Boomkastele
Schalk Schoombie
Human & Rousseau
Vir Liza
For, you see, so many out-of-the-way things had happened lately, that Alice had begun to think that very few things indeed were really impossible. – Lewis Carroll, Alice’s Adventures in Wonderland
The methodical task of writing distracts me from the present state of men. The certitude that everything has been written negates us or turns us into phantoms. – Jorge Luis Borges, “The Library of Babel”, Labyrinths
Proloog
Uit die lug gesien: ’n buurt met baie bome in ’n dorp in die suide van Johannesburg. Dis wat jou opval, die bome. Kenmerkend van ’n ouer, meer gevestigde buurt. Jy sien ’n netjiese kaart afgebaken met nederige erwe waarop eenvoudige, reghoekige huise rus, die meeste in die 1940’s en 1950’s gebou, met staandakke, sierstene, sonstoepe, komvensters, baksteenskoorstene, afsonderlike motorhuise, waskamers en bediendekamers. Nie te veel dubbelverdiepings nie. Onderverdeelde erwe, swembaddens in skakerings van blou, ’n dosyn boorgate, visdammetjies, buitestorte. Sommige huise is opgeknap, uitgebrei, versier met torinkies, dakvensters, sone, weerhane, maar meestal is die oorspronklike blokvorm en staandak behou. Die meeste dakke is rooi en spog met televisieskottels, bewys van in-voeling-bly met die wyer wêreld. Bome in tuine, bome in parke, bome op sypaadjies. ’n Bielie van ’n akkerboom staan op ’n straathoek teen ’n steilte byna ín ’n besige straat. Om sy dik stam loop, jaag, pendel en raas die lewe lustig voort. Bewonderenswaardig! Van die groter huise is in besighede omskep, met parkeerterreine waar eens tuine was. Hoekhuise het hier en daar plek gemaak vir woonstelblokke met drie tot vier verdiepings, selde meer. Aan wasgoeddrade op draaiende stellasies wapper lappies kleur. Daar: ’n ou trekkerband gevul met sand, ’n lank vergete speelplek vir kleuters. Styg jy nog hoër, sien jy meer geografiese kenmerke: ’n treinspoor, kerke, ’n straat of drie met winkels, die grense van die woongebied, repies veld wat nie mooi by die dorpsbeplanners se netjiese kaartpatroon wou inpas nie. ’n Klein vliegveld. ’n Renbaan vir perde. Mynhope wat geleidelik afplat en verdwyn namate elke kriesel goud daaruit herwin word, soos sandkastele wat deur die gety verspoel word. ’n Aftree-oord.
Die onderliggende heuwelagtige aard van die landskap onthul die skouer van ’n groot rots, ’n afgrond. Daar steek ’n radiotoring in die lug, skaars blokke weg van ’n selfoontoring gekamoefleer soos ’n bloekomboom. Die watertoring op ’n ry klipkoppies wat al baie keer deur weerlig getref is, die sypaadjie ’n blok verder waar ’n tuinier doodgeslaan is. ’n Uitkykpos waar ’n plaaslike profeet sononder sy sjofar blaas en die seën afbid oor sy buurt. Daar seil ’n spruit met wilgerbome op sy oewers onder straatbrûe en deur ’n park langs ’n snelweg, ’n waterweg wat in die reëntyd sy walle oorstroom. Kyk hoe is die paaie deur die boggels van die Hoëveld gedwing om plek-plek skeef of dwars te loop, haarnaalddraaie en esse te gooi of stomp in ’n cul-de-sac te eindig. Uit die lug gesien: ’n rustige buurt. Nie welgesteld nie, ook nie ’n krotbuurt nie. Nie poskaartmooi nie, nie ’n industriële woestyn nie. ’n Ouerige deel van die dorp wat eintlik soebat om anoniem te bly. Die soort plek waar almal brand om pad te gee, onrustige tieners sowel as afgetredenes. Van al die honderde, duisende klein dramatjies – huishoudelike intriges, vetes, inbrake en selfmoorde, ’n gesinsmoord of twee, ’n magdom mediese krisisse, sterftes, geboortes, spoelende toilette, kragonderbrekings, al die eensame lewens, versteekte misdade, grafte van troeteldiere, patetiese geheimpies, gloeiende rekenaarskerms, gemorspos en elektroniese pornografie, verkragting, al die rondrol en rits agter toe deure, gedagtestrome en tandekners van families, oumense se mymerings, opgaarders, vullisdromme, rondloperhonde, al die gekruiste lyne en gemeenskaplike projekte, gewoeker en stokperdjies, verstopte pype, kerkdienste, bidure, boekklubs, rugbywedstryde, ringtennis, aquarobics, satanistiese rituele, vriendskappe, afloerdery, gefluisterde haat en naamlose hartseer, onwettige rommelstortings, dronkmanstwiste, saadstortings, kroeggevegte, aanrandings, buurtwagpatrollies, skote in die donker én helder oordag, die brul van motorfietse en getoet van karre by hekke, slaapwandelroetes, wedersydse afkeer tussen bure wat gesigloos agter heinings bly – van al hierdie barensweë en alledaagse nietighede is daar uit die lug absoluut niks sigbaar of hoorbaar nie, dis eenvoudig te ver weg en buite bereik. ’n Verligting! Want dis die aard van ’n kaart: om afstand te gee. ’n Abstrakte prentjie van ’n samelewing wat saam leef, saam sterf, saam én apart. Die bome omsoom, verfraai en definieer die landskap op die kaart doer onder,
dit gee amper iets sag en vriendelik daaraan. Dit laat jou glimlag, want dit vang jou oog en dis mooi. Die bome verskaf die nodige grein aan die reguit lyne en blokke, dit verbreek die simmetrie van eenderse lewens, vul die groter spasies in. ’n Kleuterprojek van groen wattewolkies geplak met slymerige gom. Ja, die bome maak alles mooi.
1
Die navorser blaai stadig deur sy koerant. Vandat hy afgetree het: ’n oggendritueel saam met sy tweede espressobekertjie filterkoffie (te veel koffie gee hom gal). Met geoefende oog spoedlees hy opskrifte en onderskrifte, eerste en laaste paragrawe, hier en daar ’n greep, feit, uitlating of brokkie statistiek om ’n taamlik volledige beeld van belangrike stories saam te flans. Dis ’n gekonsentreerde, onderbewustelike dog luilekker siftingsproses wat sy brein daagliks uitdaag, oefen, wakker skok. Laslappienuus. Hy weet nie waarvoor hy soek nie, dis lukraak, amper ’n speletjie, maar hy weet wanneer hy dit vind. Dis ironies, dink hy. Dikwels is die onbelangrike nuus wat oor twee dae vergete gaan wees prominent op die voorblad uitgestal, terwyl die nuus wat die wêreld vir altyd verander as simpel stoppertjie iewers op bladsy 8 weggesteek word. Neem byvoorbeeld dié storie met die onbeduidende, onidiomatiese opskriffie:
Einstein se E=mc² is dalk nie meer waar
Genève. – Een van die fundamentele beginsels van fisika, dat niks vinniger as die spoed van lig kan beweeg nie, is waarskynlik verpletter deur ’n subatomiese partikel. Wetenskaplikes in die wêreld se grootste fisika-laboratorium in Switserland het gister bekend gemaak hulle het neutrino’s gemeet wat wel vinniger as lig beweeg. Albert Einstein se bekende spesiale teorie van relatiwiteit, E=mc², verkondig sedert 1905 dit is onmoontlik. “Die meeste mense meen dit kan nie reg wees nie,” het mnr. James Gillies,
woordvoerder van die Europese Organisasie vir Kernnavorsing (Cern) gesê. Hul lesings het selfs die navorsers verstom en hulle het ’n beroep op ander wetenskaplikes gedoen om dit onafhanklik te bevestig voordat hulle aanspraak maak op ’n nuwe ontdekking. “Hulle het die breër wetenskapgemeenskap genooi om hul bevindings van nader te bekyk en hoop iemand anders, elders ter wêreld, sal hul lesings kan dupliseer.” Wetenskaplikes van Fermilab in Chicago, tradisioneel Cern se grootste mededinger, het gesê hulle gaan dadelik aan die werk spring. Die span in Chicago het in 2007 soortgelyke resultate gekry, maar daar was te veel beweegruimte in hul berekenings om hul bevindings bo alle twyfel te stel. – AP
Die navorser lees die berig drie keer met aandag. Hy memoriseer dit. Só eenvoudig. ’n Onomkeerbaarheid omgekeer in agt kort paragrawe. Wat in wetenskaplike kringe vir sowat ’n eeu as evangeliese waarheid gehuldig is, word nou grondig bevraagteken. Vir wie is dit ’n oorwinning? Gaan alles verkrummel wat op Einstein se werk gebou was? Al die elegante teorieë tot by kwantumfisika, gaan dit nou alles skouspelagtig in duie stort? Of deur verskuiwings, skommelings en slim herberekenings geskik word om alles weer netjies te laat klop? Hy sug, sit sy bekertjie op die oop koerant neer. Tyd om die vullis uit te neem. Hy haal die swartsak uit die kombuisdrom en knoop dit stewig. Iewers begin ’n weed eater soos ’n muskiet op steroïede sing. Die navorser frons. Dis nog nie eens seweuur in die oggend nie.
2
’n Hortende asem? ’n Voetval? Die stilte in die steeg oorkant die universiteit se hoofingang is moontlik ’n illusie, dit verraai die teenwoordigheid van een roerlose skaduwee te veel. Die stilte net té stil. In die straatlamp se dofgeel lig sprei nuwe blaartjies verskuiwende patrone oor die gekraakte sypaadjie waardeur bossies kruip. Daar’s dit weer – ’n skuifeling of skraapgeluid! Iets of iemand wat wag en waarneem . . . nagspioen? ’n Minibus-taxi, een van die nag se laastes, jaag gatwippend oor ’n rooi verkeerslig. Dit swiep verby in ’n vlaag papiere – biljette wat ’n betoging teen die rektor en raad adverteer. Verder weg word Johannesburg ’n vuil, leë bad vol dowwe gorrels en weerklanke. Vraende toeters, laatnag se geheime skuifelings, ’n verlore duif se skrikkerige koer, ’n venster wat skril breek. Nou verklaar die skaduwee homself: ’n voetstap of twee, drie sluipend oor teerpad en sypaadjie. Die krom figuur halt net duskant die geel ligpoel van die straatlamp, talm daar in vlekke donkerte. Asem bedaar geleidelik, vind ’n nuwe ritme. Die figuur het ’n boggel, ’n spits kop. Illusies van lig. Hy wag, beweeg dan in die dansende blarelig langs ’n ongepleisterde muur waarop bendespreuke gekrabbel is – drogskrif van voorstedelike doemprofete. Die skim werp ’n skaduwee wat koggel met boggel en spitskop. Strek ’n hand
uit met gespreide vingers, tastend teen die muur, ’n minnaar wat ’n geheime plek soek. Toets en streel. Met sy ander hand reik hy vinnig na agter, ontkoppel die boggel, glip dit af tot op die sypaadjie. Die boggel is ’n swart rugsak, die spitskop ’n hoodie. Hy dop ’n kannetjie uit die rugsak, skud dit klaterend – RAKATAKTAK soos ’n klippie in ’n blikkie – voor hy teen die muur begin spuit. Egalig op en af, heen en weer, lang seker hale wat ná ’n minuut begin saamsmelt tot ’n diepblou agtergrond. In die middernagkoelte word dit ’n vierkant. Hy vee met sy wysvinger oor die muur: die verf is klaar droog. Haal ’n tweede blik uit die rugsak. Kappie skuif terug, blonde kuif val oor voorkop. RAKATAKTAK. Vou nou ’n sagte stuk papier oop, skuif die patroon met een gesperde hand oor die blou. In die papier ’n sirkel gesny waarin ’n naakte man oopgespalk balanseer, vier gespierde bene en vier arms, ’n sensuele insek. Die illusie van beweging – as jy vinnig kyk. Die man in die wiel het wilde lokke nes die kunstenaar wat sy blik oor die muur laat sis. RAKATAKTAK. Dertig sekondes en klaar. Vou die papier, nou rooi en klam, steek dit in die rugsak. Staan terug om sy handewerk te takseer. Knik tevrede. Hy werk deesdae al vinniger. Al is hy nog geen oumeester nie, is elke probeerslag ratser, skerper. ’n Blou-en-rooi handelsmerk, dertien keer in die middestad, vier keer op wit tuinmure in die voorstede. Nie maklik om te reproduseer in fyn uitsnywerk en kleurspuitkombinasie nie, ook nie in spoed van uitvoering nie. ’n Simplisties gestileerde weergawe van Leonardo da Vinci se Vitruviaanse Man.
Die Euro-Renaissance-trash-aanslag verskil radikaal van sy tydgenote se internasionale bendekodetaal en punk-simbole. Hy pak die twee kannetjies (halfleeg) vinnig weg, tricks of the trade, skouer die rugsak, pluk hoodie oor beswete blonde krulle. Weg is hy, ’n jaagskadu wat wegflits na die onderkant van die steeg. Die bedrieglike stilte is terug, in suisings en ritselings van blaar en biljet. Dertig sekondes later luier ’n patrolliemotor in die straat verby. Twee polisiemanne wat die ure aftel, warm Wimpy-koffie uit papierbekers teug, op skote mors, onbewus van die rooi wielman in sy blou raam in die steeg van blare.
Hulle soek hom al ses weke lank. Hy’t sy merk gemaak, oor en oor. Die tref-en-trap-spuitverwers van die nag bespreek hom in kuberkletskamers. Hulle ontleed, bespreek en bewonder sy arrogansie, die kunstige stelling en fyn afronding. Oral waar sirkelmanne in die stad verskyn, word uitbundige partytjies gehou met Red Bull, dagga en Doritos, kranse van angeliere en kondome gelê. Waar sirkelmanne deur moeë munisipale skoonmakers doodgeverf word – minstens drie lae om die rooi en blou te verdoesel – bring ’n dissipelkring van nabootsers getrou hulde met groteske sirkels-met-stokmanne in bewerige hale. ’n Kultus het eie momentum gekry, met nagtelike ekskursies en selfaangestelde woordvoerders. Die sirkelman plant lustig voort. Die skim kan kom en gaan voor die wind hom gewaar. Daar . . . nee, daar! RAKATAK. Nog een. RAKATAK. Nog een. Hier in die Afrika-stad is dit straatkuns wat pols in rooi-op-blou neon. Moeilik om mis te kyk. Hy seil hoog op kreatiwiteit en verfwalms. Dis sy geheimskrif aan die muur wat hom laat vergeet van al die wreedheid, waarmee hy háár gedenk. Hy asem raaisels uit, niemand hoef te verstaan nie. Solank hulle opkyk en wonder, gevang in sy sikliese droom.
3
Sirkelman maak rektor, stadsbase boos
Ina Moerdyk
Versiering, of ’n balk in die oog? Praat met die studente en rektor van die Johannesburgse stadsuniversiteit, en jy kry uiteenlopende menings oor die Sirkelman wat die afgelope paar weke oral in die middestad en ook in sekere voorstede teen mure en geboue opduik. “Dis niks anders as ’n vorm van aftakeling en vandalisme nie, om stadsgeboue met spuitverf te bevlek,” stel dr. Muni Voosa dit onomwonde. Hy waarsku dat sulke gedrag nie van die instelling se studente geduld sal word nie. “Al neig dit na ’n soort Middeleeuse kunsvorm – herkenbaar Eurosentries – eerder as die meer bekende uitdrukkings van graffiti, is die doel beslis om te ontwrig en op te sweep. Dít sonder die nodige toestemming of magtiging van stadsvaders, vakbonde en selfs studentebeheerliggame. “As dit ’n student is soos ons vermoed, heel waarskynlik in ’n kunsrigting, sal hy of sy wel gevang word en dan sal die swaarste dissiplinêre strafmaatreëls opgelê word. Skorsing is nie uitgesluit nie,” het Voosa gister tydens ’n perskonferensie gewaarsku. Studente van alle dissiplines meen egter die straatkuns is cool. “Waaroor die bohaai?” vra Lindi Mkiwe, ’n geologiestudent wat saam met ’n vriendin elke nuwe sighting van die Sirkelman gaan opsoek. “Meer, asseblief!
“Ons voorouers het grottekeninge gemaak om te wys hulle was daar. Dit was ’n manier om hulle turf te merk en die begin van omgewingskuns. Die Sirkelman wys ons ons plek in die Nuwe Suid-Afrika. Wit, swart, blou, rooi, ons is almal besig met ons eie balanseertoertjie.” “Die visuele ontwerp is awesome, dis beter as baie advertensies in die media,” meen Stanley Wallis, ’n fotografiestudent wat as sy finalejaarprojek al die plekke dokumenteer waar die Sirkelman verskyn, voor hy deur skoonmakers verwyder word. Wallis beplan ’n fotografiese uitstalling later vanjaar om die skim se graffiti te vier, met die voorlopige titel Sirkels in die siel. Sirkelman, soos die ontwykende kunstenaar in die media bekend staan, werk onder die dekmantel van die nag, en dis veral grafiese kunstenaars soos Joe Haddock Jones wat glo dis bloot “donkerwerk as skadelose, estetiese konkelwerk”. “Moenie te veel daarin probeer lees nie. Mooi miskien, maar pure oppervlak, lekkergoed vir die oog. Dit flous die kyker met ’n suggestie van betekenis. Blote misleiding. Dis tog maar wat die meeste graffiti is, red herrings, ja, stoute rooi harinkies wat die aandag weglei van die ware misdade van korrupsie en wanbesteding, eerder as om juis die aandag daarop te vestig.” Haddock Jones meen dit kan selfs “suiwer kommersieel” wees, deel van ’n reklamemaatskappy se inisiatief om een of ander banale produk bekend te stel. “Soos oumanspilletjies.” Die Sirkelman se kunswerke (altyd rooi op blou) word gespuitskilder in verskillende groottes teen onbewaakte mure in die voorstede en middestad, selfs teen polisiekantore, op stasiemure, bouvalle en pakhuise. Ook hoog teen wolkekrabbers waar dit met groot moeite en onkoste afgeskuur moet word (buffing). Hy gebruik vermoedelik ligte, sterk, opvoubare stensils om sy kunswerke vinnig en skerp aan te bring. “Hy moet ’n akrobaat of klouterdief wees om dit so hoog teen geboue te waag en dan boonop sy lyf Leonardo da Vinci te hou! Ek meen, halló, wie kan hom dit nadoen?” meen kransklimmer Gerrit Viljoen, wat glad nie van plan is om die spuitskilder se toertjies na te boots nie. “Vrek, nee, dis net te blerrie gevaarlik, geboue is glad.”
Kaptein Floriswa Nguni, woordvoerder van die middestadpolisie, is optimisties dat die “ontwrigting” binnekort tot ’n einde sal kom. “Ons het sekere leidrade wat opgevolg word, ons het ’n goeie idee van die skuldige, en ja, ’n deurbraak is net ’n kwessie van tyd,” belowe sy. Watter klagte kan teen die oortreder ingebring word? “Vandalisme, openbare onsedelikheid. Die man in die sirkel is kaal, en daar is baie mense en kulture in hierdie land wat aanstoot neem om sulke snaakse goed te aanskou. Dis blatant. En dis baie, baie lelik.”
4
Hallo
Ek is Mou Xinsheng, ek is jammer vir die ongesolisiteerde e-pos aan jou, maar ek wil hê jy moet dit ernstig opneem en Konfidensieel omdat ek jou e-pos adres deur die China Gids gekry het, betroubare en geloof persoon wat my sal help om fondse te skuif uit ’n bank in Europa na sy/haar land. Ek wil ook hê jy moet weet hierdie transaksie is 100% risiko vry/veilig/wettig. Dit sou groot verrassings wees vir jou om sulke e-pos te kry van ’n dienende minister van die Mense se Republiek van China (Minister van Algemene istrasie van Doeane van die Mense se Republiek van China). Maar asseblief my verskoon en verstaan ek het nodig ’n vaste geloof/betroubare mens in die westerse wêreld. In my jare van regering diens as Dwelms Beheer Kommissaris en Hoog Amptenaar van Algemene istrasie van Doeane het ek baie Bonus en Ekstras gekry van Smokkelaars en Besigheids mense wat Gunsies soek van my. As ’n Publieke Offisier my bank rekeninge word gemonitor en daarom ek wil die fondse $30 000 000 (Dertig Miljoen US dollars) oordra vir veilig bewaar oorsee. Ek wil hê jy moet die geld kry wat in deposito was van 2004 in ’n bank in Europa. Asseblief sal jy dormante rekening aktiveer in Europa. Die bank sal fondse van jou nodig het om hierdie rekening aktiveer, sodat hulle $30 Miljoen US Dollars kan oorplaas na jou rekening in Jou land wat my prokureur in jou name sal deposito as die Begunstigde. Ek sal 20% van die geld gebruik vir weggee om te help vir weeshuis van my keuse. Jy sal kry 40% as jou Kommissie, en ek sal kry 40% wat oorbly as ek sal reis na jou land. My plan is woon in jou land as alles loop soos ooreenkoms. Ek moet jou Naam weet jou Kontak Nommer jou Foon Nommer. Oorweeg dit
gou. Jou lewe verander nou. Dis belangrik dat jy die informasie absoluut Konfidensieel hou. Ons geloof mekaar. Ek sien uit na jou respons. Vir meer informasie, asseblief kontak my via epos:
[email protected]
Ek wag vir jou haastige respons Best Wense, Mnr. Mou en Familie
Dis duidelik dat die vertaler gepoog het om die skryfstyl, persoonlikheid, stemtoon, woordkeuse en algemene onbeholpenheid met taal te behou, ’n aanduiding dat die oorspronklike skrywer probeer het om soos ’n Chinees te klink en foute van grammatika, sinskonstruksie en beklemtoning te maak soos die skrywer glo ’n Oosterling sou begaan. ’n Opsetlike, besonder gesofistikeerde en slinkse benadering om die korrespondensie eg te laat aandoen?
5
Sissende sirkels. Met wye, ontspanne sirkelbewegings spuit die man met die hoodie sy blou wolkies teen ’n kafeemuur. Hy is amper klaar, kleur ’n gaping in waar die baksteen deurskyn. KEBLOEI. ’n Loeigeluidjie laat hom omkyk. ’n Polisiemotor kom suutjies om die hoek, die blou draailig ’n knipperende oog. Hy gooi die halfleë kannetjie eenkant en bokspring weg in een seepgladde beweging. Doodloopstraat met palissade-heining en bondels geroeste doringdraad bo-op. Dubbel gedwarsboom, maar hy swenk al klaar sigsag, intuïtief na ’n gebreekte venster regs wat lyk soos Munch se swart skreeu. Dis op die grondvloer van ’n zombie-woonstelblok wat twee dekades gelede nog ’n spogplek was waar geliefde oudonderwysers kon aftree. Hy swaai sy rugsak in ’n halwe boog deur die lug en slaan die wreedste glasskerwe uit die vensterraam. Spring ligvoets deur na die soel donkerte, skraap sy regterbeen op ’n oorblywende glastand, land katvoet. Hy hoor hoe word bevele iewers in die straat geblaf. Kardeure klap, oomblikke later ’n dringende gehamer teen ’n hol deur. In die donker om hom die gedrup van water, ’n baba wat huil. Kan hier mense leef? Hy koes en skouer deur twee vrot deure, skaats deur skemer gange wat ruik na urine, hoendervet en brand. Vyf trappe op ’n slag af aan die agterkant, stamp in die verbygaan teen ’n vet man met ’n rooi kopdoek wie se mond oopgaan – al weer Munch – skadu tussen skadu’s. Hy bly vasberade kop omlaag sodat sy gesig onherkenbaar bly onder die hoodie.
Wip soos ’n rubberbal oor ’n lae muurtjie tot in ’n binnehof vol swart vullissakke en ’n brandsiek hond wat lyk soos ’n kaalgeknaagde ribbekas op pote. Sy asem jaag nog nie eens nie. Hy skop ’n dor potplant uit die pad, glip oor ’n lendelam heining en geraamtes van geroeste stoele, ’n uitgebrande matras met swart draadvere en grys pluime. Bons en wawiel oor balkonne, parkour-kunstenaar, vry van gravitasie, hoogspring-en-vlieg, man-in-sirkel, ballet in die gekraakte dop van die binnestad. Daar’s niemand wat hom sien nie. Hy’s onsigbaar, die skim van sirkels. Die mistici beweer hul ekstase onthul aan hulle ’n sirkelkamer met ’n groot sirkelvormige boek waarvan die rugkant rondom strek en die volledige sirkel van die mure volg; maar hul getuienis is verdag, hul woorde obskuur. Die sikliese boek is God. Só skryf Borges in die Sirkelman se voosgelese kopie van Labyrinths. God trek ’n sirkel om stad, polisie, die dood in die spuitkan. Hulle sal hom nooit vang nie. Hulle weet nie waar om hom te soek nie, hy’s die onsigbare man. Hy leef randlangs en ondergronds. Die wind steek skielik op. Sy oë kry koud. Hulle sal hom nooit vang nie, al drup daar bloed van sy been af, spikkelspoor in die puin. Want hulle soek verkeerd.
6
Lees met aandag. Die President van Argentinië het hierdie prentjie ontvang en dit “gemorspos” genoem. 8 dae later is sy seun dood. ’n Man het hierdie prentjie ontvang & onmiddellik aangestuur na almal wat hy ken. Sy verrassing was om die lotery te wen. Alberto Martinez het hierdie prentjie ontvang, vir sy sekretaresse gegee om afskrifte te maak maar hulle het vergeet om dit te versprei: Sy het haar werk verloor en hy het sy familie verloor. Hierdie prentjie is wonderbaarlik en heilig. Jy is gekies om hierdie Novena te ontvang. Die oomblik wat jy dit ontvang, sê: Ons Vader wat in die Hemel is, geheilig is U naam, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, op die aarde net soos in die hemel, gee ons vandag ons daaglikse brood en vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Amen. GOD WIL HÊ EK MOET JOU VERTEL, dit sal goed met jou gaan in die jaar wat kom. Maak nie saak hoeveel jou vyande jou probeer onderkry nie, hulle sal nie slaag nie. Jou lot is so bestem dat jy vanjaar vir seker al jou doelstellings sal bereik. Vir die res van 2015 sal al jou smarte weggelei word en oorwinning en voorspoed sal jou in oorvloed oorstroom. Vandag het God die einde van jou swaarkry, lyding en pyn bevestig want HY wat sit op die troon het jou onthou. Hy het die swaarkry weggeneem en jou VREUGDE gegee. Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Ek het vanoggend aan die hemel se deur geklop, God vra my, ‘My kind! Wat kan
ek vir jou doen?’ En ek sê, ‘Vader, asseblief beskerm en seën die persoon wat hierdie boodskap lees . . .’ Hierdie is ’n Novena van Moeder Theresa wat in 1952 begin is. Dit is nog nooit gebreek nie. Binne 48 uur stuur 20 afskrifte (of soveel as wat jy kan – God weet as jy nie 20 mense het om aan te stuur nie . . . dis die gedagte en poging wat tel) aan familie en vriende. Moenie dit terugstuur aan die person wat dit aan jou gestuur het nie. Dis ’n kragtige Novena. Kan nie skade doen nie . . . Kan net help. Asseblief moet dit nie breek nie.
7
Dit het begin met ’n wit moerbeiboom en ’n witstinkhoutboom. Hartvormige blaar en blinkgroen dunblaar. Morus alba en Celtis africana. Twee reuse wat drie meter uitmekaar geplant is en met verloop van dekades inmekaar gewroet het. Takke verstrengel soos minnaars wat intiem mekaar se leefruimte binnedring. Liefkosend, betastend. Al het die moerbeiboom in die agterste bure se tuin gestaan, het die stam digby die betonheining geleun, met takke wat wyd uitsprei oor die grys muur. Dwarsdeur die somer het dit welkome koelte en hope wit moerbeie oor sowat ’n derde van die navorser se agterplaas gestrooi. Die witstinkhout was ’n gedeelde boom – as ’t ware ’n grensgeval – en geplant presies op die grenslyn tussen die twee erwe. Die heining is só opgerig dat dit ’n soort beskermende hokkie om die boom vorm aan die buurman se kant, met die mure wat vierkantig in die navorser se tuin inhap. Beide bome was streng gesproke die buurman s’n, al het die navorser ook die voordele daarvan geniet: die koelte, die vrugte, die ruising van blare soos ’n groen oseaan. Mettertyd het hy die bome as sy eie beskou. Hy het ’n wit plastiekemmertjie gekoop en moerbeie gepluk en opgetel wat sy vrou dan met suiker en ’n knippie vanielje in ’n swaarboompot laat prut het tot ’n klewerige, soet, pienkwit konfyt wat hy soggens spaarsaam op sy roosterbrood gesmeer het. Die vars moerbeie was nie juis soet nie, moes hy toegee, ’n seldsame soort amper soet, amper wrang bessiesmaak wat hy met niks anders kon vergelyk nie. Hy het altyd uitgesien na moerbeityd, wanneer die blare dig en ondeurdringbaar oor sy agterplaas wieg en ruis. Daar was twee takke wat hy net-net kon bykom as hy op sy tone staan en dit aftrek om die vruggies af te stroop in die plastiekemmertjie. Onder sy tuinskoene het daar altyd ’n paar groen moerbeie geknars, seker deur haelkorrels afgeslaan tydens ’n Hoëveldstorm. Toe sy dogter nog ’n piekie was, het hy haar op sy skouers getel om te help met die plukwerk.
“Soontoe, daarso, daai vet enetjie!” Sy’t gemik en gepluk, louwarm boudjies skuiwend op sy blaaie. Een van die hoofredes wat hom en sy vrou jare gelede oortuig het om die huis te koop, was juis hierdie hemelse bome, wit moerbei en witstinkhout. Al was dit nie op hulle eiendom nie, het hy homself sien aftree hier onder die swaar takke van die vriendelike bome. Hy kon voor sy geestesoog die wortels van die bome diep ondergronds inmekaar sien strengel nes die takke bokant sy kop. Met sulke bome in die agtertuin het jy nie vriende nodig nie, het hy geredeneer. Hulle beskut teen wind, hulle staan bankvas, hulle bied kos en skuiling vir die voëls van die hemel. Hulle het die hele buurt leefbaar gemaak. In elke seisoen het hy die takke in sy bewussyn voel roer. Strak in die winter, oordadig vol blare en bessies in die somer. Sy dogter se maatjies het moerbeiblare vir hulle sywurms kom bedel en hande vol gepluk sonder om ’n gaping in die blaremassa te maak. Hy het geraai die bome is so dertig, veertig jaar oud, dalk selfs ouer, maar in sy drome was hulle baie ouer, antiek, onsterflik en mooi. Lewende fossiele wat jou daagliks herinner aan die onstuitbare natuur, oergode in die hart van die voorstad. Wanneer hy ná werk tuis gekom het van die laboratorium af, natgesweet en gestres, dankbaar vir ontsnapping van verkeersknope en irriterende nuusbulletins en radiobekgevegte, met sy kop wat blaas soos ’n oorverhitte enjin, het hy vir ’n paar minute onder die witstinkhout kom staan en stadig afgerat. Diep asemgehaal. Opgekyk. Heilsaam, heerlik. Die bome was vir hom ’n simbool van iets groters, iets wat hy nie kon begryp nie, iets net buite bereik van sy verstarde intellek. Hy het nooit geweet hoe sy buurman agter die lelike grys muur lyk nie. Die betonskeiding was te hoog om ’n glimp van die huis en sy mense te kry, al kon hy ’n blou staandak sien. Van die kakofonie van ’n braai op ’n Saterdagaand kon hy aflei dis ’n man en vrou, dalk in hul vroeë dertigs, kinderloos, wat hul grootbek-werkspelle en huisvriende oornooi. Die vroue het skel gelag, die mans het gevloek en gebraai en gedrink. Hulle het grappe vertel (gewoonlik rassisties) waarvan hy nooit die kwinkslag kon uitmaak nie. Wanneer dit rugby was, het die makietie tot laat aangehou, maar genadiglik nie ná twaalf nie. Die res van die week was dit stil
aan die ander kant van die grys muur. Soms die gesuis van ’n bossievreter, die mor van ’n elektriese grassnyer. Gelukkig geen blaffende honde nie. Hy wou niks van hulle weet nie, beter so. Miskien omdat hy bang was hulle is aggressief, kru en dom, ongeletterde barbare, ongekultiveerd, sonder dat hulle enige agterstand besef of selfinsig kon kweek. Die begrip “goeie buurmanskap” het in sy gedagtes gehuiwer soos ’n onvoltooide vraag, ’n vlinder met brose vlerke. Die geykte beskuldiging dat mense deesdae nie meer hul bure ken nie, nie omgee nie, elk die benepe koning van sy eie kasteeltjie. Anders as toe hy op die platteland grootgeword het en dit vanselfsprekend was dat jou bure ook jou beste vriende was. Buurmanskap. Iets edels. Jy kan nie jou familie of jou bure kies nie: aan sy linkerkant ’n jappie paartjie (onlangs getroud) wat voor sonop ry en ná sononder terugkeer, ongesiens in die donker deur geluidlose elektriese hekke en motorhuisdeure seil. Dis twee aantreklike jonges, ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n skakelbeampte vir ’n platemaatskappy, elk met ’n eie duur motor. Hulle was elke naweek weg, wie weet waarheen – konferensies, restaurante, spanbou, whiskyproeë, partytjies, modeskoue. Hul jappie pelle se koetse was groot en blink – die hele buurt het op die stoep kom sit om hulle te vergaap as daar partytjie gehou word. Die tweetjies sal nie lank hier bly nie, het die navorser besluit. Met die volgende goeie verhoging trek hulle ver weg na groener weivelde en dubbelverdiepingwonings met dik ringmure. Aan sy regterkant: die elektriese ingenieur en sy muiserige dwergvroutjie en hul twee spruite, ’n vlasblonde poppie en ’n kaalvoetknapie wat met ’n rugbybal rondhol. Langs die jappies was ’n verwaarloosde middelklashuisie wat ’n swart sakeman op ’n veiling opgeraap het. Agtien maande lank is dit gerestoureer tot ’n obsene faux Marokkaanse villa, kompleet met swembad, Afrikabeelde onder spreiligte en twee massiewe palmbome wat spesiaal per vragmotor van KwaZulu-Natal af hierheen gekarwei is. Die navorser se vrou het ’n onheilige vrees ontwikkel dat die swart “tenderpreneur” die dak van sy villa gaan natmaak deur ’n koei op die grasperk te slag. Sy familie van Soweto sou ’n sjebeen in die agterplaas begin en dit sou lei tot moetiemoorde en kinderverdwynings in die buurt. Die navorser het in die Sondagkoerante gelees van sulke voorvalle in die noordelike voorstede, waar
bappies hul nuutgevonde rykdom en status met groteske en bloedige rituele vier. En nou het dit naby hulle ook gekom, was sy vrou se asemrige oortuiging, een huis van hulle af, byna bure. Die teenoorgestelde van apartheid: integrasie. Maar van koei slag het niks gekom nie, en al is daar gereeld moetiemoorde in die provinsie, was daar genadiglik nog niks van dié verfoeilike aard in hul buurt nie. Die swart sakeman se opgeknapte huis het al die jare leeg bly staan, ’n netjies afgewerkte oker-en-amber spookhuis waar daar soms laatnag ’n liggie in ’n venster flikker. Daaroor kon hulle eindeloos bespiegel – dalk ’n opsigter of familielid of wie weet ’n misdadiger wat wegkruip vir die gereg?
8
Twee weke voor die tragedie het die navorser ’n vreemde droom gehad. Hy het gedroom hy bou ’n massiewe houthuis in die verstrengelde takke van die twee boomreuse en sy oorlede ouma kom woon in die huis. Dis ’n soort nadoodse geskenk aan haar, dalk die enigste mens wat hom onvoorwaardelik liefgehad het en nooit veroordeel het oor sy lompheid en stadigheid nie. Sy geliefde ouma was ekstaties en het haar geplooide hande opgewonde geklap soos ’n appelwangmeisiekind wat ’n pophuis vir Kersfees kry. Dit was die gelukkigste droom van sy lewe. Hy kon dit tot in die fynste besonderhede onthou. Sy droom-boomhuis was ’n argitektoniese wonder, ’n houtkasteel wat na alle kante oopwaaier rondom die twee forse stamme, op verskeie vlakke, ineenskakelend, geniaal gestut op gespierde takke, met ruim sale en kamers en torinkies, uitkykposte en houtdekke, trapverbindings tussen vlakke wat vir veiligheid met dik toue opgetrek kan word. Selfs ’n fraai houthysbak vir sy ouma, al is sy in die droom ’n klimmer van formaat, huppelfiks en gesond. Hy het getimmer en gekap en geklim en gemeet en gepas om alles betyds klaar te kry vir haar intrek. Onder sy raakvat-, alwetende, nie-swetende hande (al was hy nooit goed met sy hande soos sy oupa en neefs nie) het die houtkasteel aanhou groei tot ’n stewige konstruksie wat minimaal deur die takke gewieg is en wat selfs in die mees verwoestende wind of storm nie ontwrig of ontsetel kon word nie. ’n Gefortifiseerde houtwoning wat inherent deel was van die bome, in voeling met hul misterieus vloeiende lewensritme en daarom self lewend. ’n Kasteel waardeur die boomsap van twee bome stoot. ’n Fantasma. Wit moerbeie het op die houtstoepe gereën, en wanneer hy by sy ouma gaan sit het vir ’n geselsie, het hy hande vol bessies opgeraap en in sy mond geprop. Dit was soeter as wat hy kon onthou, selfs soeter as die konfyt wat sy vrou gekook het, en hy het sy ouma se brose, benerige hand vasgehou (hy was altyd haar oogappel) en gedink hoe wonderlik dit is dat hy iets vir haar kon doen op haar gevorderde leeftyd. Hulle het glimlaggend deur die groen web van takke afgekyk
op sy grasperk en die beddings in sy werf en oor die grys muur na die bure se agterplaas waar hulle besig was om te braai. Al kon hy nie hulle gesigte of geslag mooi onderskei nie, was hy verbaas om te sien hulle is eintlik gawe mense wat sowaar vir hom en sy ouma wuif, selfs al staan die twee bome waarin die kasteel gebou is streng gesproke op hulle erf (die witstinkhout natuurlik presies op die grenslyn). Die uitsig het na weerskante onbegrens gestrek, na die bure links en regs van sy huis, en almal was buite in hul hoogsomertuine, die jappies vir eens tuis en besig om te sonbaai in eina-swemklere en met Guccisonbrille op langs hulle sjiek swart niervormige swembad, terwyl die ingenieur en sy dwergvrou saam met die twee spruite onder ’n groot sambreel sit, almal beleefd met glase in die hand waarmee hulle ’n heildronk sein aan die bewoners van die wonderlike boomkasteel, die enigste van sy soort in die hele buurt, die hele stad en die ganse Suidelike Halfrond, iets waarvoor die Guinness Book of Records ’n spesiale erepenning kon toeken. Waar sy vrou in die droom was, het hom nie juis gekwel nie, asof sy nie in dié alternatiewe bestel kon figureer nie. Hy kon glad nie eens onthou dat sy vrou wel as kind sy ouma ontmoet het nie, net daardie een keer voor haar dood op 92 aan brongitis. Sy vrou was gewoon nie belangrik in die droom nie, en hy en sy ouma het nie oor haar gepraat nie, miskien omdat sy vrou onder die lewendes tel en sy ouma lankal, sedert hy twaalf was, onder die dooies. Hy het geen verlange of skuldgevoel ervaar oor die afwesigheid van sy vrou van baie jare nie. Buitendien, van skuld, verlange of verlies was daar in elk geval geen sprake in die boomkasteel nie. Sien, dis hoe mense kan saamwoon en met oop harte uitreik en omgee vir mekaar, mekaar erken as medeskepsels, het sy ouma beduie, haar oë skrefies van die lag. Dís medemenslikheid in sy suiwerste vorm, en sy het uitgewei oor die goeie buurvrou wat sy vanmelewe was, altyd daar met souskluitjies, souttert of ’n pot bonesop in tye van nood, en van al die wonderlike, gul bure wat sy oor dekades heen leer ken het, eers op die kersieplaas naby Ficksburg en later jare op die dorp toe sy moes gaan aftree. Sy kon elkeen se naam en nering en geestelike gesteldheid onthou en opnoem (wie gered is en wie nie), anders as die navorser wat nie eens sy eie (lewende) bure se name geken het nie, net hul beroepe en tiperende sosiale kenmerke (ingenieur, jappie, tiener). Dit was ongetwyfeld sy gelukkigste droom, een wat hy later jare van tyd tot tyd probeer herbesoek het snags, en selfs in dagdrome wanneer hy ’n koffiepouse geniet. Die genoegdoening van sy droom, ’n soort bonatuurlike nágloed, het
deurgespoel na sy huwelik en sy werk. Dit het ’n stralekrans van welwillendheid oor sy voorstedelike bestaan gewerp. Hy het lief gevoel vir die hele wêreld en almal daarin, natuurlik ook vir die twee witter-as-wit boomvriende so saam op sy werf en die bure s’n. Hy het onthou om meer as sy tiende te betaal. Hy het rooi rose vir sy vrou gekoop by die smous onder op die hoek. Hy het ruim fooitjies uitgedeel aan karwagte. Hy het sy stiltetyd uitgebrei om die glorie van God en Sy skepping in sy studeerkamer te bepeins en sagkens te beneurie. Hy het begin wonder of so iets in die werklike lewe moontlik sou wees: ’n houtkasteel met twee bome as fondamentpilare. Hy het boomkastele gegoogle en hom daaroor verwonder dat wat gedroom kan word, wel taklangs gebou kan word – iewers in Tibet, San Francisco of Kenia, deur mense met die weelde van tyd, geld en absurde ambisie. Die nágloed het hom gevul met ’n verbysterende, bruisende energie, ’n verlange om opnuut ’n verskil te maak, en hy het vyfjaarplanne beraam waarmee hy sy vrye tyd kon opkikker. Byvoorbeeld: Hy het besluit om sy laaie vol notas alfabeties te organiseer, aantekeninge wat hy in A5-grootte notaboeke gemaak het oor insidente in die nuus en berigte wat sy oog gevang het tydens sy oggendritueel van koerant-spoedlees oor ’n espressobekertjie filterkoffie. Ook brokkies en stories en bevindings wat hy oor die afgelope dekade of meer sorgsaam uitgeknip het en wat in sy gedagtes ’n vreemde soort progressie toon waaruit hy sekere gevolgtrekkings maak (hetsy logies of onlogies) wat die wêreld vir ’n wyle vir hom laat sin maak. Wat hy met al die notas wou doen, was onduidelik, omdat daardie vertakkende insigte (as mens dit so kan stel) nie aardskuddend of wetenskaplik of eksperimenteel verantwoordbaar en toetsbaar was nie en dus net vir hom van belang – en helaas van tydelike waarde. Hy het getorring aan die moontlikheid van ’n memoir waarin hy sy lewe in perspektief kan probeer stel, dalk selfs ’n fiktiewe memoir of ’n roman wat met fantastiese elemente versier is en so as ’t ware “waarde toevoeg” aan ’n andersins onmerkwaardige, vaal bestaan. Hy sou sy notas en die berigte kon myn om ’n naturalisties-historiese grein aan sy biografie te verleen. Maar die blote gedagte aan soveel skryf-, sorteer- en dinkwerk, soveel aktiewe ordening, het hom met ’n vae weersin, ’n nihilistiese naarheid en sinisme vervul. Waar begin mens om ’n leeftyd van herinneringe, vervlietende indrukke, begeertes, onvervulde drome en insidente wat hom as individu laat “groei” en “transformeer” het op ’n skaal van Baie Belangrik, Belangrik, Minder Belangrik
en Onbelangrik te plaas? Hy kon nie meer een van sy ambisies helder oproep nie, wat nog te sê verreken as persoonlike of universele gewaarwordinge. Tog was die sorteer van die notas en knipsels ’n haalbare vyfjaarprojek. Dit kon taamlik moeiteloos alfabeties ingedeel word volgens onderwerp: Aardbewings, Navorsing, Konflik, Vermaak, ensovoorts. Ook volgens die knipsels se publikasiedatums, wat ’n sekere orde en tydlyn sou verskaf oor ongeveer wanneer hy sekere insigte gehad het oor nuusgebeure (plaaslik of internasionaal) en die veranderende wêreld wat dit weerspieël. Dalk moet daar selfs ’n spesiale afdeling (met onderafdelings) vir Bome wees, het hy gedink, want hy kon iets soos ’n verlange of ’n groen verwantskap in hom voel roer, ’n nuwe gewaarwording van iets wat lankal ontkiem het en wat nou ’n herkenbare vorm soek. Hoe kon hy as professionele man in sy middeljare probeer vasstel wat die waarde van nog ’n dag in sy lewe is? Nog ’n vergeetlike dag, en daarmee saam al die ongemaklike vrae oor selfbeeld, identiteit en selfwaarde, selfs die kwessie van potensie. Dit kon tog net dui op iemand wat nie sy gewaande “lewensdoel” bereik het nie en steeds ná ’n handvol dekades nie weet wie hy eintlik is of veronderstel was om te wees nie. Daarom sou hy op orde fokus, het hy besluit. Vyf jaar was oorgenoeg om sy notas uit te sorteer; vergeet van onthullende memoires en verhullende outobiografieë! Die ordening van sy notas sou hom dalk leidrade bied oor wat hy veronderstel was om te doen met sy laatsomerjare, vóór die droewe tyd wanneer hy met sy eie agteruitgang en toenemende swakheid moet saamleef en algaande stom raak; wanneer iemand hom ferm sal lei waarheen hy nie wil gaan nie. Hy sou dalk leidrade vind oor hoe om prioriteite te bepaal (iets wat altyd, glo dit of nie, as een van sy sterk punte beskou is) en die regte keuses te maak terwyl die lewe daar buite oënskynlik in totale waansin en wanorde ontaard. Die boomkasteel-droom was meer as genoeg om hom te motiveer en te aktiveer om sy lewe van dag tot dag doelgerig te leef en sy bes te doen, op sy eie beskeie, klein manier.
9
Toe die navorser se vrou hom daardie dag by die werk bel, was hy in ’n goeie luim. Hy was op sy tweede koffie van die dag, besig om die duursaamheid van suiwelhouers (melk, jogurt, geklopte room) te toets, toe die telefoon in die laboratorium se rooi liggie begin flits. (Klanke kan steurend wees wanneer sensitiewe toetse gedoen word, en sy selfoon was soos gewoonlik afgeskakel en in sy boonste baadjiesak gebêre.) Sy het nie eens probeer om kalm te klink nie, paniek was in elke asemteug. In die agtergrond van haar bewende stem was daar ’n aardige geluid wat hy nie kon plaas nie: ’n dun, skril, uitgerekte skreeu wat laag en rou begin en vinnig ’n crescendo van onnatuurlike pyn bereik. “Hulle saag die bome af,” was al wat sy kon uitkry voor sy in haar kenmerkende hygende snikke verval het. Hy het sy wit jas uitgepluk, “Daar’s ’n krisis by die huis!” gebulder en summier sy tas op sy lessenaar vergeet. Sy sekretaresse het hom oopmond agterna gestaar. Dit was net ná spitstyd, die verkeer het taamlik gevloei en hy het gejaag soos toe hul dogter met die naelstring om die nek gebore is. Veertig minute later het hy in die oprit stilgehou en byna sy das in die kardeur vasgeslaan. “Te laat,” het sy vrou gehyg-snik, “dis verby.” Die reuk van klam hout het in soet wolke die lug deurstuif; die geknars van brekende takke het sy tande se stopsels laat pyn. Sy voortuin se blombeddings, sy vrou se roosbome, die geute aan die dak en die hele agterplaas was bedek met ’n laag stukkende groen blare, geknakte takkies, klein stompe en splinters. Asof ’n orkaan deur die buurt getrek het. Hy was bewus van die oorweldigende uitspansel bokant sy kop, manjifiek en wolkloos, hopeloos te groot en wyd en bleekblou. Waar die twee bome altyd gerusstellend wag gestaan het, groots en onbeweegbaar, was nou net twee kaal
stamme, met stomp afgekapte armpies waar gespierde takke was. Teen die spottende blou koepel. ’n Span werkers in vuil blou oorpakke (was blou ooit so spottend?) en geel staalhelms en beskermbrille was met bandsae besig om dik skywe van die stamme af te saag en vir mekaar ondertoe aan te gee, stuk vir gommerige stuk. Dis die gillende saag wat hy oor die foon gehoor het, en nou was dit oorverdowend, afgryslik, die lug verstikkend van die dansende fonteine saagsels wat in ’n sproeireën oor die grys betonmuur spuit. Hy het sy mond oopgesper en uit sy maag uit geskreeu, maar die gekerm was die bome s’n. Voor sy oë het hulle doodgebloei, krom, kaal lyke van bome. Die magteloosheid het soos ’n klem om sy kop gespan. Woede het rooi en warm in hom oopgebreek. Gesigte het na hom gedraai, spierwit tande wat lag, blink plastiekbrille. Hy het wild beduie: Hou op, stop, kry end! Een saag is afgeskakel, saag twee het soos ’n stout kind agter die muur gaan mor en peuter, die saagselfontein het opgedroog. “Wat maak julle met die mooi bome?” wou hy weet, sy stem gekrimp van geslukte woede. Stemme het oor mekaar gepraat: “Vra die baas, hy’s hier.” Daar is gewink en geroep. ’n Wit man se ronde, beswete gesig het oor die muur geloer. Vaalbruin borselkop, krom neus en litteken onder een leepogie, ’n skarminkel in ’n Punch and Judy-poppespel. “Meneer, hoekom op aarde saag julle sulke pragtige bome af? Wat besiel julle? Kyk hoe lyk my tuin!” Die buurman het sy vaal wenkbroue gelig en sy oë gerek asof hy nie mooi kon begryp waaroor die skielike bohaai was nie. Hierdie bome is mos syne, dit staan op sy grond, hy kan maak daarmee wat hy wil; dis niemand se besigheid wat hy daarmee maak nie. “Maar waarom, waarom, waarom?” In sy stem kon die navorser die klein pokkel hoor wat aan sy ma se rokspante gepluk het. “Ons het hierdie huis gekoop vir die koelte van hierdie bome! Buitendien, die witstinkhout staan op die gréns van ons
erwe, jy kan sien die muur loop hier uit in ’n vierkant op my erf! Dis mý boom ook! Hoe durf julle dit afsaag sonder om my te vra?” Die buurman het sweet uit sy leepogie en litteken gevee en gesug. Hy hoef nie redes te gee nie, maar goed dan: die bome se wortels gee probleme met die rioolstelsel en die moerbeie mors op als. Anyway, hy gaan hier bou, ekstra garages vir die woonstelblok. “Garages! Woonstelblok! Watse woonstelblok?” Die erf is onderverdeel en op hierdie deel kom ’n tweeverdiepingwoonstel. Die planne is klaar deur die munisipaliteit ge-oukei en die fondamente word môre gegrawe. Dis toe dat die navorser homself vergeet en soos ’n matroos begin vloek. Hy was nog altyd geslote, een van daai hiperbeheerste, byna bot mense wat geleer het om sy humeur in ysere bedwang te hou, veral in die openbaar en voor sy dogter. (Voor sy vrou kon hy soms ’n vinnige uitbarsting toelaat.) As hy ondertoe gevloek het, was dit gewoonlik maar wanneer hy homself met ’n tang geknyp of skeefgetrap het by die agterstoep of hom met die vleismes raak gesny het. “Leef jy in ’n fokken vakuum? Het jy geen bliksemse idee van bewaring nie? Hierdie bome is minstens ’n halfeeu oud! Ouer as ek en jy. En hulle dra meer by tot die omgewing as jy wat net afbreek en afsaag en fokken vernietig! Bome is lewende goed. Hulle kan voel! Het jy geen gevoel vir lewende goed nie?” Die buurman het sy hand opgehou, paraat en hansworserig soos ’n verkeerskonstabel wat ’n stroom karre stop. Die navorser was vaagweg bewus van die werkers wat lag en praat en beduie, hulle verkneukel in die vermaaklike klein onderonsie wat hulle sweterige arbeid onderbreek, maar hy was nog nie klaar nie, nog lank nie klaar nie. Hy was ’n stuwende vulkaan. “Is jy dan ’n barbaar? Het jy geen respek vir lewe nie? Weet jy nie dat bome die aarde se beskutting is teen . . .” Maar die buurman se gesig het agter die grys muur weggesink, woerts, blitsig soos ’n handpop wat sy exit maak oor die beskilderde rand van ’n verhogie. Die werkers lag, wit oë en wit tande in donker gesigte onder geel helms. Gedane sake. Niks kon die sterwende bome red nie.
“Wat jy saai, sal jy maai!” het die navorser sy laaste woorde oor die muur geslinger, maar dis versnipper deur ’n rasperende hoes van die tweede bandsaag wat nog heeltyd onderlangs knor. Die voorman het oor ’n verbryselde tak geleun en met ’n hand in ’n dik handskoen beduie na die navorser se agterplaas: hulle sal kom skoonmaak, al die takke en blare verwyder, hulle sal kom vee en elke takkie en blaartjie optel. ’n Versoenende gebaar – te min, te laat. Skielik was die navorser se gesig nat van iets. Saagsels? Hy het weggedraai, soos ’n dronkie deur die dik blaremat gesteier, amper geval, sy balans herwin, terug na die agterstoep geskuifel waar sy versteende vrou met al twee hande oor mond en neus en ken gestaan het, Lot se vrou. “Skink vir ons iets, whisky.” Dit was die eerste keer in sy lewe wat hy whisky gedrink het voor elfuur in die oggend, voor die fokken Boeing oor is. ’n Eerste keer vir alles. Oor die klipkoppies en blink snelweë het die son geskyn sonder emosie, geel strale soos pyle. Die blou uitspansel het geluidloos gespan, ’n monsteragtige vlag oor ’n grusame dag. Hy het sy wange bewend met ’n kombuisvadoek afgevee. Sy vrou het ’n halwe glas whisky met water in sy hand gedruk. “Wat doen jy nou met sulke idiote?” het hy gekerm. “Hoe keer mens die grootskaalse verwoesting van natuurlike bronne en skoonheid op jou drumpel? Dit gebeur elke dag die wêreld oor, dis algemeen, hierdie is ’n piepklein hoekie van die groter prentjie. Dis gewoon onafwendbaar.” Hy het groot slukke van die whisky gevat. Hy was ontroosbaar, onbeskryflik nietig. Die koelte was weg. Die bome was dood. Sy groen vriende. Die nágloed het uitgedoof. Die kasteel het getuimel in takke en blare en saagsels. Sy hoë droom van ’n heildronk op vreedsame buurmanskap was platgeslaan. Uitgewis. En die einde van die wit moerbeiboom en die witstinkhoutboom was net die begin van sy sonde met die bure.
10
As die ergste kan gebeur, sal dit. Wees voorbereid op die ergste en vat dit van daar af. Só dikteer die wet van gemiddeldes, Murphy’s Law, tydskrifghoeroes, Oprah, verskeie lewensafrigters en motiveringsprekers en al die popleuses uit Ina Moerdyk se jeug. Hulle het haar ’n klomp vrese ingeprent, maar sy glo dit help haar om straatwys te wees. Dis beter om die ergste te verwag, want die kans is goed dat jy dalk net tweede of derde slegste daarvan gaan afkom, en dan was jy ten minste voorbereid. Dan was jy baie, baie gelukkig. Ina glo in The Worst Case Scenario. Sy verwag dit om elke hoek en draai, 24/7. Dié oortuiging help jou superparaat lewe, soos haar pa haar geleer het. Sy het elke Dinsdag en Donderdag saam met haar neefs karate geneem en haar swart gordel (eerste dan, Shotokan) met trane en vasbyt ná dertien jaar verwerf. Sy het haar linkerbeen in ’n provinsiale geveg gebreek en ses maande geneem om te herstel. Sy weet hoe om te val-en-rol en sierlik op te staan. Sy het drie medaljes vir vlymskerp katas gewen. As jy die ergste verwag, kan jy terugbaklei. As jy niks verwag nie, is jy verlore. Soos haar vriendin Daniella wat ’n ou deur Facebook ontmoet het, ’n metroman met gejelde hare en gladgeskeerde bors wat hou van die Blou Bulle en chick flicks. Hulle het afgespreek om mekaar te ontmoet by ’n kroeg met polsende ligte oor die dansbaan en ’n DJ met ’n halfmasker soos die Phantom of the Opera. In die vroeë ure het die kroegman Daniella in die manstoilette wakker geskud. Haar naels was gebreek, haar bloes geskeur en haar broekie om haar enkels gefrommel. Sy kon niks onthou nie, nie eens haar date se gesig nie. Die kroegman sê sy het net ’n Coke bestel. Hy’t haar na ’n kroegstoeltjie gehelp en
gesê sy was bliksems gelukkig, sy kon iewers dood in ’n sloot gelê het. Ses weke later het sy die kit by die apteek gaan kry, lood in haar hart, en toe was dit ook so. Duiwelsaad. Besmet deur ’n sjarmante, gesiglose sluiper. Hoe dom en onoplettend is dit? wou Ina sê. ’n Ope uitnodiging, die stereotiepe situasie. The Worst Case Scenario. As dit sý was, het die vark sy mangels vir sy knaters verruil. Nie dat Ina haarself as ’n tawwe koekie beskou nie. Nooit gesien nie. Sy kan trane stort en aangaan met haar dag. Al kan sy skop soos ’n muil, hou sy net mooi niks van geweld nie. Geweld is die vervloekte uitvinding van mans. Sy is nou presies twee jaar en twee maande misdaadverslaggewer, iets wat ’n tawwe koekie sou doen en waarop haar pa baie trots is. Maar sy droom onbeskaamd van die dag dat sy “bevorder” sal word na leefstyl. Koerante beskou sy as ’n springplank na vrouetydskrifte, miskien selfs moderedakteur of kosredakteur of reisredakteur of enige posisie behalwe motorredakteur waar sy kan vergeet van elke dag se oordosis verkragting, moord en doodslag. Sy wil wegkom van die oneindige siklus van slegte nuus en foto’s van verminktes en fokus op die leksels goeie nuus. Sy is geen sentimentalis nie, maar wie kan eerlikwaar die mooi en fyner dinge in die lewe versmaai? Skoonheid is daar vir almal, selfs die armstes en siekstes kan ’n blom of ’n sonsondergang waardeer. Daar’s soveel mooi as jy net jou oë oopmaak en kyk! Dis hoekom die Sirkelman haar fassineer. Eintlik is sy heimlik verlief op hom, al sal sy dit nooit aan haar siniese kollegas erken nie, en beslis nie aan Daniella nie. Hoe is dit byvoorbeeld anders as die geval van die gesiglose sluiper? Goed, die Sirkelman is nie ’n glibberige teenwoordigheid op Facebook nie. Hy is wel ewe gesigloos, ’n skim met rugsak en hoodie wat nog net deur ’n paar studente, boemelaars en woonstelbewoners op ’n afstand gesien is. Gemiddelde lengte, so sê hulle, skraal maar sterk gebou, vermoedelik wit. Hy’s rats en vinnig en niemand het hom al vir langer as ’n paar sekondes geëien as die Sirkelman nie. Hy is ook ’n terroris wat die bestaande orde wil ondermyn – moderne kuns is op
’n vreemde manier verwant aan terrorisme – maar hy val nie vroue aan nie. Sy aanslag is nie immoreel of ontstellend nie, dis ’n vorm van vreedsame verset, behalwe as jy sulke kleurryke simbole as vandalisme beskou, die skending van private eiendom. Hy’s geheimsinnig, ontwykend, onvaspenbaar. Wat hom soveel aantrekliker maak. Wat wil hy met sy gespalkte, naakte man in ’n sirkel sê? Sy het dit gaan google en weet dis Leonardo da Vinci se ikoniese tekening Vitruviaanse Man, oftewel Le proporzioni del corpo umano secondo Vitruvio, circa 1490, met begeleidende notas deur Da Vinci gebaseer op die werk van die argitek Vitruvius. Dit word bewaar in die Gabinetto dei disegni e stampe van die Gallerie dell’Accademia in Venesië, Italië, verwysingsnommer 228, en word selde aan die publiek vertoon. Die tekening, ink op papier, beeld ’n manlike figuur uit in twee gesuperponeerde posisies, sy arms en bene wyd uitmekaar gespalk, beide gegraveer in ’n sirkel en ’n reghoek. Dit word soms die “Kanon van proporsies” genoem, minder dikwels “Proporsies van die mens”, en verteenwoordig die ideaal van menslike meetkundige proporsies volgens die Romeinse argitek Vitruvius in Boek III van sy verhandeling De Architectura. Daarin beskryf hy die menslike liggaam as die hoofbron van proporsies in die Klassieke argitektuur. Volgens Vitruvius was die ideale liggaam agt koppe hoog: Die lengte van die uitgespreide arms is gelyk aan die hoogte van ’n man. Die maksimum breedte van die skouers is ’n kwart van die hoogte van ’n man. Die lengte van die hand is een tiende van die hoogte van ’n man. Die voet is een sewende van die hoogte van ’n man. Die wortel van die penis is by die helfte van die hoogte van ’n man. Van onder die voet tot onder die knie is ’n kwart van die hoogte van ’n man. Van onder die knie tot die wortel van die penis is ’n kwart van die hoogte van ’n man.
(Ina moes wonder of Vitruvius en Da Vinci soortgelyke afmetings op vroue toegepas het, en of hulle enigsins besorg was oor die ideaal van volmaaktheid in ’n vrou.) Die skets word dikwels gebruik as ’n vanselfsprekende simbool van die wesenlike simmetrie van die menslike liggaam, en ook van die ganse heelal. Wat kan dit vandag beteken as kleurryke graffiti teen ’n stadsmuur? Ons moet onsself bestudeer? Onsself kruisig? Ons simmetrie van volmaaktheid en die stand van die mensdom circa 2015 herwaardeer? In hierdie tyd van ongekende vooruitgang, verval en onvolmaaktheid. Ina het foto’s geneem van al die Sirkelman se graffiti wat sy kon opspoor, maar daar is altyd iewers ’n vars een waarvan sy lees op die webwerf www.spotthecircle.co.za. Vir ’n paar maande nou al is hy almal ’n kortkoppie voor: die polisie, die media, sy portuurgroep van graffiti-avonturiers, sy eie aanhangers. Soos dit hoort, meen Ina. Dis nie soseer dat sy verlief is op hom as wat sy op sy konsép verlief is nie. Die idee van iemand wat ’n man in ’n sirkel dwarsdeur die stad spuitskilder. Die waagmoed wat dit verg. Die feit dat hy nie munt slaan daaruit nie, homself nie op ’n goedkoop manier bevorder nie. Tussen die gewone krabbelgang van ander graffiti, sinlose simbole, lelike internasionale abstraksies, barbaarse name in krullende barokskrif wat vir die ongeoefende oog van die oningewyde onleesbaar bly (dis seker die hele idee), rebelse gesigte en tollende hip-hoppers, is dit verfrissend anders. Koel en klassiek en gewoon mooi, en daarom dalk juis meer ondermynend. Sekuur in lyn en kleur, onbeskaamd Eurosentries, geen geurtjie van Afrika nie. Muurskilderye met ’n sober intellektuele inhoud, graffiti met gravitas. ROOI: lewe, bloed, ie, wellus, woede, revolusie, oorlog, fascisme, gevaar, stopteken. BLOU: kalmte, koelte, koue, water, hemel, ruimte, asem, oopte, dynserigheid, grensloos. SIRKEL: oneindigheid, ewigheid, sonder begin of einde, herhaling, geslote en dus eindeloos, reïnkarnasie, God.
Só het sy dit agter in haar notaboek probeer ontsyfer. Die rooi mensie in sy naakte wellus, wildheid en woede gevang in ’n eindelose sirkeltronk op ’n blou uitspansel. Onbetwisbaar sensueel – al daai arms en bene! ’n Rebel met roeiende ledemate swewend in ’n matematiese heelal. Sy weet nie of dit die Sirkelman se bedoeling is nie. Elkeen se vertolking sal seker verskil. Of is daar ’n meer spesifieke vertolking wat met die moderne mens praat, die arme depressiewe gatvol drommel? Die graffiti voed haar. Dit pas by haar obsessie met The Worst Case Scenario, die ergste verwagting, die hele ou eksistensiële dilemma. Die mens gevang in tyd-ruimte soos ’n vlieg onder ’n omgekeerde glas. ’n Jaar of twee gelede het sy ’n dokumentêre fliek gesien, Exit Through the Gift Shop, oor die Britse graffiti-kunstenaar bloot bekend as Banksy. Ook hy is ’n skim wat sy satiriese stensilkunswerke as bytende kommentaar teen mure en brûe in verskeie wêreldstede los. So beroemd het hy geraak dat sy straatkuns gereeld opgeveil word aan die hoogste bieër – en die probleem om die kunswerk te verwyder, word gewoon aan die suksesvolle koper oorgelaat. Probeer Sirkelman ’n Suid-Afrikaanse Banksy wees, met anonimiteit as foefie om berug te raak? Haar selfoon begin Pachelbel se kanon rinkel, kristalklanke wat ’n paar joernaliste in die kantien geïrriteerd laat opkyk. Dis Gys, die nuusredakteur. Droë drel. Slegte vel en graf-asem. Sy skor stem (te veel Marlboro’s en Klippies) laat haar die selfoon van haar oor af weghou, asof sy hom kan ruik. Gyselaardrama: ’n Pa hou sy twee kleuters met ’n haelgeweer aan in ’n noordelike voorstad. Bure het die polisie ingeroep en die koerant se nuuswenknommer gebel. Ouers geskei, kinders langnaweke en Desembervakansies by die pa. Hy het breekpunt bereik. Slegte nuus is goeie nuus, Ina. Nog nie ’n ekstreme geval nie, maar potensieel Voorblad. Sy gooi haar leë blikkie Coke Zero in die verbygaan in die asblik by die kantien se uitgang, klaar op ’n draffie deur die groot portale wat herinner aan die onpersoonlike sale van ’n lughawe.
Haar motor staan op ’n plek sonder skadu, aanduiding van lae rang. Bakoond op wiele. Sy sit haar sonbril op, rol vensters af om bedompigheid uit te laat, maar nie voordat die vol middagson haar onkeerbaar laat nies nie. Kan mens allergies wees vir lig? Die verkeer voor die gebou staan al weer; ’n waterpyp het gebars en een baan is afgesper. Murphy’s law, want sy’s mos haastig en daar’s nuus wat iewers breek. ’n Roomkleurige Land Rover Defender flits vir haar ligte, laat haar toe om in die stroom in te kruip. Sy bestudeer die bestuurder in haar truspieëltjie: ’n man met donker hare, bruingebrand, hoekige kaak, donkerbril. Sy venster is oop, wat beteken hy het nie air con nie of dit werk nie in hierdie hittegolf nie. Sy klik dankie met haar noodliggies en hy knik, sy lippe beweeg. Hulle kruie so aan vir drie minute voor sy in tweede rat kom, maar sy ry stadig genoeg dat hy kan verbyskiet. Sy hou haar nek styf om nie te kyk nie, maar nuuskierigheid kry die oorhand. Aantrekliker van naby af. Hy sit hoog, kop byna teen die plafon, sy raai 1.87 meter (of ’n outydse ses voet twee in sy sokkies), kyk af op haar en glimlag. Sy sê weer dankie. Op die bakkie se agterkant is stofstrepe en ’n plakker: Fuck the Rhino. Save the white O. Sy neem ’n foto daarvan met haar BlackBerry. Weet sy behoort nie daarvan te hou nie. Tog, dis nes graffiti, politiek inkorrek, oop en bloot, nie gekrabbel agterop ’n toiletdeur nie. Is hy ’n wit ekstremis of rassis – of albei? Of net ’n rustige boer met ’n rebelse streep en ’n sin vir humor wat reaksie probeer uitlok? Rebel, besluit sy. Potensieel nice.
11
Van: John England (VSA Militêre Magte).
Beste Vriend Ek hoop my e-pos vind jou wel. Ek benodig jou bystand. My naam is John England van die Ingenieurseenheid van die Verenigde State Militêre Magte hier in Bagdad in Irak. Ons het sowat $30 Miljoen Amerikaanse dollars wat ons uit die land wil skuif in drie digitale bokse. Ek en my vennote het iemand nodig wat ’n goeie vennoot kan wees daar buite, iemand wat ons kan vertrou om die fondse namens ons te ontvang. Dit is oliegeld en wettig. Ons het reëlings getref met ’n Diplomatieke Koerier Diens wat die fondse van Irak sal oorplaas as ’n Familie Skat, verder het ons ook reëlings getref om genoemde fondse deur die Bank van Bagdad oor te plaas en dit hang af van wat jy wil hê. Die belangrikste is Kan Ons jou Vertrou wanneer die fondse by jou uitkom, vat gewoon 30% as jou deel en hou die 70% wat oorbly vir ons. Jou eie deel van hierdie transaksie is om ’n veilige plek te vind waarheen die fondse gestuur kan word, ons deel is om dit veilig aan jou te stuur. Verder gaan kyk na die Skakel: http://news.bbc.co.uk/2/hi//2988455.stm As jy belangstel sal ek vir jou meer Besonderhede stuur met ontvangs van jou respons en kontakbesonderhede. Maar ek kan jou verseker die hele proses is eenvoudig en ons moet ten alle tye ’n lae profiel hou.
Ek sien uit na jou antwoord en samewerking. Saluut! John England Private en beveiligde e-pos:
[email protected]
12
Twee dae nadat die wit moerbeiboom en witstinkhoutboom afgesaag is, die boomgille nog helder in sy gemoed, het die navorser na ’n kwekery buite die dorp gery en ’n jong witstinkhoutboompie uitgesoek. Dit was skaars meer as ’n bleekgroen lat, ’n kleuter, maar reeds meer as ’n meter lank, met kwassies blare. Daar was geen wit moerbeiboompies te koop nie, volgens die vrou by die kwekery ’n seldsame boom en haas onverkrygbaar. Die navorser het gevra watter bome groei die vinnigste. Sy het hom gelei na ’n klein omheinde woudjie en gewys na ’n soepel loot met welige blare. “Hierdie een word binne twee jaar ’n koelteboom. Maar pasop, dit neem alles oor.” Die navorser het die sterkste een gekies wat in sy motor sou pas, haastig betaal en teruggery met sy twee boomkinders wat by die karvensters uitsteek, punt in die wind, trillend en klappend teen die dak. Die wind het die blare met kil vingers afgestroop. In sy agtertuin, nie ver van waar die vermoorde bome in die buurman se tuin gestaan het nie, het hy self met pik en graaf twee diep gate gegrou, verder uitmekaar as die voorgangers, minstens vyf meter, om hul takke en wortels ruimte te gee. Hy het die boompies met bewende hande ingedruk en die wortels met nat kluite toegepak. Sy dogter het hom gehelp om die stamme regop te druk teen die swelling van die aarde. Sy asem het gejaag van die inspanning. ’n Daad van verset. ’n Daad van wraak en rou. Die boomreuse was weg. Hulle kon nie in dertig, veertig jaar vervang word nie. Of kon hulle? Sy vrou het vir hom ’n glas enkelmoutwhisky gebring, skoon met twee blokkies ys, teruggestaan en woorde geprewel wat hy nie kon uitmaak nie. Dalk ’n skietgebed.
