat bedoel jy, kort termyn?” “So tweehonderd miljoen jaar, meneer. Dit is hoe lank dit mag neem voordat die klimaat weer van so ’n katastrofe sal herstel.” “Ek sien.” Meneer Amsterdam lyk skielik stokoud. Watter ongelooflike groot swaap was hy nie!
“Kan jy my in verbinding plaas met die iraal?” “Dit kan ek nou nie meer doen nie, meneer.” “Wat bedoel jy, nou nie meer nie?” Meneer Amsterdam voel hoe paniek dreig om hom te oorval. Het iets met die iraal gebeur? Het die ondersteuningstelsel van die tenk dalk gefaal? Het Uranus weer probeer om hom te vermoor? Dit is alles sy skuld! “Hulle is nie meer by Schloss Baumschmerzen nie. Doktor Draak het vertrek, en hy het die iraal en Ton saam met hom geneem.” “Grote griet! En waar gaan hulle heen?” “Dit blyk dat hulle op pad is na die Baltiese See, waar Uranus sy duikboot hou.” “Dit het te doene met die Meermin! Hulle wil die Meermin gaan installeer onder die ysskots oor die Noordpool!” U6 reken haar baas het nou finaal die kluts kwytgeraak. Sy weet nie hoekom hy nou skielik van ’n meermin praat nie. “Toe nou maar, meneer, bly kalm!” paai sy hom. “Miskien moet u eerder ’n bietjie gaan rus. As u nou regtig hier op die stasie was, sou ek u ’n lekker koppie tee kon aanbied.” “Koppie tee se voet!” Dan onthou meneer Amsterdam iets anders. “Sabatina! Sy is op pad na Europa. Laat ek met haar praat!”
Op pad na die noorde
Hulle reis per helikopter na die noordelike kus van Duitsland, waar Uranus Draak se duikboot gehuisves word by Eckernförde, ’n klein dorpie op die rand van die Baltiese See. Ton, wat nog altyd sy belangstelling in militêre sake behou het, merk dadelik op dat dit een van die Duitse U212-bote is, bekend vir hul geruislose aanvalsvermoë. Dit is vroegaand, en die iraal se tenk word oorgelaai in die wagtende duikboot met behulp van ’n klein hyskraan. Brik en Frik hou Ton met valkoë dop, en die neus van die afgesaagde haelgeweer bly pal in sy rug kuier. Die duikboot is enorm groot en vertoon strak en formidabel in die koue grys water. Darius staan vir hulle en wag op die dek van die duikboot se toring. Hy is geklee in ’n dik grys trui met ’n wolkraag, en geskeurde jeans. Hy leun teen die reling en fluit een van sy lawwe deuntjies. Ton gluur hom aan. “Dit is nie kinderspeletjies hierdie nie. Ek en die iraal is hier teen ons wil, en jou oom is op pad om iets te doen wat die mensdom moontlik kan vernietig!” Darius se groen oë bly op die horison gevestig. Sy deuntjie se toonhoogte sak ’n oktaaf laer, maar hy fluit onverpoos voort. Brik druk die stomp loop van die haelgeweer stewiger teen Ton se stuitjie vas. “Stap, blaasbek, en bly stil!” grom hy.
Duikbote
In die groot wêreldoorloë van die vroeë twintigste eeu het duikbote ’n belangrike rol gespeel. Duikbote kon die vyand se skepe onsigbaar bekruip en sink. Swaar ysterskepe dryf omdat hulle meer water verplaas as hul eie gewig. Die groot hoeveelheid lug wat in die ruim van die skip vasgevang is, maak dit moontlik. Om onder die water te kan vaar, het duikbote spesiale ingenieurstegnologie nodig. Groot ballastenks word met water gevul om die duikboot se digtheid swaarder as dié van die water te maak – dit laat die boot sink. Duikbote is gewoonlik sigaarvormig, want dit help om die sleurkrag van die water so min moontlik te maak, en ook om die ongelooflike hoë druk van die diepsee te kan weerstaan. Duikbote se enjins is ook baie spesiaal. Dit moet so geruisloos as moontlik wees, en gewone enjins wat suurstof vir verbranding nodig het en uitlaatgasse produseer, werk natuurlik nie so goed onder die water nie. Moderne duikbote word dikwels deur kernkrag aangedryf, wat hierdie probleme omseil. Bote soos die U212 word onderwater aangedryf deur waterstofbatterye en kan maande lank onder die oppervlak bly. Duikbote het nie vensters nie en “sien” met behulp van sonar, wat klankgolwe in die water monitor. Een groot probleem wat die moderne tegnologie egter nog nie kon oorkom nie, is hoe om die bemanning gesond en gelukkig te hou as hulle maande lank in so ’n klein ruimte moet werk en leef.
Die binnekant van die duikboot is verbasend luuks. Uranus het dit duidelik laat oordoen, en die strak militêre omgewing is versag met ’n paar Persiese matte en pastelkleurige verf. Uranus se groot stoel in die beheersentrum van die boot is oorgetrek in materiaal met ’n tiervelontwerp. “Hierdie is een van die vinnigste onderwaterbote op aarde,” spog hy. “Ons sal die Noordpool binne tien uur bereik. Ek praat nou van die regte Noordpool, nie die magnetiese een nie. In elk geval, die magnetiese pool gaan binnekort op ’n heel ander plek sit!” Uranus streel liefdevol oor die nagemaakte pels van sy stoel. “Danksy jou vlot my planne nog beter as waarop ek aanvanklik kon hoop. Ek is sowaar beïndruk met jou – jy het die toriumreaktor verbasend vinnig klaargemaak. Nie dat ek ooit getwyfel het dat jy sal slaag nie! Al wat nou oorbly, is om die Magnetiese Meermin te posisioneer op die plek waar ek die nuwe pool wil hê.” “En waar presies is dit?” vra Ton. Uranus glimlag skelm. “Ek kan jou maar netsowel sê! Jy is nou hier, en wie weet, dalk kan ek jou nog ’n klein gunsie vra!” Ton gluur hom net aan. “Ons gaan my mooi silwer meisie net hier te water laat,” hy wys met sy vinger na ’n plek op ’n rekenaarskerm wat die gebied rondom die Noordpool projekteer. Dit is net op die rand van die yskap. “Soos jy weet, het aardverwarming die afgelope jare die ys wat nog altyd die Noordpool bedek het, toenemend laat smelt. Dit maak die water hier noord van Kanada en Groenland al hoe meer bevaarbaar, en skeepvaart in die omgewing het begin toeneem. Die duikboot is dus noodsaaklik: ek wil nie ons teenwoordigheid uitbasuin nie. Hierdie een vaar omtrent geheel en al geruisloos, en sy kan soos ’n jakkals tussen al die skapies deursluip tot onder die yskap.” Ton staar net uitdrukkingloos voor hom uit. In sy hart is daar ’n onmeetbare woede. Hierdie gewetenlose man het hom net waar hy hom wil hê. Hy het die toriumreaktor voltooi. Dit was eintlik kinderspeletjies. Hy het egter ’n paar verstellings daaraan gemaak wat dalk net kan keer dat die Meermin so sterk sal wees as wat Uranus beplan. Maar wat gaan gebeur as Uranus dit uitvind?
Hy sal nog verdere planne moet maak, en sover het hy nog nie raad nie. Intussen moet hy Uranus tevrede hou, ter wille van Pip en daardie gevaarlike knop agter die seuntjie se nekkie. Ton wonder waar Uranus die afstandbeheer wegsteek. Hy sien dit nêrens nie. Is dit op die boot, of het dit in Schloss Baumschmerzen agtergebly? Hy raai dat Uranus dit naby hom sal hou. As hy dit net in die hande kan kry! Die deur op die toring van die duikboot word dig gesluit. Die groot vaartuig maak gereed om te vertrek. Geruisloos glip hulle onder die water weg.
Is hulle reeds te laat?
In die JetKopter sit Anna en luister na die gesprek tussen haar ma en meneer Amsterdam. Haar pa is nie meer in Schloss Baumschmerzen nie. Sy voel effens teleurgesteld daaroor: sy wou graag sien hoe lyk Uranus se kasteel in die Alpe. Dit klink na ’n plek waar drake en bloeddorstige vlermuise kan wegkruip. Nou hoor hulle dat die hele spul – haar pa, Ton en Uranus – op pad is Noordpool toe in ’n duikboot. Vir Anna is die Noordpool iets ondenkbaars. As eilandkind is ys en sneeu nie deel van haar ervaringsveld nie. Haar ma lyk bekommerd. “Ek is so jammer oor die misverstand, Sabatina!” sê meneer Amsterdam. “Misverstand? Jy stel my man se lewe in gevaar, beskuldig hom vals van ’n reusagtige misdaad en jy skop my en MonPetit uit GROEN uit, en dan noem jy dit ’n misverstand?” Anna staar na buite. Deur ’n gaping in die wolke doer onder hulle kan sy ’n deel van die kus van Noord-Afrika sien, en die blou van die Middellandse See. Vir haar lyk dit net soos om oor ’n groot weergawe van die AardWag te vlieg. Sy was nog nooit in die noordelike halfrond nie, en hierdie reis voel vir haar onwerklik. Pip slaap, met Brak langs hom op die sitplek. ’n Stukkie van Brak se bont verf het reeds van sy een boud afgedop en nou lyk hy hol. Anna frons. Hoe op aarde gaan sy hom weer sigbaar kry? Hulle kan eenvoudig nie sonder Ton klaarkom nie.
“Maks, wat nou?” vra professor Sabatina. Sy het haar verbinding met meneer Amsterdam verbreek. Sy is nog nie lus om vriendelik met hom te wees nie, verskonings ofte nie. “Miskiens moet julle huis toe komme,” sê Maks. “Nie voor Abraham veilig is nie!” protesteer professor Sabatina. “Vra jy solank vir GROEN om ’n tuig reg te kry om hom terug te neem na sy ruimtestasie toe. Ons gaan hom haal!” “Of julle kans die hele operasie gaan saboteers vanaf Uranus se hoofkwartiere!” stel Maks voor. “Wat bedoel jy?” wil die professor weet. “My slim liefie in die ruimte kan Schloss Baumschmerzen se sekuriteitstelsel deaktiveer. Iemand slims genoeg sal vanuit doktor Draak se eie studeerkamer dan ’n paar verstellings kans maak aan die Meermin, sonder dat hy dit eens weete.” Professor Sabatina oorweeg sy voorstel vir ’n paar oomblikke en neem dan vinnig haar besluit. “Maks! Jy is geniaal! Neem ons dadelik na die Schloss toe.” “Maar Ma!” protesteer Anna. “Wat van Pa?” Professor Sabatina frons bekommerd. “Ek weet. Ek wil hom ook so gou moontlik uit daardie Draak se kloue kry. Maar ons moet kalm bly. Een ding op ’n slag. Om die Meermin te deaktiveer, is ’n uiters belangrike begin.” Anna voel skielik trane agter haar oë brand. Dit is alles te ingewikkeld vir haar! Sy wil huis toe gaan en met Brak op die strand gaan speel. En sy wil haar pa terughê, al is dit net sy gesig wat op ’n skerm geprojekteer word vanaf die RuimteArk. Maks laat weet dat U6 reeds die nodige voorbereidings vir hul aankoms by die Schloss getref het. Daar is net ’n paar sekuriteitswagte aan diens, die res van Uranus se personeel is saam op die duikboot. Sy kon maklik van hulle ontslae raak deur ’n elektroniese boodskap te stuur dat die gebou ontruim moet word vir
pesbestryding. “Pesbestryding?” vra professor Sabatina. “Ja. Ek is sekers so ’n ou kasteel is vol rottes. My slim liefie het gesê almal moet weggaan sodat die rotvangers en kakkerlakvergiftigers kan kom skoonmaaks. Sy sêe hulle was maar te blye om vir ’n dag of wat onder in die dorpie te gaan blys. Die Schloss is onbewaaks.” Dit is sowaar lekker as jy twee superrekenaars het om jou lewe te help vergemaklik! Hulle land op dieselfde plek waar die ruimteskip die iraal se bewaringstenk vanaf die RuimteArk afgelaai het. U6 laat die valbrug oor die grag sak. Anna en Pip trek die ritssluiters van hul sneeupakke hoog teen hul kenne op, want hier bo in die Alpe sny die wind soos ’n mes. Die kasteel lyk somber en vreesaanjaend. ’n Valk skreeu kras teen die grou lug. “Skakel asseblief julle Persoonlike Kommunikeerders aan en bly naby my!” waarsku professor Sabatina haar twee kinders. Brak snuffel oral rond. As hy ’n regte hond was, het hy sekerlik die ou klippe waaruit Uranus se familiekasteel gebou is behoorlik gemerk met ’n beenlig of twee. Met behulp van hul Persoonlike Kommunikeerders lei Maks hulle deur die groot voorportaal, waar dubbele trappe lei na die boonste verdiepings wat in duister gehul is. Vanaf die hoë plafonne hang ysterkandelare aan dik kettings, maar in plaas van regte kerse gooi goedkoop gloeilampies kolle spookagtige blou lig teen die diep donker. ’n Groot opgestopte beerkop gluur na Anna van waar hy gemonteer is teen ’n muur. Sy geel glasoë blink venynig in die halfskemer. “Sies!” kla sy. “Mens kan sommer sien wie hier bly!” Daar is ’n donker gangetjie wat uit die agterkant van die voorportaal lei, verby ’n verlate kombuis en verskeie geheimsinnige deure, almal dig gesluit. Pip en Anna brand van nuuskierigheid om rond te snuffel. Hulle was nog nooit
in so ’n plek nie! “Dit is nie nou die tyd vir verken nie!” waarsku hulle ma. Kan sy dan sowaar hulle gedagtes lees? Hulle vind Uranus se studeerkamer: daar waar hy ’n dag tevore nog met Ton ’n onderhoud gevoer het en hom afgepers het om hom te help om die Meermin te voltooi. Professor Sabatina skuif agter die groot lessenaar in en begin dadelik op die sleutelbord van die rekenaar werk. “Wat is dié?” vra sy skerp. “Dit is die bloudruk van die Magnetiese Meermin,” verduidelik Maks. Sy stem klink dun en blikkerig vanuit die klein luidspreker van professor Sabatina se Persoonlike Kommunikeerder. Binne oomblikke is die professor se aandag vasgevang. Sy konsentreer op die planne van die Meermin. Die lig van die skerm voor haar gooi ’n blou gloed oor haar bleek wange. Anna en Pip kyk in die vertrek rond. Die plek is grillerig. “Woekies!” sê Pip. Hy onthou die kombuis waar hulle netnou verbygeloop het, en sy maag grom. “Ons kan netsowel,” antwoord sy suster. Maar die Schloss se kombuis is teleurstellend. Wat eet hierdie mense? Daar is koolkoppe in ’n mandjie en vetterige stringe wors wat in die spens hang. Verdere ondersoek lewer net stapels uie, knoffel en ’n krat vol muwwerige aartappels op. Pip spoor ’n vrugtekoek in ’n blik op, maar dit is kluiterig en ruik na ou skoen. ’n Onrustigheid bly knaag aan Anna. Wie weet hoe lank hulle ma nog besig gaan wees met die rekenaar en die Meermin se programmering? Wat word intussen van haar pa? Net ’n paar maande tevore het Uranus hom probeer vermoor deur hom te skiet. Hoekom het hy vir Ton laat ontvoer? Sy druk die knoppie op haar Persoonlike Kommunikeerder.
“Maks, wat beplan doktor Draak om met my pa en Ton te doen?” “Dit weets ek nie, Anna.” Pip het ’n blik ingelegde kersies gekry en hy werk nou daaraan met ’n bliksnyer. “Hoe lank gaan my ma nog besig wees?” “Dit kan ’n hele paar ures neem,” waarsku Maks. “Sy moet in kontaks bly terwyl Uranus die Meermin posisioneer, en op die regte oomblik moet sy die verstellings wat hy aan haar maake, verander.” Anna het genoeg gehoor. Met vasbeslote treë stap sy terug na Uranus Draak se studeerkamer toe.