Hy het die bome gedoop met ’n whiskyvinger teen elke stam: Sfinks en Oorwinnaar. “Groei vir my,” het hy gefluister. “Groei en word groot voor ek my laaste asem uitblaas. Groei en oorwin!” Begrippe soos “buurmanskap” en “vergifnis” het vir altyd vir hom vertroebel, begrippe wat skynbaar ook die teendeel kon bevat: “onbuurmanskap” en “onvergifnis”. Sluit elke absolute begrip nie reeds sy teenoorgestelde in nie? het hy gewonder. Soos ’n mens altyd in helder lig ’n skadu werp, en in die duister self skadu word wat muurlangs vroetel vir die skakelaar. Hy was sy gewone ou self, het hy homself oortuig. Vriendelik by die werk, noukeurig in sy wit jas, liefdevol met sy vrou en dogter, hoflik in die verkeer, afstandelik en professioneel met sy sekretaresse, oënskynlik ’n redelike, gawe man, die produk van eeue se beskawing. Hy het geen bewustelike verskuiwing in sy denke gemaak oor medemenslikheid nie (doen aan andere . . . en so voort). Hy het steeds meer as sy tiende gegee. Hy het mense nie meer of minder gewantrou as voorheen nie. En tog het die betonmure om sy huis hom met ongemak en ’n vreemde aggressie gevul. Die mure was nie daar om hom teen indringers te beskerm nie, maar om sy bure uit te hou, om hom heeltyd te herinner aan die gesiglose en naamlose ongevoeligheid, selfs boosheid, van sy medemens. Tye het verander. Bure was beslis nie meer soos in sy geliefde ouma se tyd nie. Om na die grys betonmuur in sy agterplaas te kyk, het sy hartklop outomaties tot galoppie versnel. Die nuwe boompies was ’n skraal troos, letterlik en figuurlik, onvoltooide lyntekeninge van verlies, en in sy gedagtes het die verlore bome donker in die stormwind gewieg, spookbome. Hy kon die verlies eenvoudig nie verwerk nie, nee, hy wóú nie. Iets wat goed en suiwer en onskuldig in sy lewe was, was onherroeplik verbrysel. In sy gedagtes het hy twee rou boomstompe met rooi jaarringe gesien, bevlek met taai boombloed. Lelike knoetse, kankers in sy siel. Sy vrou het geweet hy broei onnatuurlik lank oor die bome. Dit raak nou afgesaag, het hy homself bitter gespot – al was hy versigtig om die onderwerp aan tafel en in die bed te vermy. Om alles te vererger, het die Punch and Judy-buurman se nuwe woonstelgebou vinnig verrys. ’n Lelike faux Toskaanse baksteengebou met trappe na die eerste verdieping, ’n balkongang en rooi teëldak. Die inwoners, het hy gou besef, gaan
gedurig afkyk op sy werf, deur sy vensters tot in sy eetkamer, kombuis en badkamer. Sy privaatheid was saam met die twee boomreuse vir altyd verlore, geskend, sy ablusie-afsondering wat hy daagliks gekoester het en as vanselfsprekend aanvaar het, binnegedring. Hy kon nie meer in die tuin gaan water afslaan sonder dat ’n snotneuskind hom aangaap nie. Hy en sy gesin was nou allemansbesit. Hulle sou die huis moes verkoop as die boompies nie vinnig grootword om as versperring te dien nie – ’n wrewelige gedagte. Hy het sy naels begin knibbel, sagte velletjies afgeskeur tot die bloed drup. Sy nekspiere wou nie ontspan nie, al knie sy vrou hom elke aand met haar sterk kneukels. En dan was daar die lyke. Die bome s’n. Lang stompe waarvan die bas afgeskil is, soos die groen vel van kadawers wat tydens outopsie met studenteskalpels weggestroop word. Die doodsbleek, nakende stompe is in die buurman se tuin geplant, skynbaar as basis vir ’n boma met ’n grasdak waar daar vermoedelik gebraai en gekuier sou word. Of dalk ’n boomkasteeltjie vir snotneuse – dit sou die uiterste bespotting wees! Die navorser kon net die boonste derdes van die twee stompe sien, ’n verfoeisel wat hom naar van woede gemaak het en hom altyd sou herinner aan die lewende bome in hul flikkerende groen praal. Hy was oortuig die buurman met die leepoog het die stompe gehou en moedswillig op so ’n opsigtelike plek geplant om hom te treiter. Hoekom anders? Die bliksem wou sy twee trofeë uitstal waar niemand dit kon fokken miskyk nie, en met elke braaisessie die sappige storie oorvertel van sy lastige ou buurman met die bloeiende hart vir bome, tree hugger, die ou poes. Dit was niks minder as ’n oorlogverklaring nie. Goed, hy sou die uitdaging aanvaar. Hy sou verdomp nie hier verjaag word nie en hy sou die dood van die bome wreek, al neem dit jare, dekades. Iewers moet selfs ’n redelike, beskaafde man die streep trek. Sy wit jas uittrek. Soos die kwekery se eienares belowe het, het die tipuana ’n besondere talent vir groei getoon. Hy het dit water gegee met die tuinslang, en Sfinks was ’n dorstige boom. Elke keer wat hy daarna kyk, kon hy sweer dis groter. Hy het dit gegoogle en opgewonde gelees dat Tipuana tipu, ook bekend as rooshout, ’n SuidAmerikaanse koelteboom is wat tot 100 voet hoog en 60 voet wyd kan word, met klossies blare wat wissel in lengte van ’n halfduim tot drie duim. Die
heldergeel blommetjies verskyn kortstondig een keer per jaar, laat November, vroeg Desember, en mors oorvloediglik. Dit laat ’n dik geel tapyt oor die grasperk en blombeddings en waai oral die huis in. Die vruggie het ’n beskeie saadjie aan die een kant. Verder is dit ’n bladwisselende boom wat laatwinter hope blare mors, ’n maand lank, asook groot helikopter-saadpakkies wat hoog en ver kan woer-woer. Als vooruitsigte waarvan die buurman salig onbewus was, tot die navorser se vreugde. Tipuana het boonop ’n aggressiewe wortelstelsel wat sement en asfalt met gemak kan oplig en breek, het die navorser gefassineer verder gelees. Voorsorg moet liefs getref word waar dit naby geboue, heinings en swembaddens voorkom. Skade kan verhoed word deur ’n sloot van een meter diep langs die struktuur te grawe, dit op te vul met bourommel en die sloot dan met plastiekbekleding af te sper om die dik wortels te stuit. Die boomspesie is voedsel vir die spoeggogga of spittle bug (Ptyelus grossus), wat ’n spesifieke effek veroorsaak wat jou kan laat dink die boom huil. Maar huilboom is net ’n illusie. Dis allesbehalwe skoon boomtraantjies wat so op jou arms drup en in jou nek blerts. Grilleriger . . . dis die deurskynende slympies van insekte wat uitbroei. Goggakwyl. Die boom, ook bekend as Pride of Bolivia, word eintlik as ’n indringerspesie beskou, ’n pes wat hope sade produseer en bestand is teen ekstreme weerstoestande van tot -4 °C, soutgrond en selfs droogtetoestande. Die boom suip water soos ’n hele trop beeste, groei blitsig en word net met groot moeite uitgewis. Saag hier ’n tak af en volgende jaar groei daar langsaan ’n sterker tak. Alles inligting wat die navorser verwelkom het. Die boom was ’n soort bestiering, ’n wonderbaarlike regstelling. Die kwekeryvrou het hom gewaarsku die boom vat oor, maar hy was nie besorg daaroor nie. Hy was vaagweg in sy noppies, ’n plan wou-wou posvat. Dit kon maar groei en suip en mors en oorvat, solank dit ook by die buurman mors en oorvat. In die eerste jaar van sy vyfjaarplan het hy die agterplaas vermy. In sy vrye tyd, saans en oor naweke, het hy sy hope notas en knipsels in ’n swaar liasseerkabinet met drie laaie begin sorteer. Hy het e-posse en gemorspos uitgedruk en saamgebondel. Sy vrou het aangebied om te help, maar hy wou dit nie toelaat nie. Dit was sy domein, ’n Herkules-taak, hy moes dit alleen aanpak. Sy het hom bly aanmoedig in sy stowwerige ordeningsproses, dikwels ingeloer en whisky en happies aangedra. Dis beter as om tot satwordens te tob oor die
bome, het sy gereken. Hy het nooit die omvang van sy selfopgelegde taak besef nie. Soveel bokse vol papiertjies wat op die mat in sy studeerkamer uitpeul en dit oorstroom, byna soos dekades se opgegaarde belastingstrokies. ’n Warboel vergeelde beriggies, foto’s, uitgeskeurde artikels, pamflette, los tydskrifblaaie en notaboeke vol aantekeninge oor alles en nog wat. Só lyk die mikrobiologie van ons bestaan werklik, het hy gedink: oneindige beuselagtighede, rompslomp, rye syfers, grafieke, salarisstrokies. Met die sorteer het hy afgekom op die eienaardigste goed. Esoteriese waarnemings van vreemde vlieënde voorwerpe oor die voorstede, die voorkoms van orkane en aardbewings in Afrika, die onsigbare plekke waar klein voëltjies en vlermuise sterf, olifantbegraafplase, die gewoontes van erdwurms, die wette van meerkatkolonies, die gevolgtrekkings oor honde wat hul base se liggaamstaal dophou vir leidrade om dan daaruit akkuraat te voorspel wat hul base volgende gaan doen. Laatnag het sy gedagtes gedwaal terwyl hy deur fassinerende brokkies sif, asof hy brokstukke van homself ontdek en eien. Menings, feite, statistiek, onverklaarbaarhede en uitsonderings-op-die-reël waarmee hy hom kortstondig vereenselwig het. Was hy dan só divers? ’n Bondel onsamehangendhede? Is dit ’n aanduiding dat hy eksentriek is, selfs mal? Hoe kan hy tegelyk mal en rasioneel wees, ’n opgaarder en ’n navorser, ’n skynbaar redelike man? Is teenstrydigheid dan al wat oorbly op die afdraande? Hoe kan hy gelowig wees maar ook ’n wetenskaplike verwysingsraamwerk vir homself bou met honderde, duisende observasies van die reële? Hy’t homself betrap dat hy geluidloos sit en tjank, daar op die mat, gestrand in ’n plas donkerte. Huil? Hy wat nooit ’n traan stort nie (behalwe vir bome), eerder woede en Calvinistiese skuldgevoelens die oorhand gee. Dis tog eerder snaaks as treurig: soveel teenstrydighede, soveel absurde en lagwekkende episodes! Die ontwrigtende vrae het bly kabbel, in strome en watervalle, snelstrome van onbeantwoorde vrae, esoteriese vraagstukke wat vir ’n oomblik belangrik gevoel het, selfs essensieel, maar hy kon nie by een langer as ’n paar sekondes talm om dit te bepeins nie, omdat die volgende vrae al weer om die knoetse van sy bewussyn gestroom het, ’n kaskade van vraagtekens. Alles, álles onder die son het vrae aangewakker. Wat is die nut van soveel vrae? Is alle vrae uiteindelik één
vraag? Waar pas hy met sy huis en vrou en dogter en groot drome en klein rituele in? Is alles ewe belangrik? Is niks belangrik nie? Sy vrou het hom soms só gekry, leë whiskyglas in die hand, starend met betraande oë na die papierbesaaide studeerkamermat, hopies knipsels vergete, verdwaal in die labirint wat hy vir homself gebou het met onbeantwoordbare vrae. Hý was die doolhof. Dan het sy hom sagkens aan die hand gevat, hom teruggebring uit niemandsland, oor sy dun hare gevee, sy skouers met kragtige kneukels geknie. Sy vrou was die laaste een wat die navorser se vrae kon beantwoord. Sy was vir hom eweneens ’n enigma, iemand met haar eie onbeantwoordbare vrae. Agter haar steeds mooi gesig was die jong meisie wat hy lank, lank gelede na ’n kunsfliek geneem het . . . The Unbearable Lightness of Being. Die eksplisiete sekstonele daarin het haar geskok. Naaktheid, geweld, ’n skrywer se sinnelose verset teen ’n onderdrukkende bestel. Die buurman wat die bome laat afsaag het, was ’n simbool van iets. ’n Man sonder vrae, sonder scruples. Iemand wat nie homself of sy omgewing ondersoek nie, wat nooit sy eie handelinge bevraagteken nie. Hoe was dit moontlik dat die navorser so baie, oneindig baie vrae had, terwyl die buurman inherent ’n ondenkende wese was, ’n bodemlose put wat energie insluk? Was dit die teken van wye morele verval: die afwesigheid van mense wat vrae stel? Die buurman het by die navorser gespook. Hy het in sy drome by die buurman gaan spook. ’n Wraakgees wat oor die grys muur klouter met gif in sy naels.
13
Die volgende aanslag was die ganse. Die navorser het een Sondagoggend vroeg, voor die eerste sonstrale, regop gesit met mond, ore en oë oop. Wat was daai onaardse geluid? Nie ’n kar-alarm nie, al was daar vae eggo’s van ’n eentonige getoeter waarvan mens doof kon raak. Ook nie ’n hadida nie. PAAA-PAA-PAA! Oorverdowend, naby. Hy knyp homself langs die naeltjie. Nee, dis nie die nadraai van ’n reeds vergete nagmerrie nie. Ganse! Hy het uit die bed gesteier en die agterdeur gaan oopsluit met bewende hande. Die geluide van ’n plaaswerf het van agter die grys muur opgeklink, van die kant waar die bure se huis is. Die sketterklanke het geleidelik bedaar tot ’n klikkende geskel en gekibbel waarvan die navorser kon aflei daar was twee van hulle. Hy het iewers gelees dat boere ganse op die werf aanhou omdat hulle beter waghonde as die kwaaiste honde is; ganse is vreesloos en intimiderend wanneer hulle ’n vreemdeling blasend met oop bekke en gespreide vlerke bestorm. Hul byte is glo pynlik en kan bloed trek. Maar hier op die dorp? Tog sekerlik teen die wet? Die hele Sondag was hy bedruk, bewus van klappende vlerke en ’n geplas in ’n dam aan die ander kant van die muur. Hy wou op ’n stoel klim om te sien, maar was nie lus vir ’n konfrontasie op die heilige dag nie. ’n Middagslapie was buite die kwessie, want die steurende geskal het in sy kop nesgemaak. Dis die soort ding waaraan jy nie gewoond raak nie, want daar’s geen voorspelbare patroon nie. Elke nag en elke oggend is hy uit sy onrustige sluimering gewek deur die ongoddelike geraas. Sy vrou het doodluiters
oorpluisies in haar ore gedruk en twee gansveerkussings oor haar kop getrek. Gans met gans besweer. “Niks erger as jou gesnork nie,” was haar ontleding van die krisis. Toe hy haar voorbeeld probeer volg, het hy gevoel hy versmoor. “Nou weet jy hoe voel ek al jare.” Haar gewone verwyt. Die bure se ganse het nou verdomp ons slaapkamer binnegedring, ’n twispunt in ons huis geword! wou die navorser skree, maar hy het hom ingehou. Bedags het sy kop gevaarlik begin knik in stadige verkeer. Hy het moeg by die werk gekom, ’n mistigheid ervaar terwyl hy die duursaamheid van plastiekhouers vir hamburgers moes toets. Nog valer en meer gedreineer huis toe gekarring, in laagste rat. Hy het ’n klag by die munisipaliteit oorweeg, maar oplaas besluit om eers ’n geskrewe vertoog aan sy buurman te rig. Die weg van hoflikheid as eerste stap. Hy het die brief op sy tuisrekenaar getik. Beste Buurman (’n Koel, beheerste toon, redelik, nie te formeel nie, op die man af.) Jou ganse is besig om ons nagrus te verwoes. Daarna het woede van hom besit geneem, soos ’n junior duiwel in hom gevaar. ’n Vlam wat stilstaan onder ’n grys rookspiraal. Watter soort bure is julle? Dit was nie genoeg dat julle twee koeltebome wat deur ons eiendomme gedeel is sonder toestemming of beraadslaging vernietig het nie. Nou het jy ook in ’n grootskaalse rusverstoorder ontaard. Hierdie is die eerste en laaste versoek wat ek rig. Raak ontslae van jou pluimvee, jy woon nie op ’n plaas nie. Jy woon tussen ander mense. Anders gaan ek polisie toe. Hy het die brief met ’n bonsende hart uitgedruk, in sy motor geklim, om die blok gery en dit in die bure se posbus gegooi. Geen teken van lewe in die huis nie. Daardie nag was die ganse sketterend op deurnagdiens. Die navorser het ’n dubbeldop geskink en voor die televisie gaan sit. Sagte pornografie was meer
voorspelbaar as die dronkparty van ganse daar buite. Veerlose wesens wat aan mekaar knibbel en lek. ’n Suigparadys in die nag se ongeskeerde holtes. Agter die bronstige tonele in sy harspan het die ganse ’n kakofoniese klankbaan verskaf vir die orgasmes van gespierde helde en oopmond heldinne wat lipstiffie en maskara in die bed dra. Drie dae later, toe hy al besig was om sy klag van rusversteuring met sy vrou te bespreek, het sy haar hand opgehou: “Luister!” En sowaar, kon dit wees? Die ganse was stil. Geen vlerke wat klap nie. Geen geplas en geskal nie. Die hele nag deur het die navorser in die somber stilte gespanne wakker gelê terwyl sy vrou diep slaap. Dit gaan enige oomblik weer begin, het sy gekwelde brein hom wysgemaak. Sodra jy insluimer. Ás jy nog kan insluimer. Chroniese slapeloosheid is jou voorland. Die ganse het nie weer geraas nie. Hy het by die muur gaan staan in die daaropvolgende dae, sy oor teen die koue beton. Hulle was weg. Hy’t gewen. Of die buurman kon self nie slaap van die ganse se alewige rumoer nie. Die navorser het weer sy agterplaas besoek, die tuin natgelei, met die gieter vir die appelliefiebos, die tuinslang vir die blompotte langs die motorhuis. Laatnag op die grasperk wydsbeen water afgeslaan wat wit vlekke in die groen skroei, sy eiendom só as ’t ware teruggevat en gemerk. Maar tog half skuldig sy oë afgewend van die buurman se boma met die twee naakte boomstamme. Sy eie jong bome het gesond gegroei, klein koeltes begin maak. Seisoene van vrede en genaakbaarheid het gevolg. (Of was dit bloot ’n wapenstilstand om te hergroepeer?) Die navorser se ordening van knipsels en beriggies het stadig maar seker gevorder. Daar was selfs nuwe kategorieë: Bedrog, Oorlog, Uitvindings, Kettingbriewe, Straatkuns, Droomontleding, Koddig, Raaiselagtig. Laasgenoemde twee was dikwels so omruilbaar dat hy hulle liefs saamgegooi het as Lost & Found. Selfs dít was omruilbaar, met guitige resultate. Found & Lost . . . soms verloor jy weer wat jy gevind het, al was dit jou rede of betekenis of die skyn daarvan. Nog seisoene later, toe die bome al fris stamme kry en Sfinks verdiepings hoog oor huis en tuin uittoring, is hy op ’n dag oorval deur ’n soort dankbaarheid. Hy
is deurweek met ’n soort sagmoedigheid. Die lewe gaan aan. Alles is genade. Hy het sy dogter gebel en geduldig na haar grusame stories geluister. Soms het hy dieselfde grusame stories in die oggendkoerant gelees, met haar naam daarby. Haar “byline”, soos sy dit noem. Soms was sy ontstig omdat die “essensie” uit haar stories gesny is deur “een of ander idioot in die nagkantoor”. “Die helfte van die storie het gesneuwel,” moes hy gereeld hoor. Alles wentel om halwe waarhede – die ander kant van die storie. Hy was heimlik bly as haar berig gesny is, want wie wil al die afstootlike, sensasionele besonderhede van ’n misdaadtoneel weet? Bloed en harsings en pyn en lyding? Hy het nooit haar berigte uitgeknip nie. Hy het nie doelbewus misdaad versamel nie, al het verwysings daarna tog in ander knipsels ingesluip. Sy dogter wou nie, kón nie glo dat sy na hom aard nie. Sy was oortuig sy is minder van ’n lafaard as hy, ’n tawwe koekie met ’n swart gordel en ’n sleg gebreekte been wat met ’n paar lelike letsels herstel het. Maar waar anders het sy haar oplettendheid gekry, die vermoë om indringende vrae te vra? Die koppigheid? Haar vrae was seker nie van die onbeantwoordbare soort nie, want sy het gewoonlik antwoorde gekry wat later misdaadstories geword het. Hy was trots op haar, en het dit gereeld vir haar gesê. Tog was hul verhouding altyd effens ongemaklik. Miskien bloot omdat hy nie goed oor die foon is nie. Sy voer immers daagliks lang telefoniese onderhoude, dis een van haar vaardighede as misdaadverslaggewer. Wanneer sy soms laatnag bel, doen sy die praatwerk en hy luister. Sy gesels meer dikwels en baie langer met sy vrou op die foon. Daar is ’n soort wedersydse respek tussen hom en sy dogter wat soms tot huiwerige gebare van familiariteit oorgaan. ’n Geel tipuana-bloeisel wat van sy baadjie gevee word. ’n Drukkie op haar skouer. Hulle is ’n koddige paar, pa en dogter, met dieselfde skewe fronsie en priemende bruin oë. Hy is bly dat sy nie ’n navorser geword het nie, hy het groter drome vir haar. Ondersoekende joernalis . . . selfs ’n skrywer van boeke wat wyd gelees word. En tog, wat is ’n misdaadverslaggewer anders as ’n soort navorser? Hoe gerus kan hy voel as sy haar dae deurbring in besoedelde omgewings waar bloed verspil is, waar sadistiese moorde plaasgevind het, waar geweld in die lug hang soos die swaar stank van afval? Wanneer sy een keer in twee maande huis toe kom, trek sy haar kamerdeur toe
en slaap ’n hele dag om, kruip op vreemde tye uit met dik ooglede en muisneste in haar gemoed. Dan wil sy oor niks praat nie, nie misdaadtonele of haar liefdeslewe nie, asof daar ’n sinistere verband tussen die twee kan wees. Sy het grootgeword met haar pa se stories van die boommoorde en ander “aanvalle”, en sy lag daaroor asof dit ’n deurlopende grap of ’n eietydse sprokie is. Hy moes tot sy skok besef sy jare lange bemoeienis met die agterste bure is vir haar op ’n manier bespotlik, niks ernstigs nie. Hoe kan die buurmisdade wat hom steeds so diep grief enigsins vergelyk met die gruwels wat sy daagliks moet konfronteer? Die besef het hom kleinlik en kleinburgerlik laat voel, en hy het hom voorgeneem om sy private oorlog voortaan vir homself te hou. Net toe hy begin dink daar sal nie meer “aanvalle” van agter die grys muur kom nie, net toe hy wil ontspan oor die turksvy van buurmanskap . . . kom die baba. Lank terug was sy gesofistikeerde dogter ’n stroopsoet baba wat ná die eerste twee weke deurnag geslaap het, opvreetbaar oulik van kop tot toon. Hy het gespog met die “ander vrou” in sy lewe, die dogter wat so rustig kon doedoes, so gou leer praat en kruip het, altyd so gebalanseerd, so onbedorwe was (vir ’n enigste kind). ’n Stil, denkende kind vol onvoorstelbare dieptes. Daarom is die skril, uitgerekte krete so skielik van die buurman se huis af vir hom skrikwekkend. Hy weet babas kan baie huil, veral as hulle sieklik is of aan koliek ly, maar heelnag, heeldag? Martel hulle die kleintjie? Iemand wat so wreed kan wees teenoor bome, sal tog nie genade aan sy eie vlees en bloed betoon nie? Sy vrou was gou terug by oorpluisies en kussings-oor-die-kop, hy was terug in sy tronk van slapeloosheid en woede. Sal hy ’n tweede klabrief waag? Of sal dit die toppunt van onbuurmanskap wees? Hy het ’n bandopnemertjie gekoop en snags in die tuin neem hy stelling in onder versmorende wolke om die babagille op te neem. Wanneer hy dit in die huis terugspeel, klink dit komieklik en blikkerig, pieperig maar nie regtig ontstellend nie, soos ’n stemkunstenaar se nabootsing van ’n baba in ’n animasieprent op oggendtelevisie. Sy vrou skud net haar kop. “Wat wil jy daarmee maak? Bewyse van wat? Dis
hoe babas en koliek klink. Almal het simpatie met babas en die ouers van babas.” Hy speel dit weer, stel die volume harder. “Maar dit klink tog soos kindermishandeling, hoor net!” Sy vrou begin haar gesigroom aansmeer. “Dit klink soos ’n baie klein baba, punt!” Sy en sy dogter konkel agter sy rug oor sy obsessie met die bure. “Raak gewoond aan die baba se huilbuie,” paai sy dogter. “Dit sal verbygaan soos die kind gespeen en groter word. Alles gaan verby.” Makliker gesê as gedaan. Dis vir hom moeiliker om aan die baba gewoond te raak as aan die ganse – nie dat hy ooit met die geveerdes vrede gemaak het nie. Hulle het net betyds uit sy lewe verdwyn. Die ganse was nie verwaarloos of mishandel nie, net ’n blerrie oorlas. Maar die baba – wie weet wat gaan in ander mense se huise agter geslote deure aan? Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat berug is vir babaverkragting! Hy probeer weer oorpluisies, hoewel nie die kussings-oor-die-kop nie (dit herinner hom aan kindermoord). Die oorverstopping help effens (vir die lawaai, nie die slapeloosheid nie), maar die blote teenwoordigheid van oorproppe laat hom dommelend dink aan sy nemesis, die man met die leepoog wat uit ’n Punch and Judy-poppespel ontsnap het. Die aanslag van die baba is so geslepe, so subtiel ondermynend. Nie die soort geheime wapen wat ’n redelike mens verwag nie. Dit werk onderbewustelik op hom in, volg hom werk toe en beroof hom van sy sinne. Daardie jaar kry hy nie ’n verhoging nie. Sy aandag is duidelik elders; die eggo’s van babagille rank in sy gedagtes. Hy’t nie eens die moed om beswaar te maak nie. Tog, dis vernederend. Sy kollegas het die gebruiklike 8%-verhoging gekry, ’n paar is selfs bevorder. Sy werk het nie verswak nie, hy het sy beskeie deel gedoen – daarvan is hy heilig oortuig. Maar hy is lusteloos, ’n uitgewaste afskynsel van sy gewone puntenerige self. Sy fut is uit, sy lont geknip. Sy sekretaresse dra koffie en hoofpynpille aan, vra wat skort. Hy praat dit weg.
Eendag tydens ’n koffiepouse steek hy impulsief by die afdelingshoof voelers uit oor vroeë aftrede. As hy dan ontman moet wees, sny ook die laaste duim af! Ja, hy kwalifiseer daarvoor, sê die afdelingshoof, maar hy sal ongelukkig ’n tiende van sy pensioen moet inboet. Hy kan geakkommodeer word indien hy so graag . . . Sy vrou klim vir die eerste keer werklik van haar trollie af. “Wat gaan aan met jou? Bome, ganse, babas!” Dit laat die navorser homself betwyfel. Het hy oornag ’n vreemdeling op aarde geword? Wat het geword van aanpasbaarheid, inskiklikheid, plooibaarheid, “konstante verandering is hier om te bly”? (’n Gesegde wat hy tot vervelens toe aangehaal het teenoor dese en gene.) Tot sy diepe krenking moet hy aan homself erken hy voel glad nie aangepas nie, hy voel behoorlik wánaangepas in huis en huwelik. Ná dekades is hy gryser maar niks wyser nie; “ervare” is ’n begrip wat hy nie eens op sy motorbestuurdery kan toepas nie. Hy kan darem sy gat bykom om dit skoon te vee, en dit met moeite! Is hy besig om uit te rafel? Dit word sy innige bede dat die baba so gou moontlik deur sy vermetele pa versmoor moet word (kussing-oor-kop) om daai kermende keelgat eens en vir altyd te snoer. Anders is hy kapabel en gaan doen dit self.
14
Kruipende verkeer het sy voordele, weet Dawid. Vandat Johannesburg se paaie chronies herlei en verander word, deur vernouings, versperrings, padwerke waar bekende roetes omgedolwe word om plek te maak vir futuristiese busstasies op hoë middelmannetjies en die land se heel eerste moltrein in druppende ondergrondse tonnels, het hy die betekenis van wag leer ken. Die alfabet van kruie in eerste rat. Voet-innie-hoek se dae vir eers getel. Die radio se nuus en advertensies en kletsprogramme kan hél irriterend raak, bladiebla, ’n dodelike aankarring en herhaling van gemeenplase en kakpraat. Almal het ’n vrot eiertjie te lê. Gelukkig het die motors met mense om hom ’n soort stokperdjie geword. Almal kyk mekaar uit. Onderlangs of openlik. Soms ’n hoflike knik of ’n skaam groet, soms ’n glimlag of selfs ’n toegewing. Dit help dat hy hoog en droog sit. Hier van sy uitkykpos in die Defender sien hy wat mense in die privaatheid van hul voertuie doen, watter soort gaskoeldrank of bier hulle tussen hul lieste vasknyp, wat alles binne vatafstand op asiersitplekke lê, klere wat geskik word, gulpe wat oop is, toertjies met slimfone, neustoilet, mans wat skeer, grimeersessies ken omhoog in die truspieëltjie, kroontjies en kapsels waar haarwortels die regte kleur verraai, vingers wat op die stuurwiel trommel. Dit gee hom ’n ander perspektief op verkeersknope, effens uit die hoogte; dit laat hom onaantasbaar voel. Hy’s ’n berede polisieman, geduldig, waardig, alsiende. Die beste is die vroue. Hulle maak sy dag – ’n hele paar keer per dag. Hy kan nie genoeg kry van vroulike bestuurders nie, veral dié wat alleen ry. ’n Oneindige verskeidenheid van vroulikheid, ’n nasie van vroue-in-karre, vrouein-beheer, ’n modeparade van hare, oorbelle, grimering, ’n tentoonstelling van skrapsgeklede vlees: borste, dye, knieë, gladde bene.
’n Keur van cock-teasers. Dankie, somer! Kaal arms, sweetvlekke in oksels. ’n Aanslag van kurwes wat sy verbeelding laat brand. Bekkenbene. Nie almal sy smaak nie, natuurlik (eintlik haal bra min daai kerf). Sagte plekkies, kameeltone. Hy verbeel hom watter is geskeer, gekam, gekleur, gepluis. Die aanbod is ryk en lekker, eksentriek, eksoties, lagwekkend, grof of afstootlik. Die volle spektrum: oud en jonk, van goed versorg en petite tot slordig, vet, vuil en fugly (skooltydse woord wat hy behou het: fuckin’ ugly). Hy ken al byna outomaties ’n punt uit 10 aan elkeen van die gewaardeerde spesie toe – 1 vir die mins indrukwekkende en 10 vir Pure Brulplesier. Hy sien kans as hulle kans sien. Hy sien kans vir almal, streng gesproke, solank hulle hom eer as die bron van lekkerkry. Die oulike jakkalsie wat by die mediasentrum se uitgang wag om in die stroom te kom, is Dawid se soort. Definitief ’n 9 of ’n 10. Sodra hy beter kan sien, sal hy sy punt toeken. Hy beduie galant: Kom gerus voor my in. Sy glimlag, raak aan haar sonbril, stoot die rathefboom na eerste, swaai haar gatjie voor hom in. Nou kan hy niks van haar sien nie, net die dak wat sonlig in sy oë kaats. Haar hazards flikker saaklik. Hy grinnik. “My plesier, soetlief.” ’n Silwer Honda Jazz. Wat maak so ’n slick chick in dié oumenskarretjie? wonder hy. Sy sal beter pas in ’n Porsche. Op 5FM gooi Beyoncé ’n lang noot wat klink of sy ’n orgasme nader, sy runnik en kreun daar op die fyndraai. Dit maak sy ore seer. Hy soek verder, deur plassies R&B, ’n sedige gesprek oor “verlore waardes”, tot in die vaarwater van ’n Strauss-wals. Dit laat hom dink aan sy ma se koel hande toe hy in graad vier waterpokkies gehad het (dit het gelukkig nie kalbassies geword nie). Die regterbaan beweeg vinniger en hy druk sy neus in, gee vet tot langs die
jakkalsie. Sy hou haar nekkie aspris styf, maak of sy hom nie merk nie, maar hy staar haar tot sy begin glimlag en terugkyk. Waarderend. Ongetwyfeld ’n ronde 10. Klein en viets gebou. Kan nie haar bene onder die ligte langbroek uitmaak nie. Blerrie goeie spiertonus (swem? draf? fiets?) en gesonde, ronde bultjies wat onder die wit kantbloesie groei. Lang nek, vol gesiggie maar geen poplap nie, ekspressiewe mond, suggestie van ligroos lipstiffie, steil donkerbruin hare. Sy nies, lag vir haarself, leun ’n raps vorentoe met ’n ligte fronsie (konsentrasie? spanning?) asof sy die motors voor haar wil aanpor. Wens hy kon die oë agter die donker lense uitmaak. Vyf minute lank skuif hy al verder weg van haar in sy baan. Hy beloer haar in sy kantspieëltjie. Sy peuter freneties met haar foon en dan lyk dit . . . ja, wragtag, sy neem ’n foto van sy bakkie se agterkant. O ja, die plakker. Gaan dit haar afsit? Gaan sy die foto op haar blog sit? As sy ’n koerantvrou is, kan dit selfs die dagpers haal. As sy weet wie hy regtig is . . Sy haal in en hulle land weer langs mekaar. Nou rol sy haar asiersvenster af. “Warm genoeg vir jou?” roep hy, beide sy vensters oop. “Ek verkies altyd vuil lug bo air con,” lag sy. Die verkeer staan. Hulle kan minute lank hier in die hitte sit. “Dan moet ek jou tog Sasolburg toe vat.” “Woon jy daar?” “Ry daar verby op pad plaas toe.” “Aaa! Wat maak ’n plaasseun in die stad?”
Beweging vorentoe, hulle moet ry voor hy kan antwoord. Vyf meter verder: “Gee my jou nommer, dan vertel ek jou.” “Aikona!” “Hou jy van my sticker?” Sy strek ’n skewe mond. “Nie juis nie. Al is jy dalk tóg ’n bedreigde spesie.” Die verkeer raak losser en sy raak haastig. “Sien jou! Ek moet waai.” Sy rol haar venster op en laat hom agter met ’n sexy vingerwuifie. “Nie so haastig nie, soetlief.” Hy druk agter haar in en volg haar vir twee blokke voor sy wys sy gaan links afdraai. Op ’n skielike ingewing sit hy sy flikkerlig aan en gooi ’n roekelose links by die verkeerslig. Nie die eerste keer wat hy agter ’n wildvreemde vroumens aanry nie. Sy afspraak met die rekenmeester kan wag. Hy kyk om hom, dink aan die druppende tonnels diep onder hom, waar manne met helms en oorpakke kabels lê en stoomhamers in klip druk. Hier seil die trein soos ’n silwer slang vinnig oor sy dubbelspoor. Die seksuele gedagte laat hom ril. Sy linkerhand val van die stuurwiel op sy broek. Hy knie homself binne sekondes hard en voel die lewe daar skop soos ’n jong kalf. Sou sy oop wees vir so iets? Het sy fantasieë oor mans, soos hy oor vroue het? Droom vroue oor seks? Nie noodwendig oor al die tierlantyne van romanse nie, nie die wyn-kerse-blomme-ensovoorts nie. Hy verstaan blerrie goed dis wat die meeste vroue blykbaar verkies, die sagkense benadering, soos sy ma hom dit oor en oor ingeprent het. Vroue wil eers ’n bietjie gepamperlang word, met mooi woorde, mooi gebare, goeie maniere, hoflikheid, geskeerde wange. Sterk en stemmig moet ’n man
wees, maar nie noodwendig stil en op sy bek geval nie. ’n Vrou is sag en wil sag behandel word, wil saggemaak word. Jy’s ’n boerseun, jy’s hard, het sy ma met ewe sagte nugterheid beklemtoon. Jy werk elke dag met beeste en skape en ploeë en stropers en bakkies. Jy kan nie ’n vrou rondpluk soos ’n koei se spene of ’n skaap wat gedip word nie. Dis barbaars, dit sit vroue af. Jy moet sterk wees, maar sagkens vat. Skoon hande, skoon naels (vuil gedagtes). Aan die begin moes sy ook sy pa leer om sagter te wees as dit by sulke binnekamerdinge kom. Só en nie só nie, Pappie, stadig oor die klippe! Het hom blykbaar na haar hand geleer. Die plaasmeisies in sy omgewing lyk en klink en praat almal soos sy ma: goed gemanierd, Christelik-ordentlik, almal stewig van lyf soos gebakte vleisrol en tog so soet-verleidelik. Baasbaksters. Boervroue wat almal sagkens behandel wil word, met woordjies en drukkies en soentjies, dalk ’n knypie aan die boud. Voorspel en sjokolade met ’n rooi strik. En tog (lei hy af van die internet en vuil tydskrifte) is daar ander soorte vroue wat nes mans wilde goed wil aanvang, hardhandig behandel wil word. ’n Pak slae waardeer. Aan pale slinger en op mans se skote bons en wriemel. Goedkoop, wulpse flerries wat nie bang is om vir ’n kamera te poseer in al hul oop, pienk glorie nie. Vroue wat enigiets sal doen as die prys reg is, of sommer omdat hulle wil en kan en omdat dit blykbaar goed betaal. Omdat hulle weet waar hul magsbasis lê. Omdat hulle dieselfde taai, vieslike drome as hy koester. Sy ereksie maak hom nou seer, skaaf teen sy broek. Hy moet dit eenkant toe afdruk of dit maak die stuurwiel se hantering moeilik. Koerantopskrif: Boer se dwars piel laat hom verongeluk. Voor hom trap die jakkalsie skielik rem en hy moet pasop of hy stootskraap haar. Sy gaan stilhou. Sy gaan uitklim. Komaan, koekie! En hier sit hy haar nou hoog op sy hings en inwag, styf gespan. In ’n stillerige straat met groot bome en hoë mure om fortwonings.
Sy lyk behoorlik die wetter in, die glimlag skoonveld. “Hei! Volg jy my?” Hand-op-heup, dimpel-in-wang. “Hoe lyk dit?” “Is jy ’n pervert of ’n stalker of iets? Dink jy ek skrik vir . . .” “Hokaai, kalmeer!” “Ek’s laat vir ’n blerrie crime scene, en nou voel ék soos ’n crime scene!” Hy wil uitklim, maar onthou van die stywe hefboom in sy broek. “Jy’s ’n misdaadverslaggewer.” “Ja, en ek hoop nie jy raak die onderwerp van my verslaggewing nie,” snou sy. Bloos skielik bloedrooi. “Hoor hier, ek wou net . . . jou naam kry. Jou nommer.” “Vra jy elke vrou met wie jy oogkontak maak in die verkeer vir haar naam en nommer?” “Nee, nie elke vrou nie.” Liegbek. Sy kom steeds nader, selfversekerd ten spyte van die blos. Hy’s bang hy brand ’n gat deur die metaaldeur tussen hulle. “Wel, ek’s nie ’n arme, hulpelose poppie nie.” “Ek het nie gedink jy is nie. Regtig, ek dink jy’s . . . jy’s . . .” Sy haal haar donkerbril af. Bruin oë met roesvlekke. “Kranig. Danig kranig,” vind hy weer sy slag met ’n lui glimlag. “Wat de hel beteken dit?” “Dat jy selfs beter van naby af is. En ver van ’n pushover. Niggie, jy’s ’n knockout.”
Sy kyk eers anderpad, dan op haar horlosie. ’n Berekende ratwisseling. “Het ek jou al iewers gesien?” vra sy liefies. “As jy bedoel: volg ek jou al vandat jy voor my ingedraai het?” “Jy’s daai boer op TV.” “Skuldig, edelagbare.” Sy knik stadig sonder om op te kyk (teleurgesteld?), wat hom kans gee om haar goed te bestudeer. Sy ruik na sweet, soet kougom en duur parfuum. “Die skaam boer wat vrou soek, die een met sulke goeie maniere wat nie sy mind kan opmaak nie. Jy maak die vroue mal. Jy kry berge briefies wat ruik na parfuum . . .” “Weer skuldig. Ek kan nie kies nie. En die keuse is nie so vrek groot soos jy dink nie.” “En sal dit nie ’n sappige storie maak as dit moet uitlek jy molesteer ’n arme, hulpelose joernalis in ’n stil straat nie?” “Jy, hulpeloos? Komaan! Ek kon dadelik sien jy’s ’n avonturier. Jy skiet van die heup af, nes ek.” “Kyk, ek het nie tyd vir slimpraatjies nie, Dawid Uys. Ek dink jy het iets, ek sal dit nie die X-faktor noem nie, maar ’n vonk . . . as ’n verdomde boertjie so iets kan hê. Jy’t uitgestaan tussen daai klomp bos-idiote wat nie behoorlik kan praat nie. Nie dat ek na sulke snert kyk nie, ek het ’n voorskou bygewoon saam met ’n vriendin. Maar miskien is jy nie reg om iemand te kies nie, Dawid. Jy’s nog bietjie rou.” “Baie vroue hou van rou. Die ongeslypte diamant en so aan.” “Ek’s nie een van hulle nie.” “Jy ken my naam, maar ek ken nie joune nie.” “Lees môre se koerant. Die storie oor die pa wat sy twee kleuters as gyselaars
aanhou. My naam sal daarby staan – as ek nog ’n werk het!” En sy draai kortom en trippel terug na die Honda, klouter in en trek weg met ’n gekrap van ratte en rokende bande. “Ek lees nie koerant nie, soetlief!” roep hy agterna. “Net Landbouweekblad.” Maar hy weet klaar hy gaan van nou af.
15
STOP! Moenie delete nie! Lees eers, dink na en doen dit! Mede Kinders van die Here, al kom hierdie mail nou al 20 keer verby jou, kan jy elke keer saambid. Onthou jy Jesus se gelykenis van die knaende vrou en die ongeduldige regter? Hoeveel eerder Dan nie ons Hemelse Vader nie? Ons land begin brand, en niemand het raad nie. Ons mense is arm en honger, en daar is te min genade en te veel anderpad kyk. 2 Kron 7:14 “. . . As my volk, oor wie my naam uitgeroep is, Hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van Hul verkeerde weë, Dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe En hulle land genees.”
GEBEDSAKSIE Ons doen dit soos volg: Wanneer jy hierdie e-pos ontvang, Dan bid jy sommer daar waar jy nou sit. Nadat jy gebid het, Dan stuur jy hierdie e-pos aan soos die Gees van God jou lei.
BID SAAM: 1.Hemelse Vader ons bid vir berou en bekering 2.Vader ons bid vir vergifnis van ons sonde 3.Ons bid dat U die mense se geestelike oë en ore sal oopmaak 4.Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees en seën 5.Ons DANK U vir reën wat reeds geval het en bid dat U genoeg reën Sal stuur na plekke wat smag daarna 6.Ook dat U alle onskuldige Suid-Afrikaners sal beskerm teen al die Geweld 7.En dat daar ’n positiewe verandering in Suid-Afrika sal plaasvind Ons bid dit in die Naam van JESUS. Amen
VERSOEK: Moenie hierdie e-pos uitvee nie BID SAAM en stuur asseblief aan!
Dit maak nie saak wie hiermee begin het nie, maar dit maak saak wat jy hiermee gaan doen. Mag die Here se genade, liefde en voorsiening oor elkeen van julle baie groot wees.
Christus groete.
16
Vrou eis ná aanval deur eend
OLYMPIA. – ’n Vrou wat by haar ma in Oregon in die VSA gekuier het, dagvaar nou die buurvrou en eis skadevergoeding van $275 000 (sowat R3,1 miljoen) vir pyn en lyding. Dit kom nadat ’n troeteleend haar vir skynbaar geen rede nie voorgelê en aangeval het. Cynthia Ruddell (62) van Washougal, Washington, was op haar ma se eiendom in Estacada, Oregon, toe die buurvrou se eend haar sonder uitlokking aangeval het, luidens die dokumente vir die regsgeding wat Vrydag in Oregon aanhangig gemaak is. In ’n poging om van die eend weg te kom, het Ruddell geval, haar regtergewrig gebreek en ’n elmboog en skouer ontwrig. – REUTERS
17
Die prinses wat alles gesien het
Eendag lank gelede was daar ’n beeldskone prinses wat in ’n pragtige paleis gewoon het. Op die paleis se dak was ’n toring met twaalf langwerpige vensters. Wanneer die prinses deur die eerste venster kyk, kan sy so ver sien as die eerste boom van die woud. Wanneer sy die trappe opklim om deur die tweede venster te kyk, kan sy so ver sien as die laaste boom van die woud. Deur elke venster boontoe kan sy verder en verder sien. Van die twaalfde venster af kan sy alles op aarde, bokant die aarde en onder die aarde sien. Na alle kante kan sy haar hele koninkryk sien. Sy kan die mense en die huise en dorpies waarin hulle woon, sien. Sy kan die diere van die woud en die visse van die see en al die voëls en wolke in die lug sien. Omdat die prinses alles kan sien, is dit vir haar baie moeilik om ’n man te kies met wie sy kan trou. Eendag laat versamel sy haar howelinge, gaan sit op haar troon en roep uit: “Ek wil met ’n man trou wat slimmer as ek is! Hy moet homself só goed kan wegsteek dat selfs ek hom nie kan sien nie.”
Die nuus versprei wyd en syd oor die aarde, van dorp na dorp en land na land. Die prinses is so beeldskoon dat baie prinse van heinde en ver opdaag. Hulle staan die hele pad na die paleis vol. Soveel prinse daag op dat die prinses ’n nuwe reël moet maak. “Ek wil trou met ’n man wat kan wegkruip waar ek hom nie kan sien nie. Enige man wat probeer en faal, sal in ’n marmerbeeld verander word.” “Ek sal nie goed lyk as ’n standbeeld nie,” mor ’n deftige prins. En ’n hele spul prinse draai net daar om en gaan huis toe. Maar die dapper prinse bly staan. “Hierdie is die koninklike towenaar,” sê die prinses. “As ek jou raaksien waar jy wegkruip, sal hy jou in ’n marmerbeeld verander. Ek sal elkeen ’n uur gee om weg te kruip.” Die eerste prins is nie baie slim nie. Hy kruip in ’n boom weg. Maar die prinses gewaar hom van die eerste venster in die toring. “Daar is hy!” roep sy uit. “Is jy reg, towenaar?” Die towenaar haal sy towerstaf uit sy punthoed. En so verskyn die eerste marmerbeeld op die dorpsplein voor die paleis. Die tweede prins is baie slimmer. Hy versteek homself op ’n verbygaande wolkie. Maar die prinses sien hom dadelik van die derde venster af. Nou is daar twee marmerbeelde voor die paleis, een op ’n tak en een op ’n wolk. Elke dag word nog ’n prins ’n standbeeld, tot daar 97 beelde is. Almal wys waar die arme prinse probeer wegkruip het: in kaste, mandjies, hooimiedens, skoorstene, stalle. Toe kom daar geen prins meer om die prinses se hand te wen nie.
Sy is baie ongelukkig. “Ek wil regtig baie graag trou met iemand wat slimmer as ek is. Soms wens ek dat ek niks verder as die punt van my neus kan sien nie!” Op ’n dag kom drie broers by die paleis aan. Die oudste buig laag. “Ons is nie prinse nie, U Hoogheid, maar ons wil graag ’n kans waag.” “Ek hoef nie met ’n prins te trou nie. Ek wil net trou met ’n man wat slimmer as ek is.” Die oudste broer gaan versteek homself diep, diep in ’n kalkput. Die prinses sien hom van die eerste venster af. Toe is daar 98 standbeelde voor die paleis. Die tweede broer kruip weg in ’n donker kelder diep onder die paleis. Die prinses sien hom van die tweede venster af. Hy word beeld nommer 99. Toe staan die jongste broer voor die prinses. Sy naam is Otto. “Jy is te aantreklik om in ’n standbeeld te verander,” sê die prinses. “Luister nou na my: jy kan nie vir my wegkruip nie. Moet asseblief nie probeer nie.” “Ek móét probeer, liewe prinses. Ek wil met jou trou, want ek het verlief geraak op jou.” Otto buig laag. “Al wat ek vra, is een guns. As jy my twee keer vind, doen niks. Gee my drie kanse.” Die prinses oorweeg sy versoek. “Nou goed, jou wens word toegestaan,” sê sy uiteindelik. “Teen twaalfuur môre moet jy weggesteek wees. Ek sal dan na jou soek.” Otto verlaat die paleis. Hy kan nie aan een plek dink om weg te kruip nie. “Ek sal my geweer vat en gaan jag in die woud,” besluit hy. “Miskien sal ek ’n goeie wegkruipplek vind.”
In die hart van die woud kom hy af op ’n groot, swart raaf. Hy korrel versigtig. Maar net toe hy wil skiet, sê die raaf: “As jy my nie skiet nie, sal ek jou beloon.” Otto laat sak sy geweer. “Vlieg na jou nes, my geveerde vriend.” Hy stap aan tot hy die oewer van ’n pragtige blou meer bereik. Hy gaan sit en staar somber na die stil water. Skielik sien hy ’n enorme vis in die water. Hy vat sy geweer en korrel versigtig. Toe sê die vis: “As jy my nie skiet nie, sal ek jou beloon.” Otto sit sy geweer neer. “Maak nie saak nie. Swem weg, my gevinde vriend.” Hy stap aan tot hy by ’n oopte in die woud kom. Daar sien hy ’n jakkals. Hy korrel versigtig. Toe sê die jakkals: “Moenie skiet nie, jong man. Ek het ’n doring in my poot. Trek dit uit, en eendag sal ek jou help.” Otto trek die doring uit en die jakkals draf weg. Die aand keer hy terug na die paleis. “Ek het ’n raaf, ’n vis en ’n jakkals gevind,” sê hy vir die kok in die kombuis, “maar ek het nie ’n plek gevind om vir die prinses weg te kruip nie.” Toe die son die volgende oggend opkom, rol Otto uit sy bed, moeg van min slaap. “Ek moet vóór twaalfuur wegkruip,” mymer hy. “Maar waar?” Weer gaan stap hy in die woud. Hy kry die raaf op haar nes en vra vir sy beloning. “Kan jy my sê waar ek moet wegkruip sodat die prinses my nie kan sien nie?” Die raaf laat sak haar kop en dink na. Toe breek sy ’n eier in haar nes en sê ’n towerspreuk op: “Kraai, kroei, krampetie, krompetie, krimp!” Otto word baie klein, net so lank soos die raaf se bek.
“Nou kan ek jou in my eier wegsteek,” sê sy. Hy klim in die eier en die raaf sit die twee eierdoppe teen mekaar. Toe gaan sit sy saggies op die eier. Twaalfuur begin die prinses na Otto soek. Sy sien hom nie van die eerste venster af nie. Ook nie van die tweede, derde of vierde venster nie. “Miskien is Otto slimmer as ek,” sê sy. “Ek hoop so! Hy sal so ’n aantreklike eggenoot wees.” Maar toe sy by die elfde venster uitkyk . . . “O, daar is hy. Hy’s in die eier in die raaf se nes.” Die prinses beveel dat Otto voor haar troon gebring word. “Jy het jou eerste kans verspeel.” “Volgende keer sal ek beter vaar, U Hoogheid,” belowe hy. Vroeg die volgende oggend stap Otto tot by die meer. Toe hy die vis sien, vra hy vir sy beloning. “Sê my asseblief waar ek moet wegkruip sodat die prinses my nie kan sien nie.” Die vis dink ’n bietjie en gorrel hierdie towerwoorde: “Gorrel, garrel, grampetie, grompetie, grimp!” Toe Otto klein genoeg is, sluk die vis hom in en swem af, af tot op die bodem van die meer. Om twaalfuur begin soek die prinses van venster tot venster na Otto. Van die twaalfde venster af sien sy hom. “Hy’s in die maag van ’n vis op die bodem van die meer. Bring hom na my toe.” Die prinses is treurig toe hy voor haar verskyn. “Jy het jou tweede kans verspeel. As jy môre verloor, sal jy in ’n marmerbeeld verander word.” Op die derde dag gaan Otto weer die woud binne. Hy vra hulp by die jakkals. “Selfs al steek ek jou in die diepste grot weg,” sê die jakkals, “sal die prinses jou
vind. Maar wag, kom saam met my.” Hulle haas hulle deur die woud. Toe hulle by ’n stroompie kom, spring die jakkals in en roep: “Sprengetie, sprangetie, sprongetie, spring!” Dadelik verander hy in ’n handelaar. “Nou’s dit jou beurt,” sê hy vir Otto. Toe Otto hom in die stroompie doop, verander hy in ’n klein, groen seehasie. Die handelaar tel die seehasie op en hardloop dorp toe. Hy neem dit na die markplein. “Kyk hier! Seehaas!” skree hy. “Die een en enigste seehaas in die wêreld!” Die mense drom saam om beter te kan sien. “Wat ’n eienaardige klein diertjie!” roep hulle uit. Op daardie oomblik ry die prinses verby in haar koets. “Waarom drom almal om daardie handelaar saam?” vra sy vir die koetsier. “U Hoogheid, hy het ’n seldsame seedier te koop.” Die prinses gaan nader en toe sy die seehasie sien, verloor sy haar hart en koop dit dadelik. “Wat ’n oulike klein diertjie! Ek sal dit oral met my saamdra.” In die paleis speel sy heerlik met haar nuwe troeteldiertjie. Om twaalfuur is dit tyd dat sy na Otto gaan soek. Die seehasie kruip vinnig en saggies onder haar dik, swaar hare in. Die prinses bestyg die toring en stap van venster tot venster. “Daar’s nog geen teken van hom nie,” sê sy vir die towenaar. “Ek sal hom beslis van die twaalfde venster af kan sien.”
Maar sy sien Otto nêrens nie. Die seehasie klouter in haar kroon en loer uit. “Otto is slimmer as ek!” juig sy. “Ek sal bly wees om met hom te trou. Maar waar kan hy wees?” Toe spring die seehasie uit haar kroon en skarrel so vinnig as wat sy vinpootjies hom kan dra deur die groot sale van die paleis. Hy laat spaander deur die paleistuine tot by die hek waar die handelaar hom inwag. “Die prinses het gesê sy sal met my trou!” roep hy uit. “Wat doen ek nou?” “Kom saam met my,” sê die handelaar. Hy tel die seehasie op en dra hom terug na die stroompie in die woud. Hulle spring in die water terwyl die handelaar weer die towerwoorde sê: “Sprengetie, sprangetie, sprongetie, spring!” Net daar verander die handelaar in ’n jakkals en die seehasie in die aantreklike Otto. Hy skud die jakkals se poot. “Ek sal jou nooit vergeet nie. Wanneer ek met die prinses trou, sal jy saam met ons in die paleis woon. Ek sal jou die prins van jakkalse maak.” Otto verlaat die woud en gaan reguit na die paleis toe. “Nou kom ek my prys haal, my beeldskone, versiende prinses!” praat hy opgewonde met homself. Sy sien hom deur die venster van die twaalfde toring aankom en wag hom by die paleishekke in. “Jy het bewys jy’s slimmer as ek, Otto. Ek sal met graagte met jou trou.” Toe neem hy haar in sy arms en soen haar, en al die mense juig in die strate. Voor die paleis laat die prinses die koninklike towenaar roep. “Om ons huwelik te vier, beveel ek jou om al die standbeelde weer in mans te verander.” Die towenaar haal sy staf uit sy punthoed en swaai dit oor die skare standbeelde,
en een vir een word hulle lewend. Otto is verheug om weer met sy broers te kan praat. Die prinses het nooit weer by een van die toring se vensters uitgekyk nie, behalwe om te sien of haar mense gelukkig en tevrede was. En hulle was, altyd.
18
“Wat is ’n seehasie, Pappa?” Ina het baie vrae gehad. Haar pa se geduldige antwoorde was net so betowerend soos die storie wat hy uit die verweerde strokiesboek Classics Illustrated Junior Nr 576 (15c) voorgelees het, met lawwe stemmetjies en gesigtrekkings. “’n Seehasie is iets tussen ’n soogdiertjie en ’n vissie, met vinne vir ore en vinne vir pote.” Sy het oor die prentjies van die groen skepseltjie gestreel. “Ek wil ook een hê.” “As jy soet is en al jou groente eet, sal jy eendag.” “Sal groente my slim maak?” “Slimmer as die prinses.” “Sal ek ook alles kan sien?” “As jy aanhou lees en leer, sal jy baie slim word.” Hoekom het die seehasie in die prinses se kroon weggekruip? het sy gewonder. Is ’n jakkals slimmer as ’n mens? Sy onthou haar pa se stemtoon, rustig soos ’n stroompie oor mosgroen klippe wat haar wegvoer na ’n plek van prentjies en diere wat kan praat. Is gewone mans slimmer en brawer as prinse? Hoekom wou die prinses nie meer deur die vensters kyk nadat sy getrou het nie? Is Otto so slim as hy ’n raaf, ’n vis en ’n jakkals moet vra om hom te help? “Slim genoeg om hul lewe te spaar,” het haar pa verduidelik, “en oop genoeg om
te luister na ander se raad.” Die kleure in die prentjies het haar ure lank besig gehou. Die prinses se vlasgeel hare, haar koningsblou rok met wit-en-rooi-gestreepte pofmoue, die poeierwit standbeelde wat lyk asof die kunstenaar dit nie ingekleur het nie, maar kleurloos gelaat het tussen die ander helder kleure, die nagswart raaf, Otto se oranje hoed met een vermakerige swart veertjie, die vet oranje vis, die vosbruin jakkals, die seegroen seehasie (haar gunsteling). Die musikante by die koninklike troue, kordaat in pers baadjies, blou-en-wit pofbroeke en rooi pette. ’n Hele bladsy vol standbeelde wat skielik soos poue begin pronk en spring en dans op hul wit podiums, ’n ontploffing van kleur! “As ek eendag slim is, moet ek ook ’n man soek wat slimmer is as ek, Pappa?” Haar slim pa met sy treurige glimlag en sagte stem het net geknik. Maar sy kon sweer hy het onseker gelyk. Soms terwyl sy bestuur of stort of ’n smoothie in haar duur menger maak, ruik sy nog daardie verweerde ou strokiesboek, die reuk van hout wat vergaan, ou saagsels en bedompige kinderdrome, sien sy weer die kermisbont kleure op die brose bladsye, en dan wonder sy of haar pa al ’n antwoord op haar groot vraag geformuleer het. Sy moet onthou om hom te herinner.
19
Alle oë is op die hok. Die hok is leeg, maar dit pols met belofte. Die lug dreun. Die skare skuif afwagtend in hul sitplekke rond. ’n Sug van ongeduld, ’n onderlangse gemompel. Kolligte brand op die Heksagon, ’n seskantige verhoog met ystertralies rondom, in die middel van ’n sirkelvormige ouditorium wat ontwerp is om soos ’n massiewe sirkustent te lyk. Ina is skielik bewus daarvan dat sy presies soos Dawid vorentoe leun, elmboë op die knieë, ken gestut op handpalms. Oral op die pawiljoene om hulle leun toeskouers só vorentoe, gespanne, gefokus op die Heksagon. Sy bekyk hulle onderlangs: ’n paar soustannies en hupse omies wat droom van beter dae, meestal gymbuksies in sterklykhempies en hul dollas met lae halse en doodknypdenims. Soekligte kam langsaam deur die skare, langs paadjies en trappe af terwyl rockmusiek oor groot luidsprekers aggressief raak, uit-die-kassie, onkeerbaar opbou tot ’n rou crescendo. Gelyk op drie reuse-skerms ontplooi handelsmerke van borge, gevolg deur foto’s van hokvegters, bultende arms gevou oor kaal borskasse, uitdagende kyke. Nou is almal se oë op die ingang van die tonnel waar ’n TV-kamera op wieletjies stadig agteruit begin rol. Ina rek haar nek, maar al wat sy kan sien is die kameraspan, lede van die kampioen se entourage, fotograwe, amptenare en aanhangers. Dawid beduie dringend boontoe: “Daar!” Groter as lewensgroot raak hy sigbaar op al drie skerms: die vegter in aantog uit
die bek van die tonnel, in sy blou satynjapon, vuiste gegiet in swart leerhandskoene. Hy rol sy kop stadig op sy gespierde nek, wuif vir die kameras. Die skare slaak ’n diep sug. “Hoog tyd,” grom Dawid. Sy hare lyk nat, asof hy pas gestort het. Ina vind sy nabyheid steeds bedwelmend, sy verleidelike grofheid, ’n man met buitengewone aptyt wat weet wat hy wil hê. En hy wil háár hê. Dis die vyfde geveg van die aand. Die vier gevegte vooraf was net lusmakertjies: beginners wat lugtig om mekaar dans en koes eerder as om slaags te raak of raak te slaan. “Miskien sal daar nou bietjie aksie wees,” sê Dawid. Al het Ina as jong meisie aan dosyne karatekampioenskappe deelgeneem, is dit haar eerste keer by ’n regte hokgeveg waar deelnemers mekaar takel met alles wat in die Oosterse gevegskuns toelaatbaar is. Extreme Fighting Championships (EFC) en Mixed Martial Arts (MMA), ’n erkende kontaksport in ’n hutspot van style: boks, skopboks (Muay Thai), taekwondo, judo, karate, stoei, jujitsu, savate, sansjou en sambo (blykbaar alles behalwe kung fu) in alle gewigsklasse. Beslis ’n vreemde keuse vir ’n eerste afspraak, dink Ina. Bloedsport as rituele voorspel tot ’n moontlike verhouding? Wat moet sy daaruit aflei? Die uitstappie is Dawid se treat, ’n kompliment dat sy kwansuis anders is as ander girls, “’n lawwe tawwe koekie” (dit vlei haar al stem sy nie saam nie) en “’n gatskopper wat die selfbeheersing van die gevegskuns ken en waardeer” – sy het immers littekens oorgehou om dit te bewys. Hulle het selfs hul littekens in sy Land Rover vergelyk, been teen been: die lang snymerk aan haar linkerbeen wat gebreek was, sy regterdy wat tydens ’n skrum met spykerskoene tot in die lies oopgetrap is. ’n Harige lies. Hy het haar genooi om haar wysvinger daarop te sit, sy het net gelag. Sy kan nie besluit of sy bang of opgewonde is nie, sy voel lighoofdig en kortasem. Of was dit dalk daai dik steaks wat hulle by die braairestaurant in die wandelhal van die dobbelpaleis bestel het? Syne was goed gaar, hare effe bloederig, met al die swaar bysmake van kapokaartappels, uieringe en
dikgesmoorde pepersous. Hoe kon hy raai dat sy ’n vreemde mengsel van weersin en verwondering het vir mans wat hou van baklei? Op ’n formele manier, natuurlik, met ’n skeidsregter wat kan ingryp wanneer sake handuit ruk. Al daai naakte aggressie, sweet wat spat, vlees wat meegee en ribbes wat kraak – die wettige en beskaafde uitlaatklep vir die gewraakte geweldsimpuls. “Dit gaan ’n befokte een wees,” sê Dawid. “My geld is op krulkop, die gewese kampioen. Hy’s ouer, maerder, meer ervare. Agt keer gewen, vyf keer verloor. Gewonde bul . . . vrek gevaarlik.” “En daai ou is poenskop.” “Huidige kampioen. Jonger, ses wenne, twee keer verloor. Maar watch net, vandag gaan hy sy gat solied sien.” Sy blaai in die program na die foto’s en beskrywings van die vegters, met elkeen se stats daarby. Witblits Brink (26) vs Clayton Steyn (29). Witblits, oftewel Poenskop: middelgewig, dinamiese bokser, harde slaner, aggressief, loop lig vir sy linkerhaakhou, floreer op pyn. Langs haar wys Dawid na die Heksagon. Poenskop klim uit sy blou japon, word deur ’n bebaarde beampte wat self lyk soos ’n stoeier betas en deurvoel, seker vir wapens. Sy hoekige gesig word kaalhand met petroleumjellie ingesmeer, om die oë, op oogbanke en wangbene. Die man is bonkig en bleek, ’n bondel spiere en gladde lyf soos ’n otter; groot tatoeëermerke van inkblou sekels wat soos ’n ysterkleed om skouers en bors klamp; blou broek met wit gordel. Met wipstappies betree hy nou die hok. Die hek swaai agter hom toe, hy’s binne, alleen, trippel drie keer vinnig om en om, bons op sy sole, gee twee elastiese spronge wat sy bene laat oopskêr. Vir die fans.
Rockmusiek breek die klankgrens, slaan oor na ’n rasta-orkestrasie met catchy perkussie. En nou, in die bek van die tonnel en op die skerms, verskyn Witblits se uitdager. Clayton dra sy roesbruin krulle kort om die ore. Skraal gesig, potloodsnor, lang arms, bruingebrande bolyf sonder opsigtelike spiere, swart broek met rooi kantstrepe. Weltergewig, hoëvlak stoeigrepe en uitstekende veeldoener. Bly uit sy arms uit, maan die program, hy veg nie om te wen nie, hy veg omdat hy daarvan hou. Krulkop word betas, bevoel, gesmeer, die hok ingelei, waar hy rustig aan sy kant stelling inneem, sy kop stadig knik asof hy mediteer. Die musiek rat af. ’n Swart aanbieder in ’n aandpak, geel strikdas en mikrofoon betree die hok. “Lllladies . . . and gentlemennn! This . . . is the moment you’ve all been waitin’ forrrr!” Dis sy oomblik voor die gróót oomblik. Hy maak Griekse gebare, vertoon sy perfekte wit gebit, poseer vir die kamera, stel die twee teenstanders aan die skare voor, basuin stats uit met ’n faux Amerikaanse aksent – al daai rollende r’e! En dan is sy oomblik verby; tyd om spore te maak voor hy een in die smoel kry. ’n Blondine in ’n bikini met onwerklike groot borste paradeer buite om die hok en hou ’n plakkaat omhoog: Round 1. Swaar dra al aan die voorkant. “Hoeveel weeg daai goed?” wonder Dawid. Sy giggel, gee hom ’n ligte vuishou teen die biseps. Hy gryns vir haar en hensop. Die hek word toegemaak en die skeidsregter lig sy hand plegtig. Poenskop en Krulle se regtervuiste raak liggies aan mekaar – ’n groet, ’n waarskuwing. Twee manne en ’n skeidsregter in ’n seskantige hok. Eerste van drie rondtes. “Man in hok. Man in sirkel!” fluister Ina skielik.
“Wat?” vra Dawid effe gesteurd. “Iets hieraan voel bekend.” “Ek weet, nè? Dis oer, my bra!” “Nee, ek bedoel . . .” Daar’s beweging: Witblits doen sy naam gestand en val aan om sy eerste sarsie houe te plant. Clayton steier terug, sy lang lyf maak ’n kolkbeweging na regs. Die houe tref hom net skrams teen die skouer. Die skare jou: “Witblits! Witblits!” “Komaan, Clayton!” bulder Dawid uit volle bors. Ina hou daarvan dat hy vir die underdog skree. Sy besluit om dieselfde te doen. “Komaan, Clayton!” Clayton se mawashi-geri – ’n wye sydelingse skop na Witblits se kop – mis die teiken met ’n voetbreedte. As dit raak was, het die bokser geval. Die geveg skud ’n hoogspanningsdraad los oor die toeskouers; hulle koes en kriewel en hoes en wikkel in hul sitplekke, hulle wil uit hul velle spring. Die stryd is uit die staanspoor meer gelade as die voriges, dis ekstréém. Die manne voel-voel en tart mekaar glad nie, albei is onvoorwaardelik steeks en aanvallend. Hulle klim mekaar met mening in, boksstyl van Witblits, swiepende skoppe en stormlopies van Clayton. Ina voel haarself ineenkrimp, haar ou defensiewe gevegsposisies van karate inneem asof die houe haar ook tref. Sy kan haar oë nie wegskeur van die opponente se wisselende ritmes en ontploffings nie. Nes sy veg al die toeskouers in skimgevegte saam, shadow boxing van aanval en terugval. Witblits kry die meeste lyfhoue in, maar boet daarvoor toe hy ’n vuishou teen die oogbank kry van Clayton se “lang arm van die gereg”. Die toeskouers kreun wanhopig. Daar loop die eerste bloed nou! ’n Rooi streep langs Witblits se kaak af tot in sy
nek, dit lyk nes ’n Rooihuid se oorlogsverf. In nabyskote op die skerms sien Ina dis ’n dik straal bloed wat van sy ken af drup-drup. Die petroleumjellie het nie veel gehelp nie. “Hy het hom!” juig Dawid. “Tik hom dik, pappie!” Tersyde aan Ina: “Beter as rugby, enige dag!” Ina het nog nooit so ’n misleidende vegter soos Clayton gesien nie. Eintlik lyk hy lomp en onvas op sy voete, ’n lummel wat dronkerig rondval, ’n stomme os wat blindelings vorentoe beur, maar jy kan jou lelik misgis – hy’s nooit waar jy dink hy gaan wees nie. Opgetrekte skouers, rug gekrom, arms soos toegevoude vlerke voor bors en gesig, ken ingetrek en kop agter sy vuiste gebuig soos ’n bidsprinkaan. Niks hiervan is strategieloos of blindelings nie, besef sy. Clayton het bloed geruik en dryf sy teenstander nou genadeloos dwars oor die krytvloer; hy wil hom in ’n hoek vasdruk of afbring grond toe. Die eerste rondte is verby en die vegters val terug na hul hoeke. Die hekke gaan oop om afrigters binne te laat, water word oor warm lywe gespat. Ina leun terug en probeer haar maagspiere ontknoop. “Sjoe, dis intens!” “Dis cool,” lag Dawid. “Mano a mano. Dis al wat daar is.” Weer eens verras hy haar. ’n Spaanse uitdrukking! Handgemeen, man teen man, maar ook voetgemeen, lyfgemeen, bloedgemeen. Handskoen, vel en been – al wat daar is tussen twee moderne gladiators. “Jy’s reg. Ek weet nog nie of ek dit geniet nie, maar dis vir seker beter as enige dom aksiefliek.” Swaardra is terug op haar pos, heupswaaiend, poserend: Round 2. Witblits is behandel met salf, handdoek en water en sy oogbank lyk mooi skoongevee, maar almal weet dis van korte duur. Met een langarmhou van Clayton spat die bloed en die bokser se hoekige gesig
is nou geverf met rooi, die wond behoorlik oop, ’n gul mond. (Hoe sien mens deur strome bloed? wonder Ina.) Getrou aan sy mantra – hy floreer op pyn – bly Witblits ’n verbete vegter. Sy bloedgevreet maak van hom ’n skrikwekkende verskynsel in ’n Halloweenmasker, hy peper sy opponent met ’n sarsie van vier harde lyfhoue, maar Clayton sien die gaping. Hy vee Witblits se voete onder hom uit met ’n horisontale kragskop. Die poenskop struikel terwyl die skare kreun. Hy’s dadelik weer orent en die skare snak oor hul held se weerbarstigheid. “Vat hom grond toe, Clayton!” skree Dawid, en Ina weet hy’s reg. ’n Bokser van sy voete af is verlore, hy’s immers nie ’n grondvegter nie. Maar Witblits slaag daarin om staande te bly, telkens net buite bereik van die knyperaanvalle; hy skop hoog en Clayton vang sy voet byna. En skielik lyk dit asof hulle dans, ’n verliefde paartjie wat mekaar styf omhels en vasstoot teen die hokwande. Die tralies druk lang kepe in wit vleis, hulle looi mekaar met lyfhoue in die agterste ribbes of bring knieg op in buik, herhaaldelik, op-op-op, hulle knieg en buig mekaar, saamgesmelt in ’n golwing van sweterige lywe, koppe geknyp in warm nekke. Sensueel en grusaam, dierlik en magneties. ’n Wals van wreedheid. Ná wat voel soos ’n klein ewigheid slaag Witblits daarin om los te kom, maar word dadelik weer deur Clayton se lang arms omkring. En so gaan die stadige dans voort. Die tatoeëermerk van sekels word met bloed besmeer, Witblits se skouers en rug skyn rooi. In die genadelose stoeidans word albei oorstroom deur bloed. Dis onafwendbaar: bloed soek bloed. Steeds kan Ina nie wegkyk nie. Sy gryp Dawid se hand, hul vingers raak verstrengel. Hy trek haar nader en soen haar nek oopmond sodat dit ’n smakgeluid maak. Sy lag uitasem. In die derde rondte voer Clayton al meer die botoon, doelgerig en dodelik en glad nie meer soos ’n lompe jafel nie. Ongelooflik, maar Witblits bly staande; soms kry hy ’n hou in, retireer nou meer as wat hy aanval. Die manne lyk moeg, hulle beweeg stadiger. Tyd word deeg. Clayton kan nie daarin slaag om sy vyand grond toe te bring of tot oorgawe te dwing nie.