Arktiese ys
Die duikboot vaar nou onder die ysskots wat die Arktiese Oseaan bedek. Die water is donker en stil. In die helder verligte ruim van die vaartuig sit Uranus Draak op sy tiervelstoel. Hy het ’n selftevrede glimlag op sy gesig. Darius sit langs hom op ’n hoë stoeltjie. Hy swaai sy lang bene. “Ons familie sal nog lank onthou word vir hierdie daad!” spog doktor Draak. “Presies wat gaan met die aarde gebeur, oom?” vra Darius. “Aanvanklik nie veel nie. Die magnetiese as gaan skuif. Die invloed van hierdie presiese verskuiwing is egter so bereken dat dit ook die aarde se werklike as gaan verander. Net effens, maar genoeg om die posisie van al twee pole te skuif: die magnetiese sowel as die sogenaamde ‘ware’ pool.” “En dan sal die klimaat vir altyd verander, dwarsoor die hele wêreld?” “Ek hoop so, ja. Die mees digbevolkte dele van die aarde is tans in Europa, Asië en Noord-Amerika, daar waar die klimaat mees gematig is. Nou gaan ons dinge so ’n bietjie omwoel!” Darius dink ’n oomblik na. Hy is lief vir sy oom, want hy is al familie wat hy het. Hy onthou die pragtige eiland waar die Atoom-familie bly. “Wat gaan word van, byvoorbeeld, die eilande wat nou naby aan die ewenaar lê?” “Kouer. Die ewenaar gaan effens kantel, en daardie eilandbewoners sal vinnig dik truie moet aanskaf as hulle dit wil oorleef! Dit is nou te sê as daar nog eilandbewoners gaan wees. Die watervlak gaan aanvanklik eers styg, wat beteken dat baie van die eilande heeltemal gaan verdwyn.” Uranus giggel. “MonPetit-eiland ook?” vra Darius. “Verseker die einde van daardie muisnes!” grinnik sy oom.
“En die groot man en die iraal?” wil sy nefie weet. “Ons het hulle eintlik nie meer nodig nie. Ton kan help om die Meermin te installeer, want iemand moet haar hand vashou en seker maak sy dryf presies regop. Die ys is onvoorspelbaar, dit is belangrik dat sy onder ’n dik skots geplaas word om te keer dat sy na die oppervlak dryf, of dalk selfs vasgevang word tussen twee stukke ys wat haar van koers af kan dwing. Ek het ’n duikpak vir hom saamgebring, hy kan die Meermin begelei op haar nooiensvaart. Sodra hulle twee op die regte plek is, kan ons teruggaan na die Schloss toe. Jy wou mos nog gaan ski het? Ons moet jou ’n kans gee terwyl daar nog sneeu op die Alpe is. Binnekort gaan dit dalk lekker warm wees daar!” Uranus giggel weer. Darius hou sy gesig uitdrukkingloos. “Ek gaan net gou kyk of alles glad verloop,” sê hy en glip van sy stoel af. Hy stap in die nou gang af na die groot stoorkajuit waar Ton langs die iraal se tenk sit. Ton kyk op toe die deur oopgaan. Hy gluur boos na die jong seun. “Dit is net ’n kwessie van tyd,” grom hy, “dan is dit vir altyd te laat. Besef jy wat jou oom besig is om te doen?” “Hy het goeie bedoelings.” Darius staar na die vloer. Die iraal klop teen sy glasvenstertjie. Hy waai vir die seun en glimlag vriendelik. Darius kan nie help om terug te glimlag nie. Hy onthou die skraal meisie met die donker hare – hierdie is duidelik haar pa. Hulle het dieselfde oë. Hy wens hy het liewer ook só ’n pa gehad in plaas van ’n gekkerige oom soos Uranus Draak. Brik en Frik kom die vertrek binne. “Ons is hier!” kondig Frik aan. “Die duikboot het deur die ysskots gebreek. Jou oom sê ons moet alles begin regmaak!” Darius volg hulle uit die vertrek. Hy gaan trek sy dik Arktiese baadjie en mus aan, en gaan op na die toring van die duikboot toe. Dit is ysig koud buite. Die bleek skyf van die son is net bo die horison sigbaar en
verlig die ysveld rondom hulle met ’n flou lig. Die lug bo hulle is donker, en sterre flonker ten spyte van die Arktiese skemer. Darius sien hoe die wind los sneeu vanaf die yslaag opwaai en in veeragtige strepe laat ronddwarrel. Die voorbereidings begin. ’n Sneeuponie en ’n klein sneeuploeg word afgelaai, met ’n slee waarop die Magnetiese Meermin vasgemaak word. Sy lê koud en sierlik en wag op haar dodelike reis, die toriumreaktor in haar hart reg gestel om haar magspel met die natuur te begin. Die iraal se tenk word ook afgelaai op die ys.
Die Noordpool
Die Noordpool is in die middel van die Arktiese Oseaan. Dit word bedek deur ’n laag dryfys van so twee tot drie meter dik. Daar heers kommer dat klimaatsverandering besig is om hierdie yslaag al hoe kleiner en dunner te maak – en vinnig ook! By die Noordpool bestaan die jaar uit een enkele lang dag (somer), en een baie lang nag (winter). Die son kom hier in Maart iewers op, skuif nooit heeltemal hoog op teen die horison nie, en sak eers weer in September. Dit is baie koud, natuurlik, maar nie so koud soos by die Suidpool nie – die hoogte bo seespieël van die Antarktiese landmassa maak dit baie kouer daar, en omdat die Noordpool in die middel van die see lê, is dit ook effens warmer, want seewater absorbeer meer hitte as land. Min diere kom daar voor: die voetspore van ’n ysbeer word nou en dan daar naby opgemerk, en dié van Arktiese vosse ook. In die see onder die ys is daar natuurlik vis en kleiner vorme van lewe soos skaaldiere, maar heelwat minder as in warmer water.
“Hoekom laai julle hom af?” vra Darius. Sy oom antwoord hom nie. Ton staan stug langs die iraal en wag terwyl die gewerskaf om hom voortgaan. “Hoekom gaan ry jy nie ’n entjie met die sneeuponie nie?” vra doktor Draak. Dit sal beter wees om sy nuuskierige nefie besig te hou. Hy vra te veel vrae! Darius laat hom nie twee keer nooi nie. “Wees net versigtig,” waarsku sy oom. “Die dryfys is onstabiel!” Die sneeuponie is kragtig, en word beheer net soos ’n motorfiets. Darius ry versigtig ’n paar draaie. Helder ligte verlig die gewerskaf om die duikboot, en hy ry ’n groter sirkel om die ys rondom hulle te verken. Hulle is naby aan die rand van die ysskots, en donker water sny ’n diep kerf deur die ys op die plek waar Uranus beplan om die Meermin te water te laat. Darius sirkel ’n entjie weg. Skielik sien hy ’n beweging. Hy skreef sy oë: ’n sneeuvos, spierwit en goed gekamoefleer teen die agtergrond, hou hulle stip dop. Die dier voel aan dat hy dopgehou word en draai weg. Hy draf met ligte tred ’n entjie ver voor hy weer gaan staan en omkyk. Darius vuur die motor en volg hom. Die vos is tuis in die sneeu. Sy spoor is maklik om te volg. Die wind sny teen die seun se wange, en die gevoel van spoed oor die gladde ys is heerlik. Dan kan hy die vos skielik nie meer sien nie. Hy tuur om hom rond. Skielik knip hy sy oë verbaas: ’n wasige neongroen lig plooi oor die hemel, en verdwyn weer net so skielik as wat dit verskyn het. Die noorderligte! Dit speel oor die hemel met tydsame grasie en plooi vanaf die horison in ’n kronkelpad tussen die sterre deur. Darius vergeet van die vos en die koue. In
verwondering staar hy na die skouspel. Hy sien die ysbeer eers toe hy byna op hom is. Die groot dier storm geruisloos nader en kom net ’n paar meter van die sneeuponie af tot stilstand. Die beer grom dreigend en hys homself op sy agterpote. Iets het hom laat vassteek. Dit is Ton. Die groot man het soos ’n skim langs die seun verskyn. In sy dik Arktiese jas is Ton nog groter as die yslike beer, en hy toring beskermend oor die seun. Die beer kyk sy nuwe opponent uitdagend aan, maar Ton staar vas terug. Tussen die twee sit Darius versteen op sy sneeuponie, ineengekrimp van vrees. Die beer verloor belangstelling, sak terug op sy pote en draai weg. Hy gaan soek kos op ’n ander plek. “Die Noordpool is nie ’n plek vir sissies nie!” grom Ton vies. “Jy moenie so ver wegdwaal op jou eie nie!” Darius vererg hom. Hoe durf hierdie man hom ’n sissie noem? Sy knieë voel nog soos jellie – daardie beer was groot. “Waar kom die ligte vandaan?” vra Darius. “Dit word veroorsaak deur die sonwind,” verduidelik Ton. “Sonwind?” vra Darius.