“Hulle is wragtag goed gematch,” moet Dawid toegee. Die vegters gee en verduur, wik en plant. Bloed sproei deur die tralies op toeskouers wat koes in die eerste ry. Dan is dit skielik verby, twee bebloede kampioene in ’n seskantige hok. Hulle staan wiegend langs mekaar, albei verslae en benewel, maar onverslaan. Die skare is hees geskree. Almal wag vir die beoordelaars se uitslag. Die aanbieder kom nader met sy mikrofoon. Sy oomblik ná die groot oomblik. En die wenner . . . by split decisionnnn . . . is Clayton Steyn! Krulkop lyk verbaas; sy arms word omhoog gestoot. Rockmusiek bars opnuut los. Toeskouers spring orent. “Clayton! Clayton!” skree Dawid saam met hulle. Ina voel hoe sy oorloop van skroeiende gewaarwordings wat sy nie kan verstaan of beheer nie. Blydskap vir Clayton, simpatie vir Witblits. ’n Nuwe begrip vir die ontembare, onkenbare wese wat in skares woon. Sy sluk trane weg. Haar hart bloei vir die bloeier. Sy kry gloede in haar nek, voel blosend warm, haar lyf vol naaldprikke; sy wil lag én huil. Sy verstaan skielik dat alle mense vol bloed is, bloedrooi bloed, bloed wat skree om bloed. Haatlike, opwindende geweld! Kan dít liefde wees? Dawid omhels haar en druk haar asem weg. Een ding is seker: dit was waaragtig ekstreem. Met hierdie man sal sy reg moet wees vir enigiets – soos in reality TV.
20
Mettertyd besef die navorser: die boom is toe geen lewensboom nie. Ja, koelte is daar genoeg, in troebel, donker lengtes. ’n Seën in die somer, ’n vloek in die winter. Die vrou van die kwekery het hom gewaarsku dis ’n moordboom. Sfinks het oorgevat. Dit het wel meer as ’n dekade geneem, elf jaar om presies te wees, maar die tipuana het baas van die agterplaas geword. Hy wurg die tuin in sy ystergreep van wortel en tak, met ledemate wat styg en wieg in die wind, kronkelgroei en knoetserige, gretige vingers uitgesteek na huis en verroeste geute. Die takke gooi ’n digte koelte oor grasperk, beddings en roosbome, ’n versmorende skadu tot by die agterstoeptrappe. Hy staan twee of drie verdiepings hoog, net so hoog soos die woonstelle wat regs agter opgeskiet het, die takke – elke jaar wyer en sterker – uitgewaaier oor die agterste heining en die bure se werf. Geen keer aan hom nie.
Die satisfaksie van die monsteragtige groei het ’n wrang smakie by die navorser gelaat. Die wraaksege teen die boommoordenaar waaroor hy so gedroom het, is besig om al die fondamente te laat kraak. Syne én die huis s’n. Die monsterboom het sy tuin verdring, donkerte oor alles gesmeer, die laaste bietjie warmte van die winterson uitgedoof. Wanneer die ander bladwisselendes se takke kaal raak, pryk Sfinks nog met trosse ekshibisionistiese blare. In September, wanneer die koue wil-wil wyk en die eerste druppels windverwaaid op die vel piets, val Sfinks se blare in een vlaag in een week af, ’n geruislose blarestorting vier maande ná al die ander bome – trots op sy eie laatherfs – en net enkele dae later verskyn die eerste groen botsels al weer aan die swaar, donker takke. Twee weke later is sy blarekarnaval ’n lentefees, en skaars ’n maand later val die geel reën – vragte bloeisels wat ’n zoemtapyt van bye en insekte ooprol. Jaar ná jaar die koms van die geel seisoen, slymgoggas wat nat kolle op alles blerts. Almal wil kom kiekies neem van die geel agtertuin, sy dogter Ina en haar bees van ’n plaasklong ook. Hulle het geplas in geel sneeu, onsedelik aan mekaar geklou – sy met ’n hand skaamteloos op sy boud, hy met sy halfbaard krapperig in haar nek. Later het die vent aan ’n tak geswaai soos ’n aap, homself opgehys terwyl Ina hom van alle kante afneem (hy’s fotogenies vir ’n boer), foto’s van sy boarms, sy harige, bruingebrande bene en bultende vrug in die kniebroek. Die navorser se vrou was ewe verwonderd oor dié skielike romanse, beleefd geïnteresseerd in die kêrel se menings en blosend oor sy bronstige uitlatings. Volgens Ina was hy een of ander vervlietende ster van ’n werklikheidsprogram, Dawid Uys, welgestelde jong boer van die Vrystaat wat plan maak om vrou te vat. Ina het ’n onderhoud met hom gevoer – ’n ware Q & A vir kleuters, het die navorser gedink, ’n windeier. Hulle was net te danig vatterig – dit terwyl Ina almal altyd tot vervelens toe herinner het sy sal nooit as te nimmer trou nie. Wat karring sy met só ’n kluit? Dawid Uys het Kentucky chicken en Windhoek lager saamgebring – as hy in die stad is, eet hy mos Kentucky. En daar kuier hulle so staan-staan in die kombuis, asof om te sit die laggerige informaliteit sou skend. Hulle smul met oop monde
en vetterige vingers soos Amerikaners en maak praatjies oor plaasmoorde, stakings, moordverhore wat die volk vasnael, die korrupte regering wat ’n moerse grap maak van die herverdeling van grond. Die navorser was onthuts omdat selfs sy arme vrou soms ’n stuiwer in die armbeurs sou gooi, guitighede sonder siel, hy het dit dadelik vergeet. Mag die verhoudinkie ’n stil dood sterf. Sy is op die spoor van ’n vervlakste skim, het Ina met ’n halfgevrete vlerkie beduie, ’n geheimsinnige man wat saans uitkom soos ’n vlermuis. Glo ’n wit man (wit vlermuis), want geen mens het hom nog behoorlik gesien nie. ’n Sogenaamde straatfilosoof wat sy aardskuddende stellings met kannetjies spuitverf teen mure agterlaat. Sy het vier getuies opgespoor, sê Ina, laatnagjollers, sy moet nog die opnames transkribeer. En hulle het vetvingers aan skurwe Kentucky-servette afgevee, nou ja, ons moet groet, mekaar stywerig gedruk en padgegee vir Dawid se dik stewels wat hakskene raak trap, kom tog weer, stuur nou daai foto’s van die boom en die geel reën, asseblief? Die kombuis het stil geraak. In die sitkamer het die muiserige TV-vroutjie met die moesiemondjie die nuus verkondig as die enigste ware evangelie, desperate glimlag om stram mondhoeke. Waar kry hulle die arme sukkelaars? wou die navorser skree. Kry hulle nie spraaklesse om oorronding teë te werk nie? In die tuin staan Sfinks soos ’n krom reus in die windstilte, onverstoord, elke blaar roerloos, die skemer geel.
21
Kort ná die ontmoeting met sy dogter se onkiese kêrel begin die navorser se oorloggie opnuut. En dit ná soveel jare. Die navorser was nie werklik in die mood daarvoor nie, soos sy dogter sou sê. Te veeleisend. Obsederend. En tog, dis verbasend hoeveel rigting en motivering ’n oorlog aan ’n afgetredene se lewe kan gee, hoeveel fokus! Alles is in sagte lig gebaai ná ’n wolkbreuk. Vroeër was daar ’n paar donderslae wat die aarde laat sidder het; die houtvloere het gebons soos wanneer daar ’n insinking by die myne is. Die navorser had geen kwellings nie. Vrede op aarde. Vrede op die bloeiselbesaaide grasperk. Vrede in die tuiste wat hy en sy vrou gemaak het, ’n nes van gordyne, blomme uit die tuin en Fresh Linen-badkamersproei. Oop vensters waardeur die reuk van vars grond inwaai, die insekslym weggespoel deur emmers reën. Net die vorige aand het hy in die garage peinsend by sy nuwe bonsai, ’n blaarlose eikeboompie met kaal armpies, gestaan en wonder of hy ’n boomkasteeltjie daarin kon bou, of die petite takkies die gewig van vuurhoutjietorings sou dra – as jy nie meer groot durf droom nie, droom dan verdomp klein! Die vreedsaamheid van sy ou-ou kasteeldroom het soos ’n mantel van stof op hom neergesif, en lank nadat hy die agterdeur gesluit en die ligte afgesit het, sy kop op die kussing neergelê en sy vrou se gromsnorkies begin tel het, was hy nog by daai bonsai in die garage in ’n stralekrans van lig en stof. Hy sal dit bou, besluit hy oplaas: alles reg geskik, eksieperfeksie, proporsioneel korrek. Die volgende oggend kom loer die rooi gesig van ’n vrou met Pocahontas-hare oor die betonmuur, bitter trek om die mond, blitsende swart ogies, presies op dieselfde plek waar die Punch and Judy-buurman destyds verskyn het. Dit kan
selfs die vent se ma wees, dink die navorser, daar’s ’n besliste familietrek, ’n sekere snotkop-arrogansie. Hy versteen toe hy haar sien. Sy hartklop versnel. Hy stoot die kombuisvenster oop, leun vorentoe. Mors kokende koffie oor sy hand. Hulle kyk mekaar soos ou vyande uit, al is dit die eerste keer dat hulle mekaar sien. “Haai! Hierdie takke, kan ek dit afsaag?” Haar stem is plat en skril, deur-inniehuis, geen vooraf groet nie. Hy sit sy bekertjie langsaam neer, zoem in op die rooi gesig. Asem stadig in en uit, hy moet hom fokken inhou. “Watter takke is dit presies?” Sy swaai een arm woes bokant haar kop. “Die takke wat my tuin met geel kak beskyt! Het jy gesien hoe lyk dit hier by my?” Toe kom alles teruggestroom: die afgryslike moord op die twee bome, die besete geskreeu van bandsae, die flenters takke in sy tuin, die aanslag van die ganse, die baba se folterende geteem. En hy verloor dit liederlik. Een oomblik is hy nog by die kombuisvenster, die volgende oomblik ploeg hy deur die tuin, een uitgerekte gil van pyn wat deur hom skril. Die rooi gesig sak agter die muur af. Sy been knak onverklaarbaar . . . agter hom die trappe . . . hy kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Hy val in die bloeiselpoel op die gras, ’n by steek hom deur sy langbroek en sy knie brand. Ou besering! gil die pyn in sy been. Soos destyds op die atletiekbaan oor die hekkies. Hy het sy linkerdyspier geskeur soos ’n stuk tekenpapier – hierdie keer in sy dol, bedonnerde vaart om die vyand aan die keel te gryp. ’n Hekkiesprong na afrekening, in ’n breukdeel van ’n sekonde teen die agterste trappe af. Hy loei soos ’n alarm, ’n sirene van vloeke. Sy vrou is winkels toe, hy’s alleen in sy private hel. Die hond kom lek die trane
van sy wange af, ’n stink asem in sy gesig. “Rufus, fokof!” Hy kruip op twee krom arms en een gesonde been, sleep homself huis toe, val amper oor die lastige hond en hop komieklik. Beur uiteindelik orent, maar toe hy op sy linkerbeen wil trap, word hy sekondes lank verlam deur ’n elektriese skok tot in sy weefsel wat hom laat snak en steier. Met elke folterende tree raak hy meer die bliksem in. Kalmeer of jy kry ’n beroerte! waarsku sy beterwete. Woede maak sotte van heiliges en vorste. “Ek gaan jou takke afsaag! Ek is moeg vir die gemors in my tuin!” Die rooigevreet-Pocahontas is terug, Leepoog se ma, arms swaaiend. “Hierdie boom is ’n pes, dit moet uitgeroei word! Wat gaan jy daaraan doen, meneer?” Hy stut hom teen die kombuisdeur se kosyn en skree sy pyn dood. “Jý is die pes wat uitgeroei moet word, jy en jou fokken seun wat geen respek vir mens, dier of plant het nie! Julle maak soos julle wil en kry niemand se goedkeuring nie. Het julle laas gevra voor julle die wit moerbei en witstinkhout afgekap het? En toe het julle nog die kaal stamme uitgestal om my te tart!” Sy skud haar kop, glimlag dun, begin stadig afsak en verdwyn, eers ken, toe neus, oë, voorkop, raafswart hare – die illusie van Punch and Judy kompleet. Wie manipuleer haar? wonder die navorser. Is haar stem haar eie of ’n poppemeester s’n? Dalk haar seun se hand wat in haar hol en ruggraat opgesteek is, haar kop laat knik en draai? Hy sak op ’n kombuisstoel neer en huil en snak van woede en pyn. Só kry sy vrou hom ’n halfuur later, laat plastieksakke vol inkopies op die kombuisvloer neerplof. Ná ’n glasie skoon whisky help sy hom kar toe, sy ewige steunpilaar, en jaag kloekend met hom dokter toe. In Menz, Opperman en Du Randt se spreekkamers hink hy eers na die manstoilet, waar hy na die verwese gesig in die spieël staar: grys stoppelbaard, waterige bruin ogies, min plooie maar pofsakkies onder die oë, bleek lippe, een mondhoek na bo en een na onder gebuig soos Komedie en Tragedie wat toutrek. ’n Subtiel skewe gesig met een oog beslis kleiner as die ander, ’n suggestie van geslepenheid, swartgrys volbaard korter geknip aan die linkerkaak as aan die regter. Wat is sy naam? wonder die navorser. Dit begin met ’n H. Niks om oor te
bekommer nie, sy vrou sal weet, hy hoor sy naam in elk geval al minder. Hulle is immers dekades lank nie meer op voornaambasis nie – net “liefie” en “skat”, maar meestal “jy” en “jou”. Name het hom as kleuter opgewonde gemaak, eerste gewaarwordinge, die nuwigheid en gepastheid daarvan. In die weermag was hy net ’n van, ’n halwe man. En as navorser het name van materie vir hom voorrang begin geniet bokant die name van mense – absurde name en afkortings met nommers daarnaas. Dit het hom soms verbaas dat hy nie kollegas en vriende se name kon oproep nie en dan jakkalsdraaie moes gooi met onsinnige kletspraatjies – Stem saam met jou, ek weet, alles gaan agteruit maar dit help nie om te kla nie, Afrika is nie vir sissies nie, maar elke man is ’n koning agter sy staalhekke en palissades, haha! Die groter werklikheid was dat hy homself toenemend en skouerophalend as “die uwe” aan vreemdes voorgestel het. Sy vrou het in elk geval die tjeks en kontrakte geteken, hy’t verleer om sy naam te teken. So what. Die oermisterie van Anoniem, ’n naam vir onbekende en lank vergete filosowe, skrywers en grapmakers, het hom nou ingesluit. Anoniem, dis hy, ’n persoonsnaam wat ook ’n groepsnaam is. Naamloos, enkel- én meervoud. Vandat hy afgetree het en amptelik afslag kan kry by kettingwinkels, eetplekke en teaters as pensioenaris (iemand met nietige pyne en prioriteite wat nie vir die wyer bevolking tel nie), het die idee posgevat dat hy eintlik nie meer ’n naam nodig het nie. Ja, hy is waarlik anoniem. In die era van kitsroem is hy salig niemand met ’n kleinletter. Hy het geen Facebook-profiel nie. Hy is bloot die oudnavorser in dokter Menz se spieël. Vir die mensdom vergete nog voor hy ingespit is. Die man sonder naam. Wanneer iemand hom wel op sy naam noem (soos die dokter nou), hoor hy dit met opset nie, blokkeer dit outomaties. “Meneer M, jy sal van volgende week af twee keer ’n week vir fisioterapie moet gaan. Lig trap en versigtig wees by trappe en in die bad. Niemand van ons word jonger nie, nè? Ja, die ou beserinkie is ’n pes, was dit rugby? O, hekkies. Seker destyds nie behoorlik behandel nie en die spier het skeef ingegroei en verswak. Onthou nou, geen skielike bewegings nie. Vat dit maar stadiger, meneer M, tree vir tree.” Ja, dis meer algemeen as wat ’n mens vermoed: ou spiere wat in repe skeur, als broser, deursigtig soos ryspapier. Dit moet sy ou dokter toegee, dokter Floris Menz, ’n onaantasbare man wat blykbaar nooit eens ’n verkoue opdoen tussen al die vrotsiekes nie. So ’n besadigde mens, hy’t destyds die navorser se dogter in
die wêreld gebring. Lyk nog niks ouer nie, is hy bestand teen tyd ook? In die spieël het die navorser stip gestaar, die vreemdeling probeer eien, gesig grys van pyn. Ligweg gefrons oor die skielike woede wat in sy tuin losgebars en hom verblind en beseer het. Hy het sy kop vinnig geskud asof hy ’n stoute kind betig en die naam wat na sy lippe styg heftig teruggesluk. As mens sulke skandes wil maak, in woede ontvang en gebore, is dit beter om naamloos te bly. Anoniem, die ou poephol wat sy beenspier geskeur het. Op krukke is hy iemand heel anders, koddig dog statig, die man met vier bene. Die krukke maak van sy arms voorpote, verlengings met kurkpunte, ’n raamwerk waardeur hy sy onderlyf log kan swaai van agter na voor. En sleepvoet grondvat vir die volgende reusagtige poging. ’n Nuwe manier van loop, lomp en onmenslik – hy is ’n kameelperd. Sal hy hieraan gewoond kan raak, gespalk in lenige wit hout? Sy vrou hou die petalje geamuseerd dop, moedig hom saggies aan, gereed om te help as hy sou gly. “Só voel dit as ’n boom op sy wortels begin loop,” betoog hy grimmig. Hy vermy die agtertuin, dool deur die huis soos ’n spook, bou in die garage aan sy boomkasteeltjie. Kyk televisie uitgestrek op die La-Z-Boy waar hy kan broei oor die Pocahontas-vrou en haar dreigement. Laat sy dit waag! Laat sy dit net waag! Daar is opwinding en vrees in hom, swart saadjies van verderf wat ’n dawerende val voorspel. Trots is hy, trots sal hy ondergaan . . . ’n onbekende boom in ’n woud wat knarsend na benede sidder in die groeiende donker.
22
Geluk! Jou Mobiele No 083 724 7747 het R95 000 in ons Verenige Koningkryk Nokia Jaarlikse Promo gewen. Jou VERWYSINGS NR is 0059 vir eise bel Mnr Chris op 082 059 7627 30/01/15 23:55:49
23
Ontsnapte roofdiere het inwoners op hol
COLUMBUS (OHIO). – Inwoners van die Zanesville-omgewing het gister beangs binnenshuis gebly nadat ’n klomp gevaarlike roofdiere van ’n plaas ontsnap het. Die eienaar van die plaas het selfmoord gepleeg. Die hokke van die diere, wat leeus, tiere, jagluiperds en bere insluit, was oopgemaak. Mnr. Terry Thompson (61), plaaseienaar, se lyk is eergister gevind nadat die polisie gaan ondersoek instel het ná berigte van diere wat los rondloop. Skole is gister gesluit en inwoners is gemaan om binnenshuis te bly terwyl die owerheid op die diere jag gemaak het. Altesaam 56 diere het ontsnap, waaronder 18 Bengaalse tiere, 17 leeus en 9 bere. Nadat sheriff Matt Lutz van die Muskingum-distrik ’n bevel uitgereik het, is 48 diere doodgeskiet. Teen gisteraand was net twee diere nog soek: ’n aap wat moontlik die herpes B-virus dra en ’n wolf.
24
Aanlyn-spelers los vigs-raaisel op
Wie sê rekenaarspeletjies is nie nuttig nie? Dit het spelers van die aanlynspeletjie Foldit minder as tien dae geneem om ’n molekulêre misterie op te los wat vigs-spesialiste vir byna ’n dekade stomgeslaan het. Die spelers, wat geen kennis van biochemie het nie, het rondgespeel met 3D-rekenaarmodelle en daarin geslaag om die ingewikkelde voustruktuur te ontrafel van ’n sleutelensiem wat ’n vigsagtige virus laat vermeerder. Kennis van die ensiem se vorm stel navorsers in staat om te bepaal hoe die ensiem met nuwe medisyne en behandeling geteiken kan word.
25
Vier ooggetuies en wat hulle gesien het (transkripsie) Ooggetuie 1 Kunsstudent, 19, vroulik, versoek om anoniem te bly.
Ons was nog so besig om te praat oor die uitvinding van die wiel. Braam, dis nou my smart kêrel, vrek slim, het hierdie zany droom gehad, sien? Hy’t ’n manier om sy drome in detail oor te vertel en dit ure lank uitmekaar te torring soos ’n kat wat ’n ou trui beetkry. Dink aan homself as ’n groot uitvinder, patente wat Einstein en Alexander Graham Bell jaloers sou maak, al van sy skooldae af. Hoop om eendag ’n killing te maak en op sy rente af te tree op vyf-en-twintig. Ons het geloop daar langs die ou Fisikagebou, naby die sandsteentrappe. Dit was warm. Ek het koelte gesoek en net met ’n halwe oor geluister, iets oor vierkantige wiele. Nou kom dit alles terug. Snaakse droom van Braam. Maar party drome kan gebou word, glo hy, soms wen dit selfs ’n Nobelprys! “Jy kan nie ’n wiel ’n wiel noem as dit vierkantig is nie, dan’s dit ’n vierkant. Maar in my droom was al die wiele in daai hoogs ontwikkelde samelewing vierkantig . . .” Sy droom was vol detail, ’n groot moderne stad met skyscrapers en rekenaargeeks en uitvinders met lasers. Als was ligjare vooruit, baie verder gevorder as hier by ons, behalwe een ding was outyds verby!
Die wiele. Die wiele was vierkantig. Dis nou van al die karre en motorfietse en lorries en dubbeldekkerbusse. Al die voertuie op die strate en snelweë het gehop, op en af, op-af, stamperig saam met die draai van al daai vierkante waar wiele moes gewees het. Maar niemand het gedink dis vreemd nie, dis net hoe dit nog altyd vir hulle was. Die stedelinge was almal so gevorderd, slim en beskaafd, maar hulle kon nie sien dat hulle die vervoerstelsel kon streamline nie, jy weet, die karre gladder kon laat ry nie. Dit sou mos dadelik die gehop en gespring uitsny! Die strate was ’n bonsende sirkus. As Braam wys na die vierkantige wiele en vra hoekom, het mense draaie om hom geloop, hom behandel soos ’n malle. “Het julle al ooit daaraan gedink dat julle die vierkante waarop julle ry rond kan maak?” het hy ’n ou man by ’n bushalte gevra. “Die hoeke kan afskaaf sodat almal nie so hoef te stamp en te skud nie? Julle moet seker almal nierprobleme ontwikkel!” Maar blykbaar was dit wat mense wou hê, wat hulle van hulle karre verwag het, die gestamp was gewoonte en lekker. Hulle het oor leeftye daaraan gewoond geraak. ’n Kar met vierkante was . . . hoe sal mens sê . . . die nórm. Mense het naar en gedisoriënteer geraak as karre nie op en af bons nie. Soos ’n matroos wat nie op vaste grond kan loop nie. Hulle het selfs so geloop, op-af, op-af, knieë wat knak soos Pinocchio. Selfs hulle wiegstoele en waterbeddens het so gehop. Bons-bons, jy kan dink. “Maar dis tog ’n natuurlike proses dat vierkante wat rol met verloop van tyd ronder sal word, hul skerp kante sal afslyt?” het Braam aangehou. “En gaandeweg moet dit dan gladder gaan oor die pad?” Die ou man was verstom. “Almal weet tog as die vierkante begin klaar raak, word hulle vervang! ’n Ronde vierkant is dodelik gevaarlik, dit sal al die stampery uitskakel, mense aan die slaap laat raak. Hulle sal ongelukke maak, van die pad af gly op afgeslyte vierkante, voetgangers op sypaadjies tref!” Braam het met die ou man geredeneer, hom tevergeefs probeer oortuig dis beter om die vierkante met ronde skywe of wiele te vervang. “Julle is duidelik nie dom mense nie, maar iewers het julle ’n stap in menslike evolusie misgeloop. Probeer dit net vir ’n week en kyk of dit nie beter gaan as
om jou niere voos te stamp nie!” Die laaste ding wat Braam kon onthou voor hy wakker geword het, was hoe hy opgekyk het na die son. En die son was ’n goue vierkant in die lug. “Stel jou voor: vierkantige wiele aan alles. Hoe kan ’n mens ongemak verkies? Hoe kan mense nie die eenvoudige sprong maak van vierkantig na rond nie? Absurd!” Ons het nog so gelag oor Braam se droom, gewonder hoe dit sy kop verklaar, of gebruik kan word in sy planne vir ’n skaatsplank met sonaandrywing, toe hierdie ou van agter af op ons afkom met ’n stink spoed! My eerste gedagte was: hy val ons aan, ’n dief of iets! Outomaties my skouersak stywer vasgeklou – ek’s al twee keer naby die ATM beroof – want al my eksamennotas, beursie, studentekaart en ID was daarin. Ons het hom glad nie gesien of gehoor nie, eerder voel aankom soos ’n warrelwind, hy was net skielik op ons! Braam was sommer reg om hom te takel, maar dit was sekondes . . . Sy hoodie het afgegly, skaars vir ’n oomblik voor hy dit weer opgepluk het. Maar genoeg dat ek hom mooi kon sien, en ek het dadelik geweet dis hy. Op sy regterhand was daar ’n tatoe van ’n klein-klein spinnerakkie. Donkerblonde krulle oor sy ore, so ’n sagte blonde baardjie, nogal ’n mooi, manlike gesig en vreeslik maer, wangbene en voorkop, sy skedel het deur sy bleek vel geskyn. My ma hou van sulke mans wat lyk of hulle van porselein is, fyn aartjies, breekbaar maar sterk. Ek kan my voorstel ’n engel lyk só: swart wenkbroue bokant weerligoë wat my brand met blou vuur. Hy’t tussen ons deur gevlieg, sy rugsak wat klink of daar leë blikkies in was. Braam raak vies as ek aangaan oor sy blonde kuif en ysblou oë, maar ’n mooi man was darem nog nooit lelik nie. Wat nog? Skraal, hardloop soos ’n atleet, fiks en rats, tekkies aangehad – swart Nikes. Nuwe jeans met rooi en blou verfkolle, ’n hoodie op so ’n warm dag. Hy’t ons geklief soos ’n warm mes deur botter. Toe het ons hom net van agter af gesien, nét so toe’s hy om die hoek en weg. Altesaam seker tien, vyftien sekondes, maar ek kan hom nog voel, sy asem teen my nek so in die verbygaan,
sy liggaamshitte, daai blou oë soos lasers op my. Ek wou agterna hardloop en skree: “Ek weet wie jy is! Ek weet! Ek weet!” Maar Braam het my teruggehou met sy hand op my arm. “Flippen ongeskik! Ek moes hom getrip het, donnerse doos!” Braam het nie geweet dis die Sirkelman nie, en ons twee was van almal op kampus die heel eerste wat sy gesig gesien het. Ek moet erken, ek dink baie aan hom . . . maar moenie dit skryf nie, asseblief. Braam sal dit nie kan vat nie, hy voel bedreig deur ’n skim. Ek wil weet wie die Sirkelman is, wat sy naam is. Het hy ’n meisie? Meer as een? Ek wil hom in aksie sien wanneer hy sy statement maak. Iets in hom het my geraak, verstaan jy? Daar was ’n konneksie. Die ouer generasie sal nie verstaan nie. Nee, nee, ek wil nie hê hy moet gevang word nie. Braam sal bly wees, want hy verstaan niks hiervan nie. Ek vang myself dat ek bly uitkyk vir sy soort lyf, sy blonde kuif. Ek wag vir sy asem in my nek.
Ooggetuie 2 Bankier, 32, manlik. Joe Stewart.
Dit was seker net so ná twaalf, Vrydagaand. Was goed gehype van die dans maar nie dronk of hoog nie – nog nie. Ek sou dalk ’n bietjie begin indulge ná eenuur. Wel, ek was hoog in verdiepings. Die stad was cool deur die floor to ceilingvensters, berge van glas en yster, jy weet: een van daai wraparound apartments in die middestad wat nou die jong freeborns trek. Moerse party by Jamie en Sandy. Twee boere-kugels wat lyk soos susters, maar hulle is . . . jy weet . . . lezbos. Baie slim, baie ryk, clued-up oor financials, slim
genoeg om weg te bly van mans. Die party was ’n vryval-besigheid. Jy weet, die soort ding waar jy nie eintlik inpas nie, ’n soort bring-en-braai waar jy net jouself bring. Maar dis oukei om almal uit te check, metromanne in peach pastels en modelletjies in T-shirts met slogans, Idols finalists wat jy klaar vergeet het en ander sleazy reality stars. Professional fuck-ups, die hele Ritalin-en-cocaine-crowd. Die triphop-house-kak was bietjie loud en ek het my by die balkondeur uitgewurm vir ’n happie besoedeling en die view. Wou nog ’n ciggy bum by José die stylist van een of ander decorating magazine, maar ek moes myself remind dis net ’n cop-out. Ek gym nou al so drie maande, lyk goed, voel goed, het vir die eerste keer my eie space gekry. Energy drinks is fine, maar die rook fok mens bietjies-bietjies op en laat jou pong. Rook jy? Oukei, dan weet jy. Jy lyk na ’n sensible girl, al is jou keuse van beroep vir my ’n mystery. Different strokes for different blokes. Ek ken ’n paar van jou “geleerde” kollegas – financial journos. Wimps. Dink hulle’s vrotkaas, verstaan die mark glo beter as ons en die kassiere wat elke dag hulle hande vuilmaak. Vreemde visse . . . arrogant arseholes. Sorry as ek jou spesie beledig, ek hou net nie baie van mense wat stories aandra nie. En hier vra jy my om dieselle te doen. Wat? O ja, die party. Ek het uitgeglip op die balkon en die glasdeur toegeskuif teen die geraas. Die view was awesome, die gewone shit, blink bo en onder stink ná die reëntjie, neon en glas en chroom, maar die blitse was spectacular. Eers kyk ek skeel, dag dis ’n skaduwee of special effect van ’n wolk of ’n reflection op die glas van die nuwe bankgebou. Toe dink ek: dis ’n vensterskoonmaker. Maar só laat in die aand? No ways. Ek leun toe oor die reling en kyk weer. Agter my gly die glasdeur oop en Marsha knyp my boud. Haar nuwe toertjie: sy soek boud. Man, vrou of sex change, sy knyp jou waar daar vleis is met daai lang naels wat sy vol teddiebeertjies geverf het. Ek trek haar tot langs my – Kom kyk! – gebruik haar hand om te beduie waar sy moet kyk – Daar, sien jy wat ek sien? Maar sy klamp daai naels in my arm in soos ’n kat, hoogtes laat haar katte skiet.
Sy kon nie sien wat ek sien nie, al wys ek waar sy moet kyk. Sy’s promptly terug binnetoe om te gaan lyfskud en suip. Kakbang sy kyk per ongeluk sewe verdiepings af ondertoe of kry ’n stukkie vars lug in. So ek het nie ’n witness wat kan corroborate nie. Maar ek weet wat ek gesien het daar oorkant: ’n man wat stadig klim soos mens ’n berg klim, voetjie vir voetjie, een arm wat swaai. Wil hy spring? wonder ek. Wuif hy vir my? Moet ek 911 bel? As hy omkyk, moet hy my kan check, want dis die flat waar die musiek so raas. Toe sien ek hy’s besig daar teen die gebou, vier of vyf vloere bokant street level. My maag het gedraai. Dit kan net ’n malman wees, in die middel van die nag, op ’n nat, gladde vertical. Dis een van daai goed in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie. Ek voel verlam. Elated. Dis net ons twee bokant die stad, sonder safety nets of toue. Ek en hy, raindrops en glitter in die lug. Fokken solitary gevoel! Ek wou iets doen. Ek wou roep: Ek check jou, my ou! Jy’s van jou trollie af, jy beter begin bid! Sy malheid het my ook mal gemaak, ek was dronk en sad, ek wou soos Tarzan aan ’n lang tou swaai tot langs hom om te sien wat hy doen. Maar ek retireer tot teen die balkondeur, draai om en gaan in. Lafaard. Ek wou skree oor daai carnival of sound, die hele orgie, maar ek was net drained, hasie met ’n pap battery. Kon nie ’n fokken geluidjie uitpiep nie. Een van die lezbos het ’n energy drink in my hand gestop. Kyk, waar’s dit nou . . . hierso. Ek het ’n foto gaan neem die volgende dag. Helder sonlig, en die iPhone quality is awesome. Kan dit vir jou mail. Weet nie of hy daar afgekom het sonder om te val nie. Maar ek het hom gesien. Ek was daar.
Ooggetuie 3 Kelner, 24, manlik. Danie Benade.
Wel, ooggetuie én oorgetuie. Dis reg, ek het hom gehoor ook. Met hom gepraat in lewende lywe. Sy bestelling gevat, Cajun-hoenderslaai en bessie-smoothie. Sy stem was heserig, effens hoog, nie falsetto nie. Nie ’n mooi stem nie, maar gangbaar manlik. Sag, asof hy dit min gebruik. Mompel bietjie. Hy’s net ’n mens van vlees en bloed soos ons almal, nie ’n skim of superheld nie. Ek het hom sien eet en drink, hy’s selfs toilette toe. Jammer, maar ek neem als met ’n knippie sout – die gerugte van bomenslike kragte en dat hy soos Spider-Man teen geboue kan opklouter en die polisie heeltyd ontglip. Dit was drieuur en my skof het net begin. Ek het hom sien inkom, hy’t sy rugsak op ’n stoel naby die ingang neergesit en sy baadjie uitgetrek. Hoe’t ek geweet? Dis op Twitter en Facebook. Sy naam is nog nie bekend nie, maar dié wat voorgee hulle het hom gesien, gee dieselfde basiese beskrywing. Ja, blond. Vuilblond. Was nie sy hare genoeg nie. Glad nie my soort nie, gee my eerder ’n rooikop of ’n donkerkop. Meer lyf en beter higiëne. Ek het stadig nader gegaan voor hy kon opkyk, hom mooi van die kant en toe van voor af bekyk. Ek was verbaas, sy oë is ’n soort blou wat ek nie ken nie. Daar’s ietsie pers daarin. Nie die soort gesig wat jy sommer vergeet nie. Nie mooi nie, op die randjie van lelik, maar vol karakter, soos ’n outydse movie star s’n. Humphrey Bogart miskien, net blond. Hoë wangbene, baardjie, dun neus. Ouderdom . . . moeilik. Kan al dertig-plus wees, maar in sagte lig kan hy deurgaan vir agtien, negentien. Ek’s taamlik seker, ja. Het ’n sneaking suspicion dat hy wegkruip waar almal hom kan sien. Hy’t te skaam gelyk, slinkserig of skuldig oor iets, asof hy gesteel
het. Sy linkerhand was heeltyd op sy rugsak, asof hy bang was iemand sal dit gryp. Ek het hom dopgehou terwyl ek ander bestellings vat en hy het twee keer skielik opgekyk en my oog gevang. Klein skewe glimlaggie, een keer geknik asof hy weet dat ek weet. Amper asof ons ’n geheimpie deel, jy weet? Hy’t my nader gewink en gevra of ons WiFi het, toe sê ek ja. Hy’t net geknik, maar nie die gevra nie. Toe ek die bestelling vir die mense langs sy tafel bring, was hy besig om sy rugsak oop te zip en ’n tekenboek uit te haal, als baie vinnig, asof hy bang was iemand sien sy goed. In die verbygaan het ek ’n paar keer skrams geloer om te sien wat hy skets. Dalk wóú hy my laat sien, want hy’t nie probeer keer nie. Eers ’n paar potloodlyne wat hy met sy vinger vryf om skadu’s te maak. Binne sekondes kan ek hande en voete herken wat lyk soos daai ou kunstenaars s’n, Da Vinci of so iemand. Die vingers krul in die handpalms in asof die mens slaap, of dalk dood is. Swart en wit en al die gryse tussenin. Hy’t talent en tegniek, ongetwyfeld. Hy’t daar sit en teken vir die lekker, bietjie afgeshow toe hy agterkom ek hou hom dop. Toe ek sy kos neersit, kon ek op die rugkant van sy hand ’n tatoe sien, so ’n fyn spinnerakkie. Glad nie jou tipiese ontwerp nie, klein soos ’n vingerafdruk. Dis asof hy my wou laat weet hy bestaan, hy beweeg ongemerk hier tússen ons. Dis hoekom ek op jou Facebook-boodskap gereageer het, om sy boodskap oor te dra aan mense soos jy. Die boodskap is: hy bestaan. Hy’s nie sexy of butch nie, as jy my vra, meer nerd as rondneuker. Hy was weer ’n paar keer in die restaurant, in ander klere wat hom meer normaal laat lyk het, sonder sy rugsak. Dit het selfs gelyk of hy deur ’n stort gespring het. Van die ander het hom bedien, en daar was by hom geen teken dat ons twee mekaar vantevore gesien en ’n soort . . . kommunikasie gehad het nie. Kyk, ek wil nie met sy soort meng nie, hy spel plein gevaar. Sy pretensieuse speletjies laat my koud. Wie het tyd en geld en energie vir so iets?
Ooggetuie 4 Webontwerper, 28, manlik. Ludik Swanepoel.
So drie jaar gelede het ’n varsity-pel my vertel van ScamBait 12, ’n groep met ’n cool agenda. Eers het ek gedink nee, dis sommer ’n klomp verveelde cyber jokers met te veel bucks en te min ambisie. Toe val my tannie Liefie vir ’n internet scam en verloor al haar pensioengeldjies. Sy’t nog altyd ’n sagte hart vir weeskinders gehad, en toe sy ’n snot-en-tranebriefie kry wat hulp vra vir ’n vigswesie wat glo deur Katolieke nonne in die Kongo versorg word, het sy gedink nou doen sy haar goeie daad vir die dekade. Sy’t net mooi alles verloor oor ’n tydperk van so ses maande. Die “nonne” was toe eintlik Keniaanse scammers van die 419 scam. Gaan google maar, dis als daar, hulle lei jaarliks derduisende mense om die bos met hulle fake briewe. Jip, daar’s baie gullible mense op die internet. En my tannie Liefie is toe een van hulle. ScamBait 12 bestaan uit twaalf ouens wat op ’n regstellende missie is. Noem dit maar opfokspeletjies, of sommer plein wraak. Hulle speel lokvink vir die 419briefskrywers. Wanneer hulle ’n sob story in hulle inboks kry, of by pelle hoor van so iets, speel hulle saam. Hulle maak asof hulle val vir die liegstorie. Dan begin ’n lang, sentimentele korrespondensie, ’n hele kat-en-muis-speletjie. Ons cyber bleeding hearts rek dit maande lank uit, selfs jare, om die baddies se bronne behoorlik uit te put en hulle so ’n bietjie van hulle eie medisyne te gee. Hulle het die kuns verfyn om die ouens aan ’n lyntjie te hou, en dit kan moerse exciting raak. Beloftes, verspeelde kanse, ompaadjies, vervalste ID’s met gedokterde foto’s, spesiaal ontwerpte bankstate, tjeks wat bons, convoluted reisplanne, kamma-vliegkaartjies – liegstories vir Afrika wat die scammers uitlok om hulleself te reveal. Hulle probeer uitvind waarvandaan die scammers werk, wie hulle base is, wie die slagoffers is, hoe wyd die scammers se net strek. Wow, ek sê jou, dis addictive! Beter as aanlyn-gaming, want dis real. En jy weet die speletjie is eintlik doodernstig, ’n poging om die sneaky bliksems vas te keer en die cops op hulle te sit en die publiek bewus te maak.
As dertiende lid van ScamBait 12 was ek die groentjie wat touwys gemaak moes word. My mentor was hierdie cool blonde dude met die weirdste blou oë. Ek het hom eenkeer ontmoet by ’n restaurant waar hy uithang. Ek ken sy regte naam nou, ná maande van kat-en-muis. Hy verkies dat ek dit vir myself hou, so jammer, my mond is gezip. Die agente van ScamBait 12 ken nie mekaar se regte name nie, so kom ons noem hom Donkerperd. Hy’s een van die stigterslede van die groep en sy ScamBait-skuilnaam was DarkHorse . . . later het ek uitgevind hy’t baie name. Hy’s ’n shady karakter met ’n goeie hart, en hy’t ’n reputasie as ’n internetskim en ’n genius. Hy’t veral genius schemes en lokvalle uitgedink vir die Keniane en Nigeriërs. Dit was sy kos. Vir elke cheat scheme het hy ’n counter scheme gehad, MI5 en die FBI sou by hom kon leer! Ek sê “was” – hy’t aanbeweeg en ’n nuwe groep begin met ontwerpstudente wat hy self oplei. Die groep staan bekend as DaisyDeMelker, want hulle voer gif vir scammers. Hoeveel in die groep is . . . wel, dit wissel. Hulle kom en gaan en begin weer hulle eie groepies, stig af byna soos kerke, volg hulle neus agter spesifieke scammers aan. Dis die nuwe cyber gospel, die pad deur die digitale jungle. In die twee maande wat Donkerperd my mentor was, het ek ’n kakhuis vol esoterika by hom geleer, weird shit wat jou wenkbroue sal laat krul. Waar hy aan alles kom, weet die slette van Sodom alleen. Soos wat? Wel, dit klink asof hy ’n doktorsgraad gekry het in die OnderWeb. Hy’t ’n in-diepte-studie daarvan gemaak en geboor deur sewe duisend vlakke van die hel. Die kaartmanne van Interpol, die FBI en CIA weet al jare van die donker kant van die web. Dis eintlik hulle wat dit begin het om hulle eie agendas uit te voer, goed soos America’s Most Wanted en om Osama bin Laden te track ná 9/11. Hulle praat van die DiepWeb of DonkerWeb omdat dit soos ’n ondergrondse meer diep onder die internet vloei. As jy weet hoe, kan jy enige soort kak daarop kry, van kinderporno en gemaalde renosterhoring en groen meth tot harde dwelms, gifgas en kernmissiele. Snuff videos, hit men, gesteelde identiteite, hardcore torture, rekenaarvirusse, vervalste dokumente, plofstof,
gekonsentreerde Viagra – noem maar op. Jy betaal nie met gewone geld nie, maar met Bitcoin. Dis digitale geld wat nie vasgepen kan word nie, dit seil oor alle grense en wette soos die draak van die Apokalips. Ja, suster, dis die Nuwe, Verbeterde Onderwêreld – daar waar die duiwel ronddraai. Die internet wat ons ken, is seker so 20 terabyte. Als tesame op die DiepWeb dek meer as 7 500 terabyte. Dis vast! En dit groei elke sekonde. Donkerperd het my op ’n begeleide toer gevat. Ons het die DiepWeb gaan surf soos ou beach buddies wat die hoogste golf teen skemer soek. Hy’t my al die joy rides, sinkgate en spookhuise van die nagkermis gewys; waar dit begin en waar dit ophou, al eindig dit nooit, wenteltrappe wat elke keer ’n nuwe vlak oopsluit, die ses stappe van onwettige transaksies, elke stap beskerm deur encryption en befokte algoritmes – kriptogramme wat superkrakers maande vat om te ontsyfer. Ek het so die idee gekry hy voel tuis daar in die Diepweb. Nie dat hy ’n skelm is nie, maar dat hy die kripto-woud sy eie gemaak het, gereeld daar gaan skuil onder sy twintig skuilname waarvan DarkHorse die bekendste is. Dis waar hy die cyber-skimme en scammers beloer sonder om ’n spoor te laat, dis waar hy ongemerk kom en gaan. ’n Anti-establishment ridder op sy swart perd in ’n woud van kode. Maak dit sin? Ek praat van ’n shadow reality, maar dit bestaan, dis eg. Soos ’n skaduwee nie getrace kan word nie. Ons het elkeen ’n skaduwee, dis daar, maar jy kan dit nie vastrap nie. Wat? Hmmm . . . nee, hy’t nooit gepraat oor girlfriends of fuckbuddies nie. Hy’t nie ’n ring van enige aard gedra nie. Maybe is hy asexual, dis ’n vibe wat ek glad nie kon optel nie. Miskien steek hy dit goed weg, miskien is hy ’n Loerder. Eenkeer het ek hom reguit gevra of hy Sirkelman is. Lame joke gegooi oor die spinnerak-tattoo op sy regterhand. En wat is ’n spinnerak anders as sirkels-insirkels soos daai disappearing Russiese poppies? Beteken dit hy spin stories, my bra?
Hy’t my nooit geantwoord nie. Dit nie erken nie, ook nie ontken nie. My net gekyk en sy Mona Lisa smile op my getrek, iets laat val van “haar”. Hy beklouter die geboue en bespuit die stad se mure vir “haar”. Dalk iemand in sy verlede. My gevoel was dis nie iemand wat nou sy toutjies trek nie. Met Donkerperd was dit all business, all play, all the time. Geen tyd vir romance nie. Ek chat nog nou en dan met hom via DaisyDeMelker, maar hy’s een befokte dude wat jy nie kan vaspen of melk vir data nie. Niemand kan bybly nie, hy’s altyd besig om daar voor om die draai te verdwyn terwyl jy net sy voetsole sien. Ek stel voor dis waar jy begin, by die Daisy-groep. Google en los ’n boodskap. Hy ontwyk sy fans, maar wie weet: as hy ’n oomblik gaan stilstaan, kan jy hom dalk inhaal. As jy regtig wil. As hy regtig wil.
26
Hierdie is die e-pos wat die werknemers van Sementreus in Middelfontein rondgestuur het voor hulle die groot lotery laas jaar gewen het. Hoop dit werk vir jou ook!!
Daar is vyf dinge in die lewe wat jy nie kan terugkry nie: (1) Die Klip . . . nadat dit gegooi is. (2) Die Woord . . . nadat dit gesê is. (3) Die Geleentheid . . . nadat dit gemis is, (4) Die Tyd . . . nadat dit verby is. (5) ’n Persoon . . . nadat hy of sy dood is. As jy dit uitwis – sal jy smeek! – sien is glo. GELD ENGEL Hierdie is ’n geld engel. Stuur dit aan 6 van jou goeie vriende of familie en word ryk in 4 dae. Stuur dit aan 12 van jou goeie vriende en familie en word ryk in 2 dae. Ek maak nie grappies nie. Jy gaan ’n onverwagte meevallertjie kry. As jy dit uitwis, gaan jy smeek. Vertrou my!!!
27
Ina skakel die opnemer af en leun terug in haar stoel. Dis halfeen. Die woorde en kodename en kliektaal van vreemdes met duistere agendas sing in haar kop. Dis haar werk: om haar oop te stel vir die onbekende, vir alles waarteen behoudende kerkgangers jou sal waarsku. Oopkop, sifkop. Haar vingers is lam. Dit het haar presies twee uur en twintig minute geneem om vier onderhoude te transkribeer, ’n nuwe persoonlike rekord. En dalk was dit net ’n mors van tyd – dis beslis wat Gys sal dink. Hy meen in elk geval sy mors almal by die koerant se tyd, volg geen bevele nie en speel net een snaar van haar ramkietjie. Te hel met hom. Dawid het hom vroegaand verskoon sonder om ’n oorlas te wees. Sonder om sy harige hand ’n eie lewe op haar borste te gee. Sy is verlig. Die nukke is daar (sy ken nie ’n Afrikaanse man sonder stilstuipes en sweetreuke nie), maar nou stal hy nog sy mooiste maniere uit. Dalk is sy net moeg. Sy kyk na die skerm waar haar woorde geduldig wag in Times New Roman. Is dit ’n kassie werd by ’n artikel? Agtergrond vir ’n diepte-artikel? Sy onthou haar vernedering by die vorige dag se nuusvergadering, die geamuseerde uitdrukkings op kollegas se gesigte oor haar voorstel. Sy blaai deur haar notaboek, herlees Da Vinci se bespiegelinge oor die menslike liggaam en die Vitruviaanse Man. Die sentrale punt van die menslike liggaam is natuurlik die naeltjie. Want indien ’n man plat op sy rug geplaas sou word, met sy hande en voete uitgestrek, ’n paar kome op sy naeltjie gesentreer, sou die vingers en tone van sy twee
hande en voete die omtrek van ’n sirkel van die naeltjie af omskryf. En net soos die menslike liggaam ’n sirkulêre buitelyn lewer, so kan ’n vierkantige figuur ook daarin bespeur word. Want as ons die afstand van die voetsole tot die bopunt van die kop meet, en daardie maatstaf toepas op die uitgestrekte arms, sal die breedte dieselfde as die hoogte bevind word, soos met die vlakke van ’n volmaakte vierkant. Sirkel en vierkant. Teenoorgesteldes geometries versoen. Sy strek soos ’n ballerina, trek ’n halfmaan met haar arms. Dis die tyd van die nag wanneer sy intuïtief reageer op selfsuggestie, verbindings maak wat nie helder oordag bedink kan word nie. Dalk omdat sy dan verby moegheid op die rand van ’n droom balanseer, digby kreatiewe deurbrake huiwer. Haar pa, immer die pragmatiese navorser, het voorgestel sy hou ’n notaboek langs haar bed waarin sy opdrifsels van die onderbewussyn kan vang en opteken. ’n Droomboek vir haar halfwakker self. Twee verliefde studente wat nonsens praat oor vierkantige wiele (al weer vierkant versus sirkel) voor hulle deur die Sirkelman uitmekaar gestamp word – as dit hy was. ’n Partytjiedier-bankier wat laatnag uit die rumoer vlug na ’n woonstel se balkon en dink hy sien die Sirkelman in aksie teen die kant van ’n natgereënde wolkekrabber. Dalk speel hy net te veel videospeletjies. ’n Gay kelner wat sketse van rustende of dooie hande sien op die wit blaaie van die Sirkelman se tekenboek, vingerpunte wat omkrul. (Kan hande droom?) ’n Webontwerper wat aanvoer hy weet wie die Sirkelman is, sy mentor wat hom geleer het om kubermisdadigers op ’n wild-goose chase te lei. Donkerperd. DaisyDeMelker. OnderWeb. Sy tik DaisyDeMelker op Google in en wag.
Behalwe die inskrywings op Wikipedia en ’n paar skakels na ander webwerwe oor die legendariese gifmoordenares met die klipgesig, is daar nie ’n webadres met die naam wat aanmekaar geskryf word nie. Vaag, vaag, alles so vaag. Onvaspenbare gerugte. Drie van hulle stem darem saam oor sy voorkoms en vaardighede: blonde hare, blou oë, skraal en benerig. Ariese gelaatstrekke. Kunstig. Akrobaties. “Ina, vra jouself af of dit potensieel Voorblad is. ’n Storie wat verdien om prominensie op bladsy 1 of 3 te kry? Of is dit ’n stoppertjie wat elke dag gaan aanskuif? Die soort ding wat mense net lees as hulle afgetree is. Is dit die soort storie waarvoor jy ’n salaris betaal word?” Gys in sy snedige element. Dis die soort vullertjie wat haar pa sou uitknip en in sy bultende lêers bêre. Om wat daarmee te maak? Hoe vervlietend is alle nuus. Inherent vergeetbaar. Gys het onderlangs na haar geloer, bot soos altyd, mondhoeke afgebuig in ’n sardoniese nie-glimlag. “Minder skimme jaag en meer harde nuus, Ina.” Sy het die bloed in haar nek en wange voel opstoot. “Ons dink almal die liewe ou wielmannetjie is alte prettig, en leefstyl is nou die in-ding, dis visueel, ja, selfs in koerante, baie lekker vir vrouelesers. Maar ons het dit reeds gedek en daar’s geen verwikkelinge nie. Dis sagte nuus wat nie koerante verkoop nie, terwyl die gedrukte media deur die digitale tsunami bedreig word.” “Sirkelman. Hy staan bekend as . . .” “Jy sal weet, jy sal weet,” het hy onder sy snor gesnou sonder om van die nuuslys af op te kyk. “Een storie oor daai sirkelvent is een storie te veel. My beskeie mening, en wat weet ek ná twee-en-twintig jaar van harde nuus?” “Ek het ’n bron wat aanvoer hy’s ’n stigterslid van ScamBait 12,” het sy haarself in ’n mineurtoon hoor sê. “En ek moet seker weet wat dit is?”
“’n Bestryder van kubermisdaad, hy vang scammers uit. Lok hulle uit . . .” “Werk hy saam met die polisie se eenheid teen digitale misdaad?” “Nee, hy’t sy eie groepie. Hulle behaal veral sukses om die Keniane en Nigeriërs . . .” “Sy eie groepie. Soos twee honderd duisend blikbreine in kammaland. Kyk, wanneer jy genoeg harde feite het wat hom aan sulke vermeende heldedade verbind, en ’n NAAM, kan ons dalk ’n middelbladartikel oorweeg. Andersins niks. Dis ’n nie-storie. Iets vir ’n kunstydskrif of vaktydskrif. Maar ek verkies dat jy die misdaad-beat dek soos hy gedek behoort te word – sonder om te verdwaal op pad na die moordtoneel.” “Ja, Gys.” Die herinnering laat haar weer bloos. Sy kan dit nie ontken nie, sy was al twee keer laat by misdaadtonele omdat die GPS nie gelaai was nie en sy haar kaartboek in die kantoor laat lê het. “En dit gebeur helaas net as jou aandag elders is. Graffiti is nie nuus nie, Ina, dis ’n stokperdjie vir morone. Kan ons nou praat oor nuus? Dankie. Die wetgewing wat persvryheid en ons vermoë om ons bronne te beveilig ondermyn . . . wat doen ons as direkte betrokkenes?” ’n Stokperdjie vir morone. Kan die imbesiel nie insien dat die wêreld onherroeplik verander het nie? Dat mense dag ná dag meer in die digitale boendoes verdwaal nie? Dat dít is waar lief en leed en misdaad al meer floreer nie? Jy kan deesdae jou eie begrafnis oor die internet reël. Oorlewing van die sterkste beteken vandag kennis en begrip van die internet. Is hy regtig so blind dat . . . Terwyl sy haar gesig afspoel, gebukkend oor die wasbak, dink sy aan Dawid agter haar. En oor Dawid se blasende boerseungesig flikker ’n maer gesig met persblou oë wat brand soos laserstrale. Haar ooggetuies se beskrywings smelt saam in ’n figuur wat sy byna wil herken. Ken sy die Sirkelman sonder dat sy dit besef? Ken almal hom? Wat beteken die spinnerak op sy hand?
Sy sug, klap die badkamerkassie vererg toe. Dit help nie om met iemand soos Gys te redeneer nie. Hy ontken die mag van “leefstyl”, maar mense eet, fliek, reis, kook, maak hul huise leefbaar en mooi, kyk nuus op hul tablette en spoedlees soggens hul e-pos voor hulle gereed is om enigiets anders aan te pak. ’n Digitale inligtingsessie het outydse stiltetyd vervang. Die revolusie kom nie, dis lankal hier! Gys sien neer op die “oppervlakkige leefstyl” van miljoene, dis vir hom iets veragteliks – asof hy nie self dik, sagte toiletpapier verkies bo vliesdun repies eenlaagpapier nie! Pachelbel se kanon laat haar opskrik. Sy gaan grawe haar foon onder ’n hoop rekeninge op haar lessenaar uit. Sy moet die luitoon verander. Te melancholies. “Daniella! Waar’s jy?” “Ina, jy moet kom! Ek het hom gesien! Hy’s hier!” Stem skril van opwinding, die gedruis van ’n dansplek of kroeg in die agtergrond. “Kalmeer. Wie gesien?” “Die ou wat my daai nag gedrug en verkrag het. Ek sweer! Hy’s twee tafels van my af, besig om met ’n klomp bebaarde biersuipers te praat.” “Waar’s hier, Daniella? Praat duidelik, dit lawaai.” “Latenight Lighthouse, Braamfontein. Ek het ’n foto geneem met my BlackBerry, maar die ligte is baie dof. Bring ’n goeie kamera!” “Het hy jou gesien?” “Nee, hy kyk dansbaan toe. Hy’t net ogies vir sy prooi.” “Bly in die skaduwees. In hemelsnaam, moenie dat hy jou sien nie. Ek’s op pad.” “Bring daai boerseunkêrel van jou saam.” “Nie ’n slegte idee nie, vriendin.” “Maar maak gou! Ek weet nie wat doen ek as hy my sien nie. Ek moes my taser
uit my ander handsak gehaal het . . .” “Doen niks, byt vas, bly kalm. Ons is oor minder as tien minute daar!” Ina lui af, wonder vlugtig of ’n misdaadverslaggewer by ’n hardenuusstorie betrokke kan raak. Skielik tref die opwinding haar. ’n Drang soos ’n primitiewe bloedlus staan in haar op.
28
Die volgende slag in die voortslepende oorlog van die bome het begin op die laaste dag van die navorser se fisioterapie. Hy kom tuis van die sessie met ’n seerwarm beenspier, steeds gespinnekop op sy krukke, vreemd lig in sy ribbekas asof sy ingewande uitgesuig is . . . en tref ’n tuin aan waar alle hel losgebars het. ’n Woesteny. Sy eerste gewaarwording is die groen reuk van gekneusde hout en blare, soos destyds toe die wit tweeling verbrysel is. Sy tweede gewaarwording is die gekraak en geknars van hout wat klink soos ’n trop olifante wat deur ’n digte woud bars. Sy derde gewaarwording is die klanklose gil van ’n boom. Hoe goed ken hy dit nie! Hy hink om die hoek van die huis, gly byna op ’n nat kol langs die kraan en staal hom vir die ergste – ’n herhaling van daardie skokkende verlies van ’n dekade of meer gelede (hoe lank terug voel dit skielik!). Byna dadelik kan hy ’n dankgebed prewel: Sfinks is nog daar, maar duidelik oorval deur die vyand. Oorwinnaar staan ongeskonde, fier in dunblaar getooi, trillend en trots in die stil somerhitte. In die hoogste takke van Sfinks, duskant die heining en dus oortreders op sy grond, is twee werkers in rooi oorpakke besig. “Stop, stop, stop!” skree hy. Maar dit hou nie op nie. Uit die hoogte tuimel takke; die bandsae kerm ’n skril duet wat sy uitroepe verdoof. “Nee, nee, nee! Wat maak julle met my boom?” Eers toe hy wild met ’n kruk teen die laer takke klater, merk die manne in rooi
hom op en word die sae afgeskakel. Hulle kyk vraend af op sy pankop, duidelik skuldig, op heterdaad betrap, maar die rooi van hul oorpakke sein verset. “Julle is in my boom, op my grond! Dis mý plek! Wie gee julle die reg?” Hulle beduie stom na die buurman se kant. Hy verwag die gehate vrou gaan van agter die muur verskyn, maar alles daar is onheilspellend stil. “As julle wil takke saag, takke wat oorhang aan daai kant, sal ek julle nie keer nie. Dis julle goeie reg. Maar dan doen julle dit van daai kant af, hoor julle my? Klim op ’n leer of bou ’n fokken stellasie of iets! Maar julle sit nie ’n verdomde voet in my boom óf op my erf nie. Klim af! Nou! Nou!” Sy histerie is iets tasbaars, soos die saagsels en die blare, stukkend en chaoties. Die werkers loer na mekaar, verroer nie ’n vinger nie. “Hoor julle my? Of moet ek die polisie gaan bel? Dink julle ek maak ’n grap?!” Die skade is oral sigbaar. Van die mooiste takke is skeef en grusaam tot in die grein afgeskeur. Oral is daar diep saagmerke aan kleiner takke, wit wonde soos die bytmerke van ’n hondsdol reus. Sy woede en hulpeloosheid laat hom instinktief na wapens soek, enigiets om Sfinks van ’n pynlike dood te red, kluite, klippe, enigiets. Hy vertrap sy vrou se varklelies, laat sleepmerke in die beddings met sy eie geskeurde ledemaat. In ’n plantpot kry hy ’n paar wit rivierklippe wat sy vrou ten duurste by die kwekery gekoop het. Hy raap dit op en slinger dit blindelings in die rigting van die boom. Een tref die stam en nog een trek oor die muur. Hy hoor glas breek. “Ek gaan haal my haelgeweer as julle nie nou skoert nie! Fokof!” Die werkers skakel die sae laggend aan en sit die lemme in waar hulle laas onderbreek is. Takke tuimel grond toe. Hy tel ’n klip op en hink nader oor die grasperk. “Ek het julle gewaarsku!” Hy mik en gooi, sy woede ’n visier. Wonderbaarlik! Die klip tref die naaste werker se hand en die bandsaag val, ’n komiese woer-woer langs die stam af tot in die struike teen die muur, waar dit nog ’n paar sekondes lank stotter.
“My pa het my geleer klipgooi, so moenie met my kak soek nie! Klim terug na julle baas toe!” Die ander werker skakel sy saag af en hulle klim versigtig af muur toe na waar die bopunt van ’n leer sigbaar is. “Probeer dit weer! Ek wag vir julle. Volgende keer sal ek reg wees. En vat die takke saam wat julle afgebreek het, elke splinter en blaar. Wie moet julle gemors kom skoonmaak?” Terwyl hulle oor die muur klouter, begin hy bondels takke saamskraap en oor die muur slinger, hoop vir hoop, tak vir tak, sy seer been vergete, terwyl ’n stroom verrassend oorspronklike vloekwoorde by sy mond uitkom asof hy in tale spreek. Waar kom dít alles vandaan? wonder hy vlietend. Sy ouma sou sy mond met seepsoda uitgewas het. Hy vis die bandsaag uit die bedding, donner dit ’n paar keer teen die muur tot iets met ’n bevredigende kraak meegee, slinger dit in ’n boog oor die muur met krag wat hom verstom. Harde uitroepe en iets soos ’n pot wat aan skerwe spat, toe stilte. Hy betas Sfinks se wonde met bewende vingers. “Ek sal jou regdokter,” fluister hy skor. “Dit sal nie weer gebeur nie, dit belowe ek jou. Ek sal jou beskerm tot die bitter einde!” Dit neem hom die hele nag om sy hartklop en asemhaling te laat bedaar, sy maniese brein te kalmeer. Hy moet keer of hy redekawel hardop met sy nemesis en hou sy vrou uit die slaap. Sy arms voel soos afgesaagde stompies, hy kan niks daarmee vermag nie. Drieuur staan hy op en dool deur die huis, oor houtvloere wat kraak, voel-voel teen mure en kosyne af soos in ’n donker grot. In sy dogter se kamer sit hy die lig aan en kyk na haar bed, haar plakkate van Tom Cruise en Katie Melua, die ry teddiebere op die houtrak wat vraend na hom staar. Hier het sy grootgeword, haar eerste romantiese gedagtes gedink, haar tienervetes uitgewoed. Hy gaan lê op haar bed met sy warm kop op haar koel kussing, drink haar vae muskusreuk in. En uiteindelik, baie stadig, kom die kalmte. Môre sal hy haar bel, dink hy swewend. Môre lyk alles anders.
Wat die volgende dag anders lyk, is die hoop takke onder die boom. Ja, sowaar en wragtig is dit weer daar! Deur die loop van sy slapelose nag moes Pocahontas al die takke wat haar werkers afgesaag het terug oor die muur geneuk het! Onder die dekmantel van die maanlose nag het sy uitgesluip met die voorneme om hom te treiter tot in die afgrond, om hom die stryd aan te sê. Dis sy vrou wat dit eerste raaksien, toe sy die kombuisdeur oopmaak. “Kom kyk. Jy’t ’n presentjie in die tuin.” En sy onderdruk ’n proeslaggie, maar haar frons wys dit stem haar ongemaklik. Sy bied aan om die tuindienste te bel om die takke te verwyder, maar hy sit sy voet neer. “Húlle het die rommel geskep en ons boom vermink, hulle sal hul eie gemors opruim!” Ná ontbyt laat leun hy sy krukke teen Sfinks se stam en slinger die takke een vir een terug oor die muur. Al gaan dit vir ewig so aan, hy sal terugveg, hom altyd skaar aan die kant van die bome! Met die laaste tak wat oorvlieg, hoor hy skielik haar skerp stem aan die ander kant. “Gaan jy betaal vir my venster wat jy moedswillig stukkend gegooi het? En wat van die saag? Dis mý eiendom wat jy beskadig het.” Hy staan versteen, hou asem op en wag vir ’n verdere woord of voetval, maar daar is net die klank van ’n ligte vliegtuig wat iewers in die verblindende son kletter. Gaan sy die takke weer teruggooi? Vir ’n oomblik is hy weer vyf jaartjies oud en verdiep in ’n intense bendespeletjie met stokke en klippe in die modderspruit op sy oupa se plaas. Daar’s geen ander hede as dié spel van klinkklare emosies en skel gewaarwordings nie. Die lewe is eindeloos wreed en hard en onregverdig, moes hy telkens daarna ontdek. Niks word makliker nie. Sy ma wat sy naam oor en oor roep, die wanklank van ’n naam wat hy nie wil hoor nie, wat bly eggo tot hier waar hy in die wildernis verdwaal. Moederloos. Naamloos.
Die vliegtuigie word ’n tor. Die tor word ’n vlieg. Die vlieg word ’n mier. Die mier byt sy ballas. “Ek betaal nie ’n fokken sent vir enigiets nie! As daar iemand is wat moet betaal, is dit jy wat jou gespuis in my boom op my eiendom ingestuur het. Jy kan fokken bly wees ek het hulle nie soos vinke vrek geskiet nie! Probeer dit weer en kyk wat gebeur. Ek soebat jou, stuur hulle weer in my boom in. Asseblief! Ek wag vir julle! My vinger jeuk op die sneller, jou onverkwiklike doos!” Plat op sy bas in die karpaadjie langs sy oupa se huis, met sy kortbroekie se pype wyd getuit in die roesrooi Oos-Vrystaatse grond. Balbyters wat teen sy haarlose wit beentjies opkruip na die weerlose sagte plekkies, wat vasklamp in sy lieste tot sy geskree almal uit hul Sondagslapie skeur. Knypies hellevuur in sy onverkende skede wat aanhou brand lank nadat sy ma hom opgeraap het uit die swerm miere. Hy was meer kwaad as bang vir die bytende monstertjies. O, sy woede kom ’n lang, lang pad. Sy woede begin nou eers wasdom bereik! Stilte agter die muur. Het hy hom die hele onderonsie met die verderflike vrou verbeel? Hy gaan bel sy dogter soos hy hom in die rondrolure op haar bed voorgeneem het, vertel haar van die sinnelose vete wat al wéér sy lewe gekaap het. Hy is verbaas om te hoor hoe redelik sy stemtoon en woordkeuses klink, rustig selfs, hoe oneindig geregverdig in sy bitter stryd om boom en buurt teen die balbytervrou te beskerm. Ina beveel aan hy moet ’n boomdokter laat kom. Sy ken presies die regte mens, het ses maande gelede ’n onderhoud met haar gedoen vir die somertuinbylae. ’n Vrou wat spesialiseer in getraumatiseerde bome, Lydia iemand. Hy skryf die nommer neer en herhaal dit om seker te maak hy het dit reg. Dis glad nie vir hom ’n vreemde konsep nie. Bome kry ook siektes. Bome raak gewond. Boere beskerm immers hul vrugtebome teen wind en weer en roes. Die res van die oggend sit hy in die kombuis van waar hy Sfinks en Oorwinnaar en die grys muur deur die venster kan bespied. Terwyl hy verskeie espressobekertjies flou Hollandse koffie skink en met repies Marmiteroosterbrood afsluk, wonder hy wat die volgende aanval gaan wees, wanneer dit sal kom. Moet hy sy taktiek verander van ’n defensiewe na ’n meer aanvallende posisie?
Soos gewoonlik blitslees hy die koerant met ’n geoefende oog, sorteer en verteer die laslappienuus volgens sy ou patroon van brokstories wat die siel voed met koddighede en voorstedelike mites – en só die groter storie van die mensdom se dwaashede karteer. Van die hoofnuus – politiek, sport, skandale en misdaad, wat hy voorspelbaar en minder bevredigend as die stoppertjies vind – lees hy oudergewoonte net die opskrifte en eerste paragrawe, dalk ’n aanhaling of drie middellangs en spring dan na die slot. In dié opsig is hy weliswaar sy dogter se bloedeie pa. Sy arme kind wat gekruisig word om misdaadstories te jaag, sy fynbesnaarde, kunssinnige kind wat eerder die skrif aan die muur wil ontsyfer op soek na die Sirkelman, wat uit die geheime kodes van “leefstyl” die ware nuus van tydsgees en menswees wil vertaal. Hulle is een en dieselfde. Hulle nies as die son skielik op hulle skyn. Albei koppig, kunstig, obsessief, veels te kopslim om te oorleef in ’n wêreld vol weerbarstiges, boommoordenaars en boekhaters. In die land van korporatiewe boelies, onder die swaar hand van Eenoog. Hy gaan haal sy skootrekenaar uit die studeerkamer, klap dit oop op die kombuistafel. Sy inboks is soos gewoonlik driekwart vol gemorspos, advertensies vir Viagra-nabootsings, oordrewe beloftes van rykdom en seksuele manhaftigheid, absurde kettingbriewe geskryf vir analfabete en verstandelik kreupeles. Die meeste daarvan wis hy outomaties uit sonder om dit oop te maak – waar kry hulle sy adres? – maar dan en wan is hy genoeg geprikkel om een te lees. Soos die “weduwee in Kanada” wat haar geld hierheen wil stuur en ’n weldoener in hom geïdentifiseer het. Ha, as sy maar kon weet! Of ’n “Chinese minister van doeane” wat hom nader as “vennoot”. Hy versamel sulke skryfsels vol spelfoute en grammatikale gruwels, uit basterEngels letterlik vertaal in ’n baster-Afrikaans wat die spot dryf met die “perpetreerders”, veral dié wat vonkies verbeelding toon. Die tweesnydende “novena van Moeder Theresa” wat beloof om seën én vloek te wees. Die Geld Engel. Hy kan hom verkneukel in die onsin waarmee mense hulle besig hou – terwyl hy selfkastydend moet erken sy stokperdjie is net so onsinnig, pure bog, potensieel gevaarlik. Soms oorweeg hy dit om op ’n gemorspossie te reageer, net om te sien wat volgende gaan gebeur. Sal hy ’n korrespondensie met ’n fiktiewe Kanadese weduwee kan volhou, ’n band smee met ’n Chinese deugniet, sy eie liegstories weef in die digitale niet? Sal hy hulle om die bos kan lei, selfs ’n geldjie uit hulle
wikkel om sy pensioen aan te vul? Nee, dis hoe dit begin, dis hoe jy in hul vangnet beland. Dis ’n soort dobbelary, en hy’s te veel van ’n lafaard om hom in dié soort modderput te laat vassuig. Sy vrou kom sit sy glas whisky saam met die gemeenskapskoerant langs hom neer. Tik met ’n vingernael op die voorbladstorie. “Lees bietjie.” Hy lees sonder om dadelik te kliek. Met die tweede lees sink dit in. Hy kyk geskok op, sy knik somber. “Ja, die bure hier langsaan. Almal dood. Gesinsmoord. Die man het sy vrou en twee kinders glo geskiet tydens hul silwer huweliksherdenking, terwyl hulle saam Idols gekyk het. Toe die pistool onder sy ken gesit en die sneller getrek. Vyf koeëls, een op die TV-skerm afgevuur. Daar was glo geldprobleme. Maar hy’t nie ’n brief gelos nie, so niemand weet vir seker nie.” Dis wat Idols aan mens doen, dink die navorser. “Wanneer het dit gebeur?” “’n Paar dae gelede. Seker net na sewe die aand.” En hy en sy vrou was salig onbewus. Hulle het niks gehoor nie, nie die dowwe knalle van iets wat klink soos klappers nie, nie die polisie en ambulans nie, niks. Hulle moes seker vasgenael deur die ewe grusame nuus op televisie gesit het! Hoekom het sy dogter hom nie daarvan vertel nie? Dis tog haar beat. Hy sluk die whisky met een teug weg soos ’n ou cowboy in ’n kroeg met swaaideure. Hulle leef in die Wilde Weste waar cowboys hul gesinne koelbloedig doodskiet. En dis nog die bure wat effe ordentlik gelyk het! Wat geen moeite was nie, nooit amok gemaak het nie, stil en op hul plek, altyd vriendelik gewuif wanneer hulle mekaar toevallig raakloop wanneer hy pos uithaal. Nie dat hulle mekaar enigsins geken of saam gekuier het nie. Inteendeel. En nou’s hulle skielik net weg, asof die gesin oornag verhuis het. Vier kopskote. ’n Heildronk op bure wat nie ’n oorlas was nie. Vaarwel, liewe vriende en
vreemdelinge.
29
Bye dood vier in kusdorp
MARGATE. – ’n Fratsongeluk met ’n bynes het Maandag gelei tot ’n rits tragiese gebeure met noodlottige gevolge vir vier mense, wat die dood van ’n twaalf maande oue baba insluit. Dit het begin met ’n poging om ontslae te raak van ’n aktiewe bynes in die huis van me. Astor Saint Louis (68) van Sugar Cane Place, Margate, nadat haar dwergkeeshond drie dae vantevore erg deur die bye gesteek is. Die eerste slagoffer, Gert Jordaan (35), ’n lid van die Port Shepstonebrandweerdiens, was in sy vrye tyd besig om die koninginby uit die nes te haal toe hy blykbaar sy balans verloor het. Hy het van die leer af geval terwyl sy hand in die nes was en die nes het saam met hom neergestort. Die aggressiewe bye het dadelik geswerm en hom só gesteek dat hy op die toneel gesterf het. Vervolgens het die swerm by ’n venster uitgevlieg tot in Marineweg, ’n besige deurpad, waar die bye ’n swaargelaaide vragmotor van die Suid-Afrikaanse Brouerye aangeval het. Die briesende swerm het deur die oop venster van die beknopte kajuit ingevlieg en Kobus Naude (54), die bestuurder van die voertuig, het desperaat probeer om hulle met albei arms weg te waai. Die vragmotor het die pad verlaat en twee voetgangers op die sypaadjie getref, ’n onderwyseres, Lenie Immelman (24), en haar babaseun, Josef (12 maande). Die vragmotor het voortgespoed en deur ’n versperring gebars, teen ’n vyftig meter hoë wal afgestort en teen ’n swaar betonbolder gebots. Naude is op slag dood. Dit was sy eerste en enigste ongeluk in die 29 jaar wat hy ’n bestuurder vir SAB was. Hy laat sy vrou, Ans (48), en drie kinders agter.
“Brutus was baie gelukkig om dit te oorleef, as jy dink aan die tragiese lewensverlies,” het ’n ontstelde me. Saint Louis met haar geswelde brakkie in haar arms gesê. “My innige meegevoel aan die naasbestaandes van die oorledenes.”
30
Ina gly in tweede rat oor drie rooi verkeersligte in strate wat verbasend woelig is vir dié tyd van die nag. Sy gaan vir seker nie stilhou nie – niemand doen dit nie. Dis ’n heel ander middestad waardeur sy ry, ’n newelstad met wiegende groepies mense, stukkende straatligte, ’n donkerte wat lig insluk, skel uitroepe, gesigte wat haar vraend agterna gluur. Sy sien wriemelende lywe in ’n smokkelkroeg deur ’n ingang sonder naam, ’n vuur wat hoog vlam op ’n sypaadjie, ’n boemelaar wat papdronk in die pad lê . . . of dood. Die mees demokratiese ding, dink sy. Almal se voorland. Daar’s ’n Amerikaanse televisiereeks oor die absurde en lagwekkende maniere waarop mense doodgaan of selfmoord pleeg, kompleet met ’n siniese kommentator wat gitswart kwinkslae uitdeel oor die gek, siek, dwase, verbééldingryke eindes van mense. Ongeluksvoëls wat van lere val, kop verloor wanneer hulle in ’n bewegende voertuig onder ’n boomtak of lae brug opstaan, poetsbakkers wie se streke boemerang, grapkasse wat oor hul eie voete struikel op gladde sypaadjies of op piesangskille gly, noodlottige toertjies wat roomkoeke en pratfalls insluit. Sy skop rem vir ’n brandmaer vrou in ’n rooi minirok wat doodluiters reg voor haar inloop. “Soek jy jou dood, suster?” snou sy vererg. Die prostituut koggellag in haar truspieëltjie. Teen ’n sinkplaatgebou sien sy ’n sirkelman in neongroen, eien dit as ’n nabootsing: ’n verminkte stokmannetjie met gebreekte bene. ’n Blok verder gewaar sy die ware jakob: rooi-op-blou Vitruviaan in sy volle naakte glorie, onmiskenbaar. Verbasend hoe die skoonheid haar telkens in hierdie rommelstad bespring!
“Só volg hy my,” mompel sy, “soos ek hom volg.” Elkeen het sy eie dood wat volgens unieke spesifikasies ontwerp is, keer die donker gedagtes terug. Want – só glo die cognoscenti – elkeen kies ten slotte sy eie dood, willens en wetens, soms lank voor die tyd. Noem dit die noodlot, die laaste lag is die donkerste. Dis opgesluit in die geheimskrif van wie jy is: jou sondes, verwagtinge, drome, vrese. ’n Variasie van The Worst Case Scenario wat altyd in haar agterkop knaag. Dood in al sy sirkusagtige variasies. Wanneer sy moeg is, raak sy morbied. ’n Geskenk van haar pa. Of is dit haar ma? Sy kan nie besluit wie se glas is die halfvolste nie. ’n Bruilof is inherent treurig, ’n begrafnis inherent snaaks . . . elke mens se lewe tragikomies. Die dood as proloog, verteller en slotrede. Van lekker lag kom lekker huil. “Onthou, my kind, as jy ’n vreemdeling teëkom, weet dat elkeen in sy eie poel trane staan.” Aldus haar pa. Dis wat Dawid so verfrissend anders maak, soms ook irriterend voorspelbaar. Hy’t nie tyd vir treurmares en ’n lang gesig nie. Vir hom geld die basiese drange: “Ons is tog mense!” (Bedoel hy diere?) Hy plunder haar genadeloos, ploeg haar, konfronteer haar met lyf en sweet en raspertong, salpetergenot op die randjie van pyn. Hy dwing haar gedurig om wal te gooi, weg te skram, geniepsig terug te kap: “Genoeg, jy maak mens doodmoeg, Boertjie!” “Los nou jou Sirkelman, hy bestaan nie,” terg hy haar graag. “’n Skim uitgeblaas deur daggarokers. ’n Vlakhaas wat jy self opgemaak het.” Sy parkeer oorkant die Latenight Lighthouse waar daar pas ’n plek oopgegaan het. ’n Karwag beduie hy sal ogie hou. Braamfontein slaap lankal, winkels en eetplekke donker agter tralies en roldeure teruggetrek. King of kings penis enlargement skilfer teen ’n lamppaal af. Easy abortions. Come as you are! Om haar die reuk van pis wat nooit verslaan nie. Waar’s jy? sms sy. Op die hoek, ek sien jou, flits Dawid se antwoord sekondes later.
Sy klim uit en loop oor die straat. Hy kom nader met ’n lui stappie, kakie kortbroek en wit T-hemp, hare ongekam, vis uit die water. Sy glimlag en skud haar kop. Moet hy sy rol van Boertjie in die stad so perfek speel? Hy slaan haar asem weg.
31
Een nag het die navorser hom ’n outydse sirkus verbeel, die rondreisende soort met akrobate wat duik onder ’n plafon van seile, vangnette, perde met koppluime op galop, moeë olifante, hansworse. En deftig in ’n rooi baadjie: die sirkusbaas met pluiskeil, swierige draaisnor en karwats. Die skare was sweterig van ingehoue vreugde en taai van die spookasem. Iets uit sy kindertyd? Weergawes van vergange middagvertonings . . . In een weergawe het die sirkusbaas deur sy megafoon gebulder: “En nou vir die heel eerste keer: die Papegaai Wat Enige Geluid Kan Naboots! Spits jou ore! Staan reg om verstom te word! Wonderlike Waarde vir Geld! Dis reg, jy’t reg gehoor. Die Enigste Supervoël van die Suburbs, die Kordaatste Kakelaar op die Kontinent, die Klikbek van Kakfontein! Jy sal raai, jy sal braai, jy sal gaap, jy sal nooit nie weer slaap!” Dalk was dit nie ’n droom nie, eerder ’n soort verbeeldingsvlug, iets uit ’n klassieke animasiefliek soos Dumbo. Maar daarvan was hy ook nie seker nie. “Kom, leen jou ore uit aan Babbelpapegaai! Niks te moeilik, magies of vergesog nie! Niks te grof of taai vir die Tongknoopkampioen nie! Die Papegaai Wat Enige Geluid Kan Naboots sien kans vir alles!” Tydens die sirkusbaas se aankondiging borrel reklamespreuke onophoudelik uit die bek van die megafoon, wat al meer soos ’n snawel begin lyk – en net daar kry die navorser die spesmaas dis dalk meer as blote verbeelding . . . “Honde wat blaf,” jodel die sirkusbaas, “jags katte wat kerm op tuinmure, besoekervoëls in die takke (loerie, piet-my-vrou, houtkapper), skaterende kleuters in plaspoele, krieke en kraaie, sonbesies, grassnyers en weed eaters, geysers, selfone – mens, dier of masjien. Babbelpapegaai kan sy snawel klamp om elke konsonant en krom idioom, kou deur elke groet, grap en gil van plesier! Luister, luister hier! Die greeeen mielieee!-vrou by die hek, vullismanne wat
deksels laat klap, bloedstollende gille in bangmaakure, skote in die donker, skarniere wat kraak, en was dit ’n luide orgasme? Vat weg die nabootsing en wat bly oor? ’n Bondel stink vere. Hoe klink ’n papegaai nou eintlik? Na niks. Soos Peter Sellers sonder ’n snaakse stemmetjie.” Peter Sellers? Wag . . . kan dit wees? . . . ja. Die stem is sy eie, hy is besig om homself te vermaak oor iets wat hom eindeloos grief. Ja, dis al wat dit kan wees! Hy is al weer besig om homself te verweer! Dit neem die navorser ’n volle maand om die kloutjie by die oor te bring, om deur die nabootsing te dring en te verstáán wat hy hoor. Miskien is dit die triomfantelike fluite soos uitroeptekens ná ’n sarsie geluide wat hom dit laat snap: daar’s ’n nuwe bliksem in die buurt, ’n nuwe wapen in die oorlog met die agterste bure. ’n Dinamiese geraasmaker met ’n groot kapasiteit vir chaos en ’n formidabele talent. ’n Papegaai wat klank kan buig. Klink dit of ’n bosduif skielik om middernag uit volle krop begin koer, kan jy maar seker wees dis ta. Tjank ’n hondjie kort voor sonop hartverskeurend asof sy stertjie afgesit is, luister fyn en jy hoor die onmiskenbare geklap van vlerke. Die boosdoener, vermoedelik ’n African Grey in sy fleur, het blykbaar oor dekades geleer om sy repertorium voortdurend uit te brei. Sy grootste prestasie is ’n verskeidenheid skril kar-alarms wat sieldodend begin loei en net so skielik ophou, om sekondes later te hervat (nes die ware jakob), tot die navorser beelde van bebloede byle in sy kop sien swaai. Sy vrou wil hom eers nie glo nie, maar ook sý sit grootoog regop toe ’n demoniese lag een Maandagnag elke tien minute deur die buurt basuin. Elke keer identies in lengte en intensiteit, ’n helse eggo uit die kerker van ’n malman, gevolg deur ’n vrolike wolwefluit. Siedaar! beduie die navorser. Sy vrou trek die kombers bibberend op tot onder haar ken, toe haar neus, asof sy ook ’n snawel wil word soos die geveerde booswig. En sy moet toegee: die kranksinnige is nie ’n méns nie.
Aanvanklik, weens die wispelturige aard van klankskappe en die wind wat die gordyne skeef trek soos ’n afkeurende mond, kan hy die oorsprong van die kakelaar se poetse nie mooi plaas nie – blykbaar is ta ’n buikspreker ook. Die navorser trek sy japon aan en verken die hoeke van die werf om die rigting van die lagbuie te peil. Dalk is dit iemand wat ’n gruwelfliek op televisie kyk, iets soos Chucky die duiwelpop. Hy kan uitmaak dit kom nie van die huise van weerskante nie. Regs waar die gesinstragedie afgespeel het, is die huis donker. Hoendervleis slaan op hom uit, en hy is skielik koud tot in sy kleintoontjies en hakskene. Hy begin rammel die Onse Vader af soos toe hy as agtjarige sy ouma se groot Delft-opdienbord met ’n kettie aan skerwe geskiet het. Eers met die derde slapelose nagwandeling is die navorser oortuig die geluide kom van sy ou nemesis van die agterste erf. Maar die oomblik as hy sy oor teen die muur druk, sterf die lag weg. Op Google die volgende dag word sy vermoedens bevestig. Die African Grey word beskou as die beste nabootser van menslike spraak en ander geluide in die diereryk – beter as die mynah en die kraai. Hulle is gretig om nuwe geluide te leer, absolute klanksponse met ’n fyn gehoor en ’n besliste aanvoeling vir die absurde. Eienaars van African Greys spog dat hul voëls perfekte nabootsings gee van alle troeteldiere en huistoestelle: antwoordmasjiene, skottelgoedwassers, ’n yskas met ’n skroef los, tuimeldroërs, stofsuiers, elektriese bore en voedselmengers, slotte, beursies vol munte (ook die voorkeur van die kraai in Dickens se Barnaby Rudge), messegoedlaaie, spoeltoilette en gasbraaiers. Hulle kan vlytig tel, opera en popliedjies sing, fluit, die alfabet foutloos opsê, ook agterstevoor, honde roep of Voertsek! skree, gedigte memoriseer, voorwerpe identifiseer en selfs kort sinne saamflans om ingewikkelde vrae te beantwoord. Hulle is glo ewe flink om deurklokkies na te boots: dieng-dong! Televisiestelle wat ure lank aangelos word, is uitstekende leermeesters, ’n onuitputlike bron van groete in elf landstale, advertensieklingels, die treffersparade, jonges se kliektaal, nuuswysies, weervoorspellings, MGM se brullende ou maanhaar, juigende sokkerskares en vuvuzelas, Cool! Wow! Awesome! Chillax! en ander idiotiese uitdrukkings van die tydsgees. Hierdie virtuose papegaaie kan vloek in alle tale, bry in Frans, klik in Xhosa, sedig en hoogdrawend bid, vuil grappe vertel, heildronke instel en poepgeluide maak wanneer die dominee op huisbesoek is. Hoeveel van dié klanktoertjies
bloot robotagtige, redelose reflekse is om aandag te trek, kan niemand sê nie. Hoeveel breinkrag in ’n papegaaikop pas – die vermoë om volsinne te memoriseer, melodieuse frases met nuanse, eksieperfeksie artikulasie en die korrekte klemme uit te spreek, aksente na te boots – bly ’n raaisel. Is papegaaiwerk slim of dom? Niemand kan dit verklaar nie, besef die navorser. Almal raai, almal vermoed. Maar ja, die Sirkusbaas in sy eie bliksemse brein draai sy snor en klap sy sweep en dink dis ’n windmakergrap. Staan nader, haha, fluit-fluit, die storie is nóóit uit nie!
32
Toe hy Ina se oproep kry, het Dawid dadelik sy klere aangepluk, die hoer betaal en haar basies verjaag soos ’n brandsiek brak. Hy het die ergste stink van haar geskeerde dye uit sy tweedagbaard gewas en in sy Defender gespring, nuwe stukrag in sy lende. ’n Boer hou van nagjag. ’n Bietjie aksie. Hy laat wiel, remme wat skree, volg die GPS se aanwysings. Sien Ina van ver af op die sypaadjie staan. Sy trippel nader, swaaigatjie, oulike wipneusie. Hy wil haar soen, hy jeuk lankal om haar vas te vat. “Kom ons gaan bliksem ’n verkragter,” sê hy toe hy by haar kom. Sy lyk eers verlig om hom te sien, dan onseker, skewe fronsie tussen bruin oë soos swart poele onder die gelerige straatlig. Lyk eintlik sproeterig, dink hy, asof ’n lagie perfekte vel en grimering weggeskraap is om die regte, rou teef onder die verf te wys. Lietsjie sonder dop. “Dawid, jy moet jou inhou. Belowe my.” “Vir wat? As hy verkrag het, gaan hy vannag slae kry.” Hy is bewus van die karwag wat staan en luister, ruk sy kop daai kant toe. Dit laat die luistervink grynslag en wegslenter. “Daniella dink dis die ou, maar ons gaan kyk net,” maan Ina. “Dalk ís dit hy, maar ek ken ook vir Daniella. Sy kry bevliegings as sy ’n shooter inhet. As sy baie seker is, dóódseker, sal ons ’n plan maak. Maar ek dink ons vat dit maar eers baie kalmpies.” “Boer maak altyd ’n plan, dit kan jy weet.”
Hy trek haar nader in sy harige arms, haar voete lig van die grond af, hy laat haar vir vyf, ses sekondes komieklik spartel voor hy haar laat gaan. Hy voel lus om haar ’n goeie pak te gee, daai boudjies pienk te wiks. (Soos skaars ’n halfuur gelede in die hotel, met die slap hoer gebukkend oor die koffietafel. Sy’t behaaglik geprotesteer, gesiggie nat van die trane. Of was dit sweet?) Ná hy vroegaand by Ina die aftog geblaas het, die ware jintelman gespeel het, sy gawe boertjie-gesig voorgehou het soos op TV, moes hy eenvoudig bietjie losbreek. Uithaak en uitpeul. Hy’t iets nodig wat hom ’n harder hefboom gee. En die belofte van ’n bietjie bul-tussen-die-breekware laat sy maagspiere aangenaam bult en rol. Hy klem sy linkervuis, voel die vel oor sy kneukels span. Vanáánd. “Ons is net hier om Daniella te beskerm,” kweel Ina voort. “Haar by te staan indién sy in gevaar is. Niks meer nie. Moenie op loop sit nie, Dawid. Onthou, jy’s nie nou oppie plaas nie.” Hy lig sy hande asof hy oorgee. Hensop. Laat haar maar dink sy lei. Vir nou. Sy ma het hom geleer om vroue sag te behandel, hulle toe te laat om hom met hul fladderwimpers en handjie in die waai van sy arm in toom te hou – oënskynlik. “Jy herinner my elke dag, soetlief. Jy vergeet ek kom elke vierde dag stad toe. Vir jou.” “En ek waardeer dit, bokdrol. Jy bring vleispakkies vir jou kliënte, ’n dik steak en ’n rol boerewors vir my. Jy mag meer kom.” Kom? Se voet. Sy rantsoeneer hom versigtig. Hoeveel daarvan sy werklik geniet, kan hy net raai. “Beloftes maak skuld,” waarsku hy in sy lae grom. Sy gryp sy hand en pluk hom liggies in die rigting van die klub oorkant die straat. “Kom, ons mors tyd.”
Hulle loop ingehaak by mekaar – ’n item. Hy onthou sy ma se woord vir haar: nooi. “So ’n oulike nooi.” Meer van ’n “merrie”. Soms betrap hy homself selfs met “teef” as hy van haar woonstel af terug plaas toe ry. Nog iets wat hom ophits. Sy’s beslis ’n ronde 10, dalk selfs uitgeknip vir hom, maar hy sal ’n paar puntjies moet aftrek vir bitsigheid. Soms wil hy haar dun nekkie net ’n bietjie . . . “Miskien moes ek my kamera saamgebring het,” tjirp sy, die liewe mossie. Sy’s ook opgeklits, sien hy, uit haar groefie gezik, lus vir ’n spoegie stoutwees. “Hulle sal dit nie toelaat nie, die bouncers.” “Ek het my selfoon, maar ek dink die lig sal te swak wees.” “Toemaar, ek sien goed innie donker.” “Ek weet.” Maar sy weet niks. Hy weet sy weet fokkol. Toegang R100 ’n paar (hulle’s ’n moer lekker item) en die deurwag met puisiegevreet, knolneus, rooi T-hemp oor bultende spiere en hangpens wil weet of hulle wapens aan hulle het. Hy wil sommer begin voel, maar Dawid waarsku hom met ’n stadige wysvinger: uh-uh. “Nee wat, my maatjie,” glimlag hy. “Sulke goed lok net brommers.” Puisiegevreet beduie: Daar in, kroeg se kant toe. Dawid wil lag kry vir die opgestopte krokodil met oop kake, geel slagtande en glasogies teen die oorkantste muur. Rakke met ’n reënboog van bottels. Is dit wierook in die lug? Dalk om groener geure te kamoefleer. ’n Paar tossers wat hulle beloer van die dansbaan af, skewe jelkuiwe, oop magies, ringe in naeltjies en neusvleuels, tatoeëermerke en knopstywe broeke, onmoontlik om man, vrou of moffie te onderskei. Lafgeklapte klone.
Ina beduie: Daar. Daniella sit teen die pers muur langs die kroeg in ’n rooi hokkie en suig aan ’n strooitjie in ’n lang glas. Daar’s ’n ry skadumanne wat oor die toonbank langsaan leun. Hulle lag vir iets op ’n platskerm: ’n man met ski’s wat in ’n warreling van sneeu deur die lug trek en gat oor kop teen ’n hang af tuimel en sloeg. Ekstreem. Daniella sit ’n vinger voor haar kersierooi mond toe hulle by die tafeltjie inskuif, Ina langs haar en Dawid oorkant. “Waar’s hy?” fluister Ina. “Hy’s uit om te gaan pieps. Haai, Dawid.” Hy groet sjarmant, kyk haar deur. Sy klem Ina se arm vas, naels so rooi soos haar lipstiffie. Langer as Ina, maerder, silwer grimering skitter op die wangbene en ooglede, swak houding, puntborsies. Nie ’n mooi nooi nie, nie ’n plaasnooi nie, besluit hy, 3 uit 10. Sy ma sal net swyg. “Hy’s daar by die mans in,” fluister sy dramaties. “Nou net, seker ’n minuut voor julle ingekom het.” “Hoe seker is jy?” vra Ina. “Hy’t hier langs my verbygestap. Ek kon sy naskeer ruik. Uggg!” ’n Bibberasie knel haar. “Het jy sy gesig gesien?” “Nee, wou nie oogkontak maak nie, jy’t mos gewaarsku ek moenie. Maar dis hy, Ina, ek sweer dis hy.” Haar lyf begin ruk sodat sy sukkel om die strooitjie by haar mond te kry, ’n vis wat hap-hap na niks. “Jy sê hy was langs jou . . . het hy jou gesig gesien?”
“Nee, nee, hy was op pad kroeg toe. Ek het hom van agter af herken, breë rug, kort hare . . . en die naskeer. Maar dis hy, ek’s seker.” “Hoe lank terug nou al? Toe hy jou . . . jou . . .?” “Agtien maande en vier dae. Maar dit voel soos gister.” Kersiebek vind strooitjie, suig-suig verlig daaraan. “Agtien maande . . . dis ’n lang tyd. Mens kan dinge vergeet, jy weet, jou verbeel. En buitendien, die lig is swak. Sover ek weet, het daai dwelm neweeffekte, veral wat geheue betref.” “Dink jy ’n vrou wat deur so iets is, vergeet haar . . . haar aanrander? Ina, ek was swanger! Ek het amper sy baba . . . sy werpsel . . .” Maskaradruppels kerf kronkelpaadjies oor haar wange. “Maar hoe kon ek? Ek’s vier-en-twintig.” Ina pluis ’n sneesdoekie uit haar jeans se sak en gee aan. Dawid kyk weg van die tranespul. Nie iets wat al ooit op hom gewerk het nie. “Jy kon nie anders nie, Daniella,” paai Ina. “Dit sou onregverdig gewees het teenoor jou en . . . en die kind.” Dawid wil lag. Die trane die vloei oor jou, bokkie. “Kind. Ek kon nie daaraan dink as ’n . . . as ’n . . . kind nie. Ek het ’n week lank uitgebloei, die hele tyd. Ek was leeg. Gedink ek bloei my dood!” Betraande ogies loer deur ’n swart masker van verloopte grimering. “Dis verby,” paai Ina. “Nee, dis nooit verby nie.” ’n Nat snikkie. “Ek weet nie of ek ooit weer ’n man sal vertrou nie.” “Wel, dis miskien nie so ’n slegte ding nie. Ek praat nou van vreemdes.” Ina knipoog vir Dawid. “Nie goeie ouens soos Dawid nie.”
Dis sy cue om op te staan, die held te speel. “Ek gaan hom daar uithaal.” Ina spring ook op. “Nee, Dawid, wag nou.” “Die klein fokker mag nie wegkom nie. Waar’s hy in?” Daniella beduie met ’n pinkie sonder om haar arm te lig, asof sy lam geword het. Daar’s vrees en afwagting op haar besmeerde gesig. “Jy’t belowe!” fluister Ina dringend. “Niks belowe nie, soetlief.” Sy steek ’n pleitende hand na hom uit, maar hy stap reeds weg: lang treë en tog rustig. Digby die DJ se verhogie is die deur, beskilder met Afrika-motiewe. Blertse blou en wit sebralig aksentueer sy knieë, breë skouers, ontspanne oop hande, strak mond, ’n spiertjie wat spring in sy linkerwang. Die skurwe manne by die kroeg kyk hom ’n oomblik agterna, registreer die lui stappie, fluister onderlangs en draai terug na die televisieskerm en sneeumanewales. Die kroegman skink ’n dubbel Johnnie Walker vir iemand, maar van onder ruie wenkbroue bly sy oë Dawid volg. Die deur sit vas en Dawid skop dit oop met ’n stewelpunt. Kry die suur reuk van ou pis en vars kots. Nat vloer, bolle toiletpapier langs oorvol plastiekdrom. Die man by die krip lyk soos iemand wat vergeet het wat hy daar maak, dik wors in een hand, kop omlaag, klink asof hy saggies neurie. I believe I can fly. Verder wys die spieëls die plek is leeg, twee staldeure hang moeg oop. Toe Dawid langs hom gaan staan, kyk die man op, knik ’n gemoedelike groet. “Stadige aand,” sug hy. Dawid bekyk hom: breë skouers, dalk eens op ’n tyd ’n atleet of rugbyspeler, maar die spiere het afgesak na sy bolmagie. “O ja?”
“Gewoonlik is dié t tjokkers. Soos Durbs se strande oor Krismis, net witter. Dit lanklaas so leeg en boring gesien hier.” “Jy kom gereeld hiernatoe?” “Beste singles bar in die noorde. Wit, swart, groen, almal welkom. Jy kan kies en keur . . . gewoonlik.” “Dan moet ek weer kom wanneer dit vol is.” “Jy moet. ’n Regte boerebuffet, ietsie vir elkeen! Jy kan jouself dik vreet aan viskoek.” Die man skud sy voël rustig af en bêre dit byna hardhandig weg. “En jy kry altyd genoeg . . . viskoek?” Dawid hou hom dop uit die hoek van sy oog. “Altyd. Elke keer. As jy wil, kan ek jou ’n paar tips gee, pel.” “Probeer my.” “Jy hoef nie gelaai te wees nie. Een drankie met die regte girl en jy’s in. Guaranteed.” “Skies?” Dawid zip op, laat sy hande hang. “Jy moet die regte drankie bestel.” “En dit is?” “Iets soets wat proe soos koeldrank, maar met baie skop.” “Jy meen, die soet bedek die skop?” Die man lag kruiperig. “Jy kop my allie pad.” “Maar jy kop mý nie allie pad nie.” Hy beweeg vinnig, druk die man se kop teen die vuil teëls met een hand agterom sy nek geklem. Met sy ander hand het hy hom stewig aan die linkerarm beet; al wat dit sal verg, is een pluk en die arm is uit potjie. Dit voel goed om sy vingers wyd gesper om die skedel te klamp, dit ritmies een-twee-drie keer teen die teëls
te stamp. Hard, nie té hard nie, spanspekkerig, sponserig. Die man kry nie kans om te gil nie. Dawid buig hom, skraap hom teen die muur af tot onder, los ’n bloedstreep soos die arme doos spartel, druk hom protesterend af na die oorvol krip waar blou ontsmetblokkies saamgekoek in ’n geel pisplas dryf. “Hei, hei, man! Los, wat maak jy met my!” “Wat van ’n special cocktail, my maat?” “Nee, nee, asseblief, man . . . kan nie . . .” “Ek dink jy kan. Komaan, vat ’n slukkie.” Met een rukslag dompel hy die man se kop in die pisbak en hou hom daar, vryf hom met mening rond, gesig ondertoe. “Wat van ’n bietjie skop?” sis hy. Trap die man op sy ruggraat toe hy proesend en stikkend opkom vir lug. Smeer hom weer af sodat kaak teen krip se porseleinlip stamp. Nog bloed. “Dis vir al die girls wat jy soet drankies ingee, pel. Kom, jy’s mos dors!” En hy dompel die man terug in die geel skuim. “Dis genoeg.” Die skraal ou by die deur kan ’n student wees, dalk bietjie ouer, donker baadjie, vuil verfgevlekte denim en swart Nike-tekkies, vuilblonde krulle, vreemde blou oë wat stip op Dawid fokus. Hy merk die vlek op die rugkant van die regterhand, ’n tatoeëermerkie. Waar kom die ou vandaan? “Bly hier uit as jy weet wat goed is vir jou, my maat,” waarsku Dawid. “Hy bloei, los hom nou.” “Sy slagoffer het ’n week lank gebloei. Wat jy saai . . .” Die man by die pisbak is op sy knieë, braak geel.
“Hy weet nie waarvan hy praat nie!” hyg hy desperaat. “O toemaar, onskuldig is jy nie,” grom Dawid. “Maar dalk is hy.” Die skraal man staan wragtag nog daar. Ruik hy nie bloed, pis en chaos in die lug nie? Wie kak soek, gaan kak. “Kom dan, my ou, kom wees ’n verkragter se fokken redder. Ken jy hom, pella? Is jy miskien sy pel?” “Nee, ek ken hom nie. Maar hy’s nog aan niks skuldig bevind nie, is hy?” “Hy gee soet drankies wat . . .” “Dronkies koop elke dag drankies vir vroue – dis hoe optel werk. Dis ’n uithangplek vir pimps en prostitute hierdie. Is jy seker jy’t die regte ou?” Die maer man klink effe verveeld, die vrae koel, afgetrokke. Vir ’n oomblik lyk die knielende, kotsende kont nes ’n siek bababrakkie, Dawid kan hom tussen duim en wysvinger dooddruk. Maar die oomblik se huiwering is genoeg en die man kruip hande-viervoet hoek toe. Dawid kyk terug na die skraal man met die helderblou oë en sy vuiste bol kliphard. Iemand lag by die kroeg, ’n dralende hoonlaggie. “Al wat ek sê is: maak seker.” En skielik – net so – is dit verby. Dawid voel kalm, byna lomerig. Hy onderdruk ’n gaap. Dit was ’n lang dag, vroegoggend al uit die vere en tussen die beeste. Vinnig ’n bord pap met biltongpoeier afgesluk. Die lang pad Johies toe, oral om hom vroue in voertuie van die Vrystaat na Gauteng. ’n Oorvloed van deinende borste en sagte halse. Nou het hy hom uitgewoed, eers met die geskeerde hoer in die hotelkamer en nou met die hond in die pisbak. Gulp toegerits. Bloed het gevloei. Die geil
ontploffings van salige rooi geweld het hom aangenaam stram gelaat. Die blonde man is reg, dink hy. Hoe weet hy verdomp dis die verkragter? ’n Paar onbewaakte opmerkings in die soel, dronk kameraadskap van saampis? “Ek kan dit nie bewys nie, my maat. Maar sy slagoffer het hom herken.” “Dan kan sy ’n klag gaan lê. Die polisie is vier strate hiervandaan.” Iets omtrent die man, die spinnerak op sy hand, waarsku Dawid. Sleight of hand. Hierdie ou is gevaarlik, die soort anargis wat polisie met klippe bestook, petrolbomme maak, Greenpeace navolg. “Kom saam en vertel dit vir my vriendin wat gedrug en gerape is,” nooi hy. Die man se byna-glimlag pas by sy T-hemp met die Mona Lisa. Hy gee een tree terug en die deur gaan toe. Toe Dawid dit oopmaak, verdwyn hy al vyftien tree verder tussen die mense op die dansbaan. Hoe het die man so vinnig daar gekom? Hy kyk na die tafel waar die vroue wag. Daar is ’n vraag op Daniella se gesig; Ina staan regop en kyk die blonde man onder die polsende ligte agterna. Dan gryp sy haar handsak en volg die skadufiguur. Dit ontstel Dawid nie. Hy voel vreemd rustig, asof sy gedagtes met ’n pauseknoppie stilgemaak is. Het Ina die man ingestuur om te keer dat hy hom te buite gaan? Lyk of sy die man ken, asof hy die belangrikste ding in haar lewe is.
33
AAN DIE HUISEIENAAR: Geagte mevrou/mejuffrou Ek is jou buurman aan die agterkant van jou werf. Ja, die einste! Ek ken nie jou naam nie, maar jy ken ná dese myne. Hiermee wil ek op skrif stel dat ek nie verder jou vyandige optrede sal duld nie. Ek hou ’n gedetailleerde rekord van alles wat tot dusver gebeur het die afgelope jare en ’n afskrif van hierdie brief word aan my prokureur besorg, van wie jy binnekort sal hoor. Die haglike manier waarop jy en jou naasbestaandes (ek vermoed dis jou seun) enige sweem van redelike of goeie buurmanskap tussen ons huishoudings verbrysel het, dwing my nou om verdere stappe te neem. Vir jou kennisname, hiermee ’n lys van alles wat jy/julle tot dusver gedoen het: 1.Twee gevestigde bome op die agterste grens van ons eiendomme sonder toestemming of beraadslaging met ons afgesaag/afgekap. 2.Die stamme van die afgekapte bome uitgestal waar ons dit daagliks kon sien uitsteek, en later gebruik as pilare om ’n ‘‘lapa’’ te bou. 3.Vleisbraaiery en luidrugtige partytjies wat gepaardgaan met harde musiek en vieslike, rassistiese grappe. 4.Ganse (?!!) wat ons rus en vrede dag en nag vir maande aaneen met hul demoniese gesketter versteur het. (Lewende hawe is verbode in ’n dorpsgebied.) 5.Die baba wat ons rus versteur het met ’n onophoudelike gehuil. 6.Werkers wat op my erf in my boom ingestuur is om takke af te saag en die boom liederlik te vermink, weer eens sonder toestemming of raadpleging.
7.Takke en ander rommel wat herhaaldelik oor die muur in my tuin gestort word, gewoonlik snags. 8.’n Papegaai wat geluide van selfone, karalarms, honde, katte, grassnyers en wat nog alles naboots – enige tyd van die dag of nag
Waar op aarde kom julle mense vandaan? Watse soort moedersmelk het julle ingekry? Klippies en Coke? Het julle geen respek vir ander mense en hul eiendom nie? Hoe kan julle leef met soveel ononderbroke lawaai? Weet julle dat daar ander mense om julle woon? Ek moet ongelukkig aanvaar dit word alles met voorbedagte rade gedoen om ons te treiter en te versondig. Vir die laaste keer: Ek vra dat julle hierdie onverskoonbare aksies onmiddellik staak, anders sal ek genoop wees om met alle middele tot my beskikking op te tree.
Jou buurman (ook ’n huiseienaar)
34
Langsaan: drie interieurs
1. Aan die linkerkant His and hers Roompies vir hom, roompies vir haar. ’n Vertroude ritueel, al kom hulle hoe laat tuis, al is hulle hoe moeg. Hulle velle gloei pienk van gesondheid. Twee elektriese tandeborsels kier en skuim voor twee badkamerkassies, hare en syne. Hulle maak oogkontak in die spieël, sy knipoog en hy grom: hy’s lus. Die aanloop, hul maandelikse afspraak, was sjiek en elegant: ’n nuwe vegetariese plekkie in Bryanston, geurige tapas, babaworteltjies in geel, wit en beetrooi, kerslig en Spaanse rooiwyn. Dis met hul verlowing destyds (gelukkige dertien jaar gelede) afgespreek: hulle sou as getroudes gereeld tyd maak om uit te gaan en in mekaar se oë te kyk – oogkontak is belangrik – en nie by mekaar verby te lewe nie. Minstens een keer per maand, al gaan dit hoe dol. En kyk, hul beroepslewens is geen piekniek nie: superlang dae, ingerygde afsprake, oproepe, telekonferensies, noodvergaderings, konsultasies, netwerkgeleenthede, middagetes met kliënte, dinkskrums, seminare – al die kortpaaie van punt A tot punt B tot punt C in die vinnige laan wat al tweede natuur geword het. Sy ken die stad beter as hy. Hy bestuur beter as sy. Hulle komplimenteer mekaar gereeld daarop. Hulle is albei fanaties oor wiele: hy ry ’n
vlootblou Lexus LS, sy ’n spierwit Audi A7 Sportback. Hy begeer ’n Harley, maar sy wonder of dit by sy haarstyl en jeugdige voorkoms sal pas. Hulle weet hulle het goeie leefstylkeuses gemaak. Soggens douvoordag saam gym toe; hy kombineer krag en aërobies, sy verkies die loopmasjien of swem. Saterdae, as hulle nie iewers heen gaan met hul bergfietse nie, kyk hy dalk ’n bietjie krieket en gholf, sy hou nogal van tennis, gimnastiek en ysskaats. Maar eintlik is hulle veels te besig om die gekurfde platskerm-TV (hoëdefinisie) behoorlik te benut. Dit was haar voorstel om die ou bad te verwyder, die stort te vergroot (glasmure – daar’s geen geheime tussen hulle nie), ’n luukse borrelbad in te rig. Hulle stort saam of apart, soos die gier hulle gryp. Die rooi-en-blou man-in-sirkel het hulle opgeval op stadsmure, iets wat hulle albei amuseer, ’n gesprekspunt tussen pelle op partytjies, almal jong beroepsmense soos hulle met ’n goeie oog vir styl en ’n sin vir humor. Miskien kan hulle die kunstenaar opspoor om een van die sirkelmanne op hul sitkamermuur te kom verf? Maar is dit nie ook die simbool van ’n “manlike probleem”-kliniek nie? wou sy eenkeer weet. Nie dat hy sou weet nie, sulke probleme is vir hom ondenkbaar. Hulle hou albei van oopplan. Mure is uitgebreek om die gevoel van onbegrensde ruimte te versterk. Vensters is vergroot om “buite na binne te bring” soos interieurtydskrifte aanbeveel. Die kombuis het al wat luukse toestel is: koffiemaker en voedselverwerker, twee elegante silwer yskaste langs mekaar, een met sy liggaamsbou-skommels, een met haar vrugte en jogurt. Hulle gun mekaar hope beweegruimte (breathing space), daarom die ekstragroot dubbelbed wat hulle saam gaan kies het en waarop vier mense eintlik gemaklik kan slaap. Só het hulle altyd die keuse vir lepellê of ver van mekaar af insluimer, elk in sy/haar eie droomkring. Dis waarheen hulle nou op pad is: die supergroot bed, hy in sy vaalblou PJ’s (haar Vadersdagpresent aan hom), sy in haar rooi fyngoedjies (sy
Moedersdaggeskenk aan haar). Al is hulle nie Vader en Moeder nie en ook nie van plan om te wees nie – hulle het destyds met hul verlowing ooreengekom hulle gaan kinderloos bly ter wille van mekaar en hul loopbane en al die reise en avonture wat hulle nog gaan/wil deel. Plek vir babas en troeteldiere is daar gewoon nie in hul stampvol lewens nie. Dis nie ’n kwessie van selfsug nie, eerder van toewyding aan mekaar en hul drome van selfverwesenliking. Dis ’n leefstylkeuse. Hulle maak dubbel seker, met kondoom én pil. Sy hou van satynlakens; hy duld dit, al vind hy dit glyerig, moeilik om vastrapplek te kry. Hulle verbeel hulle ’n Midde-Oosterse fantasie, ’n harem en ’n dans met sewe sluiers. Hulle het die ruimte en wellewendheid om alles te probeer, elke posisie, rond te rol in satyn, mekaar in te neem en te komplimenteer. Haar woordjies vir hom: Muis, Breker, Pappie, Grootman. Sy woordjies vir haar: Pop, Skaamste, Mammie, Duifie-ding. Hulle praat graag gedemp met mekaar in sulke lomerig-romantiese tye – Pappie en Mammie (nie vader en moeder) raak gelukkig nog warm vir mekaar. Muis en Pop, Breker en Skaamste. Hulle soen en omhels en help mekaar uittrek. Langsaam, lomerig, teer. Dis baie romanties. Hulle lyk klein op die massiewe bed – twee minnaars in satynlakens wat nie kinders wil hê nie. Hulle koester mekaar, masseer mekaar, hulle komplimenteer mekaar gereeld. Oogkontak is belangrik. Grootman. Duifie-ding. Hulle velle gloei pienk van gesondheid. Hulle ruik lekker vir mekaar. Hulle bly fiks vir mekaar en daarom hou hulle sommer baie van wat hulle sien.
Syne en hare.
2. Aan die agterkant Kakkerlakke het die huis geïnfiltreer, groot troepe, hulle kruip uit krake, glip oor wasbakke, suip by druppende krane, skarrel blinkvlerk en poefbruin oor haar gepolitoerde houtvloere. Wanneer sy een sien, gryp sy ’n vadoek, skoen of besem, net wat naby is, maar hulle is te paraat en rats. As sy een naby die kruidenierskas gewaar, verloor sy haar eetlus net daar en gaan was haar hande drie keer met ontsmetseep. Soms betrap sy haarself dat sy haar asem lank ophou. Sy moet haarself herinner om te leef. Elke winter kom rotte nesmaak op die plafon, en snags, sodra sy diep begin slaap, begin die gekrap en gir-gir wat haar rug laat hol trek. Sy sukkel juis so om weg te raak. Dis die een pes op die ander. Toe haar seun nog hier was, het hy sulke sakies hanteer. Kaste se skarniere, gebreekte teëls, verstopte toilette, pesbestryding en ander huishoudelike gedoentes. Nou is dit net sy, vrou-alleen teen die kakkerlakke en die rotte. In die somer is dit die vlieë. Die kleintjies is die vinnigste. Daar hang twee vlieëplakke agter die kombuisdeur, maar dit help min, want sy raak stadig. Hulle teken syfers in die lug om haar en is altyd eerste by wanneer sy die hoender uit die oond haal. Die swart miertjies is net mooi oral: in die suiker, die yskas en koskaste, in kronkelrytjies langs kosyne, op vensterbanke. Hel, jy kan tog nie Doom in die suikerpot spuit nie! Die hele huis ruik na Doom. Elke oggend ’n bietjie rooisel aan haar wange vryf, nie te veel nie. Saggies inmasseer teen die bleekheid wat van binne kom. Haar oë voel gedurig droog, haar mond ook; haar hande bewe ’n fraks, sy laat val goed. Die sielkundige het aanbeveel sy moet dink aan die pyn as ’n metgesel, ’n vriendin – dit bring
aanvaarding. Gir-gir, onsigbare knaagdier van die alleenuur. Haar vriendinne bel nog dan en wan vir ’n geselsie. Die laaste agtien maande het die uitnodigings en kuiertjies oor en weer aansienlik minder geword. Earl Grey, koek en simpatie. Al die besorgdheid, hande vashou en gebede, versigtige vragies, al die geskenkies en trooskaartjies en simpatieke glimlaggies het haar laat besef sy is in ’n nuwe kategorie: die Wandelende Dooie. Sy suig die lig uit hul vreugdesessies. Eintlik verkies sy om vas te haak in die ontkenningsfase, dit tap minder energie. Selfbejammering laat ruimte vir galgehumor en oomblikke van pure malheid. Soos die pruik. Haar besorgde vriendinne het saamgespan en vir haar ’n pruik gekoop, steil en glansend en onnatuurlik swart, met swaaiende punte soos iets wat ’n flapper in ’n stilprent van die twenties sou dra. Sy het voor die spieël in die voorhuis gaan staan en dit stadig opgesit, agter haar skulpoortjies reggetrek, haarself van voor en in profiel bekyk. Wel, ’n verbetering. Aangename kennis. Sy het vir haarself soos ’n mooier, jonger suster of ’n verlangse niggie gelyk, herkenbaar en tog iemand anders, iemand wat haar smarte nie ken nie, vrygeskeld van die gevolge van haar sondes. Die swart hare laat haar vel nog witter skyn. ’n Mooi, modieuse heks. Die kontrasterende pruik laat haar wangbene uitstaan onder haar vel, skerp soos gebreekte klippe. ’n Tweede kopvel, was haar eerste gril-indruk, gemaak van egte menshare. Wie s’n? Was die skenker lewend of dood? Wie se DNA dra sy as donker kroon? Sy dra dit net wanneer sy uitgaan: winkels toe, fliek toe, in die tuin. Mense wat haar al jare ken, herken haar glad nie meer nie. Sy weerstaan die versoeking om haarself te onthul. Sê nou hulle glo haar nie? Sê nou hulle onthou haar nie? Die swart pruik is warm en laat haar kopvel kriewel en sweet. Die druppeltjies voel soos vlieë of miertjies op haar vel – wanneer niemand kyk nie, krap sy onder haar kuif met ’n lang, soekende nael. Sy kan nie wag om dit in die huis af te pluk en in die hoek van haar klerekas te smyt nie. Maar elke volgende dag maak sy weer vrede daarmee, bedek haar ware self met
’n lagie rooisel en ’n pruik met ’n ondenkbare verlede. Transformasie as vereiste vir oorlewing, ’n slang wat vervel en blinknuut wegseil. Om haarself te vermaak voor die spieël het sy dit eenkeer agterstevoor opgesit, ’n waterval swart hare oor haar gesig soos ’n versmorende pels. Gehap in die hare. Gepraat met ’n dieper stem. Haarself in die spieël gesoek. Wat sy tussen die hare deur kon sien, was ’n surrealistiese gruwel: ’n vrou wie se kop heeltemal na agter gedraai het. ’n Voorbode. Die demoon in die voorhuis was sy. Sy was altyd ’n brunet, nou is sy ’n swartkop. Sal haar persoonlikheid verander met ’n blonde pruik op? Sal sy vrolik en borrelend raak? Sal sy die lewe in helder sonstrale takseer? Eendag by die supermark het die wind haar onverhoeds betrap. In die parkeerterrein het die pruik van haar kop afgespring soos ’n swart kat en drie meter verder voor ’n aankomende bakkie geland. Die karwag se mond het oopgeval. Sy het haar waardigheid behou, oorgestap, haar identiteit voor die verstomde bakkiebestuurder opgeraap en oor haar spierwit kale kop getrek soos ’n wintermus. ’n Oomblik vir die rekordboeke. Eintlik mis sy nie die oproepe en teepartytjies nie. Haar seun het immers die papegaai aangeskaf om haar geselskap te hou – sonder om haar te raadpleeg. Sy wat nie eens van parkiete hou nie! Tog, dis dalk net die regte alarm om inbrekers af te skrik. (Wat die twee ganse toe nie was nie.) ’n Ding wat terugpraat en luister, voorgee om mens te wees, maar tog nie mens is nie. Maar o, die gemis! Dit klou om haar nek. Sy huil haar besete. Sy mis haar kleinkind, mollige mannetjie met vuil doek en vet handjies wat haar vingers vasgryp, skreeu met ’n wydgerekte keelgat dat vensters kan breek. Hoeveel nagte het sy nie opgestaan toe haar seun en sy onbeholpe houvrou te moeg was nie? Dit was asof sy van voor af ’n jong ma moes wees, maar die ontwrigting was nie so erg soos destyds nie. Haar arms voel leeg, sy mis die gewiggie, die skoppende beentjies en pofdoek.
Self is sy veerlig, soveel gewig verloor die afgelope tyd, eet deesdae al minder: eenminuut-noedels, roosterbrood, pakkiesop. Sy maak skoon waar sy mors. Sy was haar hande gereeld met ontsmetseep. Die oggendson in die agterplaas het die skadu’s altyd teruggestoot, die stoep warm gebak, die ys in haar siel gesmelt. Tot sy bewus geraak het van die bure se boom, daai kromme wat ’n moedswillige hand voor die son hou, met lelike takke wat oor die betonmuur hang. Die gebrek aan son het haar koud laat voel, tot in haar kleintoontjies. In hoogsomer lê haar agterplaas, stoep en leë gansdam vol geel bloeisels wat sy in die huis in trap. Dit lok bye en swart kewers wat stink sappe afskei. Sy het een oggend haar swart pruik opgesit, haar wange met rooisel ingevryf, op die leer geklouter en oor die muur gekyk. Daar was ’n bleskopman in die kombuis. Sy het hom geroep om te vra oor die takke wat haar lewe so beklem, maar hy was aaklig en ongeskik. Hy’t op haar geskree. Hy’t uitgestorm, van die trappe af geval en vieslik gevloek. Sy het huis toe gevlug en haar ore toegedruk. Duidelik ’n malman met ’n grief – waaroor presies kon sy nie agterkom nie. Sy het haar seun gebel en hy’t ’n span werkers met sae gestuur. Die malman het die werkers verskree en met klippe bestook, die bandsaag oor die muur gegooi – dit het haar varingpot flenters geval. Om alles te kroon het hy haar kamervenster met ’n klip uitgegooi. Wat ’n barbaarse mens! Die afgesaagde takke het haar hele werf vol gelê. Beslis nie háár rommel nie, so sy het die nag in die maanlig alles mooitjies oorgegooi na sy kant. Vroegdag moes sy aanskou hoe alles weer terugseil. Die briewe in haar posbus, gerig aan Die huiseienaar, het sy net so vir haar seun aangestuur sonder om dit oop te maak; hy betaal tog al die rekeninge.
Sy wou die hele gedoente oor die boom net ignoreer, maar die buurman is manies. Hy’s op ’n missie. Het hy dalk die miere en rotte opgekommandeer? ’n Moontlikheid waaroor sy liefs nie wil tob nie, dit laat haar dom of kranksinnig voel. As sy kon trek, het sy lankal. Maar sy het so ’n gevoel dis haar laaste tuiste hierdie. Sy moet dankbaar wees. Sy ís dankbaar. Daar’s mense sonder vier mure of ’n dak. Daar’s mense sonder water en elektrisiteit. Daar’s hele families wat woon in ’n kamer so groot soos haar kombuis, met gordyne waar deure moet wees. Haar seun en sy houvrou is wel ver, aan die Suidkus waar dit altyd welig groen is, piesangbome en suikerriet, maar hy sien darem om na alles. Kersfees kom kuier hulle ’n paar dae – hoeveel Kersfeeste nog? – en hy betaal elke maand vir haar ’n geldjie in. Soos altyd sal hy mense stuur om rotgif op die plafon te strooi en hulle sal kom spuit vir kakkerlakke en miere. Sy sal self haar stryd teen die vliegies voortsit, spuitblik in die hand. Fumigeer, uitrook, al die plae van die Bybel bestry. Die eensaamheid ook. Sy eet in elk geval al minder soetgoed wat die kruipende peste kan lok. Die suikerblik is leeg. Sy moet haarself pace. Onthou om asem te haal. Die huis ruik na Doom. Sy moet haarself herinner om te leef.
3. Aan die regterkant Ruik niemand dit nie? Die melk in die yskas is suur. Die halwe stuk botter het groen mufmerke en proe soos bloukaas. Die jogurt het verword tot wit rubber. Die berg skottelgoed in die wasbak leun soos die toring van Pisa. Niemand wil daaraan raak nie. Breekpunt is bitter naby.
Waar hy hier in die middel van die kombuis staan – die spinnerak teen die plafon in die hoek van sy waterende oog, regterhand op die koue pistool in sy sweetpakbroek se sak – gewaar hy die buurvrou van langsaan. Sy is in haar eetkamer besig om die potplante met ’n klein groen gietertjie water te gee. So ’n gawe vrou; haar afgetrede man is ’n maer skim wat soms agter ’n struik wegkruip, kop weggedraai, versteen in sy eie koeltes. Haar skottelgoed moet vlekkeloos wees, haar kombuis blink geskrop, haar plante gevoed. Hulle tuin is vol rose, appelliefiebosse en die twee koeltebome, anders as sy tuin waar die struike vrek van die dors. Hy kan haar sien, maar sy kan hom nie sien nie. Die ou gaasgordyne voor sy venster is bruin van die stof en vol fyn skeurtjies, die ruite stowwerig ná onlangse reënbuie. Hy kan nou hier waar hy staan die pistool op haar rig, sy sal dit nie eens weet nie. Sy lyk of sy met iemand gesels – haar man, die plante, die hond, haarself? As hy die lig nou aansit, sal sy hom sien. Hy draai sy kop vier sentimeter na links. In die sitkamer skree iemand soos ’n maer vark. ’n Besonder irriterende klank, een of ander jong sanger, sy stem pas gebreek, wat groot note uitwurg. Net-net vals. Iemand wat hard probeer om beroemd te raak. Iemand wat skree dat die wêreld en sy maat hom kan hoor: Neem kennis van my! Die gille laat sweet op sy voorkop uitslaan. Hy het dit oorweeg. ’n Week lank. Om ’n brief te los. Een bladsy vir die polisie en alle belangstellendes, met redes en motiverings en laaste gedagtes, dalk ’n versoek om vergifnis, ’n gebroke verskoning, sy handtekening. Dis wat almal doen, dis die norm. Dit sou wys hy’s nie ’n totale monster nie, hy’s daartoe gedryf.
Hy het selfs by sy werkstafel gaan sit om sy gedagtes te orden, papier en pen uit sy laai gehaal. Maar hy kon nie. Hy was by daai punt ook verby. Hoekom moes hy enigiemand beter laat voel? Hoekom moes hy homself verduidelik? Hy’s klaar. Siek en sat om na almal se pype te dans. Verskonings uit te dink. Almal se laste te dra. Laat hulle wonder, vir altyd wonder. Laat hulle skuldig voel. Die blaam dra as hulle wil. Die skoen aantrek as dit pas. Mense word van kleins af geleer om hulleself vry te skeld; daar’s terapeute wat daarin spesialiseer. Selfregverdiging is vandag die norm. Nee, hy sal die antwoorde saamvat. En hulle ook. Die sanger bars deur ’n nuwe grens van skrilheid. Die TV-gehoor juig en fluit. Is hy dan al een wie se ore tuit van die onheilige rumoer wat deesdae deurgaan as musikale talent? Banale twak. Onhoudbaar. Al wat hy op sy tafel gelos het, is die hoop rekeninge en sy afdankingsbrief van dertien maande gelede. Maak self die somme. Die geld is lankal op. Hulle het die kar twee maande gelede verloor, die eetkamerstel verpand vir vyf sakke kruideniersware. Die foon is ses maande gelede afgesny, twee maande later die internet. Die kinders het bly neul: “Asseblief, Pa, los tog net die TV!” Hulle is honger, maar hulle kry nooit genoeg van die kak op die kassie nie. Streng gesproke is hulle nie meer kinders nie. Hulle is jongmense sonder talent wat vir niks opgelei is nie en niks kan of wil doen nie. Geld vir studeer is daar in elk geval ook nie. En soos hy en die vrou is hulle werkloos en hopeloos. Hulle lê en lê en lê voor die TV en kyk Idols. Hy beveel sy bene om te beweeg: tree vir tree gangaf tot by die sitkamer, nou leeg behalwe vir die ou, verslete bank, grys kombers op die houtvloer, televisiestel wat kleur en klank spoeg. Hulle kyk nie na hom nie. Hulle weet hy’s daar, hulle voel hom aan, maar hulle
vibreer klaar in ’n ander dimensie. Op die bank lê die groot seun met sy kop in sy ma se skoot. Dat ’n dwergie-ma so ’n klong kon baar! Die meisiekind sit lotusposisie op die kombers op die vloer. Sy kou iets. Sy kou haar naels. Sy vlees en bloed. Sy hele verdomde lewe. Die song is verby en die skare bedaar langsaam. Die towerlig van die TV speel bont oor sy gesig. Hy voel die krag daarvan, dis magneties en elektries. Hy is willoos, lamgeslaan, hy kan nie sy arms optel nie. Luister en kyk móét hy, hy kan nie anders nie. Die drie beoordelaars kyk mekaar verras aan, skynbaar oorweldig deur wat hulle pas beleef het. Dit was ongetwyfeld die béste optrede van die seisoen, dalk die beste ooit! “’n Hoogtepunt, a star is born,” verklaar een met ’n bewende stem. Die beoordelaars raak liries terwyl die finalis ’n vuis in die lug pomp. Die skare is oorstelp. “My baby. You know you’re my baby!” veins die vrou met die droomvangeroorbelle. Die pistool in sy broeksak hang koud en swaar teen sy been. Hy het die volgorde laas nag uitgewerk: Eers die seun, want hy kan hom verset. Dan die meisiekind. Teen die agterkop. Dan die vrou. Sy vrou van twee-en-twintig jaar. Vinnig, doef-doef-doef, voor daar ’n relletjie uitbreek. Dan homself. Onder die ken. Het hy enige bedenkinge? Is daar enigiets, énige iets wat hom nog van plan kan
laat verander? Is daar ’n ander uitweg op hierdie beslommerde aarde? Nee. Nee. Nee. Een of ander tyd moet hy leer om nee te sê. Hy haal die pistool uit sy sak. Hoe terloops kom die einde. Sy wysvinger is op die sneller, die loop lig. “This performance puts you right up there with the strongest contenders! You can do it, my darling, if you really really want to! With this love ballad, my baby, you proved your potential beyond a shadow of a doubt!” Anders as beplan, is die eerste skoot reg in die middel van die TV-skerm.
35
Ina se asem jaag. Sy het hom gesien! Altans, sy dink dit was hy. Sy’s byna seker, haar nuussin vertel haar dis meer as ’n vermoede, eerder ’n sterk ingewing. Veral as sy dink aan die beskrywings van die vier ooggetuies: skraal, blond, rats, iets onvaspenbaars in sy houding. Die Sirkelman. Toegegee, sy het hom net skrams van agter gesien, onder draailigte, die atletiese bou en lenige bene. Sy was nie naby genoeg om seker te maak van die besonderse blou oë nie. Hy was nie vir dans op die dansbaan nie, sy lyf het tussen die ander lywe deur gevleg. Soos gewoonlik besig om te vlug, agtervolgers af te skud. Die agtervolger was hierdie keer Dawid. Sy het ook agtervolger geword, getrek deur ’n onsigbare magneet, ’n onweerstaanbare impuls. Sy het hom blindelings agterna gesit, gebeur deur die lywe op die klein dansbaan. Die plek was skielik voller as vyf minute gelede en haar vordering was irriterend stadig. Terwyl spookgesigte in blou, geel, rooi en groen om haar blits, steek iemand ’n hand na haar uit, skree ’n onverstaanbare uitnodiging. Daar is ’n grypende hand om haar middel, sy word ’n langsame oomblik deel van die choreografie van begeerte. Maar hy was nie meer in die danskring nie . . . Sy het hom met die uitsmyter sien praat by die ingang, maar steeds net van agter. Sy was amper daar, sy het al begin dink wat om hom te noem. “Verskoon my, meneer . . .” Toe sny Dawid met opset voor haar in. Dit ruk haar terug na die werklikheid. Het Daniella nie ook haar “verkragter”
van agter af uitgeken nie? Nooit eens sy gesig gesien voor sy hom aan Dawid se jaglus uitgelewer het nie. En nou hardloop sy self agter ’n wildvreemde man aan, iemand wat sy net van agter af “herken” het. Is dít wat verligte vroue in die nuwe millennium doen? vra sy haarself af. Skynbaar onafhanklik, altyd eensaam, immer uitasem op die spoor van ’n man wat hulle ongeërg en onwetend die rug toekeer? Wat sou sy haarself nóg alles kon wysmaak in die greep van hierdie onverklaarbare obsessie? Sy moet Gys gelyk gee: haar werk begin daaronder ly. Snedige Gys wat haar dophou met ’n valkoog is reg: dis muisneste.
Ina kan nie konsentreer waar sy die volgende dag in die veld langs die lyk van ’n hawelose man moet notas neem nie. Selfs die muwwe stank help nie veel om haar gedagtes gefokus te hou nie. Die gesig, genadiglik weggedraai in die vaal gras en klippe, die liggaam in die verspoelde grond weggesmelt ná maande van blootstelling aan wind en weer. Karige besittings om hom gestrooi: blikbeker, lepel, plastieksak vol vodde, skerfie seep, gebreekte kam. Die broekspype lê plat teen die grond, asof daar nie meer bene daarin is nie, net harde kreukels. So ’n eensame dood, dink sy, alleen op die buitewyke van die samelewing. Van bitter ontbering, swakheid, honger? Onwerklik die werklikheid. Maar sy kan net mooi niks voel nie – die eerste simptome van die afgestompte afsydigheid wat misdaadverslaggewers help om snags te slaap en partytjies te geniet. Op die buitewyke van haar gedagtes: die soepel rug en rankies blonde nekhare van ’n bleek engel in louterende blou lig. “Wie’s hy? ’n Eks?” Dawid het ’n dik arm as versperring by die uitgang gestut. “Laat my deur, Dawid. Dis werk!” “Aaa, werk! Hoe nogal? Gaan jy ’n berig skryf oor hoe hy daai verkragter se bas
kom red het?” “Is dit bloed aan jou hande?” was haar teenaanval. Spatsels aan sy kneukels, op sy hemp, en toe sy onwillekeurig afkyk, kon sy donker strepe aan sy stewels sien. “Wat het jy gedoen?” “Die klein kak het dit basies erken. Terwyl hy ‘pieps’. Tot daai maergatvent ingemeng het soos The Dark Knight.” “Was hy daar? Wat wou hy hê?” Haar stem wou wegslaan. “Hy’t my net betyds gestop. Anders was daar nog bloed en kak en hare.” Sy het onder sy arm deur gekoes en verby die deurwag oor die pad gehardloop, reg voor ’n luierende polisiemotor in. Sy kon net sug toe ’n waarskuwende flits blou lig haar tot stilstand dwing. “Sorry, sorry. I’m running after a friend! Didn’t mean to . . .” “You drunk, my sister?” wou die konstabel met die dubbelken weet. Neerhalende outoriteit, vol van homself in ’n nouende blou uniform. Sy het haar kop moedeloos geskud, geweet niks laat die Sirkelman vinniger verdwyn as ’n polisiemotor nie. Hy is klaar onsigbaar in die stad se surrealistiese dekorstel van die nag. Arrogante poeliesman: “Play it safe. The taxis won’t stop, and then you’re mincemeat, my sister.” “Thank you, sir. My friend left suddenly. He’s gone now anyway.” “Your boyfriend?” Die vraag het haar laat glimlag, onkant gevang. Natuurlik is hy nie. Maar soos skynbaar met almal wie se pad hy kruis, is daar ’n gevoel van kameraadskap, ’n onbepaalbare verwantskap.
Nee, haar verbeelding speel haar parte. Soos ’n leser wat oortuig is hy “ken” die skrywer van sy gunstelingboek, of die lastige aanhanger wat ’n akteur op straat as sepiekarakter eien. “No, just a friend.” Sy het teruggeslenter klub toe, waar Daniella en Dawid haar ingewag het met ’n skuimende glas Guinness-bier. Sy het opgelet die bende baardmanne by die toonbank hou hulle met broeiende aandag dop, bespreek hulle onderlangs. Het hulle só ’n scene gemaak? Dawid se verrinneweerde slagoffer het kop omlaag tussen die baardmanne gesit; Ina kon die kneusings aan sy wangbene en strepe bloed op sy hemp selfs in die skemer lig uitmaak. Die bonkige kroegman het ’n dubbelbrandewyn voor hom neergesit. “Dawid het hom goed geneuk!” Daniella se oë blink waar sy besig is om die bloedstrepe aan Dawid se vuiste met ’n sneesdoekie af te vee. “Hy’s ’n held!” “Het die man skuld erken?” vra Ina. “Weet jy wat sy naam is?” Dawid grynslag. “Natuurlik was hy die onskuld self. Maar hy wou sy suksesreseppie met my deel: hoe hy girls met soet drankies vang. Lekker hand ommie blaas.” Hy vat die sneesdoekie by Daniella en frommel dit in ’n balletjie. Die kroegman skuif agter sy toonbank uit, vou homself oop tot ’n logge kêrel van net oor die twee meter, kom nader en leun vertroulik oor hul tafel. “Die klub is nie ’n bokskryt nie,” sê hy kalm met ’n skor rokerstem. “Die manne is bietjie ongelukkig.” Dawid haal sy skouers op. “As hulle ’n probleem het, laat ons uitgaan straat toe. Ek sien kans.” Onnodig, beduie die kroegman. Maar dis dalk beter dat hulle hul drankies klaarmaak en vreedsaam die pad vat. Daar’s polisie buite. Dis ’n weeksaand, almal werk môre. “Maar jy weet dis hy!” vlam Daniella op. “Jy’t my daai aand uit die toilet gehaal.
Jy weet!” Die kroegman skud sy kop stadig. “Ek dink nie dis hy nie.” “Dis belaglik! Jý is die een wat skink en nugter bly. Jy ken almal hier rond. Jy weet presies wie was by my daai aand.” “Sure, ek het julle saam gesien, hy’t vir julle iets bestel. Hy spandeer baie in die kroeg en hy maak nie moeilikheid nie. All above board. ’n Drankie, maar ek het hom niks verder sien doen nie.” “Maar . . . jy weet tog hy . . . hy’t my drankie gedokter!” “Dalk, maar ek het dit nie gesién nie. En hy ontken dit. Daai ouens is sy pelle. Hulle is lorriedrywers en as hulle in Joburg kom, kuier hulle by die Lighthouse. Vroue vermy hulle.” Hy kyk veelseggend na Daniella, vee met sy vadoek oor die tafel om die gesprek af te sluit en keer terug na sy toonbank. Ná ’n bewerige sluk bier staan Ina op. “Goed, ek dink ons het ’n fout gemaak. Ek weet ék het. Ons moes nie gekom het nie, Dawid. Ek moes jou nie gebel het nie. Dis deels my skuld. Ek kan in die moeilikheid kom . . .” “Nee, dis myne.” Daniella se oë raak nog blinker. “Ek was bang.” Ina knik. “Miskien wás dit jou skuld. As jy minder by sulke plekke uithang, vrou-alleen, sal jy nie bang raak nie. Nie in penaries met sleazy mans beland nie. Ek’s jammer, maar dis waar. Wil jy gou ’n koffie kom sluk, Dawid?” “Ek het Daniella beloof ek vat haar huis toe.” Ina was nie té verbaas nie. In Daniella se oë is Dawid die onverskrokke held, beskermer, redder. In hare: boereverneuker. Sy kyk hom vas in die oë. “Miskien was die grootste fout myne.” Toe sy wegstap, weer onder die vergrootglas van die kroegbende, roep hy agterna: “Moenie so wees nie, Ina! Ek bel jou môre.”