Sonwinde
Die son is die moeder van ons planeetstelsel: dit verskaf lig en energie, en sonder sonstrale sou die aarde ’n donker en barre plek wees. Behalwe lig gee die son ook ander partikels, soos protone en elektrone, af. Hierdie partikels is deeltjies van atome wat opgebreek word in die magtige smeltpot van die son se atmosfeer. Protone en elektrone is elektries gelaai en daarom het hulle ook ’n magnetiese lading. Strale van hierdie gelaaide partikels word voortdurend teen ’n geweldige hoë spoed vanaf die son weggeskiet. Wanneer dit by die aarde aankom, word dit afgekeer deur die magnetiese veld van ons planeet, net soos ’n sambreel reënwater sou keer. Die gelaaide partikels van die sonwind stroom dan weg in die rigting van die planeet se twee pole, waar dit spoed verloor en reageer met partikels in die atmosfeer. Dan word energie afgegee in die vorm van lig: die betowerende noorderligte, wat ook bekend staan as die Aurora borealis. Ons maan, byvoorbeeld, het nie sy eie magnetiese veld om hom teen die sonwinde te beskerm nie. Dit is een van die redes hoekom dit vir mense moeilik sal wees om daar te oorleef sonder daardie lomp beskermende pakke wat ruimtereisigers dra. Net soos die aarde, het die son ook soms onstuimigheid in sy atmosfeer. Van tyd tot tyd veroorsaak sonstorms groot uitbarstings van hierdie strome gelaaide partikels, wat ons sonwinde noem. Buiten die asemrowende skouspel van die Aurora borealis, het dit dan ook ’n invloed op ons elektroniese kommunikasiestelsels soos selfone en selfs die internet. Wil jy graag na sonwinde luister? Dit is die gekraak en gesuis wat jy kan hoor op kortgolfradio.
“Dit is vry elektrone vanaf die son wat reageer met die elektromagnetiese veld van die aarde – dit veroorsaak die lig wat die Aurora borealis genoem word.” “Ek het nog nooit iets so mooi gesien nie,” sê die seun. “Die natuur is wonderlik. Ons moet versigtig wees as ons daarmee inmeng.” Vir ’n paar oomblikke staan hulle in stilte en kyk na die ligskouspel bo hul koppe. “Jy moet teruggaan, jou oom soek na jou.” “Wil jy saamry?” “Nee dankie. Ek stap sommer.” Darius vermy die reguit kyk in die groot man se oë. Dan vuur hy die enjin van die sneeuponie en jaag terug oor die ys. Groot spreiligte verlig die toneel rondom die duikboot. Alles is in beroering soos die laaste voorbereidings getref word.
Anna gaan oor tot aksie
“Asseblief, Ma, laat my gaan!” Die rekenaarskerm in Uranus Draak se studeerkamer in Schloss Baumschmerzen verlig professor Sabatina Atoom se bekommerde gesig met ’n blou gloed. Ander ma’s hoor hierdie pleidooi as hul dogters wil gaan fliek. Anna vra haar dit, want sy wil alleen na die Noordpool reis om haar pa uit die kloue van ’n gewetenlose skurk te gaan red. Nee, dit kan nie! Dit is veels te gevaarlik, dink Sabatina. “Maks en U6 sal heeltyd by my wees, en ek belowe ek sal versigtig wees!” “En wat gaan jy maak as jy daar kom? Gaan jy mooitjies vir oom Uranus vra om jou pa aan jou terug te gee?” Hierop het Anna nie ’n antwoord nie. Professor Sabatina dink. Wat is Uranus se plan met haar man? Hulle was voorheen vriende, en sy het gedink sy ken en verstaan hom, maar nou lyk dit of hy die kluts kwytgeraak het. Miskien is dit nie so ’n slegte idee dat die JetKopter minstens in die omtrek is as dinge nog verder skeefloop nie … Sy neem haar besluit. “Anna, gaan. Maar onder geen omstandighede mag jy die JetKopter verlaat nie. Met ander woorde, bly daarin – jy mag nie uitklim nie. Maks sal jou in verbinding met my hou en julle maak net soos ek sê!” “Dankie, Ma! Natuurlik sal ek na jou luister!” Dié woorde stel professor Sabatina glad nie gerus nie. Sy ken haar dogter.
“Ek is ernstig, Anna. Uranus Draak is onvoorspelbaar en roekeloos. Jy weet self dat hy probeer het om jou pa te vermoor. Wie weet waartoe hy nog alles in staat is?” Sy sug. Dit is erg genoeg dat haar man in daardie monster se kloue is. Hoe kan sy haar dogter aan sulke gevaar blootstel? Maar sy is besig om ’n deurbraak te maak met Uranus se rekenaarstelsel. Nog so ’n uur of wat, en sy kan al sy programme deaktiveer. Dit sal die wêreld red van ’n ramp. En dalk kan hulle ook die iraal red – as hulle net betyds is. Die hele wêreld is in gevaar, en haar man ook. Hulle het geen ander keuse as om alles in die stryd te werp nie. Anna is dalk haar pa se enigste kans op oorlewing! Anna stap om die lessenaar en slaan haar arms om haar ma se skouers. Deesdae, noudat sy ’n tiener is, deel sy maar min drukkies uit en dit laat professor Sabatina hartseer glimlag. “Wees versigtig, liefie. Dit is vir my bitter moeilik om jou bloot te stel aan gevare soos hierdie, maar ek dink wel jy is reg. En ek vertrou jou. Jy kan dit doen. Dit sal help as jy solank gaan.” “Ek sal versigtig wees, Ma. Ek belowe.” “Dan moet jy wikkel. Hoe gouer ek hierdie programme deaktiveer, hoe beter. Ek gaan ook met meneer Amsterdam in verbinding kom om militêre hulp te ontbied, hulle behoort kort op jou hakke te volg. Dit is dus nie nodig om iets drasties te doen nie. Bly weg van Uranus af!” Maar Anna het reeds uit die vertrek gehardloop en hoor nie haar ma se laaste woorde nie.
Vlug na die noorde
Hulle vlieg oor ’n laslappieland van landerye. Hier en daar sien hulle digte, donker woude en skilderagtige dorpies langs die walle van breë riviere. ’n Ou kasteel versier ’n heuweltop, en troppe vet beeste wei in ’n veld. “Blprrr!” sê Pip skielik toe hulle oor ’n snelweg ry waar ses bane motors by mekaar verbyflits. Op MonPetit is daar nie sulke dinge nie! Anna draai verbaas om van waar sy haar op die voorste sitplek tuisgemaak het, haar geverfde robothond langs haar. “Pip! Hoe kom jy hier? Het ek nie gesê jy moet by Ma bly nie?” Die klein seuntjie grinnik net en klouter uit die bagasieruim agter die agterste ry sitplekke waar hy weggekruip het. Sy suster gluur hom boos aan. Wat gaan haar ma sê? Tyd vir omdraai is daar nie: hulle het reeds die hoogte bereik waar die JetKopter se enjins voluit vuur en hulle is op spoed. En elke sekonde mag dalk tel – hulle pa se lewe is in gevaar. “Enige nuus van my pa, Maks?” wil Anna weet. Maks is baie in sy skik om hulle op hierdie uitstappie te neem, en hy speel sagte musiek oor die luidsprekers van die JetKopter. “Vandat hulle hom uit Schloss Baumschmerzen geneeme het, niks nie!” erken die rekenaar. “Terloopse, weet jy wat betekens die naam Baumschmerzen?” “Nee,” sê Anna. “Maagpyns!” lig Maks haar in. “Baumschmerzen is Duits vir maagpyns.” “Vreeslik interessant, Maks, maar nie verbasend nie! Uranus is omtrent ’n pyn. Wat is daai?” sy wys na die kuslyn wat nou vinnig nader kom. ’n Landmassa is sigbaar oor die horison aan hul regterkant.