Hy het vroegdag al gebel, maar haar foon was op silent. Sy het net kantooroproepe geneem, nie in die luim vir sy lame verskonings of toenaderings nie. Wat presies skeefgeloop het, kon sy nie besluit nie. Sy’t hom tog op aandrang van Daniella gebel, en nou’s sy verbaas dat sy beskermingsdrang geprikkel is deur haar sogenaamde vriendin se Bambi-ogies? Erger: sy kon nie die gevoel afskud dat haar groot “vangs” ’n misoes was nie. As die ergste kan gebeur . . . sal dit. En dit het. Die eerste teken van onraad was haar pa se afkeer; hy kon dit nie wegsteek nie, al wou hy. Dawid het skynbaar niks agtergekom nie. Was hy só onsensitief vir haar pa se kilheid of bloot dikvellig? Was dít waar haar oogklappe losgeraak het? Of was dit die verskyning van die Sirkelman wat die deurslag gegee het? (Ás dit hy was.) Toe sy hand oor neus en mond wegstap van die lyk in die nat gras, agtervolg deur ’n walm van verrotting, sink die besef in dat sy lig afgekom het van haar gevaarlike flirtasie. En dat die ergste dalk nog kon gebeur het.
36
Twis oor letterkunde kos Rus sy lewe
MOSKOU. – ’n Rusie oor die letterkundige waarde van poësie en prosa onderskeidelik het daartoe gelei dat ’n Russiese man sy vriend met ’n mes doodgesteek het. Die twee het in die dorpie Irbit in die Oeral-gebergte gedrink toe hulle oor letterkunde begin gesels het, het die Swerdlofsk-streekspeurdiens in ’n verklaring gesê. “Hulle het toe begin twis oor watter een van die twee, poësie of prosa, belangriker is. Die argument het handuit geruk en die 53-jarige poësieliefhebber het sy vriend doodgesteek.” Hy is later in ’n ander vriend se huis in hegtenis geneem. – Sapa-AFP
37
Nadat die navorser sy brief, toegeplak in ’n wit koevert, in die bure se posbus gaan gooi het, het die papegaai opgehou met sy nabootsings. Daar was geen antwoord van die Pocahontas-vrou se kant af nie. Net stilte. Hy was verlig oor die verdomde papegaai, maar die stilte het hom met ’n benoude afwagting gevul. Het hy dalk die brief in die verkeerde posbus gegooi? Nee, nee, hy was definitief op die regte plek. Dit was tog die tweede keer wat hy sy teenstander se woning van voor af aanskou het: ’n wit huisie met blou dak en broekielace aan die stoepdakkie (dit sou beter gelyk het op Darling as in ’n afgeleefde buurt vol siersteenhuise). Hy het om die blok gery om daar uit te kom. Kon seker gestap het, maar hy wou sorg vir ’n ontsnapkans indien hy gekonfronteer word. ’n Getaway car, asof hy ’n bank beroof het. Hy het vlak asemgehaal, sy hart voel klop onder sy kraag. Daar het ligte gebrand in die voorhuis – dit was vroegaand – maar verder geen beweging of skadu agter gordyne nie. Hy was gereed om kortom te spring soos ’n vlakhaas. In die gebrek aan reaksie, die broeiende pouse wat dalk die stilte voor die storm kon sein, het hy besluit op voorkomende taktiek. Terug by die huis het hy professor Lydia Brookfield-Horne gebel, die boomdokter wat sy dogter voorgestel het. Op haar webwerf, www.treequeen.co.za, beskryf Brookfield-Horne haarself as “’n renegaat-wetenskaplike, botanis en mediese biochemikus wat hartsliedere as gebede en prysgesange aan die woude offer” (in navolging van haar voorganger, die omstrede Diana Beresford-Kroeger van Amerika). Die professor haal vrylik aan uit Beresford-Kroeger se kwasi-wetenskaplike boeke en glo onder meer dat bome ’n planeetwye uitkoms bied vir omgewingskrisisse en selfs menslike siektes soos kanker kan genees. Toe die navorser sy vrou van sy ingewing verwittig het, het sy haar verrassend dwars gehou, nogal erg skepties om ’n “New Age tree hugger” na hul eiendom te
ontbied. “Wie weet watter vreemde geeste gaan sy in ons tuin wakker maak?” Al kon hy die humor daarin waardeer en het hy sy vrou bewonder vir haar behoudende standpunt, het hy geweet dat hy die afgelope tien jaar diepgaande verander het. Dat hy sedert die slagting van die wit tweeling in die agterplaas ’n groter geesverwantskap voel met bome as met mense of selfs met diere. Maar as navorser het hy wel eers sy huiswerk gedoen oor sogenaamde boomfluisteraars. Sy vyfjaarplan om al sy notas, knipsels en beriggies te orden, het lankal uitgerafel en sy versameling het in die liasseerkabinet en slordige, oorvol lêers beland. Hy het geleidelik tot die oortuiging gekom dat hy die hulp moet inroep van ’n boomdokter vir ’n diagnose en behandeling van die bome op sy werf. Oor die foon het die vrou se soet, melodieuse stem hom herinner aan sy oorlede ouma, en sy kasteeldroom van lank gelede het pynlik helder voor hom verrys. Was dit een van daardie toevallighede wat spruit uit angstige wensdenkery? Hy het aan die professor verduidelik dis ’n noodgeval, sy boom is ernstig gewond en getraumatiseer, en sy het dadelik ingestem om haar besige oggendprogram aan te pas om hom, Sfinks en Oorwinnaar te akkommodeer. Toe Lydia Brookfield-Horne die volgende oggend in ’n lemmetjiegroen Smartcar (geborg deur die World Wildlife Fund en Greenpeace) voor sy huis stilhou, het hy haar deur die sitkamervenster betrag. Sy het haar volronde lyf uit die piepklein karretjie gewring en stralend na die hemel opgekyk. ’n Lang rok vol bloeiselpatrone met kort moue het gelyk of dit ’n stapel verekussings verberg. Op ’n manier was sy alles wat hy verwag het: bruin platsool-leerskoene, bruingebrande arms met rinkelende armbande vol sade en krale, lang grys hare wat in ’n slierterige gordyn om haar vlesige, sonbruin gesig wieg, nuuskierige okkerneutbruin oë bokant ’n klein hartjiemond en tripelken. Daar was baie van haar. Sy het die hele buurt met haar aankoms opgevrolik. Haar groet was sag en ferm, haar hand groter as syne. Ná ’n hartlike kennismaking in die voorhuis oor bekers rooibostee met heuning en karringmelkbeskuit het hy haar deur die kombuis na die agtertuin gelei. Hy het verskoning gemaak vir sy vrou wat ’n “dringende naelafspraak” moes nakom. Lydia het haar groot grys kop gekantel asof sy beduie: My naels is nie meer van
belang nie. Hy kon hom betyds keer om af te kyk na haar naels, bevrees sy sou aflei gemanikuurde naels is iets wat vir hom saak maak. Allesbehalwe, allesbehalwe! Later het hy wel gemerk haar breë, beaarde hande is skoon geskrop, haar naels kort gevyl en silwerskoon (tot sy verligting). Voor hy kon wonder, het sy haar ouderdom verklap: “Ek is ses-en-sestig. Vyf dekades tussen my geliefde bome. Dis reg, ek het op sestien my eerste boom omhels. Jaaa, jong, dis my eerste en durende liefde.” In die tuin het sy haar skoene uitgeskop, met haar dik tone in die grasperk gegrawe en albei arms na bo uitgestrek, asof sy nie net die bome nie maar die hele tuin wou omhels. Só het sy bly staan, geplant, appelwange gloeiend en hartjiemond prewelend. Toe, met ’n uitgerekte sug, het sy haar arms laat terugval langs haar magtige dye. “Bome is die longe van die aarde,” het sy verduidelik. “Sonder bome sal ons versmoor. Hulle wortels is natuurlike filters wat besoedeling uit die omringende grond suiwer. Die wortels vorm ook natuurlike skutwalle teen vloede en verspoelings. Daar’s ’n Afrika-gesegde wat lui: ‘’n Boom word geken aan sy vrugte, nie aan sy wortels nie.’ Dalk waar, maar sonder wortels is daar nie bome óf vrugte nie, dalk nie eens grond om in te groei nie.” Sy het haar blik eers oor die struike en beddings laat dwaal, dit toe stadig gelig na die twee bome by die grys muur. “Aaa-jaaa, die plaasvervangers. Hulle probeer baaaie hard, hulle wil baaaie meer plek vol staan as hulle arme voorgangers. So ’n swaaar verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus, daaar in die wortelspore van die voorsate.” Sy het Oorwinnaar glimlaggend genader, haar hande sagkens op die witstinkhoutboom gesit, vingerpunte eerste en toe met plat handpalms teen die gladde stam gedruk, gestreel, kwaste en takke geknyp soos ’n bruidegom met sy hande op sy bruid se borste. Vreemd om te sien, dié intimiteit tussen vrou en boom, byna pornografies! Vir ’n oomblik was die navorser jaloers op die skaamtelose kontak – hoekom het hy dit nie al self probeer nie? Sy het diep uit haar keel begin neurie, ’n koergeluid, asof sy klanktrillings vanuit
haar kern via haar hande na die boom stuur. Sy het die boom se naam gefluister, paaiend, oor en oor, uitlokkend, sensueel, obseen. Asof sy besig was met ’n bietjie vuilpraat. “Mmmmmm. Jy’s so pragtig, so sterk, so glad, so fier. Oorwinnaaar. Jy’s ferm en moooi, ’n boom wat waardeer word. Kérngesond. Mmmmmm, jaaa.” Hy het bewus geraak van sy mond wat oophang, sy tong was droog. ’n Byna religieuse verstomming het hom oorval, asof hy ’n engel in die boom kon sien. “Jy’s gesond, of hoe? Jou sap stoot sterk. Jy het nie hulp nodig nie. So gebalanseerd, so aantreklik, jaaa.” Diep stemdreunings, basklanke, singpraat-masserings. Hy moes dit seker verwag het: sy het haar hele lyf teen die boom aangevly, haar oë styf toegeknyp, mondjie getuit. Asof sy op die boom lê, net vertikaal. Toe sy selfvoldaan wegtree, kon hy sweer Oorwinnaar bewe, asof hy vra vir meer. “Genoeg, jong lat. Ons sal weer saampraat, ek en jy. Maar nou gaan jy eers ’n bietjie rus, net daar waar jy staan. Sterker word. Aanhou groei, groei, groei. Jaaa, groei vir my, ou grote.” Sy het met stralende gelaat na die navorser gedraai, hande saamgeslaan. “’n Jong boom met ’n grooot toekoms, bladwisselend en kerngesond! Groei stadig maar seker. Jy het goed gekies, meneer. Baie goed dat jy die boom so ’n positiewe naam gegee het, min mense gee persoonlike en opheffende name benewens die Latynse name aan hul plante. Hulle begryp nie die kragtige invloed van ’n naam nie, maar die swart kulture . . . o, hulle weet: Promise, Precious, Victor, Lovely, Lucky, Champion, Charming! Spreek dit uit, bevestig dit, positiewe bevestiging elke dag. Ja, gedragsterapie werk inderdaad vir mens en dier én plant! As jy kan, speel vir Oorwinnaar musiek ná kwaai storms. Mozart en Schubert is goed vir standvastigheid, Liszt en Beethoven vir balans en kreatiwiteit. Kom ons gaan kyk na die ander een.” En sy is reeds op pad na Sfinks met ’n driftige kaalvoetstappie, ’n vrou met ’n missie. Hy volg haar op ’n afstand, wonder wat haar diagnose en aanbeveling vir die verminkte boom sal wees. Sfinks wat die helfte van sy takke na die bure se kant ingeboet het, afgeskeur tot in die witgroen lewe, en nou lyk asof hy skeef
staan om sy balans te herwin. ’n Dubbeldosis Beethoven? Hy vertel haar van die oorlog, maar net in breë trekke. Sal sy kan verstaan dat dit ’n kwessie van beginsel was, ’n stryd teen barbare wat niks omgee vir die omgewing of bome nie? Hy wil ook nie te veel uitwei oor sy groeiende obsessie met die agterste bure nie, dis ’n private stryd wat hy enduit alleen wil voer. Selfs sy vrou mag nie aandadig wees as sake dalk handuit ruk nie. Hy alleen moet aanspreeklik wees. Die oorwinning moet syne wees. En die satisfaksie. “Aaaaaa, ek sien. Die Sfinks.” Lydia druk haar bruin hande teen haar volmaangesig, haar lippe saamgepers. Sy klap haar tong simpatiek en nader die boom stadig, asof sy oor gebreekte glas tree. “Sjjjjjjjjjj. Ai, ai, ai, ai. Aaaaaa.” Susgeluide, klapgeluide, ’n wiegelied wat die boom in empatie baai. “Jy is ’n grooot meneer, of hoe? Kyk net die takke, ’n plafon van blare! Gun my ’n oomblik in jou koel skaduwee. Laat my net ’n oomblik rus onder jou sterk, dik takke.” Die boom staan roerloos, elke blaartjie afgeëts teen die groen agtergrond. Sy adem die groen in, beweeg nader, swaar arms langs haar sye. “Ek voel jou aan, jou sterk hart. Jou pýn.” Opeens is daar ’n bries wat die dunner takkies roer. “Ja, jou diep seer, die wind wat deur jou sny. Ek weet, ek voel dit. Ek kan jou binneste voel beur na buite. Jy’s kwaad, nie waar nie?” Weer die briesie – sterker, merk die navorser. Of verbeel hy hom die hele absurde scenario? “Jou integriteit is aangetas. Iets wou jou stuit, jou in ’n ander rigting boender. Maar jy wil wyd uitkring in alle rigtings, jy wil na alle kante spruit tot by die eindes van die ááárde . . . ”
Die laaste woord ’n rou sug wat soos ’n vogtige walm tussen hulle bly hang. Boom en vrou, vrou en boom – ’n byna heidense kombinasie, dink die navorser. As sy vrou dít moet aanskou . . . Hy loer skuldig huis toe, maar op die trappe by die agterdeur lê net die rifrug met ’n uithangtong en sy stert wat roer, ’n vriendelike toeskouer van boompornografie. Lydia streel met haar groot hande oor trosse blare, pluk niks nie, vou net die punte van takkies in haar vlesige vingers toe, fluister woorde wat hy nie kan ontsyfer nie. Die ritueel van die boomfluisteraar stuur ’n lamheid deur die navorser se rugstring en seer dyspier, asof sy in hom ook iets aangeraak het, sy kwaste gekielie het, asof sy besig is om hom om sy midrif te liefkoos. Hy wil hom glad nie dinge wysmaak nie – hy wil en moet tog ’n greintjie wetenskaplike afstand handhaaf! – maar sy ore bly gespits vir enige verstaanbare frase in die sensuele gesprek tussen vrou en boom, fluisteringe van wedersydse herkenning. Die hele ritueel is déjà-vu, iets wat hy herken of wil herken, miskien uit sy vergete kindertyd, sy ouma in haar groot groentetuin op die plaas met nat hande tussen aartappelplante en aarbeie, terwyl hy op plomp babaknietjies deur moddervore kruip. Lydia, nou met haar regterhand teen die boomstam geplaas asof sy ’n ou hart daar voel klop, bring haar regteroor nader, stadig al nader aan die groot groen borskas, tot sy haar hele gesig in die geil klimop wat die onderkant van stam en takke bedek, kan nestel. Haar wange is bloedrooi soos oorryp vrugte, sterk vingers wat sirkels trek op die stam, kieliesirkels deur die klimop soos borshare. Hoe lank hierdie vreemde, obsene tablo geduur het, kon die navorser later nie onthou nie, ’n minuut of ’n halfuur. Al wat hy weet, is dat hy in die skadu van Sfinks deur ’n lawwe soort jaloesie oorval is. Hý wou die fokus van haar betastende aandag wees, hý wou hoor wat sy met haar hartmondjie in die kwaste fluister. Hy wou haar swaar borste teen sy bors voel druk. Sweet het teen sy nek afgegly onder sy taai kraag in, warm straaltjies teen sy rug af. Voor hy kon vra wat haar afleidings is, het sy dringend beduie: Wag! Sy het geleidelik van Sfinks af wegbeweeg, duim vir duim, tot net haar vingerpunte nog aan die stam raak. Toe omgedraai en ligvoets weggestap, by hom ingehaak en haar plat skoene aangeglip.
Terug in die huis het sy gesê: “Ongelooflike stukrag, ’n boom wat in weerwil van enige aggressie of aanval sal aanhou groei – ’n nukkerige, onstuitbare groeikrag. Nie dat jy ’n boom kan beskryf met menslike gevoelswaardes nie, ek doen dit net sodat jy iets van die aura kan verstaan, die onpersoonlike, onemosionele lewenskrag in so ’n gulsige organiese gedaante. So verskillend van ons as ’n vlermuis van ’n mot! Begrip is onmoontlik, aanvoeling net ’n vae moontlikheid, waarneming verwarrend, empatie dalk ’n tydelike middeweg. Ek gee nie voor ek weet wat die boom in essensie werklik is of wil wees nie, maar ek kan voelers uitsteek op my manier, ’n bewussyn kweek wat my vir ’n paar oomblikke nader bring aan die misterie van boomwees, die donkerte en lig, die begeerte om te groei, die onskendbare regte van plante, en so meer. Ek verwag nie dat jy sal verstaan nie, ek verstaan dit in blinde oomblikke wat nie woorde toelaat nie, maar ek dink Gertrude Stein was op die regte spoor met ‘A rose is a rose is a rose’. ’n Boom is ’n boom is ’n booom. Die essensie van boomwees het vele gedaantes, dieptes en dimensies, en nie almal daarvan is vir ons moooi of moreel opkikkerend nie. Sfinks het wel soos sy mitologiese naam geword: ’n gevleuelde wese, ’n gewonde dierasie of dors engel of mistieke kreatuuur van die planteryk wat gereeld raaisels in oorvloed baar. Daarom is daar soveel donkerte onder en om die boom, klewerige koeltes as ’t ware, en bandsae word ’n grappige maar noodsaaklike prikkeltjie wat die kanker van groei en nogmaals groei tot ’n soort endemiese virusinfeksie aanhits. Hierdie boom het nie my genesende, lewegewende teenwoordigheid nodig nie. O neee. Sfinks is onafhanklik. Onstuitbaar. Geen medisyne of boomdokter gaan die brute groeikrag stop of dit in ’n ander rigting stuur nie. Dis ’n Medusa-boom: kap ’n tak of wortel af en daar groei ’n menigte in die plek daarvan! Kortom, hierdie boom is ’n Verwoester. Of ’n mens Sfinks kan help, troos, genees, bevriend of verstaan, betwyfel ek totaaal. As ek julle was, sou ek nie die boom probeer afkap nie – dit sal nodeloos wees. Sfinks sal herleef om die hele werf, die blok en daarna die buurt oor te neem. Dis immuuun teen menslike aanslae. Gewetenloos, psigopaties – nie-menslik gesproke, natuurlik. Die bure gaan ook ly. Ek sou voorstel julle en die bure trek nou. Voor dit te laat is. Dis al wat die Sfinks dalk sal kalmeer, die wortels afwaarts eerder as sywaarts sal keer. Gee pad terwyl julle kan.” Oor glase yskoue gemmerbier, effe peperig maar verfrissend ná die hitte daar buite, het hulle minute lank in stilte by die kombuistafel gesit terwyl Rufus haar rokspante besnuffel. Sy het die hond se kop gestreel sonder om af te kyk, haar blik dwalend oor die grasgroen kombuiskaste, die byende speseryrakkie vol geurmiddels bokant die stoof, die klein, geraamde waterverfafdruk van die
Japannese rolprentregisseur Akira Kurosawa bokant die wasbak – ’n man wat in gekleurde reënstrepe voor ’n reënboog staan in ’n veld vol geel blommetjies, ’n wasige droom teen ’n onbereikbare horison. Wat sou sy hieruit aflei? het die navorser gewonder. Dat niemand in die huis van kook hou nie? Dat elke bredie en sop ’n ongeduldige sameflansing van bestanddele is omdat die mens moet eet? Maar sy het net geglimlag, geswyg, geteug. Skielik wou hy met alle mag ontboesem, sy hart uitstort, sy kindertyd met haar deel – van bytende rooimiere in sy lieste, sy oupa se vreesaanjaende spookstories, sy ma se ysingwekkende geroep. Haar vertel van die twee Russiese vriende wat oor prosa en poësie gestry het en só hewig verskil het dat Poësie vir Prosa doodgesteek het – sonder om te besef dat Prosa en Poësie ewige bondgenote en bloedbroers is. (Waar het hy dit gelees? Het hy dit uitgeknip?) Hoe kan boesemvriende oor één hewige geskil waarvan hulle dalk oor ’n jaar geen besondere detail sal onthou nie, mekaar wil vermorsel? Maar watter bewonderenswaardige ie vir die verlore kuns van lees! Sou sy as boomliefhebber verstaan waarvan hy praat, of is sy self al byna honderd persent plantaardig? Dalk heeltemal gekant teen papier en die maak daarvan? “Jy hoef my nie te betaal vir hierdie konsultasie nie,” het sy gesê toe sy haar leë glas neersit. “Ek kan die meeste bome help, maar hierdie boom wil nie gehelp wees nie. Sfinks is in ’n geslote kring, ’n sirkel wat hy/sy self gemaak het, waarin hy/sy self sien kom klaar. Jy kan amper sê die boom is op sy eie, selfgemaakte eiland. Dit gebeur met mense ook, soms eindig dit goed, soms eindig dit sleg.” “Wat van Mozart, Schubert?” Sy het haar kop half weemoedig geskud. “Jy kan probeer, maar ek twyfel of dit die rigting . . . die néiging van die boom gaan verander. Musiek sal net nog meer groei aanmoedig, iets wat in hierdie geval nie wenslik is nie. Enige prikkel, énigiets, selfs die onskuldigste troetelwoord of sagste melodie, gaan hierdie boom verder laat groei. Jammer, hoor.” Toe vertel sy rustig van ander bome wat sy wel kon help: vrugtebome wat deur kapok geskroei is, kwynende eikebome waarop studente hul name uitgekerf het,
dennebome wat hul naalde verloor tot ’n hele plantasie poedelkaal teen ’n berghang staan, selfs ’n eeu oue kremetart wat sy van ’n stadige dood gered het. Hoe sy hulle moed inpraat en inspireer, haar hande in sirkels laat warrel om die regte energie in hulle wortelstelsel in te roer (sy demonstreer klein, suggestiewe bewegings). Hoe sy bome ’n dag lank streel en druk, die boonste takke aftrek om blare uit te stryk (nog sensuele bewegings); hoe sy messe, koeëls en verroeste byle uit stamme verwyder en die vergroeide wonde met haar tuisgemaakte boomsalf behandel. Sommige bome reageer op hul Latynse name; dié wat naamloos is, doop sy met nuwe name wat hulle opwek uit komas en nagmerries van versteende woude. Oral waar sy gaan, dra sy haar evangelie uit na boere, kleinboere, landboustudente, tuiniers en huisvroue. “Ons moet bome eer, want hul doel op aarde is om die lug en grond te suiwer sodat ons almal kan asemhaal. Dínk voor jy bome met kunsmatige pesbestryders besproei, voor jy takke afsaag.” Soos haar rolmodel Diana Beresford-Kroeger wonder sy ook: “Wie de hel het daaraan gedink om die laaste boom op Easter Island af te kap? Hoe slim was dít?” Sy vertel ook van haarself: sy woon saam met haar bejaarde man; hulle is kinderloos. Hy is ’n plant-illustreerder vir vaktydskrifte, hul woning ’n houthuis wat hulle saam in die Knysna-woud gebou het met hout wat goedgunstig deur bome geskenk is – gevalle takke en gekraakte stompe van reuse wat deur weerlig getref is. Eenkeer (so vertel sy) het sy in haar tuin gaan staan – ook in navolging van Beresford-Kroeger – en in ’n soort aanbidding van die uitspansel ’n swerm mossies uit die bome en bosse afgeroep na haar toe. “Hulle het op my arms, hande, skouers en kop kom sit, my so toegepak dat ek my asem moes ophou. My mond was vol donsveertjies, my bors bedek met fladderende vlerkies, bekkies en pootjies. Voëltjiesoentjies oor my hele lyf, die beste skoonheidsbehandeling! Ek weet ek het ’n aanvoeling vir die taal van insekte en voëls, maar Diana is my steeds een voor. Sy het ’n swerm bye uit die lug geroep met ’n Galliese spreuk. Die koninginby en haar gevolg het op haar arms geland en Diana in ’n lewende, bewegende, menslike byekorf verander. Hulle het haar só toegepak dat sy twee keer haar eie grootte was, só swaar gelaai met bylyfies dat sy skaars haar ledemate kon oplig, maar nie ’n enkele by het haar gesteek nie! Sy het hulle suutjies afgestroop in ’n nuwe korf en ’n maand later het sy die heeerlikste
heuning uitgehaal.” Die navorser was bedwelm deur haar stories. Dit was soos die soetigheid wat Simson uit die leeukarkas gehaal het, hy kon nie genoeg daarvan kry nie. Of dit waar was en wetenskaplik verifieerbaar, kon hom nie skeel nie. Sy was ’n wandelende heuningkorf van stories wat haar soetigheid in geelgoue hompe aan alles afgesmeer het. “My Druïdiese en Keltiese kennis kom van my Ierse ouma. Sy het in die Natalse Middelland met bessies geboer tot sy 93 was . . . die wonderlikste appelliefies, aarbeie, bloubessies, nastergal en frambose. Hulle praat van groen vingers – wel, my ouma s’n was pers. Haar vingers en lippe was gedurig pers gevlek van bessies pluk en proe. Soos haar voorsate het sy geleer om met plante te kommunikeer, na hul gesprekke te luister – al die mistieke rituele van boomfluistering! My grootouers het ’n heilige vertroue in my gestel en my ’n lewenstaak opgelê: ek sou met die natuur praat, ’n antieke stem wees. Ek sou praat uit die baarmoeder van die aaaaaarde.” Terwyl die boomkoningin se oerstem deur die navorser se resonansieholtes beier met die dreunsang van eeue, het ’n plan in hom begin posvat. Hy kon dit stukstuk sien oopwaaier, soos ’n pou wat sy praalstert vol alsiende oë in glinsterende varingvere oopsprei.
38
As die ergste kan gebeur, sal dit. Wees voorbereid op die ergste en vat dit van daar af. Ina weet nie of nou die ergste is nie, maar dis erg genoeg. Ongelukke kom glo in drieë, en in een week het sy haar kêrel, haar vriendin en haar werk verloor. En dit nadat sy probeer help het! ’n Ondeurdagte besluit wat tot geweld in ’n manstoilet gelei het. Dawid se dwalende oog en flirtasie met Daniella is nou nie juis ’n wending wat haar stom van verbasing laat nie – sy het al byna begin wonder wanneer Murphy sy wet sou toepas op haar eerste verhouding in jare. Wel, sy kan seker net haarself blameer. Hoe kon sy ’n TV-persoonlikheid, ’n “boer wat vrou soek”, vertrou om dieper as die vel na haar te kyk? (Was dit ooit meer as ’n hokgeveg?) The Worst Case Scenario het trappe van vergelyking, gemeet in afgrysliker, kranksinniger en ondenkbaarder, soos wanneer jy jou gesondheid, goeie verstand en lewe verloor. Die ergste is dus nóg erger as die stres en neerslagtigheid wat sy nou ervaar. Sy is afgedank (die begrip kom soos ’n floute oor haar, ondenkbaar, ’n skande) omdat sy “nie haar beat dopgehou het nie”. Dis ’n wrang ironie dat sy nie geweet het van die gesinsmoord reg langs haar ouers se huis in die dorp suid van Johannesburg nie. Hulle het self nie eens geweet nie, geen skote of gille gehoor nie! Na regte moes dit ’n groot scoop vir haar en die koerant gewees het, aangesien haar ouers langs die moordhuis woon. Maar al die (hoogs mededingende) Engelse dagkoerante en selfs die gratis gemeenskapskoerante het die storie geplaas voor sy uit haar stupor wakker geskrik het. Tot haar verleentheid moes sy dit tydens ’n nuusvergadering op die voorblad van die grootste Engelse koerant lees – genoeg bewys dat sy nie haar werk na behore
doen nie omdat sy agter ’n skim in die donker aan snuffel. Eers is sy deur Gys voor almal uitgetrap, ’n uur later deur die redakteur ingeroep. Sy was skuldig: haar gedagtes het gedwaal agter ’n man aan. Sy was stomgeslaan oor hoe vinnig alles afdraande gestort het. Die redakteur het haar innig, kopskuddend en met ’n baie sagte stem meegedeel dat sy al ’n paar keer mondelings gewaarsku is (deur die nuusredakteur), en dat dit telkens per e-pos gestaaf is (deur die redakteur). Kan sy dit ontken? Sy wou, maar sy kon nie. Dus had hy geen ander opsie as om haar mee te deel dat haar dienste nie meer benodig word nie. Sy is nie geskikte materiaal vir enige ander beat op die redaksie nie, ook nie in leefstyl nie. Alle poste is gevul en almal weet dat die maatskappy eerder aanlyn wil skuif as om verder in gedrukte media te belê. Haar pos sal tien teen een gevries word. Sy kan hierdie week klaarmaak, dis reeds naby maandeinde. Tot haar verbasing het sy nie in trane (van vernedering) uitgebars nie. Haar keel was net kurkdroog, sy wou onophoudelik sluk. Sy het vir ’n oomblik gevoel sy gaan die redakteur se lessenaar omskop en hom teen die strottehoof kap. Maar skuldig is sy, uit en gedaan. Sy het haar eie graf sorgvuldig gegrawe met haar eie soort “leefstyl”. Sy is nie hard genoeg vir misdaad nie. Lyke in die veld. Plaasmoorde. Kapings. Aanrandings. Verkragtings. Wat sal haar arme ouers daarvan dink dat sy uit haar eerste pos ontslaan is soos ’n stokkiesdraaier? Sy kan hulle nie blameer dat hulle haar nie van die gesinsmoord langsaan verwittig het nie – sy weet al jare van haar pa se aversie vir die bure. Dit het as ’t ware sy stokperdjie geword om hulle te beswadder en te verpes. Uit die redakteur se kantoor loop sy reguit na die kombuisie en maak vir haar koffie, melk en een suiker. Sy vermy kollegas se onderlangse toenadering, gaan sit by haar beknopte lessenaar in die oopplankantoor en begin met bewende vingers deur haar e-posse blaai. Uitnodigings na perskonferensies en gemeenskapsvergaderings (toegespreek deur polisiewoordvoerders en politici wat moeisaam van papiere af lees), spesiale aanbiedings (met baie uitroeptekens), gemorspos, kettingbriewe, persverklarings, nuusverwante grappies en foto’s wat verveelde kollegas rondstuur . . .
Skielik verstar sy, leun vorentoe. Daar staan dit in die naam- en boodskapkassie: DarkHorse. DaisyDeMelker. Sy klik op die nuwe boodskap. Jou berigte die enigste wat sin maak. Saak maak. Perspektief gee. Tyd dat ons ontmoet. Stadsbiblioteek, 12:00. Kom alleen. Sy lees die e-pos ’n paar keer, tot die woorde ’n hoorbare stem in haar gedagtes word. Pak vinnig haar skouersak, laat val haar selfoon in die vullismandjie en vis dit met ’n vloek uit. Sonder ’n woord aan enigeen stap sy by die kantoor uit. Oë op haar soos ’n speldereën. Kom alleen. Asof sy haar scoop met iemand sal deel! Sirkelman het haar genader! Alles het ’n ander kant, het haar pa haar geleer. Daar is gewoonlik die geluk by die ongeluk – as jy fyn kyk. En hier is dit nou: haar geluk by die ongeluk.
39
Dawid sak laer in die Defender se sitplek. As Ina hom nou moet raaksien, sal sy dink die goeie tydsberekening is net té toevallig. Dalk onthou hoe dit als tussen hulle twee begin het. Presies net so: op ’n afstand. Mekaar uitgekyk deur die karvensters. Sy het nog sy plakker afgeneem, hom laat voel hy’s ’n bedreigde eenhoringspesie. Hom gevlei: ’n rariteit onder moderne mans, harige gorilla tussen al daai haarlose, geparfumeerde metromannetjies. Hy hang terug, in tweede. In eerste. Die verkeer vloei beter as gewoonlik. Sy is steeds ’n ronde 10, dink hy bitter. Sy het al sy verwagtings oortref. Die goeie spiertonus van jare se karate, die weerbarstige houdinkie as sy hitsig raak, die bleek borsies en harde pruime van haar tepels, die tergende bruin oë. Sy hou daarvan om die leiding te neem. Beter nog, sy weet wanneer sal hý daarvan hou. Sy maak hom lekker laf met haar naels oor sy boarms, boude en laerug, wanneer sy dit deur sy borshare hark, sy oorlel byt, haar puntige pienk tongetjie in sy oorholtes druk. Sy ken die kuns van nat. En sy kan improviseer. Terwyl hy afrat, probeer hy tel hoeveel keer hulle dit gedoen het. Twee dosyn? Nee, minder. Hy’t gewoonlik moeg geraak voor sy begin verwelk. Puik, werklik púik. Sy het net geprotesteer as hy haar omdraai, agterdeurtjie soek. Nee, nie daar nie, Dawid, hou op! Jy soek my! Ja, hy soek haar. Nou weer. Hoekom weet hy nie. Nee, hy weet: want sy soek hom nie meer nie. Sy het sy gat by die deur uit geskop. Sy kon alles vat, álles wat hy na haar boul.
Wanneer hy haar met Marmite wou smeer en haar pensie skoonlek. Wanneer hy haar vra om op sy gesig te kom sit. Maar een ding wou sy nie: sy wou nie seerkry nie. Pyn is nie haar ding nie. Sy’t hom vinnig en ferm gestuit wanneer hy haar boud ’n rooiwarm klap wou gee, hom gewaarsku sy sal terugskop soos ’n muil. En sy sou. Hy weet sy kan sy knaters in sy maag in skop. Al die dinge wat hy met sy hoere doen – eers betaal en dan styf vasbind aan die stortkrane, ’n bietjie ligte kastyding en onderwerping – dit was out of bounds met haar. Sy’t hom wel toegelaat om foto’s met sy foon te neem, alles behalwe haar gesig. Sy was gefassineer deur die idee van haarself as seksobjek; sy kon dit veralgemeen en objektiveer: mans se fiksasie met kyk. Sy wou sien wat hulle sien. Hulle het ’n spieël op die vloer gesit, sy het ingestem om wydsbeen daaroor te staan, om effens op haar tone te lig, haarself na hom te kantel, hulle het saam afgekyk toe hy haar stadig penetreer. Vir haar nie ’n mooi prentjie nie, wel vir hom. Maar toe hy haar wou vasbind, het sy beledig gevoel. Het hy vergeet sy’s ’n misdaadverslaggewer? het sy skerp gevra. Sy sien die uiteinde van hierdie soort ding elke dag, en dis nie oulik of sexy nie. Hy’t hom met haar misgis. Sy kan uitdeel soveel as verduur, en dit kan net moeilikheid beteken. Met sulkes maak ’n boer ’n plan. En daai ou dooie drel van ’n pa. Stereotipe van die wimp wat vroeg grys geword het, ’n dwaalgees wat sy graf soek. Die oukêrel het geen geheim gemaak van sy weersin in hom nie. Hoe meer die geplooide ou kaalkop sy wenkbroue lig en sinies glimlag, hoe meer wou Dawid soos ’n aap aan ’n tak swaai. Regte ou Fariseër, afgewitte graf. Kyk kwansuis nie rugby of boks nie, te bloeddorstig en gewelddadig. Kom nooit tussen koeie en skape nie uit vrees vir bosluise en siektes, en die wildtuin sien hy net op TV.
Slim, slim soos die houtjie van die galg. Waarheen ry sy nou? Middestad? Hy kan nie te ver agter haar terugval nie; sy sal deur ’n rooi lig glip en dan sit sy turf. Sy jaag vandag soos ’n blouwit duiwel in die Honda Jazz, jeukvoet op die petrol. Is sy op pad na een van haar crime scenes? ’n Betoging van die vakbonde? Of is dit ’n afspraak met daai blonde maergat wat sy in die kroeg gesien het, agter wie sy aangedraf het soos ’n teef op hitte? Dis al wie dit kan wees. Haar “Sirkelman”. Sy draai by ’n parkeergarage in. Hy tel tot drie en volg haar die donkerte binne.
40
GRATIS BESNYDING by Dr Maphisa en Vennote, Lister gebou, Jeppestraat 195, Johannesburg, 8vm – 3nm daagliks. Geen besprekings. www.dramaphisaandpartners.com 011 333 3939 SMS STOP om op te hou
41
Met die uitklim laat Ina haar foon val. Al weer, die tweede keer in ’n uur. Wat gaan aan met haar koördinasie? Dié keer spat die foon vermakerig uiteen met ’n blikkerige kraak en die klein swart battery skuif diep onder die kar in. Hande-viervoet op haar knieë in taai olievlekke probeer sy dit bykom, steek haar arms beurtelings diep onder die kar in. Tevergeefs, dis te donker om te sien waar die battery is. Sy voel-voel vloekend en kreunend, selfs agter die wiele in, maar niks. Sy staan op en voel lus om die Honda te skop, registreer net vaagweg die getjier van ’n groot voertuig se bande by die ingang. Met spoeg op ’n sakdoek probeer sy die kolle van haar jeans se knieë wegvee. Selfs in die skemerte kan sy sien haar handpalms en naels is pikswart van die olie. Kyk, sy gee nie om vir ’n bietjie vuil nie, ’n joernalis kom op snaakse plekke, maar nou moet sy hóm gaan ontmoet – in ’n biblioteek tussen wit bladsye. Sjarmant! Sy gooi die selfoon op die sitplek neer en klap die deur driftig toe. Sy sal later die battery soek, dit moet iewers onder die kar lê, voorlopig veilig. Sy moet net onthou om nie daaroor te ry nie. Vreemd hoe kaal mens voel sonder die verdomde ding! Daar is studente buite op die breë trappe van die Stadsbiblioteek. Sommige lees boek of koerant, ander eet-en-gesels met oop monde, vaardige vingers tik op slimfone en tablette. Almal in modieuse klere, hare wat uitspattige stellings maak. Bright-eyed and bushy-tailed. Sy voel skielik oud. Die son is te skerp en sy onderdruk ’n nies. Sy draf die trappe op na binne. Waar sou hy wegkruip? Dis ’n groot, blink plek in Italiaanse styl, voltooi in 1935 en onlangs omvattend opgeknap met ’n $2 miljoen-hupstoot van die Carnegie Korporasie in New York en sowat R55 miljoen van die stadsraad. ’n Waardige belegging in opvoeding vir
’n nuwe generasie. Sy het bedenkinge oor die monumentale klassieke boustyl met langwerpige vensters, neo-Renaissance balustrades, balkonne en ysterwerk – lyk meer soos ’n parlementêre gebou as ’n bewaarplek van kennis en kultuur. Die gewyde stilte van rye studente in die onderskeie sale verras haar, almal tjoepstil gebuk oor naslaanwerke, tablette en notaboeke. Die fokus en konsentrasie van die nuwe generasie leiers is aansteeklik. Sy het verwag dit gaan leeg wees, ’n uithangplek vir ou mense en haweloses. Sy loop vinnig deur al die ruimtes: die koerantleeskamer, kinderbiblioteek, sentrale naslaanbiblioteek, Michaelis-kunssaal, musiekbiblioteek, Harold Strange Biblioteek vir Afrikastudies. Baie van die manstudente dra hoodies, denims en tekkies – maar sy kan nie die blonde krulle en lenige lyf herken nie. Dan tref dit haar: die multimedia-biblioteek. Dís waar iemand soos hy helder oordag sal wegkruip. Daar’s drie mense agter rekenaarskerms, ’n tiener wat skool ontduik en Sudoku speel op ’n slimfoon, ’n meisie met kaalgeskeerde kop wat haar Facebookprofiel opdateer . . . en hý. Hy leun vooroor met ’n krom rug, kop dig teen die skerm asof hy ’n grens wil oorsteek. Terwyl sy ademloos nader loop, wonder sy wat sy eerste woorde gaan wees, hoe sy stem gaan klink. Sy voel sy ken hom al uit die ooggetuies se waarnemings, asof hy verlangs bloedfamilie kan wees, ’n agterkleinneef, of ’n vergete klasmaat. “Verskoon my . . .” Hy draai nie om nie. Dis die rug wat sy onthou van die dansbaan. En daar op sy regterhand, tussen blonde haartjies, die klein blou spinnerak soos ’n gesmeerde duimafdruk. “Sit solank. Ek maak net gou iets klaar.” Nie juis ’n aantreklike stem nie, skor en toegeknyp. Hy skud nie hand nie. Sy is tegelyk teleurgesteld en verlig omdat haar hande so
smerig is. Sy trek ’n stoel op wieletjies nader, gaan sit, hande op die oliekolle op haar knieë. “Ek’s Ina.” “Raymond.” “Ek neem aan dis nie jou regte naam nie.” Sy kan net die profiel van sy gesig sien, maerder as wat sy verwag het, asketies. Ouer ook . . . in sy vroeë dertigs? “My van. My voornaam verander gereeld.” “Donkerperd?” Vir die eerste keer kyk hy haar aan, ’n skok wat haar lam maak. Die koel blou oë verraai niks. Sy ril, maar dwing haarself om nie weg te kyk nie. “En Daisy de Melker? Is sy nie die mees berugte serial killer in ons geskiedenis nie?” “Jy bedoel meer berug as Verwoerd?” “Verwoerd was nie ’n vrou nie.” Ná ’n stilte wat haar kriewelrig maak, skuif daar iets soos ’n glimlag oor sy gesig. Hy tik die naam in en spoedlees die Wikipedia-inskrywing. “Twee van haar mans én haar seun gif ingegee vir die lewensversekering. Die tweede vrou in Suid-Afrika om gehang te word. Lekker psycho,” sê hy neutraal. “The milk of human kindness is poison . . .” “Iets wat jy bewonder?” “Bewonder? Nee. Hél, nee. Maar sy’t haar merk gemaak.”
“Daar’s beter maniere om jou merk te maak. Meer positiewe maniere om onthou te word. Is Jack the Ripper een van jou rolmodelle?” Hy draai sy stoel vinnig na haar toe. “Op rekord? Is hierdie ’n onderhoud?” Sy deins terug, onseker oor die dieper inhoud van sy vraag. “Nee. Nie vir publikasie nie. Ek bedoel . . . ons . . . ek waardeer jou tyd. Ons praat net. Nes jy wil.” Sy kan voel sy gaan bloos en haal haar notaboek uit. “Ek gee nie om wat mense van my dink nie,” sê hy. “Hulle kan my haat of bewonder, ophemel of afkraak. Dis als piekfyn met my. Dis als net soveel stink wind. Die internet vermenigvuldig . . . elke oomblik, dit groei tot ’n kosmos. Almal is beroemd. Almal google hulleself. Elkeen is op ’n moerse missie. Elkeen het duisende vriende. Ek het fans maar geen vriende nie. My ‘berugtheid’ is ’n muggie in ’n orkaan. Onthou my, vergeet my, dit skeel my nie.” Sy skryf: Roem skeel hom nie. Sê dan: “Ek weet wat jy bedoel. Wanneer almal beroemd is, is niemand meer beroemd nie. Andy Warhol se vyftien minute roem het vyftien sekondes geword, vir almal. Maar miskien sal jy oor ’n paar jaar omgee. Ek hoor dit word belangriker soos jy ouer word.” “En as ek nie ouer word nie?” Hy slaan haar dronk. Oorweeg hy selfmoord? Is hy ’n tikkende tydbom? “Oukei dan. Is dit waaroor jy wou praat, jou missie? Waarom wou jy ontmoet?” “Ek wou nie ontmoet nie, jý wou. Ek het gedink ek sal jou beloon vir al die gratis publisiteit – ek lees al jou artikels. Ek wou jou in lewende lywe ontmoet, face to face.” “Wel, dankie . . . Raymond. Bietjie laat. Ek’s vanoggend afgedank. Oor ek my werk verwaarloos het . . . wel, basies oor jou.” “Ek weet.”
“Wat? Jy weet al klaar ek’s afgedank?” “Ek het my bronne daar . . . en oral.” “Ek moet seker nie verbaas wees nie. Jy’s ’n hacker.” “Kuberkraker.” Weer daai blitsige glimlaggie – ’n e-poskennisgewing wat kom en gaan in die hoek van die skerm. Hy erken dus hy’s ’n kuberkraker, dink sy, aan die verkeerde kant van die gereg. “Ek kies dinge sonder dat ek weet waarom,” sê hy. “Ek kies blindelings, ek volg my neus. Mission Impossible. Mission Unknown. Mission Crazy.” “Wat kies jy blindelings?” “Boeke. Projekte. Plekke. Mure. Name . . . Daisy de Melker. Ek het gehou van die moederlikheid van die naam, borsmelk en blomme, ’n naam wat so veilig en vriendelik klink, nè? So voedend en mooi, melk en blommetjies, maar eintlik gevaarlik en toksies. Die teenoorgestelde van die werklikheid.” “Jy bedoel, dis hoe ons nou leef. In konflik met onsself, met betekenis. Ons is liggelowig.” “Blindelings in die stroom. Ons is onsself, maar ons is ook meer as onsself. Of minder. Ons leef asof ons in reality TV rondneuk, ons eie, befokte klein movie. Ons is geaktiveer, oorgestimuleer, aanlyn maar ontkoppel, geprogrammeer, gebreinspoel . . . Ons is almal aktiviste, op ons eie klein mission. Ons dink ons weet, maar ons weet nie.” “Geaktiveer. Aktiviste. Ek dink nie ek verstaan nie?” Die kaalkop-meisie sjjjjjjjj hulle met ’n kwaai kyk, gee ’n harde tongklap wat deur die vertrek galm. Hy knik vir haar, tik iets op die toetsbord en hys sy rugsak oor sy skouer, staan op. “Moet jy terug kantoor toe?” vra hy. “Eintlik, ja, maar wat de hel.”
“Het jy ’n kar hier?” “Jip, onder in die parkade.” “Gee my ’n lift. Ek wil jou iets gaan wys.” “My petrol is bietjie laag.” “Dis nie ver nie. Ek sal jou tenk volmaak.” Vir ’n oomblik wonder sy of dit dubbelsinnig bedoel is. “Oukei.” Sy volg hom in ’n waas na buite, haar droom van die Sirkelman op sy stadsrondtes, met haar blosend agterna. Al het haar ouers haar dit van kleins af ingeprent om weg te bly van innemende vreemdelinge. Sy weet nie eens of Raymond sy regte naam of van is nie, maar dit lui ’n klokkie in ’n hoekie van haar brein. Sy moet koes om nie ’n paar studente met oorfone uit die aarde te loop nie. Helder sonlig in die Afrikastad, die onvermydelike nies. Iemand draai sy rug op haar, ’n groot man . . . Sy wil behoorlik kyk, maar Raymond het haar hand gevat en trek haar oor die plein na Markstraat. Sy hand is maer, benerig en sterk. “Dalk sal jy verstaan,” sê hy. “Dalk nie. Antwoorde hang af van die vrae.”
42
Man klim in tiers se hok vir selfdood
BEIJING. – ’n Depressiewe man het homself aan tiers probeer voer, maar het sy selfdoodpoging oorleef. Yang Jinhi (27) het die naweek in ’n boom geklim en in die Bengaalse tiers se kamp gespring in die Chengdu-dieretuin in die Chinese provinsie Sichuan. Geskokte omstanders het gesien hoe hy twintig minute lank probeer om die tiers se aandag te trek. “Ek het hulle gevra om my te byt en my te eet, so ek sou nie terugbaklei nie,” het hy volgens die Chengdu Business Daily gesê. Hoewel hy deur die tiers gekrap en gesleep is, het hulle hom nie opgevreet nie. Die dieretuinpersoneel het die tiers verdoof om Yang te red. Hy het sestien klein wonde opgedoen. – AFP
43
Ses dae duisternis. Ses dae met kerse en flitse. Die navorser en sy vrou het pakke kerse gekoop, wit, geel, blou, rooi en groen kerse, in elke kamer ’n kers of drie neergesit, ’n rooie op die boekrak in die gang, ’n bloue op die badkamerkassie, drie geles op die kombuistafel, vier wittes in ’n kandelaar op die spieëlkas om meer lig via die spieël te weerkaats. Oral was dit so: hulle kon die dofgeel skynsel en flikkerings van kerse deur die vensters van ander huise in die buurt sien. Al die verkeersligte was buite werking. Mense het met groot hoflikheid oor kruisings gekruie, mekaar voorkeur gegee. Die navorser se vrou het vir hulle twee verstelbare kopligte gekoop waarmee hulle saans soos myners op die bed kon lê en lees, hulle verbeel hulle delf diep onder die aarde in tonnels vol stories. Hulle het water op die gasstofie gekook vir koffie of rooibostee. Al die ysblokkies het gesmelt, die vleis en kaas het vreedsaam gevrot in die vries-enyskas. Koue storte. Warm whisky. Swart koffie. Groen tee. Hulle het koue maaltye beplan: vrugte, pastaslaai, toebroodjies. Die geyser se water was darem nog ’n dag of wat warm, hulle kon een keer bad in ’n stralekrans van kerslig. Iewers het ’n kragsentrale glo uitgebrand. Iewers is koperkabels glo gesteel. Saans het hulle op die voorstoep gesit en opgekyk na die sterre wat skielik weer helder was, die bewegende rooi knipogies van Boeings op pad na OR Tambo. Geen televisie, geen rekenaar, geen haardroër, geen broodrooster, geen mikrogolf. Hulle kon nie hul selfone laai nie. Die telefoon was al apparaat in die huis wat werk en sy vrou het ure lank by kerslig met vriendinne geklets. Ou vriendskappe is só hernuwe. Ses dae en ses nagte sonder krag. Hulle het in die motor gaan sit en karradio geluister – radioverhale op RSG, die
nuus en sakenuus op Classic FM. Hulle het hande vasgehou soos tieners. Ondanks wrang grappe oor Eskom, korrupsie en patetiese diens was hulle gelukkig. Hulle het ritte na die Kaap, Namakwaland en die Bosveld onthou, nuwe reise beplan. Hulle het uitstappies na die inry onthou. Hy het haar vertel van die boomfluisteraar en hulle het hulle slap gelag (hy’t effe skuldig gevoel oor die verraad). Hulle het na ’n ander voorstad gery om Kentucky Fried Chicken te koop. Dis hoe ons nou lewe het sy nuwe mantra geword. En só het ons voorsate ook geleef, voor die Industriële Revolusie en elektrisiteit en die internet. Die oumense het brode in miershope gebak en hul eie heuning uitgehaal. Hoe het daardie mense van vervloë jare die lang aande omgekry? Hulle het vure gestook en mekaar vermaak met stories en baie seks gehad (daarom was die gesinne so groot). Skemeraand het die navorser houtskool aangesteek en hulle het wors gebraai onder Sfinks se roerlose takke, gesigte glimmend in verligte rookspirale. Almal het gebraai – hulle kon die braaivleisvure langsaan ruik. Almal het uit hul donker huise gekruip soos bere uit ’n grot ná ’n lang hibernasie. Kinders se flitse het strale lig die donker hemel ingeskiet. Krieke het die nag vreemd toweragtig laat druis. Die buurtwag se skerp motorligte het die strate blok vir blok afgemeet. Rufus het in die struike rondgewip en gekrap met nuwe energie; ’n paar oggende was daar ’n papgekoude rot op die trappe by die kombuisdeur. Hulle was bang die huis brand af van al die kerse. Een vergete kers in die badkamer het deurnag bly brand tot ’n misvormde stompie wat wegsmelt in ’n waspoeletjie. Tieners het verlang na hul videospeletjies en het Einde van die Wêreld-partytjies gehou, in swart swembaddens geduik en Halloween-maskers gedra. Besighede het hul personeel huis toe gestuur en groot verliese gelei. Almal het gewag en gevloek, gevloek en gewag. Straatmites het die rondte gedoen, van gesiglose rondlopers wat honde vergiftig en wasgoed van die drade af steel. Almal was in dieselfde bootjie. Sekuriteitskameras was siende blind. ’n Kar met luidsprekers het half verstaanbare boodskappe van ver af uitgebasuin oor ’n gemeenskapsvergadering in die stadsaal. Kom lig julle griewe en sê julle sê! het handgeskrewe plakkate verkondig (die navorser het hom verkneukel in die woordspel, sekerlik onbedoeld). Die welgesteldes se kragopwekkers het gedreun en die rus van minder gegoedes versteur. Mense het bespiegel wat sal gebeur as daar die moeder van alle kragonderbrekings kom wat ’n maand, ses maande, ’n
jaar lank duur. Die navorser het deur die huis geloop met nuwe oë, hy kon sien soos ’n kat, kontoere van meubels en ander voorwerpe vertaal in verstaanbare bakens. Sy vingers het alles leer lees, soos ’n blinde wat nuwe paaie verken en in sy liggaam opneem. Braille vir die kragloses. Dis hoe ons nou leef. Een nanag, toe die kragopwekkers stil raak en sy vrou snorkies van diep slaap gee, het hy suutjies opgestaan en sy koplig aangesit, gangaf na die kombuis agter die koue ligstraaltjie aan geloop, die agterdeur saggies oopgesluit, kaalvoet oor die klam grasperk na die garage gestap, vaagweg bewus van Sfinks se sade soos trillende sprinkaanvlerkies tussen die blare. Hy het die houtdeur piepend oopgestoot, gewag dat iets gebeur, en toe niks op hom toesak nie, die klein kollig oor die tuingereedskap, stukkende meubels en kartondose vol boeke en speelgoed laat speel met die stadige draai van sy kop. En daar by die venster met die gekraakte ruit op die skewe boekrak was dit: die bonsai met sy boomkasteeltjie. Hy het afgebuk om beter te sien, gestreel oor die huisie wat hy met sagte balsahout, Bostik, kwassies en knyptange in die miniatuur-takkies gebou het. Drie vlakke wat met trappies verbind word, ’n stoepie en ’n torinkie. Alte fraai, en ’n goeie oefenlopie vir die ware jakob.
44
Dawid draai in een skoon beweging weg, koes agter twee lywe in en hou aan stap oor die Stadsbiblioteek se plein. Donnerwetter! Dit was so hittete of hy en Ina loop trompop in mekaar vas. Maar hy dink nie sy’t hom herken nie, duidelik te vasgeketting aan haar nuwe boyfriend. Maar dit was amper, my maat. Net toe hy sy move maak, want sy was al ’n volle 24 minute in die gebou en hy wou gaan seker maak sy’t nie dalk ’n sydeurtjie gekies agterstrate toe nie. Hy’s taamlik seker sy sou sy naam geroep het as sy hom herken het. Dis haar manier. Reguit, selfs roekeloos, geen wag voor haar mond nie. Hy volg hulle op ’n afstand na die parkade. Vleg tussen groepies jonges deur wat staan en gesels, sypaadjiehandelaars, sakemanne met aktetasse, ’n boemelaar wat ’n winkeltrollie stoot, ’n karwag wat hom dringend en sleeptong roep. Dawid hou net ’n gebiedende wysvinger op – dikwels genoeg om ’n gatvlieg te verwilder. Dié nuwe manier van jag laat sy sintuie verskerp, sy hartklop versnel effe, hy’s in die zone . . . As hy nou sy .22 by hom gehad het, sou hy hulle kon volg met die visier op hul blaaie, sou hy verder agter hulle kon bly in die los gemaal. Toe hulle by die parkade instap, gaan hy oor tot ’n stormlopie, soos toe hy op die skoolveld in die o.16’s ontplooi is. Hy was nooit ’n briljante stut nie, tog sterk en betroubaar, ’n aanwins vir die span. Rugby-befok was hy ook nie, maar dit het hom onder die aandag van ’n paar meisies gebring wat hom andersins sou vermy het. Nou kan hy weer al die spiergroepe voel saamwerk, bloed wat deur sy are bruis, lug wat in sy longe pomp, die aarde wat onder hom dreun, hiperbewus van sy omgewing. Al is hy solied en swaar, is hy fiks, rats en doelgerig. Van agter ’n pilaar sien hy hulle by haar motor, sy sluit die asiersdeur oop en stap om na die bestuurskant. Albei klim in, hy eerste. Hulle lyk nie besonder
haastig nie, sit en gesels eers ’n bietjie. Dan skakel sy aan en trek weg, kyk rond vir die uitgang. Dawid glip van pilaar tot pilaar, hardloop gebukkend agter geparkeerde voertuie na die Defender, sluit oop en duik in. Binne sekondes is hy op straat en twee voertuie agter hulle. Hy skiet oor rooi verkeersligte om by te bly. Een keer moet hy remskop en – te laat! – agterbly by ’n verkeerslig. Hy sien hoe hulle oor die volgende een ry, nou’s hulle vir seker weg! Maar hy haal hulle weer in by ’n opdamming van karre en mense waar ’n bondel minibustaxi’s die pad vol staan. Waarheen is Ina en die maergat op pad? Hulle sit soos standbeelde, met Ina wat soms haar kop draai en praat. Die stad is nie die plek vir ordentlike mense nie, dink Dawid. Vuil, stink, lawaaierig, ’n hool. ’n Stroom van swart gesigte, nêrens meer ’n wit mens op straat nie. Hulle het oorgevat, die stad is besig om in die modder weg te sink. Kan hulle nie hulle plek skoon hou nie? Waar’s hulle trots? Hy sit sy donkerbril en kamoefleerpet op en sy bors swel. Sy jagmes is onder die sitplek, hy’s gereed vir enigiets – laat hulle kom! Een soort wildernis is soos die ander. Hulle is op pad na die heuwelvoorstad, sien hy, ’n plek wat hy gewoonlik vermy. Hillbrow.
45
Ina wil heeltyd na die skraal man langs haar loer. Haar hand brand behoorlik van die haastige kontak wat hulle netnou gehad het toe hy haar oor die plein getrek het. Die Sirkelman is in haar kar! Maar sy’s in die sleurstroom, sy beter konsentreer op die verkeer, anders kan sy ’n ongeluk maak. Die stad maal onophoudelik, ’n besoedelde kolk van kleure, toeters, taxi’s wat in strepe oor rooi verkeersligte jaag, voor haar indruk sonder om ’n flikkerlig aan te sit, mense wat oor strate drentel asof hulle nie weet hulle kan getref word nie. Johannesburg vul haar met ’n maagdraai-sensasie van opwinding, woede, afgryse – dis ’n vreemde plek wat haar konfronteer met haar eie vreemdheid. Sy kom dikwels hier wanneer sy die howe besoek, maar sy raak net nie gewoond daaraan nie. Sy geniet die bontspul van mense, die variasie, die dolle vaart en energie; sy probeer haar preutse perspektief hersien, maar dit bly vir haar die antitese van skoonheid en vrede. “Kyk hoe ry hulle,” mor sy. “Padreëls geld not ’n donner vir hulle. Dis flippen onverdunde chaos.” “Ja, chaos is dit.” Dis waar hy tuis voel, dink sy. Vrede is nie sy nering nie. Hy’s ’n agent van chaos. “Ek het nou die dag weer gekyk na Robert Altman se The Player. Ken jy dit?” vra sy. “Nee, het nie tyd vir fliek nie.” “Daar’s ’n karakter daarin wat my aan jou herinner.”
“O? Voor ons ontmoet het?” “Wel . . . ja. Seker ’n soort vooraf-weet, kennis van iewers, déjà-vu.” Sy kyk na hom – skalks – glimlag hy? Sy tande is nie mooi nie, klein, skeef en ongelyk. Sy klere gee ’n vae sweetreuk af. Die Sirkelman is vlees en bloed en sweet. “Greta Scacchi speel hierdie kunstenares,” vertel sy, “daar word na haar verwys as ’n yskoningin, want sy hou van blou en sy ervaar nie empatiese gevoelens soos ander mense nie. Sy kan nie huil by die begrafnis van haar vermoorde kêrel nie. Sy vind die idee van rou vreemd. Sy woon in Hollywood en leef soos ’n hippie, maar sy’s ryk. O ja, en sy praat met hierdie posh Britse aksent, alles sulke bitsige konsonante. Verder leef sy wild en vry en maak wat sy wil. Sy maak kuns om selfsugtige redes, om niemand anders as haarself te plesier nie, sy wil dit nie verkoop of ’n wins daaruit maak nie. Kortom, sy gee nie om wie daarvan hou of nie. Enige tyd van die dag of nag is sy besig daarmee en gelukkig met wat sy maak. Sy volg elke instink sonder om dit te bevraagteken. Wanneer iets haar roer, moet sy dadelik uiting gee aan die impuls, sy moet dit uitstort op die doek. Sy skilder vreemde goed – gesigte wat loer deur golwe en slierte kleur. Sy neem bisarre portretfoto’s van die protagonis, ’n rolprentvervaardiger gespeel deur Tim Robbins, en weef dit by haar kunswerke in. Dis psigedelies, onvoltooid, morsig. Beslis nie mooi nie, dis seker die hele punt. Sy werk oorhaastig, asof iets haar jaag, agter ’n drang aan wat sy nie verstaan nie. Sy noem haarself ’n ‘pragmatiese anargis’. Klink dit nie bietjie soos jy nie?” “Chaos is baie aantreklik vir my,” mompel hy en kyk weg na geboue, plakkate, spaza shops, gekraakte ruite, mense en karre wat verbyflits. “Is dit nie vir alle kunstenaars só nie? Morsig?” vra hy dan. “Kinders begin met krabbels wat hulle inkleur. Hulle druk verfhandjies teen mure en hul ouers dink dis vreeslik oulik. Maar gou word hulle geleer om binne die lyne te bly. Die kunsjuffrou wys hulle hoe om ’n perfekte sirkel te trek, stuur hulle handjies met die potlood. Dan leer hulle ‘tegniek’, ‘vorm’, ‘struktuur’, ‘kleurwiele’. Maar in die begin was daar net krabbels. Chaos en vryheid . . .” “Maar tegniek móét tog volg. Jou Leonardo da Vinci-man is klassiek, Eurosentries, proporsioneel die ideaal. ’n Kaal man in ’n perfekte sirkel. Wie’s hy nou eintlik?”
Hy haal skouers op. “Niemand. Ek. Jy. Dis ons almal. Gespalk. Op hol.” Sy giggel skielik. “Herinner my aan een van daai groot rubberballe waarin jy kan klim en rol soos jy loop.” Hy knik net, asof die gesprek hom begin verveel. Sê dan: “Hou links. Draai hier.” Hulle ry verby die ou kunsmuseum in Joubertpark. In die middel van die pad wat sy doer in die verte teen ’n heuwel sien uitklim, pryk die voltooide bushaltes, met vele nuwe bane rondom waarna die verkeer gelei word. Nie dat dit die oorlaaide minibusse keer of enigsins vertraag nie. Hulle jaag oor rooi verkeersligte, ook in die buslaan, wip oor lae versperrings en kompeteer vrolik met mekaar. Die verbouings bied nuwe geleenthede vir kattekwaad en jaagspeletjies; vandag baljaar die taxi’s in Twiststraat, vleg ritsend tussen die ander voertuie deur. ’n Plakker op een se agterent waarsku: When days are dark, friends are few. “Waarheen vat jy my?” vra sy. “Nie meer ver nie. Hou goeie moed.” “Een ding wat ek nie kan verstaan nie, is dat mense so opgewerk raak oor wat jy doen. Hulle behoort eerder dankbaar te wees dat jy die stad probeer mooi maak, hulle behoort jou te betaal vir jou pogings.” “Sommige vind dit lelik. Naaktheid is gevaarliker as geweld. En ek het nie die amptelike kanale gevolg nie. Dit maak my ’n krimineel.” “Hmmm, ja. Amptelike kanale vir kuns? Dodelik.” Sy het soveel vrae vir hom gehad en nou kan sy aan niks dink nie. Sy wil notas neem van hulle gesprek, maar haar oliebevlekte hande sweet en kleef aan die stuurwiel. Sy wil alles woord vir woord onthou, hom korrek aanhaal, reg laat geskied aan sy enigma. Maar dit toeter en swenk om haar, ’n ballet van wanorde wat haar konsentrasie bedreig, sy’s klaar besig om haar eie definisies en logika op sy woorde af te dwing. Sy moes haar kamera en ’n bandopnemer gebring het. Sy veg teen ’n floute. “Hou in die regterbaan,” beduie hy. “En by die volgende robot, draai regs. Dan
dadelik weer regs, in by die garage van daai gebou op die hoek, sien jy, daar’s die ingang.” Sy verminder spoed, klits die flikkerlig met ’n wysvinger, volg instruksies. Toe sy terloops opkyk na hul bestemming, snak sy na haar asem.
46
Hulle verdwyn in ’n gapende swart keelgat af. Dawid hou stil voor ’n bushalte terwyl hy staar na die plek waar Ina se kar ingedraai het. Dit lyk of die spookgebou enige oomblik in duie kan stort. Maklik die vrotste krot wat nog in dié baie vervalle buurt staande gebly het – as mens van staan kan praat. Dit leun, wankel, ’n onherkenbare oorblyfsel van beter dae. Die geraamte van vier verdiepings lyk of dit jare gelede al uitgebrand het. Sedertdien is dit gestroop van alles wat bruikbaar kon wees: kabels, wasbakke, teëls, deure, traprelings, vloere, pype, krane – enige soort afwerking buite en binne. Die dak is weg aan die een kant. Die res van die dak hang soos ’n stukkende seil. Nie ’n enkele ruit het die hamer van die tyd oorleef nie; swart vensterrame gluur soos die hol oogkasse van ’n skedel. Swart strepe en skewe vlekke gooi skadu’s soos vlamme teen verkrummelde mure. Dawid skud sy kop. Dis die soort murasie waar ’n stuk muur jou kan doodval. Waar jy deur ’n vloer kan bliksem en jou nek breek in ’n kelder vol rotte en stront. Maar Ina en haar blonde heldjie het vreesloos daar ingeseil asof daar geen gevaar op aarde is nie. Op die sypaadjie is daar elemente wat hom aanstaar en bespreek, ’n groepie van drie jonges by ’n asblik, vroeë twintigs, beslis werkloos. Hy vloek, byt sy tong raak. Proe bloed. Hy kan om die blok ry, maar hy weet by voorbaat dis ’n mors van tyd. Hier is nêrens veilige parkering nie, en oral is elemente. Nie eens een karwag nie. Om die Defender op straat te los, is groot kak soek en skade is gewaarborg. As hy nie gekaap word nie, gaan hy besteel word, sy wiele of battery verloor of erger. Wel, hy’s gesnoeker. Hy kan sy kanse waag, dubbel parkeer en hier wag, maar
ingaan durf hy nie. Hy bel haar selfoonnommer. Kry die boodskapdiens. Sy het óf haar foon afgeskakel óf daar’s geen ontvangs waar sy nou rondhang nie. Wat de hel doen sy in so ’n hool? Is dít die storie wat sy al so lank jaag? Wat soek ’n wit man in so ’n plek? Kan sy in gevaar wees? Moet hy die held speel? Instorm soos Bruce Willis met jagmes en guns blazing? Afreken met die klein maergat wat oral inmeng? Sal sy hom nog ’n kans gee? Hom uitluister? Sal hy ooit weer kalm raak? Die spieël op die vloer weerkaats hulle. Haar bene, sy bene, glad teen harig, die wrywing, die warm mik van samekoms. Die inglip. Hy leun oor haar rug, streel haar hare, soen haar nek. Sy kyk om na hom en lag. Tien uit tien. Hy kreun. Moker sy vuis twee keer teen die binnekant van die kardeur. Vir die soveelste keer vandag kook sy binneste, voel sy kop vasgeklem in ’n ystergreep. Hy wil wurg, sny, steek, skiet, moer, skree. Iets in klein stukkies breek. Bliksem, donder, slaan, skeur. Verbrokkel hy vandag hier in Hillbrow? Hy’s lankal nie meer in die Vrystaat nie, die plaas en beeste ’n blote herinnering, ’n gans ander bewussyn; hy’s gestrand in ’n stad wat hom vyandig gesind is. Maar hy wéét wie hy is. Hy maak aggressiewe oogkontak met die elemente, hou aan kyk tot hulle laggend padgee, oor skouers terugloer terwyl hulle na blikke skop. Hulle voel dit seker deur die windskerm: sy polsing van woede. “Dis reg, konte. As julle weet wat goed is vir julle.” Dit gaan reën. Daar word elektriese storms en hael voorspel. Hy sal wag.
47
Die beste soort slaap, só glo die navorser ná dekades van eksperimente, is wanneer jy die volgende oggend niks onthou nie. Wanneer jy in genade versink was en nie heeltyd onderlangs bewus van tyd wat in ’n verskuiwende moeras wegsyfer nie – daardie pynlik vermoeiende rondrol wat opdrifsels van gedagtes, verwyte en drome laat uitspoel. Die tweede beste slaap is wanneer jy die volgende oggend alles onthou. Wanneer jy met ’n glimlag opstyg uit ’n oase waar geiltes jou verkwik het, waar elke volkleur-visioen, elke smaak en trilling jou voltooi het. Jy het dalk nie veel gerus nie (selfs voedende drome kan oorstimuleer) maar jy hunker daarna om dadelik terug te tuimel in die lieflike hersenskim. Die navorser se kasteeldroom het gespruit uit die tweede soort slaap: ’n gedetailleerde helderheid wat hy oor dekades al saamdra en hom in verlustig. Selfs in donker tye het dit soos ’n kosbare juweel in hom geflonker. Goeie slaap . . . die raaiselagtige toestand wanneer liggaam en siel gesalf en gekonsolideer word. Waar jy in simboliek getooi word, gepantser vir die daaglikse stryd. Dis moontlik waar sy liefde vir raaisels vandaan kom, iets wat hy aan sy dogter oorgedra het. As kind kon sy omrol en – net so! – spoorloos in slaap verdwyn. Hy moes langs haar gaan kniel, sy oor digby haar mond, om seker te maak sy haal nog asem. Tydens vakansies by die see kon sy soggens kouend aan Coco Pops haar drome in ryk besonderhede oordra, hul nagtelike rolle van storieverteller en luisteraar bevredigend omgekeer. Hy was versigtig om nie ’n vertolking op haar brose nagvondste af te dwing nie; hy kon haar hoogstens met fyngekose, nugter woorde na ’n begrip lei van hierdie skatte uit haar onderbewuste.
“Dalk kan dit wees dat jy . . . Laat mens amper dink aan die keer toe jy . . .” Die antwoorde kan nie klinkklaar wees nie, het hy gemaan. Drome is raaisels wat nie presiese interpretasies toelaat nie. Op pad see toe en terug kon hulle die pad korter maak met raaispeletjies. “Ek sien iets wat begin met ’n K . . .” “Kragstasie!” “Klop-klop . . .” “Wie’s daar?” “Wat vra altyd maar antwoord nooit?” “’n Uil!” Ander karre op die pad se nommerplate was afkortings vir snaakse name en bestemmings. Uit Edith Hamilton se Mythology: Timeless Tales of Gods and Heroes het hy vir haar voorgelees oor die Sfinks, ’n vreesaanjaende wese met die lyf van ’n leeu, vlerke van ’n arend en die kop en borste van ’n vrou. Die Sfinks het alle reisigers op pad na die Griekse stad Thebe gevang, en as hulle wou oorleef, moes hulle haar raaisels beantwoord. Ken hulle nie die antwoorde nie, het sy hulle verslind. Aan Oedipus het sy die raaisel gestel: “Watter wese beweeg op vier ledemate in die oggend, twee in die middag en drie in die aand?” Oedipus se antwoord het die stad van hongersnood en ondergang gered: “’n Mens. As kind kruip hy op al vier ledemate, as volwassene loop hy op twee bene en in die gryse ouderdom ondersteun hy homself met ’n kierie.” In antieke Egipte is die sfinks gewoonlik as ’n man uitgebeeld, bekend as “androsfinks”, met die gesig van ’n ontslape farao. ’n Meer positiewe figuur as die Griekse sfinks, maar ewe raaiselagtig. Oor millennia het die sfinks in vele kulture van Europa tot die Ooste verrys; dis gevier in Renaissance-kunswerke; vir die Vrymesselaars was dit die simbool van ’n ewige raaisel.
In later jare het hul raaispeletjies op pad see toe meer verwikkeld geraak. Hy sou vra: “Wat is groter as God, slegter as die duiwel, die armes het dit, die rykes het dit nie, en as jy dit eet, gaan jy dood?” “Niks!” Sulke lawwighede kon lei tot debatte wat aanskraap teen filosofie, teologie, die alewige toutrekkery tussen godsdiens en wetenskap. “Wie dit maak, het dit nie nodig nie. Wie dit koop, kan dit nie gebruik nie. Wie dit gebruik, kan dit nie sien nie. Wat is dit?” Sy sou vinnig snap: “’n Doodskis!” En so het ook die wrangheid van ironie in hul speletjies ingesluip. “Watter soort boom dra jy in jou hand?” “’n Palm!” Dan skater sy. Raaisels was die logiese poort na universele beginsels, gebalanseer tussen bewys en teenbewys. Hulle het Newton en Einstein bepeins. Relatiwiteit en kwantumteorie. Die sussende oortuiging dat alles verklaarbaar moet wees, gegewe genoeg tyd en waarneming. Die heelal in jou handpalm. “He’s got the whole world in His hand . . .” het hulle uit volle bors gesing. Onvermydelik dan ook die bewusmaking van die tydelike. “Die komponis Hector Berlioz het mos gesê: ‘Tyd is ’n goeie leermeester. Net jammer hy vermoor al sy leerlinge.’” Sy het somber geknik. Al was hy dikwels vertwyfeld oor soveel dinge, moes hy ’n brawe front voorhou. Hy kon nie toelaat dat sy kind haar toekoms met sý swaar las van benoudhede betree nie. “Wat is die mens se doel op aarde, Pa?”
“A, die grootste raaisel met die maklikste antwoord!” “Die maklikste?” “Ja, dis so eenvoudig.” “Regtig?” “Om te leer.” Sy het gefrons, effens teleurgesteld haar lip gekou. “Om te leer . . .” “Ja, die mens is hier om te leer. Jy hou nooit op met leer nie. Al dink jy jy’s volleerd. Al dink die hele wêreld jy’s volleerd. Leer. Sal. Jy. Leer.” Nie om ryk te word nie, nie om suksesvol te wees nie. Nie om te oorleef nie. Om te leer. In lief en leed te leer. Tot die dood toe. Hoe skerp sny sy gladde antwoordjies nou! In die jare van briektrap, glyend teen die afdraande af. Die wrede kennismaking met ’n wêreld van pyn, ’n groeiende eensaamheid en verwarring, die oneerbiedigheid van almal jonger as hy, toenemende swakheid. Dan maar weer sy toevlug vind in drome, bittersoete slaap. Hy het voorgestel sy hou ’n droomboek en potlood langs haar kopkussing vir die gelukkige drome wat wil ontsnap, die raaisels wat haar definieer. Sy het gelag: “’n Puik idee!” En toe word sy groot, skynbaar oornag, nie meer sy meisiekind nie maar ’n gesofistikeerde vrou wat lipstiffie en ’n Wonderbra dra. Sy het haar droomboek een keer saamgebring huis toe, hom soos kleintyd vergas op die kompleksiteit van haar drome. Haar notas het drome oor werk onthul wat chaoties en paranoïes was, vol krampagtige kantoorpolitiek, onwaarskynlike romanses en uitbarstings met bisarre wendings: ’n lugverkoeler wat warm en koud blaas en met die basstem van God bevele uitdeel; ’n koffiemasjien wat ’n drankie brou wat aanhoudend
van kleur verander en die joernaliste die nuus laat duimsuig; ’n skoonmaker wat eintlik ’n terroris is en toiletrolle en handseep met arseen vergiftig; ’n hysbak wat tussen verdiepings stilhou om suurgat asiers met aweregse grappies te vermaak; misdaadtonele waar die bebloede lyke verstrooid regop sit om hul klere en hare te skik. Én hul weergawe van hoe hulle vermoor is met haar deel – alles off the record, natuurlik. Tydens haar verloftye het sy epiese drome geborduur wat herinner aan Hollywood-rampflieke: ’n vloot pienk ruimteskepe wat oor Johannesburg hang, vol elegante ruimtewesens in minirokke en belaglike byekorfpruike – modieuse monsters wat blinkers oor wolkekrabbers en strate sprinkel en stedelinge in transseksuele straatkatte verander. Ina skuil in kamoefleerdrag onder ’n sinksambreel, gewapen met ’n donkerbril wat rooi laserstrale uitskiet om die pronkende invallers in groen plassies jellie te laat wegsmelt. Sy het dit giggelend vertolk as “die oorwinning van die natuur oor jappie-drek”. (In sulke droomavonture was sy altyd die vreeslose heldin.) Haar karnavaleske drome het syne oortref. Hy het desperaat probeer om iets anders as die boomkasteel op te diep, maar al wat hy kon onthou, was ’n paar herhalende drome wat hom sedert kindertyd teister: hy staan by die donker bek van ’n tonnel, ’n stem (of die eggo van ’n stem) roep sy naam dringend, dalk sy ma se stem, en hy probeer die versoeking weerstaan om die roepstem te volg, bang hy word self ’n eggo. Of: hy’s klein en lê in die fetusposisie opgekrul op ’n enkelbed in ’n helder verligte kamer, sy gesig na die muur gekeer en sy rug na die deur; hy hoor die deur oopgaan en iemand wat geruisloos inkom, sagte voetstappe oor die tapyt, die warm asem van ’n vreemdeling in sy nek, ’n rukkerige skadu teen die muur soos ’n bose animasiekarakter, skielik benerige vingers wat in sy ribbes kieliegrou. Maar hy kan not ’n donner lag of omdraai of skree, net stywer op ’n knop trek. Soms kon hy die nagmerries afskakel met ’n wilsbesluit, die aanloop na vrees herken, omdraai by die bek van die tonnel, die harde kielievingers laat verkrummel, homself laat wakker skrik. Beteken dit hy was die outeur van sy drome en nagmerries? Of medespeler in iemand anders se galgekomedie? Sy vrou kan nie haar drome onthou nie, of sy gee voor dis die geval. Miskien droom sy oor iets wat sy as geheim vir haarself wil bewaar. Droomuitlegging en
Jungiaanse praatjies is vir haar verspot en ’n mors van tyd, dalk selfs ’n heidense tydverdryf wat die mens uitlewer aan selfbevlekking. Sy het altyd kopskuddend geluister na die drome van haar man en dogter, dan die onderwerp ferm verander na huishoudelike krisisse: ’n kraan wat drup, ’n stoofplaat wat nie werk nie. Dit was so ’n deursigtige poging om hulle wakker te skud dat hulle laggend verder in hul droomdoolhowe verdwaal het. Al die droompraatjies van sy dogter, loom herinneringe aan seevakansies, skulpe optel uit warm sand, raaispeletjies teen verveling, het hom sedert sy aftrede opnuut bekruip. Dit laat hom wakker lê langs sy droomlose vrou terwyl hy al die beddens van sy lewe opsoek, een vir een, van kleintyd tot die hede. ’n Dominokanteling van dommelplekke waar hy rofweg ’n derde van sy lewe verkwis het.
48
Die trapleer is die navorser se eerste probeerslag om iets te bou. Bra tentatief, tien tamatiekisplankies vasgespyker in die klimop teen die boomstam, so ver op as wat hy kan bykom. Hy kan nie help om te wonder wat Sfinks voel nie. Of wat Lydia BrookfieldHorne sal dink van die eenduimspykers wat hy ritmies in die vlees van die gegriefde boom inslaan (hy onthou hoe vlesige vrou en ongebalanseerde boom mekaar geliefkoos en omhels het). Die trapleer is ’n kinderlike poging, niks waarmee hy kan spog nie, houtwerk was nog nooit sy sterk punt nie. Maar hy wil begin boomklim, soos sy jonger self op sy ouma se plaas. Trappend en glyend soek hy vastrapplek, trap mis en probeer weer, tot hy die eerste dun randjie raak trap. Maar die pieperige plankies versplinter onder sy gewig tot net die spykers oorbly. Sy vrou is gelukkig by haar naelafspraak (sy sou dink hy regresseer by die dag) en hy kan onbesorg weer probeer, met sterker, ronde beddingbalkies wat hy by die kwekery gaan koop. Die klimop se blare demp die slae van sy hamer. Ja, dís beter. Stewiger vastrapplek, uiteindelik trappies wat sy skoene en gewig kan dra. Hy klim versigtig en voel-voel – een, twee, drie, vier, vyf – en hys homself bewend aan die onderste takke op na die eerste stewige mik. Swaai sy regterbeen oor ’n tak en – hupsiedaisy! – probeer sy balans vind. Dis nie te ver grond toe nie, net vier voet of so, maar sy middeljarige lyf sal beslis middeldeur breek as hy hier afneuk. Klou, boetie, klou! Sy beseerde been (hy dink soms daaraan as ’n oorlogswond) pols ’n waarskuwing. Die hond handhaaf ’n veilige afstand en hou hom dop met ’n stert wat stadig swaai. Uiteindelik vind hy sy brose ewewig, en daarmee saam ’n half komieklike nuwe perspektief op sake: die grasperk, die hond se slagysters, die blombeddings en sy
huis aan die een kant, grys muur en afgesaagde takke aan die ander kant. Hy sit vir ’n halfuur so, ’n uil op ’n kluit, raak gewoond aan die duiselgedagte van ’n rondomtalie takke wat sy uitsig versper, hom toedek met blaargordyne; sonkolle en skadupatrone oral om hom soos ’n ligdeurstraalde art decoillustrasie. Hoe anders is dit alles as wat hy hom voorgestel het! Die soort openbaring wat hom al in vliegtuie oorval het: ’n lighoofdige gewaarwording wat gewone sterflinge tref wanneer hulle die aarde verlaat om skielik soos arende langsaam deur bollende wolke te sweef, onnatuurlik en tog nie ondenkbaar nie. Iets wat mense hulle nooit presies grondlangs kon voorstel nie, word in die hoogtes ’n onwerklike werklikheid nadat die vertroude bodem weggeval het: die uitstyg na kilblou hoogtes, oor bergtoppe en kaartlandskappe. Net om later weer langsaam te daal vir daardie harde landing, ’n ongeskikte stamp in die maag, ontnugter op onvaste voete. Om agterna die sensasie van vlieg met moeite te herroep: hoe dit voel om daar bo rond te swenk en te duikval. Want die een perspektief sluit die ander noodwendig uit – dis die aard van menswees om net skamele persentasies van sulke herinneringe te assimileer en iewers in die senustelsel te stoor vir latere drome van vlieg en val en land. Só word die mens se ewigheidsfantasie verwesenlik: om uit die groot vrees van doodgaan te bars en soos ’n voël of rankende engel te styg en die aarde vir altyd te verlaat. Die moontlikheid dat hy dié nuwe perspektief opmaak of droom is nie uitgesluit nie, betig hy homself speels. Hy trek sy bene op en hurk sidderend op sy tak, beur wankelend orent om nog verder van die grond af te wees, om vir die heel eerste keer oor die muur te loer na sy besete bure se agterwerf. Hy voel soos Alice wat deur die sleutelgaatjie van ’n deurtjie loer en ’n lieflike tuin aan die ander kant sien, ’n plek waar sy nie kan uitkom nie omdat sy eers te klein en dan weer te groot is, afhangende van die koekies en ander towerhappies waaraan sy knibbel, al die verspotte ompaaie wat sy bereis en lawwe rusies met koddige skepsels voor sy uiteindelik deur die deurtjie ontsnap na die lentetuin van die Koningin van Hartens. My kop sal weldra waai, grinnik die navorser en klou vir sy lewe. Ruk hom dan met moeite reg, verbaas oor waar sy gedagtes oral fladder soos poeierige vlinders – letterlik ’n toestand van deur-die-blare-wees wat deur sy nuwe perspektief in die monsterboom beknoei is, nou sowat sewe of agt voet bokant
die grond, wankelend op ’n tak. As sy vrou en dogter hom nou moet sien: die Oudnavorser in Wonderland. Sy eerste indrukke van die bure se agterwerf is teleurstellend. Maar is dit nie maar altyd so nie? Hoe ander mense leef – hoe hulle kies om hulleself in te rig, waarmee hulle hulle omring, hetsy weelderig of karig – kan jou skok en verwar. Om te sien hoe verbeeldingloos, vaal, onnet en gewoon lelik ander se leefruimtes is. Afguns (keeping up with the Joneses) het dikwels te doen met kwantiteit eerder as kwaliteit, geld eerder as skoonheid, grootte eerder as estetiese oorwegings. Altans, so is dit vir die navorser; hy begeer of bewonder nie ander se duur besittings, “winskopies”, versierings, aanbouings, swembaddens, voertuie en tegnologie nie. Dalk ’n aanduiding dat hy vinniger oud word as sy tydgenote? Wat hy oor die grys muur kan sien: ’n tuin met ’n paar verlepte varingplante in geel (!!) potte, ’n grasdak-lapa met die stamme van die vermoorde bome as afgewitte pilare, ’n braaiplek met ’n aangepakte rooster, ’n palmboom (!!), sementplaveisel, ’n leë dammetjie (waar die ganse seker gehou is), ’n bruin konstruksie wat ’n fontein kan wees (ook waterloos) en wat hom aan ’n olifantdrol laat dink, ’n langwerpige stoep met vier wit plastiekstoele. Geen grasperk, geen struike, geen bome (behalwe die kaalstam-palm). Lelik, lelik, lelik. Iemand se misplaaste fantasie van ’n aftreehuisie in Florida, VSA. Hy leun vorentoe om nader aan die muur te wees, trap byna mis, gryp na ’n tak, herwin sy ewewig. Die stomp arms van Sfinks se afgesaagde en verskeurde takke aan die bure se kant laat die ou wrewel in hom opwel. Hoe kan enige beskaafde mens dit aan ’n boom doen? Hy moet ook wonder: hoe sal hy lyk vir enigiemand wat hom van die buurhuis af dophou? ’n Nuuskierige (bles) agie? ’n Afgetrede inbreker? “Wag maar, bliksems,” sê hy deur die blare. “Binnekort sal julle iets groters hê om julle aan te vergaap.” Die bure se werf en huis is onaardig stil. Wat sou geword het van onderskeidelik die baba, die ganse, die papegaai? Is hulle verkoop, geruil, weggemaak? Ja, ander se sake is duister . . . Terug op die grond voel hy ’n nuwe energie in hom. Sy groot plan wat posgevat het tydens die ses dae duisternis, die ses dae van stilte en kerse en radiostories,
het hom opnuut fut en fokus gegee, besef hy, soos destyds in sy vyfjaarplanfase toe hy sy knipsels en dokumente wou orden. Hy weet waarom hy so uitgevars voel: dit is iets nuuts en ligs, ’n inspirasie, ’n droom. Alles wat op hom neerdruk en sy dae versuur, die ewigdurende vete met die bure, het hoog in die takke losgeraak en weggedryf soos ’n blaar op ’n stroom. Hy spring dadelik aan die werk. Van vroeg tot laat maak hy somme en pensketse, google boomhuise, besoek hardewarewinkels om pryse van hout en gereedskap te vergelyk, raadpleeg skrynwerkers. Alles sonder die medewete van sy liewe praktiese vrou; hy is nog nie reg om sy groot plan te onthul nie. Alles moet eers haarfyn beplan word, elke detail uitgewerk. Hy nader ’n ontwerper van houthuise in Knysna, e-pos vir hom kleurfoto’s van die boom, geneem van drie kante. Twee dae later kry hy ’n skets wat verbasend baie soos die konsephuisie in sy bonsai lyk, ’n begroting daarby aangeheg. Hy moet ’n deposito van R20 000 en al die materiaal betaal. Die bouer sal verder in paaiemente betaal word terwyl die huis stuksgewys vorm kry – potensieel ’n duur proses, en hoe betroubaar is bouers tog? Maar omdat die boomhuis geen water, ligte of riool benodig nie, is dit heelwat goedkoper as ’n gewone huis. In dié tyd verander die navorser se leespatroon baie. Hy soek weer sy Bybel op, lees in Matteus 21:19 van Jesus wat die vyeboom bestraf en laat verdor, in Genesis dat die mens sal heers oor die diere- en planteryk. Hy lees soms vier boeke gelyk, wissel fiksie af met niefiksie, trek stowwerige kinderboeke uit die kombuisrak en herlees dit: Where the Wild Things are, Griet skryf ’n sprokie. Diep handgeskrewe resepte van sy moeder op (duiwelhoender, melkkos) en verslind giggelend grapboekies (The Far Side van Gary Larson). Saans haal hy een van sy versameling stokou Classics Illustrated Comics uit sy staalkabinet en blaai dit stadig deur. Vinger-op-bladsy herlees hy twee: The Princess Who Saw Everything en Les Misérables, twee verhale wat hy vir sy dogter gelees het toe sy klein was. Die soet reuk van die ou bladsye stuif in sy neusgate op, asof hy die bome kan ruik waarvan die papier gemaak is. In Time lees hy ’n hoogs tegniese artikel oor die ewigheidsmasjien (“The Infinity Machine”), wat hom met gemengde gevoelens laat. Hy het nog altyd baie gelees, maar nou word sy leespatroon obsessief en intens.
Hy lees terwyl hy eet, terwyl hy bad, terwyl hy op die troon in die toilet sit. Hy begin leef om te lees. In sy drome lees hy verder aan sy slaaptyd-boeke. Maar die boeke in sy drome maak nie sin nie – hy moet homself selfs in die droom berispe om op te hou. Meestal lees hy oor bome en boomhuise. Soveel soorte boomwonings as wat daar boomspesies en variasies binne spesies is. Syne sal uniek wees, asemrowend, ’n boomhuis waarin hy kan lees, ’n wonder wat die buurt beroemd sal maak (nie dat dit sy uitsluitlike doel is nie). Voor hy sy finale bestelling vir die vrag behandelde hout plaas, maak hy een oproep. Lydia die boomfluisteraar tel dadelik op, klink bly om van hom te hoor. Hy vra haar mening oor sy idee om ’n houthuis in Sfinks te bou. Sy trek haar asem skerp in. “’n Huis in daardie boom sal ’n fataaale fout wees, my liewe vriend. ’n Boom met soveel psigopatiese issues en gapende wonde kan nie met so ’n swaaar las opgesaal word nie. Dit sal die laaaste strooi wees, die finale sneller om sy reeds óóraktiewe defensiwiteit te aktiveer. Wie weet wat hy sal doen? Dis die soort boom wat in staat is tot enigiets! Asseblief, moenie hom uitlok of antagoniseer nie. Moenie hom verder prikkel of beseer of beledig nie. Tot dusver het hy net gegroei – te veel gegroei. Maar julle wil nie op daardie eiendom wees as hy die dag besluit om tot die aanval oor te gaan nie. Ek wil nie paniek saai nie, maar my gevoel is neeeee. Onder géén omstandighede kan jy eers ’n tamatiekisplankie in daardie boom inslaan nie, wat nog te sê ’n huis van die omvang wat jy voorstel, my liewe mens. Verkoop eerder nou terwyl die boom nog redelik op sy plek en ief is, homself met moeite inhou, voor hy sy wortels onder jou huis en die hele straaat instoot. Ek smeek jou, moenie dit doen nie.” Hul huis is in elk geval nie veel werd in die huidige eiendomsmark nie, sê hy, hulle kan nie wegtrek nie. En boonop het hy reeds tien tamatiekisplankies asook beddingbalkies in die boom gekap . . . “Tien plankies? Beddingbalkies! Vertel my jy maak ’n grap. Neee, neee, neee. Ek stel voor jy verwyder dit dadelik, versigtig, voor die son sak. Voor die wonde ontsteek raak. Voor hy begin broei daaroor. Vra diep en innig om verskoning. Begin met blare streel en omhelsings. Smelt heuning in ’n koppie louwarm water en smeer dit met watte aan die spykergate.”
Hy probeer om vir haar te verduidelik dat hy sy eie vrese trompop moet konfronteer, dat die enigste weg om die lafaard in hom te besweer sal wees om die bul by die horings te pak en bloots te ry, om die boom te wys wie’s baas op die plaas. Sy knip hom ferm kort. “Moenie met die ketting sukkel nie, my vriend. Die boom is ’n sterk skakel in die ketting, en die ketting kan nie breek sonder om skokke deur die universele ketting te stuur nie. Ek en jy is ook skakels, ons moet ons plek ken. As die ketting begin knoop en skakels teen mekaar skraaap en skuuur, affekteer dit als en almal. Jou bure het die eerste skade aangerig toe hulle die twee bome verwoes het, hulle het ’n skakel uit die ketting gehaal wat jy probeer vervang het. Glo my, om verder met die skakel te kierang gaan ’n rebellie veroorsaak. Sfinks kan wraak soek teen almal wat hom aanval, wraak vir sy eie verlies en pyn, wraak vir die pyn en verlies van álle bome.” Die boomhuis sal ’n kroon wees, protesteer hy, iets waarop die buurt trots kan wees, ’n vennootskap tussen mens en boom wat iets nuuts en beeldskoon tot stand kan bring. “Samewerking?! Ekskuus, nou gaan jy bietjie oorboord. Ons mense néém net van bome, dis al wat ons doen. Ons roei woude uit van die Kongo tot die Amasone. Ons neem en neeem en neeeem! Ons grawe uit, saag af, buit uit, brand af. Nee, my vriend, samewerking met bome is ’n volslae mite. O nee, my vriend. Aaai-aaai-aaai.” Met haar singende stringe vokale en tongklappe slaan sy ore toe. Wel, elkeen is geregtig op sy eie eksentrieke mening, dink hy toe hy die foon neersit. Volgende moet hy sy vrou van die projek vertel. Oor ’n glas uitsoekbourbon roer hy die saak aan. Sy sit haar glas neer, tik met nuutgeverfde oranje naels op die kombuistafel, kyk hom stip aan. “’n Boomhuis. Jy wil ’n boomhuis bou in ’n boom wat ons hele agterplaas toemaak. ’n Boom wat die bure die harnas inja. Jy’s nie meer ’n spring chicken nie, maar ek dink jou kop kap lekker aan. Jy weet ek was nog altyd daar vir jou, in al jou korrelkopskemas. As jy ’n ding in jou kop kry, kan ek maar sê wat ek wil, jy foeter voort. Jy weet alles want jy lees alles. Jy weet beter . . . oor ALLES! Jy leer glo uit jou foute, maar hoekom is jy dan gedurig in so ’n knoop van selfverwyt en onsekerheid? Jy praat in jou slaap en jy snork my twintig keer
’n nag wakker. Wat daarvan as jy uit daai donnerse boom neuk en jou nek breek? Moet ek jou vir die res van my onvervulde lewe oppas en versorg, jou piepiesak leegmaak, jou doek ruil en vir jou babakossies voer? Ons mediese fonds vir die jaar is klaar uitgeput, en die bydraes word elke jaar duurder. Ons huis het vyftien jaar laas ’n laag verf gekry en die geute roes deur, maar jy wil ’n houthuis in ’n boom bou! Is jy totaal van jou trollie af? Ek’s jammer, maar tot hiertoe en niks verder nie. Ek kan in jou oë sien jy gaan doen wat jy wil, al praat ek myself doof. Nou goed. As jy voortgaan met hierdie balhorige skema, los ek jou. Jy kan jou boomfluisteraar hier laat intrek en haar vet boude knyp of byt, jy kan jou eie gang gaan, maar ek pak my goed en trek Ferreira!” Hy is effe uit die veld geslaan oor haar uitbarsting. Maar net effe. Sy sal weer afkoel. Die vindingrykheid van sy plan insien. Sy sal saam met hom verwonderd staan oor iets wat basies onmoontlik lyk, ’n wonderwerk in hul eie tuin! Gee haar net tyd, dink hy en glimlag meewarig. Alles het in elk geval te ver gevorder om nou halt te roep. Die bouer en die materiaal is reeds op pad van Knysna af. Hulle staan op die rand van ’n groot omwenteling. As sy net kan sien wat hy sien, sal sy saamstem: dis iets núúts. Iets fabelagtigs.
49
Die bouwerk vorder vinnig. Die eerste stel trappe en dennehoutvloere op vier vlakke is reeds in die laagste, sterkste takke gevestig. En tot die navorser se groot verligting het sy vrou nie haar goed gevat en getrek Ferreira nie. Sal hy haar kan oorreed om na die boomhuis te trek, selfs al is daar aanvanklik geen water en ligte nie? Wag, wag, vermaan hy homself, een tree op ’n slag. Hy sal eerste oortrek, haar kans gee om gewoond te raak aan die idee, haar saans oornooi vir ’n skemerkelkie op die boomhuisstoep. Later sal sy dalk nuuskierig raak om ’n nag in die slaapkamer deur te bring . . . Maar nou moet hy eers lig trap met haar. Sy was nog altyd meer verknog aan die status quo en banger vir verandering as hy. Aardgebonde. Miskien is sy gerusgestel deur die bouer, Coert Willemse, ’n vriendelike, seningrige kêrel van Knysna met swart stoppelbaard en swarter wenkbroue, klein koppie en growwe hande. ’n Introvert wat maklik glimlag, min en afgemete gesels, maar in sy grys oë loop diep kennis van bome, mense en die see. Coert en twee skrynwerkers het die eerste vrag hout persoonlik saamgebring en in die agterwerf op die grasperk gestapel. Coert het wyd geglimlag toe hy Sfinks sien, sy stoppels ingedagte gevryf, saggies gefluit. “Ja, meneer. Uhm, kan werk. Beslis, ja. Groot boom en . . . nou ja, goed geanker. Diep wortels. Uhm, die regte soort fondasie vir ’n drie- of viervlakhuis. Net jammer, uhm, van die afgesaagde takke aan die een kant. Ja, lelike skade daarso, maar ek kan verstaan hulle wou seker nie indringertakke oor hulle tuin hê nie. Maar uhm, niks wat ’n paalstut of twee nie kan ondervang nie. Kan werk, nè. Kan werk.” Hy het sy moue tydsaam opgerol soos ’n atleet wat sy ledemate regskud, oorgehaal vir aksie. Die bouery het dieselfde dag begin, eers ’n gemeet en gepas vir ure aaneen. Coert het rustig en verbasend rats in die boom geklouter om elke ronding, mik en knobbel van die bas en takke te bekyk, te betas en sorgvuldig te meet. “Boomhuise, nou ja . . . dit sal my tiende een wees. Gewoonlik uhm, bou ek
houthuise op stelte of meestal op die grond soos gewone huise. Het al huise vir kinders gebou in alle soorte bome, van eike tot jakarandas. Vir grootmense . . . uhm, dis meer ongewoon. Een gastehuis in KZN se beboste heuwels wat so halfpad in die bome kuier en halfpad op stelte staan. Uhm, ek hou baie van boomhuise, wie kan nie? Ek het self een waar ek gaan sit en rook as my kinders my uit my huis uit boer. En uhm, ja, ek maak baie seker om nie die boom te beskadig nie, ek meen, niks inkap of afsaag wat die boom seermaak nie. Ek maak plek vir takke en vergroeisels. Kamers stut hulleself in mikke en tussen takke. En ja, soms gebruik ek sterk toue, soos hierdie, eerder as skroewe en spykers, wat in elk geval beter is vir wanneer die boom groei of beweeg. Die toue kan in die takke insny so met die tyd saam, maar dis deel van my diens, uhm, om elke agtien maande die hegplekke en knope na te gaan, hier en daar toue te vervang en skiet te gee waar nodig. Die boom moet weet . . . moet voel dis eerder ’n nes as ’n huis wat in sy takke sit. Ja, iets natuurliks.” Die navorser was verwonderd – dis die meeste wat Coert op een slag gepraat het. Daarna was hy stil, ’n bouer tussen takke. In die volgende paar dae, terwyl die projek sigbaar vorder van uur tot uur, dra die navorser se vrou koffie en koeksisters aan, souttert vir middagete, vieruur tee en koekies. Sy staan rond en vra vrae, terwyl Coert al metend en end en kouend antwoord. Pluimpies uitdeel, dankie sê vir die soetgoed, haar komplimenteer vir haar geduld met hom en die werkers, die hele bouery. Sy sit haar hande oor die blos op haar wange, merk die navorser. Soos altyd met nutsmanne wys sy ’n ander sy van haar persoonlikheid: die nuuskierige dogtertjie wat belangstel in die kennis van vereelte hande en hoe dinge werk. Ná net drie weke is die boomhuis klaar. Ja, werklik – daar is dit! Mooier as die e-posskets, in sparhout, dennehout en eikehout wat inskakeer by die donkerder stam en takke. Coert begelei hulle met die houttrappe op wat sigsag klim na die eerste vlak, stoep en voorportaal, tweede vlak met sit-eetkamer en kombuisie, en derde vlak met slaapkamer en klein houtdek wat oor die grys muur op die bure se werf uitkyk. Die trappe kronkel met skerp draaitjies verder op na ’n klein uitkyktoring wat bokant die boomtop uitsteek, sowat vier verdiepings hoog. Daarvandaan is die buurman se woonstelblok, omliggende buurt en strate en ’n deel van die oorspronklike dorp sigbaar.
Streng gesproke dus ’n boomkasteel wat uittroon oor alles. Nie so kompleks soos die een in die navorser se droom nie, maar veel meer as die tradisionele houthut-in-’n-mik wat kinders as bendehuise benut. Sy vrou klou styf aan die trapreling en vermy dit om af te kyk. Sy weier beslis om tot heel bo in die torinkie te klim – die wolkies blare wat die uitwerking van die hoogte effens verbloem, is haar troos. “Is dit wat jy wou gehad het?” vra sy. Die navorser antwoord nie, kyk uit oor sy huis en die bure s’n soos ’n koning in sy eie sprokie. Dis onwerklik, dink hy, ongewoon en fantasties, maar enigiets is moontlik! Enige droom kan gebou word. Wat sou sy ouma hiervan dink? Wat sal sy dogter hiervan maak? Dalk meen dis ’n dekorartikel vir ’n leefstyltydskrif werd? Dwarsdeur die bouery was die agterste bure stil. Gordyne toegetrek, deure dig, ligte af. Is Pocahontas op vakansie? wonder die navorser. Geen klagtes nie. Geen konfrontasies nie. All quiet on the Western front. Of broei daar een of ander teenaanval? Gaan hulle hom probeer teiken oor die wettigheid van die aanbouings en bouplanne? Hy’t sy tande geslyp vir enige teenreaksie, maar nou is alles onheilspellend stil. Hy doen die laaste oorbetaling elektronies, bedank Coert hartlik vir ’n knap stukkie werk sonder vertragings wat die ooreengekome prys opjaag. ’n Man van sy woord, stem hy saam met sy blosende vrou. Dis laatsomer, die weer warm tot matig – die beste weer ter wêreld. Niks omtrent die hele projek kon beter uitgewerk het nie. Die navorser is, letterlik en figuurlik, in sy sewende hemel.
50
Ina se elmboog skraap teen iets wat voel soos ’n toonbank. “Ek kan niks sien nie.” “Jou oë sal gewoond raak.” Raymond se stem is ’n rasper-asem op haar arm. “Watse plek is dit?” “Welkom by Grace Mansions. Gebou in 1940. Gebrand in 2005.” “Ugh. Ek ruik iets baie sleg. En dis nie brand nie.” Sy hoes. “Die riool is lankal verstop. Seker al sewe jaar.” Sy probeer haar ongeduld onderdruk, maar die naarheid dreig. “Oukei, wat soek ons hier?” “Hou vas aan my arm. Jy sal nou sien.” “Sien? Hoe sien mens in die donker?” “Dis ’n soort kamoeflering.” “Jy bedoel . . .?” “’n Front.” Hulle skuifel tree vir tree in ’n gang af. Of is dit ’n portaal? Die stank is ’n wese wat vlak asemhaal. Glas kraak soos kristalkorrels waar sy trap. Water (of slym?) drup op haar wang. Sy raak bewus van verstikkende dik stof, iets kleierigs onder haar skoensole, repe spinnerak en plastieksakke, hope vullis, klewerige oppervlakke aan alle kante.
Sy probeer hard om nie te gil nie. Raak aan niks, haar regterhand krampagtig op sy skouer. Haar naels kan bloed trek, vrees laat haar nekspiere styf span. Iets soos drade vee deur haar hare, oor haar voorkop. As dit elektriese kabels is, hoop sy dis afgeskakel. Sy koes, onderdruk net-net die gil in haar keel. “Raymond. Dis nie meer pret nie. Ek verkies ’n park . . .” “Dit gaan nou beter word, belowe,” paai hy. “My kar . . .” “Veilig. Die enigste plek in hierdie deel van die stad waar niemand daaraan sal raak nie.” Iets met baie pootjies skarrel oor haar enkels. Die gil ontsnap uit haar mond. “Skadeloos, dis oukei.” “Dit moet . . . vrek onhigiënies . . . wees. Kan nie . . . asem . . .” “Deel van die front. Hou goeie moed.” Sy hoor ’n klikgeluid en ’n deur swaai oop. Daar’s lig aan die ander kant. Sy val vorentoe, sekondes lank verblind ná die donkerte. “Maak jou tuis.” Die kamer is ruim, skoon, netjies. Witgeverfde kaal mure, blink blokkieshoutvloer, in een hoek krul ’n moderne staanlamp van verroeste pype en enjinparte in die vorm van ’n luislang. Hy druk die deur agter hom toe met ’n sagte klik, draai ongeërg na haar terwyl sy snakkend lug intrek en verwonderd rondkyk. Die stank is skoonveld. Net ’n suggestie van dennenaalde. “Air con?” vra sy. “My enigste luukse is vars lug.” Hy laat val sy rugsak op die vloer. Sy volg sy voorbeeld en skraap en vee haar klewerige skoensole skoon op ’n
growwehaarmat net binne die deur. “Hierdie kamer makeer absoluut niks!” asem sy uit. Bruin leerbank, swart platskermtelevisie met ’n modieuse kurwe teen een muur, boekrak met ’n versameling DVD’s en CD’s, Xbox, ’n 3D-toneel uit The Matrix met klein aksiefigure: Neo en Agent Smith wat mekaar met vlieënde kung fubewegings bespring. Catwoman en Hellboy. Antihelde. Iets is afwesig, besef sy. Natuurlik, vensters. Hier’s nie vensters nie. “My chill room,” sê hy. “Kom, daar’s meer.” Hy maak ’n deur oop op ’n lang gang, ook wit geverf, silwerskoon, buisligte wat aan ’n laboratorium herinner. Nog deure. Kombuis, ’n halwe pizza op ’n skinkbord, omgekrul van ouderdom. Badkamer met stort en toilet. Slaapkamer met ’n onopgemaakte dubbelbed, Bose-klankstelsel en oorfone, op die bedkassie ’n bundel gedigte van Walt Whitman, Leaves of Grass (ironies!), gemonteerde rooi bedlampie. Teen die oorkantste muur ’n massiewe geraamde wit-en-swart kunsfoto van weerlig wat soos are vertak oor die stad se silhoeët. ’n Nikon-kamera op ’n stoel. Laastens, ’n ruim kantoor met tafels, wit ontwerperstoele, twee skootrekenaars (Macbook Air en Macbook Pro), ’n drukker, plastiekmandjie vol papiersnippers, ’n vierkantige wit tafel met ’n swaarbodem- Coke-glas vol kleurpotlode, skêre, NT cutters, liniaal, ses of sewe kannetjies spuitverf (rooi, blou, swart, wit, groen). Papierstensils in verskillende groottes, half opgevou en taamlik verweer, met ’n uitgesnyde ontwerp wat sy dadelik herken: vier gespalkte ledemate, sirkel – die bloudruk van die Vitruviaanse Man. “Hoe diep is ons onder die . . .?” “Stad? Eerste vlak onder die basement waar jou kar staan.” “Dit voel dieper.”
“Diep genoeg vir my.” ’n Sintetiese gesuis begin deurdring. Sy herken dit as die lugversorger. “Dis alles so . . . bo stink en onder blink. Squeaky clean. Futuristies.” “Welkom in my gat. Daar’s Coke, sap, bier . . .” “Net water, dankie.” In die kombuis tap hy vir haar ’n glas by sy silwer yskas se watersuiweraar, knak vir homself ’n Soweto Gold. Sy vra of sy haar hande kan was. Hy staan terug, gee ’n afdrooglap aan. “Jy’s die eerste joernalis in my bunker.” Sy kyk om haar. Geen vensters, net een groot plakkaat van ’n reënwoud vol druppende groen varings en rooi orgideë, seker om die benoudheid van ’n onderaardse bestaan te besweer. “Jy woon en werk hier . . . in die uitgebrande dop van ’n plek wat seker onbewoonbaar verklaar is? Ek sou nooit kon dink so iets is moontlik nie. Silwer pêrel in ’n vrot oester . . .” “Bly jy hou daarvan.” “Dit moes ’n klein fortuin gekos het!” Hy trek sy skouers op, beduie hulle moet terugstap na die sitkamer. “Die water en ligte werk afsonderlik van die oorspronklike gebou se installasies, nou al meer as ’n dekade afgesny. Die gebou was my pa se mondigwordingsgeskenk aan my. Ek het self die binneversterkings, stutte en opknapwerk vir hierdie wooneenheid ontwerp en saam met pelle gedoen – ons is aan die oostekant van die gebou, wat die minste verwoes is. Sekere dele het ek laat herbou volgens my eie modifikasies, meestal snags onder spreiligte. Mure deurgebreek en nuwe pype en bedrading gelê en alles weer netjies gekamoefleer om van buite soos ’n afgebrande bouval te lyk.” “Geniaal, mal. Werklik ongelooflik . . . kan nie besluit of dit kunstig of flippen creepy is nie, Raymond.”
“Jy vlei my. Selfs die ‘bouvalligheid’, die los drade en vullis en plakkers wat kom en gaan, is net . . . ‘spesiale effekte’. Verhoogdekor met ’n paar terloopse ekstras. Ek woon hier agter die skerms, kom en gaan deur geheime gange . . . sal jou later wys.” “Soos die towenaar wat toutjies trek in The Wizard of Oz . . .” “Die verweerde buitemure en ingevalle dakke word toegelaat om te vergaan – tot op ’n punt. Ek betaal ’n spesialisbouer om ’n ogie te hou. Maar eintlik is die ‘dop’ deeglik versterk – dit word ondersteun deur ’n ingeboude, aluminiumversterkte raamwerk wat niemand van buite kan sien nie. Ek het argitektuur geswot by Tuks voor ek na grafiese ontwerp oorgeslaan het, gespesialiseer in industriële ontwerp, fabriek- en stadsbeplanning. Dit gee my ’n moerse kick dat ’n ou, verdoemde monstruositeit wel bewoonbaar is, maar net ’n paar insiders weet daarvan. ’n Paar goeie vriende en bouers. En jy’s nou een van die insiders.” “Uhm, dankie. Raymond . . . wag ’n bietjie! Is . . . was jou pa Cameron Raymond, die asbesmagnaat van Barberton?” Hy kyk af, verbleek effens. “Jou base het ’n bloedhond afgedank.” “Wel?” “Ja, my pa was Cameron Raymond. Hy’t woonstelle en ander eiendomme in Hillbrow en die middestad gehad. Van die geboue het so totaal verval sedert 1994 dat hy daarvan ontslae moes raak en groot verliese gely het. Jy sien dit maar in al die strate hier rond. Die identiteit van die stad het oor twee dekades radikaal verander. Die wittes het na ander voorstede gevlug, selfs die armblankes het oor die laaste tien jaar padgegee. Bendes, plakkers en slumlords het oral oorgeneem. Hierdie gebou was dekades gelede ’n spogplek waar Britse immigrante, politieke aktiviste, kunstenaars, akteurs en musikante gewoon het. Die agteruitgang het begin nadat van die ouer huurders oorlede is of uitgetrek het. Die huur was eers te hoog vir die nuwe inwoners van Hillbrow, so dié plek het lank leeg gestaan. Daar was inbrake, stropings, brandstigting. My pa kon nie byhou met instandhouding en uitsettings van nie-betalende huurders nie, en hy was boonop baie siek. Tien jaar gelede het hy dit vir my present gegee, kort voor sy dood – dalk ’n toets, dalk as straf omdat ek nie ’n grondbaron of myneienaar soos hy wou wees nie.
“Aanvanklik het ek die plek vermy. Jare lank. Dit het verder verval – dit was ’n tyd lank ’n dwelmnes voor die polisie toegeslaan het. Destyds, op my Europese avontuur, het ek gedroom van dié plek: ’n uitgeholde donker kasteel, die reste van ’n bouvallige beskawing wat hier nog vasklou soos ’n siek vlermuis. Ek het besluit ek kom hier woon, maar om die plek heeltemal op te knap, sou my hele erfporsie opvreet. Toe maak ek ’n ander plan. If you can’t beat them . . .” Vir die eerste keer waar hy langs haar op die sagte leerbank sitlê, lyk hy ontspanne en is sy stem minder geknyp. “Hoe het jy op die idee gekom?” “Ek wou ’n knus plekkie hê in die hart van die gevaarlike ‘nuwe’ stad, waar ek ongesiens kan kom en gaan, laaglê, my projekte beplan. In die derms van die dier. Ek het in Rolling Stone gelees van die Hollywood-akteur Dennis Hopper se superfort in ’n bendebuurt van Los Angeles, ’n plek wat saamsmelt met die vervalle omgewing en ondeurdringbaar is. Maar dit was nog te opvallend vir my, too in your face. Hoekom wegvlug? Ek wou Jozi my eie maak, dit omhels.” “As die kriminele moet agterkom jy’s hier met al jou gadgets en gizmos . . .” “Toemaar, my bunker het baie interessante afskrikstelsels. Kameras, alarms wat klink soos ’n baba wat skreeu, tripwires, stinkgas, elektriese skokke, afstandbeheerde kakkerlakke en skedels met gloeiende oë, valdeure, trappe wat skud, deure wat klap, vallende bakstene. “Ek kan alles van my laptop af sien en beheer. Wanneer ek weg is, aktiveer ek die outomatiese sekuriteitstelsel. Skuifmure sluit die hele plek dig af aan alle kante; geen ingang is van buite sigbaar nie. Die plek het ’n reputasie as ’n spookhuis. Hier was selfs al ’n paar duiweluitdrywers wat gedink het hulle kan heilige water sprinkel en alles sal rein wees. Maar hulle was ook nie bestand teen my weermag van ondergrondse voëlverskrikkers nie.” Hy laat homself ’n laggie toe. “Ek slaap nêrens rustiger as hier in my swart kasteel nie.” Hy sien haar verbystering. “Nie almal kan so leef nie, ek weet,” sug hy. “Maar jy kan.”
“Jy maak jou kooi . . .” “G’n wonder niemand kan jou opspoor nie. Dis ’n geniale wegkruipplek. Niemand wil in ’n rommelhoop rondgrawe nie.”
“Wel, niks kan my meer laat gril nie. Ek was nog nooit arm nie, maar ek ken armoede nou intiem. Van bínne af. Ek sien en ruik dit elke dag. Ek het ’n skuiling vir straatkinders twee blokke hiervandaan begin.” Dis nie spog nie, besef sy, net ’n feit. Dalk ’n skuldige gewete? Die versoeking om hom verder uit te lok is te groot. “Maak jy nie ’n bespotting van armes deur jouself gerieflik hier in jou ‘swart kasteel’ in te rig tussen mense wat op straat krepeer nie?” “Jy kan dit so sien, skat ek. Maar hulle is my vriende.” “Sou jy jou ‘vriende’ hier innooi, hier laat eet en slaap?” “Net as ek my cover wou blaas. Myself in die limelight wou smyt. Ek gee nie voor ek’s Moeder Teresa nie. Ek het ’n stukkie afsondering nodig waar ek kan chill en dink en beplan.” Sy knik. “Jy’s ’n enigste kind. Net enigste kinders kan so wild en selfsugtig droom.” “Hmmm . . . Wel, seker. Jy ook? Enigste kind.” Sy knik. Hy sou sy huiswerk gedoen het voor hy haar in sy bisarre heiligdom ingenooi het. Hy weet seker baie meer van haar as sy van hom. “Dis wat jy my wou wys, jou wegkruipplek. Maar hoekom vir my?” vra sy versigtig. “Jy mag enigiets vra, ek sal antwoord. Al wat ék vra, is dat jy my plek ’n geheim hou en niks daaroor verklap nie. Daar’s baie soortgelyke plekke wat die metro seker mettertyd gaan platslaan. Maar myne is ’n soort landmerk in ’n straat van bouvalle, ’n besienswaardigheid vol misterie. Ek is die onsigbare eienaar, ’n ander soort slumlord. Voorlopig kan niks gesloop of verander word nie. En ek beplan nie om te verkoop nie.” “Goed, ek sal nie oor jou wegkruipplek skryf nie. In elk geval, ek dink nie my
koerant sal nou enigiets publiseer wat ek oor jou skryf nie.” “Waar wil jy werk?” “’n Tydskrif, of vir ’n internetpublikasie. Werk is skaars.” “Ek dink daaraan om self een te begin . . . ’n e-publikasie oor graffiti, kuns en empowerment vir kreatiewes. Titel: Underdog of Straatkat.” Sy trek ’n gesig. “’n Bietjie é? Daar’s deesdae ’n menigte blogs wat dieselfde doen.” “Jy’s seker reg. Dis net . . . ek haat voorskrifte, vooropgestelde idees, resepte, vasgestelde, voorspelbare formate. Same old same old. Daarom hou ek van kaal mure – ’n ope uitnodiging. Elke oppervlak bied ander uitdagings. Gevaarlike blootstelling. Rou, vuil, blink, stink, besoedel. Dís mos nou die kaalgeskeerde gesig van Jozi.” Sy stap saam kombuis toe en hy skink vir haar nog water. In die aangee raak hul vingers ’n oomblik lank om die koel glas. Sy drink dorstig, druk nat vingers teen haar slape. “Gaan jy my nie vra oor die Sirkelman nie? Dis tog wat jy wil weet?” pols hy. Ja, sy kan hom sien as die Sirkelman, ’n waansinnige kaal man in ’n sirkel, ledemate wyd gesprei in kreatiewe ekstase. ’n Toneel wat woorde troef. Sy wil daar by hom inklim, in sy volmaakte donker sirkel. Veraf druis die stad. ’n Sirene loei nader, swiep verby en weer weg. Die wêreld van regte mense, pyn, swaarkry, dood en harde werk, werkloosheid en sinvolle interaksie voel vir haar baie ver weg, ’n blote herinnering. Sy kyk op na hom. Sy ken hom nie. Sy ken hom intiem. Hy sit sy bierblik neer, lek sy lippe selfbewus, kyk na haar met daardie oë. Sonder ’n gebaar of deurskemering van begeerte gaan hy vir haar wyd oop. ’n Soort genaakbaarheid, ’n reddeloosheid, ’n onweerstaanbare kyk wat in haar boor. ’n Vraag.
Sy gaan vinnig na hom toe.
51
Die navorser peins oor jaarringe. Bome onthou anders as mense, dink hy. Waar mense die ouderdom as plooie en littekens van verweer op die vel dra, verouder bome streng na binne, ’n onsigbare, geheimsinnige proses. Die beknopte geskiedenis van die boom in laag op laag op laag, saamgepers in sikliese patrone en vogkartels wat die maer en die vet jare grafies karteer, kontrasteer. Jaarringe, leefringe, dor jare, drinkjare. Saag jy ’n mens middeldeur, kry jy bloed en derms. Saag jy ’n boom middeldeur, kry jy saagsels en ’n lewensplaat waar die geskiedenis van die planeet en klimaat gespeel, herhaal en gewysig word. Houtrondomtalie. Die stuk uit die navorser se versameling briewe en knipsels wat hom die meeste geskok en gegrief het, was ’n “ware verhaal” wat hy per e-pos van ’n oudkollega ontvang het. Dit handel oor van die wêreld se oudste, grootste bome wat afgesaag en afgekap is deur spanne houtkappers in die dae voor kettingsae, met aangrypende wit-en-swart foto’s van dié stukkie dwase geskiedenis. Die goeie ou dae. Die begin van smarte. Die anonieme skrywer van die gemoedelike brief gebruik die vrolike opskrif A blast from the past! Verbeel jou, mor die navorser waar hy deur sy liasseerkabinet blaai. Kamstig ’n amusante kykie op ’n outydse gebruik, voor daar meer doeltreffende masjinerie was om die omgewing onomkeerbaar om te dolwe en te vermink. Nie dat onuitvoerbaarheid die mens destyds gekeer het in sy sistematiese werk van aftakel, uithol en verwoes nie. Daardie statige reuse wat met soveel moeite geoes is, was die grootste, taaiste, mooiste bome wat ooit op aarde gestaan het. A blast, ja! Weggeblaas. ’n Volslae uitwissing, ’n holocaust wat spreek van die
briefskrywer, van die hele ménsdom, se oneerbiedige, onsensitiewe onkunde. Daardie “vooruitgang” van lank gelede raak ons almal vandag ten diepste; saam met die natuur is ons daardeur ontneem, ontwortel en verwond. Of soos Lydia die boomfluisteraar dit sou stel: die ketting is uitmekaar geruk. Skakels is verwoes wat ’n leemte en wanbalans bewerkstellig het wat ons op elke vlak van ons bestaan benadeel en ontwrig. Hoe voel dit om in ’n uitgeholde boom te woon? wonder die navorser. ’n Boom sonder jaarringe, en dus sonder geskiedenis? As jong soldaat in die Caprivistrook tydens die grensoorlog het hy eenkeer in Katima Mulilo sy besigheid gedoen in ’n uitgeholde kremetartboom wat as toilet ingerig is – hoe histeries tog! Hy het dit destyds as ’n aardige nuwigheid beskou wat hy in sy briewe met sy meisie kon deel. Nou, op sy oudag, kry hy skaam, vra hy homself af: Hoe sou jý voel as iemand jou hart uitruk en in jou longe kak? Maak hy hom ook skuldig aan so ’n vergryp met die bou van die boomhuis in Sfinks? Nee, nee. Dis juis die teenoorgestelde, verseker hy homself, ’n viering van bome eerder as hul onderwerping. Só sal hy sy eerbied, deernis en liefde toon – natuurlik ook as ’n praktiese les en hoogs sigbare voorbeeld vir die bure wat bome links en regs vergruis!
52
’n Uur op ’n slag een keer ’n dag – gewoonlik op die dek wat uitkyk na die agterste bure – of ’n kwartier in die toring is aanvanklik genoeg om die navorser se obsessie te voed. Hy vat sy whiskyfles en verkyker saam (iets vir die tong en iets vir die oog) en plaas sy opvoustoel só dat hy die kerktoring in die verte en die sonsondergang (roesrooi van die besoedeling) kan sien. Langsaan staan Oorwinnaar (kleiner as Sfinks maar groen en kerngesond), en die navorser kan hom nou ook aan die kant van die oorwinnaars skaar. Omdat Sfinks se blare byna jaarlank dig en groen is, kan hy hom verbeel hy sien sonder om gesien te word, bespieder van die heelal (of minstens buurtwag in die boomtop). Sy vrou laat hom begaan, kom staan net partymaal onder die boom om op gedempte toon met hom te praat oor iets onbenulligs soos die kragonderbrekingskedule vir die week of die toilet wat lek. Sy probeer nie voorgee dat die boomhuis nié vir haar ’n infantiele stokperdjie is nie. Basies ’n verleentheid wat haar rooi van skaamte laat wanneer familie of vriendinne haar taktvol-geamuseerd uitvra. Veral ná die artikel en kleurfoto op die gemeenskapskoerant se voorblad: Man tree af in boomhuis. Vir die “amptelike daknatmaak” nooi die navorser ’n paar verlangse kennisse oor: die slagter, Worsie Minnaar, wie se Beste Boerewors in die Suide hulle gewoonlik op Woensdae braai en geniet saam met pap en sous; Coert Willemse, die argitek-bouer van Knysna (wat tot sy vrou se openlike teleurstelling nie kan kom nie omdat hy besig is met ’n houtvilla in Wildernis); dokter Menz wat sy geskeurde beenspier behandel het; sy vrou se haarkapper en naelskilder. Die genooides bring elk ’n metgesel saam, almal hul gades. Die gaste begin teen halfvyf al in pare aankom, geklee soos vir ’n maskerbal met geveerde hoede en in skakerings van groen en rooi (volgens die e-uitnodiging se versoek vir formele drag). Hulle bestyg die trapleer stadig en skertsend na die eerste vlak, waar hulle ingewag word met ’n kelkie sjerrie of nie-alkoholiese pynappelpons. Vroeër het die navorser en sy vrou skinkborde vol eetgoed met toue opgehys en op elke vlak op klein tafels uitgepak, en daar wag ’n paar
bottels vonkelwyn in die toring vir ’n simboliese skuimstorting op die trappe en laer vlakke. Die navorser voel lighoofdig van al die borrels en die gekraak van vloerplanke onder soveel voete en lywe, die skouspelagtige sonsondergang oor die buurt se dakke, die effense wieg-en-roer van takke en blare, die gaste se flou groen grappies, en vir die eerste keer kan hy homself voel uitstyg bo sy asosiale persoonlikheid en anonieme bestaan. By die bure se bloudakhuis is dit weer eens grafstil. Selfs die woonstelbewoners op die onderverdeelde erf is afwesig of skynbaar glad nie geïnteresseerd nie. Hoe meer hulle lag en glasies klink, hoe stiller is dit op die vyandelike front. Die triomf van die skemerparty as uitdagende gebaar – kyk nou na ons! – ontlok absoluut geen reaksie nie, geen klagtes of polisie wat opdaag nie. Net vir ’n oomblik (hy kan nie seker wees nie) gewaar die navorser wel iets aardigs, iets soos ’n gesig by ’n venster, bleek en versonke, swart oogholtes en kaal kop. Die spookgesig, wat net so skielik weer in ’n rimpeling van gordyne verdwyn, stuur ’n rilling deur hom. Hy stort wyn op gaste se skoene en probeer ’n grap daarvan maak: “Hiermee word my boomverblyf amptelik gedoop Huis in die Hoogtes, drink daarop!” Teen tienuur word die gefuif afgesluit met ’n Chinese papierlantern wat sy vrou in die tuin aansteek en loslaat. Ná ’n ademlose oomblik styg die brose wit korf stadig tussen Sfinks en Oorwinnaar deur op en begin sweef noordoos (rigting China). Binne minute is dit hoog en klein in die inkblou hemel, tot dit ook net ’n herinnering word – die volmaakte afsluiting vir ’n perfekte samekoms. Blink gesigte na bo gedraai in die vervloeiende lig van LED-lampies in vrugteflesse wat heeldag deur die son gelaai is, die rooi en groen van hul kostuums nou bloedmaroen en skadublou. Die hond stuur een lang, treurige blafnoot agter die Chinese lamp aan; die geselskap lag en klap hande. “Jaar van die Huilende Hond,” som slagter Worsie Minnaar dit op. Kort daarna klim die gaste weer in pare uit die boom, kyk vir laas na die fantastiese houtkonstruksie in die skewe boom, en keer glimlaggend huiswaarts. Dis ’n aand wat hulle altyd sal onthou, vaakstories vir die kleinkinders. Die navorser en sy vrou begin langsaam opruim, vou tafeldoeke op, gee borde en
glasies aan na onder. Wonder opgetoë of daar al ooit ’n boomparty in hul voorstad was.
Die volgende oggend vroeg haal die navorser sy lêers vol knipsels uit sy staalkabinet en trek dit oor na die boomhuis se slaapkamer, waar hy dit in ’n houtkis wegpak. Dit voel reg hier, en sy vrou is ook heimlik verlig. Hy besluit om sy vergange vyfjaarplan in die boomhuis te hervat, en hierdie keer is hy vasbeslote om eens en vir altyd sy versameling op te dateer en te orden tot alles sin maak. Elke brokkie, storie en kettingbrief, al die laslappienuus van twee verstrooide dekades. Sy vrou begin kla oor ’n nuwe plaag in die huis en beddings: duisende swart duisendpote wat oornag op krioelende pootjies uitgekruip het en soos aandagstrepe oor vloer, trappe en grasperk in alle rigtings marsjeer. Sy kan hulle nêrens mistrap nie, kraakgeluidjies wat haar gilletjies van angs laat uiter. Maar in die boomhuis is daar nie ’n enkele duisendpoot nie, net vrede. En knipsels vir Afrika. Bedags is die navorser soms bewus van besoekers. Terwyl hy sy papierwerk sorteer in verskillende lêers en bokse, is daar die krapgeluide van pootjies, pikkende bekkies, die roepe en geselsies van voëls op die dak, dek, traprelings, vensterbanke en omringende takke. Aanvanklik is dit alles agtergrondmusiek. Hy gee nie spesifiek aandag daaraan nie, kyk net soms terloops van sy papiere op om ’n mossie of spreeu te betrap wat hom skewekop met kraalogies aankyk en dan dadelik wegvlieg. Dis nie meer net ’n uur op ’n slag nie; hy vertoef al langer in die boomhuis. Wanneer hy hom kom kry, was hy die hele oggend daar doenig, en altyd is daar die geveerde besoekers wat iewers in sy onmiddellike omgewing met hul eie dagtakies werskaf. Gereelde besoekers is die vet duiwe, ’n janfrederik en twee houtkappers (die vinke het weggevlieg en halfgeboude neste agtergelaat). Twee muisvoëls het die mossies in die boom kom verpes, en ’n loerie was ’n dag lank vol streke, ’n hanswors wat alles beloer en koggelgeluide maak. Een vroegdag hoor die navorser ’n piet-my-vrou roep, ’n onsigbare buikspreker wat sy knaende roep na skuilhoeke van die boom stuur terwyl die navorser vergeefs probeer om hom te sien. ’n Ander dag kom sit ’n jong hadida iewers
bokant hom en roep valserig na ’n verlore maat, tot die hond se histeriese geblaf hom verwilder. Daar is heelwat ander voëls wat hy nie kan uitken nie. Soms vergeet hy minute lank van sy bondels papiere en hou die voëls dromend dop, sy verkyker op hulle gerig, verwonderd oor die skynbaar sinlose roetines van voëlwees. Hy moet die Newman-voëlgids uit die woonhuis gaan haal en ’n diepgaande studie maak van sy nuwe bure, die voëls, dink hy. Veral noudat dit wil lyk asof die stryd met die agterste bure gewonne is. Want al sien hy saans ligte en ’n televisieskerm wat blouerig flikker, kan hy nie sy buurvrou of wie ook al in die tuin of op die stoep betrap nie. (Die doodshoof het hy nie weer gewaar nie.) In die woonstelgebou is daar eweneens min aktiwiteit, moontlik staan dit leeg in die slegte ekonomiese klimaat. Dis asof sy bure, anders as die woelige voëls (behalwe die ontwykende piet-my-vrou) vir hom wegkruip. Tog, daar is oorgenoeg afleiding. Sy aandag word al meer getrek deur die wipsprongetjies en toertjies van gevlerktes, die kleure en patrone van hul vere en spits gesiggies, die verskeidenheid fluite, gorrelsang en kwetterliedjies (dikwels vraend), asof hulle baklei of repeteer aan ’n konsert. Soms is daar nie een voël te sien nie, ander kere weer twee of drie of meer op ’n slag. Sy besoekers is vriendelik, nuuskierig – gelukkig nie die stil starende, dreigende swerms van Hitchcock se The Birds nie. Hy is alleen sonder om alleen te wees, altyd seker van die besoekers se teenwoordigheid. Ongenooid, maar nooit onwelkom nie. Die besoek van Lydia Brookfield-Horne aan die boomhuis (sy was oorsee tydens die skemerparty) is ’n noemenswaardigheid. Dit val weer saam met sy vrou se naelafspraak, en glo dit of nie, hy’t dit nie so beplan nie! Die boomfluisteraar se gewigtige teenwoordigheid laat hom gloei, oorweldig hom met gemengde gevoelens. Hy het haar gemis, is sy eerste stamelende bekentenis. Haar goedigheid, haar wysheid, haar eerlikheid en insig. Wat hy nié aan haar kan erken nie, is dat hy skielik met ’n skok sy onstuimige drome onthou het – sensuele ontmoetings wat sy vrou beslis nie sal amuseer nie. Lydia is ook geskok, maar nie oor enige bekentenis nie. Sy staar ’n minuut lank sprakeloos na die boomhuis. “En hy het dit toegelaat?” is al wat sy kan uitkry.
Dan skop sy haar sandale uit, stap ligvoets tussen die duisendpote deur en slaan haar arms om Sfinks, bly lank so by hom staan. Die navorser kan nie hoor wat sy vir die boom fluister nie, maar duidelik is sy aangedaan. Vet trane biggel oor haar ronde wange. “Arme ding, arme verdrietige boom!” is al wat hy hoor toe sy haar swaar arms laat sak en terugstaan. Toe vee sy met sonbruin hande oor haar nat wange, glimlag stralend en begin die trapleer moeisaam klim. Hy wag respekvol onder die boom tot sy minstens ’n dosyn trappies gevorder het. Dan volg hy haar massiewe agterstewe, kyk huiwerig op met waardering en ’n mate van ontsetting. Wat ’n skouspel! Soveel om te deel! dink hy. Hy wil sy hand uitsteek om haar vrygewige boude te stut, maar eintlik hoop hy sy vat mis en val op hom. Wat ’n manier om die ewigheid in te gaan! Hy wys haar die uitsig op die verskillende vlakke, vertel van die gesellige skemerparty, die voëls wat hom besoek en vermaak, van sy vyfjaarprojek wat afsluiting nader. Sy luister aandagtig na sy praatjies, knik en streel oor kwaste en dele van takke en die stam wat in die vertrekke sigbaar is. Die navorser probeer haar beïndruk met sy algemene kennis, spesifiek oor groen kwessies en aardverwarming. Hy vertel van Sweedse navorsers wat ’n oerboom opgespoor het met wortels wat 9 550 jaar oud is – die oudste vorm van lewe wat die mens nog op aarde kon vind. Wie weet, daar is dalk bome wat selfs ouer kan wees. Geen mens, dier of gogga kan kompeteer as dit kom by sulke langlewendheid nie! Nie eens Metusalem in die Bybel nie, na bewering die oudste mens ooit; Metusalem, seun van Enog en oupa van Noag, wat 969 jaar oud geword het en sewe dae voor die Groot Vloed oorlede is. (Gepraat van die sondvloed, het Noag nie die Ark ten volle van hout gebou nie? Ironies dat bome se hout millennia lank die mensdom na veiligheid gedra het, en vandag word bome in dermiljoene uitgeroei deur geldgierige mense.) “Die Sweedse boom is tien maal ouer as Metusalem!” vertel hy. “Is dit nie voldoende bewys dat bome die belangrikste wesens op aarde is nie? Lewende simbole van onverganklikheid, beskutting en oorlewing.” Lydia kyk na hom met sielvolle oë, vat sy hand en druk dit dat die handbeentjies hoorbaar kraak. Op haar beurt swymel sy oor die oudste edel boomreuse in
Amerika, Europa en die Ooste wat deur groen dissipels bewaar word, lewende monumente wat waarskynlik talle generasies mense sal oorleef (indien die aarde bly voortbestaan): die Patagoniese sipres, Westerse sawelboom, borselkegeldenneboom van die Rocky Mountains, heilige vy, rooihoutboom van NoordKalifornië, die vosstertdenneboom, Noordelike wit seder, kaalkopseder, Nootkasipres, olyfboom, taksus, Mediterreense sipres, Europese taksus, Japannese seder, kauri, Oosterse plataanboom, gesteelde eik, Montezuma-sipres . . . om maar enkeles te noem. Die navorser is in ekstase: hulle stem saam oor een ding, hulle is saam gewortel, verenig in hul liefde en ontsag vir bome. Hulle verstaan iets wat ander nie verstaan of raaksien nie. Mense kom en gaan, ploeg woude met stootskrapers om, brand hout vir braaivleis en ontwortel alles in hul besete vooruitgang. Bome bly. Bome ís. “Weet jy wat is vir mense die heel belangrikste ding op aarde?” vra hy. Sy dink na. “Seks? Geld? Status? Invloed?” Hy skud telkens sy kop, glimlag meewarig. Nee, nee, nee, weer nee. “Wat dan?” “Kennis.” Dís wat alle mense dryf van geboorte tot dood, verklaar hy, die drang na kennis. Kennis rig. Kennis bou. Kennis bevrug, verryk, bevry. Maar ook: kennis bedonner. Kennis ondermyn. Kennis vernietig. Nooit kry mense genoeg van kennis nie. Kennis is verslawend. Dis nuus. Dis vermaak. Dis stories. Dis teologie en filosofie. Dis waar en dis vals. Dis lig en dis donker. “Dís wat my boei en prikkel en mal maak van my hope beriggies en brokkies makabere nuus. Dis snuifies kokaïen. Van die internet praat ek nie eens nie! Daar baljaar alle kennis in ’n oseaan van weet en wonder.” Weet sy van die ewigheidsmasjien? vra hy (nog ’n deursigtige poging om haar guns te wen). “Moet ek daarvan weet?” Pruimbekkie wat ’n vraag blom.