“Daardie punt is Denemarke, wat die Noordsee van die Baltiese See skeie, en daar oorkant is Noorweë en Swede.” “O,” sê Anna. Sy besef skielik dat hulle baie ver van die huis af is. Sy trek die ritssluiter van haar dik sneeubaadjie hoër op. Die temperatuur in die kajuit van die JetKopter word outomaties beheer, maar daar buite lyk dit koud. Ys en sneeu bedek die klein eilandjies waaroor hulle vlieg, en dan is hulle oor die oop see. “Trek jou warm aan!” snou sy in haar kleinboetie se rigting. Gehoorsaam tuimel hy weer terug oor die agterste ry sitplekke na waar die toerusting gestoor word. Na ’n paar minute kom hy weer te voorskyn met sy wit sneeupakkie aan. Hy het dit agterstevoor om aangetrek. “Ag, kom hier!” sug Anna en klouter deur die opening tussen die twee voorste sitplekke om hom beet te kry. Maks beheer die JetKopter ten volle en dit is dus nie nodig dat sy agter die stuurstang bly nie. Sy skud vir Pip reg in sy warm sneeupak en vryf sy hare deurmekaar. “Luister vir my, jou klein uilskuiken: jy bly net hier en gedra jou. Dit is nie ’n piekniek nie!” Maar sy is tog bly hy is by haar. Haar ma is so besig met daardie rekenaarstelsel van Uranus dat sy kwalik sal agterkom waar Pip is. “Thon!” sê Pip, en Anna verstaan hoekom die mannetjie hier is. Hy mis sy Ton. “Wanneer is ons daar, Maks?” wil Anna weet.
Hoekom die ys smelt
Ys bedek die Arktiese Oseaan rondom die Noordpool. Die see daar is diep en koud, en die ysskots het oor baie jare gevorm. Met aardverwarming het dinge egter begin verander. Oor die afgelope dekade of wat het die yslaag nie net kleiner geraak nie, maar ook dunner. Dit is nie net die gevolg van aardverwarming nie, maar ook een van die oorsake daarvan. Die yslaag is belangrik vir ons klimaat omdat die wit kleur sonlig terugreflekteer in die ruimte in. Wanneer die ys smelt, is die oppervlak van die see groter en die donker water absorbeer die hitte van die son. Hoe warmer die water raak, hoe meer ys smelt. En hoe meer ys smelt, hoe minder sonstrale word gereflekteer, en hoe warmer word die water. Dit is ’n bose kringloop.
“U6 hets my nou net gekontaks,” sê Maks. “Sy het verbindings met satellietstelsels en kon die duikboot opspoors. Ons weete nou waar hulle is.” “Waar?” “Op die rand van die groot ysskots wat die Noordpool bedek. Ons vliegs nou reguits soontoe.” “Maar wanneer is ons daar?” vra Anna weer. Onder hulle skuif die ysblou see stadig verby. Dit voel vir haar of hulle stilstaan, maar inderwaarheid vlieg die JetKopter teen sy topspoed: vinnig! “Nog so ’n uur,” waarsku Maks. Anna ontdek ’n speletjie in die JetKopter se rekenaarprogram. Pip loer oor haar skouer terwyl sy pikkewyne help om oor gletsers te spring en Kersfeesliggies uit die lug te gryp. Sy gee vir Pip ook ’n kans: hy is baie goed met rekenaarspeletjies, maar raak gou verveeld. “Plikwitz?” vra hy. “Nee, Pip, ek dink nie ons gaan pikkewyne sien nie. Hulle bly by die Suidpool. Ysbere, ja! Die Noordpool het ysbere, en die Suidpool het pikkewyne.” Pip lyk teleurgesteld. Hulle vlieg nou bo ’n dun laag grys wolke, maar hier en daar is ’n opening waardeur die grys see sigbaar is, gespikkel met ’n paar verlate ysberge. Uit die hoek van haar oog hou Anna hierdie toneel dop terwyl sy wonder waarin hulle hulle begeef het. “Julle is amperes daar!” kondig Maks aan. “Ek gaan julle hoogte verminders. Maak reg vir landings!” Anna skakel die speletjie af. Brak, wat omtrent die hele tyd lê en slaap het, soos wat hy gewoonlik doen in bewegende voertuie, voel die verandering in die enjins aan en word wakker. Hy sit regop op die sitplek waar hy opgekrul gelê het en gee ’n harde blaf.
“Pip, maak vas jou sitplekgordel,” waarsku sy suster hom. Sy klouter na agter en sit vir Brak ook ’n sitplekgordel aan. Die lawwe bont verf begin nou op verskeie plekke afdop en hy lyk gehawend. Dele van hom is reeds weer onsigbaar. “Ai, Brak,” sug sy. “Wat gaan ons met jou maak?” Sy is net betyds terug in haar sitplek toe die JetKopter ’n klein rukbeweging maak. Die vlerke het in rotorbeweging gegaan en hulle vlieg nou baie stadiger. Hulle sak deur die wolklaag en onder hulle lê die glanswit wêreld van die Arktiese ysskots waardeur die see donker klowe kerf. “Zydir!” brabbel Pip. Anna sien twee ysbere wat wegdraf, met ’n kleintjie wat skarrel tussen hulle. Die bere is amper onsigbaar teen die ys, maar die lang skaduwees wat die son van net bo die horison werp, verklap hul teenwoordigheid. Die JetKopter daal laer, en die bere gaan staan en tuur op in die rigting van die vreemde geluid. Anna kan die driehoekies wat hulle donker oë en die swart punte van hulle snoete teen die wit yslandskap vorm nou duidelik sien. “Oe, oulik!” roep sy opgewonde. “Nie so ouliks as julle eers daar ondere is nie!” waarsku Maks. “Ysbere kan mense eet, en hulle is dalk hongers.” Brak grom. “Toemaar, Maks, Brak is hier om ons te beskerm!” “Jou ma het gesêe ek moet sorg dat julle veiligs is. Brak is nie slims genoeg nie, ek sal julle selfs ope!” Is Maks dalk jaloers? wonder Anna. Brak is immers ook ’n soort rekenaar, op pote. Sou Maks dalk ook graag pote wou hê om saam met hulle op die ys rond te hardloop? Dit lyk lekker daar onder. Hulle vlieg oor die drie ysbere se koppe en verder weg van die son. Die ysskots onder hulle raak digter. “Daar isse die pleks!” kondig Maks aan. Anna sien niks behalwe ’n donker skaduwee teen die eenvormige wit van die sneeulaag nie.
“Iets vreemds …” sê Maks skielik. “Ons moet gou maaks!” “Wat is dit?” wil Anna weet. “Ek volgs die bewegings van die duikboot, maar ek hette ook ’n sein van die iraal se tenke,” verduidelik hy. “Die duikboot vertreks nou van die punt waar dit was, maar die iraal se seins blye steeds agter!” Hulle kom vinnig nader aan die skadukol. Die wind laat dwarrel los sneeu soos ’n miswolk oor die toneel. Dan bedaar dit skielik. Daar is ’n ovaalvormige gaping in die ys, afgeteken deur die swart water. Dit is die gaping wat die duikboot deur die ys gestoot het, maar dit is nou skoonveld. Langs die gaping is daar ’n paar los voorwerpe op die ys, en twee figure wat hul arms staan en waai vir die aankomende JetKopter. Anna knipper haar oë om seker te maak sy sien reg. Een figuur is aangetrek in ’n dik Arktiese pak, maar die ander een is geklee in niks anders as ’n klein rooi onderbroekie nie!
Die man in die rooi onderbroekie
“Ons moets effens verder weg lands,” verduidelik Maks, “waar die ys dik genoeg is om die gewig van die JetKopter te dra.” “Hoe weet jy hoe dik die ys is?” wil Anna weet, effens benoud. Dit sal ’n katastrofe wees as hulle land en dwarsdeur die ys val! Tussen die stroke ys lyk die water dreigend en donker. “Toemaar, Maks weets wat hy doen. Daar is ’n skandeerder aan boord van julle JetKopter, baie soos die ene wat in die Onderwater-verkenner is.” Anna onthou die Ondergrondse Skandeerder goed – dit is immers hoe hulle die wrak van die Chivonne voorheen onder die lawalaag op die seebodem naby MonPetit-eiland opgespoor het. Sy kan haar oë steeds nie afwend van die twee figure op die ys nie. Hoe kan die halfkaal persoon oorleef in die koue, sonder klere aan? Daardie hare en baard … dit kan tog nie wees nie? Maks sit die JetKopter veerlig op die ys neer, ’n goeie honderd meter van die gat in die ys en die twee rondspringende figure af. Anna kan skaars wag om uit te klim. “Dit is net bo vriespunt daar buites,” waarsku Maks, “en die wind koel dit nog verder af. Menses moet dik aantreks voor hulle dit buite waags!” “Ek het my sneeupak aan, en warm stewels!” protesteer Anna. Haastig pluk sy haar handskoene aan en trek ’n wolmus oor haar kop voor sy nog die kappie van haar baadjie ook opslaan en die ritssluiter tot styf teen haar ken optrek. Sy wag ongeduldig vir die JetKopter se rotore om tot stilstand te kom. Eers dan verskyn ’n groen lig teen die deur wat wys dat sy dit nou kan oopmaak. Sy pluk die deur oop.
Die wind slaan haar asem weg, en die sneeu is verblindend wit. Sy onthou die sneeubril in haar sneeupak se sak en druk dit oor haar oë, wat dadelik begin traan het asof ’n geskilde ui teen haar gesig gedruk word. Sy spring uit en slaan omtrent dadelik hard neer. ’n Dun laag sneeu bedek die ys en dit is seepglad as jy nie versigtig trap nie. Sy vind weer haar voete en begin dadelik aanstrompel in die rigting van die twee figure. “Wag!” skree Maks nog agter haar aan. Hy het streng bevele gekry van professor Sabatina Atoom: Anna mag nie die JetKopter verlaat nie. Hy moes daaraan gedink het om die deure se oopmaakmeganisme te deaktiveer! As ’n rekenaar iets soos paniek kan ervaar, beleef Maks dit nou. Noudat Anna nie meer in die JetKopter is nie, kan hy haar nie meer sien of hoor nie. Haar Persoonlike Kommunikeerder! onthou hy. Elke lid van die Atoom-familie dra mos ’n klein toestel, baie soos ’n polshorlosie, wat hulle in verbinding hou met mekaar en met Maks in sy metaalkas in die ondergrondse laboratorium op MonPetit-eiland. Maks aktiveer dadelik sy verbinding met Anna se Persoonlike Kommunikeerder. “Anna, Anna!” roep sy stem van onder haar dik handskoen wat onder die mou van haar sneeubaadjie ingedruk is. Maar die wind loei so in haar ore dat sy hom nie hoor nie. Haar asem hyg en brand in haar keel. Dit is moeilik om oor die sneeu en ys te beweeg, maar Anna dink aan niks anders as die figuur voor haar nie. Dit moet wees, dit kan nie, maar … Die man met die rooi onderbroekie kom net so vinnig na haar toe aan. Sy hoor sy stem bo die gehuil van die Arktiese wind. “Anna, meisiekind! Wat maak jy hier?” Haar pa maak sy arms wyd oop en vang haar toe sy hom wild bespring. Hy verloor sy balans teen die aanslag, en die twee tuimel om in die sneeu.
Pip soek sy Ton!
“Eina!” gil die iraal skielik. Iets het hom aan sy groottoon beet en probeer hom lostrek uit Anna se energieke omhelsing. Hy kyk af na sy voet en kan nie glo wat hy sien nie. “Wat op aarde?” “Brak, los! Dis my pa!” “Brak? Wat het hom oorgekom?” wil die iraal weet. “Dis ’n lang storie. Hy is onsigbaar en ek het hom geverf sodat hy nie weer kan wegraak nie!” Die iraal lag diep uit sy maag. Dan sit hy regop en hou Anna so ’n armlengte van hom af. Sy oë traan, seker van die skerp Arktiese wind. “Sproetneus! Is dit nie lekker om jou weer in lewende lywe te sien nie!” Anna se sneeubril het afgeval en sy bekyk haar pa steeds met groot oë. “Maar Pa, hoe op aarde?” Iemand maak keel skoon langs hulle. Dit is die tweede figuur. “Ek moes hom uithaal. My oom het die tenk se verwarming en suurstofregulering afgesit toe hy hier weg is.” “En wie is jy?” vra Anna aggressief. Sy sien die rooi kuif uitpeul onder die kappie van sy dik baadjie, en daardie groen oë … “Darius Draak, aangename kennis!” Die seun hou sy gehandskoende hand lomp na haar toe uit. “Draak!” gil Anna. “Jy is familie van daardie …”
“Draak, ja,” antwoord hy haar droogweg. “Toe nou, Anna. As Darius my nie gered het nie, het ek versmoor in daardie ding!” Haar pa beduie in die rigting van die anti-swaartekragtenk wat nou verlate op die ys staan, die deksel steeds oop. “Maar hoe kan Pa …?” stamel Anna verstom. “En hoekom … Pa gaan verkluim!” Sy druk met haar handskoen teen sy harige bors. Hy voel redelik solied! “Dit is die koue. Dit lyk my die ysige koue hou my atome in plek,” sê hy effens verleë. “Pa bedoel …?” “Ja. Dit lyk my by vriespunt dryf ek nie uitmekaar nie. Niemand het dit nog voorheen probeer nie, ons het nie destyds daaraan gedink toe hulle my ruimte toe gestuur het nie.” “Is Pa dan nou gesond?” “Jammer, nee. Sodra ek weer in ’n warmer omgewing kom, sal my molekules waarskynlik weer begin ronddryf.” Anna se oë traan nou ook. Sy sit weer vinnig haar sneeubril op. “Maar wat soek jy hier? En waar is die duikboot?” wil sy by die seun weet. Die stukkie van sy gesig wat by die kap van sy baadjie uitsteek, bloos donkerrooi. “My oom het gemaak dat hy wegkom. Hy het jou pa net hier gelos, en vir Ton. Ek het weggekruip agter daardie hoop sneeu,” hy beduie na iewers agter hom, “want ek wou kyk of ek hulle kon red.” “Thon!” sê ’n stemmetjie skielik agter hulle. Dit is Pip. Hy het sy sneeupak aan, maar die kappie hang los agter sy kop. Sy swart hare staan boosaardig orent in die koue lug en sy oë gloei vurig. Hy stamp sy voet komieklik op die ys. “Thon!” herhaal hy weer dreigend. “Hallo, Pip!” sê sy pa en kyk af na die kwaai klein seuntjie. “Bly om jou uiteindelik te ontmoet!”
Maar Pip wil niks van sy pa weet nie. Hy soek sy Ton! “Waar is Ton?” vra Anna, skielik doodbenoud. Daar is dan geen teken van hom nie! Die iraal frons. “Uranus het vir Ton gestuur om die Meermin korrek te posisioneer. Ton is nog iewers onder die ys!” “Onder die ys!” gil Anna. “Hierdie ys?” “Ek is bevrees, ja. Ek het nog nie eens kans gehad om te dink hoe ons hom kan red nie. Darius het my net uit die tenk gehaal toe ons die JetKopter hoor aankom.” Die iraal staan met sy hande op sy heupe en kyk na die donker gat wat die duikboot in die ys gemaak het toe dit na die oppervlak deurgebreek het. “Daardie gewetenlose swernoot! As ek hom in die hande kry!” Pip volg sy blik. Hy sien die donker water, ’n poort na die ysige see onder hulle. Dit is waar sy Ton is! Sonder om ’n oomblik te huiwer vlieg hy weg en spring reguit in die gapende gat in. Yswater spat in alle rigtings. Dit het so vinnig gebeur dat niemand hom kon keer nie. “Pip!” gil al drie tegelyk. Maar die klein seuntjie het reeds verdwyn.