Hy kan voel hoe hy bloos. Hy het hom lankal op hierdie oomblik voorberei: om sy kennis onbeskaamd uit te stal. Die ewigheidsmasjien: die nuwegenerasie-superrekenaar genaamd D-Wave Two wat volgens die beginsels van kwantumfisika werk. Potensieel die rekenaar wat alle bestaande inligting kan verwerk om alle vraagstukke op te los! Daar’s letterlik geen einde aan die toeings van dié revolusionêre uitvinding nie – altans, dis wat die ontwerpers daarvan aanvoer. Wat die rekenaar so ongewoon maak, is dat dit in twee realiteite kan verken en funksioneer – in ’n neutedop. Volgens een fisikus is dit “die eerste tegnologie wat toelaat dat nuttige take uitgevoer word in die samewerking tussen twee parallelle heelalle”. Die rekenaar benut die beginsel van superposisie, waarvolgens ’n kwantumstelsel tegelykertyd in meer as een toestand en op meer as een plek kan wees. D-Wave Two kan glo meer berekenings maak as wat daar atome in die heelal is, in ondenkbare veelhede van omvang. Nou is dit sy beurt om haar hande te gryp en te druk soos hy die impak probeer tuisbring. Hy stu uitasem voort: D-Wave Two het die potensiaal om probleme op te los wat ander rekenaars eeue sou neem, in velde so uiteenlopend soos kriptologie, nanotegnologie, die farmaseutiese bedryf en kunsmatige intelligensie. Dis dalk heiligskennis om dit so te stel, maar nie net matematiese berekenings kan ’n miljoenvoud vinniger gedoen word nie, selfs synsvraagstukke kan moontlik opgelos word. Gesondheidsprobleme soos vigs en kanker en oud word, selfs die dood kan moontlik voor stok gekry word . . . uitgestel en selfs áfgestel word! Hy skep asem, rooi in die gesig van inspanning en konsentrasie. Lydia frons liggies, draai haar kop skuins soos een of ander eksotiese voël (plompste papegaai), leun terug teen die trapreling. “Dood en lyding is deel van die ketting, my liewe mens – vertel dit vir die uitvinders wat dink daar’s antwoorde vir als. Vra vir Sfinks, in wie se hande jy hier sit. Sonder dood is daar nie vernuwing en herstel nie. Jy weet mos, wedergeboorte kom ná selfopoffering. Lees die Nuwe Testament: sonder dood sal die mensdom en sy probleme ophoop en groei tot ’n skrikwekkende Everest! Nee, jongie, enige mens of masjien wat aanvoer die dood is uitstelbaar of afstelbaar, lieg! Dan is jou ewigheidsmasjien ’n leuenmasjien. Sonder dood sal
almal al selfsugtiger raak, en sonder ’n einde in sig sal korrupsie versnel en alles, álles oorvat. Ons moet dankbaar wees daar’s iets soos die dood wat ’n dik swart streep onder ons skokkende vergrype trek. Wat ná die dood gebeur, is dalk iets wonderliks. Dalk nie. Maar dis onafwendbaar en broodnodig. Waarom sou ons dit wou omseil? Die ketting manipuleer of breek? Nee, o maggies, nee!” Hy voel bekaf oor die koel ontvangs van sy jubelende mededeling. Nie juis waarvoor hy gehoop het nie; al sy pogings om haar te beïndruk was futiel. Sy is die aarde vir sy hemel, uiterstes wat mekaar aantrek. Sy kan iets so onbegryplik en verstommend soos die ewigheidsmasjien in ’n nugter perspektief plaas en met ’n paar onbevange woorde afskiet, die verreikendste uitvinding nóg tot ’n gemeenplaas van menslike dwaasheid reduseer. Sy is miskien sterflik, maar sy is meer as sterfling – sy is ’n godin! Hulle klim af aarde toe, en hy kan voel hoe hy langsaam die bodem van sy verwagtinge bereik. Haar soliedheid is onaantasbaar, groots in elke sin van die woord; hy sal nie eens weet hoe om haar reuse-bra los te haak nie. Hy sal verdrink in haar tentrok! Rufus besnuif haar intiem terwyl sy afbuk om haar sandale vas te maak, en sy laat die hond net begaan. Hoe gemeensaam! dink die navorser. Hy het opgelet hoe die duisendpote oral opkrul waar sy trap en tog nooit onder haar sole beland nie. Hoe anders as sy vrou wat hulle in dosyne onder haar hakke laat kraak! Lydia vee haar hande teen haar kussingdye af (sou sy vuil voel van hul kontak?) en kyk vir laas terug na die boomhuis. “Jy moenie in die boom woon nie, jy moenie jou drome daar droom nie, jy moet beslis nooit daar oornag nie. Asseblief, ek sméék jou. Ek kon dit nie vir jou in die boom sê nie, want soos jy weet, is hy hipersensitief vir negatiewe vibrasies, maar Sfinks hou ’n front van aanvaarding voor. Die boom is kwaad, selfvernietigend so, en sy woede gaan binnekort op een of ander manier manifesteer. Ek weet nie hoe nie – maak nie saak hoeveel ons van hulle weet nie, bome is raaisels. Hulle laat hulle nie deur enigeen ‘oplos’ nie. Jy bevind jou in die stilte voor die storm, en Sfinks se kern is donker. “Ek vermoed hy’s manies-depressief, dalk selfs bipolêr – dié terme net om jou te help verstaan. Hy’s nie klaar met julle nie. Jammer, maar ek moet jou weer dringend waarsku. Dis nie kinderspeletjies nie, dis dwáásheid, my ding. Ek kon
daai boom voel brom soos ’n kragopwekker, die vibrasies het my vingerpunte verlam. Voel hier hoe koud is my hande, my nek! Ek wens fluister sou werk, maar anders as Oorwinnaar voel Sfinks minderwaardig. Fluister laat ontspan hom dalk vir ’n paar minute, maar dit raak nie aan sy diep stres nie. Jy kan nie met ’n boom soos hierdie redeneer dat wraak verkeerd is nie. Vir hom is dit al wat oorbly.” “Wraak? Op wie?” Sy trek net haar skouers op (’n sensuele golwing van vlees) en hy moet maar sy eie gevolgtrekkings maak. Laatmiddag, toe sy vrou terugkom met glansende pers naels, klim hy moeisaam terug in die boomhuis. Met Lydia se woorde wat deur hom fluister, lees hy ’n paar beriggies (’n vermiste vrou wat by haar eie soekparty in Ysland aansluit; ’n Chinese man wat probeer selfmoord pleeg deur in Bengaalse tiere se hok te spring) en bêre dit dan in ’n lêer waarop hy Lost & Found met blou kokipen geskryf het. Dié aand oornag hy die eerste keer in die boomhuis. Alleen. ’n Koel herfsluggie vee oor sy voorkop. Hy slaap nie juis nie, veels te bewus van die krieke, die maan wat deur die venster inskyn, die onophoudelike skraap en kraak van takke onder die vloer en teen die mure, ’n geitjie teen die plafon. In die stil ure begin sy hart harder bons. Hy verwag enige oomblik ’n klop aan die deur, en wanneer hy oopmaak, sal hy sy ouma in die maanlig op die houtdek met uitgestrekte arms sien staan.
53
“Wat is dit?” Sy warm lyf teen hare, oop en bloot. Sy lenige armspier, elmboog, pols, handpalm . . . “Wat?” “Moenie maak of jy nie weet nie. Op die rugkant van jou hand.” “O, dit.” Ina vryf oor die merk tussen die blonde haartjies, lig sy seningrige hand op om dit van naby te bekyk. “Lyk soos . . .” “Geboortevlek.” “Regtig?” Lewe klop onder sy bleek vel, in ’n kronkelende aar tussen sy kneukels. “Wel . . .” ontwyk hy slaperig. “Lyk nie so nie.” “Nou toe?” ’n Sug van oorgawe. “Tatoeëermerk.” “Dis nie hoe ek daaraan dink nie,” kreun hy. “Maar . . .?” “Maar ja, dis wat dit is.” “Liewe hemel! Wat gaan dit vat om jou defences af te breek?” bars sy uit. “Ek het jou gesê jy kan vra, ek sal antwoord,” paai hy.
“Maar nie noodwendig die waarheid nie. En als met ompaadjies,” verwyt sy liggies. Die rooi bedlampie brand. Dit kan dag of nag of middernag wees, sy weet nie en dit maak nie saak nie. Saam met haar klere het hy ook haar horlosie en inhibisies afgeskil. Saam het hulle tyd gehou. Tyd laat ophou. Sy dink sy het ’n ruk met oop oë gedroom, dalk ’n wyle weggeraak. Die reuk van sy lyf soos skoon grond, ’n aardse parfuum, sy hande wat spore deur haar hare hark. Hulle het mekaar se sintuie geword. Sy beswete onderlyf glad en gespierd teen haar bene, knieë, heupe. Sy boude hard soos sy plat maag. Hy draai na haar, soek haar naeltjie uit met ’n tergende wysvinger. Knoop haar vingers in sy sterk greep. Met ’n skokkie onthou sy van die selfoonbattery wat sy nooit onder haar kar uitgehaal het nie. Sy het seker daaroor gery toe hulle by die parkade uit is. Nou is sy behoorlik afgesny van almal in die buitewêreld. Pachelbel se kanon is stil. Sy is oorgelewer aan ’n vreemde man in ’n uitgebrande gebou. In die holte van sy hand. Maar onbekend en vreemd is nie meer vir haar sinonieme nie. Hulle wonder seker al by die werk wat van haar geword het. Dalk het iemand haar as vermis aangemeld. Of is dit te gou? Die stad het haar ingesluk op die dag wat sy afgedank is. Stoppertjie (miskien) op bladsy 5: Joernalis vermis. Niemand kan onthou watse klere sy gedra het nie. As iemand haar gesien het, moet hulle asseblief . . . ensovoort, kontakbesonderhede van die polisie. Haar ouers in trane. Dawid wat dertig boodskappe los op haar stukkende selfoon se boodskapdiens, blasend soos ’n stoetbul. Dawid wie se gesig sy nie kan onthou nie. ’n Vreemde sensasie kriewel diep in haar maag. Sy’s geskok om dit as ’n gevoel van opwinding te herken. Ja, sy wíl verdwyn, besef sy. Iewers in ’n donker gat afval. Dwarsdeur die aarde tot in China. Alice in Ashoopland. Omgekeerd haar voete vind, selfvoldane handstane maak, sing in Mandaryns. Raymond kyk na haar met sy blou-blou oë. “Partykeer is ompaadjies die hele
storie,” sê hy. Die strepies op sy hand is te fyn om met haar nael na te trek. “’n Spinnerakkie. Vir ’n baie klein spinnekoppie?” “’n Herinnering.” “Ja? ’n Ou flame? Jou destiny?” Iets soos pyn flits in sy oë. “Jy hoef my nie te vertel as jy nie . . .” “My suster . . . Lizette. My tweeling.” “Jy het ’n tweelingsuster? Waar’s sy nou?” “Wie weet? Ander dimensie?” Ina is skielik wawyd wakker. “O, ek sien. Ek’s jammer. Hoe . . .” “Sy was allergies vir bye. Sy’t haar botteltjie epinephrine-pilletjies oral saamgedra. Hiperversigtig in die lente as die veldblomme uitkom. En toe . . . toe byt iets anders haar.” “Hoe oud was sy?” “Nege. Ons het gaan bergklim, gespeel ons is ontdekkingsreisigers. Op een van my pa se plase naby Barberton. Sy’t ’n mooi groen klippie opgetel, gedink dis iets waardevols. Toe voel sy haar pols brand. Die knopiespinnekop was onder die klip; ek het dit met ’n stokkie doodgedruk. Sy’t spoeg aangesmeer en gelag. Ek het solank vooruit geloop. Toe ek omkyk, lê sy daar in die paadjie. Eers het ek gedink sy’t geval. Maar sy kon nie asem kry nie. Teen die tyd wat ek by haar kom, was sy al blou in die gesig.” “Ek is só jammer.” Hy staar na die plafon. “Dis die hele storie . . . sonder ompaadjies.”
“Dis verskriklik, ’n nagmerrie. En jy was nege.” “Ja. Sy was die oudste, met twee minute.” “Het jy ’n foto van haar?” Uit die bedkassielaai krap hy ’n kiekie, ’n harde ou Polaroid van twee skraal blonde kinders met die kenmerkende blou oë, sonbruin en vol sproete. Hulle sit hand om die lyf op ’n damwal. “Vinkel en koljander. Sy was mooi.” “Sy was wild. Ons het mekaar altyd gepush, mekaar gejaag. Ons was goed met atletiek en hekkies, het gedurig resies gehardloop – tot my ma se ewige frustrasie. Lizette het meeste van die tyd gewen. Sy’t kortpaaie gekies, my gepootjie, vuil gespeel en . . . wel, sy was net vinniger. Altyd eerste oor die streep, al is dit met ’n haarbreedte. Ná haar dood het ek myself gedryf om vinniger te wees, elke dag op my eie gaan draf tot my wind uit is. Op hoërskool het langafstand my gepas. Ek het my verbeel sy draf saam en ek hoor haar stem, sy push my al weer, kom-kom-kom!” Sy praat is nie meer kortaf en kras nie maar rustiger, teer, gedagtes wat vloei. Hulle praat al ure lank. Of is dit dae? Sy hoef nie meer in joernalistieke modus te gaan met spesifieke vrae en ’n simpatieke oor nie. Hy voel haar vrae aan, spring haar voor, lees haar. Hy kan haar hier hou, ’n gevangene van sy woorde. En sy hande. “My ma het haar ankers verloor ná Lizette se dood. Sy het soggens twee kosblikkies gepak, saans ’n plek aan tafel gedek waar my sussie altyd gesit het. Sy het haar bekommer oor Lizette se huiswerk en die eksamens. Dan weer onthou en stil geraak vir dae aaneen. Sy het ure op Lizette se bed gesit en praat met die kussings, vir haar nuwe klere gekoop. My pa het my ma na duur inrigtings gestuur, sy’t pille gesluk soos water. Maar sy kon net nie afskeid neem van haar eersteling nie. Soms het sy my Lizette genoem, Lizzie, my aangekyk wanneer sy besef ek is nie . . . asof ek haar op een of ander manier gekul het. Sy’t my blameer tot ek myself geblameer het.” “Is jou ma . . .?”
“Vyf jaar gelede oorlede. Net op ’n dag ophou eet en uitgeteer. Sy’t besluit dis nou genoeg.” Buite het dit saggies begin reën, vlagies van ’n paar druppels op ’n slag, spatsels op die vaal sypaadjies wat onmiddellik verdwyn. Die wolke knars soos treinwiele. Maar in die kamer in die kern van die bouval is hulle nie bewus van die storm nie.
54
Carte blanche. Raymond kon studeer net wat hy wou, hom bekwaam as vakman, sjirurg of filosoof, sy pa sou betaal. Geen voorskrifte nie, net aanmoediging. Tog was hy clueless. Onbewus van sy innerlike kompas, afgetrokke, verdwaald. Ná matriek het hy ’n jaar oorsee gaan rondloop, as kelner op ’n luukse asiersboot gewerk, skinkborde gedra en skottelgoed gewas, goeie fooitjies verdien wat hy nie eintlik nodig gehad het nie. Saans het hy op die dek gedraf, om en om met sy oë op die dynserige horison. Wat hy eintlik wou doen, was parkour. Op YouTube het hy jong mans in troppe sien hardloop en koes en spring en wip soos ’n onkeerbare weermag voetsoldate van rubber. Uiteindelik het hy in Parys by ’n klein bende parkourmanne (en ’n paar meisies) aangesluit. Sy bynaam was Cheval Noir. Donker perd. “Il est un cheval noir.” Naweke en weeksaande het hulle die stad ingevaar, elke week ’n ander distrik. Hulle het roetes uitgewerk, deur die strate gestreep en verdiepings ver gebokspring en getuimel, ’n gratis straatsirkus wat terloopse toeskouers stokstil laat staan het. Sommige het hulle aangemoedig met fluite en uitroepe wat in keisteenstrate weergalm het. Niemand het hulle vir misdadigers aangesien nie. Sou hy dit in Suid-Afrika waag, het Raymond dikwels gedink, sou die polisie hom seker agternasit, arresteer of skiet. As jy weghol, is jy klaar skuldig – ’n ou Suid-Afrikaanse gelofie. Se déchaînant et libre. Om wild en vry te hardloop. Die aanvoeling was daar, die lang asem en fiksheid ook. Hy met sy bergklimbene. As jy parkour in een woord kan beskryf, sal dit “slinger” wees.
Deelnemers aan parkour slinger hulleself. Oor elke versperring wat die stad kan bied: padwerke, slote, standbeelde, parkbankies, vullishouers, alle soorte heinings en mure en pilare, blombeddings, motors, traprelings. Jy dink basies aan jouself as ’n rubberbal wat deur ’n sterk arm geslinger word, wat wip en bons en rol en draai en klief en nooit breek nie. Vorentoe, altyd vorentoe. Al wat hy wou doen, was hardloop, onbesorg, oor enige struikelblok, rats aanhou vleg en swenk en hol, vry van swaartekrag teen mure op trippel en oor dakke dans, agteroor flikflak, vooroor bollemakiesie, vorentoe duik. Weg van sy ma se vraende stem, weg van die berg waar sy sussie deur ’n spinnekoppie so groot soos ’n klippie uitgeveeg is. Maar hoe vinniger hy kon hardloop, voortgeslinger deur die noodlot, met gestrekte bene oor mure vlieg soos ’n hekkiesatleet, oor balkonne seil en teen pale en pilare afgly soos ’n brandweerman, hoe minder kon hy weghol van sy treurig roepende ma en sy verlore tweeling en die bol suur van selfverwyt in sy hart. Die wêreld het toenemend te klein vir hom geraak. Die man in sy krimpende sirkel – gestrek tot die uiterste. In Italië het hy Michelangelo en Leonardo da Vinci se werk in koue kunssale opgesoek: skilderye, sketse en liggaamstudies van torso’s, hande, voete, ledemate, spiere en ragfyn weefsel. Sketsboeke vol geteken en geoefen tot hy die ikoniese lyne fyn en akkuraat, vinnig en moeiteloos kon doen. Skets-skets-skets, vee uit, blaas frummels weg, probeer weer. En só het hy die man in die sirkel ontdek. ’n Selfportret met te veel ledemate: Vitruviaanse Man. Hy het sewe dae lank geteken, boeke vol, tot hy dit foutloos kon reproduseer. In sy slaap kon teken. Da Vinci se studies van hande het hom gefassineer, die vingers wat na die handpalm omkrul, soos dié van ’n lyk of ’n slapende. Hoe ongelooflik
karaktervol en roerend menslik is hande nie! Lizette se hande, haar pols met die rooi kol waar die spinnekop sy gif ingespuit het. Hy het ’n baard gegroei, homself vermom as Renaissance-man. Snags, goed geslinger van ure se gedagtelose parkour, het hy opgekrul in sy slaapsak asof hy terug in die baarmoeder was. ’n Ander soort sirkel voltooi. Gekoester én ingeperk. Behalwe as jy die baarmoeder deel met iemand soos jou vroulike spieëlbeeld, as jy stoei met haar, skop en trap en omhels, swewende ruimtewesens aan ’n lewenskoord wat mekaar push na die lig. Skets-skets, vee uit, blaas die frummels weg. Terug in Parys het hy ’n klein spinnerak op sy tekenhand laat tatoeëer, niks groter as ’n gesmeerde duimafdruk nie, naby die mik tussen duim en wysvinger waar hy dit nooit sou miskyk wanneer hy werk nie. Die tatoeëerkunstenaar wat in miniatuurwerk spesialiseer, self ’n dwergie met ’n pet en omkrulsnor, het twee ure lank sy sweterige hand intiem vasgehou en die kielieseer prikwerk met ’n ekstra dun inknaald geboetseer. Die brandpyn het skokkies en pyngolfies gestuur na ander dele van sy lyf – heupe, naeltjie, genitalieë, ruggraat en brein. Só moet dit voel wanneer gif deur jou senustelsel skiet. Hy het saggies geblaas oor die eindresultaat: ’n klewerige klein net wat net met moeite uitgevee sou kon word. Die spinnerak se punte soos voelende pootjies wat aan niks vasklou nie, net daar hang. Gebroke sirkels in sirkels. Sou jy met ’n vergrootglas en ’n skeut verbeelding kyk, is die gesig van sy suster in die spinnerak geweef, maar eintlik is dit net hy wat haar gelaatstrekke daarin kan herken. Ná byna twee jaar in die buiteland én op die waters van die wêreld was hy steeds clueless. Wat wil hy doen? Wat is sy talente? Wat moet hy doen met sy geld? Daar was iets wat moes uit, ’n gevaarlike drang: om te verdwyn in sy skeppingsdrang, om iets grotesks te bou . . . of beide. Terug in Suid-Afrika het hy argitektuur by Tukkies geswot, maar al het hy cum laude gegradueer, was sy ontwerpe vir voornemende werkgewers té avant garde en esoteries, té Europees, hy’s afgeskryf as ’n onpraktiese dromer.
’n Kursus in grafiese ontwerp het ’n nuwe rigting aangedui. Sy eerste werk was in Rosebank, waar hy webwerwe kon skep en sy liefde vir die ou meesters toets. Sy pa het siek geword. Sy ma was ’n gereelde besoeker by psigiatriese inrigtings. Hy het sketsboeke gevul met Da Vinci-studies en krabbels van masjiene, geheime skuifdeure, tonnels, valdeure en sekuriteitskameras. Naweke het hy foto’s geneem van murasies, graffiti en tonge weerlig wat aan die donkergrys stadsgesig lek. Hy het sy eerste stensils uitgesny, beskeie simbole met ’n kinkel: spinnerakke met gesigte, liewenheersbesies, blomme in vullisblikke, skedels wat sigare rook. Sy eerste kleure was pastelle: pienk, ligblou, pers, nartjiegeel. Uiteindelik het hy sy diep skuilplek in die uitgeholde swart kors van Grace Mansions in Hillbrow ingerig. Hy het die stad se geloei in sy drome opgeslurp en die swart kasteel om hom gevou soos Dracula se mantel, en toe eers het die eerste Sirkelman in primêre rooi en blou op ’n wit tuinmuur langs ’n besige deurpad verskyn.
55
Met Dawid se sesde keer op ’n cruise om die blok, parkeerligte flikkerend, trek ’n polisiemotor hom af. Hy rol sy skouers en glimlag skaapagtig. Gee stamelend voor hy’t verdwaal op soek na ’n adres. Besigheid wat nie meer bestaan nie? Nee, hy het die adres verloor, hy probeer onthou waar dit was . . . Maar nee, jammer. Blank gestrike. Die polisieman gluur hom met onverbloemde suspisie aan: Wat soek ’n boertjie op ’n slegte straat in Hillbrow? Waarsku hom smalend teen “loitering” en “street criminals” en “hijackings in the area”. Dis ’n gevaarlike plek, boertjie: moenie dom wees en ’n victim of crime word nie. Hier’s niks vir iemand soos jy nie. Gaan na Rosebank, Parkhurst, Cresta. Dawid weet dis tyd om handdoek in te gooi. Waar kan Ina en haar nuwe boyfriend wees? Wat’s die verdomde aantrekkingskrag van so ’n hool? Miskien het sy ’n prentjie op ’n muur of graffiti gaan afneem – haar nuwe stokperdjie wat hy belaglik vind. Waarom moet sulke verval opgehemel word as kuns? Die tweetjies kon in elk geval lankal uitgeglip het. Tog, hy’t ’n gevoel hulle is nog daar iewers, in daai uitgebrande krot wat lyk of dit eens op ’n tyd ’n spogplek was. Kon nie mooi die naam op die muurtjie uitmaak nie, net ’n paar afgeskilferde letters: G.ace an io.s Twee dae en dosyne boodskappe later . . . maar boggerol reaksie van die klein madam. Hy kan nie eens verskoning maak of weer probeer nie, sy draadjie geknip. Moeilik om te sluk. Erfgenaam, hubare vrygesel, sexy bliksem en TVpersoonlikheid wat kan kies en keur van die mooiste, gaafste, gewilligste meisies in die land! Hel, pel. Jammer, sorry, trap my, klap my. Basies bereid om grond te vreet.
Die vrou met die kwetterstem by die koerant se skakelbord kon net verklap Ina was twee dae laas by die werk. ’n Vroulike kollega in die nuuskantoor was niks meer behulpsaam nie, wou kortaf weet wie hý nou eintlik is. Hy het afgelui sonder om sy naam te gee. Hy het weer die klokkie by haar woonstel gaan lui – geen respons. Eers moes hy gaan gesig wys op die plaas, hy kon nie sake so lank in die voormanne se hande laat nie. Hy’t niks vir sy ma gesê oor Ina se verdwyning nie, tussen sy rondtes deur nog boodskappe gelaat. Sy hande oop en toe geklem, oop en toe, soos wanneer die lus kom om iets te breek. Hy’t ’n gewillige slet loop soek in sy ou haunts; in die tietiekroeg onder rooi draailigte na wringende paaldansers en skrapsgeklede kelnerinne met klein borsies en plat magies gekyk sonder ’n roering in sy lende. Vodka maal drie en twee shooters help ook nie, die sweet loop soos olie uit sy oksels, hy kan homself rúik. Gou verveeld met die speletjie: ses uit tien, elf uit tien, nul uit tien. Sou hy een van hulle meer as een keer kon klits? Die een met die goue tand dalk. Oggendstond is goud innie mond. Sal hulle hom toelaat by die agterdeurtjie? Om hul boudjies warm te wiks? Hoe veilig is hulle? In die skuins spieël bokant die kroeg lyk sy gesig skeefgetrek, gesmelt soos ’n pienk roomys. Sy afgeremde self oor dertig jaar. Vuil ou vrek. Hy besluit om sy nuwe vriendinnetjie te bel. Jessica, Debra, wat’s haar naam nou weer? . . . Ina se vriendin. Toe hy haar vaak stem hoor, onthou hy. “Daniella. Wat maak jy als?” “Dawid, grapkas. Ek tel skapies. Nou net my lig afgesit.” “Bietjie vroeg vir jou . . . halfelf?” “Werk môre aan twee helse advertensiebylaes en die stelsel het heeldag gehang.
As ek nie so pê was nie, het ek jou oorgenooi vir ’n nightcap. Maar miskien ook nie . . .” “Weet jy waar Ina is? Ek bel en bel en los boodskappe . . .” “Ek weet so min soos jy. Sy’s in die pad gesteek, maar dis al twee dae gelede.” “Wat? Is sy . . . ?” “Afgedank, ja. Sy’s ’n paar keer gewaarsku en ingeroep oor sy nie haar kwota misdaadstories lewer nie, toe kry sy kennis tot einde van die maand. En nou’s sy skoonveld. Nie daai dag teruggekom werk toe nie, nog twee dae nie gesig gewys nie. As sy só aanhou, gaan sy geld verloor en swak verwysings kry. En dan? Waar gaan sy dan weer werk kry? Daai kind worry my.” “Het sy niks vir jou gesê nie? Waar sy rondloop nie?” “Nee. Seker nog vies vir my. Vies is lig gestel. Sy’s behoorlik die wetter in vir ons, wie kan haar blameer? Daai aand in die kroeg wat ek . . . ons . . . wel, jy weet. Jy moes my seker nie huis toe gevat het nie, my weerstand was laag . . . en ons was al twee goed geswaai. Pret was dit wel. Meer as pret, ek het bevoorreg gevoel! Ina het die pad gevat, jou net so gelos nadat jy op háár bevel daar opgerock het op kort kennisgewing. Jy was gewillig om ons, om mý te kom help. Maar ek was goed in my gloria in, jy hierdie handsome ridder op ’n wit perd . . .” Die selfverwyte spoel uit: Sy moes Ina nooit gebel het nie, Ina moes hom nooit by haar traumas en obsessies ingesleep het nie, die man in die klub was dalk glad nie die verkragter nie. Sy’t hom net skrams van agter gesien en sy stem gehoor en nou kan sy nie meer een honderd persent seker wees nie, baie mans dra dieselfde parfuum, dit voel alles soos een groot misverstand en nou het iemand seergekry. Ina het haar werk verloor, al gaan dit nie per se daaroor nie. En slapelose nagte lei tot slaperige dae en nou ly háár werk daaronder. Dawid wil skree: Sharrap! maar bedwing hom, klamp sy kake saam. Woede knyptang sy spiere in buik en kuit tot hy vooroor kramp en ’n kreun ontsnap. “Is jy oukei, Dawid? Wat gaan aan?” “Maermerrie teenie hoek vannie tafel gestamp, fok,” lieg hy seepglad.
“Shame, man! Jy verstaan, dis moeilik vir almal . . . kan nie verder vir Ina moeite maak nie. Sy’t al die pad agter my gestaan met die verkragting en aborsie en die hel wat ek deur is. Maar jy’s stunning, Dawid. Jy’s ’n man onder die manne en die regte vrou kry ’n stoetbul en ’n honderdpersent-hero.” In die nanag in die kroeg eggo haar woorde. Ridder. Wit perd. Stoetbul. Hero. Miskien moet hy nog een keer gaan kyk na daai krot in Hillbrow waar hy die spoor byster geraak het. Nie op straat parkeer nie, nee. Hy sal self by daai donker gat inry waarin Ina met haar Honda verdwyn het. ’n Risiko, maar dis al genade. Hy vat sy jagmes saam. Wie weet, dalk lê hulle daar onder iewers in die puin en rommel en bloei, pimpel en pers, gebreekte ledemate, vasgepen en half vergruis onder stukke beton. Hulle sal bly wees om hom te sien, floutjies om hulp roep. Hy hoor dit al! Hy sal buk en sy waterbottel by hul dor, gekraakte lippe hou terwyl hulle gulsig drink. ’n Sint Bernard in die sneeuwit as van die Goudstad. Dalk kan hy twéé lewens red, die koerantvoorblad én die seweuurnuus haal as hardebaard-boereheld in Sodom. Sy ma trots maak, homself terugskryf in Ina se goeie boekies. (Kan iemand hom sê wat ’n vroumens presies wil hê?) Al sal hy eerder daai maergat blonde punk se tjank vir goed wil aftrap.
56
name: Gary Raymond : Borges
Op die skerm trek ’n sirkel homself . . . ditself, in vryhand. In die sirkel verskyn ’n kaal man met gestrekte ledemate. Sy naam is Gary, dink Ina. Sy kyk oor sy skouer, leun teen sy rug. Die hare in sy nek is klam. Hy ruik na muskus en toffie. Soet. Ina en Gary . . . Bonnie en Clyde. Sy laat rus haar ken op sy sagte blonde krulle. Noudat sy sy voornaam ken, laat hy haar toe om meer te weet. Oor sy kindertyd in Barberton, asbesmyne, wiegende koekepanne oor die dorp, sy tweelingsuster Lizette, parkour in Parys, kelner op ’n plesierboot, kaskenades met spuitkanne. Haar lewe tot dusver was so onbeskryflik vaal, veilig, vervelig. Wat kan sy van haarself deel behalwe haar liefde vir warmsjokolade en leesavonture laatnag op haar Kindle? Die misdaadtonele wat sy besoek het? Hy het nie sy volle naam uitgespreek nie, dit net ingetik in die blokkie, teruggeleun en gewag dat sy moet lees. Sy het dit uitgespreek: “Gary Raymond.” En sy weet wie Borges is; sy het dadelik gekliek waarom dit sy wagwoord is. Borges se Labyrinths: God is ’n sirkel. Die bibliotekaris in sy seskantige fort van stories, die uitvinder van woordlabirinte. Sy het geglimlag, gemerk dat hy na haar weerkaatsing in die skerm kyk. Déúr die skerm in haar siel in kyk.
Hy het vroeër gesê sy herinner hom aan sy suster – iets van haar weerbarstigheid, haar sterk, soepel bene, haar lag. Sy gee nie om nie, solank sy langs hom kan hardloop, teen hom kan nestel in die donker. In sy dampkring kan sluimer. As die ergste kan gebeur, sal dit. Die gedagte breek soos ’n porseleinkoppie in haar gemoed. Sy skud haar kop. Hoe negeer jy die diepgewortelde gewoontes van donkiejare, die vretende onding in die buik wat wil uit, knaende sirkelpatrone wat begrens en ontsenu? Sy hoef net te dink waar sy nou is, herinner sy haarself. Waar sy vrywillig ingestap het – ’n vensterlose fort in ’n afgebrande woonstelblok. En steeds dieper in en dieper af. Hy vryf oor die getatoeëerde spinnerakkie op sy hand asof dit jeuk, trek die stoel langs hom uit, beduie sy moet sit. Met ’n skaars hoorbare klik, ’n enkele klein handskuif, begelei hy haar die DiepNet in. Deur kantelpoorte, langs verblindende glybane met raaisels en spieëls vol gedrogte wat kan lyk soos jyself, in die koninkryk van selfies, met wagwoorde en syferspirale die afgrond in. En verder af, na die DonkerWeb: ’n digitale onderwêreld waar oneindig vermenigvuldigende kodes die weg baan na webwerwe waar renosterhoring, ontwerpersdwelms, wapens, missiele, bomme, kinderprostitute, menslike organe, liggaamsdele en moetie te koop is. ’n Bodemlose put van pornografie waarin mens met dier kerjakker, mens met kadawer, mens met demoon. ’n Draaikolk van onsedelike genot en gierigheid waar transaksies in swewende, muntlose geldeenhede geskied, en verder af en dieper in, nog kodes en raaisels, ruiltransaksies waarin jy jou siel kan verkwansel vir ’n langer lewe, ’n vlekkelose babavel, massiewe borste soos waatlemoene, ’n penis so groot soos ’n perdepeester. Alles te koop as die prys reg is: paspoorte en alternatiewe identiteite, tropiese eilande en stukkies van die maan, pasgebore babas, Siamese tweelinge, bedreigde dierespesies, gesteelde meesterwerke, slim papegaaie en sluimerende koalabeertjies, snuff videos en veel, veel meer. Sewe duisend vlakke van die hel. Ina dink aan ooggetuie 4 (Ludik Swanepoel) se woorde: Ek het so die idee gekry hy voel tuis daar in die DiepWeb. Nie dat hy ’n skelm is nie, maar dat hy die kripto-woud sy eie gemaak het, gereeld daar gaan skuil onder sy twintig
skuilname waarvan DarkHorse die bekendste is. Dis waar hy die cyber-skimme en scammers beloer sonder om ’n spoor te laat, dis waar hy ongemerk kom en gaan. ’n Anti-establishment ridder op sy swart perd in ’n woud van kode. “Maar hoekom, Gary?” is al wat sy kan uitkry. “Hoekom wat?” “Hoekom op aarde doen jy dit?” “Hoekom nie?” “Jy weet wat sê hulle van donkerwerk.” “Dis fine met my as jy duiwelsadvokaat wil speel, ek doen dit heeltyd.” “Meng jou met die semels . . .” “Aha. Wat van tronkwagte? Patoloë? Rommelwerkers? Iemand moet die vuilwerk doen.” “Hang af wat die vuilwerk is.” “Ek stel lokvalle. My stokperdjie is graffiti. My werk is om sluipers te vang.” “Sluipers?” “Cyber grifters. Scammers. Ek werk nie alleen nie, daar’s ander soos ek – scambaiters.” Mense soos Ludik Swanepoel, dink sy, een van sy skadukollegas in die newelmoeras van scambaiters. Die gesiglose, anonieme helde wat kulskemas oopvlek en strikke stel vir bedrieërs wat elektroniese kettingbriewe uitstuur om onbehoedsames te verstrengel in ’n net van emosionele vertoë, vals beloftes, fabelagtige beleggings en kamstige belonings. Gary grinnik. “Ons gebruik dieselfde metodes wat hulle gebruik om ou mense en dwase uit hul pensioene en erfporsies te swendel. Kul jou hier, kul jou daar . . .” “Maar hoe? Hoe kan jy hulle betrap? Hoe vang mens sulke onsigbare misdadigers?”
“Ons – ek en die ander spoorsnyers van DaisyDeMelker – maak of ons met hulle saamspeel, die aas vat. Ons antwoord as fiktiewe mense op e-posse wat deur die Nigeriërs, Keniane, Chinese en ander scammers uitgestuur word. Ons skep ons eie identiteite van ou tannies en sakemanne en dominees en nuuskierige tieners wat kastig geval het vir hulle treurmares; ons vervals reisagente se vliegkaartjies en verblyfplanne en faks of e-pos dit aan die scammers. Dan lei ons hulle aan die neus rond van een plek na die ander, ons neem hulle op lang reise na plattelandse gehuggies in die woestyn of afgeleë lughawens. Só put ons hul bronne uit en knoop hulle in hul eie komplotte. Ons hou hulle besig met absolute nonsens.” Ina kan net haar kop skud. Gary glimlag breër en vertel van scammers in Kenia wat sewe maande lank besig gehou is met teenbeloftes, wendings, ongelukke, liegstories en ompaaie, fiktiewe banke wat bankrot speel en skatryk eggenote wat wraak sweer – alles wolhaarstories. Tot een van die baasscammers uiteindelik só beduiwel is dat hy ’n digitale foto en handtekening van homself aan hulle gestuur het. Bingo! Gary het die foto as ’n trofee op sosiale media versprei en die grifter is in sy eie land deur die kuberpolisie aangekeer en tot twintig jaar tronkstraf gevonnis. “Ons sukseskoers is plaaslik so twaalf persent – dis twaalf scammers uitgevang vir elke honderd slagoffers wat bedrieg word. Internasionaal is ons sukseskoers ses persent, maar dit groei. Die scammers word slimmer, die scambaiters moet ekstra breine groei en bybly. Ons spanne brei uit in al die groot sentra. Ons het ’n databasis van scammers se e-posbriewe opgebou en dit ontwikkel heeltyd. Ons werksure is enige tyd en 24/7, ons kantore is restaurante en kuberkafees. Ons beveg bedrog met bedrog, gif met teengif. Viva DaisyDeMelker!” Hy wys haar die bewyse: foto’s van boewe, vervalste paspoorte en nonsensbriewe. Sy leun terug in haar stoel. “As jy dit nie vir my gewys het nie, sou ek dit nie geglo het nie. Ek weet nie eens of enige koerantleser my sal glo nie. Die waarheid troef fiksie.” “Hier troef die leuen eintlik die leuen.” “Dís die storie wat ek van die begin af vir die koerant wou skryf . . . en nou’s ek my werk kwyt.”
Hy sit sy hand op hare. “Kom werk vir Daisy.” “Wát?” “Dis betaalde werk, met baie voordele.” Soenbyt haar in die nek. “Ek . . . nee. Ek’s ’n verslaggewer, ek skryf nie fiksie nie.” “Skryf is skryf. Jy skryf oor mense, jy sal vinnig leer. Hoor jy die sirenes? Daar’s ’n menigte stories daar buite wat wag om vertel te word, ’n vulkaan van snot-en-trane-stories, jy hoef net te luister, jou oë oop te maak – hartverskeurende sepiestories van liefde, verraad en bankrotskap. As misdaadverslaggewer het jy al die dieptes van ellende geplunder, jy het dit eerstehands gesien.” “Is dit hoekom jy my toegelaat het om jou te vind?” “Wel, eerlik . . . ek het gehou van jou Facebook-foto. Toe ek hoor jy’s in die moeilikheid by die koerant, het ek gedink dis ’n geleentheid eerder as ’n verleentheid . . . ’n kans vir jou! Hoekom nie? Gedrukte media se dae is getel. Jy’t my self vertel tydskrifte vrek soos vlieë, koerantredaksies smelt saam, vryskutters word uitgefaseer en dieselfde betaal as twintig jaar gelede. Almal leef nou op die Net. Hoekom gevang word in die Net as jy sélf die Net kan wees?” Sy kyk af na sy hand met die spinnerakkie, sy Kainsmerk. “Waarom nie?” herhaal hy, sy oë ysblou. “As dit een of ander Faustiaanse kontrak is, snap ek nie die fynskrif nie. Wat’s die catch?” “Ek is die catch.” Dit weet sy lankal. ’n Dawerende slag laat hulle versteen. Dit kom van skuins bokant die plafon, in die buik van die murasie. “Wat was dit?” fluister sy verskrik.
“Ons het ’n besoeker.”
57
Vermiste vrou sluit aan by soekparty
REYKJAVIK. – ’n Britse vrou wat vermis geraak het op ’n toer deur Ysland, het by haar eie soekparty aangesluit sonder dat sy geweet het wie gesoek word. Sy was deel van ’n groep toeriste wat in ysige weer deur die ongerepte platteland gereis het. Tydens ’n besoek aan ’n restaurant naby Akranes het die toerleier bewus geraak van haar afwesigheid en die plaaslike polisie in kennis gestel. ’n Soekparty is inderhaas saamgestel met asiers van die toerbus en die plaaslike polisiemag. Die vrou, wat heeltyd in die restaurant se ruskamer was, het by die soekgeselskap aangesluit. Sy het nie die beskrywing van die vermiste persoon as haarself herken nie, en haar medereisigers het haar ook nie herken as die “vermiste” vrou nie. Terwyl die groep by ’n piekniekplek naby ’n bevrore rivier gesoek het, het sy haar naam, wat deur megafone in die woud geroep is, herken en haarself aan die leier van die soekgeselskap bekend gemaak. Die toergroep en polisiemag het spontaan ’n partytjie langs die rivier gehou om te vier dat sy gevind is.
58
Die een oomblik is Dawid nog katvoet en paraat in die vervalle gebou, die volgende oomblik is alles onderstebo. Hy skat sy kop swaai sowat dertig sentimeter bokant die vloer hier waar hy hang, linkerbeen reguit gepluk en styf gevang in ’n lus. Dis stikdonker om hom. Sy flits het klaterend geval, weggerol in ’n warreling van lig en teen ’n muur tot stilstand gekom. Al wat hy nou kan uitmaak, is ’n geel kolletjie lig en die vae buitelyne van vloer, mure en plafon. Sy gunstelingjagmes – ’n Puma Schwarzwild Olive met ’n ekstra haaktand onder die hef – het in ’n ander rigting gespat, wáár weet hy nie. Anders sou hy die lus kon afsny en homself bevry, al sou hy hom katswink kon val. Die res is stank. Die stank is soos ’n vuil doek oor hom gedrapeer, ’n walglikheid, genoeg om van te braak. Bloed begin dadelik in sy slape klop. Ná sy eerste vloekende reaksie weet hy dis noodsaaklik om nie verder aandag te trek met uitroepe nie. Sy asem blaas suisend in sy keel en oorkanale. Witrenoster, bedreigde spesie. Horing-af. Sy arms swiep in halfsirkels oor die vloer op soek na vatplek. Maar behalwe vir ’n paar leë blikke en papiere en iets sag en papperig – ruik aan sy vingers, jip, dis menslike ekskresie – is daar niks wat hom kan help nie. Hy vee sy vingers hard aan die vloer af, probeer hom dubbel vou en opwaarts gryp na sy voet in die lus. Drie keer probeer hy, maar sy maagspiere wil nie saamwerk nie. So dis hang, swaai, blaas. As jagter wat al baie sulke valstrikke vir roofdier en veedief op sy plaas gestel het, weet hy dit help nie om te spook nie. Hy maak homself net moeg. Só voel
dit dan, sy eie medisyne. Maar wie stel sulke gesofistikeerde strikke in ’n afgetakelde gebou? Geluide agter hom. Hy draai sy kop om te luister. Iets wat skuifel of sleep. Rotte? Hy ril, hang stil. Kalm bly, konsentreer. Luister. Iewers is daar die skuif-klap en skraapgeluide van ’n grendel wat oopgetrek word. ’n Deur gaan oop. Voetstappe, stemme. Nader. Klink soos twee mense, ’n man en ’n vrou. Dan: fel lig wat verblind, hy kan net blou, geel, rooi skigte sien. “Dawid!” Twee figure agter die blitsende ligte, Ina se stem. “Ken jy hom?” Dawid herken die stem: dis hý, die blonde punk. “Ja, ek . . . dis . . .” “Toemaar, ek verstaan.” Stemme soos bye in ’n korf, zoemzoemzoem. “Dawid, wat maak jy hier?” Ina se stem klink nader. “Hoe het jy . . . ?” Hy hou ’n hand oor sy geskreefde oë. “Maak my los, verdomp! My been is amper uit potjie uit, ek’s ’n swaar ou.” “Ja, heavy, my ou.” Hy hoor die onmiskenbare koggelklank in die hees manstem. Die lig sak en nou kan hy twee stelle bene sien. “Jy’t my gevolg toe ek biblioteek toe was,” sê Ina, “en van daar af hiernatoe.”
“Komaan, maak my los! Of . . . of . . .” ’n Stilte volg op sy woedende kreet. Hulle betrag hom soos ’n stuk vleis in ’n koelkamer. “Of wat?” koggel die punk. “Watse kak plek is dit dié? Fok, hoe hou julle die stank!” Die punk skop na iets. “Groot mes.” Buk en tel dit op. Die lem flits. “Wat wou jy doen?” vra Ina. “Vir wie is die mes bedoel?” “Ek het nie geweet of jy in gevaar is nie, fokkit! Of jy hier aangehou word deur ’n versteurde anargis of maniak-hijacker nie!” “Jy roer my hart. Regtig. So ’n groot skerp mes – vir my.” “Fok jou, Ina. Maak my los. Jy’t jou varkies verloor.” Die punk kom nader. “Dis die ou wat die man in die klub geslaan het,” sê hy. “Jou kêrel?” Ina trek ’n gesig. “Gewese fling.” Dawid probeer skat of die punk naby genoeg staan om hom aan die enkel te gryp, sy voete onder hom uit te ruk, maar die lig boor al weer in sy oë. Liglemme pyn. “So, jy’t ’n stalker,” sê die punk. “Hoe lank volg jy my al, Dawid?” vra Ina. “Net daai dag,” lieg hy. “Ek wou met jou praat. Ek wou . . . ek wou . . . fok tog.” “Jy was op die biblioteek se trappe, ek het amper in jou vasgeloop. Hoekom het jy my nie toe . . .” “Hoe kon ek? Jy was ’n stoomroller en jy was saam met hom! Ek wou alleen met jou praat. Hoeveel boodskappe het ek gelaat? Twintig?”
Weer die stilte, die stank wat hom wil versmoor. Hulle kan iewers in ’n mummie se tombe in Egipte wees, so verwyder voel hy skielik van alles. Hier waar hy hang, kan hulle hom slag met sy eie mes, petrol oor hom giet, hom braai tot steenkool en as. Ina tel sy flitslig teen die muur op, laat speel die ligstraal oor sy maag en knop. “Nooit gedink ek sal jou so hulpeloos sien nie.” Sy klap haar tong. “Moerse pret vir julle, maar gaan iemand my losmaak of wat?” Hy hoor die histeriese klankie in sy stem en hy haat dit. “Wel, ek weet nie of ons kan nie,” sê die punk. Dawid kan net sy onderstebo buitelyn sien. “Hoekom nie?” “Jy krap rond in dinge wat jy nie verstaan nie.” “Soos wat?” Hy ruk sy kop weg van ’n skielike skerp flits. “Hei, neem jy miskien foto’s?” skree hy. Die punk gee ’n laggie. “Iets vir jou Facebook-profiel en jou fans.” Ina buk vinnig af en neem nog ’n foto. “Vir al daai vroue wat boer soek. Pasop net om ’n kat in die sak te koop.” “Ha-ha. Vrek snaaks.” Die greep om sy been verslap meteens en hy val skuins teen kop en skouer, rol instinktief om op sy maag. “Staan maar rustig op,” sê die punk. “Onthou wie’t nou die mes.” Dawid hurk op sy knieë, veg teen die dronkheid in sy kop van bloed wat anderpad vloei, vryf oor die kneusing aan sy enkel. Sy oë raak algaande gewoond aan die donker. Hy’s in ’n plek wat lyk soos ’n ou stoorkamer wat herbou is: ongepleisterde mure, sementvloer, geen ligte teen die
plafon, bondels drade, die lus wat aan ’n riem uit ’n luik hang, die staaldeur met grendel waardeur Ina-hulle ingekom het. “Julle het beslis nie twee dae lank hier in die donker gesit en stink nie,” sê hy. “Hierdie plek, wat dit ook al is, is iets totaal anders as wat die buitekant wys.” “Wel, tien uit tien. Maar ek’s bevrees jy kan nie ’n begeleide toer verwag nie.” Dawid kyk na die punk, maar sy gesig is steeds in donkerte gehul. Dis beslis dieselfde doos wat hom gekeer het om die verkragter te bliksem. “Al wat jy hoef te weet, is ek’s hier uit vrye wil,” sê Ina. “En ek’s veilig. Ek wil nie nou ander mense sien nie. Veral nie vir jou nie.” “Jou kollegas het jou as vermis aangegee. Die polisie soek jou seker al. Ek kan hulle ’n baie goeie aanduiding gee.” “Moenie moeite doen nie. En daag hulle hier op, sal hulle niks vind nie.” “Wat van jou dierbare pappie en mammie?” “Hulle weet al ek vat soms die pad. Elke jaar ’n paar dae sonder om almal te laat weet.” Dawid voel stormdronk – die rukkende ligte, die stank, haar onverstaanbare woorde. Al staan hy regop, voel dit of sy brein nog onderstebo hang in ’n kop vol bloed. “So, wag. Wag. Jy wíl hier wees. In hierdie . . . hool?” “Ek verwag nie dat jy dit moet verstaan nie.” “Nadat jy my . . .” hy voel hoe sy nek dik raak van gebelgdheid, “áánleiding gegee het.” “Sover ek onthou, het jý mý heeltyd gejag – tot nou toe.” “Ek verstaan jou nie, Ina. Wat sien jy in hom? Het hy jou gebreinspoel met kak?” Die twee ligbane val gelyk op hom, pen hom vas, word een entiteit met
gloeiende oë. “Ons is geesgenote – iets wat jy nie verstaan nie, want jy’s ’n dier. Iets wat ek en jy nooit kan wees nie. Gaan soek jou boervrou, maar as ek jy is, woed ek eers my perversiteit goed uit.” “O, ék is die perverse een?” Dawid kan hom voel opkook – o moer, o moer, dit kom! – en hy weet hy nader nou vinnig die punt waar hy homself nie sal kan keer nie. “Spieëls op die vloer en pyn is nie my idee van liefde nie, Dawid. Toe, gee pad terwyl jy nog hier kan uitkom . . . voor jy ook ‘vermis’ raak.” ’n Soort bevryding, dis tiekets, hy spoel al dae lank wetend-onwetend presies na hierdie bloedpunt van afrekening toe, selfbevredigend, orgasmies, hier kom dit nou, ekstreem, dis nou of nooit. Hy buk-ploeg-beur gladweg vorentoe in een berekende, trefseker beweging, skuins na links waar die punk selfvoldaan en ontspanne staan, teiken hom net daar tussen heup en knieg met kop omlaag en bene krom, ’n stut wat vasskop in ’n roerlose skrum dat die modder spat, met ’n brul sy teiken tegemoet, bultende harige arms nou skuins af en voorwaarts gerig soos die horings van ’n briesende bul. Sy opponent word in een oomblik totaal onkant gevang en omklem, sy bene wat potsierlik wankel en wil-wil teëskop, dan meegee in ’n glyerige dansie op die smerige vloer om – woeps! – skouspelagtig onder hom uit te skiet, sodat aanvaller en verdediger saam in ’n vlieënde laagvat deur die lug trek, ’n helse duikvaart die onbekende in. Ina se skril waarskuwing kom te laat; direk daarop volg ’n soort knal, ’n kop wat hard teen die oorkantste muur kap. Dan twee lywe wat saam afgly, die vloer spartelend tref. Dawid rol eenkant toe en weer regop, gryp met albei hande na die man se keel, vind sy strot en knyp met alle mag, gebruik die klemgreep wat hy ’n duisend maal ’n dag gerepeteer het. Veraf registreer Ina se gille by hom, houe teen sy rug. Hy dink nie hieraan as wraak-moord-geweld nie. Hy voel dit as die natuurlikste uiting van homself, oorlewing in grasieuse aksie en onstuitbare vloei, ’n reddingsdaad, ’n rivier. Hyself op ’n spits gevoer, ’n kung fu-prins in ’n
krakende steenkoolwoud wat vlieg van boomtop tot bergtop, gedra deur winde van wraak. In die wrywing van die oomblik word hy blinkgeskuurde bewustheid, woede vervolmaak. Hy dink nie, hy druk. Alles, alles moet uit. “Dawid, nee! DAWID!” Krete soos die gekrys van kraaie wat van ver af aangevlieg kom. Sy ore steekpyn daarvan, maar hy kan nie nou los nie, hy moet klaarmaak wat hy begin het. Die man se nek krom agteroor, die tong stoot uit. Nie meer lank nie, sy duime boor weerskant in. Hy wil vasskop in die 90 grade-hoek tussen vloer en muur, maar gly in ’n papperasie. Die kak spat, dink hy. “Dawid, los! Los hom!” Skielik ’n dun armpie om sy keel wat sy kop probeer terugdwing, hom sy greep net ’n oomblik laat verslap. Lank genoeg om die man teen die muur ’n rou asemteug te gun. Hy wil Ina met ’n harde ruk van sy skof afgooi, maar nou het sy wragtag al twee arms om sy nek. Sy skree soos ’n viswyf, skop vas teen die muur met een voet en trek aan sy kop. Hy voel hoe sy hande onwillekeurig oopgaan en Dawid-Ina val agteroor op die vloer. As dit nie so irriterend was nie, sou hy dit komieklik kon vind. Verbeel hy hom, of is hulle albei histeries van die lag? Ha-ha-ha, niks meer as ’n kielierige stuitigheid nie, tieners wat rondrol en knoop op die stoeimat, vat en vervat. Voor hom is die punk nou ’n hoesende, kotsende wrak op sy knieë – wat het geword van ’n waardige opponent? “Dawid, jy’s ’n poephol!” giggel Ina en byt hom aan sy oor. “In stront gebore en ontvang,” proeslag hy, druk haar met sy rug teen die glyerige vloer vas.
Die punk is skielik regop en weg. Sonder ’n geluid. Hy stamp sy elmboog agtertoe in haar harde magie, hoor ’n aggressiewe tjankie. Sy oor brand waar sy hom gebyt het, hei, dis nat en taai . . . Terwyl hy orent steier en omdraai, swaai hy sy arms en tas rond in die pasgebore donkerte. Moenie wegkruip nie, fokkers, kom, KOM, vandag begrawe ek julle in die puin van donkerste Afrika! “Waar’s julle?” skree hy. “Toe, as dit ’n fight is wat julle soek . . . Ek weet julle is hier. Ek hoor julle hyg. Toe, sit aan daai flitsies lat ons hierdie fight kan klaarmaak. Komaan, moenie nou gaan lê nie!” Al wat hy hoor, is sy eie gehyg, sy voete wat rondskuifel. Hy swaai linksom. Hy swaai regsom. Hy wag, vuiste voor hom uitgestoot. Donker, ondeurdringbaar, swart gemeng met spatsels gekleurde lig in sy flikkerende brein. “Kom, ek’s oukei! Ek het genoeg vir julle al twee!” Sy woorde se eggo’s rol weg na die verste hoeke, koggel hom daar. Hy’s alleen in die stank en stilte, asof hy hom die hele fokken ding van hang tot wurg verbeel het. ’n Slag teen sy kop bring dieper donkerte.
59
Studie wys só kan jy nagmerries beheer
NEW YORK. – Wetenskaplikes het pas bevestig dit is moontlik om helder drome oftewel lucid dreaming (waarin die dromer bewus is hy droom en die droom kan beheer) met ’n elektriese stroom in die brein aan te skakel. Die studie, wat op vrywilligers uitgevoer is en in Nature Neuroscience gepubliseer is, toon helder drome kan aangeskakel word deur breingolwe van ’n sekere frekwensie te induseer. Die navorsing het bevind dat deelnemers wat helder drome ervaar se breinaktiwiteit spesifieke elektriese frekwensies bekend as gamma-golwe toon. Ursula Voss van die J.W. Goethe-universiteit in Frankfurt, Duitsland, en haar kollegas het deur elektrodes op die kopvel ’n elektriese stroom met dieselfde frekwensie as gamma-golwe by slapende deelnemers geïnduseer. Die 27 deelnemers het almal gesê hulle het besef hulle is besig om te droom en hulle kon die droom se “draaiboek” beheer. (In die onlangse film Inception word ’n masjien gebruik om mense se drome te beheer.) Dié tegniek kan gebruik word om mense te help wat aan posttraumatiese stressindroom (PTS) ly en wat nagmerries ervaar waarin die traumatiese gebeure oor en oor uitspeel. “As PTS-lyers hul traumatiese nagmerries kan beheer, sal hulle die emosionele impak van die drome kan verlig,” het Voss gesê. – REUTERS
60
Kuberskelms met hul eie slenters gevang
NAIROBI. – ’n Bende Keniaanse misdadigers wat internetgebruikers in SuidAfrika, Engeland, Australië en Kenia deur elektroniese kettingbriewe probeer oorreed om skenkings en beleggings oor te betaal, is deur die polisie in hierdie vier lande hokgeslaan met behulp van kuberkrakers. Nadat ’n tak van die Keniaanse polisiediens gemoeid met internetbedrog ’n wenk van ’n groep Suid-Afrikaanse amateurspeurders bekend as DaisyDeMelker ontvang het, is twee bedrieërs by ’n hotel en ’n derde een by ’n lughawe vasgetrek. By dié plekke sou die e-swendelaars onderskeidelik “’n ryk Suid-Afrikaanse weduwee” en “’n sakeman van Perth” ontmoet vir die oorhandiging van “skenkings aan weeshuise” in die betrokke lande. Die kuberknoeiers, ook bekend as scammers, is oor ’n tydperk van agt maande met misleidende e-posbriewe deur ’n groep sogenaamde scambaiters in ’n lokval gelei. Dié kuberspeurders, wat sonder enige vergoeding die slenters van e-misdadigers opvolg en teen hulle inspan om hulle te ontmasker, het bewyse van korrupsie aan die Keniaanse polisie verskaf. Lede van DaisyDeMelker het hulle in die korrespondensie met die kuberknoeiers as goedgelowige slagoffers voorgedoen, onderskeidelik ’n weduwee en ’n sakeman. Akteurs wat die rolle van ’n ryk weduwee en ’n Australiese sakeman vertolk het, is deur die polisie ingespan om ’n lokval te stel, en só is die verdagtes op heterdaad betrap en gearresteer.
Kuberbedrog neem wêreldwyd toe en duisende mense is slagoffers daarvan, veral bejaardes. Volgens ’n polisiewoordvoerder is die omvang daarvan in SuidAfrika onbekend. “Die meeste gevalle geskied onder die radar, en omdat die slagoffers van kubermisdaad dikwels skaam is daaroor, meld hulle dit nie aan nie.” Juis daarom is misdaadbekamping deur die anonieme internetspeurders van groot hulp in die stryd teen hierdie onsigbare, gewetenlose booswigte, sê die woordvoerder.
61
“So, my ou. Het sy jou uitgeskop?” Dawid kyk op van sy tweede (derde?) Heineken. “Askies?” (Klink dit soos “asjjjjkiesjjj?”) “Jou girl. Het sy jou uitgeskop?” Dawid probeer die logge kroegman peil, maar die woorde wil nie sin maak nie. Dan tref dit hom, en dis eintlik snaaks. “Skop? Ja, sy’t my uitgeskop. Net hier teen my agterkop.” Sy vingers vroetel deur sy hare na ’n teer plekkie. “Hoekom? Want sy’t ’n fokken nuwe boyfriend. En raai wat? Sy ken karate. Swart belt. Weet jy hoe voel dit as iemand jou op jou kroontjie connect? Ligte uit!” Hy probeer lag, maar sy ribbes is seer. Die kroegman vou sy arms rustig en bestudeer hom met iets soos empatie. “So, het jy dit verdien?” “Verdien? Hel, nou vra jy my vas.” “Sy’s mos een van daai twee girls wat saam met jou was daai ander keer, toe jy bietjie . . . hmmm . . . handuit geruk het, hier in die toilette. Miskien het jy dieselfde met haar gedoen?” Dawid staar na die kroegman se breë bakkies met diep, asimmetriese plooie. “Wat? O, dit. Jy was aan diens, nè?” “Ja, ek’s elke aand hier. Ek het aandele in die besigheid.” Dawid knik langsaam. Dis nie net sy ribbes wat seer is nie. Sy kop, lyf en
ledemate trek in alle rigtings. En sy ego het ’n krakie weg. Die twee dose het hom laat gaan met ’n waarskuwing. Hoe lank terug? Minstens vyf dae gelede. Dalk ’n week? Nadat Ina hom ligte harsingskudding met die kant van haar linkervoet gegee het (’n stylvolle mawashi-geri), het hulle hom die leviete voorgelees: As hy nie sy bek hou en padgee nie, sal hulle hom op sosiale media uitstal, eksplisiete kiekies van sy kaalgat karkas, onderstebo soos ’n geplukte hoender, hom soos ’n harige poephol laat lyk. Hulle sal sy gewoontes met prostitute oopvlek – hulle weet waar hy oral uithang, elke skemerklub en tietiekroeg. Hóé kan hy nie raai nie, maar nou ja, Ina is ’n joernalis. Die laaste strooi was sy arme liewe ma: Hulle sal haar bel, haar in kleur en geur inlig oor sy laatnagavontuurtjies in klubs en hotelkamers, sy voorliefde vir spieëls op die vloer, agterdeurtjies, vasmaak, seermaak. “Ag nee, man, is dit nou die soort gawe, hubare boer waarna ordentlike jong vroue hunker? Is dit ’n goeie Afrikaanse man se idee van outydse romanse?” Sarkasme by so ’n mooi nooi is nooit mooi nie, ha-ha! wou hy skree. Bitterbek teef. Hulle het al die kaarte, die sterkste hand, en hy weet dit. Eintlik kan hy nie meer ontken hy het ’n probleempie met woede nie. Anger management is sy voorland. “Nog enetjie?” “Ekskuus?” Dawid kyk op. Die dansbaan is leeg, maar die musiek bly ongemaklik teen sy rugstring stamp. “Hmmmm. Ek benodig iets sterker. Wat stel jy voor?” (Konsentreer op daai s’e . . . moenie klink soos sjjjjterker en sjjjjtel nie.) “Kan ek vir jou ’n Kamikaze meng?” Die kroegman bearbei sy toonbank met ’n lap. “Wat de hel is dit, my maat?” “Een van ons bestsellers. Soort sharp shooter gekruis met ’n cocktail, party noem
hom die brulpadda. Goeie skoot gegeurde vodka, lemmetjiesap, triple sec of Cointreau, ys en ’n skyfie lemmetjie. Kom, probeer een.” Dawid beduie ja, en die man beweeg met lui selfvertroue tussen bottels, glase en yskas, ’n hipnotiese wiggelspel wat deur die spieël agter hom verdubbel word. ’n Minuut later sit hy die koel glas voor Dawid neer. “Ja, dis goed. Solank dit my nie nugter maak nie, my pel.” Dawid slaan die Kamikaze in drie slukke weg, sitrus en soet, vrank en stóút. “Jissim. Nog een van daai.” “Wat van ’n Pomegranate Gin Fizz? Dis presies wat dit sê.” In wat voel soos ’n halfuur, maar dalk is dit langer, proe Dawid ’n reënboog van drankies. Hy hou sy pose en let op sy s’e. Hy klink vir homself soos ’n sjarmante ou in beheer van homself (wel, byna) – enigeen kan dit sien. Hy speel hipernatuurlik vir die kamera. Hy’s bedag op sy beeld na buite, want ’n boer maak altyd ’n plan. Die plek is nou byna leeg, seker amper toemaaktyd. Hy herken ’n paar gesigte, die skurwe lorriebestuurders wat laas ook hier uitgehang het, gebuk oor hul biere, mompelend in hul bakkebaarde. “So, was julle hard op mekaar?” Die kroegman se praatjiesmakery sou hom gekielie het as dit nie so gekrap het nie. Die gezoem van die bye en die bitter turksvye. “Sy was en sy bly ’n tien.” “’n Wat?” “Tien uit tien. Onthou jy daai ou movie Ten? Met Dudley Moore en die wit girl met die dreadlocks, wat’s haar naam, Bo iemand. Bo . . . Derek! Ek probeer altyd bepaal hoe ek ’n vrou rate. ’n Man moet ’n skaal hê, jy moet jou indrukke kan meet. Kom sy deur of dop sy salig? Anders, hoe weet jy of jy ’n kat in die sak kry? Ek meen, as sy ’n twee tot ’n vier is, is sy ’n slet of ’n tor. Sewe en op is ’n jakkalsie. Juicy. En Ina, liewe klein teef, was een van die ronde tiens.”
Die kroegman glimlag. “Nice. Ek sal dit bietjie try. Ons is vrot van die torre hier, daar’s ’n hele paar slette, en net ’n handjievol jakkalse.” “Maar ’n ou soos jy is in ’n ideale posisie. Ek meen nou, jy sien alle soorte van agter jou toonbank. Jy kry seker nogal baie tips?” Dawid beduie na die bierbeker op die toonbank vol opgerolde note en munte. “Praat ons van dieselfde ding? Ja, die girls is dankbaar vir goeie maniere, ’n simpatieke oor. Ek luister almal mooi uit. Soos nou vir jou, my ou.” “Ha-ha-ha, ek’s seker. Met daai bedside manner kon jy ’n dokter gewees het. Maar jy kan seker pick en choose?” “Nee, nee. Ek’s maar net daai dom dik ou by die kroeg. Ek kry nie voorkeur nie, en ek wag maar my beurt af. Was nog nooit so gelukkig met die girls soos ander ouens nie. Beslis nie so vatterig soos sommige TV celebs nie.” Iets in die man se stemtoon laat Dawid opkyk. “Verwys jy na iemand spesifiek?” “Nee wat. Sommerso in die algemeen.” Die kroegman draai weg om iemand anders te bedien. Oor sy walrusrug sien Dawid sy eie gesig in die spieël – ’n man wat hy nie op straat sou herken nie. “My ou, wat’s jou naam?” vra hy. Sy stem klink vir hom onnatuurlik hard. Hy sien homself sy hand uitsteek na die kroegman asof oor ’n eindelose afstand. “Dan. Doopnaam Daniël. My buddies daar oorkant noem my sommer Dan the Man.” “Die lorriedrywers? Hoe so?” “Ek help hulle partykeer met iets.” Dawid probeer die eggo in sy ore afskud, sy fokus terugkry. “Daai Kamikazes en Fizzes wil my vang,” lag hy wollerig. “Waarmee help jy hulle?”
“Kom ons sê hulle help my en ek help hulle. Dis ’n wen-wen, give and take. Kan ek jou vertrou, my ou?” Dawid leun gretig vorentoe. “Natuurlik. Altyd!” Hy geniet die gemeensaamheid van twee basstemme en warm oor-en-weer-asems, byna-broers. “Wel, hulle ken al die roetes en agterpaaie. Hulle maak ’n bietjie ekstra met deliveries.” “Watse soort deliveries?” “Hulle kan ’n pakkie aflewer wat nie getrace wil wees nie. Hulle het fancy connections, ryk pelle soos dokters en aptekers en prokureurs. Jy kan sê dis ’n ondergrondse netwerk vir die manne met die geld en die lus. Kop jy?” Dawid voel al dorser. Hy skud sy kop. “As ek iets soek, iets met meer skop as ’n Kamikaze, kan hulle dit vir my kom drop. En die pryse is . . . wel, baie billik.” “Stadig, Dan, jy verloor my! Wat kry hulle vir jou? Spel dit uit soos vir ’n koolkoppie.” Die kroegman se skeel oog – hoekom sien hy dit nou eers? – vermy Dawid se blik, gly dakwaarts. “Baie sterker. Al gehoor van roofies?” “Uhm, nee.” Die toonbank waarteen Dawid leun, voel onvas. “Roofies, rope of roaches. Die brainy ouens ken dit as . . .” Die kroegman lig ’n elmboog, lees van ’n pakkie af wat hy uit sy hempsak trek. “Ben-zo-dia-ze-pine. Jy weet . . . Ro-hyp-nol.” Die naam wil iets by Dawid laat vonk. “Dis . . . dis ’n drug wat in die nuus was?” Dan knik treurig, sy plooie sak. “Predator drug. Gebruik vir . . . DFSA.” “Defsa? Dowes Suid-Afrika?”
“Nee, ou vriend. Drug Facilitated Sexual Assault.” “Wag nou, hokaai . . .” Die kroegman beduie met sy kop na iemand links van Dawid. “My ou buddie van hoërskool kan jou iets daarvan vertel, nè, ou Jakkie?” Dawid voel ’n knopperige knie teen sy linkerbeen en draai sy bolyf om te sien wie so voorbarig kan wees. “Howzit, mate! Nie gedink ons sien mekaar so gou weer nie!” Vir ’n paar oomblikke kan Dawid die vent glad nie plaas nie. Iemand wat hy hier raakgeloop het? “Ja, iets soet wat proe soos koeldrank, maar met hope skop!” lag die vriendelike kêrel. Dan the Man swaai ’n groot hand in Jakkie se rigting. “Eintlik is die Rohypnol heeltemal smaakloos, en girls hou van soet, gesofistikeerde drankies. Goeie kombinasie, of hoe sê ek, Jakkie?” Dawid se kop draai heen en weer tussen Dan en sy vrolike vriend. Pingpongballetjies, heen en weer! Nou begin hy sien . . . “Jy’s die fokker wat Daniella . . . wat ek in die toilet . . .” “Bly te kenne. Ek’s Jakkie. Laas het ons nie uitgekom by voorname nie.” Dawid kyk net na die uitgestrekte hand, probeer dit wegklap, moet keer dat hy nie van sy stoeltjie af foeter nie. “Komaan, geen kwade gevoelens nie, mate,” lag Jakkie hartlik. “Ek laat begaan. Dra nie grudges nie.” “As jy weet wat goed is vir jou, sjjjal jy nie,” waarsku Dawid. (Sleeptong hy al weer?) “Relax! Ek verstaan. Daai girls het jou opgesteek en jy’t so ’n bietjie misverstaan. Gebeur heeltyd. Jy’t gedink dis ek wat jou vriendinnetjie iets
ingegee het, met haar gevroetel het. Maar ek hou meestal by skadelose goed.” “Sy’t jou herken, fokker!” Dawid wil ’n vuis lig, maar watter een? “Wel, ja, sy het seker. Maar ek het vir haar ’n drankie gekoop en ons het gechat, niks meer nie.” Dawid sien persblou kolle aan die man se nek en arms. Waar hy hom laas seergemaak het? “So jy’s vlekloosjj? On-sjkuldig?” hoor hy homself vra. “Rein soos reën, vriend. Haar tweede drankie was ’n freebie van Dan af – hy’s die een wat hou van so ’n bietjie pret ná toemaaktyd. Ek’s die een wat verkies om te kyk, dis al. Miskien ’n video neem vir later weer kyk. Vra maar vir Dan – ek kyk net.” Die eggo’s in Dawid se ore laat sy kop stadig rol, ’n petroldrom wat spoed optel teen ’n afdraand af. “Moenie nou . . . wag ’n bietjie . . . wil jy vir my sjjê . . .” Hy probeer fokus op Dan, en die groot kroegman leun nader op sy dik arms met ’n treurige uitdrukking. “Ons is ’n team, ek en ou Jakkie. Hy ken al die moves, al die pickup lines. Toe, Jakkie, gooi vir ons ’n paar van jou famous lyne!” Jakkie slaan ’n houding in van skadelose toenadering, hy raak hipersjarmant, die ene tande. “Waar’t jy daai mooi skoentjies gekoop? Moes pretty duur gewees het. Hoe bly jy in sulke top shape? Jy herinner my aan my sussie. Dieselfde persoonlikheid!” Dan the Man klap twee keer luid hande, ghwarrr-ghwarrr. “Jakkie weet hoe om ’n mooi wyfie op te tel en gerus te laat voel. Hy kry die girls, charm hulle, koop die eerste drankie. Die tweede drankie is oppie huis. Sy weet nie eers as sy begin slap word nie, baie relaxed, lekker lomerig. En wanneer sy uit, help ek haar soos ’n ware heer na die kleedkamer . . . leun
maar op die oom se arm, sal nie byt nie, niggie. Of sommer na die kantoor hier agter, daar’s ’n lekker sagte bank met kussings.” Dawid wil opstaan, maar sy bene vou komieklik. Jakkie sit ’n gemoedelike arm om hom. “Daarsy, buddie. Relax net. Dis eintlik nie so bad as jy saamspeel nie.” “Die Ka-mi-ka-ze . . .” “Net ’n halwe dosis,” knik Dan soos ’n bedagsame vriend. “Jy sal seker so oor ’n kwartier bietjie wil doedoes. Oor agt ure raak jy weer wakker. Toemaar, jy sal niks weet nie, niks voel nie. En later sal jy ook boggerol onthou. Nie eens ons name nie.” “Wat de hel . . . ek’s ’n man! Ek’s nie een van jou goedkoop . . .” Dan the Man se mondhoeke trek opwaarts in ’n nabootsing van ’n glimlag. “Ook nie ’n slet of ’n tor nie. Nee, maar my buddies daar oorkant stel baie in jou belang.” “Wat? . . . Wie? Die . . . die lorriedrywers?” “Hulle noem hulleself die Heavy Daddy Bears,” vertel Jakkie gretig. “Gay is nou nie eintlik my of Dan se ding nie, maar hulle’s rêrig nice ouens, grapkasse, hulle het great s. Aandeelhouers in die besigheid, nè, Dan? Goeie sin vir humor, goeie fooitjies in die bierbeker, baie laid-back, game vir enigiets. Barebacking en fisting is glo hulle favourites – nie dat ek sal weet nie. Hierdie is hulle . . . uhm . . . hoofkwartier, kom so een maal ’n week bymekaar vir ’n bieren-groepwoeps. Almal harige manne, hulle hou van baarde, snorre, borshare en so aan. Jy pas die profiel perfek, mate.” Vir die eerste keer begin Dawid die klub sien vir wat dit is: krokodil teen die muur, diskoligte, mans wat mekaar op die mond soen, oorbelle, stywe T-hemde, bakstaan-menere met maskara en soepel gewrigte. Dan knik. “As hulle van ’n straight ou in die Lighthouse hou, help ek hulle uit met ’n bietjie midazolam of temazepam in die breker se bier of shooter. Hulle vat hom uit, na een van hulle top loaders of karavane of kajuite. Daar waar hulle
bietjie privaatheid het, en elkeen kry ’n goeie beurt.” “Julle . . . daai fokkersjjjj . . . moet van-dag met my ietsjj kom traai . . .” Daar drup kwyl uit Dawid se mond. Dis net Jakkie se greep om sy lyf wat hom regop hou. Hy raak vaagweg bewus van drie lorriedrywers wat opstaan en nader stap. Hulle wil net help, beduie een. Dawid probeer sy vuiste klem en oplig, maar ’n gloed laat hom duisel, inmekaarsyg, sy hande is nie meer syne nie, sout-innie-bek soos ’n bees by die voerbak. Hy wil kots maar sy lyf wil nie, alles span saam teen hom, sy brein, sy bene . . . Skielik is daar ’n groep om hom, twee, drie, vier sweterige mans met bierasems. Een vryf langsaam oor sy arms, trek sy armhaartjies. Hulle brul luidrugtig, giggel soos bakvissies. Iemand steek ’n dik hand voor by sy hemp in en knyp sy tepel. Hy voel ’n hand vrypostig op sy mik. “My moer, ou!” “Ouens, kom-kom, dis laat. Tjailatyd,” sug die kroegman weemoedig, vee die toonbank met sy lap skoon. “Vat julle prys, en moenie te laat in die bed kom nie.” “Dan the Man! Jy’s ’n ou doring!” “Wat’s jou naampie, klein heuningbeer?” fluister ’n man met ’n ZZ Toplangbaard in Dawid se oor. “King Kong!” antwoord ’n vaal outjie met ’n groot rooi snor. Dawerende gelag en stroperige giggels, grappies wat Dawid nie snap nie, ’n mallemeule van baarde. Die hele groep koek saam om hom, sleepdra hom deur toe, vroetel in sy kuif, knyp sy boude. Jakkie stap saam, klop die baardmanne op die skouer.