Ysduik
Onder die ys is die seewater kristalhelder en skoon. Die flou sonlig filtreer plekplek deur skeure in die ys en gooi flertse kristalblou lig etlike meters ver in alle rigtings. Teen die oppervlak van die ysskots is ’n paar groot lugborrels vasgevang wat langsaam rondgly, sonder uitkomkans. Dit is eintlik wondermooi hier, dink Ton. En jy is selfs nogal oulik! Deur die glasmasker van sy duikpak glimlag hy vir die Meermin. Hy het saam met haar geswem tot by die koördinate wat Uranus vir hom aangedui het, en die vinne aan haar stert en haar helm gestel sodat sy regop dryf. Sy dobber nou net so ’n meter onder die yslaag, haar dodelike silwer lyf grasieus in die skemerlig. Ek sou graag nog langer wou bly, gesels hy met haar in sy gedagtes, maar helaas, ons is nie vir mekaar bestem nie! Ton draai om en begin terugswem in die rigting van die duikboot. Sy hart is vol kommer. Hy kan net hoop die verstellings wat hy aan die Meermin aangebring het, werk. Die magneet gaan heelwat swakker wees as wat Uranus gereken het!
Hoe lank kan ’n mens in yswater oorleef?
Een van die eerste en belangrikste organe wat doodgaan sonder suurstof, is jou brein. Natuurlik kan mense nie asemhaal onder water nie (nie sonder die nodige apparaat, soos die suurstoftenks wat duikers gebruik of die Waterlong waarmee Anna altyd onder die see rondswem nie), en sonder lug wat deur jou longe filtreer, raak al die suurstof wat jou bloed na jou brein aandra, baie vinnig op. In baie koue water raak ’n mens se bloedsirkulasie egter onmiddellik stadiger. Die bloedvate na jou vel, bene en arms trek dadelik toe en meer bloed sirkuleer na jou brein. Die koue laat jou breinselle ook stadiger energie gebruik. Dit is meer onaangenaam om in yswater te val, maar ’n mens kan ’n klein rukkie langer daarin oorleef as in warmer water voordat jy verdrink.
Nou moet hy nog net ’n plan maak met daardie bom wat die booswig agter Pip se oor ingeplant het … Iets is nie pluis nie. Die duikboot is nie meer waar dit was nie, en lig stroom helder deur die opening waar dit deur die ys gebreek het. Uranus Draak het hom sowaar net hier gelos en gemaak dat hy wegkom! Ton se duikpak is verhit en eintlik heel snoesig, maar sy bloed raak ys toe hy besef wat Uranus aan hom gedoen het. Skielik plons iets in die water, dwarsdeur die opening waar die duikboot vroeër was. Wat kan dit wees? ’n Rob, ’n pikkewyn? Maar daar is nie pikkewyne in die Arktiese Oseaan nie! ’n Streep borrels omhul die voorwerp soos dit sink. Dan begin die ding skielik skop, en dit swem reguit in sy rigting! Ton kan sy oë nie glo nie. Wat op aarde! Is hy besig om te verdrink? Sien hy visioene? Maar nee, dit is sowaar Pip! Die wonderlike BioTron-seuntjie wat hy met sy hele hart liefhet, kom reguit na hom toe aangeswem, oë wyd oopgesper en ’n breë glimlag op sy gesig. Is die kind dan gek? Hy moet hom hier uitkry! Ton gryp die klein lyfie onder sy arm en begin hard skop in die rigting van die opening. Anna, Darius en die iraal staan nog stomverskrik en staar na die donker water toe Ton in sy wit duikpak skielik deur die oppervlak bars. Langs hom verskyn Pip se laggende gesiggie, blou van die koue. Darius en die iraal is dadelik by om die twee uit te help. “Anna, ons het iets warms vir hom nodig!” beduie die iraal. Anna hardloop so vinnig as wat sy kan terug na die JetKopter toe.
Sy maak die deur oop en spring in. “Anna!” raas Maks dadelik. “Wat maake jy? Bly hier, jy gaan nie weer buitetoe nie!” Hy sluit die deur agter haar en die rooi liggie wys dat die slot geaktiveer is. “Moenie simpel wees nie, Maks! Ek het komberse nodig, en droë klere!” Sy gryp ’n bondel warm goed uit die bagasieruim. “Maak dadelik oop, Pip verkluim!” Maks is sprakeloos. Hy weet nie wat om te doen nie. Waar is Pip? “Maks, ek praat nie weer met jou nie! Maak die deur oop. Pip het in die yswater geval en hy gaan verkluim as ek nie dadelik warm goed by hom kry nie!” “Daar is ’n fles met warme sjokolades,” grom Maks en sluit die deur oop. Dit is nie regverdig nie. Niemand vertel hom ooit wat gebeur nie! Ton is reeds by die JetKopter. Hy tel die amper bevrore seuntjie in die warm ruim in. Anna trek sy nat klere uit en draai sy yskoue lyfie toe in warm komberse. Pip se kake begin opmekaar klap van koue soos die hitte weer sy spiere laat werk. Sy oë glim bly. “Thon!” roep hy en hou sy armpies na die groot man toe uit. Die iraal staan buite, met sy kaal voete op die ys, en kyk na die toneeltjie op die vloer van die JetKopter. Hoe gaan hy ooit sy seun se hart wen? Hy sou wat wou gee om op daardie oomblik Ton te wees. Anna kyk om na hom. “Pa?” vra sy. Hy skud sy kop. Sy verstaan. Hy kan nie saam met hulle inkom na die warm binnekant van die JetKopter nie. Sy gee Pip se koue handjie ’n drukkie en klim weer uit in die ysige buitelug, na haar pa toe. Sy wil net nog ’n rukkie by hom wees.
Weer op koers
Wanda en Willie, die walvis en haar kalf, het die oop see bereik. Die gedreun van die enjins van groot skepe is minder hier en haar instink lei haar verder weg, na dieper water. Die kalf swem rustig langs haar. Hy geniet ook die gevoel van vryheid, en kom agter dat sy ma nou minder senuweeagtig is. Sy swem met sterk, seker bewegings al met die kuslyn van Noord-Amerika langs in die rigting van die ewenaar, waar die water warmer is. Sy weet dat sy verdwaal het, maar vir die eerste keer voel sy weer seker oor waarheen sy op pad is. Dit is ’n lang tog na waar sy wil wees, maar haar hart is weer vol hoop. Sy swem stadig en laat die kalf kort-kort toe om eers te drink. Agter haar draai die ander walvisse ook weg uit die besige hawe van New York. Die versteurings wat hulle voorheen van koers af gelei het, is eensklaps weg. Die walvisse het geen besef van wat hul probleme veroorsaak het nie, maar dit is nou van min belang. Al wat saak maak, is dat hulle weer op pad is na hul gewone weivelde, seker van hul koers.
Oor ysbere en pikkewyne
Die pikkewyne is maar bly die Noord- en Suidpool is letterlik ’n wêreld verwyder van mekaar. Daar is geen pikkewyne by die Noordpool nie, en geen ysbere by die Suidpool nie. Saam sal dié twee soorte diere nie werk nie! Die pikkewyne kan nie vlieg nie en hulle sal heeltemal weerloos wees teen honger ysbere. Boonop migreer pikkewyne in die winter, en as die ysbere op pikkewyne moes staatmaak vir kos, sou hulle nie die lang winters oorleef het nie. Dit is net nog ’n voorbeeld van hoe die natuur elke spesie ontwikkel het: elkeen perfek vir hul eie woonplek.
Die Meermin se nuwe tuiste
“Oppas vir hom!” waarsku Anna. Eva is besig om te broei, en Adam is deesdae baie beskermend. Darius spring uit die pad van die dreigende dodo. “Hulle is ongelooflik!” lag hy. “Vertel dit vir Ton! Hy is woedend vir hulle, want die twee het sy groentetuin heeltemal vernietig terwyl ons weg was. Kom ons gaan soek iets om te drink!” Anna draf terug in die rigting van die huis in die middel van MonPetit-eiland. Professor Sabatina sit op die stoep saam met haar gaste en hou die kinders dop. Sy is bly Darius kuier vir ’n rukkie hier op MonPetit-eiland. Anna was weemoedig na haar kort ontmoeting met haar pa, en die seun beur haar op. Nie dat haar dogter dit ooit sal erken nie! Sy knou Darius openlik af en probeer voorgee asof hy ’n lastige indringer is, maar haar ma weet van beter. GROEN het die iraal weer dadelik teruggestuur na sy RuimteArk, ter wille van sy eie veiligheid. Die koue het wel sy molekules vir ’n rukkie stabiel gehou, maar dit was veels te gevaarlik in sy brose toestand. Professor Sabatina wens sy was ook daar in die koue noorde om ook ’n kans te kry om haar man weer in lewende lywe te sien, selfs net vir ’n kort rukkie. ’n Rooi onderbroekie, verbeel jou! Sy giggel. “Verduidelik net weer vir my hoe Uranus weereens weggekom het?” vra meneer Amsterdam. Hy het saam met doktor Migdol na MonPetit gereis om professor Sabatina persoonlik om verskoning te kom vra vir die misverstand wat daartoe gelei het dat hulle die iraal in Uranus se hande laat beland het, en boonop vir Sabatina en haar AardWag afgesny het van die internasionale netwerk van
GROEN! Professor Sabatina sou nooit kon dink dat sy die man so maklik kon vergewe nie, maar waar hy nou hier op die stoep sit, geklee in ’n kakie-bermudabroek en ’n bont hemp, lyk hy heel onskuldig en selfs gaaf. Soveel beter in lewende lywe as daardie bleekgroen holografiese beeld van hom wat so genooid en ongenooid sy verskyning in haar laboratorium maak! En doktor Migdol? Professor Sabatina het haar nog net op videokonferensies gesien, met haar mannetjiesagtige snyerspakkies en stywe bolla. Hier sit sy nou, geklee in ’n los katoenhemp en ’n vrolike sarong, haar bleek voete argeloos in ’n paar rubberplakkies gedruk. Haar bolla is los en haar vaal hare staan woes om haar kop. Professor Sabatina glimlag vriendelik vir doktor Migdol en vergeet amper om meneer Amsterdam se vraag te antwoord. “Ja, verduidelik asseblief!” por doktor Migdol ook. “Wel, dit was my eie skuld.” Professor Sabatina vat ’n sluk van haar ystee. “Julle sien, ek het nie geweet dat Ton die Magnetiese Meermin so gestel het dat haar magneetveld veels te swak sou wees om Uranus se gekke plan te laat werk nie. Ek was in daardie grillerige kasteel van hom, besig om die rekenaarprogram wat die Meermin beheer te saboteer. As dit net van my afgehang het, was ek waarskynlik te laat.” Sy kyk dankbaar op na Ton wat op die stoep uitkom met nog ’n bord vol kokosneutkoekies. Meneer Amsterdam hou besonder baie van Ton se koekies, en daar het net ’n paar krummels op die eerste bord oorgebly. “Toe Uranus die Meermin aktiveer, was die magneetveld net sterk genoeg om sy eie duikboot tot stilstand te dwing. Hy het nooit daaraan gedink nie!” verduidelik sy. “Jy meen dat die grote doktor Draak sowaar nooit daaraan gedink het dat die krag van die Meermin ook sy duikboot buite aksie sou stel nie?” vra doktor Migdol verbaas. “Sowaar nie!” Hulle lag al drie. “Maar ongelukkig, net voor die internasionale magte die duikboot gevange kon neem, kry ek dit toe reg om die Meermin af te skakel vanaf Schloss
Baumschmerzen, en daar kom Uranus toe weg!” Meneer Amsterdam sug. “Ons het sekerlik nog nie die laaste van hom gehoor nie. Ek vermoed hy kruip iewers in Suid-Amerika weg, en wie weet wat die kêrel nou weer in die mou voer!” “Hy gaan verseker nie weer die direksie van GROEN om die bos lei nie!” belowe doktor Migdol en steek haar hand uit om nog ’n kokosneutkoekie te vat. Sowaar, daar is nog net drie oor! Meneer Amsterdam sal moet begin oplet na wat hy eet. Sy boepmagie bult juis gevaarlik onder daardie simpel bont hemp van hom. “Ek kan jou nie genoeg sê hoeveel berou ek daaroor het nie, Sabatina,” sê meneer Amsterdam weer. Die kinders kom oor die stoep gehardloop: Anna en Darius, met ’n vrolike Pip agter hulle aan. Pip het nog ’n pleister agter sy nek waar ’n klein operasietjie onlangs gedoen is om die miniatuur-atoombom te verwyder. “Bloomys!” gil hy, en hulle storm deur die voordeur op pad na die groot yskas in die spens. Brak draf vrolik agterna, sy rubberstert al swaaiend en sy metaallyfie weer blink gepoets. Dit is veel beter om ’n robothond te hê wat mens kan sien. Anna wonder nou nog hoe dit gebeur het dat sy instruksieboek so netjies voor haar kamerdeur beland het die eerste oggend nadat hulle almal teruggekeer het na MonPetit. Darius het besluit om maar liewer stil te bly oor sy aandeel in die verdwyning van die boekie. Hoe gaan hy ooit vir haar verduidelik dat hy haar net ’n poets wou bak? Hy is maar versigtig vir die meisiekind! “Wat gaan van die seun word?” wil professor Sabatina weet. “Ek gaan hom terugneem na sy kosskool in Switserland,” verduidelik doktor Migdol. “Hy is gelukkig daar. Hy vaar goed op skool, blykbaar het hy net so ’n briljante brein as sy oom. Hy het vriende daar, en ons sal ’n oog hou oor sy vordering. Jy dink nie hy kan dalk vakansies …” “Natuurlik!” sê professor Sabatina dadelik. “Hy geniet dit duidelik hier op die eiland, en die sonlig doen hom goed!”
Darius en Anna steek hul koppe by ’n venster uit en loer na die grootmense op die stoep. “Ma, het ons ’n ekstra Waterlong iewers? Ek wil vir Darius die Meermin se nuwe blyplek gaan wys.” “Is sy dan hier?” vra meneer Amsterdam verbaas. “Wel, Ton het ’n paar verstellings aan haar gedoen. Hy het die magneet en die toriumreaktor verwyder en haar volgestop met handige instrumente wat ons sal help om navorsing te doen oor die seelewe hier rond. Ek dink sy swem op die oomblik iewers in Anna se seeslak-akwarium rond,” verduidelik professor Sabatina. “Ma!” roep Anna weer ongeduldig van die venster se kant af. “Vra vir Ton, liefie, hy weet waar daar nog swemtoerusting is. Ek dink dit is iewers in die kas in die gang?” Sy hoor Ton se voetstappe op die houtvloer binne die huis. Die kinders praat opgewonde met hom, Pip se stemmetjie klink ook vrolik op. Sy suster gee hom deesdae heel geduldig lesse en hy is besig om al hoe beter te praat. Die drie storm weer by hulle verby, af see se kant toe. “Meelmin!” gil Pip. “Ai, ek wens ek kon vir ewig hier bly!” sug doktor Migdol en tuur oor die glasblou see. Haar hand soek na nog ’n kokosneutkoekie, maar die bord is alreeds weer leeg.
Die Einde
Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 879, Kaapstad, 8000, Suid-Afrika www.tafelberg.com
Teks © E. Wasserman 2012
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk 2012 ISBN: 978-0-624-05488-7
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2012 ISBN: 978-0-624-05489-4 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2012 ISBN: 978-0-624-06160-1 (mobi)