“Hei! Wag nou, fok!” Dawid hoor die skrilheid in sy stem. Die uitsmyter met die puisiegevreet skud sy kop en knipoog vir hom. “Jy’s seker ’n virgin met sulke dinge!” roep Jakkie agterna. “Dis beter om net baie relaxed te wees, minder wrywing en skeur. Vat dit soos ’n man!” Die naglug op Dawid se tong het ’n smaak van swembad, ammoniak; sy vel voel dun soos sellofaan. Sy kuif wip op en af soos hulle hom dra. Strelende hande oral. Hy sien die halwe maan wat agter ’n gebou uitkruip, vuil vlieswolkies. “Hier’s genoeg vir al die bere, manne. Geduld.” “Groot biefstuk.” “En fur vir Afrika!” “Pasop, moenie sy kop teen die spieëltjie stamp nie.” “Een, twee en lig!” “Rol oop die kombers.” “Waar’s die smeergoedjies, Jonesie?” “Ek volunteer eerste.” “Nee, dis Blake se beurt vandag.” “Okey-dokey, as ek hom kan uittrek. Hy’s ’n regte cutie.” “Daai bene. Eisj! Harig, harig.” “Jy’s ’n harige meneer, nè?” “’n Tien uit tien!” Die laaste ding waarvan Dawid weet, is sy stewels en broek wat afgepluk word, sy bene wat hoog opgelig word. En voor die donkerte kom, die agterdeurtjie wat ontsluit word.
62
Die navorser staan by die oop kombuisdeur en hou die slierte water dop. Die weerburo het gewaarsku daar kom gevaarlike donderstorms, maar wie sou kon dink so laat in die somer, eintlik al vroegherfs, en so gewelddadig? Weerligstrale dans die riel in die koppies en slaan die tromme dat die vensters rittel en die ligte verflou. Hoe ironies, dink die navorser. Noudat sy woede jeens die bure gesak het, is die weer smoorkwaad. Dit reën al ’n week lank onafgebroke, sewe dae en sewe nagte. Die grasperk is ’n moeras, die geute vol blare gespoel en sy vrou se rose verwoes. Sy is doodbang vir die fronsende swart wolke, blitse en genadelose reën soos lang spykers wat ingehamer word. Maar hy geniet dit, al die drama en effekte, die gevoel van ’n komende ramp; hul saai voorstedelike bestaan wat deur die natuur uitmekaar geruk word. Met sy blik op die donker wolke peins hy oor die aarde se ontstemmende weerpatrone. Eilande en hawens oorstroom en gee nasies hoofbrekens, noodtoestande word ingestel. Die laaste paar jaar ook in sy provinsie, wat gewoonlik jaarlank met gelykmatige sonskynweer geseën is. Soos hy al oor en oor aan homself bevestig het: Ons het die beste weer ter wêreld. Ha! Blykbaar nie meer nie; die weer ontsien niemand. Die mens se koolstofspoor is hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik, is die oortuiging uit vele oorde, en hy glo dit ook. Hoeveel gifgasse kan jy die atmosfeer in stuur, hoeveel oerwoude uitwis, hoeveel riviere besoedel voor die skaal swaai en die mensdom in eie munt terugbetaal word? Dis wat nou gebeur, en dit dra sy goedkeuring weg. Ja, dis reg so! ’n Gevoel van lekkerkry, misantropies en sinies, hy kan dit nie help nie. Sal die sotte ophou bome afkap en dierespesies uitroei omdat die gletsers smelt, die seevlak styg en tsunami’s, vloede en droogtes oral woed soos nooit tevore nie? Vergeet dit! Spoedlees die media en jy sal weet die antwoord is nee. Ondanks al die waarskuwings, al die aardbewings en eietydse sondvloede, seil die mensdom oopoë die einde van die aarde tegemoet, waar alles oor die afgrond
stort in ’n Niagara van vermorsing. Ons kry wat ons verdien, dink die navorser, en die keerpunt het lankal ongesiens gekom en net so stilletjies verbygeglip. Sy vrou ignoreer sy negatiewe praatjies. Sy glo alles kom in siklusse, seisoene van goed en kwaad; dinge sal weer regkom en uitbalanseer. Die siklusse is nou korter, is sy verweer. Seisoene rafel uit en ruil selfs om, onherstelbaar; somer kan lyk soos winter en winter soos somer. Sekerhede kalwe onverwyld en al vinniger weg en daar’s niks wat enigeen daaraan kan doen nie, want almal het te lank gelanterfanter, die kanse verspeel om wal te gooi. Uit dekades se ervaring weet sy dit help nie om met hom te verskil of ’n meer hoopvolle posisie in te neem nie. Hy ken al die jongste statistiek en doemvoorspellings op die punte van sy vingers, en as hy onseker is oor iets, kan hy briljant improviseer. O ja, hy is altyd reg oor álles. As obsessiewe outodidak het hy ’n verstommende algemene kennis, en die weer is een van sy geliefkoosde onderwerpe. Wen kan jy nie. Ja, die reën en verspoelings is die mensdom se verdiende loon, dink die navorser terwyl hy na die deurdrenkte tuin staar, maar hy moet erken hy raak ’n bietjie jeukerig om weer by sy boomhuis uit te kom. Teen die middag, nadat die stortreën in ’n sagte, deurdringende Kaapse motreëntjie verander het, loop hy onder ’n groot sambreel, met windbreker, hoed en rubberstewels aan, reguit na Sfinks. Klim die trappe, skouer die geswelde houtdeur op die eerste vlak oop. Dis sopnat, hy moes die venster op ’n skrefie oopgelaat het, want die hele vloer is onder water. Nie te erg nie, hy sal die meeste water met ’n besem kan uitvee. Hy gaan inspekteer die hoër vlakke en is verlig om te sien die slaapkamer en ander vertrekke is kurkdroog en ongeskonde. Die motreëntjie is glad nie hoorbaar op die dak nie, net die harde gedrup van deurdrenkte takke hoër op. Sy boomkasteel het ’n belangrike eerste toets geslaag. Hy sal ’n nag in ’n donderstorm hier kan deurbring, daar is genoeg weerligafleiers, en hy’t hom voorgeneem om nie weer so ’n lafaard te wees nie. ’n Dreigende krisis wat in die sondvloedweek afgeweer is, is dat sy dogter se “verdwyning” opgeklaar is. Sy vrou het gehuil van blydskap toe sy die oproep van Ina af kry. (Of het sy histeries gelag van frustrasie?) Die vae beklemming wat hy gevoel het in die paar dae wat sy nie haar selfoon beantwoord het nie, het
verdamp, in die plek daarvan groot dankbaarheid. Sy dogter is nog daar, ’n lagstem op die foon, binne ’n radius van dertig kilometer van hom af. Die vrees dat sy in die koerant huis toe sal kom – as die onderwerp van ’n sensasionele skokstorie op bladsy 1 of 3, of erger, ’n nietige brokkie op bladsy 5 of 8, in een van daai gaatjies waar die “onbelangrike nuus”, misdaadsyfers en esoteriese vullers geplaas word – knaag nie meer aan hom nie. Dalk is dit hoekom hy so lank al aangetrokke voel tot dié klein vreemder-asfiksie-lewensgrepe: dis tog waar die lewe werklik geborduur word, in die grys gebiede, op die grens tussen harde nuus en bisarre vermaak. Daar waar hy homself sien loop langs die grensdraad, ’n man wat naby oud en afgeleef is, maar met die hart van ’n jong leeu. Wat sy eie naam probeer vergeet voor hy deur die lewendes vergeet word, anonimiteit as voorkomende maatreël teen die kruipende vergetelheid. Maar sy dogter is (God sy dank!) piekfyn, soos hy sy vrou dikwels deur die sopnat week gepaai het. “Ina kan haarself handhaaf. Sy het haar hele lewe voor haar en sy weet wat sy wil hê.” Al het sy haar werk verloor, het sy vele talente en vaardighede, weet hy. Sy is wyser as haar jare, ’n ou siel wat nie in die web van verslawende giere gevang word nie. Sy vrou is die meesterbeller wat ure lank met Ina kan babbel of sotto voce beraadslaag, terwyl hy die kadans van gedempte stemme met ’n halwe oor volg. Nie vir hom bedoel nie, “vrouegoed”, skadelose skinder. Wanneer hy met sy dogter op die telefoon gesels, praat hulle klaar in vyf tot tien opmerkings, sonder onnodige afdraaipaadjies. Tot sy groet: “Lief vir jou ook, Pa.” Genoeg gesê. Al wat saak maak. Dalk verstaan hulle mekaar so goed dat hulle niks meer as kriptiese gesprekke hoef te voer nie. Hulle is sonder twyfel geheg aan mekaar, woordeloos en ievol, maar wanneer sy tuis is, is hulle meestal ergerlik met mekaar, oorbeskermend, ongeduldig, tergend en ontwykend en selfs geniepsig – soos die generasiegaping dikteer. Maar die goeie nuus is: sy is nie ’n dwelmslaaf of handelaar nie, sy’t nie weggeloop met een of ander charismatiese skurk nie, sy’s nie gekaap of besteel of iets baie erger nie. Dit was ’n nietigheid, ’n versuim – sy het haar selfoon se battery in ’n parkade verloor en nagelaat om dit te vervang. Verder was sy verleë oor haar afdanking; sy wou solank haar opsies in vrede oorweeg voor sy haar CV begin uitstuur. Sy was moeg vir die siniese gesigte by
die werk en kon om de dood nie teruggaan kantoor toe nie. Al dié dinge het hy terdeë begryp, haar inkennigheid is die genetiese afdruk van sy eie siel. Sy het vlugtig genoem dat sy ’n nuwe vriend gemaak het, iemand wat sy bewonder en respekteer. Hoeveel meer sy oor die geheimsinnige man aan sy vrou verklap het, kon hy nie peil aan die gesprekke nie. Hulle sal hom wel mettertyd inlig as daar ’n emosionele kinkel of dieper verbintenis is. Hy’s net bly daardie takswaaiende gorilla is iets van die verlede, en trots daarop dat Ina haar fout so gou agtergekom en hom na sy peetjie gestuur het. Sy dogter het ook laat glip dat een van die redes hoekom sy haar werk verloor het, is omdat sy nie die storie van die mense langsaan se gesinsmoord “gebreek” het nie. Die geïmpliseerde geweld van daardie woordjie! Gebréék. Het hy hom die toespeling verbeel dat dit hulle skuld was? Hy en sy vrou kón seker beter in voeling met die bure gebly het en meer bewus van dramatiese verwikkelinge by hulle huis, moes hy aan homself erken. Al het Ina dit nooit in soveel woorde gesê nie, is dit moontlik aan hulle te wyte dat sy ’n groot scoop verloor en haar loopbaan beduiwel het. Bly ’n mens dan altyd verantwoordelik vir jou kind se sukses of mislukking? Tydens die bou van die boomkasteel het Ina een keer kom inloer. Sy het op die halfvoltooide vlakke geklim en die stellasies getoets met plesierige klein sprongetjies. Hy het haar genooi na die daknatmaak, maar dis nie haar scene nie, het sy gesê. En sy’t gegiggel oor die voorbladstorie in die knock & drop, verbasend rustig daaroor, asof sy dit altyd van hom verwag het. Hulle het immers saam na die kastele in Classics Illustrated gekyk toe sy klein was, gewonder hoe dit moet wees om in ’n plek met torings, gragte en ophaalbrûe te woon. Haar kommentaar eenkeer op ’n foto per MMS van haar ma: Awesome! LOL! Die beste aftreeplekkie ooit!! Was sy sarkasties? Wat sal sy regtig dink as sy nou die trapleer na die boomhuis bestyg, tot in die uitkyktoring van waar sy haar tuisbuurt in alle rigtings kan bespied? Sal sy oplaas verstaan waarvandaan sy kom, wie haar gevorm het, haar plek in die heelal besef? Laatmiddag, met die motreën soos ’n muggieplaag oor die werf, maak hy sy whiskyfles vol White Horse en eet ’n porsie bruinrys en hoenderkerrie. Hy soen sy vrou op die wang voor hy sy koplampie oor sy voorkop trek en uitgaan
buitentoe vir ’n nag in die boomhuis. “Dis te nat, jy gaan siek word. Malligheid!” roep sy agterna. “Dit word nou vinnig koeler, jy’t nie genoeg komberse daar bo nie. Wat van jou pantoffels?” Die kommer in haar stem raak hom, maar hy omgord sy lendene. Birdman of Alcatraz, tronkvoël wat die taal van mense verleer het. Hy glimlag en wuif vir haar asof hy weggaan op ’n lang reis, begin klim met koue druppels wat in sy nek af sypel. Dit sal die laaste aand van knipsels sorteer wees, lost & found, elke brokkie gebêre in die regte vakkie van die regte lêer, ’n einde aan die beslommernis. Verpak in sy houtkis vir die nageslagte, die geheelprentjie, ’n manier van wyer kyk. Hy het sy lewe georden onder opskrifte wat sin maak, gebundelde feite en onsin, idees vir tien duisend ongeskrewe romans. Ná soveel jare is hy uiteindelik klaar met die kennis van goed en kwaad, die planeet se geskiedenis van verval, alles is bevredigend afgesluit. Alles behalwe die Groot Oorlog van die Bome met die agterste bure. Dit maak nie sin nie, is dit skielik net verby? ’n Dosyn bitter jare sonder ’n finale showdown? Moet die grootste stryd van sy lewe eindig in ’n antiklimaks, ’n ewige cliffhanger? Hy kan die stilte van langsaan nie verstaan nie, kan die taai vrede nie vertrou nie. Ná al die jare van vetes, van kap en saag en skree en kwaak en braai en lawaai. Onverstaanbaar. Onvoltooide sake. Waar ís hulle? Waar is die Pocahontas-heks, haar seun en haar sluwe papegaai? Wat voer hulle in die mou? Moet hy hulle voorspring? Miskien ’n klip op die dak gooi of ’n venster breek? Noudat hy koning kraai in sy kasteel in die hoogtes, kan die oorlog nie net in plassies reën wegsink nie! Whiskyfles in die hand deursoek hy sy binneste vir die oorsaak van sy argwaan en onvergifnis. Hy herinner homself opnuut aan die bleek tweeling wat vaagweg in die grysdonker van die agterplaas sigbaar is as die gewraakte lapa se pilare. Maar binnekant is hy dood. Waar is die woede in sy moordkuilhart? Gaan alles só gou dood as jy grys in jou baard ontdek? Al die ie en wellus en ambisie en roekelose drome om iets te bereik en die wêreld beter te maak, die waarheid oop te breek? Om wraak namens die bomeryk op die gieriges te laat reën? Maar wag, daar oorkant brand ’n lig! Net een lig: iemand is tuis. ’n Wilde gier pak hom beet om ’n straal te pis tot in die tuin, om oor die muur te klouter en
deur daardie venster te gaan loer. Maar hy is nie meer ’n tiener nie, sy beseerde been sal nooit weer dieselfde wees nie, en sy blaas is in elk geval leeg. Hy mik met sy verkyker op die venster, maar bespeur geen roering nie. Hy strek hom tot sy volle lengte, skree vreesloos in die motreën in: “Kom uit! Kom uit, jou lafaard, ellendige feeks! Kom staan in jou graftombe van ’n lapa en laat ons mekaar nou goed verstaan: jy is onkundig, esteties toksies, buurvrou uit die hel! Lees jy ooit koerant? Kyk jy ooit nuus? Verstaan jy die impak van jou onnadenkende lewe, jou plastieksakke, jou stinkende tonne afval?” Die stilte rol terug na hom. Nee, hy het nie geskree nie, net sy lippe het beweeg soos hy die ou woede probeer oproep het. Net die reën val in stilte, stille reën. Miskien sal ’n rustige gesprek met haar meer waardevol wees, ’n bespreking van Albert Einstein se spesiale teorie van relatiwiteit (E=mc²), om haar te laat verstaan dat die lewe oorvol is van boosheid en goeie bedoelings. Oor die relatiwiteit van alles, die swaartekrag van ’n dom bestaan, die onverwagte omkeerbaarheid van ingeburgerde oortuigings. Want dit was nog altyd vir hom ’n ironiese benaming: “relatiwiteit”, ’n berekende vaagheid. Hy kan ook die feit ophaal dat wetenskaplikes besig is om die grondbeginsels van hul belangrikste teorieë te bevraagteken. Miskien sal sy ’n bekering ondergaan, haarself stroop van arrogansie en neerwerp en verootmoedig voor die aanslag van brute kennis en die natuur. Sal hy haar kan uitnooi om ’n koppie tee hier te kom geniet, haar onthaal soos Lydia (haar antitese in elke opsig)? Om haar verbaas te laat neerkyk op haar eie huis, werf en lapa, as ’t ware uit die arendsnes, vanuit ’n verhewe perspektief, wat haar bespotlike klein spasie en bestaantjie op aarde nuwe betekenis sal gee. Sal sy verander? Sal sy verstaan? Sal sy die donker hart van die monsterboom hoor klop soos Lydia? Alles buite is deurnat, maar sy hart is droog soos kurk. Waar is al die voëls wat hom so dikwels besoek en bespied het? Waar vlieg die swerms heen tydens groot oorstromings? Sfinks se takke kraak onheilspellend, daar is ’n subtiele verskuiwing van balans onder hom. Hy probeer weer skreeu, vul sy longe met koue lug, sper sy kake oop tot sy
wangspiere wil skeur. Dié keer gaan die buurt en die berge antwoord gee! Maar voor hy sy skeppende kreet kan uiter, voor hy kan gal braak, kom ’n dreuning uit die donker wolke bokant sy kop wat die bloed in sy are laat stol. Witblits! ’n Oorverdowende slag en ’n ligstraal wat die bure se huis en tuin verlig, die betonheining, die boomkasteel in blaarpatroon en basreliëf, die navorser se tuin en huis, sy brein vol draadjies en knope. Hy sien homself skielik van bo af, helder afgeëts, ’n X-straal vol kunstige beentjies en werwels, sy geraamtehande op die houtreling van die trap, sy brose voete wat begin klim na die boonste uitkykpos. Toe die slag kom, verrys hy uit die blare, ’n blou fantoom met splintertande. Iewers in die onderwêreld roep sy vrou sy naam oor en oor soos ’n piet-my-vrou in ’n hartseer wind, maar hy herken nie die naam nie. Is dit die naam wat hy gehad het, of is dit die naam van iemand baie soos hy, ’n dubbelganger wat sy identiteit gesteel het? Die hemel skeur van bo tot onder, letterlik, ’n geweldige gaping met saagtande waardeur die lig van ’n yskoue son skyn. In daardie bevrore lig word sy duisternis deurklief, hy kan vlamme in die boomhuis sien en takke hoor kraak, die geknetter van ’n vreugdevuur wat met boeke en knipsels gevoer word. Hy is in ’n spiraal van rook en sterre waarin hy kan vlieg en val, dis geheel en al sy keuse, hy kan albei kies en albei gelyk doen, val en vlieg, twee soorte bestaan soos die gelyktydigheid van kwantumfisika, ’n bedevaart in die keel van ’n donker dwerg af. Hy tintel van kop tot toon soos ’n gloeilamp wat aangeskakel word, hy ontbrand spontaan, hy is op twee plekke gelyk, bo en onder, gesuperponeer in vuur en ys, ’n vurige gevoëlte. Hy is op pad iewers heen, ’n suigeling wat opgetel word na sy ma se bors, hy suig aan die tiet van superverdriet, sy vrou roep en die hond blaf, alarms loei in die strate, wit skreeu en swart traan, pienkrooi tonnel na sy derms, ’n deursigtige trap na kristalpoorte. En daar staan sy ouma met haar bloubeaarde hande, in haar afgeremde blou trui en kerkskoene.
“Kyk, Ouma, ek het vir jou ’n boomkasteel gebou!” lag hy uitgelate. Sy druk hom teen haar sagte lyf vas en soen sy gloeiende voorkop. “Jy’s verkeerd, my kind. Ek het die boomkasteel vir jóú gebou.” Toe maak sy haar hande oop. “Kyk hier!” Hy leun verbaas vorentoe, trek sy asem in. Want daar, so fraai, groei ’n perfekte klein bonsaiboompie op die palm van haar regterhand, en in die takkies is die pragtigste klein kasteel met ’n toring in die boomtoppie, en in die torinkie ’n mannetjie wat wuif met albei armpies, en die mannetjie lyk op ’n haar soos . . .
63
’n Ooggetuie en wat sy gesien het (transkripsie) Stella Moerdyk (58), weduwee I:Ek weet dis bietjie gou, baie rou, maar dan’s dit als nog vars. S:Dink jy nie . . .? I:Dis oukei. Nie vir publikasie nie, vir myself. S:Om wat mee te maak? I:Weet nie. Dalk luister ek eendag daarna, dalk word dit deel van my “memoires”. S:Ag, my kind. Moet ons regtig? I:Dit sal Ma beter laat voel, Ma sal sien. Dis darem al ’n maand. S:Net ’n maand . . . I:Ek weet. S:Daar’s eintlik so min om te vertel. Jy ken die storie. Moet ek nou weer? I:Dit klink elke keer ongelooflik met die oorvertel, asof dit hierdie keer anders kan uitdraai. S:Maar dit kan nie. I:Dit was daardie week van die groot storms. Ma het hom gewaarsku en hy wou wéér nie luister nie. S:Jy ken jou pa.
I:Was hy die laaste tyd bedruk? S:Die laaste tyd? Die laaste drie tot vyf jaar, minstens. Nee, langer. I:Was hy dalk . . . manies-depressief? S:Hoe sal mens ooit weet? Ek kon hom nooit oortuig om hulp te soek nie. Skaars ’n hoofpynpil in sy lewe gesluk. Hy was oortuig sy “melancholie” is iets wat almal ervaar en wegsteek, net op verskillende maniere. Maar ek het nooit soveel vrae soos hy gehad nie. I:Dit maak my bang. S:Wat, my kind? I:Dat ek ook so in myself gekeer kan raak. S:Nee, nooit. Jy beweeg tussen mense van vlees en bloed. I:Veral die bloed, ja. Wel, hopelik is dit nou op ’n einde. S:Jy sien die werklikheid elke dag. Dit hou mens in voeling. I:Die meeste joernaliste wat ek ken, is bipolêr. S:Hy was baie trots op jou, weet jy? I:Hy’t nie my misdaadstories gelees nie, maar hy’t altyd uitgevra oor my werk. S:Hy wou hê jy moet ’n sukses van jou lewe en loopbaan maak . . . en geluk vind. I:Anders as hy? S:Ag, my kind. Hy was nie ’n vreeslik gelukkige man nie. I:En julle? S:Ons? I:Was julle gelukkig, Ma? (Pouse, ’n hoesie.) Ma kan maar vir my sê. Julle het
byna nooit rusie gemaak nie. Wel, nie voor my nie. S:Rusie? Nee. Ek het met hom baklei oor baie goed. Dinge in die huis wat reggemaak moes word. Die stoof. Die geute. Hy’t gewoonlik net afgeskakel, gemaak of hy nie hoor nie. Wat my erger laat opvlam het. Dan was dit of hy meer vasbeslote was om nie rusie te maak nie – ’n bose kringloop. Hy’t opgekrop. Maar boeta, wanneer hy die dag opvlam . . . I:Snaaks dat Ma so praat van opvlam, met die boomhuis wat . . . S:Ja, dis vreemd gepas, nè? I:Het Ma dit gesien . . . die weerligstraal? S:Nee, ek was in die badkamer. Die ligte het verflou en toe die hengse slag, soos ’n rots wat op ons val! Ek het kombuis toe gehardloop, Rufus al onder my voete. Daar was lig in die tuin, maar nie weerlig nie. Die boomhuis was . . . hoe’t die oumense dit gestel? Dit was “in ligte laaie” . . . letterlik, elke vlak het gebrand, en die boom self ook. Eers kon ek hom nie sien nie . . . (Slukgeluide.) I:Waar was hy? S:Al wat ek weet . . . ek het geskree. Oor en oor sy naam geskree . . . maar daar was te veel rook . . . en . . . en hy was nie daar nie. Hy moes hoog op gewees het, in die toring. Dis al waar hy kon wees, die huis was helder verlig. Als het so vinnig gebeur. Ek kon nie glo die boom brand ná ’n week se gietende reën nie! Dit was soos daai stryd van die profete in die Bybel, die offerande waaroor water gegiet is en die vuur uit die hemel wat dit heeltemal verteer het en sommer die heidense profete se offerandes en hulle ook! Was dit Elia of Elisa? I:Kan nie onthou nie. Maar dis vreemd . . . ’n nat boom wat brand. Was daar iets in die boomhuis wat ontvlambaar was? S:Wel, dit was als van hout – behandelde hout. Ek het nie gedink dit kan enigsins brand nie. En daar was weerligafleiers. Die onderste vlak het oorstroom, maar daar was ook dele wat heeltemal droog was. Jou pa was die middag daar, hy’t die ergste water uitgevee. Dan was daar sy knipsels en notaboeke wat oral rondgelê het . . . Hy het dit daar in ’n houtkis gehou. En daar was ’n klein gaslamp wat dalk kon ontplof het toe die weerlig . . . toe . . .
I:Dink Ma hy’t Ma hoor roep? S:Ek weet nie. Ek weet nie. Die vlamme het so hard gedruis, soos ’n bergwind! Takke het gebreek en geval, ek moes net koes vir die vonke en vallende takke. Verskriklik, die rook en die lawaai. Eers het ek nie geweet wat ek moet doen nie . . . moet ek die tuinslang kry? Maar ek kon nie nader gaan nie en ek was bang die vuur versprei. Ek het ingehardloop om die brandweer te bel. Kole het op die bure se lapa met die grasdak geval en dit het glo afgebrand tot op die grond. Die brandweer was gou hier, binne sewe minute . . . Baie skuim gespuit, maar die boom was toe net ’n stuk swart stomp, met ’n paar smeulende planke van die dek oor. Die res was als weg . . . en jou pa . . . hy . . . hy . . . I:Hy’t uit die boom geval. S:Ek het hom nie sien val nie. Eers het hulle sy skoene gekry, wat my moed gegee het. Dalk het hy afgespring. Maar toe kry hulle hom . . . sy verkoolde lyk in die onderste takke. Hy was onderstebo . . . ek kon nie kyk nie. I:Ek’s bly Ma het nie gekyk nie. So iets kan vir altyd . . . S:Ek het net sy skoene gesien, die brandweermanne het dit vir my gebring. Dis in die garage as jy dit . . . I:Ek sal dit wegvat, Ma. Dis nie waaraan ons hom wil onthou nie. Hier, kry ’n tissue. (Gesnuit en gesnuif.) I:Moet ek tee maak? S:Nee, nee. Dis ongelooflik, of hoe? Ek kan dit nog nie glo nie. Nes een van sy simpel beriggies: “Man brand dood in boomhuis ná weerligstraal”. ’n Belaglike soort dood. Mense gaan dit lees en lag. I:Ek dink op ’n manier sou hy dit verkies het. Hy het so ’n af humorsin gehad. S:Sy laaste jare was die een ding op die ander . . . eienaardighede. I:Dis ’n boek.
S:Nee, asseblief nie. I:Toemaar, as ek iets skryf, eendag, sal dit ’n kinderstorie wees. S:Maak maar soos jou hart sê. Elkeen het sy storie, ons moet dit seker op een of ander manier vertel. I:(Klein laggie.) Ek dink nou net daaraan: het hy nie altyd gesê hy wil veras word nie? S:Veras? Aarde, my kind! Ja, seker. Hy wou nie ’n naam op ’n lelike grafsteen wees nie. Hy’t gepraat van die marmeroerwoud. “Beter om te brand! Wie besoek nog begraafplase?” (Laggies, gesnuif.) I:Sy hele obsessie om anoniem te wees, al was hy verslaaf aan nuus. Hoe verklaar mens dit? S:Ag, jong, dis sommer aansit. Sy vreeslike “minderwaardigheidskompleks” was pure trots! Hy wou homself eenkant hou, neus innie lug. Neersien op almal, die populêre kultuur afmaak. So kon hy anders wees as almal, meer ly en meer weet. Regte ou snob. I:Dis ironies. Nou sal sy naam altyd op die internet bly as die man wat in sy boomhuis verbrand het. Nou sal sy naam juis nie vergeet word nie. S:Nou ja, dis seker dan sy selfgemaakte klein hel. I:Ma klink bitter. S:Nee, nee. Bittersoet miskien. Ek weet nie meer wat ek is nie. Dertig jaar van . . . van . . . I:Ja? S:Malligheid. I:Pa het self gewonder of hy mal was. Hy’t gewonder of die sonde met die bure die kameel se rug gebreek het.
S:Hy kom van twee strome malheid. Sy ma – jou ouma – is gesertifiseer as ’n paranoïese skisofreen. Al die mans aan sy pa se kant het ’n aaklige streep woede en koppigheid gehad. Hulle wou net dwarstrek en stry en baklei van die môre tot die aand. ’n Wolk van woede oor alles. I:Wil Ma vir my sê dis oorerflik? S:Net die mans, net die mans. I:Dan moet ek seker bly wees ek’s ’n vrou. S:Dalk iets demonies? ’n Skuldige gewete? Afrekening met die verre verlede? Hy’t baie slae gekry as kind. En op skool is hy afgeknou oor sy intellek. I:Wonderlik dan dat hy nooit sy hand vir ons gelig het nie. S:Ja, eintlik was hy te sag. Gekneus. Hy was te logies, te rasioneel. Wou alles uitpluis, elke klein dingetjie, die laaste sent verdiskonteer, elke wetenskaplike gevolgtrekking en teorie. Hy wou die wetenskaplikes uitvang. Hy’t lekker gekry wanneer hulle verkeerd bewys word. Teenstrydighede en raaisels was sy kos, hy kon dae lank, wéke lank daaroor tob. Hy’s gery deur nagmerries. Sy redelikheid het oorgehel na onredelikheid – dis die eenvoudige dinge wat sy siel versondig het. Hy’t altyd gesê: Hoe kan mens lief wees vir jou medemens as dit ’n diktator of reeksmoordenaar of renosterstroper is? Hoe vergewe mens ooit goed soos babaverkragting en diere wat uitgeroei word en woude wat platgestoot word? I:Ek dink nie dis mal om oor so iets te wonder nie. S:Nee, seker nie. In ’n mal wêreld is malles seker normaal. I:Die agterste bure? S:Dit het als begin met die twee bome wat hulle sonder sy toestemming afgekap het. I:Hy kon dit nie laat gaan nie, die stompe wat sigbaar was oor die muur. S:Hy was oortuig dis een of ander vendetta. Ek was nooit so seker daarvan soos hy nie, maar dan is ek ook nooit lus vir uitgerekte vetes nie. Hy’t briewe in hulle posbus gaan gooi. Daai boom was sy wraak op hulle, en kyk nou.
I:Het daardie snaakse boomfluisteraar hom nie gewaarsku teen die boom nie? S:Lydia iemand. Haar nooit gesien nie, blykbaar ’n stomp van ’n vroumens. Dalk ’n skepsel van sy verbeelding? Ja, sy’t hom glo ’n paar keer gesê die boom gaan verwoesting saai, als oorvat. Ek wonder of die boom nie vanself begin brand het nie. Van binne af. I:Spontane ontbranding? S:Is dit wat mens dit noem? Daai boom was vol woede, nes jou pa. Die laaste paar jaar, ná sy aftrede, was nie maklik nie. Hy’t snags deur die huis en om die huis in die donker gedwaal. Partykeer op jou bed geslaap. Hy’t heeltyd geluide gehoor – jy onthou die baba en die ganse? Dit was ’n irritasie, ja, maar hy was totaal van sy trollie af daaroor. Die papegaai was die laaste strooi; hy was oortuig dat alles wat mens hoor die verdomde papegaai was. Maar jou pa was ook ’n papegaai! As hy nie broei en ure lank doelloos deur sy knipsels vroetel nie, het hy met homself gepraat. Meestal oor die stand van die weer en die natuur, oor bome wat afgekap word. (Diep asemteug.) Jy weet seker ek het my agter sy rug aan die bure gaan voorstel? I:Nee, dis die eerste woord . . . S:Wel, ek het. Ek moes net sien hoe lyk die sogenaamde vyand wat my man tot raserny dryf. I:Dis nou die man wat die woonstelle laat bou het? S:Hy woon lankal nie meer hier nie, net sy ma. Selma Harmse, eintlik heel gaaf. Ek het haar seun nooit ontmoet nie – hy woon nou iewers in KwaZulu-Natal waar hy tyddeeleenhede bou. Hy’t die erf hier agter vir sy ma gekoop. Hulle het wel ’n tyd lank met hul baba hier gebly, glo ’n moeilike tyd vir sy vrou, want die seuntjie het kwaai koliek gehad. I:En die ma? Watse soort mens is sy? S:Ek kan jou gaan voorstel. I:Hmmmm. Miskien ’n ander keer. S:Wel, sy’s geskei van haar man, glo ’n alkoholis en gewoontedobbelaar. Hy
werk nou in Nelspruit op ’n plaas. Sy’s inkennig. En weet jy, sy’s baie siek. I:Wat makeer? S:Een of ander seldsame soort kanker. Sy’t nie uitgebrei nie, duidelik ’n private mens wat nie simpatie soek nie. Maar ja, sy lyk sleg, brandmaer en spierwit bleek, herinner mens aan ’n slagoffer op foto’s van die Nazi-kampe. Al haar hare verloor met die chemo, so sy dra ’n pikswart pruik. I:Ag nee, dis baie sleg. Arme ding. S:Ja, sy kruip eintlik weg deesdae, wil niemand sien nie. Toe haar seun kus toe getrek het, was hy bekommerd oor haar veiligheid. Hy’t twee ganse gekry, omdat hulle glo beter is as waghonde. Maar toe kla jou pa in een van sy briewe, en sy gee die ganse vir ’n slagter. I:Ek onthou die ganse. Honde wat blaf is nog gangbaar, maar ganse . . . S:Toe het haar seun vir haar ’n papegaai gegee vir geselskap, gekoop by ’n ou fortuinverteller, maar die voël het haar ore van haar kop af geraas. Hy was gelukkig al oud, glo oor die tagtig. Toe sy een oggend die kombersie aftrek, het hy stokstyf daar in sy hok gelê. Sy erken sy was eintlik verlig. Ek weet jou pa was. I:Vreemd om die ander kant van die storie te hoor. S:Is dit nie? Ek het jou pa probeer vertel, maar hy’t gedink ek maak ’n storie op. Asof ek myself dinge sou wysmaak oor die bure net om hom te irriteer! I:(Sug.) Ja, dit klink omtrent reg. S:Ek het Selma vertel van sy soort dwarsgeit, van ons jare van mekaar verdra en aanhou ondanks ons verskille. Sy het gelyk of sy verstaan, het net gesê: “Woede is seker beter as drank en dobbel.” I:Hoekom is die mans so kwaad, Ma? Dawid operate op adrenalien, seks en woede. Hy leef op negatiewe energie. Ek’s bly ek kon dit betyds sien. S:Die wêreld het voller geword, my kind. Te veel mans, en almal wil vooruit kom, wén. Mans wil verower, koninkryke bou. Elke man ’n koning in sy eie
huis. Maar vroue wil nie meer hulle onderdane wees nie. I:En as mans nie hulle sin kry nie, trek hulle die sneller. Soos hier langsaan. S:Daar was geldprobleme en die vrou wou hom los. Die jonges was al uit die skool, maar kon nie werk kry nie. Dis al wat ek weet. I:Tragies. S:Miskien kon ons gehelp het, as ons geweet het hoe. Maar jou pa wou nie betrokke raak by die bure se klein jakkalsies nie. Ons het nie eens die skote of ambulanse gehoor nie. I:Julle sou anyway gedink het dis die papegaai wat skote naboots. S:Die papegaai was vóór die skote. (Sug, pouse.) En nou’s ek alleen. Ek en Rufus. I:Ek kan weer intrek. S:Wat van jou nuwe kêrel? I:Hy sal verstaan. Wanneer hy reg is, sal ek hom bring om Ma te ontmoet. S:Reg is? I:Hy’s altyd op ’n missie. Dryf handel met geheime. Maar daar’s geen woede in hom nie. ’n Regte dromer. S:Het hy ’n naam? I:Sy naam is Gary Raymond. S:En hy’s die een? I:As Ma bedoel hy’s die enigste man wat my weer hoop gee dat alle mans nie monsters is nie, ja! Ek sal hom ’n kans gee . . . ek gee “dit” ’n kans. Wat dit ook al is. Ek gaan vir hom werk. S:Is dit so ’n goeie ding?
I:Ons loer nie oor mekaar se skouers nie. Hy vertrou my. Ek’s die redakteur van ’n elektroniese tydskrif, Flood.com, in Engels en Afrikaans, dalk later ander tale. Die tydskrif fokus op kultuur, gaming, natuur, kuns en innovering, die impak van die elektroniese revolusie. Stories van mense en idees. Infotainment en raaisels. Natuurvideo’s. Ons het reeds ’n basis van 20 000 intekenaars en ons verwag dit sal verdubbel in die volgende paar maande. Ons stuur daagliks nuusbriewe uit. S:Dis wonderlik, my kind. Dit klink reg vir jou, ’n plek waar jy jou drome kan volg, die leiding neem sonder om elke dag te wag dat die valbyl afkom. I:Die tropkultuur pas my nie – Pa het dit altyd geweet. Hy’t my aangespoor om my talente uit te leef, maar hy’t my nie gewaarsku hoe moeilik dit sou wees nie. Hoe jaloers mense sou wees nie. Hoe min hulle sou omgee of jy slaag of nie, hoe hard hulle sal werk om jou te dwarsboom. Die mans sowel as die vroue. Die venyn en wreedheid daar buite . . . ongelooflik. S:Ek dink nie jou pa het daarvan geweet nie, hy kon dit dalk nie eens vermoed nie. Hy was ’n sagsinnige mens . . . wat wou terugveg met ’n boomkasteel . . . Dis moeilik om te glo (snik) . . . net ’n maand gelede nog was hy hier, besig om homself op te werk . . . kriewelrig te raak oor die reën hom weghou van sy studeerkamer in die blare. I:Hy was die grootste geek van almal. Dink Ma hy wou skryf? S:Hy’t jare lank aantekeninge gemaak vir iets groots, maar hy kon nooit besluit wat nie. Daar was gewoon te veel idees, te min dissipline om aan die gang te kom. I:Ek ken die gevoel. Die media oorstroom alles, maak jou kop vol gemors. S:Wat is dit daar op jou hand? Lyk soos . . . I:’n Spinnerak. S:Lyk soos ’n geboortevlekkie. I:Geskenk van Gary. Hy’t ook een op sy hand. S:En . . . beteken dit iets?
I:(Lag.) Nee, nie regtig nie. Ek kan seker iets opmaak. Maar nee, ons leef net in ons eie klein web. Ons raak verkleef, soort van. Ons deel kennis. S:Meer as kennis, klink dit my. Ek’s bly, Ina, hy klink gaaf. I:Soms voel hy soos my lank verlore broer. Dis seker nie toevallig dat hy verlang na sy oorlede tweelingsussie nie . . . Maar ek dink darem nie ek’s net ’n plaasvervanger nie. S:En julle hou nie van hartjies met pyle nie. (Laggie.) I:Pa sou van Gary gehou het. Hy is anders as Dawid, in elke opsig. Dawid het alles probeer doen soos sy ma hom voorgesê het – goeie maniere, komplimente, blomme en drukkies – maar pasop, onder draai die duiwel rond. S:Wat doen hy nou? I:Hy was in die hospitaal, glo aangerand en beroof deur boewe tydens een van sy vele nagtelike avonture. Sal nie weet nie, wil ook nie eintlik nie. Ek het hom gaan besoek en hy’t maar sleg gelyk. Kon nie behoorlik sit of loop nie. Of hy sy les geleer het, weet ek nie, ek twyfel eintlik. Maar dit lyk asof hy vir eers genoeg gehad het van die stad – tot volgende keer! Hy wil hom nou by sy beeste en die boerdery hou. Hy kry steeds baie briefies en aansoeke van meisies ná daai simpel TV-program, en ek wens hom als van die beste toe. S:Ja, jou pa het gedink hy’s ongeletterd en benede jou. Sal nie sê wat hy hom genoem het nie. I:’n Gorilla. Dawid is nie die wêreld se grootste leser nie. En sy spelling is afgryslik. Ek moes gouer agtergekom het hy’s meer bek as binnegoed, met baie vreemde idees oor vroue, liefde en seks. Eers was sy benadering bevrydend, toe raak dit plein scary. S:Dis goed jy’t van kleins af karate geneem, jy kan jouself darem verdedig. Ek het altyd opgesien na my man om my te beskerm. Nou ja. I:Gaan Ma nou oukei wees hier? S:Ek dink so. Ek het die laaste paar jare al die huishoudelike dinge gedoen, al die geldsake, mediese fonds, die tuin! Jou pa was so vergeetagtig, so
deurmekaar. Ek moet nog daai lelike swart stomp hier agter laat verwyder, maar die man van die tuindienste waarsku my die wortels is baie diep en wyd, hulle sal die hele tuin moet opgrawe. Hoop nie die vervlakste ding begin weer groei nie. I:Nee, ek dink hulle kan gate daarin boor en olie of petrol in die stomp gooi om dit dood te maak. S:Daai boomvrou het glo gesê niks sal help nie, die boom gaan oorvat. I:Wel, ons sal sien of sy reg is, maar ek dink sy kort ’n paar varkies. Ma kan altyd by ons kom bly. Gary bou ’n nuwe plekkie in die Bosveld. Hy sê hy’t genoeg gehad van gate en bouvalle en alarms. Hy wil hom toespits op omgewingskuns, miskien iets maak met bome en klippe . . . Die bome daar het yslike dorings, gevaarlik maar mooi. S:Ek sal daaroor dink. Is daar iemand in die omgewing wat mooi naels kan doen? (Laggies.) I:Ma kan sy naam sê. Vir die rekord. En te hel met anoniem wees. S:Hannes Moerdyk. (Pouse.) I:My pa se naam was Hannes Moerdyk. (Pouse.) Sal ons gaan fliek vanaand? Cinema Nouveau. S:Hoekom nie? Ek wil nie hier in die donker met ’n kers sit as die krag weer afgaan nie.
64
Die pad uit die stad loop vorentoe en agtertoe. Vorentoe na ’n nuwe landskap sonder geboue en verkeer, agtertoe na ’n gat in die grond, ’n inploffing. Vorentoe na wye uitspansel en vars lug, agtertoe na besoedelde skemertes. Dis die aard van reis, dink Gary, tegelyk vorentoe en agtertoe in tyd-ruimte. Jy laat jouself agter om jouself vorentoe te ontmoet. Die gaan en die kom maak ’n pad. Hy rol die venster ’n entjie af en warm wind spoel deur sy hare en oor sy wange. Die wind waai hulle ver weg en dis lomerig warm. Ina bestuur, want hy kan nie. Hy het nog nooit ’n motor bestuur nie, dis nie sy medium nie. Sy sal hom leer met verloop van tyd, daar’s ure genoeg vir nuwe dinge. Sy glimlag vir hom. “Haal jou donkerbril af,” pla hy en sit sy hand agter teen haar warm nek. “Hoekom?” “Ek wil jou oë sien.” Sy gehoorsaam, glimlag vir hom. “Ons eie road movie.” “Wat’s dit?” “’n Fliek sonder ’n duidelike storie oor reisigers op pad na ’n bekende-slashonbekende bestemming. Gewoonlik ’n onpaar karakters, vir humor en konflik. Die reis word die storie, die bestemming veronderstel ’n keerpunt en persoonlike groei. Die pad loop na binne. So iets. O ja! Die landskap is ook ’n karakter. Die bestes volgens my pa: Easy Rider, Thelma & Louise. In Sideways is daar allerhande afdraaipaadjies na die wynlande om ’n glasie of vyf te skink. Road movies loop draaie en ompaaie, sydelings of reguit.”
“En ons?” “Ons loop reguit!” Sy loer na hom. “Wel, ons is nie ’n onpaar nie.” “Hmmmm.” “Jy klink skepties.” “Ek’s rustig. Jy ken mos die pad.” “My pa het my ook geleer om ’n pap wiel te ruil.” “Dan’s ons gesort.” Die snelweg strek breed en reguit, ’n swart liniaal deur stekelrige, droë bosveld, hittetrillings teen die verste hellings, kraaie in die lug. Die son staan hoog. Sy gedagtes drentel; net soms raak hy bewus van die hipnoties suisende wiele. Weerkaatsings en skadu’s draf saam langs die pad, riffelglas-atlete, weergawes van homself. Hy staar na parkour-skimme, sein ’n soort groet. Een vir een bly hulle agter in ’n suggestie van stof. “Honger?” vra Ina. “Altyd.” Sy rat af en neem die afrit na die vulstasie-restaurant wat dwarsoor die hoofweg hurk op twee pilare soos bakbene. Hulle koop hoenderburgers, slaai, skyfies en koffie, gaan sit by ’n groot venster. Voertuie van alle fabrikate en modelle kom nader en seil sjoep-sjoep-sjoep onder hulle in, ’n eindelose stroom sondakke, verroeste skedonke met plastiekbedekte vensters, bakkies vol lewende hawe, busse vol singende kerkgangers, swaar vragmotors op pad na die noorde. “Almal op pad uit die stad?” mymer hy. Sy knik. “Genoeg gehad van vooruitgang.” “Eerder agteruitgang. Vlugtelinge.” “Ontsnapte en gewonde kriminele,” proeslag sy.
Hy grinnik. Dit voel asof hulle een lang gesprek voer, ’n gedeelde waarneming en debat met grappe, gemeenplase, pouses, misverstande, verdraaiings, wendings, nonsens en stertjies wat oor dae en weke strek. Hulle kan enige tyd, enige plek die draad weer optel en verder spin. “Wat doen Sirkelman volgende?” vra sy. “Sirkelman verdwyn.” “Daar sal baie wees wat bekaf is.” “Hulle het klaar vergeet. Laas jaar se uitgekoude obsessie.” “Wat is vanjaar s’n?” “Geen. Geen obsessies. Niks. Die Jaar van Veilig Leef.” “Ek hou daarvan. Die Jaar van Sag Slaap.”
Met die petroltenk weer vol stuur Ina die kar terug na die dubbelpad. Die son trek water. Gary leun met sy kop teen die nekstut, sy lang lyf geknak en bene opgetrek. Te veel van hom vir so ’n beknopte ruimte. Ina sit ’n besitlike hand op sy knie. ’n Stofdwarrel in die veld trek sy aandag, voer hom terug na die inploffing laas week – daardie groter stofstorm wat hy deeglik beplan en uitgevoer het. Hy het die plofstof op die DiepNet gekry; die DaisyDeMelker-scambaiters het hom gehelp om die onderste vlakke van die murasie te laai en ’n geel plastiekheining om die eiendom te span. Nadat sy besittings verwyder en uitgedeel is, het hy saam met ’n bende parkour-makkers deur Hillbrow getoer – sierlik gebokspring en getuimel om toeskouers na die aftakeling van sy onsigbare skuilplek te lok. Die kinders het hom laggend gevolg asof hy die fluitspeler van Hamelin was. Voor die owerhede onraad kon merk, was alles verby: ’n reeks gedempte plofslae wat die sypaadjies laat sidder, ’n terloopse aardbewing, stukkies sement wat grys oor strate en toeskouers sif, straatkinders wat ore toedruk en jil soos
plesiersoekers op ’n strand. Die spookhuis is weg, sy vensterlose slaapplek nou net ’n buik trommeldik gevreet aan bourommel. Die einde van Grace Mansions in Hillbrow: ’n voos dak en swartgebrande mure wat soos ’n nat kartondoos intuimel en toevou, spoorloos wegsink tot onder straatvlak. Die inploffing is vroegaand gevier met ’n vuurwerkvertoning oor die buurt, ’n gratis show waarvoor hy opgedok het: skitterblou elektriese pluime, ’n blink woer-woer, fonteine kleur, knalle en bomskokkies wat die toeskouers laat snak het. Só moet ’n mens elke fase van jou lewe afsluit, dink hy. Met ’n ontploffing, vuurwerke en ’n straatparty vir die armes, waar totale vreemdelinge saam met jou fuif, vriendelik bakhand vir ’n aalmoesie. Hy wieg ’n tyd lank salig weg. Toe hy wakker raak, is dit skaars koeler. “Jy’t jou suster se naam gesê. Lizette,” sê Ina. “Het ek? Snaaks, onthou dit nie. Hmmm. Sorry.” “Moenie jammer wees nie.” Hy vryf oor die spinnerakkie op sy hand. Ina merk dit, begin neurie: “He’s got the whole world in His hand . . . He’s got the whole world . . .” “Nog nie moeg nie?” “Nee, ek’s op outomaties.” Skielik, deur ’n slinkse truuk van die laatmiddag se flouer lig wat skuins deur die venster val, sien hy homself: ’n weerkaatsing in haar goudbruin oë, dubbel gevang in donker irisse – die miniatuur-Vitruviaan. Ja, werklik! Dis hy, ’n man alleen, kaal gestroop, omring deur haar blik op hom. ’n Klein liefdesgevangene wat dryf in ’n spieël van trane. Sy kyk terug na die pad, maar die oomblik bly behoue, onvernietigbaar in sy
brein geëts. “Haai, ek besef nou iets!” bars sy uit. “Wat?” “Ek het nie een keer vandag genies van die son nie! Dan moet dit die blerrie uitlaatgasse wees, dit neuk met my sinusse. In die stad is die sonlig nes ’n vuurhoutjie by ’n lont.” ’n Ongelukkige woordkeuse, dink hy, in die lig van haar pa se onlangse vuurdood, maar hy sê niks. “Ons moet ons eie road movie maak,” stel sy later voor. “Dokumentêr of iets groter?” “’n Regte movie. Iets met ’n kameraman, akteurs, regisseur, die hele toetie.” “Ek weet niks van flieks maak nie.” “Ek ook nie. Maar ons kan saam leer. ’n Kunstenaar en ’n joernalis in die Bosveld, op die spoor van iets, vlugtend uit die stad.” “Skryf dit!” “’n Dromer en ’n vegter.” “Wie is wie?” vra hy geamuseer. “Omruilbaar. Dit begin hier, ’n uur voor die son sak.” Sy borduur voort oor hul Bosveld road movie, ’n borrel woorde wat saamsweef bokant die kar se dak. Hy vra vrae en lok uit, verwonder oor haar vermoë om op loop te sit met ’n halfgebakte idee. Sy begin reeds begrotings opstel, lysies maak: moontlike karakters, ontmoetings met eksentriekes, outentieke locations langs die pad, kostuums en rekwisiete. Sy neem bestek van die klere wat hulle aanhet en alles in die kar se kattebak en op die agtersitplek vir moontlike gebruik in hul movie: ’n rugsak met skeergoed en vars onderklere, twee tasse klere, ’n handsak met haar ID en rybewys, sy
persoonlike dokumente, handdoeke, kussings, komberse, stapskoene, ’n bonsaiboompie met ’n huisie in die takke, twee Apple-skootrekenaars, ’n ou, geskeurde, verfgevlekte muurstensil, ’n Kindle, aksiefigure uit The Matrix (Neo en Agent Smith), ’n droomboek, ’n slimfoon, Roberts se voëlboek, ’n verkyker, ’n kamera, ’n sespak bier, Doritos, kondome, ’n Bybel, ’n jagmes, pleisters, ’n bandopnemer, balpuntpenne, kleurpotlode, uitveërs, ’n tekenboek vol sketse van lywe en hande. “Die hoofkarakters se reis is ook om mekaar te leer ken, mekaar te verken,” stu Ina voort. “Mekaar in moeilike situasies te herontdek. Mekaar te red. Daar is pret en ontbering. Hulle vlug vir die gereg. Hulle kry warm en hulle kry koud. Hulle maak liefde op lieflike en lelike plekke. Hulle loop kaal in die veld soos Adam en Eva. Hulle swem in plaasdamme. Hulle beplan niks, lewe van dag tot dag. Hulle vertel mekaar van hul kindertyd. Die GPS word by die venster uitgegooi. Die pad is reguit, maar niks is voorspelbaar nie.” ’n Rooikat skaats oor die pad met spiralende stert en sy trap rem. “Sien?” “Vertel my van jou pa.” Sy bly ’n rukkie stil, begin dan praat oor haar pa se liefde vir kinderagtige raaisels en vergete sprokies, sy versameling koddige koerantstories (nou verbrand tot as) wat volgens hom ’n vermaaklike manier is om al die groot lewenswaarhede in verteerbare brokkies te verpak. Nuusgedigte en laslappienuus. Postmoderne gelykenisse. Sy credo dat die mens nooit ophou leer nie en daarom moet jy worstel met raaisels. Sirkelman was een daarvan, sê sy. “Het jy hom opgelos? Die raaisel van Sirkelman?” Sy knik eers, skud dan haar kop. “Het ek? Die antwoord is eenvoudig. Die antwoord is . . . ja en nee. Ek weet nie. Jy’s ’n bliksem. Jy’s nie verniet Donkerperd nie. Cheval Noir. Jy’t jou naam ’n paar keer verander. En jy’s so verdomp sexy, jy spyker my hart.” Sy bly stil en hy kielie haar nek. Die waarheid is eintlik dat sy vir hom ’n veel groter raaisel is. Ina Moerdyk: eks-misdaadverslaggewer, fotograaf, stortsopraan, swart gordel in karate (eerste dan), woordkunstenaar en voldonge graffiti-liefhebber, fliekfundi,
obsessiewe waarnemer, laatnagleser, mensekenner en oorhaastige bestuurder. Sy het hom gejag sonder ophou, haar werk vir hom verloor, haar hart oopgerits sonder voorbehoud, hom vasgehou soos niemand sedert sy suster en ma nie. Hy kan hom verkyk aan haar wanneer sy dit nie weet nie: ’n hoëdefinisieprentjie en beeldskone abstraksie, fotogenies selfs sonder ’n wasempie grimering wanneer sy vroegdag verfomfaai in ’n sakkerige T-hemp rondsit. Hy wil haar teken, skadu’s inskakeer, omlyn, uitvee en oor begin, só haar enigma skandeer. Maar sy weier volstrek – dalk die grootste leidraad dat sy nie ten volle geken wil wees nie. Maar hy wil haar innig ken. Sy het hom vertel van haar vrees vir The Worst Case Scenario. Dat die ergste kan gebeur, al besweer jy dit met versigtigheid en hoop. Sou sy dieselfde voorbehoud koester oor hulle twee? Haar donkerte kan donkerder wees as syne, besef hy, ’n fatalisme gegrond in misdaadtonele en bloedspore, haar eie aanvoeling vir geweld, die bakleigees wat sy lewe gered het toe Dawid sy nek wou breek. Tog, was sy nie maande lank saam met Dawid nie? ’n Seisoen van beklemming waarin sy nie deur hom kon sien nie, al moes sy bewus geraak het van sy sadistiese neigings. Hy het haar glo laggend uitgelok, haar afgeneem, ingelyf in seksuele fantasieë wat haar skadukennis van intimiteit verbreed het (waarskynlik ’n verslawende blootstelling). Sy het aangetrokke gebly tot sy growwe manlikheid en selfvertroue; sy onbeteuelbaarheid het haar blykbaar afgestoot én betower. Uiteindelik kon sy hom uitskop – letterlik en figuurlik – en haar verwagtinge van mans en liefde radikaal herdefinieer. Maar ondanks hul konfrontasie in Grace Mansions kon of wou sy Dawid nie demoniseer nie. Is haar “flirtasie” met Dawid iets van die verlede, of het sy steeds iewers ’n sagte plekkie vir hom? Sal sy van Dawid droom wanneer die nuwigheid met hom begin taan? “Ek wou jou lankal gevra het . . .” onderbreek sy sy gedagtes. “Fire away!” “Hoe het dit gekom dat jy daai nag in die Lighthouse was toe Dawid die ou in die toilet beetgekry het?” Blykbaar is Ina Moerdyk nog psychic ook, dink Gary. Lees sy gedagtes terwyl
hy aan haar eks sit en dink. “Jy meen, was dit toeval?” vra hy neutraal. “Dalk net té toevallig?” “Braamfontein is my ou stomping ground, waar ek my spuittegniek verfyn het. Dáár is meer Sirkelmanne per vierkante meter teen geboue as enige ander plek in die stad. En omdat dit so naby aan die kampus is, het studente my vingeroefeninge daar die eerste keer opgemerk, en so het die gerug versprei. Seker hoekom die rektor gedink het Sirkelman moet ’n kunsstudent wees. Die Lighthouse was een van drie plekke waar ek kon wegduik en mingle wanneer die polisie in my nek blaas, waar ek tussen ander gesigloses kon skuil.” “Ha! Jy’t altyd tuis gevoel tussen mense anderkant die wet.” “Wet-schwett! Chaos voed kuns. Ek was in my klein hoekie toe jy daar inwals met Dawid – boer in kakie, gestewel en gespoor! Almal in die kroeg het julle genotice. My broek het gebewe.” “Vir hom?” “Vir jou! Hy’t oor jou getoring soos ’n bruinbeer, jou beetgehad soos ’n stuk vleis. Jy was bleek om die kiewe, het nie gelyk of jy daar was vir die pret nie. Ek was dadelik op jou stasie, maar het nie gekliek wie jy is nie . . . dat jy al oor my geskryf het nie. My tafel was langs die toilette, net reg as jy die ingang wil dophou vir wanneer die polisie daar inbars. Ek kon in die donker wegglip, deur ’n toiletvenster verdwyn indien nodig. Bruinbeer is by my verby op pad toilet toe, en seker ’n minuut later het ek snaakse steune en stampe gehoor, al was die musiek blerrie hard. Toe ek daai deur oopstoot . . . hy was aan ’t skop, daar was bloed, dit het gelyk of hy besig was om vark te slag! Hy was ’n . . . ’n . . .” “Geweldenaar – my pa se woord.” “Ek kon dadelik sien geweld kom natuurlik vir hom. Ek moes iets doen, anders was dit tiekets met daai ou.” Sy knik net, konsentreer weer op die pad. Hy staar uit oor die veld. Dit herinner hom aan die Laeveld waar hy saam met
Lizette berg geklim en gate deur die stratosfeer gehol het. Daarvandaan het sy pad gestrek oor oseane na vreemde lande, deur Parys se strate en Europa se stede, tot in sy eie donker kasteel in Afrika. En kyk nou na hom! Nou’s hy wragtag weer op pad uit die stad, terug na die veld en die gekoepelde blou ooptes, saam met hom ’n pragtige vrou. ’n Soort voltooide sirkel, vryhand getrek. Die pad vorentoe is die pad agtertoe is die pad vorentoe is die . . . “Dis crazy,” mymer hy. “Wat?” “Wanneer iets lyk asof die begin omkrul na die einde, soos die ouroboros, die slang wat sy stert insluk. Die pad wat skynbaar reguit is maar – surprise! – in ’n sirkel loop.” “Jy bedoel . . . as mens voel daar’s dinge in jou lewe wat ’n volle sirkel voltooi het? Veral ou mense kan so daarop hamer, hulle sien dit glo om elke hoek en draai gebeur.” “Presies. Dis freaky. Volle sirkels, dinge in die verlede wat weer op jou afpyl in die hede. Oud en jonk ervaar dit.” “Aikona, nie almal is so gelukkig nie. Sommige smag jare lank na closure en vind dit nooit.” “Ek dink almal voltooi daai sirkels op hul eie manier, selfs al sien hulle dit nie altyd raak nie. Dalk sluit die sirkel in hul onderbewussyn, in hul drome.” “Is dit nie die idee van Borges se sirkelvormige boek nie? Die mens omsluit in ’n sirkel waaruit hy altyd probeer ontsnap met kennis en logika en verbeelding, maar sodra hy daarin slaag om uit die sirkel te breek, sluit die sirkel weer iewers naatloos op ’n wyer omtrek.” “Daai’s mos jou ultimate raaisel. Die sirkel is God. En God omsirkel die heelal.” “Hang af wat jy glo, of kies om te glo. Sommige glo weer die mens omsirkel God – die mens omsingel sy idee van homself en sy idee van God, sy idee van volmaaktheid. Ons strek so wyd as wat ons kan in ons eie klein gebied, ons eie
klein gedagtekring. Dit kan mens hoofpyn gee.” “Ja, jy’t my nou verloor,” moet hy erken. Sy lag. “Ek weet ons praat baie bollie, maar ek dink ek kan vreeslik geheg raak aan jou.” Gary gun homself ’n glimlag. Vir eers loop die pad geduldig net vorentoe.
Epiloog
Uit die lug gesien: ’n gevestigde buurt met baie bome. Pers jakarandas, ligpers seringbome, bloekoms, denne, eike, sypaadjiebome met gesnoeide takke wat die lente met ope arms verwelkom. ’n Cul-de-sac. ’n Bruisende spruit ná die eerste huiwerige reëntjie. Op ’n klipkoppie, naby ’n steil krans, staan ’n groepie mense in swart geklee. ’n Jong vrou lees voor van ’n stuk papier af. Eenkant, buite die groepie, staan ’n skraal blonde man in ’n denim en swart leerbaadjie. Oral klink die vroegaandklanke van swaar verkeer op, voëls wat kwetter en honde wat blaf – ’n vrolike opwelling van lewe teenoor die gewyde ritueel op die koppie. Kwalik ’n dosyn mense staan en luister aandagtig, kop onderstebo na die voorlesing. ’n Motorfiets brul astrant teen die steilte uit; flardes woorde beur deur die bries. “. . . meer as ’n jaar gelede, maar wat is tyd? . . . kan vertolk word as soetlik, moralisties . . . lank-lank-geledes in die hier en nou . . . traak hom min . . . sprokies altyd vir hom ’n eenvoudige, eerlike manier om uiterstes te versoen . . . soveel soorte slaapstories en wakker waarhede . . . in ’n verwarrende wêreld van ekstreme nuus en gerugte van . . . my só grootgemaak, my toegevou in . . . die ou, ou stryd tussen . . .” ’n Ouer vrou, regs van die voorleser, snik hard, ’n swart jaskraag diggetrek om haar nek. ’n Duif fladder na ’n seringtak swaar van bloeisels, kweel ’n sedige koergesang vir die rouende groepie. Die mense draai hul koppe verras, luister met stroewe gesigte opgehef; die soet klanke is ’n soort vertroosting. Ondertoe kry die buurt prikkies lig op die some van strate. Die dorp word weer kaart, onpersoonlik en blokkerig. Hoe donkerder dit word, hoe minder is sigbaar
van die mense, huise, bome. Die voorleser wag ’n oomblik, hervat dan: “Want eenvoud troef die grootdoenerigheid van . . . gedistilleer tot selfkennis . . .” Nou raak die lentebries speels, warrel haar woorde deurmekaar, ruk haar toespraak uit haar hande, blaas dit dans-dans oor die afgrond na die kaartland van strate, dakke en bome ver ondertoe. Die mense drom digter saam in die stom skemerte, gee mekaar innige drukkies. Die ouer vrou met die swart jas haal ’n klein kruik uit haar handsak en gee dit vir die jong vrou aan. Die kruik word oopgemaak, in die wind uitgeskud: ’n grys poeier wat eers opwaarts golf en in ’n asemteug oopsprei tot . . . ’n handvol niks. En niks is ook die antwoord op ’n raaisel.
Nota aan die leser
Al die nuusberigte, behalwe dié wat handel oor Sirkelman en die scammers, het oor ’n tydperk van drie jaar – van 2011 tot 2014 – in Beeld verskyn. Die koerantstorie van die vermiste vrou wat by haar eie soekgeselskap aangesluit het, was ’n nuusberig op Classic FM – dié geval het wel in Ysland voorgekom in 2014. Die berig oor die bye wat die dood van verskeie mense veroorsaak het, is ’n oefening vir jong joernaliste wat gebruik word deur ’n gemeenskapskoerant in die suide van Johannesburg, vertaal uit Engels en effens aangepas en oordryf deur die skrywer. Sulke gevalle van aggressiewe byeswerms kom van tyd tot tyd voor. Al die kettingbriewe in die boek het in die bestek van drie jaar die rondte op die internet gedoen en is deur die skrywer vertaal en effens aangepas. Dit word hier sonder toestemming gebruik, aangesien dit as ongenooide gemorspos uitgestuur is. Die Britse graffiti-terrie Banksy het ’n saadjie geplant vir my Sirkelman, weliswaar op kleiner skaal en minder ambisieus in sy muurkuns. Johann Mynhardt, seun van wyle verhoogveteraan Patrick Mynhardt, het my tydens ’n middagete vertel van internetjagters bekend as scambaiters; hy was toe al jare lank een van hierdie private kuberspeurders wat in hul vrye tyd scammers ’n bietjie van hul eie doepa ingee. Hy het ook talle stories vertel van hoe sulke digitale bedrieërs by geleentheid wel aan die kaak gestel is. Die superrekenaar wat volgens die beginsels van kwantumfisika werk, oftewel die “ewigheidsmasjien”, bestaan werklik en word ten tyde van hierdie skrywe in die VSA getoets. Time het ’n voorbladartikel daaraan gewy. Die berig in hoofstuk 24 het ook in dié tydskrif verskyn, en is vry vertaal. Ook raar maar waar: baie lesers moes al ervaar het dat sommige nagmerries afgeskakel kan word. En ja, daar is werklik navorsing oor hoe om dit bewustelik te doen.
Daar is talle boomfluisteraars oftewel tree whisperers (in hul toegewyde nering veel meer as blote “tree huggers”) in die VSA wat hul dienste op die internet bemark. Hoeveel van hul aansprake waar is, bly ’n ope vraag. Dankie aan my dogter, Isolde Schoombie, vir die foto’s van die “monsterboom” en die gebou in Twiststraat. Die Vitruviaanse Man wat in hoofstuk 2 verskyn, is deur Johan Engelbrecht ontwerp en verskyn met spesiale vergunning van die kunstenaar. Dankie aan my vrou, Liza, vir eindelose inspirasie en begrip, my seun Christiaan vir die nodige komiese afleiding. Ek kan nie nalaat om te noem dat die veelsydige Willemien Brümmer my op die regte spoor gebring het nie. Uitgewersredakteur Alida Potgieter (nou afgetree) het die eerste aanmoediging, waardevolle riglyne en voorstelle verskaf, en daarna was ek in die vaardigste uitgewershande denkbaar met Caren van Houwelingen en Suzette Kotzé-Myburgh. Soos die navorser moes ek deurgaans besef dat ’n skrywer nooit ophou leer nie.
Opsomming
Dit het begin met ’n wit moerbeiboom en ’n witstinkhoutboom. Hartvormige blaar en blinkgroen dunblaar. Celtis africana en Morus alba. Twee reuse wat drie meter uitmekaar geplant is en met verloop van dekades inmekaar gewroet het. ’n Afgetrede navorser sweer wraak nadat sy buurman twee reusagtige bome tussen hul erwe laat afkap. Terselfdertyd kom ’n Johannesburgse misdaadverslaggewer op die spoor van die berugte Sirkelman, ’n graffitikunstenaar wat Da Vinci se Vitruviaanse Man op geheimsinnige wyse op stadsmure aanbring. Die spoor lei uiteindelik na ’n bouval in Hillbrow . . . maar wat het ’n magdom verstrengelde stories en raaisels werklik met mekaar gemeen? ’n Verhaal oor monsterbome, scammers, sonde met die bure, donker perde – en die absurde.
Oor die skrywer
Schalk Schoombie is gebore in Pretoria en het grootgeword in Kempton Park. Ná sy dramastudies aan die UP was hy akteur, kunsresensent, en redakteur van De Kat. As vryskutjoernalis skryf hy vir Insig, Rooi Rose, Sarie en Rapport. Hy is bekroon met ’n Mondi (1994), ’n ATKV-Mediaveertjie (2009), ’n AngloGold Ashanti-Smeltkroesprys (2012), en ’n Spesiale Toekenning vir Besondere Kultuurprestasie deur die FAK. Hy het reeds 9 dramas geskryf, waarvan Gepiekel in 2014 by Aardklop gedebuteer het. Schoombie woon in Alberton met sy gesin en drie Jack Russells.
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 5050, Kaapstad 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © Schalk Schoombie
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Bandontwerp deur Russell Starcke E-boekontwerp deur Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-6767-3
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-6768-0 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-6874-8 (mobi)